Suidoosterfees verwelkom nuwe uitvoerende hoof

  • 2

Die Suidoosterfees het onlangs aangekondig dat Jana Hattingh as nuwe uitvoerende hoof van die fees aangestel is en Augustus amptelik die leisels sal oorneem.

Jana het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en later ook haar meestersgraad in Bemarking vir Suid-Afrikaanse kunste by die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Onbekend in die kunstebedryf is sy beslis nie. Sy was onder meer  ’n projek-organiseerder by Arts Capital en ’n projek-bestuurder by onder andere Mashuka, Stellenbosch Universiteitskoor en die Toyota US Woordfees.

“Die kunste-industrie in al sy hoedanighede, hetsy musiek, toneel, dans, kuns of letterkunde, was vir my nog altyd ’n bron van ongekende opwinding en inspirasie. As Suid-Afrikaners bevind ons ons in die unieke situasie om deur ’n ryk verskeidenheid kulture omring te word, en ons is inderdaad bevoorreg dat ’n instelling soos die Suidoosterfees diversiteit omarm en mense saamsnoer,” het sy laat hoor.

Brian Figaji, voorsitter van die fees, het in ’n persvrystelling gesê: “Dit was ’n eenparige besluit van die Suidoosterfees-direksie om vir Jana as die uitvoerende hoof van die fees aan te stel. Ons sien daarna uit om met Jana die volgende fase van die fees se ontwikkeling mee te maak.”

Jana vertel vervolgens meer oor haar visie en missie vir die fees.

Jana baie geluk met jou aanstelling as die nuwe uitvoerende hoof van die Suidoosterfees! Hoe voel jy oor die nuwe hoofstuk?

Opgewonde! ’n Fees is ’n magiese ervaring, ’n samekoms van kunstenaars wat skep en iets tot stand bring vir die breë gemeenskap. Watter groot voorreg om deel daarvan te wees en prosesse te help fasiliteer.

Vertel asseblief so bietjie meer oor jouself. Wat is sommige van die hoogtepunte van jou loopbaan tot dusver?

Ek het drama aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waarna ek my honneurs en meestersgraad gedoen het met die fokus op teater- en feesbemarking. In 2006 is ek en Temple Hauptfleisch na Helsinki, Finland om eerstehands te sien hoe die Internasionale Konferensie vir Teaternavorsing georganiseer, beplan en uitgevoer word. In 2007 het ons die voorreg gehad om die konferensie by Universiteit Stellenbosch aan te bied vir akademici, teaterpraktisyns en -makers, van regoor die wêreld.

Die US-koor was een groot hoogtepunt! Buiten vir hulle uitmuntende prestasies, om ’n paar te noem: ’n Fiësta, ’n Woordtrofee, eerste plek in die Wêreld-koorspele en wenners van Varsity sing, is die energieke atmosfeer onder die 120 studente en maestro, André van der Merwe, iets baie spesiaal om deel van te kon wees.

Wat die US Woordfees betref, het ek het soveel wonderlike herinneringe aan produksies en projekte wat ons daar aangepak het. Dinge wat ek geleer het onder Saartjie Botha, Dorothea van Zyl, Fiona van Kerwel en Melt Myburg. Kollegas saam met wie ek planne beraam het, oplossings inderhaas uitgedink het en feesgevier het.

Ander hoogtepunte was: Arts Capital, ’n nie-winsbejagte organisasie wat kyk na die welstand van kunstenaars. Die Guru, Colin Daries wat alternatiewe inkomstestrome vir kunstenaars vind en sy passie vir die kunste uitleef. ’n Projek wat ons vroeër die jaar gedoen het naamlik Wonderkinders, waar 5 internasionale jong pianiste saam met ons eie Qden Blaauw meesterklasse onder leiding van Wolfram Schmitt-Leonardy bygewoon het en daarna ’n wêreldklas uitvoering aangebied het.

Voorts was daar: Mashuka, ’n bemagtigtingsprojek vir vroue van Tanzanië en Kaapstad. Die reise deur Afrika, die belangrike lewenslesse wat ons by die makers geleer het, die wedersydse verstaan en ondersteuning tussen die betrokkenes.

Waarom het jy besluit om die rol as uitvoerende hoof van die Suidoosterfees aan te pak?

Ek is verlief op die kunste en het ’n feeshart. Kunstenaars is planmakers, hulle weet hoe om met ’n beperkte begroting en infrastruktuur iets uit niks te skep. Hulle sien uitdagings as geleenthede en daarvan is ek graag deel.

Sien jy uit na die uitdagings wat hierdie nuwe hoofstuk inhou?

