Sarah Baartman: Hoekom sy, hoekom haar graf?

  • 6

Sarah Baartman (bron: http://www.sublime.ag/)

Hoekom sy?

Dit was die vraag wat menigmaal gevra was toe die storie van Sarah Baartman en wat met haar gebeur het, bekend geraak het. Vandag moet ons weer die vraag vra: Hoekom sy, hoekom haar graf?

Sarah Baartman was ’n skugter, klein meisie toe sy as gevangene haar geboorteplek, die Gamtoos-vallei, moes verlaat. Sy was ’n skamele twintig jaar oud toe sy onder valse voorwendsels deur ene William Dunlop en Hendrik Cezar uit die Kaap na Engeland geneem was.

In die verre het hulle haar halfnaak laat poseer en luidrugtig aangekondig dat dié wat die “Hottentot Venus” wou sien, dit teen ’n prys kon doen. In die koue noorde het haar “eienaar” haar na Parys geneem waar hy haar aan ’n dieretemmer verkoop het. Haar vernedering het geen perke geken nie. Seksueel misbruik en brandarm sterf sy skaars ’n jaar na haar aankoms in Parys aan siektes en ’n ongekende verlange na haar land. Napoleon se wetenskaplikes, George Cuvier en Geoffrey St Hilaire, het hulle kanse aangegryp en haar liggaam gedissekteer. Sy wou nooit naak vir hulle poseer nie! Hulle het ’n afgietsel van haar liggaam gemaak, haar brein en private dele verwyder en dit in versterkwater gesit. Toe lek hulle hulle lippe af en skryf wat hulle al so lankal wou. “Hierdie spesie,” het hulle gesê, “is nie ten volle mens nie.” Alles – haar lippe, haar hare, haar borste, die grootte van haar brein en genitalieë – het glo bewys dat sy, soos Darwin dit gestel het, “the missing link between human and ape” was!

Senator Nicholas About se vertoë in die Franse senaat op 29 Januarie 2002 het gelei tot die daarstelling van ’n wet wat toegelaat het dat Sarah se oorskot na haar geboorteland kon terugkeer. Op 4 Mei 2002, terwyl die vliegtuig die hemelruim van Suid-Afrika binnevlieg, kondig die loods aan: “We welcome Sarah Baartman back in her country of birth after one hundred and ninety-two years.” Die res is geskiedenis.

Gister, 29 April, het ons die dertiende jaar sedert Sarah aan ons teruggegee was, herdenk, ’n storie vol hoop en oorwinning. Maar hoe tragies is hierdie herdenking nou – die gedenksteen by haar graf word met wit verf besmeer, ’n duidelike aksie van disrespek en haat. Hoekom háár graf? Hoekom sy, onse Saartjie wat haar hele lewe lank verneder was; uitgebuit was? Hoekom woede teenoor haar?

Diana Ferrus (foto: Naomi Bruwer)

Wie was aandadig aan hierdie daad? Was dit ’n teenreaksie teen wat met Rhodes en ander standbeelde gebeur het? Indien wel, wys dit dat die skuldiges nie baie tussen die ore het nie, want die multimiljoenêr Rhodes kan glad nie vergelyk word met die brandarm Sarah nie. Sarah het nie meerderwaardig teenoor enigeen opgetree nie; sy het niemand uitgebuit nie; sy was verontmenslik! Dit lyk asof die skending van Sarah se graf ’n poging was om diep in die harte van dié wat haar nagedagtenis eer, te trap.

Maar kom ons gaan terug na 2002, toe daar ’n verwysingsgroep saamgestel was om die Minister van Kultuursake in te lig oor kwessies rondom die rusplek en op watter metode Sarah begrawe moes word. Uiteindelik het die Oos-Kaap (Hankey) geseëvier bo die Wes-Kaap. Dié wat vir Kaapstad gestem het, het gevoel dat hulle die voorreg wou hê om na Sarah “te kyk”.

