kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Jana Hattingh

  • 0

Die kykNET Fiëstas, wat vanjaar vir die eerste keer vooraf opgeneem is, vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste. Ten spyte van ’n uitdagende jaar, is daar besluit om steeds die kunste en kunstenaars te vereer. Hier is ’n lys van die wenners.

Persverklaring: Hier is die wenners van die 11de kykNET Fiëstas

Jana Hattingh

Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, het ’n Blou Fiësta-toekenning by vanjaar se kykNET Fiëstas ontvang. Sy praat met Naomi Meyer oor die toekenning.

Baie geluk met jou kykNET Fiësta-toekenning! Die ondenkbare het gebeur: hierdie virus. Hoe het die afgelope tyd se Covid-situasie jóú lewe en wêreld beïnvloed?

Ingrypend. Die kunste-industrie is een van die sektore wat die hardste geslaan is deur die pandemie-inperkings, des te meer die feeste. Byeenkomste, samesyn en optredes is ons kernbesigheid en ongelukkig is dit hoërisiko-aktiwiteite in terme van die verspreiding van die pandemie. Teatermakers en kunstenaars kry swaar, die onus rus op ons as administrateurs om planne te maak en geleenthede te skep. Planne verander weekliks soos die pandemie ontvou. Maar ten spyte hiervan – of te danke hieraan – blom kreatiwiteit, sinergie en spanwerk. 

Ek het jou pas oor die verwoestende effek van die Covid-maatreëls gevra. As die geld op is, is dit op. As die teaters leeg is, is daar niks. Nou vra ek jou oor alternatiewe en nuwe maniere van dink. Wat moes jy doen om te oorleef die afgelope tyd? En hoe sien jy ’n nuwe, of andersoortige, hibriede kunstewêreld?

Ons moes planne maak en weer planne maak en aanpas en buite die boks dink. Met die bloedsweet van verskeie rolspelers, borge, personeel, verskaffers en kunstenaars kon ons met ander opsies vorendag kom.

Ons het hande gevat met Atlantic Studios, Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Media24 en kykNET en die inryteater op die been gebring. Ons borge en direksie het ons ongelooflik ondersteun en ons kon ontwikkelingsprojekte dryf. Die NATi Jong Sterre-projek se teaterproduksies is byvoorbeeld binne die voorskrifte van die veiligheidsmaatreëls aangebied vir gehore van 50.

Buiten die ekonomiese impak op kunstenaars, is die inperkings dodelik vir kreatiwiteit, daarom het ons ook aanlyn projekte gedryf sodat kunstenaars uiting aan hul kreatiwiteit kon gee. Niks sal ooit die magiese effek van teater kan vervang nie. Alhoewel hibriede opsies die kunste vir ’n groter mark toeganklik gemaak het en beslis hier is om te bly, sien ons dit as ’n uitbou van ons aktiwiteite, eerder as die norm vir die toekoms.

Wat beteken ’n toekenning soos hierdie een vir jou juis in ’n tyd soos hierdie?

Ongelooflik baie. In ’n desperate situasie, waar oorlewingsplanne gemaak moet word, is die erkenning aan die fees en al die rolspelers van onskatbare waarde. Ons is dankbaar vir kykNET wat, te midde van die inperkings, steeds die kunste ondersteun en werk verskaf aan kunstenaars, tegnici en verskaffers.

Lees ook:

kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Cintaine Schutte

Suidoosterfees verwelkom nuwe uitvoerende hoof

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top