...
Ja, die vroedvrou is ’n goeie beeld, want die geboorte van ’n boek is nie speletjies nie, dis dikwels “blood, sweat and tears”.
...
Naomi Meyer praat met Suzette Myburgh oor ’n paneelgesprek tydens die onlangse Suidoosterfees en oor skryfprojekte wat in Paulet Huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap plaasgevind het en waar Suzette Kotzé ’n mentorsrol gespeel het.
...
"Die grootste uitdaging van die werk is om van die begin af ’n goeie rapport met die skrywer op te bou. Sonder daardie vertrouensverhouding sal ’n mentorskap nie veel kan bereik nie."
...
Suzette, jy het by die pas afgelope Suidoosterfees met die skrywers Crystal-Donna Roberts en Deidré Jantjies oor hul boeke gesels tydens die gesprek, “’n Kind soos ek”. Julle gesprek het gehandel oor identiteit, om boeke met karakters te skep waarby jong lesers kan aanklank vind. Karakters wat soos die lesers klink, soos hulle praat. Wat is jou agtergrond en hoe het jy by hierdie twee skrywers se boeke betrokke geraak?
Ek het joernalistiek geswot, maar ek het dadelik in uitgewery begin werk, doer terug in Desember 1989. My eerste drie jaar was in niefiksie (handwerkboeke) en daarna ses jaar by Tafelberg se kinderboekafdeling. Sedert einde 1998 werk ek vryskut. Toe die Gerwel-stigting se projekte in 2019 begin, het Theo Kemp my gevra om die Afrikaanse mentor vir die ontwikkelingsprojek te wees, en sedertdien het ek die voorreg om deel te wees van hierdie baie belangrike projek in vennootskap met NB-Uitgewers. Deidré (2020-groep) en Crystal (2021-groep) het beide die kinderboekuitgewer Michelle Cooper genader met voorleggings vir hulle boeke, en Michelle het hulle aanbeveel vir die mentorskapprogram.
Jy het jare lange ondervinding in die uitgewersbedryf en slyp, ontwikkel en rond af aan manuskripte. Wat is jou rol by Paulet Huis en by die Jakes Gerwel Stigting se skrywers wanneer jy die mentorsrol vervul soos van toepassing op die skrywers hier bo genoem?
Die projek strek oor ’n hele jaar en betrek vier mentorsfigure: twee vir Afrikaans en twee vir Engels met Angela Briggs as hulle mentor. Ons reis kwartaalliks na Somerset-Oos waar ons dan twee volle dae by Paulet Huis aan die manuskripte werk. Ons doelwit is om met die laaste sessie in November manuskripte klaar en gereed te hê om aan die uitgewer voor te lê vir ’n finale publikasiebesluit. Wat ek as mentor in daardie jaar wil bereik, is nie net publiseerbare manuskripte nie, maar ook die ontwikkeling van die skrywers sodat hulle op hulle eie kan voortgaan om te skryf en hopelik verder kan publiseer.
Die item waaroor ek jou gevra het, is 'n gesprek wat handel oor ’n identiteit en aanklank van lesers oor wie daar nie voorheen, deur die jare, so baie boeke verskyn het nie. Maar hoe verskil die skep van 'n storie – 'n goeie storie! – as dit in verskillende registers, of in verskillende variëteite van Afrikaans, geskep word? Is die kriteria vir die skep van 'n storie verskillend?
Die kriteria is presies dieselfde as vir enige ander boek – ’n goeie storie is ’n goeie storie, maak nie saak wat die taalgebruik of -register is nie. Op die keper beskou, is ’n boek bloot ’n vorm van kommunikasie, en dis my en die skrywer se werk om te sorg dat daardie kommunikasieproses helder en duidelik is vir die teikengehoor. Taalkundig is dit wel vir my baie interessant en stimulerend om met hierdie nuwe stemme en variëteite te werk. En soos met enige redigeerwerk laat ek my lei deur die skrywer se styl – ek het nie ’n vooropgestelde idee van hoe die taalgebruik moet wees nie. Solank ek (as eerste leser) die teks kan verstaan, glo ek die uiteindelike leser sal dit ook verstaan. As daar spesifieke woorde of frases is wat die deursneeleser dalk nie sal verstaan nie, sorg ’n mens dat die betekenis uit die konteks blyk, of daar word ’n lys woordverklarings agterin die boek geplaas.
Vertel asseblief van die pad wat jy as mentor by die skrywers van Paulet Huis skep. Hoe werk die proses – vandat die skrywers daar aankom, tot wanneer die boeke verskyn?
Heel eerste kry ek die manuskripte van die uitgewer en sal ek dit deurlees om ’n geheelbeeld te kry. As daar reeds leesverslae bestaan, sal ek dit by die uitgewer aanvra om te sien hoe keurders op die teks gereageer het. Met genres soos jeugverhale of outobiografiese vertelling sal ek ook vir die uitgewer vra of daar lengtevereistes is, vir hoeveel duisend woorde moet ons mik. Dan deel ek die manuskrip rofweg in kwarte op om te bepaal hoeveel ons elke kwartaal moet afhandel sodat ons sal klaar wees teen die einde van die jaar.
