
Gideon Lombard (Foto: Antonia Steyn, Verkleurmannetjie: naobim | Pixabay)
...
Ek voel bevoorreg dat ek die evolusie van die stuk kan aanskou, so ek soek altyd vir nuwe betekenisse.
...
Gideon Lombard is ’n teaterverkleurmannetjie: Hy is ewe gemaklik as akteur – op die kassie óf die verhoog – regisseur, stelontwerper of beligtingsfundi.
Pas het die opwinding van die KKNK 2022 Kanna vir beste debuutwerk vir Karatara effe bedaar (Karatara is ook benoem vir beste teaterwerk, beste regisseur en beste stelontwerp), toe Gideon by die 13de kykNET Fiëstas in Maart dié gesogte trofee vir beste teaterontwerp vir die klankbaan en ontwerp van Karatara (KKNK en SOF) ontvang.

Foto: Clifford Roberts
Enkele weke later, dié keer by die Fleur du Cap-toekennings, stap Gideon twee maal na die verhoog vir beste beligtingsontwerp en vir beste klankontwerp. Karatara is die afgelope jaar in elke moontlike afdeling vereer en is pas weer by die SOF in die Kunstekaapteater opgevoer.
Kommentaar vanaf Marina Griebenow, een van die Fleur du Cap beoordelaars:
Gideon het nie net die 2023 Fiësta-toekenning vir teaterontwerp ingepalm nie, maar kort daarna ook twee Fleur du Cap-toekennings vir sy beligting- en klankontwerp vir die ontstigtende dansdrama Karatara. By die toekenningsgeleentheid vir laasgenoemde in Stellenbosch noem hy onder meer dat hy die idee vir die klankbaan al ’n dekade gelede in ’n dramaklas gekry het. Sowel sy klankbaan as die beligtingsontwerp verhoog die doodsangs wat tydens die gebeure van daardie gruwelike nag in 2018 moes geheers het. Die gehoor word meegesleur saam met die inwoners van Karatara op ’n golf van magteloosheid teen die verskrikking van die vlamme, asook die daaropvolgende verlies. Die klankbaan en die beligting word op so ’n manier gebruik dat jou sintuie wyd sper om elke emosie in te drink, net om daarna weer te wil vlug van die intensiteit daarvan. ’n Welverdiende toekenning vir ’n onvergeetlike ervaring.
Die teks is deur Shaun Oelf (wat ook daarin speel) en Wilken Calitz. Gideon het die regie, stel, beligting en musiekverwerking behartig.
In 2018 was dit Die reuk van appels, ’n eenmanvertoning gegrond op Mark Behr se gelyknamige roman, wat vir hom ses akteurspryse en nog meer nominasies besorg het. Vir die film STAM (The Tree) ontvang hy ’n Safta-nominasie vir beste akteur.
Maar dis Karatara wat sy loopbaan op ’n nuwe baan laat wentel. Hierdie dansdrama vertel die verhaal van die gemeenskap van Karatara se verlies aan familie, grond en ’n blyplek. Dit ondersoek die komplekse dinamika tussen, en geskiedenis van, die gemeenskappe van die gebied en wys hoe die media en politici die tragedie as ’n geleentheid gebruik het. Maar dis ook ’n spieëlbeeld van soveel ander soortgelyke tragedies.
Knysna en Karatara vorm die stel van dié dansstuk.
Knysna is vernoem na die Khoisan-woord wat “plek van hout of varingblare” beteken en Karatara is die Khoekhoen-woord vir Perdeheuwel, ’n klein heuweltjie in die noordekant van die dorpie.
Die verhoog is kaal, afgesien van ’n stuk swart materiaal, drie akteurs/dansers, reusevuurhoutjiebokse, flitse en een gloeilamp.
Agt mense, onder wie ses kinders en ’n swanger vrou, is op 29 Oktober 2018 in ’n brand dood. Een loods is ook dood toe sy helikopter geval het terwyl hy die vuur probeer blus het. Meer as 1 200 mens is ontruim en in tydelike skuilings versorg. Honderde het alles in die brand verloor.
Inwoners het ná die brand die skuld vir die verwoesting voor die deure van die plaaslike munisipaliteit en SANParke gelê, wat glo hul pleidooie van ’n brand verder in die woud verontagsaam het. Hulle sê die brand kon vroeër geblus gewees en die vernietiging voorkom gewees het.
