Gesprek oor die skrywersresidensie in Paulet Huis, Junie 2022

  • 0

Naomi Meyer praat met Theo Kemp van die Jakes Gerwel Stigting en Catrina Wessels van PEN Afrikaans oor die skrywersresidensie in Paulet Huis wat in Junie 2022 die Oos-Kaap plaasvind.

Hallo Theo en Catrina! Ek het die groot voorreg om op die oomblik deel te wees van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se huidige skrywersresidensie in Paulet Huis in Somerset-Oos. Ons bly baie lekker in die huis en geniet die wonderlikste maaltye. Skryftyd! Skryfspasie! Haas ondenkbaar dat hier so ’n soort omgewing vir skrywers in Suid-Afrika bestaan. Daar het in 2020 op LitNet iets aangaande die huis verskyn. Waar het dit alles begin? Theo, dalk kan jy iets vertel oor die geboorte van (die gerestoureerde) Paulet Huis en die Jakes Gerwel Stigting se betrokkenheid hierby?

Dit bly vir my ongelooflik hoe ’n plek soos Paulet Huis baie meer is as net bakstene, selfs meer is as die lae en lae geskiedenis wat die gebou met hom saamdra. Die dag toe ek Somerset-Oos vir die eerste keer binnery en stilhou voor die huis hier teen die Bosberge, sal ek nooit vergeet nie. Tot my skaamte, want ek kom van die Oos-Kaap, maar was voor daai Oktobermaand van 2017 nog nooit in daai mooi dorp so op die wal van die Karoo nie. Phoebe Gerwel het toe al die huis aan die Stigting geskenk met die doel om ’n verskil te maak aan mense se lewens. Ek is toe ’n skoon besem (aangestel in Augustus 2017) en ek wou so graag vee! My raad stuur my met die opdrag om te gaan uitwerk wat dit gaan kos om die huis te restoureer en in te rig dat dit ’n plek sal wees waar skrywers tot verhaal kan kom. Dit moes iets weergee van die statigheid van die gebou en van Jakes Gerwel, maar ook iets van die eenvoud van die omgewing. Soveel mense het gehelp en soveel ure het ek in daai tuin gesit en droom en werk en beplan. Dit was vir my aanvanklik moeilik om te konseptualiseer wat die Stigting alles kan doen, en om geduldig te wees, want dit het ’n jaar geneem om alles reg te kry. Maar Februariemaand 2019, toe die eerste groep skrywers inkom en die mure nog klam is van die verf, toe is dit asof alles sy plek begin vind. Dit is asof die huis homself sentraal geplaas het in alles wat die Stigting doen en nog wil doen. Nou hoekom die naam Paulet Huis? vra een van die skrywers destyds. En ek wonder en bespreek dit met my trustees. Hoekom sal ons die huis nie eerder na Jakes Gerwel self vernoem nie? Hoekom nou na ’n wit vrou, uit die koloniale tye wat mens van wil vergeet. Nee, is my trustees dit eens. Dit is die naam wat Jakes die huis gegee het en dit is juis binne daardie konteks van ons geskiedenis dat ons iets anders daarmee wil doen.

Ek wil iets vra oor die dorp Somerset-Oos. Mphuthumi Ntabeni, wat hier saam in die huis is, is ’n Oos-Kapenaar en hy ken die omgewing en die omstreke goed. Elodi Troskie se pa is in hierdie dorp gebore. Maar die res van ons is nie Oos-Kapenaars nie. Die dorp self is nie ons fokus nie, maar dis onafwendbaar deel van die verkenningstog van ons reise (of dit nou na binne is, of nie). Die Walter Battis-museum is net langs Paulet Huis en die dorpsbiblioteek is stapafstand. Hier is merkwaardig baie geleenthede wat die dorp bied. Sou dit deel van die visie van die huis wees dat mense oor die omgewing moet skryf, of iets hiervan moet uitdra, en Jakes Gerwel se nalatenskap ook op hierdie manier huldig? En jy is ook gereeld hier, Theo – wat is jou ervaring van die omgewing as jy hier tuisgaan? 

