Naomi Meyer is een van ses skrywers wat tans vir ’n maand lank in Paulet Huis te Somerset-Oos skryf. Die residensie word moontlik gemaak deur ’n ruim borg van die Jakes Gerwel Stigting. Naomi is deur PEN Afrikaans vir die verblyf genomineer.
Izak de Vries het met haar gesels.
Naomi, waar kom jy vandaan?
Ek woon in Stellenbosch.
Wanneer in jou lewe het jy besluit: “Ek is ’n skrywer”?
Daar word gesê dat mens eers die storie skryf, en dan skryf die storie jou. Miskien werk dit so met skrywerskap. Dalk neem mens nie eerste ’n doelbewuste besluit nie. Mens begin net skryf, en loop agter die storie(s) aan. Soos in ’n mynskag, met ’n klein koplampie wat kort stukkies van die pad voor mens uit verlig.
Die verblyf word moontlik gemaak danksy ’n ruim borgskap van die Jakes Gerwel Stigting, maar jy het aansoek gedoen vir hierdie residensie via ’n PEN-sentrum. Hoe het jy van PEN en die residensie gehoor?
Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se projekte (onderskeidelik – en in hierdie geval: gesamentlik) is voortdurend op my radar, want ek hou dit met belangstelling dop as ek vir LitNet inligting hieromtrent ontvang. Ek het groot respek gehad vir Jakes Gerwel en sy betrokkenheid by skrywers en by meertaligheid. (Melt Myburgh het ’n ruk gelede ’n artikel oor die skrywersresidensie geskryf.) Dit maak sin dat PEN Afrikaans saam met die Jakes Gerwel Stigting betrokke is by hierdie residensie in Paulet Huis, omdat die twee organisasies (die JG Stigting en PEN Afrikaans) sekere soortgelyke aktivistiese ideale nastreef.
Wat hoop jy om tydens die residensie te bereik?
Ek streef daarna om sover moontlik ’n manuskrip af te handel waarmee ek net nie gedurende die pandemie kon klaarkom nie. Die residensie se ekstra navorsings- en skryftyd is van onskatbare waarde. Wat ’n voorreg om hierdie geleentheid te kon aangryp!
Hoe vind jy die saamwees met ander skrywers?
Omdat ek nog vóór ek hier was ’n versugting na afsondering en stil skryftyd gehad het, het ek nie besef hoe belangrik die interaksie met die ander skrywers sou wees tot ek hier aangekom het nie. Almal gee mekaar ruimte vir elk se onderskeie projekte, so hier word hard gewerk. Maar wanneer ons saamkom, is die gesprekke en samesyn uiters stimulerend, verruimend en aangenaam. ’n Heerlike groep mense, boonop.
Somerset-Oos is ’n klein dorpie. Is die stilte goed vir jou skrywerskap?
Die dorp is in alle opsigte net goed vir my en vir enigeen wat hier kom skryf. Dis stil en afgesonderd, ja. Maar ek het ’n paar naslaanbronne in die dorpsbiblioteek opgespoor, en ek het wildvreemdelinge in die omgewing besoek om my te help met die navorsing van my storie. Dalk was sommige van die mense wat ek in hul werksomgewings gaan pla het, ’n bietjie verbaas oor my vrae. Maar almal het my gehelp. As mens in hierdie dorp inligting vir mens se storie benodig, moet mens net vra en jy sal met vriendelikheid vrygewig ontvang. Baie dankie, Somerset-Oos, en baie dankie Paulet Huis en al jou luukse gasvryheid!
- Foto's: Izak de Vries
Lees ook:
Gesprek oor die skrywersresidensie in Paulet Huis, Junie 2022