Jana Hattingh

Jana Hattingh het drama aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waarna sy haar honneurs en meestersgraad gedoen het met die fokus op teater- en feesbemarking. Sy begin haar loopbaan as bemarker by die Klein Libertas Teater waarna sy as voorportaalbestuurder en hoof van die kaartjiekantoor aangestel word by die Oude Libertas Amfiteater.

Hierna sluit sy by die US Woordfees aan waar sy later die pos beklee van Woordfees-organiseerder en daarna as projekbestuurder. Saam met haar take as Woordfees-projekbestuurder bestuur sy ook die Universiteit Stellenbosch se koor.

Sy is tans betrokke by Arts Capital, ’n nie-winsbejagte organisasie wat homself beywer om na die welstand van kunstenaars te kyk en alternatiewe inkomstebronne vir hulle te genereer. Sy is ook betrokke by Mashuka, ’n kreatiewe bemagtigingsprojek vir vroue in Tanzanië en Kaapstad. By die Ramot Behandelingsentrum vir substansafhanklikheid tree sy op as bemarker.

Deeltydse projekte waaraan sy gewerk het sluit oa die organisering van die 2007 konferensie van die Internasionale Federasie vir Teaternavorsing by die Universiteit Stellenbosch, Winterskole vir die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek, asook ’n konferensie vir hulle, in.

Sy is tans die uitvoerende hoof van die Suidoosterfees.

Suidoosterfees verwelkom nuwe uitvoerende hoof

Marli van Eeden, Jana Hattingh Onderhoude 2019-07-18

"Ek is verlief op die kunste en het ’n feeshart. Kunstenaars is planmakers, hulle weet hoe om met ’n beperkte begroting en infrastruktuur iets uit niks te skep. Hulle sien uitdagings as geleenthede en daarvan is ek graag deel."

Top