Die vraag oor my ervaring as ek in die omgewing is, laat my dadelik weer terugdink aan daardie eerste besoek. Ek was toe erg gekwel, want ek is toe pas aangestel en onseker oor my vermoëns en wat die Stigting moet wees en hoe ek dit gaan uitbou. Maar daar kom ek toe dadelik agter – en dit is nou nog so – dat Somerset-Oos my vry laat voel. Ek kan vryer asemhaal, vryer dink. Die natuur is so in ’n mens se gesig dat ek daar vir ure soggens gaan stap en smiddae teen skemer. Die strate met sy beeste, teen die berg op. Die mense wat almal geselsies aanknoop. Dankie tog dat ek so ’n dorp het waarna ek gereeld kan ontsnap; waar mense hulself nie so ernstig opneem nie. Die pad van die Dawid Stuurman-lughawe tot in Somerset-Oos – dit is ’n pad wat ek al soveel kere gery het, maar dit is nooit dieselfde nie. So is Somerset-Oos ook – met elke seisoen en elke skrywersgroep gaan daar ander perspektiewe vir my oop. Ek het innig verlief geraak op die landskap van Jakes Gerwel en dit is so ’n voorreg om dit te met skrywers kan deel. Uiteraard is dit vir ons belangrik dat die skrywers hulle ervaringe van die huis, en die landskap, en die mense daar, moet weergee, maar dit is ook nie iets wat afgedwing kan word nie. Gelukkig, meestal, gebeur dit vanself. Dit is ’n omgewing wat ’n mens soveel gee dat jy nie anders kan as om op ’n manier te wil teruggee nie.

Catrina, hoe het PEN Afrikaans by hierdie projek betrokke geraak en wat was julle visie? 

Om ’n skrywersresidensie aan lede te kan bied, is al lank vir ons ’n droom by PEN Afrikaans. Skryftyd en skryfspasie is vir die meeste skrywers yl gesaai, en is dikwels noodgedwonge laer af op die dag se doenlys, ná ander werks- en huishoudelike verpligtinge. So gaan die dae en maande maklik verby sonder dat ’n skryfprojek lekker aan die gang kan kom of voltooi kan word. As ’n vereniging wil PEN Afrikaans met ons projekte Afrikaanse skrywers ondersteun en die Afrikaanse woordkuns bevorder. ’n Skrywersresidensie is ’n konkrete manier om juis dit te doen. Dit spreek ’n werklike en heel verstaanbare behoefte aan.

Teen die tyd dat ons aan die begin van 2019 met Theo begin gesels het, het ons al heelwat moontlikhede ondersoek wat om verskeie redes nog nie kon realiseer nie. Hierdie keer was dit anders. Die tyd was ryp vir samewerking met dié dat Paulet Huis se restourasie voltooi was, wat pragtige fasiliteite daargestel het om juis letterkunde en die kunste te bevorder. Benewens die fasiliteite was dit van die begin af duidelik, verfrissend en welkom dat Theo en die Stigting die rol en belang van skrywers en letterkunde erken en waardeer het. Dit strook natuurlik met prof Gerwel se nalatenskap en met PEN Afrikaans se fokuspunte. Ons was op dieselfde bladsy en die residensieprogram kon toe vorm kry omdat die nodige bestanddele daar was: die behoefte, die oortuiging, die skrywers en die huis. Die residensie is nou in sy vierde jaar. Praat van ’n droom bewaarheid.

’n Vraag vir julle albei: Ons het nou die aand aan tafel gepraat en kon nie juis aan ander soortgelyke skryfspasies in Suid-Afrika dink nie, die LitNet Tuishuise-residensie het wel dieselfde doel. In ’n land soos ons s’n, met al sy baie behoeftes en kwessies om aan te spreek, waarom aandag aan skrywers gee, en skrywerskap koester? Waarom, is die vraag, ag julle organisasies skeppende skryfwerk as sodanig dat julle help meebring het om so ’n skryfruimte daar te stel?

Theo: Ons glo dat skeppende skryfwerk ’n daadwerklike verskil kan maak in ons waarnemings van mekaar. Deur skrywers te onderskraag wat stories na die tafel kan bring wat nog nie vantevore gehoor is nie, of stories van gemeenskappe op te teken wat vantevore stilgemaak is, kan mens brûe na mekaar bou. Ons wil help om groter verteenwoordiging na die literatuur van al ons mense te bring. En uiteindelik: Daar is soveel talent wat wag om ontwikkel te word. Daar is eenvoudig te veel wat nog vertel moet word en potensiaal wat ontsluit moet word.

Catrina: Hoor, hoor. Skeppende skryfwerk bevorder ’n ruimer perspektief, meer empatie en begrip. Dit laat ons toe om binne- en buitewêrelde te beleef waartoe ons andersins nie toegang sou hê nie. Dit help ons om onsself en ander beter te verstaan. Dit dra by tot die openbare diskoers en raak ’n soort rekord of ’n weerspieëling van die tydsgees, maar help ook vorm daaraan gee. Boonop is daardie kreatiewe produkte wat skrywers lewer, byvoorbeeld die manuskrip wat ná jare se werk gepubliseer word, ’n bydrae tot die boekbedryf en tot ons land se ekonomie. Dit het op verskeie maniere baie waarde.

