’n Hele aantal omgewingsgerigte literêre artikels het onlangs in LitNet Akademies verskyn, onder andere: Wat oor is, is die Self: verblyf in ’n boomholte in Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. Dit wil dus voorkom of daar ’n groeiende belangstelling in Afrikaanse geledere is in die studie van die mens se verhouding met plek en hoe dit identiteitsvorming beïnvloed. Navorsers op die gebied van omgewingsgerigte literêre studies is uitgenooi om deel te neem aan ’n webseminaar oor die stand van ekokritiek in die Suid-Afrikaanse akademie. Is die tendens aan die groei? Wat is die belang hiervan? Wat onderskei Suid-Afrikaanse ekokritiek, teen die agtergrond van die land se komplekse geskiedenis, van dié van internasionale prentjie? Reinhardt Fourie gee sy mening. |
Na aanleiding van twee omgewingsgerigte artikels wat onlangs in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het (Smith 2012b en Meyer 2013), wil ek met hierdie bydrae kortliks kyk na die stand van ekokritiek in die Suid-Afrikaanse literatuurwetenskap. Hoewel ’n vinnige literatuuroorsig van ekokritiese navorsing in Suid-Afrika nog redelik min resultate oplewer (in vergelyking met postkoloniale ondersoeke, byvoorbeeld), het daar die afgelope jare ’n paar artikels op die gebied van letterkunde verskyn wat nie net wink na ’n produktiewe toekoms vir die ekokritiek in Suid-Afrika nie, maar ook ’n belangrike bydrae tot die internasionale vordering van omgewingsgerigte studies lewer.
Die ekokritiek: Waar vandaan?
Die ekokritiek is ’n redelik jong ondersoeksrigting wat veral sedert die middel van die negentigerjare ’n vaster vorm begin aanneem het.1 Hierop sal ek nie breedvoerig ingaan nie, omdat die fokus van hierdie stuk eerder is op die grootste uitdagings waarmee die ekokritiek tans te kampe het en hoe navorsers daarop reageer.
Volgens Cheryll Glotfelty (1994), een van die pioniers van ekokritiese ondersoek, neem die ekokritiek ’n “earth-centered approach to literary studies”. Dit is kennelik ’n vae beskrywing van die oorkoepelende oogmerk en benadering van dié beweging, wat in sy aanvangsjare juis gekenmerk is deur die afwesigheid van ’n “widely-known set of assumptions, doctrines, or procedures” (Barry 2002:248). Tog het sommige gemeen dat hierdie eienskap dalk ten goede is, al was dit ongewoon in vergelyking met die sterk teoretiese begronding van ander kritiese bewegings uit veral die tagtigerjare.
Die vooraanstaande ekokritikus Lawrence Buell het kort voor die draai van die millennium opgemerk dat die ekokritiek se tekort aan ’n paradigma-inleidende stelling (soos wat Edward Said se Orientalism ’n kernteks in die ontwikkeling van koloniale en postkoloniale studies was) juis ’n goeie ding is (Buell 1999:1091). Buell (ibid) staaf hierdie stelling met oortuigende argumente, waarvan een van die belangrikste sy opmerking oor die unieke aard van ekokritiese studies is. Ekokritiek, skryf hy, verskil van baie ander bewegings, omdat die gemarginaliseerde ander waarmee dit bemoei is, nie gesentreer is om ruimtes van menslike kultuur en die menslike liggaam nie (Buell 1999:1091).
Simon Estok (2005:198) wys egter daarop dat dit noodsaaklik is dat ekokritiek ’n sterker teoretiese begronding ontwikkel, want “[i]f thematicism is held up as ecocriticism, then the term ‘ecocriticism’ itself becomes little more than a new buzzword for the old practice of looking at Nature in literature” (Estok 2005:203-204). Daar is ook die ander groot gevaar: dat ons letterkunde oorvereenvoudig en dit begin lees (of skryf!) as blote traktaatjies vir die beskerming van die omgewing.2
Die ekokritiek: Waarheen?
’n Aantal jaar na Buell (1999) se aanvanklike stelling merk hy op dat die ekokritiek ’n heterogene beweging gebly het (2005:1). Ook Smith (2012a:500) bestempel onlangs nog die ekokritiek as kenmerkend heterogeen en interdissiplinêr. Benewens die gevaar dat dit bloot ’n akademiese modewoord word, maak Estok (2005:197) ’n voorstel van wat binne die ekokritiek moet gebeur as die beweging sy etiese mandaat wil behou:
[I]f ecocriticism is to have any effect outside of the narrow confines of academia, then it must not only define itself but also address the issue of values in ways that connect meaningfully with the non-academic world. In terms of theory, it is going to have to stop running and hiding for fear of being rendered hopeless as a political engine.