Die vertoning by die Suidoosterfees het plaasgevind skaars twee dae nadat Internasionale Dansdag op 29 April met verskeie produksies en foto-uitstallings by die fees gevier is.
Gideon kondig voor die vertoning af dat die stuk goed werk net as daar geen selfoonligte in die teater is nie. Almal skakel hul fone af. Dis vir daardie uur pikdonker afgesien van die paar maal wat die drie akteurs hul flitse aanskakel of die teaterligte vlugtig op hulle val.
Die beskuldiging van agtelosigheid kom vroeg in die stuk: “Die bosse het hom eerste gewaar.” Maar niemand het ag geslaan nie en enkele ure later het die vlamme alles verteer. Dean sê: “Elkeen soek ’n slice van die scorched earth ...”
Daar is verskeie probeerslae deur ’n verslae man om ’n toespraak te lewer, wat telkemale begin met “Dear all, ... I lost ...” en uiteindelik: “I lost the most sacred thing on earth: loved ones.” Een man het agt familielede in daardie brand verloor.
Die drie akteurs se flitsligte skyn soms op liggame wat in die pikdonker lê – net flou lig wat hul figure omlyn. Soms is daar net die geluid van hul dowwe handegeklap op hul lywe, voetegestamp en die ritseling van vuurhoutjiebokse wat soos marakas (musikale kalbasratels met saad of bone binne) ritmies saamgesels. Die donkerte omvou jou, maak jou effe paniekerig. Die flitse wys die enigste ligpad wat brandweermanne, vrywilligers en paniekerige inwoners daardie aaklige nag gehad het.
Met drie bruinpapierkoerante “lees” die akteurs oor die ramp. “Dankie George Rex” – wat nie soos hy algemeen vereer word vir sy bydrae tot die sukses van Knysna nie – hier uitgebeeld word as kolonialis. “Wat die N2 gebou het, wat alles separate.” Of: “Hier is nuwe eiendom, skoongebrand vir ’n nuwe begin.”
Die swart lap word opgerol en verbind die drie akteurs soos ’n verskroeide naelstring. Die skaduwees verdwerg alles wat ongesê en ongesiend gebly het.
Dit voel asof die roet en verslaentheid met jou saamgaan as jy 60 minute later uit die donker teater stap.
Gideon in ’n neutedop
Gideon is in Namibië gebore. Hy het in 2011 sy dramastudies by die Universiteit van Kaapstad voltooi en is sedertdien by talle bekroonde produksies – plaaslik en in die buiteland – betrokke. Gideon werk in verskeie mediums, soos spel, regie en skryfwerk in teater en film, beligting, stel- en klankontwerp, opera, dans en musiek, en het al in bykans elke genre pryse ingepalm.
In 2014 word hy aangestel as die assistantregisseur van Kaapstad Opera se produksie van George Gershwin se Porgy & Bess en het al verskeie toere na stede en lande in die buiteland, waaronder Bordeaux, Barcelona, Madrid, Buenos Aires en Suid-Korea, met dié produksie onderneem.
Gideon is medestigter en vervaardiger van Good Egg (Edms) Bpk, ’n produksiemaatskappy in Kaapstad. Hulle is tans besig met die ontwikkeling van ’n TV-reeks vir kykNET. Benewens sy besige kreatiewe loopbaan werk Gideon as die besigheidontwikkelingsbestuurder vir twee maatskappye in die tech start-up-wêreld.
Hy was tot April 2020 op die kassie as Stefan Gerber in kykNET se Suidooster en het in Februarie 2020 sy 1000ste episode as een van die oorspronklike akteurs by Suidooster verfilm.
Sy gunstelingkunstenaar is Miles Davis.
Vrae aan Gideon

Foto’s deur Hans van Veen
In die aanvanklike produksie was dit Dean Balie wat saam met Shaun Oelf en Grant van Ster opgetree het, maar vir die SOF was dit Dean John Smith. Waarom?
Ons probeer met elke speelvak ’n ander Dean. 😉 Dean Balie het ’n reeks ander opwindende projekte en geleenthede aan die gang, so hy fokus daarop. Hy was wel die eerste keuse om vir Dean John te ondersteun by KKNK. Ons voel steeds almal soos een groot familie.
