Stories in die wind
Deidré Jantjies
Tafelberg
ISBN: 9780624093305
Deidré Jantjies se kinderboek getiteld Stories in die wind het onlangs by Tafelberg Uitgewers verskyn. Jantjies is ’n kultuuraktivis wat passievol is oor die historiese verhale van vroue. Sy is die stigter van Na Aap Produksies, ’n volledig-geïntegreerde, breë-gebaseerde produksiemaatskappy wat onvertelde stories van Suider-Afrika vertoon. Nie net het sy ’n geskiedenis van verhoogoptredes nie, maar sy het ook haar eie stories begin skryf wat sy in kort- en speelfilms omskep. Sy werk graag aan narratiewe wat haar na aan die hart lê. Haar droom is om verhale te skep wat vergete inheemse erfenis en tradisies insluit.
Jantjies se Stories in die wind beslaan tien kosbare Khoena-verhale in Afrikaans. Dit is minder bekende stories van die oorspronklike bewoners van die Richtersveld, Namakwaland en die Kalahari. Die stories is spiritueel van aard en waardevolle lesse is fyn daarin verweef. Deidré dra die omnibus op aan “die bruin en swart Afrikaanse kind. Jy is die lig waarna hierdie wêreld soek.” Haar wens is dat die stories in hierdie boek elke leser se siel sal roer en hulle outentieke self sal wakker maak.
Toe Louise Viljoen navorsing oor Stories in die wind gedoen het, het ek besef dat daar reeds ’n gelyknamige kortfilm-animasiereeks deur Na Aap Produksies bestaan wat gebaseer is op die Namastorie getiteld “Die reënblom”, die eerste storie in die boek. ’n Mens kan hier na dié besonderse reeks gaan kyk.
Jantjies is die skrywer en vervaardiger. Die talentvolle illustreerders Dav Andrew en Clinton Jones het saam met haar daaraan gewerk. Garth Erasmus het vir die inheemse musiek gesorg. Dina Christiaan, ’n Namasprekende van die Noord-Kaap, was verantwoordelik vir die Namasubtitels.
Louise Viljoen het vir Jantjies ’n paar vrae oor Stories in die wind gevra:
V) Twee van die verhale, “Luister na die maan” en “Jakkals en Leeu” is oorvertellings uit onderskeidelik ’n Afrikaanse boek oor sprokies en ’n Engelse boek oor volksverhale. Waar het jy aan die oorblywende agt stories gekom?
A) Die ander stories het ek self geskryf, hulle was stories wat ek opgemaak het. Ek sê altyd is stories wat in my DNA al kla was, al het ek navorsing oor volksverhale gedoen. Maar die meeste van my skryfreis het ek my verbeelding gebruik om ou stories te kry wat al klaar in my is.
V) Dit het my op bladsy 1 al opgeval dat jy moeite gedoen het om die Namakultuur voor te hou.
Hulle is ernstig oor hulle Namakultuur en baie trots op hulle taal. En hulle is innig lief vir die veld: die plante wat hulle gebruik vir medisyne, die manne wat kan jag vir kos en die vroue wat gaan water skep by die rivier. Hulle bly in matjieshutte wat hulle maak van velle en riete, op die grond waarop hulle voorouers van die vroegste tye af gebly het.
Waarom is dit vir jou belangrik dat hedendaagse kinders iets van hulle komvandaan weet?
A) Die is altyd die mooiste vraag vir my. My pad het begin met myself en om my erfenis te vind. Dit het belangrik geword vir my om hierdie boek te skryf. Ek wou ’n positiewe lig sien in ’n storie van die Namagemeenskap sodat die bruin kind kan verstaan dat hy of sy van ryk geskiedenis en kultuur kom. Ek het ook agtergekom dat daar nie baie Namastories was wat ek van weet nie, en toe begin ek die verandering wat ek wou sien.
............
My pad het begin met myself en om my erfenis te vind. Dit het belangrik geword vir my om hierdie boek te skryf. Ek wou ’n positiewe lig sien in ’n storie van die Namagemeenskap sodat die bruin kind kan verstaan dat hy of sy van ryk geskiedenis en kultuur kom.
.............
V) Moeder Maan vra op bladsy 24 vir Uil ’n guns, want sy wil hê hy moet vir haar ’n boodskap aanstuur op sy jag.
Uil draai sy kop stadig van kant tot kant. “Mevrou, as ekkie nou skarrellie, dan is daarie later nie. So los my af, want ek het werk om te doen.” En hy klap sy vlerke en vlieg weg.
My eerste gedagte as wit Afrikaanssprekende was dat die woorde “so los my af” beteken dat Moeder Maan hom moet aflos, maar toe besef ek dat dit eerder “los my uit” beteken. Verstaan ek reg? Sal bruin en swart Afrikaanssprekende kinders hierdie woordspel verstaan? Is dit reeds deel van hulle taalgebruik? Of hoop jy dat hulle die uitdrukking sal leer gebruik?
