
Van 29 April tot 3 Mei 2026 nooi die Suidoosterfees almal uit om dié gewilde kunstefees in Kaapstad hul tuiste te maak. ’n Splinternuwe leefstyl-afdeling is vanjaar by die program ingesluit, met interessante kosdemonstrasies, wynproeë, kuiersessies en gesprekke.
Nuwe feesvenues in die Media24-gebou
Die fees brei uit na venues rondom Kunstekaap, die tradisionele spilpunt van die fees, en nuwe lokale word benut vir ’n onvergeetlike ervaring. Media24, een van die fees se hoofborge, se toringgebou huisves twee van die nuwe venues waar Leefstyl-items aangebied word: die POP24-ateljee en die asemrowende Nasdak aan die bopunt van die gebou.

Items in die Leefstylprogram fokus op al daardie eenvoudige vreugdes wat die lewe spesiaal maak: goeie kos, lekker stories, heerlik saamlag en kuier. Of jy hou van kook, eet, gesels, luister, proe of bloot van interessante mense – hierdie afdeling van die feesprogram gaan jou waarlik tuis laat voel.
Alles draai om kos, want die hart van ’n tuiste is mos die kombuis. Vir drie dae gaan die POP24-ateljee in die Media24-gebou ’n warm, borrelende ruimte wees waar die gewilde Food Fairies aromas, herinneringe en saamwees na die tafel bring. Speseryegeure gaan in die lug hang, stories gaan gedeel word en vreemdelinge gaan blitsvinnig vriende raak.
Kookdemonstrasies
Die Food Fairies-reeks bring ’n verskeidenheid kookdemonstrasies na die POP24-ateljee. Van inspirerende groentegeregte en die ryk erfenis van Suid-Afrikaanse kookkuns, tot die troos van tradisionele disse soos Kaapse Maleier-breyani en mosbolletjies – elke sessie vier mense se verbintenis met kos.

Nate Smith
Bekende persoonlikhede soos Nate Smith, Phumlani Malinga, Chef H (Hein Koen), Sandra van de Rheede, Surita Riffel en Vinette Ebrahim deel hul passie, kooktegnieke en persoonlike stories, terwyl hulle wys hoe kos mense byeenbring. Die demonstrasies wissel van hartlike gesprekke en pittige vertellings tot speelse, kreatiewe koskuns wat die verbeelding prikkel.
Of dit nou gaan oor hoe om eenvoudige bestanddele om te tower in buitengewone disse, of die vreugde van saam kook en eet, die Food Fairies-aanbiedinge gaan feesgangers beslis laat proe hoe smaaklik die Suidoosterfees se tema, Tuiste, op die tong val.
Boeke oor kos
Vir mense wat boeke en goeie geselskap waardeer, bied die Leefstylprogram heelwat. Boeke wat ons kos-erfenis vertel bring gerespekteerde skrywers en kosfoendi’s bymekaar, en hulle word deur Ingrid Jones uitgevra oor hoe kulinêre tradisies deur boeke en storievertelling voortleef.

In Komvandaan-stories verwelkom Maygene de Wee gespreksgenote wat praat oor reise en hoe kos herinneringe dra. Hierdie ontspanne paneelgesprekke raak met warmte, humor en eerlikheid aan onderwerpe soos identiteit, erfenis en outentieke menslike ervarings. Skrywers, koskenners en smulpape soos Jeremy Vearey, Fahiem Stellenboom en Asanda Ngoasheng neem saam met bekende sjefs deel.
Tietie, Nanna, Nataniël en tannie Evita
Aanhangers van bekendes gaan beslis nie teleurgesteld wees nie. Die legendariese TikTok-sterre en TV-kokke Tietie en Nanna kom deel hul maklike, heerlike kookkuns, en daar sal geleentheid wees vir foto’s saam met die susters. Gadija Sydow, bekend vir VIA se Kaap, kerrie en koesisters en Plain en simple, deel praktiese, geurvolle resepte en slim kombuiskortpaaie wat meer tyd aan die etenstafel moontlik maak.