Hoe het die teks by jou beland en wat daaraan het jou aandag getrek?
Die projek het ontstaan by die 2018-Teksmark, ’n wonderlike teaterinisiatief tussen NATi, die Baxterteater en KKNK. Die uitdaging om ’n gesamentlike woordeskat uit woorde en dans te skep het my vreeslik gestimuleer. Dit doen dit steeds.
Hoe het die idee posgevat om dit in die donker met flitse en minimum dialoog en lig te laat afspeel? Het jy iets soortgelyks gesien, of hoe het dit begin vorm aanneem?
Ek het in my derde jaar op dramaskool vir ’n projek begin rondspeel met flitse en die idee het my bygebly. Ek het toe weer daaraan gedink in die konteks van die brande: chaos, paniek en beweging in die donker.
Het jy destyds die brand se verwoesting op sosiale media gevolg?
Die aanvanklike indruk wat ek kan onthou, is dat dit vir ewig aangehou het. Terwyl al die "normale" daaglikse nuus verander het, het die brande elke dag vir ’n hele ruk ’n konstante deel van enige nuusberig gevorm. Ek onthou die vuur se beweging. Party dae het dit bedaar, ander dae, in ’n kwessie van ’n uur of minder, het dit skielik weer versprei.
Wat in die teks het jou genoop om daarvan deel te word?
Die uitdaging om ’n unieke dramatiese spanning te probeer maak werk, naamlik persoonlike tragedie wat teen media, politiek en opportunisme trek. Daar is ook natuurlik ’n groot verantwoordelikheid as mens met ware gebeure werk. Die betekenisvolle gesprekke wat uit hierdie proses ontstaan het, sal my altyd bybly.
Wat voel jy elke keer as jy weer die stuk beleef?
Ek probeer objektief bly as regisseur, maar dit is natuurlik nooit heeltemal moontlik nie. Ek voel bevoorreg dat ek die evolusie van die stuk kan aanskou, so ek soek altyd vir nuwe betekenisse. Ek moedig dit ook aan, om nuuskierig te bly oor waarmee ons besig is. Dit is immers ’n lewende medium.
Het jy Karatara besoek vir insigte en met mense gesels?
Ek het nog nie, maar Shaun Oelf, die medeskrywer en danser in die stuk, kom van die area af. Hy het die effek van die brande eerstehands beleef en ken die gemeenskap, landskap en mense intiem.
Hoe betrokke was die twee teksskrywers by jou proses van alles bymekaarsit?
Ek hou daarvan om teks as ’n proses te benader. Ons het konstante gesprekke oor die teks tydens repetisies gehad, en doen dit steeds. Die teks het heelwat verander soos wat die proses ontwikkel het. Van die verhoogaanwysings het dialoog geword, die struktuur en volgorde is rondgeskuif ens. Ek is baie dankbaar vir Wilken en Shaun se vertroue in my met baie van dié kreatiewe keuses.
Hoe voel dit as julle die een prys na die ander inryg – voel dit of mense die hartseer en angs van ander verstaan, of is dit bloot beloning vir goeie teater?
Dit is nie vir my om te sê wat die gehoor voel of moet ervaar nie, maar ek dink ons probeer iets universeel oor verlies kommunikeer, en as mense hulle eie weergawe daarvan in hierdie stuk kan raaksien, voel ek ons betree ’n betekenisvolle gesprek met mekaar. ’n Mens is natuurlik dankbaar vir die erkenning, veral as dit beteken die stuk kan deur meer gehore gesien word.
Het die stuk op enige manier oor die afgelope jaar verander?
Daar is subtiele veranderinge wat vanself gebeur. Dit is natuurlik die wonderlike ding van lewende teater. Dit groei as ’n mens dit voed. Benewens dit probeer ons almal nuuskierig bly oor wat nog uit die stuk kan kom, so ons probeer elke speelvak gebruik om te sien of daar iets is wat ons kan verbeter of verfyn.
Wat is die mooiste kompliment wat julle al vir die stuk gekry het?
“Ek kon dit alles sien. Die hele brand kon ek sien.”
“Ek het iets meer van my eie verlies verstaan.”
Al drie onlangse werke waarvoor jy vereer is, Karatara, Stam en Appels, het swaar sosiale boodskappe. Kies jy dié rolle, of kies hulle jou?