Soos vroeër genoem is die kunste as bedryf een wat planne maak en uitdagings omskep in geleenthede. Ek sien geweldig uit om die “geleenthede” te ontwikkel en te ontgin.

Wat is jou verwagtinge van hierdie nuwe hoofstuk? Hoe beplan jy om die taak aan te pak?

Die Suidoosterfees het haarself al bewys as volwaardige fees binne die feeste-omgewing. Ek kan nie wag om daarop voort te bou nie. Die kundigheid onder die direksie en vorige feesbestuurders is van kardinale waarde en hulle ondersteuning en insig sal gereeld ingeroep roep. Daar is ’n goeie verhouding tussen die onderskeie feeste en ek sal ook nie skroom om by hulle om raad en leiding aan te klop nie.

Dink jy kunstefeeste speel ’n belangrike rol in die bevordering van die kunste en waarom?

Wanneer ons kyk na die term kuns, verwys dit na “die vaardigheid of bekwaamheid, besondere slag of gawe om iets te doen of tot stand te bring, die vermoë om wat in die gees lewe op so ’n wyse tot uitdrukking te bring dat dit ontroer, meeskep. Fees aan die ander kant beteken “’n plegtige of  ’n vreugdevolle herdenking van ’n gebeurtenis of ’n persoon, ’n geleentheid of ’n tydperk in die besonder gewy aan iets. ’n Byeenkoms vir gesellige verkeer, iets wat groot vreugde verskaf.”

Wanneer die twee terme saamgevoeg word tot kunstefees, is dit duidelik dat die woord verwys na ’n geleentheid waar kunsvaardighede ten toon gestel word. ’n Kunstefees staan dus primêr op twee bene, naamlik vaardigheid en geleentheid. Die sukses van ’n kunstefees hang grotendeels af van die wyse waarop ’n balans tussen die twee terme in die praktyk gehandhaaf word.

Ja, kunstefeeste speel ’n belangrike rol in die bevordering van kunste. Dit bied aan kunstenaars ’n platform om nuwe werk te skep en deel te wees van iets groters. Opkomende sterre kry die geleentheid om saam met gevestigde kunstenaars op te tree. Feesgangers word blootgestel aan ’n verskeidenheid van werk en kan in gesprek met die kunste en met mekaar tree. Geleenthede en finansiering binne die kunste-omgewing is min. Hier speel feeste dus ’n groot rol om werke van gehalte te skep. Dikwels word die rakleeftyd van produksies verleng danksy die mediadekking wat die fees en sy produksies ontvang.

Jana hoe beplan jy om jou eie stempel op die fees af te druk? Is daar spesifieke dinge of kwessies waarop jy wil fokus as die nuwe uitvoerende hoof?  

Romero Britto het gesê:  “Art is too important not to share.” Watter ongelooflike ruimte bied kunstefeeste nie om kuns te deel, ten toon te stel en te ontwikkel nie. Ek wil kuns met die wêreld deel!

’n Fees is groter as ’n individu en die Suidoosterfees druk reeds sy eie stempel af. Tog sien ek uit daarna om sekere afdelings by te bring en uit te bou. Martie Meiring het in die begindae van die Suidoosterfees gesê: “Die Suidooster se andersheid lê daarin dat dit as ‘t ware ’n uitnodiging is van die een deel van die Afrikaanssprekende wêreld aan die ander deel.”

Kortliks, wat is jou visie vir die Suidoosterfees?

Een van die redes hoekom ek vir die pos aansoek gedoen het, is omdat ek die fees se visie deel.

Die visie is soos volg: “Om die Kaapse Afrikaanse leefwêreld in sy volle verskeidenheid te vier en te ontwikkel; en om sosiale diversiteit en nasionale eenheid in en deur Afrikaans te beklemtoon en te bevorder.”

Ek sien uit daarna om die feesvisie na te streef en uit te bou deur ’n ruimte te skep waar ons saam kan feesvier rondom die kunste in al sy gedaantes, jong talent te ontgin, gehore te ontwikkel en ’n platform te skep waar ons met mekaar in gesprek kan tree. Ek glo kuns praat ’n taal wat ons almal verstaan.

Van waar jou liefde vir die kunste?

Vandat ek kan onthou het die kunste my opgewonde gemaak en was dit iets waarvan ek meer wou weet. Ek het as kind verskeie kunsvorms beoefen, klavier en blokfluit gespeel, aan koor, kuns en drama-klasse deelgeneem. Hoe ouer ek geraak het, hoe groter het die liefde geword. Om Vincent van Gogh aan te haal “I dream my painting and then I paint my dream.”

Die Suidoosterfees vind elke jaar tussen April en Mei plaas by die Kunstekaap-teater in Kaapstad.

  • Foto’s: verskaf 
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top