Suidoosterfees 2026: Die poskantoor – ’n onderhoud

  • 0

Mikayla-Joy Brown in Die poskantoor (Foto deur Gys Loubser), agtergrondfoto verskaf

Yolanda du Toit praat met Jeanne-Marié Koekemoer oor die Suidoosterfees-produksie, Die poskantoor. 

Jeanne-Marié, hoe het jy betrokke geraak by die produksie?

Dit het nogal heel onverwags en skielik gebeur! Ek was einde verlede jaar een middag by die huis toe ek ’n oproep van Rafiek [Mammon] ontvang. Hy het my gevra of ek by een van die NATi Jong Sterre-projekte as regisseur wou aansluit. Ek het onmiddellik ja gesê – selfs voordat ek geweet het wie almal betrokke sou wees. Toe ek hoor wie almal deel is, was ek nóg meer opgewonde. Ek was nog op ’n trein in Nederland oor Desembervakansie, toe ek die eerste keer Kim se teks gelees het en ’n paar gedagtes begin neerskribbel het.

Hoe moeilik is dit, veral as vrou met so ’n sensitiewe onderwerp, om so ’n produksie te hanteer?

Dit is beslis ’n groot en uitdagende verantwoordelikheid, soos maar met enige storie. Dit help my egter altyd om dit eers vanuit ’n persoonlike perspektief te benader, met soveel moontlik empatie en eerlikheid. As gehoorlid vind ek aanklank by produksies wat die fyn nuanse in die wisselwerking tussen die persoonlike en die politieke verstaan en verken – iets wat ek in hierdie werk probeer koester. As ’n geselskap het ons reeds ryk en deeglike gesprekke gevoer oor die stories en ervarings wat ons as vroue beleef, en ons vleg dit deur die hele produksie. In al die verskillende en komplekse fasette van vrouwees en susterskap.

........
Dit is beslis ’n groot en uitdagende verantwoordelikheid, soos maar met enige storie. Dit help my egter altyd om dit eers vanuit ’n persoonlike perspektief te benader, met soveel moontlik empatie en eerlikheid. As gehoorlid vind ek aanklank by produksies wat die fyn nuanse in die wisselwerking tussen die persoonlike en die politieke verstaan en verken – iets wat ek in hierdie werk probeer koester. As ’n geselskap het ons reeds ryk en deeglike gesprekke gevoer oor die stories en ervarings wat ons as vroue beleef, en ons vleg dit deur die hele produksie. In al die verskillende en komplekse fasette van vrouwees en susterskap.
..........

Hoe nou het jy saam met Kim gewerk om haar teks lewe te gee? Waar begin jy as regisseur om saam met die skrywer die pad van die produksie uit te lê?

Ek het verskeie gesprekke met haar gehad oor hoe sy haar teks voorstel en verbeel, en ons idees het eintlik in baie opsigte ooreengestem. Ek gesels steeds kort-kort met haar en sy gee vir my terugvoer oor sekere besluite wat ons reeds geneem het. Terselfdertyd het sy vir ons baie vryheid gegee om met die materiaal te speel. As skrywer verstaan ek hoe moeilik dit maar kan wees om jou “baba” aan iemand anders toe te vertrou, maar ek glo sterk in die ongelooflike en magiese krag van samewerking tussen verskillende stemme. Dis juis daar waar die mees interessante skeppings en besluite gebore word. Ek hoop opreg ek gee haar storie die lewe wat dit verdien.

Dink jy die begeleiding van Mikayla-Joy, Sonja en Julia sal reg laat geskied aan die produksie op die wyse wat Kim met haar teks in gedagte het?

Van jou beste gereedskap as regisseur lê in jou akteurs. Veral wanneer hulle verbeeldings en vermoëns so briljant is. Al drie hierdie akteurs se talent gaan my verstand te bowe. Hulle inspireer my en gee lewe aan die teks en storie op ’n manier wat ek nie alleen as regisseur sou kon bewerkstellig nie. Ons vier werk ongelooflik lekker saam en elkeen bring ’n unieke energie en insig na die proses. Dit is werklik vir my ’n reusevoorreg om saam met hulle te werk, en ek glo hul betrokkenheid neem die projek se gehalte na ’n heel nuwe vlak.

Die poskantoor handel nie net oor geweld teen vroue nie, maar ook oor verset, vrouwees en die stryd om oorlewing in Suid-Afrika. Dit is elkeen ’n baie swaar tema op sy eie. Ander temas wat aangespreek word, is lojaliteit, liefde, geregtigheid en wraak. Hoe hard dink jy spreek eie ervaring in van hierdie temas?

Soos ek vroeër genoem het, benader ons hierdie temas eerstens vanuit ’n persoonlike perspektief; daarom speel eie ervaring beslis ’n groot rol. As mense is ons stories ons kompas en dit vorm die hoeksteen van die teater wat ons maak en waarna ons kyk en luister. Dit verg empatie en teenwoordigheid – twee waardes wat dikwels hopeloos te verskuil lê onder die geraas van vandag.

Hoe het jy die vervaardiging benader dat dit sal spreek tot die gehoor?

Ek dink omdat die inhoud so sensitief en polities gelaai is, is dit vir my belangrik om te fokus op oomblikke van lig en konneksie eerder as om trauma en isolasie die hooffokus te maak. Ek is ook baie opgewonde oor hoe ons die visuele ontwerp van die werk benader – iets wat die gehoor sal begelei en prikkel. Ek glo dit is juis deur die ligter oomblikke dat ’n mens die gehoor versigtig innooi om later saam met jou te kom sit by die swaarder inhoud.

In ’n wêreld met baie drama, waarom dink jy sal feesgangers aanklank by die produksie vind?

Ek dink die werk verken wat ware geregtigheid beteken en hoe dit kan of moet lyk. Geregtigheid is iets waarmee ons samelewing deesdae baie behep is en mee worstel, veral binne woke- en cancel-kultuur. Ons soek dikwels iemand om te blameer eerder as om met die probleem te sit, dit te probeer ontknoop en iets daaromtrent te doen. Hierdie werk wys dat dinge nie bloot swart en wit is nie, en dat ons hierdie kwessies met groter empatie en deernis moet benader.

........
Van jou beste gereedskap as regisseur lê in jou akteurs. Veral wanneer hulle verbeeldings en vermoëns so briljant is. Al drie hierdie akteurs se talent gaan my verstand te bowe.
.........

Wat hoop jy neem die gehoor met hul saam?

Ek hoop die gehoor ervaar weer ’n gevoel van gebondenheid aan gemeenskap en herontdek hul vermoë om werklik te luister. Ek hoop ook die produksie skep ’n oomblik van stilwees, ’n ruimte vir refleksie, wat anders as die oorweldigende stroom van stemme en beelde op ons fone, die geleentheid bied om werklik stil te staan. Hopelik kan dit lig werp op van ons land se mees dringende kwessies. Daar ís ruimte vir vergifnis en daar is baie plek vir hoop.

Suidoosterfees: Die poskantoor

Teks: Kim Blanché Adonis

Met: Mikayla-Joy Brown, Sonja Louw en Julia Marone

Regisseur: Jeanne-Marié Koekemoer

Koop kaartjies by Webtickets.

Lees ook:

Suidoosterfees se NATi Jong Sterre op pad na "volwaardige kunstenaarskap"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top