Catrina, PEN Afrikaans was by hierdie projek betrokke, maar so ook PEN South Africa en PEN Nederlands. Wie is julle, die PEN International-organisasie vir digters, essayiste en romansiers?

Ons is drie sentrums van PEN International, die wêreld se grootste skrywersvereniging wat al 100 jaar bestaan om letterkunde te bevorder en uitdrukkingsvryheid te beskerm. Ja, "PEN" het oorspronklik vir "Poets, Essayists, Novelists" gestaan. Deesdae staan dit vir die meer omvattende: "Poets, Playwrights, Editors, Essayists, Novelists", maar PEN International se benadering tot die begrip "skrywer" is meer inklusief as selfs die wyer betekenis. Enigeen wat met woorde werk, is welkom wat PEN International betref. Lede sluit by plaaslike PEN-sentrums aan en word so deel van die internasionale vereniging. PEN-sentrums funksioneer outonoom en kom byeen by die jaarlikse kongres of in subkomitees wat op bepaalde kwessies fokus, soos skrywers wat vervolg word of in aanhouding is, die beskerming en uitbou van taalregte, of kwessies van gender en verteenwoordiging. Dis wonderlik om die belangrike werk te kan aanskou en ’n klein deel van die groot prentjie te kan wees.

Die beplanning vir hierdie PEN-skrywersresidensie by Paulet Huis is dat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans elke twee jaar met twee ander PEN-sentrums saamwerk en hul lede nooi om aansoek te doen.  Die wyer blootstelling, wisselwerking en gesprekvoering is ’n groot aanwins.

Ons, as skrywers van die huis, vind die verskille en ook die raakpunte tussen ons belangstellings en skrywerskap merkwaardig. Theo en Catrina, toe die skrywers vir hierdie betrokke residensie gekies is, was daar enige doelbewuste samestelling van mense wat saamgevoeg is?

Dit is vir ons ontsaglik belangrik om volgens meriete te kies, en elke projek het ander vereistes. Vir die PEN-projek is dit vir my belangrik dat ons jaarliks skrywers kies wat die meeste daarby sal baat om ’n maand lank net te kan skryf. Skrywers wat gewoon nie andersins kan klaar maak nie, of wat net daardie aansporing nodig het. Ons kies dan nie doelbewus skrywers wat ons dink “by mekaar hoort” nie, maar omdat ons weet die skrywers leer soveel by mekaar, is dit belangrik dat daar van heel opkomend tot heel gevestig in die groep moet wees. En dan, elke liewe keer, verbaas ek my oor hoe die groep hul eie dinamika vind en as individue inskakel by mekaar. Die skrywers maak dan self die raakpunte na mekaar en dit is wonderlik om waar te neem.

Theo, jy het al ’n hele paar skrywers deur hierdie residensies gestuur. Wat is jou waarnemings van die projekte wat al hieruit voortgespruit het? Van publikasies, en enige ander uitvloeisels?

Met ons mentorskapsprogram vir opkomende skrywers wat ons saam met NB-Uitgewers doen, het ons vanaf 2019 nege skrywers opgelewer wat óf reeds gepubliseer het óf nog gaan. Dit is nege uit ’n totaal van twaalf skrywers, so die “slaagsyfer” is heel goed! Dan is daar al ’n paar pryswenners deur ons deure, soos Ryan Pedro en Ronelda Kamfer, wat hier aan hulle tekste kom werk het. En natuurlik dramaturge wie se stukke suksesvol opgevoer is. Maar ek dink die netwerk wat hier geskep word van skrywers wat vriende word en mekaar – selfs oor kontinente heen – ondersteun lank nadat hulle by Paulet Huis was, is wat my werklik trots maak. Dit wys dat ons pogings nie geforseerd is nie en dat ons tog kan help om mense nader te kan bring in ’n land waar ek soms voel ons al verder uit mekaar dryf. Wat anders ken ons van mekaar as ons stories? As ons ’n plek kan aanhou voorsien waar storiemakers tot hul bes kan kom, kan ons tog ’n verskil maak deur die magtige gom van stories en boeke.

Lees ook:

Author in residence: Mphuthumi Ntabeni

Inwoonskrywer: Naomi Meyer

Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top