Deidre Jantjies het ’n lang geskiedenis van toneelspel; sy het hierdie vaardighede gebruik om haar eie verhale te skryf wat sy in kortfilms omskep het.
Met haar vervaardigingsmaatskappy, Na Aap Productions, wil sy die onbekende geskiedkundige verhale van Suider-Afrika vertel.
Ter viering van Erfenisdag (24 September) het Cliffordene Norton met haar gesels.
Jy het jou produksiemaatskappy, Na Aap Productions, in Januarie 2019 begin en dis amptelik nege maande oud. Baie geluk. Waarom het jy die maatskappy begin?
Ek het Na Aap Productions in 2015 geregistreer en ek het nie geweet wat ek wou doen met die produksiehuis nie. Dit het my nogals baie lank gevat om myself te vind met wat my doel sal wees en watter stories ek wil verander in die vorm van films.
Soos tyd aangegaan het, vind ek toe die stem van wat ek regtig wil sê. Die stories van my voorouers en hoe divers ons DNA is. Ek maak toe die besluit om net te fokus op historiese en moderne bruin inheemse stories en dit te verander in die vorm van speelfilms.
Neem ons deur die proses om ’n film te skep.
Jy kry ’n storie wat jy as produsent regtig van hou, ’n skrywer om die draaiboek te skryf en dan kry jy die geld om die fliek te laat maak.
Die direkteur kom in die proses wanneer die draaiboek klaar geskryf is, wanneer die direkteur die visuele behandeling doen, beplan die produsent dan die giet vir die hoofrolle.
.............
“Dit is belangrik vir die jongmense om die stories te hoor van hulle voormoeders en -vaders, sodat hulle trots op hulle erfenis kan wees.”
.............
As die direkteur en produsent gelukkig is met die akteurs, dan word al die logistiek wat benodig is uitgesorteer. Jy beplan die produksiefase, om die film te skiet.
In daai tyd moet die produsent ’n uitsaaier kry vir die fliek, as alles mooi loop met die produksiefase en die span is goed gekies, word die footage ná produksie gewysig.
Wanneer die film klaar met daai proses is, sal dit gereed wees om te sit op die televisie vir die gehoor om te sien.
Watter uitdagings is daaraan verbonde?
Die uitdagings is altyd om befondsing te kry vir die ontwikkeling van die film en ook vir die produksiefase.
As jy ook ’n wonderlike konsep het, is dit soms swaar om ’n produsent te kry wat dieselfde visie sien wat jy het, maar geld is altyd die een uitdaging wat die proses agterhou.
Wat is sommige van die hoogtepunte van hierdie proses?
Om met wonderlike kreatiewe mense te werk wat die visie van die storie verstaan. Die span wat jy kies, is die belangrikste part vir my, want dié is die mense wat ’n sukses van die storie gaan maak.
.............
“Ek wou weet van die wonderlike stories wat niemand van praat nie, en dis hoe ek my voorouers se stories part van my lewe gemaak het.”
.............
En dit sal jy vind in die produksiefase van die film, dis die tyd wanneer die draaiboek ‘n werklikheid word.
Wat kan die kykers binne die volgende jaar van Na Aap Productions verwag?
Na Aap Productions is besig met drie projekte wat deur ’n produksiemaatskappy geproduseer word. Die maatskappy is ook besig met ’n animasie-reeks van die inheemse stories van die Khoekhoen en San. Die besonderhede van die projekte is op die oomblik nog nie gereed vir die publiek nie maar teen volgende jaar sal dit aan die publiek verkondig word.
Op jou LinkedIn-profiel skryf jy dat jy passievol is oor historiese verhale met vroue as middelpunt. Waar het hierdie passie begin?
My passie vir vrouestories het begin met dié dat ek nie stories van vroue-warriors gehoor het nie. Ek het toe dit my verantwoordelikheid gemaak om nóg vrouestories te vind in my tyd wat ek op aarde is.
Dis hoe ek Sarah Baartman, Krotoa, Ellie Cloete en so baie meer wat ons nie van hoor nie, gevind het. Dit is belangrik vir die jongmense om die stories te hoor van hulle voormoeders en -vaders, sodat hulle trots op hulle erfenis kan wees.
Jy is baie trots op jou erfenis. Kan jy ons dalk meer daaroor vertel?
Ek is trots om te sê dat ek, Deidre Jantjies, afstam van N/uu, Griekwa, Nama en Korana en oorspronklik van die Klein Karoo, Dysselsdorp.
Ek het myself gevind in die tyd wat ek Sarah Baartman in my beeld gesien het, my liggaam het toe ’n wapen geword, ’n stem wat toe stemme geword het, soos tyd aangegaan het, wou ek meer weet en kon nie die hartseerstories aanvaar nie. Ek wou weet van die wonderlike stories wat niemand van praat nie, en dis hoe ek my voorouers se stories part van my lewe gemaak het.
Hoe inspireer dit jou werk?
Ek is geïnspireer deur die eerste nasie se stories, want ek glo dit is ons verantwoordelikheid om ons voorouers se stories te vertel. Omdat dit nie voorheen gedoen was nie, gee dit vir my die inspirasie en ’n doel in die lewe.
Jy noem ook in jou LinkedIn-profiel dat jy graag 22 Oscar-toekennings wil wen. Wat motiveer jou om dié droom te bereik?
Ek glo dat die universe groot genoeg is om na jou drome te luister, en dat die rykdom van my woorde lewendig word wanneer ek dit spreek. Dit bring my elke dag nader aan dit wat ek spreek oor my lewe, en omdat ek glo in die stories van my nasie, weet ek dat die heelal 22 Oscars vir my sal gee.
- Foto’s van Deidre: Area Code