Die Suidoosterfees, wat vanjaar van 29 April tot 3 Mei in Kaapstad plaasvind, se tema is Tuiste en sluit aan by Kaapstad wat reeds meer as twee dekades lank die tuiste van die fees is. Met die fees se tradisionele fokus op die ontwikkeling van jong talent, is die NATi Jong Sterre-program jaarliks ’n hoogtepunt waar nuwe loopbane in die teaterwêreld rigting vind.

Saam met NATi, die Jakes Gerwel Stigting en Kunstekaap gee die fees spreekwoordelik ’n huis met baie wonings aan aspirantskrywers waar hulle ’n veilige hawe en vastrapplek in die bedryf kry. Een van dié wonings is die Stigting se Paulet-skrywershuis waar die nuwe stemme hul eerste volwaardige verhoogwerk oor ’n tydperk van drie weke saam met mentors slyp.
Skrywers en akteurs wat deur die jare by dié projek gebaat het, het intussen bekende gesigte op TV en verhoë regdeur die land geword. Carlo Daniels, wat vanjaar die naamrol speel in Eugene, Suidoosterfees se vlagskipdrama, het byvoorbeeld sy vroegste professionele treë as Jong Ster gegee.
Die fees brei in 2026 verder uit as Kunstekaap, die tradisionele middelpunt van feesaktiwiteite, met verskeie nuwe venues wat benut word. Jong Sterre-produksies word vanjaar in die Waterfront Teaterskool se Galloway-teater opgevoer.
Die gevierde aktrise Jana Cilliers was een van die mentors wat verlede jaar tyd saam met die Jong Sterre deurgebring het. Sy sê: “Ek het die voorreg gehad om ’n week saam met hierdie jongmense in Paulet Huis in KwaNojoli deur te bring, onder die toesig van Oscar Petersen.
“Wat besonder opgeval het, was hulle sterk betrokkenheid by hul onderskeie generasies en familieverhoudings – bande wat telkens op unieke maniere manifesteer as ’n diep hunkering na die vestiging van ’n volwaardige persoonlike identiteit.
“Dit is die soeke na iets wat eie is aan jouself, maar tog ook nie heeltemal jý is nie. ’n Soort ontmanteling van generasies.”
Volgens Cilliers het temas soos emosionele manipulasie, die gewig van woorde, uitdagende magiese spel, konflik en ’n sterk genre-bewustheid deurgaans na vore gekom – alles aanduidings van ’n wegbeweeg van bloot vertelling na volwaardige kunstenaarskap.
Die Jong Sterre op die 2026-program is Kim Blanché Adonis, Kyle Matthew Truter, Matthew Smith, Ntsikayomzi Benya, Chloè van Rooyen en Willem Esterhuyse.

Mikayla-Joy Brown in Die poskantoor (Foto: Gys Loubser)
Die poskantoor deur Kim Blanché Adonis speel af teen die agtergrond van ’n skokkende misdaad wanneer ’n student by ’n poskantoor in Kaapstad verkrag en vermoor word. Drie studentevriende weier om stil te bly en neem dit op hulself om ander vroue te beskerm, selfs al beteken dit dat hulle hul eie grense moet oorsteek.
Hierdie aangrypende stuk onder regie van Jeanne-Marié Koekemoer ondersoek verset, vrouwees en oorlewing in Suid-Afrika. Die karakters Andrea, Naeema en Ryan word deur Mikayla-Joy Brown, Sonja Louw en Julia Marone vertolk.

Nathaly Lottering en Eldon van der Merwe in Lizzie en Franna
In Lizzie en Franna deur Kyle Matthew Truter word ’n intieme blik gewerp op ’n paartjie wat ná die dood van hul enigste kind sukkel om mekaar weer te vind. Franna se stryd met alkohol kos hom sy werk, terwyl Lizzie alleen moet veg om te oorleef. Nathaly Lottering en Eldon van der Merwe speel onder regie van Mikyall Harris.

Adri-Jo Waterboer in Ons is nog hier (Foto: Gys Loubser)
Matthew Smith se Ons is nog hier plaas drie jong vroue – Shanice, Simone en Layla – in ’n geheimsinnige vertrek waar speletjies vinnig ’n donker toon aanneem. ’n Skokkende onthulling bring skuld, wantroue en woede na vore. Vasgevang tussen hoop en wanhoop word hul soeke na uitkoms ’n reis van herinnering en oorlewing. Die produksie word geregisseer deur Tamia Thompson en Franka Kirby, Adri-Jo Waterboer en Cara Rossouw is op die verhoog.

Nicholate Mangqoza in The Cracked House (Foto: Gys Loubser)
In The Cracked House deur Ntsikayomzi Benya kom drie sibbe ná 31 jaar weer bymekaar vir hul ma se begrafnis – ’n gebeurtenis wat meer as rou ontketen. Wat ’n afskeid moes wees, word ’n dag van rekenskap en brose hoop op heling. Hierdie skerp besinning oor Suid-Afrika se onstabiele politieke landskap word onder regie van Sibuyiselo Dywili opgevoer met Mbulelo Grootboom, Thando Jikwa en Nicholate Mangqozan in die rolverdeling.

Ivan Abrahams in Uitgedraai (Foto: Gys Loubser)
Uitgedraai deur Chloè van Rooyen is ’n donker-komiese drama oor twee susters wat net mekaar in die lewe oor het, asook ’n half-betaalde huis wat in die balju se oog is. Hulle maak ’n waaghalsige plan wat vinnig handuit ruk. Wat as plan B begin, eindig in ’n ontvoering waar die ontvoerders self gyselaars word. Tiffani Dlamini is die regisseur en die spelers is Chloè van Rooyen, Kerscha Titus, Curtley Pitt en Ivan Abrahams.

Willem Esterhuyse in Vark in die verhaal (Foto: Gys Loubser)
Willem Esterhuyse se solo-werk Vark in die verhaal is ’n eerlike, rou vertelling van ’n persoon wat groter van lyf is en terugkyk op hul kinder-, tiener- en jongvolwasse jare. Humor en pyn loop hand aan hand tussen familie, skoolvriende en ’n aanlyn liefde, terwyl die spieël daagliks ’n gemener vyand word. Ntombi Makhutshi behartig die regie en die skrywer is op die verhoog.
Volledige besonderhede is in die feesprogram, wat nou op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word. NATi Jong Sterre word moontlik gemaak deur NATi, die Jakes Gerwel Stigting en Artscape.

Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