Sommer vroeg al na Sarah se teraardebestelling word die graf geskend – nie een keer nie, maar meer as een. Tot die mate dat ’n ysterheining om die graf gestel moes word – maar selfs dit het nie gehelp nie. Daar was telkens klagtes oor hoe verwaarloos die graf lyk en die rommel wat daar rondgestrooi lê. Die verwysingsgroep het verskeie aanbevelings aan die regering gemaak om hierdie skendings te vermy. Dit lyk of die verwysingsgroep intussen ontbind is. Die Sarah Baartman Centre of Remembrance wat naby die graf in aanbou is, moet nog voltooi word.

Wie het vir Sarah gefaal – die mense van Hankey of die regering? Dit skyn duidelik dat daar nie genoegsame pogings van die mense van Hankey se kant af is om die graf in ’n goeie toestand te hou nie. Maar dan moet ’n mens weer vra watter bydrae die regering gemaak het om die mense (en hier praat ek van alle bevolkingsgroepe) bewus te maak van die belangrikheid van Sarah Baartman se graf in hulle omgewing?

Daar lê duidelik baie werk vir die regering op beide nasionale en plaaslike vlak voor. Opvoedingswerk kan nie net vir ’n sekere tyd duur nie. Die mense moet gedurigdeur vertel word van wat met Sarah gebeur het en hoekom haar storie ook hulle storie is. Hopelik sal die ekonomiese oplewing in Hankey wat veronderstel was om na Sarah se begrafnis te gebeur, wel nog gebeur. Desnieteenstaande moet daar diep gesprekke steeds plaasvind oor wat Sarah Baartman se terugkeer vir ons beteken en hoe dit tot versoening en genesing kan bydra.

Ek is hier om jou huis toe te neem
waar ek vir jou sal sing
want jy het ook vrede vir my gebring,
want jy het ook vrede vir ons gebring.

(Uit “Ek is hier om jou huis toe te neem”, Ons komvandaan, 2006)

 

 

 

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    George Bekker

    Dis reg as gevra word dat mense oor Sarah Baartman ingelig word. Die probleem is egter ontsaglik groter, soos bewys deur die skending van Ghandi se beeld. In die laaste plek gaan dit oor kennis, insig en verdraagsaamheid van almal teenoor almal.

    Sal die regering nie reeds lank voor hierdie punt vassteek nie? Mugabe, was onlangs, as gas van die regering, skuldig aan die uiterste, onverskoonbaarste rassisme denkbaar. Dis op video vasgelê: net buite die Hector Peterson-monument het 'n joernalis hom gevra watter emosies sy besoek aan Soweto veroorsaak. Hy wou net antwoord toe hy 'n wit joernalis in die swart skare sien. Hy stoot toe die mikrofoon weg en sê: “I don't want to see a white face.”

    Uit die aard van die saak verwag niemand dat die regering 'n bohaai hieroor moet maak nie, maar die noodsaaklike minimum sou wees om in diplomatieke taal minstens te sê: “Ons dink ons agbare buurman het hom by hierdie geleentheid minder goed uitgedruk”. Daar was totale stilte.

    'n Veel kleiner openbare belediging van swart mense sou sterk reaksie van die regering uitgelok het. In 2015 verkies ons om nie meer van swart en wit te hoor nie, maar ongelyke behandeling van mense is onverskoonbaar.

  • Tot my skaamte moet ek erken dat ek al baie van die besonderhede van Sarah Baartman se geskiedenis vergeet het; dankie aan Diana Ferrus wat weer die soeklig daarop gewerp het.

  • Avatar
    Hanloe Muller

    Natuurlik is dit mense wat wou wraak neem oor die Rhodes-standbeeld en die ander, 'n mens kry sulke siek mense.

  • Avatar
    marie bredenkamp

    Ek het my op verskeie plekke uitgedruk oor my afsku van en aan monumente. Ek herroep nog baie goed die TV-uitsending met die teraardebestelling van Saartjie. Al hoe meer dink ek ons moet almal meer fokus op 'waar ons vandaan kom', want ons kruisig onsself in die minagting van geskiedenis. Ek het verskeie kere al oorvertel hóé ontroer ek was oor Diana se eie vertellinge oor waar sy was, en wat haar besiel het om in haar verse oor Saartjie en herkoms te skryf: dit het al van my vriende genoop om ook te gaan oplees oor Saartjie - én oor Diana. Ek bepleit weer wedersydse respek - dis 'n onderdeel van die antwoord op hierdie vrae. Groete, m

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top