
Van links na regs: Danie van der Merwe, Hagen Viljoen, Jean Nel en Mosima Mabelebele
Die aanbieder van die VIA-reeks Die wynmeester, Danie van der Merwe, kuier op Internasionale Sauvignon Blanc-dag saam met drie gerekende wynmakers van Sauvignon Blanc SA by die Suidoosterfees.
’n Paar jaar gelede het Danie die wyne van Arno Smith van Arno Smith Wines – ’n onafhanklike wynmaker met sy Saartjie-reeks – geproe. Arno het Danie aan verskeie ander onafhanklike wynmakers in Suid-Afrika voorgestel. Hoe meer hy oor hul wyne, boeiende stories en unieke karakters ontdek het, hoe meer het hy besef hy wil ’n manier vind om Suid-Afrikaners van hierdie wynmakers en hul uitsonderlike vakmanskap te laat kennis neem. Die televisiereekskonsep is gebore en Die wynmeester se eerste seisoen is verlede jaar op VIA uitgesaai, en verfilming is tans aan die gang vir die tweede seisoen.
Danie het ook tydens die pas afgelope KKNK twee proeë op Oudtshoorn met Xander Grier (wenner van Die wynmeester seisoen 1) en Rudolph Steenkamp van Salt Rock Wines, Neville Lotz van Inevitable Wines, Jasper Wickens van Swerwer Wyne, Banele Vakele van Tembela Wines en Arno Smith, aangebied. Elkeen van die onafhanklike wynmakers het een wyn uit hulle reeks aangebied wat met ’n bypassende snoephappie gepasmaat is.
By die Suidoosterfees proe hy saam met Hagen Viljoen (keldermeester: Zevenwacht Wynlandgoed), Mosima Mabelebele (assistentwynmaker: Le Grand Domaine Kelder) en Jean Nel (hoofwynmaker: Cederberg Wyne) en gesels hulle oor die kuns van wynmaak en die 72 geure van hierdie kultivar wat op die veelkleurige sauvignon blanc-aromawiel uitgebeeld word, en deel hulle interessante staaltjies.
Sauvignon blanc se geure verskil drasties afhangend van waar dit geplant word, maar die bekendste geure is sitrus, tropiese vrugte en kruie-aromas. Dis veral geure wat herinner aan gesnyde gras, groen soetrissie, appelliefies en grenadella wat met dié druifsoort assosieer word.
Al drie wynmakers is gereelde wenners by die jaarlikse Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie.
Een van die fees se nuwe venues, Nasdak, op die bopunt van die Media24-gebou, bied asemrowende uitsigte oor die Berg en baai en is die perfekte plek om aan Suid-Afrika se gunstelingwitwyn te teug en meer oor die meesters agter die wenwyne te leer.
Vrae aan Hagen (HV), Jean Nel (JN) en Mosima Mabelebele
Hoe het jou pad met dié van sauvignon blanc gekruis?
HV: Die eerste keer wat die liggie aangegaan het vir my met sauvignon blanc, was toe ek ’n parsseisoen in Marlborough, Nieu-Seeland gedoen het in 2008. Op daardie stadium was Suid-Afrika se sauvignons nog baie “pirasien”-gedrewe en die meer “thiool”-gedrewe styl was vir my ’n openbaring.
JN: Die eerste keer toe sauvignon blanc oor my pad gekom het, was op universiteit waar ons in ons tweede jaar ’n kultivar gegee is en ons kleinskaalwyn daarvan moes maak, en toevallig was my kultivar sauvignon blanc. Ek moet sê dat die sauvignon blanc-gogga my toe gebyt het.
MM: My reis met sauvignon blanc het begin met die teorie wat ek aan die Universiteit Stellenbosch geleer het, waar ek begin besef het hoe besonders en uitdrukkingsvol hierdie kultivar is. Maar dit het werklik by my ingesink tydens my eerste oes by Rustenberg Wines, waar ek dit prakties ervaar het en die karakter van die kultivar in die wingerd en kelder sien ontvou het.
Wat is vir jou as wynmaker lekker om met sauvignon blanc – eerder as ander wit kultivars – te werk?
HV: Sauvignon blanc is ’n baie deursigtige kultivar – hoe meer jy insit, hoe meer kry jy uit. Wynmakers praat baie van minimalistiese hantering of ingryping as dit kom by hoe hulle die “terroir” wil laat skyn in die wyn, maar nie so met sauvignon blanc nie. Jy moet dit ’n bietjie ekstra pamperlang om die potensiaal te laat uitblink.
JN: Sauvignon blanc is baie divers en dit is wat die kultivar so interessant maak, want dit wys vinnig van watter area dit kom of die styl waarin dit gemaak is. ’n Mens kan amper sê die variteit dra sy gevoelens op sy mou.
MM: As wynmaker geniet ek dit die meeste van sauvignon blanc dat dit so veelsydig en sensitief is. Dit verg werklik aandag, maar in ruil daarvoor is dit ongelooflik uitdrukkingsvol. Hoewel baie mense dit hoofsaaklik met groen note verbind, bied dit soveel meer, ’n pragtige spektrum van aromas wat wissel van vars kruieagtige karakters tot lewendige sitrus- en tropiese vrugte. Daardie diversiteit en reaksievermoë maak dit besonder lonend om mee te werk in vergelyking met ander wit kultivars.