Om op te som: die ekokritiek moet twee belangrike stappe doen om ’n relevante ondersoeksrigting te bly. Ten eerste moet ekokritiek beter gedefinieer word binne die verskillende dissiplines en met plaaslike spesifisiteite in gedagte. Ondersoeke van dié aard is immers nie beperk tot die studie van letterkunde nie en moet verder reageer op Larsen (2007) se kritiek aangaande die byna eksklusief Anglo-Amerikaanse fokus van vroeë ekokritiese literatuurondersoeke. Ten tweede moet die ekokritiek op grond van sy etiese standpunte deur die grense van die akademie breek deur ’n duideliker bemoeienis met omgewingskwessies daar te stel; anders, soos Estok (1999:1096) dit stel, “ecocriticism will just be one of those trends that temporarily guarantee an audience, publications, tenure, promotions, and so on. It won't change things.”
Die ekokritiek binne Suid-Afrikaanse literatuurstudies
In 2007 verskyn daar twee spesiale uitgawes van Tydskrif vir Literatuurwetenskap (TLW/JLS) wat spesifiek op die ekokritiek fokus. Die twee stappe wat hier bo genoem is, is duidelik ook die oogmerk van dié uitgawes van TLW/JLS, soos Lemmer (2007:226) noem:
By placing readings of diverse texts from different historical periods, cultures, genres and disciplines within an environmental matrix, we hope to challenge and even change dismissive attitudes toward ecocriticism by demonstrating the versatility and viability of the ecocritical approach.
Met hierdie aanhaling wil ek nie suggereer dat hierdie uitgawes van TLW/JLS die eerste belangrike Suid-Afrikaanse literêre navorsing met ’n omgewingsgerigte fokus weerspieël nie. Ekokritiese literatuurondersoeke word al sedert die negentigerjare in Suid-Afrika onderneem. Hierdie bydrae van my is ongelukkig te kort om ’n volledige oorsig van al hierdie navorsing te bied, maar met die oog op die toekoms van die navorsingsrigting hier te lande wil ek binne die literatuurstudie enkele onlangses uitlig om te illustreer dat navorsers in Suid-Afrika wel meewerk om omgewingsgerigte studies te bevorder en verfyn.
Marisa Keuris (2007) toon in ’n lesing van Pieter Fourie se Die koggelaar aan dat ouer dramas verdien om van nuuts af beskou te word teen die agtergrond van die ekokritiek. In haar artikel beweeg Keuris opsetlik weg van die bestaande “mens-gesentreerde” ontledings van hierdie drama en poog sy om die “spesiale verhouding” tussen die karakters, “die Karoo-landskap, die diere, aarde en God; maw die interaksies en interafhanklikheid van die onderskeie ‘wêrelde’” te verken (2007:417).
Op die gebied van die prosa ondersoek Henriette Roos (2010:50) “universele kwessies betreffende die verhouding tussen mens en omgewing deur op die regionale belange [van verskillende dele van die Suid-Afrikaanse bevolking] te fokus”. Deur ’n vergelykende ontleding van die populêre Zoo City (Lauren Beukes, 2010), ’n roman oor ’n distopiese Johannesburg, en Onsigbaar (Deon Meyer, 2009, vertaal as Blood Safari), ’n ekoriller wat in die Krugerwildtuin afspeel, belig Roos hoe die onderskeie romans die groot afwyking tussen die belange van eerste- en derdewêreldse kulture in dieselfde land illustreer (2010:53).
Fourie (2011) stel onder meer ondersoek in na die wyse waarop die interaksie tussen mens en natuur in Marlene van Niekerk se Agaat (2004) in tandem gelees kan word met (a) die uitbeelding van magsverhoudingsin die roman en (b) Agaat as postkoloniale plaasroman.
In ’n onlangse artikel het Susan Meyer (2013) deur ’n ontleding van Wilma Stockenström se roman Die kremetartekspedisie (1981) die verhouding ondersoek tussen mens en natuur en hoe dit uiteindelik identiteisvorming (van die Self en die Ander) beïnvloed.3
Wat ekokritiese ondersoek in die prosa betref, blyk dit dat die fokus toenemend beweeg na kwessies oor identiteit en ook in ’n mate moontlike interdissiplinêre samewerking met ander ondersoeksfokusse.
