Jakes Gerwel-gesprekke die intellektuele hart van Suidoosterfees

  • 0

Die Suidoosterfees vind vanjaar van 29 April tot 3 Mei in Kaapstad plaas. Met Tuiste as die feestema, bied die Jakes Gerwel-gesprekke weer ’n tuiskomplek aan ons voorste skrywers, denkers, joernaliste en uitgewers.

Die ATKV-Boeke-oase is die warm, gesellige hart in Kunstekaap waarin die gespreksreeks deur die Jakes Gerwel Stigting, die ATKV en Netwerk24 aangebied word. Daar gaan krities en ondersoekend gesels en besin word oor onderwerpe wat wissel van taal en identiteit tot politiek, geskiedenis, gender en ja, ons grootste doring in die vlees: misdaad.

Feesgangers word genooi om te kom luister, vrae te stel en saam te dink in ruimtes waar stories en idees mekaar ontmoet. En met Exclusive Books in die ATKV-Boeke-oase, is dit die ideale geleentheid vir feesgangers om skrywers se handtekeninge in boeke te kry.

Adam Small (Foto: Brenda Veldtman)

’n Hoogtepunt op vanjaar se program is Adam en die Nico, ’n lesing deur Steward van Wyk en Marlene le Roux, wat deur die SBA aangebied word. Kunstekaap, voorheen bekend as die Nico Malan-teater, vier in 2026 sy 55ste bestaansjaar – ’n geskiedenis wat skerp kontraste oproep met Adam Small se nalatenskap.

Small, een van Afrikaans se invloedrykste dramaturge en digters, sou vanjaar 90 word. Tydens Apartheid moes hy ’n permit kry om sy eie dramas, soos Kanny hy kô hystoe, in die destydse ‘Nico’ te sien. Van Wyk gaan ’n oorsig van Small se ambivalente verhouding met die teater gee en die geskiedenis belig van sy dramas wat hier opgevoer is. Hy deel ook agt ongepubliseerde limerieke waarin Small die draak steek met die ‘Nico’.

Met munisipale verkiesings later vanjaar op die nasionale agenda, word politieke sake tydens gesprekke onder die vergrootglas geplaas. Koningmakers & kroondraers bring vier invloedryke stemme bymekaar: Anthony Butler, Tara Roos, Qaanitah Hunter en Gert van der Westhuizen. Hulle gaan insigte deel oor die magspel binne die ANC, die vraag oor wie Cyril Ramaphosa gaan opvolg, en wie watter hefbome agter die politieke skerms trek.

Die gesprek word voortgesit in Munisipale verkiesings: waarvoor maak jy stem dik? met Christi van der Westhuizen, Oscar van Heerden, Ntsikelelo Breakfast en Mia Spies. Die paneel gaan praktiese sake teen mekaar opweeg om ’n antwoord te vind op wat dit beteken om jou kruisie in ’n snel veranderende samelewing te trek.

Nog ’n onderwerp wat vanuit verskeie hoeke benader gaan word, is Swart Ekonomiese Bemagtiging – wie baat werklik? Thando Vilakazi, Connie Mulder, Phakamisa Ndzamela en Gert van der Westhuizen sal tydens dié gesprek aandag gee aan die spanning wat heers tussen verteenwoordiging, geleenthede en ongelykheid. Die impak van SEB op die land en ’n geloofwaardige, regverdige alternatief vir dié omstrede beleid gaan bepraat word.

In Die vuur huil neem Allen Grootboom en Suzette Myburgh feesgangers terug na die vroeë 1970’s toe ’n jong Jakob Koetaan op ’n reis van die Baai na Kaapstad onverwags in hegtenis geneem is. Koetaan se aangrypende verhaal is pas deur Tafelberg vrygestel. Dit beskryf hoe sy tronkervarings en interaksie met PAC-aktiviste ’n nuwe wêreld vir hom ontsluit het.

Suid-Afrika se eerste nasies en die lang skadu’s van die geskiedenis word saamgetrek in Fading Footprints: In Search of our First Nation, met Jose Manuel de Prada-Samper, Elias P. Nel, Marlene van Wyk, Katriena Swartz en John Parkington. Die paneel gesels oor die Bo-Karoo se /xam-jagter-versamelaars en hoe argiefmateriaal, veldwerk en onderhoude met afstammelinge help om ’n prentjie te vorm oor die verliese, geweld en veerkragtigheid wat die eerste nasie se geskiedenis kenmerk.

Gender-kwessies kom ook onder die loep. Wit manlikheid – is daar alternatiewe stories? verwelkom Christi van der Westhuizen, Cobus van Wyngaard, James Goddard en Laurie Gaum op die paneel. Hulle vra hoe nuwe narratiewe mense se opvattings kan oopbreek terwyl ’n enkele “waarheid” dikwels steeds aan mense voorgehou word. Wie besluit wat is reg en weg, wie is in en uit, en hoe kan ons ons stories self begin herskryf?

Die rol van boeke en skrywers om getuienis te lewer en ’n wekroep tot verandering te bewerkstellig, is onder bespreking in Gender-based Violence – How Writing Becomes Witness. Joy Watson, Popina Khumanda, Ashraf Kagee en Mzamo Masito gesels met Jonathan Amid oor publikasies wat gender en geweld verken, en oor hoe taal ernstige kwessies kan blootlê, konfronteer en aanspreek.