Van daar af werk ons per kwartaal: Ek berei voor deur die betrokke stuk teks deeglik deur te werk en maak aantekeninge van alles wat ek met die skrywer wil bespreek. By Paulet Huis werk ek individueel met die skrywers, in vier sessies per dag van so 90 minute elk. Terwyl ek besig is met een skrywer, kry die ander een “huiswerk” om te doen. Dit behels onder meer dat hulle die teks waaraan ek geredigeer het, moet lees en goedkeur of hulle tevrede is met die veranderings wat ek gemaak het. Ná die werkwinkel kry die skrywer so twee maande om aan die volgende kwart te werk, dan kom die manuskrip terug na my en ek berei voor vir die nuwe werkwinkel. Ek skryf ook elke keer ’n vorderingsverslag wat na Theo en die uitgewers gaan.
Met die November-sessie, wanneer die manuskripte klaar is, sal ek tyd inruim om met die skrywers te praat oor die verskillende stappe van die publikasieproses en wat hulle verder kan verwag – dit terwyl ons duim vashou dat die manuskripte wel vir publikasie aanvaar sal word, want dis nie gewaarborg nie. Wanneer ek die finale manuskripte aan die uitgewers stuur, is my werk afgehandel, maar ek en die skrywers behou meestal nog kontak en hulle kan my enige tyd vra as hulle raad soek of as ek met iets kan help.
Jy is dalk ’n soort vroedvrou, of hoe? Betrokke by die geboorte van die boek. Hoe doen ’n mens dit – om ’n manuskrip te help ontwikkel, en ook om dit sensitief aan te pak, vir 'n verskeidenheid skrywers wat elk hul eie stories het om te vertel, uit verskillende agtergronde? Wat is die lekkertes, wat is die uitdagings?
Ja, die vroedvrou is ’n goeie beeld, want die geboorte van ’n boek is nie speletjies nie, dis dikwels “blood, sweat and tears”. Vir my is die mentorproses ’n voortsetting van wat ek al jare lank as manuskripkeurder doen. Waar jy met ’n keurverslag in vier of vyf bladsye probeer aandui wat met ’n manuskrip skort en waar dit nog kan verbeter, beteken die mentorskap dat ek saam met die skrywer kan sit en in besonderhede die tegniese aspekte kan verduidelik, byvoorbeeld die vereistes van goeie dialoog of ’n geslaagde spanningslyn. As daar groot veranderinge nodig is, soos aspekte van die intrige wat nie oortuig nie of ’n slot wat nie sterk genoeg is nie, kan ek voorstelle maak of ons kan oplossings soek wat die skrywer dan kan toepas.
Iets wat ek baie belangrik ag, ook omdat dit ’n projek vir debuutskrywers is, is om die skrywer te help om sy of haar skrywerskap beter te verstaan en verder te ontwikkel. As mentor kan ek direk vir die skrywer sê: Kyk, hierdie is wat jy goed kan doen, dis wat vir jou natuurlik kom, en met hiermee sukkel jy, so jy moet harder daaraan werk. Met ander woorde, leer ken jou sterk punte sowel as jou swak punte as skrywer. Ek het ook al geleer, spesifiek in Mei 2020 toe ons weens Covid op Zoom moes werk, om heel eerste ’n incheck-sessie met die skrywer te hê en te vra: Hoe gaan dit regtig met jou? As die skrywers om een of ander rede swaarkry in hulle persoonlike lewe, is dit iets wat ek moet weet en in ag moet neem – dit help nie om net voort te storm omdat daar ’n sperdatum is nie.
Die lekkerste lekker van hierdie werk is altyd as die boek verskyn – om dit in jou hand te hou en te weet wat alles daarin gegaan het en hoeveel dit vir die skrywer beteken om hierdie prestasie te kon behaal. Ook om dan die skrywers se loopbane dop te hou en te sien hoe hulle groei en selfvertroue kry; om as spreker genooi te word na feeste, nominasies vir pryse, hulle verdere skryfwerk en publikasies te beleef.
Die grootste uitdaging van die werk is om van die begin af ’n goeie rapport met die skrywer op te bou. Sonder daardie vertrouensverhouding sal ’n mentorskap nie veel kan bereik nie.
Lees ook:
Stories in die wind: ’n gesprek met Deidré Jantjies oor haar Khoena-kinderverhale
Speurder Sammi: die blou steen – ’n onderhoud met Crystal-Donna Roberts
Kommadagga: Poskaarte van Paulet Huis | Postcards from Paulet House
Gesprek oor die skrywersresidensie in Paulet Huis, Junie 2022