Hoekom bly dit Suid-Afrika se gunstelingwit?
HV: Ek dink die varsheid en vrugtigheid werk vir ons warmer klimaat, maar ons kry ook mooi mondgevoel, so dit vind aanklank met ’n wye mark mense.
JN: Wel, ek kan nie sien wat ’n braai of ’n kuiergeleentheid sonder sauvignon blanc is nie. Dit is ’n variëteit wat veelsydig is en ek dink almal kan ’n sauvignon blanc-styl vind waarvan hulle hou.
MM: Ek dink Sauvignon Blanc bly Suid-Afrika se gunsteling witwyn omdat dit so toeganklik en maklik genietbaar is. Dit is vars, lewendig en nie te ingewikkeld nie, sodat jy enige dag ’n bottel kan oopmaak sonder om te veel daaroor te dink. Terselfdertyd is dit veelsydig genoeg om goed saam met ’n wye verskeidenheid kos te pas. Daardie balans, verfrissend, kosvriendelik en altyd uitdrukkingsvol, maak dit ’n natuurlike gunsteling vir baie mense.
MR: Hoe sal jy die hoof-eienskappe van Sauvignon Blanc beskryf waarna jy soek as jy dit maak?
HV: Vir my begin Sauvignon Blanc altyd by die aromatiese profiel van die wyn: ons soek ’n goeie uitdrukking en balans tussen die tropiese en groener geure wat tipies is aan die kultivar en dit moet ondersteun word deur ’n suur wat die wyn varsheid en lengte gee.
JN: Daardie balans is baie belangrik en dit begin al in die wingerd met blaar breuk praktyke wat op die regte tyd moet geskied. In die kelder is dit maar proe en besluit watter gis kultuur vir jou die sekere eienskappe gaan gee en hoe jy dit moet bestuur sodat jy op die einde van die dag balans in jou wyn kan kry.
MM: Wanneer ek Sauvignon Blanc maak, soek ek bo alles varsheid en ’n sterk struktuur. Dit moet hoogs aromaties wees, met note soos sitrus, vars gesnyde gras, kiwi en grenadella. Die wyn moet ook skoon en goed gebalanseerd wees, waar die suur en vrugkarakter in harmonie saamwerk. ’n Pragtige, uitnodigende mondgevoel is belangrik, iets wat jou laat terugkom vir nog ’n slukkie.
MR: Wat is jou gunsteling Sauvignon Blanc oomblik/herinnering?
HV: Die eerste keer wat ons ’n FNB, Sauvignon Blanc, Top 10 bereik het, was vir my baie spesiaal. Ons het lank en hard gewerk as ’n span om ons wynstyl reg te kry en die Top Tien resultaat was vir ons die eerste erkenning dat ons in die regte rigting in beweeg.
JN: My gunstelingherinnering was om ’n pars in Sancerre te doen en daar te sien en te leer wat hulle met die kultivar doen asook om te sien hoe die terroir ’n baie groot effek op die wyne het.
MM: Dit dateer uit my studentejare aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het aanvanklik gedink dit is te uitdrukkingsvol en té vars na my smaak. Maar ná besoeke aan verskeie wynplase in en om Stellenbosch en die proe van meer voorbeelde, het my perspektief heeltemal verander. Ek het besef hoe onderskat dit is en ontdek dat daar soveel meer diepte en karakter in die wyn skuil as wat ek aanvanklik gedink het.
Daar is 72 verskillende geure op die sauvignon blanc-aromawiel. Hoe balanseer jy as wynmaker die uiterstes – tussen daardie bekende groen soetrissie en gesnyde gras aan die een kant en die meer tropiese grenadellageure aan die ander kant – om ’n bekroonde wyn te skep?
HV: Goeie tydsberekening is die sleutel as dit kom by sauvignon blanc. Dit is ook belangrik om verskeie komponente te hê om die kompleksiteit en balans reg te kry in die finale wyn.
JN: Ek hou daarvan om altyd die druiwe te proe en te sien wat die potensiaal is van die blok en die nuwe seisoen. Die hoofeienskappe waarna ek kyk is om ’n balans tussen tropies en groen te kry, asook om ’n wyn te maak wat gebalanseer is tussen neus en palet.
MM: Om die wye spektrum van sauvignon blanc-aromas te balanseer, kom neer op noukeurige besluitneming deur die hele proses. Oestyd is veral deurslaggewend – jy wil nie te vroeg of te laat pluk nie, aangesien dit die balans tussen groen en tropiese geure kan versteur. Die doel is om te voorkom dat die groener note, soos groen soetrissie of vars gesnyde gras die meer lewendige tropiese karakters oorheers.
Een van die beste maniere om harmonie te bereik is om met verskillende komponente te werk, druiwe op verskillende rypheidsvlakke te oes, en dit later te versny. Goeie blaarbestuur is ook uiters belangrik, aangesien dit help om te bepaal hoe die druiwe in die wingerd ontwikkel. Namate die druiwe ryp word, raak gereelde proe in die wingerd noodsaaklik om die optimale pluktyd te bepaal.
