
Eerste vir alles
Met: Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck
Teks en regie: Wessel Pretorius
Verhoogbestuur: Wicus Louw
Debuteer by die 2026-Suidoorsterfees as deel van die NATi Teaterfees
Yolanda du Toit praat met Margit Meyer-Rödenbeck, Frank Opperman en Wessel Pretorius oor die Suidoosterfees-produksie, Eerste vir alles.
MARGIT
Margit, jy vertolk die rol van Eva in die toneelstuk. Vertel ons meer van jou rol.
Sjoe, om die “oermoeder” te vertolk, wat ’n voorreg. Eva is slim, sy is kreatief, sy is nie op haar mond geval nie en staan haar man. Ek sou sê Eva is eintlik baie feministies vir haar tyd. Ons ontmoet haar in die toneelstuk as sy 450 jaar oud is. Volgens Adam nog ’n kuiken, maar na 56 kinders dink Eva dis nou genoeg, dalk is daar meer in die lewe ... Wonderlik om die eerste paartjie te vertolk wat al die eerstes moes ervaar. Eerste verlief, eerste baklei, eerste baba, ensovoorts.
Met beide van julle bekend vir komedie, kan die feesgangers sekerlik uitsien na ’n uitstekende komedieproduksie?
Dit is komedie, maar tog met baie siel. Dis eintlik ’n liefdesverhaal van die eerste mense. Keuses was bietjie beperk, maar Adam en Eva is perfek vir mekaar en vind dinge uit soos die lewe voortstoom. So ja, die komedie lê baie in die verskille van mans en vroue. Bietjie: He said, she said, maar met ’n BAIE vars aanslag.
Jy en Frank deel die verhoog in hierdie komedie. Het jul al vantevore die verhoog gedeel? Hoe benader jul die voorbereiding en repetisie?
Ek en Frank ken mekaar al van doerie jare se Huisgenoot Skouspel-dae. Ek dink dit was seker 24 jaar gelede en van toe af dreig ons om ’n play te doen, maar dis soos daai “kom ons braai” wat nooit gebeur nie, en toe laas jaar toe ons weer dreig, sê ek toe basta! – dis nou of nooit. En hier is ons in repetisie, vrek opgewonde en soos altyd vrek bang. Maar Frank is ’n fees: energiek, entoesiasties, voorbereid, kreatief. O, dis lekker. Way overdue.
Jy is self getroud en het ’n gesin – temas wat hier aangespreek word. Hoeveel dink jy dra jou eie ondervinding by in hierdie toneelstuk?
Ja, dit dra beslis by. As sy praat van die doeke en die swaarkry, maar ook van die trots en die liefde vir jou kinders. Deur al die eeue bly daardie ervaring en gevoelens presies dieselfde. Wessel het so goed geskrywe en dit vasgevang – tye het verander, maar in prinsiep is ons behoeftes en verwagtinge maar eintlik net dieselfde.
Hoe nou werk jul saam met Wessel Pretorius wat die teks geskryf het?
Dis ’n droom. Wessel verstaan ’n deadline. Hy is ’n kenner op sy vakgebied en sy eerste weergawe van die teks kon ’n mens dadelik aan begin werk. Heel dikwels neem dit ’n dag of vyf om eers die teks te skaaf, voor ’n mens werklik vloer toe kan gaan. Wessel is ook die regisseur en verstaan komedie so goed, en dis herkenbare “slim” komedie.
Beide van julle is al ’n ou hand as dit kom by feeste, toneelspel en tekste skryf. Dink jy dit gee jou ’n voorsprong as dit kom by toneelspel teenoor iemand wat byvoorbeeld net ’n aktrise is?
Ja, ek dink tog so. Vandat ek baie regie doen, werk ek harder as ’n aktrise, want ek sien hoe meer die akteur bring, hoe meer kan die regisseur met jou uitrig.
Ook respek: Aangesien jy al in die onderskeie “skoene” gestaan het, het jy respek vir hoeveel bloedsweet en vaardigheid daarin gaan. Soos met Wessel se teks. Ek weet dit is fyn deurdag, so ek probeer my beste om so getrou moontlik te bly.
Aangesien Wessel ook ’n baie bedrewe akteur is, is sy karakters lekker volrond en die teks leer maklik. (Woorde leer raak maar moeiliker hoe ouer jy word en dis ook een van die frustrerende dele van ons werk.)
Jy is ook te sien in Ouma en die ou koeie. Hoe hanteer jy soveel produksies by een fees en hoe benader jy die voorbereiding?
Sjoe, ek is al so gewoond daaraan om in verskillende produksies by een fees te speel.