In 101 Remarkable South African Women fokus Lizette Rabe, Christina Landman, Pregs Govender en Makoma Lekalakala op vroue se moed en leierskap – vanaf vroeë tye tot die moderne era. ’n Inspirerende oorsig word gegee van hoe vroue ons land en geskiedenis gevorm het, en hoekom die stryd vir geslagsgelykheid steeds brandend aktueel bly.

’n Ligter maar ewe skerp aanslag op liefde, verlies en geheime kom in Witty Women Writers’ Resilience aan bod. Nadia Cassim, Lebo Mazibuko, Qaanitah Hunter en Angela Briggs vertel hoe hulle moeilike temas aanpak in verhale wat meesleurend, vars en hoopvol is.

Reggie Peace se inspirerende lewensverhaal kom onder die soeklig in Lux Verbi se Vredemaker, met Lee-Ann van Rooi as gespreksleier. Peace vertel van sy moeilike jeug in ’n kinderhuis en sy lang pad na hoop en geloof. Sy storie is een van seer en oorwinning, van gebrokenheid en herstel, en ’n herinnering dat vrede soms juis uit die ongenaakbaarste plekke kom.

Misdaad en ongeregtigheid in Suid-Afrika word ook wydlopend ondersoek. Agter tronkmure – straf ons of genees ons? bring Edwin Cameron, Rebecca Gore, Sohela Surajpal, Pieter Groenewald en Heindrich Wyngaard byeen om die werklikheid binne ons tronke te bespreek. Hulle nuanseer idees en tendense, soos die versoeking om voor eenvoudige antwoorde te swig, en wat dit werklik behels om rehabilitasie suksesvol te laat geskied.

In Op die spoor van die spoorloses, aangebied in samewerking met Jonathan Ball en Tafelberg, skuif die kollig na ware misdaad en die fyn voetwerk wat dit kos om onopgeloste moordsake te takel. Nicole Engelbrecht, Julian Jansen, Jonathan Morris, Michael Behr en Jody Hendricks neem die gehoor saam na die plekke waar spore koud raak – en waar vasbyt die enigste lig op die pad bring.

Seuns weet, aangebied in samewerking met Protea Boekhuis, fokus op die debuutskrywer Frederick Botha se eerste kortverhaalbundel. Herschelle Benjamin vra hom uit oor die leefwêreld van ’n jong wit gay Afrikaanse man wat in die bundel verken word, en hoe dit sin maak van die dikwels komplekse konteks waarin queer mense hul identiteit vestig.

Die ervarings van mense in die teaterbedryf word gedeel in Die lewe as drama, aangebied in samewerking met Protea Boekhuis. Die dramaturge en akteurs Herschelle Benjamin, Christo Davids en Candice Jantjies, wie se name gekoppel word aan verhoogstukke soos Joshlin: Meer as ’n naam en Laaitie mettie biscuits, deel gedagtes oor hoe gemeenskapsverhale in eerlike teater omskep kan word.

Taal, media en kultuur kry aandag in die gesprek Hoe gaan dit met Afrikaanse radio? Vriende van Afrikaans, ’n vereniging wat by die ATKV ingelyf is, het vir Frazer Barry, Martelize Brink, Lynden Jafta en Crystal Orderson genooi om hul indrukke te deel. Hulle praat oor luisteraarsgetalle en die toekoms van Afrikaanse radio, asook strategieë om dié belangrike medium lewendig te hou.

Die snykant van satire kom onder bespreking in Strokies, satire en die slagting van (on)heilige koeie. Carlos Amato, Jonathan Shapiro (Zapiro), Anton Kannemeyer en Conrad Botes word deur Marianne Thamm uitgevra oor humor as wapen in kuns. Hulle gee ook menings oor waar die grense tussen kuns en skok lê.

Hardop, die gewilde geleentheid waar gedigte, lirieke en rou stemme ’n mikrofoon kry, is terug op publieke aandrang. Die Jakes Gerwel Stigting en die joernaal Klyntji bring ’n klomp feesgunstelinge na die Netwerk24-feeskafee, o.a. Jadrick Pedro, Bibi Slippers, Naidene Lottering, Siphokazi Jonas, Thérèse Bartman, Danie Marais, Helena Hettema en The Buckfever Underground.

Toegang tot die gesprekke is gratis, maar om jou sitplek te verseker moet jy steeds deur Webtickets bespreek. Kom vroeg vir ’n gratis koppie koffie en kom deel in die gesprek – voor, tydens en na die tyd. Volledige besonderhede is in die feesprogram op suidoosterfees.com.

Die Jakes Gerwel-gespreksreeks se hande word gesterk deur vennootskappe met Jacana Media, Jonathan Ball, Flyleaf Publishing & Distribution, Klyntji, Kwela, Lux Verbi, Naledi, uHlanga Press, Pan Macmillan, Penguin Random House SA, Painted Dog Press, Protea Boekhuis, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Tafelberg, Tracey McDonald Publishers, Turksvy Publikasies, Vriende van Afrikaans en Wordslingers Publishing Corporation.

Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top