Suidoosterfees 2026: ’n onderhoud met Jana Hattingh

  • 0

Jana Hattingh

  • Alle foto’s: Gys Loubser

Jana Hattingh, hoof- uitvoerende beampte van die Suidoosterfees, praat met Naomi Meyer oor vanjaar se opwindende program en fees.

Jana, kort voor lank is dit tyd vir die Suidoosterfees. En ek val sommer met die deur in die huis. Ek sien daar is ’n afdeling op die program met ’n gelyknamige titel. Waaroor handel die programsegment, Kort voor lank?

Kort voor lank is een van ons gewildste programsegmente. Dit is propvol kort, kragtige verhoogproduksies van ongeveer 30 minute in verskillende genres – van drama tot komedie, dans, opera, kabaret en sielvolle musiek. En die kaartjies is spotgoedkoop, vanaf so min as R50.

Op vanjaar se program is daar etlike juwele wat wissel van klassieke werke tot splinternuwe energieke produksies waar jong teatermakers hulle slag wys.

Jakobregop: grafika – verskaf

Hennie Aucamp se skreeusnaakse Jakobregop, wat in 1989 in sy bundel Sjampanje vir ontbyt verskyn het, word vir die eerste keer ooit opgevoer. 40 jaar nadat dit gepubliseer is! En Ingrid Jonker se enigste drama, ’n Seun na my hart, is op die verhoog onder die bekwame regie van Marí Borstlap, ons ster-regisseur wat tans uitstekend met Verwelkingslied presteer.

Van ons beste kunstenaars is op die verhoog in dié uitnemende kortproduksies wat feesgangers tussen langer vertonings kan geniet. Die briljante De Klerk Oelofse is in Eenmanstuk, Veronique Jephtas is in Ouma slaan ’n ses hemel toe, Daniel Anderson is in ’n mini-weergawe van sy trefferstuk oor Charlie Chaplin, The tramp (bite-sized).

Dean Balie regisseer vir Jurgen Mc Ewan en Aviwe Ngabom in Baggage, wat op ’n lughawe afspeel. En Bianca Flanders is te sien in Karamonkie, geregisseer deur die internasionaal bekroonde Jemma Kahn.

Die dansproduksies in die Kort voor lank-program gaan asems wegslaan. Hoogtepunte sluit die Unmute-geselskap se Unmute in. Dié groep gestremde dansers maak wêreldwyd opslae. Die gevierde choreograaf, Sbonakaliso Ndaba, bring ’n kragtige interpretasie van Ravel se Boléro in Sbo Ndaba’s Bolero en die Jacqui Pells-Balletskoolgeselskap gaan liefhebbers van dié dansvorm bekoor in Sands of time. En moenie vergeet van die Waterfront Teaterskool se pragtige Encore – propvol aanskoulike danspassies – nie.

’n Besliste hoogtepunt in die aanbod van kortstukke is die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Proscenium Dramakompetisie se stukke ter viering van Adam Small. Small sou vanjaar 90 geword het en dis ook 10 jaar sedert hy oorlede is. In Adam Small 90 tree jong spelers van Proscenium in gesprek met die ikoon deur sy vroeëre werk. Daar is vier produksies wat in twee dubbelvertonings aangebied word, én dis gratis vir die publiek.

Op musiekfront kombineer die briljante orrelis, Winand Grundling, komedie met klassieke musiek om gehore aan die werk van Victor Borge bekend te stel. A Victor Borge taster is ’n speelse huldeblyk wat die Deens-Amerikaanse komponis op ’n toeganklike en sprankelende manier onder die aandag van feesgangers bring.

Die fenomenale Opera UCT is ook op die program met Opera trios: love triangles, trysts and intrigue. Dié lieflike kortproduksie gaan opera-aanhangers se harte oprui en dit is die perfekte manier om jong feesgangers wat nie opera ken nie, met dié musiekvorm vertroud te maak. Corneil Müller roer ook die klassieke hartsnare met sy uitvoering Verweef.