A) Ek is so bly jy het dit opgetel, want die boek het ’n paar dele waar die dialoog in my tong gepraat word. Dit is hoe die bruin gemeenskap praat. Baie van ons kinders hoor nie hul tong in sekere Afrikaanse boeke nie, want Standaardafrikaans het nie ons taal geskryf soos ons daagliks praat nie. So my verantwoordelikheid was om daai balans te vind sodat hulle hulself kan hoor.
V) Die heel laaste storie in die boek is getiteld “Die ou slang” en handel oor ’n jong man wat aanbied om ’n siek ou slang te help. Die slang reageer: “Jirre, my kind, dit sal nou ’n seëning wees. Kan jy my na die berg toe vat?” Daar is lesers wat die gebruik van die woord “Jirre” as laster sal sien. Kan jy dalk verduidelik waarom jy dié gelaaide woord in ’n kinderstorie gebruik?
A) Dis vir my altyd so mooi om van die goed te praat. Ek sal sê dat hierdie woord ’n ekspressiewe woord is wat deel van ons taal is. Die karakter wat jy hoor praat, is ook ’n voorstelling van hoe ons grootmense praat. Ek het my bes probeer om soveel moontlik van die manier waarop ons praat te gebruik sodat ek die balans van alle karakters kon vind.
V) In “Die reënblom” is die maan manlik. “Maar hulle bedank die maan vir sy antwoord en dans tot die volgende oggend om die vuur om hom te eer” (6). In “Luister na die maan” is die maan vroulik en word aangespreek as “Moeder Maan”. Kan jy dalk hieroor kommentaar lewer?
A) Terwyl ek die stories geskryf het, was elkeen ’n reis van my eie. “Die reënblom” was my jul eerste storie, en in dié tyd het ek nie die maan in enige vorm gesien nie. Ek het gefokus op net die storie. Maar toe ek by “Luister na die maan” kom, het ek ’n stem van ’n vrou gehoor, en so het ek laat die gees my lei. Elke storie was en is ’n lewe van sy eie. Ek wil graag hê die lesers moet elke storie sien in ’n nuwe lig van sy eie.
V) Die openingsin van “Skilpad en volstruis” is vir my so mooi: “In die Karoo op ’n warme dag kan jy die klank van die hitte in die vlakte hoor speel.” Jou stories is vol lewendige natuurbeskrywings. Die maan, ’n ster en die reën kan selfs praat. Watter belangrike rol speel die natuur in die Namakultuur?
A) Is ’n groot part van die kultuur.
............
Natuur het altyd gesorg vir die inheemse mense, en ek voel ons het dit vergeet. Ek wil regtig hê ons moet weer met die natuur verbind word. Dis die dele van onsself wat ons die meeste mis.
................
Natuur het altyd gesorg vir die inheemse mense, en ek voel ons het dit vergeet. Ek wil regtig hê ons moet weer met die natuur verbind word. Dis die dele van onsself wat ons die meeste mis. Die stadslewe laat ons werk en vergeet van hierdie verbindings. Ek hoop dat wanneer volwassenes of kinders die boek lees, om hierdie konneksie weer wakker te maak.
V) Wat sal jy hoop dat ’n wit Afrikaanssprekende kind uit die stories moet put?
A) Ek wil graag hê hulle moet verstaan dat die bruin inheemse gemeenskap ’n spesiale part is van Suid-Afrika. Dat ons kultuur en die manier hoe ons praat, uniek is. Hulle moet leer van die boek se taal met die Khoekhoegowab-klapklanke wat ek bygevoeg het en die kultuur en natuur vier in ’n positiewe lig.
Ekstra inligting:
Agter in die boek is ’n kort woordelys en ’n verduideliking van die vier klapklanke in Khoekhoegowab, naamlik die dentale klapklank (sagte geluid soos tande skoonmaak), die laterale klapklank (kwaadklank), die palatale klapklank (uitroep, gevaarteken) en die alveolêre klapklank (stokkielekkerklank).
Kyk gerus hier na die wonderlike drie-episode-onderhoud wat Jantjies met Ouma Katrina, ’n Namasprekende, en haar suster Antie Anna gevoer het.
Lees ook:
Afrikaans, African languages and indigenous knowledge systems - the connection
Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika2001
Die Afri-Kwé-taalprojek beklemtoon historiese en toekomstige verbintenisse
Die Afri-Kwé-taalprojek beklemtoon historiese en toekomstige verbintenisse
Internasionale Moedertaaldag: Khoekhoegowab-tale en Khoi-Afrikaans
Bradley van Sitters se staatsrede-lofsang: Khoekhoegowab-, Nama- of "KhoiSan"-seënbede?
Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis
"Ek het my voorouers se stories part van my lewe gemaak" – ’n onderhoud met Deidre Jantjies