Twee van Susan Smith se artikels wat in 2012 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) gepubliseer is (Smith 2012a en 2012b), lewer ’n baie belangrike bydrae tot die konkretisering van ekokritiese teorie binne die kader van Afrikaanse literatuurondersoek. Deur te kyk na hoe die verhouding tussen mens en natuur aan bod kom in ’n teks deur die Martjie Bosman, verbreed Smith (soos die navorsers hier bo) ook die ondersoekveld – in teenstelling met die Anglo-Amerikaanse fokus waarvan ekokritiese literatuurkritiek al beskuldig is. Dit is veral Smith (2012a:512) se sterk formulering van ’n duideliker omskrywing van die konsep ekopoësie wat die weg baan vir soortgelyke definisies van werke uit ander genres wat gemoeid is met die verhouding tussen mens en natuur.
Ten slotte
Ons word daagliks deur nuusberigte oor wildstroping, mynbedrywighede, kernrampe en groot natuurrampe tot die besef gedwing dat die vernietiging van die omgewing ’n aktuele impak op ons lewens het. Navorsers het hierop begin reageer en die ekokritiek sal in die volgende twee dekades ’n nóg belangriker ondersoeksrigting word – hier te lande sowel as internasionaal. Die artikels wat ek hier bo genoem het, wat almal in wisselende mate literêre werke betrek wat gemoeid is met die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die huidige sosio-ekonomiese en sosiopolitiese kwessies van die land (byvoorbeeld grondbesit, die gebruik van natuurlike hulpbronne en die mens se ervarings van die natuur), bied ruim bewysdat die ekokritiek in Suid-Afrika goed op dreef is, die uitdagings waarmee die beweging te kampe het aanpak, en, soos die beweging sy probleme te bowe kom, dalk iets kan verander.
Bibliografie
Barry, P. 2002. Beginning theory. Manchester: Manchester University Press.
Buell, L. 1999. Letter for the Forum on Literatures of the Environment. PMLA, 114(5):1090-2.
—. 2005. The future of environmental criticism. Environmental crisis and literary imagination. Malden: Blackwell Publishing.
Estok, SC. 2005. Bridging the great divide: Ecocritical theory and the great unwashed. English Canadian Studies, 31(4):197-209.
Fourie, R. 2011. A postcolonial and ecocritical reading of Marlene van Niekerk’s modern plaasroman Agaat. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Gent: Universiteit Gent. Beskikbaar: http://lib.ugent.be/fulltxt/RUG01/001/786/761/RUG01-001786761_2012_0001_AC.pdf.
Glotfelty, C. 1994. What is ecocriticism? Referaat gelewer by die Western Literature Association-vergadering, Salt Lake City, Utah, 6 Oktober. Beskikbaar: http://www.asle.org/site/resources/ecocritical-library/intro/defining/glotfelty.
5 Februarie 2012 geraadpleeg.
Keuris, M. 2007. An ecocritical reading of Pieter Fourie’s Die Koggelaar. Tydskrif vir
Literatuurwetenskap/Journal for Literary Studies, 23(4):417-31.
Larsen, S.E. 2007. To see things for the first time: Before and after ecocriticism. Tydskrif vir Literatuurwetenskap / Journal of Literary Studies, 23(4):341-73.
Lemmer, E. 2007. Special issue introduction: Ecocriticism. Part 1. Tydskrif vir Literatuurwetenskap / Journal of Literary Studies, 23(3):223-7.
Meyer, S. 2012. We who cannot speak lived there first: A new claim to land in My plaas se naam is Vergenoeg by George Weideman. Tydskrif vir Letterkunde, 49(2):34-50.
—. 2013. Wat oor is, is die Self: verblyf in ’n boomholte in Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 10(1).
Roos, H. 2011. “The war of the worlds”: Relocating the boundaries between the human and the non-human. Tydskrif vir Literatuurwetenskap / Journal of Literary Studies, 27(4):50-70.
Smith, S. 2012a. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 9(2):500-23.
—. 2012b. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 9(3):887-928.
1 As mens kyk na die literatuurkritiek van die vroeëre 19de eeu, is die wortels van ekokritiese ondersoeke wel te vinde, maar die totstandkoming van ’n merkbare beweging is taamlik onlangs.
3 Sien ook Meyer (2012), waarin die polemiese kwessie van grondbesit in Suid-Afrika opnuut benader word deur ’n ekokritiese lesing van George Weideman se My plaas se naam is Vergenoeg.
Keer terug na die indeksblad om nog bydraes oor ekokritiek te lees.