Tietie en Nanna
Buite die kombuis bied die Leefstylprogram ook ’n reeks sosiale geleenthede wat uitsonderlik en ontspanne gaan wees. Feesgangers kan tee en koek geniet saam met Evita Bezuidenhout, wie se skerp humor en onvergeetlike stories jou sal laat voel asof jy by ’n ou bekende kuier.

Nataniël
Sluit ook aan by Nataniël en sy spesiale gaste vir ’n High Tea propvol stories in die kunstenaar se unieke styl. Nataniël verwelkom inspirerende gaste soos Sandra Prinsloo en Anna-Mart van der Merwe vir heerlike lagbuie en opinies oor kultuur en kos.
Wynproeë en TV-sterre
Daar is ’n keur van proe- en ervaringsgeleenthede waar wyn- en bierliefhebbers hulself kan verlustig in uitnemende smake en gesellige gesprekke.
Op Nasdak in die Media24-gebou, met ’n asemrowende uitsig oor die Moederstad en die hawe, word Internasionale Sauvignon Blanc-dag met wynproeë gevier in samewerking met Sauvignon Blanc SA, VIA, Versnit en FNB.
Wynliefhebbers kan aanmeld vir ’n proe-ervaring saam met Danie van der Merwe en ’n klompie onafhanklike wynmakers, terwyl sepie-aanhangers genooi word na ’n ontspanne brunch saam met die sterre van Skemergrond. Hier kan feesgangers hul gunstelingakteurs ontmoet terwyl daar gesels en gesmul word.

Danie van der Merwe
In Die wynmeester: Kom proe saam lei Danie van der Merwe die gesprek met gerekende wynmakers Hagen Viljoen van Zevenwacht, Mosima Mabeledele van Le Grand Domaine en Jean Nel van Cederberg Wyne, terwyl hulle die kompleksiteit en karakter van Sauvignon Blanc verken.

Die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-proe, aangebied saam met Versnit, word deur Lukas Wentzel van Groote Post gelei en verken die terroir en stylvariasies binne dié gewilde kultivar.
Met Kelderklas-wynproe nooi J.P. Quickelberge van VIA feesgangers om die veelsydigheid van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc op ’n toeganklike en stylvolle manier te ervaar.
Die fees se proe-aanbod word verder aangevul deur Bier-uur met Beer in die Netwerk24-feeskafee voor Kunstekaap, waar Beer Adriaanse sorg vir ’n ontspanne, interaktiewe ervaring vol pret en vermaak – kompleet met ’n gratis bier.
Hierdie aanbiedinge kombineer kundigheid, storievertelling en uitstekende produkte, en skep die ideale geleentheid vir feesgangers om saam te kuier en hul kennis proe-proe te verbreed.
Heritage Travel verjaar
Heritage Travel-tydskrif kom vier ook hul verjaardag in die Netwerk24-feeskafee. Ingrid Jones, Kyra Loubser, Zola Nene, Stef en Jamile de Koker verwelkom gaste vir ’n jolige viering met ’n koek-en-poësiefees, ’n boekgesprek en optredes deur verskeie kunstenaars en digters. Die geleentheid is gratis en daar is hope “koekterapie” vir feesgangers met ’n soet tand.

Stef en Jamile de Koker
Van aroma-gevulde kombuise tot op-en-wakker kuiers – die Suidoosterfees se Leefstylprogram rig ’n ope uitnodiging om te kom proe, te luister, te lag en deel van ons gemeenskap te wees. Skuif dus ’n stoel nader en maak jou tuis by die 23ste Suidoosterfees.
Program en kaartjies
Volledige besonderhede is beskikbaar in die feesprogram op suidoosterfees.com, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.
Smile FM is die fees se amptelike radiostasie in 2026. Die Leefstylprogram word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Biggi, VIA, POP24, Sauvignon Blanc SA, Heritage Travel Magazine en Iziko Museums SA.
Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.

