
Foto’s: verskaf
Koop kaartjies vir Hoerkind by die Suidoosterfees hier.
Die skywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ’n randeier, is deur Francois Toerien in ’n toneelstuk verwerk. Die première is by die Suidoosterfees, maar dit reis ook na ander venues (inligting onder).
Margit Meyer-Rödenbeck is die regisseur van dié onthutsende boek en het ’n sterk span byeengebring om as ’n kreatiewe ensemble aan dié eenmanvertoning te werk. Die gerekende akteur Geon Nel vertolk die hoofrol.
Die titel Hoerkind verwys na die neerhalende kwetswoord wat aan hom as kind tegesnou was, omdat hy buite die eg gebore is. Hy skryf oor sy vroeë grootwordjare in kleurvolle losieshuise vol randeiers (buitestaanders) in Tamboerskloof.
Op ses moes hy na ’n kinderhuis gaan omdat hulle in armoede geleef het. Later trou sy ma, sy stiefpa skiet op hom en probeer hom verkrag. Op 13 beland hy in die kloue van ’n pedofiel, ’n vooraanstaande Afrikaanse kunsjoernalis. Albei sy ouers word alkoholiste en sterf vroeg. Alkohol- en dwelmafhanklikheid ry hom ook. Op ’n stadium slaap hy op straat.
Een aand word hy in sy woonstel gyselaar gehou en met ’n mes gesteek. Hy verloor byna sy been in ’n motorongeluk nadat hy op Mannetjies Roux se plaas gaan kuier het en was vir byna ’n jaar buite aksie.
Sy foute is volop, maar hy leer soos hy voortbeur. Hierdie is nie ’n verhaal van selfbejammering nie, dit een van val, opstaan, val en vorentoe beur, kop omhoog.
Meyer-Rödenbeck sê: “In dié teaterstuk (van 75 minute lank) leer ken ons Herman as klein seuntjie wat met oorgawe leef, verknog is aan sy ma, maar dan maak omstandighede dit vir hom onmoontlik om by haar te bly.
“Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles ‘aanhou beweeg en geraasmaak’, vorentoe, met groot sukses. Hoerkind gaan jou bybly en omkrap, want dit is eerlik.”
- Hoogaangeskrewe teatername is by dié produksie betrokke, soos Francois Toerien wat die teks verwerk het. Die assistent regisseur en verhoogbestuurder is Jeanne Steenkamp, die klankbaan is deur Coenraad Rall en die stelontwerp deur Gerrit Snyman.
- Moontlik gemaak deur: Suidoosterfees. (Geen onder 18 nie: Taal en inhoud)
- Vir verdere navrae of om ’n onderhoud met iemand te voer, kontak Margit Meyer-Rödenbeck op +27 83 303 3430.
WAAR EN WANNEER?
SUIDOOSTERFEES
KUNSTEKAAP TEATER
29 APRIL OM 20:30 & 1 MEI OM 11:30
BESPREEK: Computicket
DIE BOER TEATER RESTAURANT- DURBANVILLE
16-18 MEI OM 20:30
Bespreek: 021 979 1911/ www.dieboer.com
DIE KOELKAMERS - PATERNOSTER
19 MEI OM 19:00
Bespreek: www.diekoelkamers.com
VAN DIE ROLSPELERS:
Margit Meyer-Rödenbeck (vervaardiger en regisseur)
Margit Meyer-Rödenbeck behaal haar BA (met Drama) graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1990. Sy voltooi ook haar honneurs (met lof) en spesialiseer in kinder- en opvoedkundigeteater. Daarna volg haar meestersgraad in teaterbestuur.
Meyer-Rödenbeck is betrokke op vele terreine in die vermaaklikheidsbedryf: As vervaardiger van onder meer Spertyd, Vlooi en die geheim en Liewe Heksie en die rolskaatse.
Ook op die verhoog as die bekende Dowwe Dolla en in Laerskool Noord. Tydens Covid was sy op TV in die Die boekklub en Binnelanders. Sy doen die regie vir ’n Koos Kombuis-storie en is teksskrywer van Vlooi en Liewe Heksie, asook stemkunstenaar en seremoniemeester. Sy is aktief betrokke by vele liefdadigheidsorganisasies.
Geon Nel (akteur)
Geon Nel het sy BAHons-graad in spel aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Daarna het hy in talle veelbekroonde teater en TV-produksies verskyn. Van die bekendste stukke sluit in Kringe in 'n bos, Balbesit, Dis ek Anna en Nêrens Noord-Kaap. Op TV verskyn hy in Vallei van sluiers, Die boekklub, Nêrens Noord-Kaap en Mooiweer en warm. Behalwe teater en TV-werk, is hy ook ’n kulkunstenaar.
Francois Toerien (teksskrywer)
Francois Toerien verwerf sy BAHon-graad in Teaterregie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sedertdien het hy die regie vir verskeie bekroonde verhoogproduksies behartig, soos onder meer musiekblyspel Heidi.
Hy is die skrywer van verhoogtekste en het Marita van der Vyver se roman Die Dinge van ’n kind vir die verhoog verwerk. Toerien is ook die skepper en skrywer van die televisie sketskomedie-reeks Die Francois Toerien Show. Tans vryskut hy as regisseur, skrywer, akteur, stemkunstenaar en lektor in dramastudies by die PNX Global Kollege vir Uitvoerende Kunste.
Herman Lategan (Skrywerjoernalis)
Die skrywerjoernalis Herman Lategan is beide berug én beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son. In sy memoires Hoerkind, die memoires van ’n randeier, vertel hy sy lewensverhaal uit die hart uit, sonder doekies omdraai.
Oor die jare skryf hy vir oor die 50 tydskrifte, koerante en webblaaie, onder meer Vogue Entertaining + Travel, Time Out, Cape Style, Mail & Guardian en Vrye Weekblad. Sy Rapport-rubrieke is in twee bundels saamgestel.
’n Aantal gedigte en kortverhale het al in verskei publikasies verskyn. Hy het ook vir e.tv gewerk en vryskut insetsels vir etlike radiostasies soos FMR, Smile FM en Cape Talk gelewer.