Ek weet nie. Seker ’n bietjie van beide. Ons ontmoet mekaar halfpad. Ek voel ek was al besonders gelukkig met die projekte wat oor my pad gekom het. I’ve been lucky.
In hoe verre dink jy moet teater of film belangrike kwessies aanspreek? Het ons nie al genoeg daarvan gehad in alle ander sfere van die lewe nie?
Ek voel nie teater of kuns hoef ’n kwessie of “cause” as hooffokus te hê nie. Ironies genoeg dink ek dat as mens die werk so goed as moontlik maak, gaan die kwessie of "cause" duideliker oorgedra word. Kuns wat lei met ’n kwessie voel vir my dikwels asof iemand ’n mening op my wil afdwing. Wanneer die fokus op die kuns is, kommunikeer dit duideliker.
Hoe verskil jou benadering as regisseur of beligtingsontwerper van dié as akteur?
Ek dink al dié benaderings kom terug na musiek en jazz toe. Ek sê gereeld nog dit is my eerste liefde. Ek het ’n fassinasie met ritme, vorm, toon, kontras en struktuur. Al hierdie dinge kan op al die bogenoemde toegepas word.
Waarheen volgende vir Karatara – oorsese planne? Dalk nog optredes in Suid-Afrika?
Ons wil dit graag iewers hierdie jaar in Karatara gaan opvoer. Die produksie gaan dan ook Woordfees toe in Oktober, en dan na die Mark-teater in Johannesburg voor die einde van die jaar. Daar is beslis oorsese planne vir volgende jaar.
Jy was vir vyf jaar in ’n sepie. Was dit moeilik om dit te laat los en wat het ’n vaste inkomste – en dus salaris – vir jou gebring wat jy nie as vryskut akteur kon smaak nie?
Natuurlik is standvastigheid moeilik om te los. ’n Mens kan verder vooruit beplan en die konstante kommer van die volgende maand verdwyn met tyd. Maar ek weet ook dat my inherente nuuskierigheid vir my belangrik is. Ek moet dit volg. Die tyd by die sepie was wonderlik en ek het steeds baie goeie werkverhoudings en vriendskappe daar.
Wat het jy van jouself geleer terwyl jy in Suidooster was?
Dat ek hou van roetine en dat dit goed is vir my. Ek het altyd, om een of ander rede, daarteen gerebelleer – nou kan ek nie daarsonder nie.
Vertel asseblief meer oor die TV-reeks wat julle vir kykNET maak?
Dit is gebaseer op ’n ware verhaal. Ek kan nie te veel sê nie, maar: Op 10 Januarie 1966, in Odendaalsrus, in die middel van die Vrystaat, loop twee niggies na die munisipale swembad. Teen skemer is hulle nog nie tuis nie. Hulle word vroeg die volgende oggend dood gevind. Die moorde is vir 18 jaar onopgelos. Die hoofverdagte was familie. Ons vind wel uit wie dit was ...
Waaraan werk jy volgende?
Ek werk op die oomblik voltyds vir twee tech-maatskappye, so my dae is redelik vol. Dit laat wel steeds genoeg tyd vir kreatiewe projekte, mits ek goed beplan. Ek speel weer self in ’n stuk later die jaar by die feeste. Iets wat ek agt jaar gelede in Engels gedoen het, word nou vertaal in Afrikaans. Ek verneem die relevante inligting sal binnekort bekend gestel word.
Jy sou net voor Covid oorsee gaan studeer het en het crowdfunding gebruik. Vertel asseblief meer?
As gevolg van Covid het my planne vir ’n fancy MBA in Spanje nie uitgewerk nie. Ek het toe wel die befondsing, wat nie weggeval het nie, gebruik om korter kursusse plaaslik of aanlyn te doen. Dit het ’n baie interessante wêreld van tech en besigheid vir my oopgemaak. Ek geniet dit vreeslik en is baie dankbaar vir die kombinasie van die standvastigheid van die sakewêreld en die vryheid van die kunste. Dit is iets wat ek al baie lank wou bewerkstellig. Nou moet ek dit net so probeer hou!
Lees ook:
Suidoosterfees 2023, ’n oorsig: “Fees vir almal” gedenk 20 jaar met meesterlike aanbiedinge