Luna Paige is op die verhoog met Op reis in 30 minute en André Schwartz bring in Net ’n bietjie liefde hulde aan mentors wat sy musiekloopbaan help vorm het. Jodi Jantjies en Karen Petersen is te sien in Songs van die hart, ’n intieme, energieke musiekvertoning wat uithouvermoë, geloof en ons Kaapse erfenis vier.

En dan is daar die heerlik uitspattige Stadskoor, -Choir, -iKwayara sing diva-pop met die drag-kunstenaar, Manila von Teez. Studente van Northlink Kollege gaan feesgehore beïndruk met The magic of musicals: from good to great.

Daar is ook genoeg komedie op die program om feesgangers breed te laat glimlag. Deon Lotz en Gary Naidoo is in Flip-flop, en Zach Esau en Roland du Preez is in Pick a struggle.

Kort voor lank is ’n ware broeikas van talent en uitnemendheid, en produksies wat in die verlede in dié programafdeling opgeneem is, het al wyd en ver in die land getoer.

Jy is al ’n paar jaar lank aan die hoof van die Suidoosterfees. Wat is elke jaar vir jou ’n hoogtepunt, of meer as een hoogtepunt, van die fees?

Daar is absoluut geen groter bevrediging as om te sien hoe feesgangers hulleself geniet nie. Ons gehore is uniek en jy kry hulle eenvoudig nêrens anders nie. Om jong kunstenaars te sien terwyl hulle hul eerste professionele treë by die Suidoosterfees gee, vul my met inspirasie, want ’n jaar of twee later sien jy hulle op TV, of kom hulle terug fees toe as volwaardige, professionele kunstenaars.

........
Die atmosfeer by Suidoosterfees is besonders danksy ons mense, en daardie vibe kry jy net nêrens anders nie. En boonop vind die fees plaas in die hart van die mooiste stad in die wêreld!
..........

Die atmosfeer by Suidoosterfees is besonders danksy ons mense, en daardie vibe kry jy net nêrens anders nie. En boonop vind die fees plaas in die hart van die mooiste stad in die wêreld!

Wat wil jy graag vanjaar op die program uitsonder? Waarvan moet mense wat die fees gereeld bywoon, notisie neem? En diegene wat nog nooit daar was nie? Wat wil jy vir hulle oor die fees vertel?

Ons vlagskipproduksies wat ons inisieer en op die teaterkringloop bring, maak die afgelope klompie jare groot indruk. Verwelkingslied, Breyten Breytenbach se swanesang, is terug by die fees vir ’n laaste speelvak nadat dit verlede jaar by ons gedebuteer het. Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar skitter in dié veelbekroonde stuk.

Verwelkingslied: grafika – verskaf

En dan is ons baie opgewonde oor Eugene, Saartjie Botha se verhoogverwerking van Kirby van der Merwe se trefferroman. Carlo Daniels is in die naamrol en teatergangers sal ook vir Kirby in die agtergrond op die verhoog sien – maar hulle moet kom kyk hoe hy inpas.

No place like home met Loukmaan Adams, Jody Abrahams, Christo Davids, Fancy Galada, Churchil Naudé, Mekaila Mathys en The Galacticos staan vir my as ’n hoogtepunt uit op ons musiekprogram. Dié skouspelagtige produksie skakel met ons feestema, “Tuiste”, en dit vervat al die kleure en ritmes wat Kaapstad so uniek en uitsonderlik maak.

En dan het ons ’n splinternuwe Leefstyl-afdeling, moontlik gemaak deur die ruimhartige ondersteuning van Biggi Popcorn, VIA, POP24, Sauvignon Blanc SA, Heritage Travel Magazine en Iziko Museums SA.

Dié afdeling spog met kookdemonstrasies, heerlike kuiers, kos en drankies in verskeie nuwe feesvenues in die Media24-gebou. Dit bied onvergeetlike feeservarings aan besoekers wat hou van smul, proe, gesels en lekker lag. Daar is onder meer high teas met Nataniël, Sandra Prinsloo, tannie Evita en so meer. En om nie te praat van die wynproeë nie!

