Suidoosterfees 2026: Onderhoud oor die Jakes Gerwel-gespreksreeks

  • 0

Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, praat met Naomi Meyer oor die Jakes Gerwel-gespreksreeks by vanjaar se Suidoosterfees.

Theo, ek wil jou heel eerste vra waarom ’n gespreksreeks by die Suidoosterfees as die Jakes Gerwel-gespreksreeks bekend sou staan. Vertel asseblief vir ons lesers waarom hierdie man gesprekke kon moontlik maak en skrywers vir hom belangrik was.

Ons stigting is ’n trotse vennoot van die Suidoosterfees, vanweë Jakes Gerwel se rol om hierdie fees jare gelede in die lewe te roep. Daarom is dit vir ons belangrik om sy naam aan die gesprekke te koppel. Maar meer nog: Sy naam word verbind met ope diskoers juis omdat hy in die oorgangspolitiek betrokke was. Hy kon en moes moeilike gesprekke fasiliteer, gesprekke wat noodsaaklik was vir verandering en om wedersydse respek te kweek. Hierdie soort gesprekvoering bly noodsaaklik, indien dit nie trouens belangriker word in ’n wêreld waar leiers al meer glo in hul eie waarhede nie. En dit is wat ons stigting ook wil regkry: Om ’n omgewing en platform te skep waar diskoers moontlik gemaak word. Ons wil ’n ruimte bied waar almal se menings geld en waar mense openhartig hul stem kan laat hoor. Ons het soveel wonderlike denkers in hierdie land, en om hulle en hul boeke jaarliks by die fees byeen te bring, en om nuwe perspektiewe so vir ons gaste te bied, is absoluut wonderlik. Gerwel het uitgeblink in so baie dinge, maar sy eerste liefde was die letterkunde. Daarom koester ons skrywers en glo ons in die waarde wat hul boeke het. Die Suidoosterfees skep vir ons die ideale geleentheid om te spog met wat skrywers wat by Paulet Huis geskryf het, lewer. Maar ook om skrywers oor die algemeen te bevorder en gehore oor en oor bewus te maak van die krag en die bekoring van woorde. Dit doen ons met soveel passie saam met ons vennote: die ATKV, Netwerk24 en dan Exclusive Books wat die boeke daar verkoop.

Daar is uiteenlopende en interessante gesprekke op die Jakes Gerwel-gespreksreeks se program. Kan jy dalk drie gesprekke uitsonder waarna jy vanjaar uitsien?

Baie dankie Naomi! Sjoe, dis nou ’n moeilike vraag, want die gesprekke is so uiteenlopend en elkeen beteken op ’n ander vlak vir my iets. Ek is natuurlik so trots op die skrywers wat deur ons opleidingsprogramme is en dan debuteer by die fees! Hier dink ek aan Allen Grootboom met sy debuutroman, Die vuur huil, waarna ek erg uitsien. Hy gesels met Suzette Myburgh, een van ons mentors, oor die storie agter die boek. Ek sien ook baie uit na “Hardop” – waar digters en musikante die verhoog deel. Ek onthou jare gelede toe ek by die Woordfees gewerk het, hoe mense soos Kabous Meiring en Toast Coetzer sulke wonderlike happenings gereël het. So twee jaar terug dag ek: Kom ons stof dit af en bied dit weer aan. Ons bied toe verlede jaar saam met Klyntji die eerste “Hardop” aan, en dit was werklikwaar so gewild dat ons dit graag vanjaar aanbied. Die gesprek oor die Bo-Karoo se /xam-mense en die lewende geskiedenis van ons eerste nasie weet ek gaan fassinerend wees. Ons bring hier mense soos Elias P Nel, Katriena Swarts en Marlene van Wyk byeen – mense wat van daardie kontrei kom en die stories met hulle saam dra – saam met die navorser Jose Manuel de Prada-Samper wat hieroor skryf in sy boek Fading footprints.

Ek sien “Op die spoor van die spoorloses” raak. Gaan hierdie item soos gewoonlik voort?

Nicole Engelbrecht was verlede jaar ook op die program, maar toe bring sy hierdie nuwe boek van haar uit, en ons kan nie anders as om haar weer te verwelkom nie. Mense, ek inkluis, hang aan haar lippe. So ook maak Julian Jansen weer ’n draai by die fees. Verlede jaar was hy die gespreksleier met die bekendstelling van Nathan Trantraal se grafiese roman oor die Stasiesmoordenaar, en hier is hy nou terug met sy eie boek oor hierdie grusame moorde. Gooi hierby Michael Behr wat praat oor sy boek, Confessor Cop, wat handel oor die deurwinterde speurder, Jonathan Morris, se jare lange snuffelspore wat hom telkens na die moordenaars lei, en jy kan regmaak vir ’n ware-misdaad-gesprek soos min!

Ek het net mooi nou die aand na Lizette Rabe op die radio geluister en sien ook daar is ’n gesprek oor die toekoms van radio op die program. Wil jy dalk iets oor hierdie twee gesprekke sê?

Lizette Rabe se boek is een van daardie leeservarings wat jou weer trots laat voel om Suid-Afrikaans te wees. Ons het soveel onverskrokke en vindingryke mense. Ons plaas vanjaar die kollig op vroue in verskeie gesprekke. Angela Briggs, ook een van ons mentors, gesels met twee van ons vorige Paulet Huis-skrywers, naamlik Lebo Mazibuko en Nadia Cassim, oor hul skryfwerk. Qaanitah Hunter, joernalis en skrywer, sal ook aan hierdie gesprek deelneem, met die veelseggende titel: Witty Women Writers' Resilience.

Die Vriende van Afrikaans is ’n getroue vennoot van ons stigting en die fees. Hulle fokus op Afrikaans is vir ons belangrik, omdat Jakes Gerwel ’n uitgesproke kampvegter was vir die bevordering van die taal. Vanjaar is die onderwerp die toekoms van Afrikaanse radio. Ek is nogals nuuskierig oor wat die paneel – bestaande uit befaamde radiojoernaliste – hieroor voel. Van buite lyk dit of Afrikaanse radio floreer, maar dalk is dit anders van binne!

Wat is die praktiese reëlings ten opsigte van hierdie gesprekke? Wat kos dit? Wanneer vind dit plaas, en waar?

Die gesprekke is almal gratis, en jy kry boonop nog ’n koffie gratis ook! Maar die gesprekke raak regtig by die jaar gewilder, en daarom raai ek feesgangers aan om op Webtickets jou sitplek te bespreek. Die boeke en skrywersgesprekke is alles by een plek, die ATKV-Boeke-oase (wat buite feestyd die Innovation Lounge genoem word). Bring ’n oop gemoed en geld of ’n kaart om die skrywers te ondersteun en hul boeke te koop!

Lees ook:

2026 Jakes Gerwel-gesprekke | Jakes Gerwel Discussions – Suidoosterfees

Jakes Gerwel-gesprekke die intellektuele hart van Suidoosterfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top