Ek sorg dat ek my materiaal baie goed ken. Met ander woorde: woorde, bewegings, oorgange, dat ek nie maklik gegooi word nie.
Fokus: As jy op die verhoog is, moet jy alles uitsluit om jou.
Ek sukkel om byvoorbeeld net voor my eie show ’n ander produksie te gaan kyk. Dit versteur my fokus en mors met my kop.
Kort antwoord: deeglike voorbereiding en fokus.
Dink jy die feesgangers gaan met die karakters/produksie kan identifiseer?
Ja, ek dink so. Dit gaan oor verhoudings, die tipiese dinge wat ons doen en die verwagtinge wat ons het. En met Wessel se slim gevatte woorde en sterk regie en ’n medespeler soos Frank Opperman! Wat is daar nie om te geniet nie?
FRANK
Frank, jy vertolk die rol van Adam in die toneelstuk. Vertel ons meer van jou rol.
Adam is die eerste rol wat ooit geskep is; sien uit daarna. Hy was 900 jaar oud toe hy dood is. Dit is ’n interessante ouderdomsgroep wat ek nog nie gespeel het nie. Ek is besig om uit te vind wie Adam was. Ek neem aan hy was die elke man, met ’n bietjie van ’n houding. Hy was tog die eerste mens op aarde, ’n rede om windgat te wees.
Jy en Margit deel die verhoog in hierdie komedie. Hoe benader jul die repetisie?
Ek en Margit glo in harde werk; ons het sopas begin en ons albei besef harde werk lê voor. Ek raak ook maar ouer, so die woorde leer en onthou word maar ’n ding wat jou lekker spook. Ons het jare terug saamgewerk aan ’n projek, maar dis ons eerste toneelspel saam.
Hoeveel dink jy dra jou eie ondervinding as man en vader by in hierdie toneelstuk?
’n Mens probeer maar jou karakters êrens binne jouself vind. Ek het nou nie 56 kinders gehad soos hy nie, maar twee is alreeds ’n handvol.
Jy is betrokke by verskeie kunstefeeste en is ook in die tragikomedie Crybaby te sien, asook in Stinkhout. Hoe hanteer jy soveel produksies by een fees en hoe benader jy die voorbereiding?
’n Mens moet maar kophou as jy ’n paar produksies gelyktydig doen. In Crybaby is ek vier jaar oud; as Adam 500 jaar oud. Dit help darem om ’n ouderdomsverskil van 500 jaar te hê. Hopelik raak ek nie deurmekaar met die karakters nie. Gelukkig het ek pret.
Waarna kan feesgangers uitsien in hierdie produksie?
Dis so lekker om saam met Margit en die baie talentvolle regisseur Wessel Pretorius te werk. Ek is al jare ’n groot fan van sy werk. Ek en Margit doen baie eenmanvertonings, so dit gaan weer pret wees om met iemand anders te stry en baklei, soos Adam en Eva seker sou doen.
WESSEL
Wessel, jy is die skrywer van Eerste vir alles. Hoe het jy aan die idee gekom vir hierdie teaterstuk wat dan ook by die Suidoosterfees debuteer?
Frank en Margit het my genader met die idee. Ek glo dit was Frank se kreatiewe brein wat daarmee opgekom het. Ek het net die impuls gevat en daarmee gehardloop. Dit was groot pret om te verbeel wat die heel eerste liefdesverhouding alles moes behels het – die uitdagings, verrassings en opwinding.
Het jy van die begin af vir Margit en Frank in die visier gehad om die karakters te vertolk?
Omdat hulle my genader het, kon ek met beide ingedagte skryf, wat natuurlik altyd baie help. En mens kan sekerlik nie vir twee beter muses vra as hierdie legendes nie.
Jy is bekend vir verskeie genomineerde reekse en flieks. Hoe verskil die voorbereiding, skryf en uitvoer van ’n toneelstuk by ’n fees teenoor reekse en films?
Met ’n film of televisiereeks is daar gewoonlik ’n span of ten minste ’n spanmaat wat baie van die gegewens alreeds verskaf. My werk is gewoonlik meer aanvullend. Vir teater is ek meestal alleen verantwoordelik vir wat ek pleeg.
Wat wil jy graag hê moet die teatergangers saam met hul huis toe neem van hierdie produksie?
Soos altyd, probeer ek die mooi en brose van menseverhoudings vasvang. Ek hoop altyd dat mense saam sal lag of nadink oor die gedeelde ervaring van ons alledaagse – die vreemdheid, die hartseer, die absurde en die skoonheid.
Lees ook:
Suidoosterfees se NATi Jong Sterre op pad na "volwaardige kunstenaarskap"