’n Produksie in ons NATi Teaterfeesprogram wat my na aan die hart lê, is Improv: skaamfamilie, waarin van ons beste akteurs – Albert Pretorius, Albert Maritz, Bianca Flanders, Carel Nel, Cindy Swanepoel, Cintaine Schutte, Gershwin Mias en Melt Sieberhagen – improvisasieteater uit die boonste rakke lewer. Gehore gaan scenario’s aan die akteurs voorstel en hulle gaan dan op die daad demonstreer waarom hulle so hoog geag word in ons bedryf.

Dis moeilike ekonomiese tye. Wat kos die kaartjies en is daar ook gratis aanbiedinge?

Die Suidoosterfees het die goedkoopste feeskaartjies van enige kunstefees in die land, want dit is in ons missie ingeskryf om teater so bekostigbaar moontlik vir die publiek te maak. En daar is ongelooflik baie gratis aanbiedinge – die Jakes Gerwel-gesprekke, opskietvertonings op die feesterrein, kunsuitstallings en natuurlik gratis vermaak in die Netwerk24-feeskafee heeldag en aldag in die tent voor Artscape.

Ons kaartjies is bekostigbaar, danksy die ondersteuning van ons borge en vennote, en hier wil ek graag die fees se hoofborge uitsonder: die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, dotsure.co.za en Kunstekaap. As dit nie vir hierdie instansies was nie, sou toegang tot produksies feitlik onbekostigbaar wees.

Wat kan jy op die program uitsonder vir tieners, vir jong werkendes, vir soekers wat nooit kunstefeeste bywoon nie en vir fynproewers wat baie gereeld by feeste is?

Vir tieners is daar fantastiese aanbiedinge in ons ATKV Kinder- en Jeugteaterprogram. Produksies van skole, kolleges en universiteite wat reeds elders presteer het, gaan jong teatergangers inspireer en wys wat alles moontlik is in die bedryf. Daar is letterlik iets van alles vir alle ouderdomsgroepe – volwassenes ingesluit.

Slapende skoonheid en die bose fee: grafika – verskaf

Vir jong werkendes sou ek aanbeveel om iets uit die program te kies waarby hulle aanklank vind, veral op die musiekprogram. Die Oorkant die pad-jazzkonserte wat in Kaapstad se Burgersentrum aangebied word, is iets besonders. Maar die geheim is om jouself uit te daag en ten minste een vertoning in ’n genre wat jy nog nie voorheen verken het nie, te gaan kyk. ’n Dans- of komedievertoning kan byvoorbeeld iets wees wat jou lewe en jou siening van die kunste ingrypend kan verander.

Vir mense wat vir die eerste keer by ’n kunstefees is: Loop rond, verken die feesterrein, besoek al die lekker kuierplekke, verkyk jou aan bekendes en beroemdes, gryp ’n programboekie en gaan kyk iets wat jou sal inspireer.

Fynproewers weet presies wat hulle wil sien wanneer hulle die program oopslaan. En daar is beslis iets vir hulle in elke programafdeling. Jy kan maar net na die titels en die kunstenaars se name kyk om te weet jy is in uitstekende geselskap waar gehalte uit die boonste rakke gewaarborg is.

Ons feesprogram is op die Suidoosterfees-webwerf. Gaan beloer dit en laai die PDF-weergawe af en bespreek by Webtickets. Kyk mooi watter aanbiedings gratis is, maar waarvoor jy ook vooraf moet bespreek.

Lees ook:

Persverklaring: Dis amptelik! Die Suidoosterfees 2026-progam is nou beskikbaar

Suidoosterfees 2026: Die poskantoor – ’n onderhoud

Suidoosterfees: Eerste vir alles, ’n onderhoud

Suidoosterfees 2026: Klink ’n glasie met wynmeesters op Sauvignon Blanc-dag

Suidoosterfees 2026: Onderhoud oor die Jakes Gerwel-gespreksreeks

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top