In die kelder speel fermentasietemperatuur ’n groot rol in die vorming van die finale aromaprofiel, saam met die keuse van gisstam. Al hierdie faktore werk saam om ’n gebalanseerde, uitdrukkingsvolle en uiteindelik bekroonde sauvignon blanc te skep.
Sauvignon blanc verskil drasties afhangend van waar dit geplant word. Hoe sien ons die spesifieke “vingerafdruk” van jou streek in die glas?
HV: Ons val onder die Polkadraai Heuwels in Stellenbosch en ons sauvignon blanc-wingerde is almal teen koeler suidelike hellings wat oor Valsbaai uitkyk. Die kombinasie van die koeler aspek en die ligter verweerde granietgrond gee vir ons ’n elegante styl wat tipies “blackcurrant leaf” en “elderflower” wys in die wyn.
JN: Ek is bevoorreg om met twee uiterste streke te kan werk en die twee is baie verskillend. Cederberg is altyd ’n bietjie meer tropies gedrewe en gee ook daardie indikasie van koeler klimaat as gevolg van die hoogte bo seevlak, warm dagtemperature maar ook koue aandtemperature wat lei tot ’n langer rypwordingsperiode. Elim, daarenteen, is by die mees suidelike punt van Afrika teen die kus en gee meer groen karaktereienskappe maar baie konsentrasie as gevolg van die area en afstand van die see.
MM: Dit is merkwaardig om te sien hoe selfs die kleinste besonderhede ’n groot verskil in die finale wyn kan maak. Ek is bevoorreg om met sauvignon blanc van verskillende terroirs te werk, elk met sy eie karakter. Vrugte van Darling, nader aan die kus, toon dikwels meer varsheid en lewendige suur. Stellenbosch, wat meer inwaarts is, bied gewoonlik meer struktuur en diepte, terwyl Durbanville tussenin val en ’n gebalanseerde kombinasie van die twee lewer.
Wanneer jy hierdie komponente saamvoeg, begin die streek se vingerafdruk werklik in die glas na vore kom, ’n kombinasie van varsheid, kompleksiteit en balans wat deur elke unieke ligging gevorm word.
Vrae vir Danie
Is sauvignon blanc een van jou gunstelinge?
DvdM: Sauvignon blanc is vir seker een van ons gunstelingwitwyne in Suid-Afrika en ook een van die groot verkopers – so ja, ek is deel van die statistiek, omdat ons somerson die beste gekomplementeer word met hierdie vrugtige, vars wyn.
Hou jy van gehoute of ongehoute sauvignon blanc en is daar spesifieke streke waarvandaan jou gunstelinge kom?
DvdM: Gehout en die Agulhas-streek is deesdae een van my gunstelinge oor die vars seelug en seeskulpinvloede.
Wat is jou gunsteling-sauvignon blanc-herinnering?
DvdM: Vir my sal ’n Weskus-somervakansie, ’n heerlike kreefdis en sauvignon blanc altyd sinoniem wees met nostalgiese en goeie herinneringe. Maar wat my wel sal bybly, is my Cape Wine-ervaring waar ek sauvignon blanc van verskillende streke kon proe en vergelyk – gehout en ongehout met uiteenlopende smake, en toe besef ek hoe kompleks en divers die kultivar is.
Wat sal mense by die proe leer wat hulle dalk nie geweet het nie?
DvdM: Buiten verskillende smake wat uitstekend werk saam met verskillende sauvignon blanc-wyne, gaan ons ook gesels oor die invloed wat terroir speel, wynmaaktegnieke, en hoeveel invloed die karakter van die wynmakers uitoefen in die bottel wat jy oopmaak.
Hoekom sal jy mense aanmoedig om proeë en praatjies soos hierdie by te woon?
DvdM: Ek het die afgelope twee jaar noue bande met onafhanklike wynmakers gebou, wynmakers wat nie noodwendig hulle eie kelders het nie, druiwe inkoop van verskillende areas en kelderspasies huur. Dit is juis die oorsprong van die realiteitsreeks Die wynmeester. Daar is soveel meer uitdagings vir hierdie kleiner wynmakers, maar steeds doen hulle dit, want dit is ’n kunsvorm. Elke jaar begin hierdie “kunstenaars” met ’n blanko skilderdoek en aan die einde kry ons, die verbruikers, die geleentheid om hulle wyn te proe en te ervaar. Dis wanneer ons besef hoeveel passie, werk en moeite in ’n bottel wyn ingaan dat ons bereid sal wees om meer vir wyn te betaal. Daarom is dit nodig om die publiek/verbruiker bewus te maak, en verder lekker wyn saam met jou mense te geniet.
- Kaartjiehouers kan saamkuier met bekroonde wyne en heerlike komplementerende happies. Die kuier duur 90 minute. Bespreek kaartjies vir 1 Mei om 18:30 by https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1587771460.
Lees ook:
Kos, wyn, erfenis en uitstekende geselskap by Suidoosterfees

