kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Cintaine Schutte

  • 0

Die kykNET Fiëstas, wat vanjaar vir die eerste keer vooraf opgeneem is, vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste. Ten spyte van ’n uitdagende jaar, is daar besluit om steeds die kunste en kunstenaars te vereer. Hier is ’n lys van die wenners.

Persverklaring: Hier is die wenners van die 11de kykNET Fiëstas

 

Cintaine Schutte

Die aktrise Cintaine Schutte het ’n Blou Sinjatuur-toekenning by vanjaar se kykNET Fiëstas ontvang. Sy praat met Naomi Meyer oor die toekenning.

Baie geluk met jou kykNET Fiësta-toekenning! Die ondenkbare het gebeur: hierdie virus. Hoe het die afgelope tyd se Covid-situasie jóú lewe en wêreld beïnvloed?

Baie dankie! Nog steeds ’n bietjie in skok, totaal en al oorweldig en verskriklik dankbaar! Natuurlik het die pandemiemaatreëls die mat onder ons industrie se voete geruk en ongelooflik baie moontlikhede en werksgeleenthede stopgesit. Maar dit het ons ook forseer om uit die boks uit te dink en bymekaar te staan, meer as ooit. Maar dit doen ons industrie nog altyd. Dit was net ontsettend hartseer om te sien hoe ons industrie aan die kort ent trek terwyl álmal in hierdie tyd na ’n boek, TV-reeks, films, musiek, podcasts ens gedraai het om hul gemoedere te lig. Dit was maar net ironies vir my. Dit het net meer as ooit bewys dat ons as mensdom stories nodig het, kuns nodig het, interaksie en kreatiewe energie – dis ons pols, dis ons hartklop. Ek het wel geleer ek is ongelooflik dankbaar dat ek ’n sterk netwerk van vriende, my familie en my man het na wie ek kon draai as dit te veel geraak het. Ek het myself beter leer ken en ek vermoed ek is ’n bietjie sterker as wat ek was. Die donker en lig het om my gedans, maar ek het moed gehou en positief gebly. 

Ek het jou pas oor die verwoestende effek van die Covid-maatreëls gevra. As die geld op is, is dit op. As die teaters leeg is, is daar niks. Nou vra ek jou oor alternatiewe en nuwe maniere van dink. Wat moes jy doen om te oorleef die afgelope tyd? En hoe sien jy ’n nuwe, of andersoortige, hibriede kunstewêreld?

Ek is dankbaar dat ek nog twee speelvakke van my eenvrouvertoning kon doen van Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver by die Hessequa Harmonie-fees sowel as by Die Boer in Durbanville, kortfilms kon skiet en deel van die Creative Curro Curious Kate-webreeks kon wees, RSG-werk kon doen. Maar meestal moes ek lysies in my kop maak hoe om mooi met my finansies te werk. Spaargeld wat ek sou spaar vir ’n “rainy day” moes ek gebruik, want as 2020 nie ’n rainy day (year) was nie, dan weet ek nie. 🙂 Ek het ook ’n roetine ontwikkel van meditasie, joga en in die yskoue Bakoven-see gaan spring – want dis gratis. Die wêreld van kuns vorentoe: Ons sal teater soos met die streeksrade na die mense toe moet bring; ons sal met “Covid-friendly”-konsepte vorendag moet kom om ’n spasie te skep om in te skiet, stories te vertel en kreatief te kan wees en uit ’n ontspanne plek dit te kan aanbied (want uit ’n ontspanne plek kan mens enige iets reg kry), nie net vir ons as kunstenaars en storievertellers nie, maar òok vir ons gehoor. Dit het al gebeur en is steeds besig om te gebeur. Nie genoeg nie, dink ek. Ons industrie is baie seer en ons kry nie die finansiële ondersteuning wat ons behoort te kry nie. Maar dit beteken nie dit gaan ons onderkry nie. Ons sal aanhou beweeg en geraas maak. 

Wat beteken ’n toekenning soos hierdie een vir jou juis in ’n tyd soos hierdie?

Eerstens was dit ’n ongelooflike verrassing. Ek het dit glad nie sien kom nie. Ek dink na ’n jaar soos dié moet elke kunstenaar so ’n toekenning kry. Want die toekenning beteken vir my: "You are still here, jy het dit gemaak, jy kan dit doen. Hou aan, moenie opgee nie, moenie perspektief verloor hoekom jy doen wat jy doen nie – dit is ’n eer om ’n storieverteller te kan wees" ... en daar is soveel kunstenaars wat dit hierdie jaar moes hoor. Maar ek waardeer dit ontsettend baie; dit het op ’n tyd gekom waar my gemoed maar baie laag was en my vlammetjie flou gebrand het. En om dit ook van die mooiste Anna-Mart te ontvang is iets wat ek vir ewig diep in my hart sal koester. 

Lees ook:

kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Jana Hattingh

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top