Persverklaring: Kort verhoogstukke beloof hoë-oktaan ervarings by Suidoosterfees

  • 0

Feesgangers wat vanjaar van 30 April tot 4 Mei hul jaarlikse dosis kuns by die Suidoosterfees in Kaapstad om kry, kan kies en keur uit ’n verskeidenheid kort, kragtige teaterproduksies. Kaartjies vir dié miniproduksies in die fees se Kort voor lank-programafdeling kos slegs R50.

Hierdie aanskoulike vertonings van 20 tot 30 minute is ideaal vir kunsliefhebbers wat topgehalte-afwisseling nodig het tussen langer produksies. NATi en die Johann Brink Trust maak dié program by die fees moontlik in genres soos musiek, dans, woordkuns en komedie.

Komedie

NATi, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief, sorg vir die kortkomedies Ouma & Bettie kook! en Kleedkamer.

Dean John Smith en Margit Meyer-Rödenbeck

Dean John Smith en Margit Meyer-Rödenbeck se twee skreeusnaakse personasies, Aunty Bettie en Ouma Magdaleen, gaan gehore laat skater in Ouma & Bettie kook! Dié twee beland saam agter die kospotte en soos verwag kan word, is die resultaat kort duskant histeries. Dié karakters is nie een op hul bek geval nie en het al ’n reuse gevolg by kunstefeeste opgebou.

Brendon Daniels is in Ferdinand Bekker se kortkomedie Kleedkamer, en lei feesgangers tot binne een van Kunstekaap se weggesteekte lokale wat as intieme teater vir dié produksie ingerig is. Gaerin Hauptfleisch is die regisseur van dié hoogs vermaaklike produksie.

Musiek

Frieda van den Heever en Dean Balie

In twee van die Kort voor lank-produksies verskyn bekendes saam op die verhoog vir ’n unieke musiekervaring. lse Klink en Anna Davel se stemme klink op in Davel & Klink in harmonie, en in Halfuur huis toe gaan Frieda van den Heever en Dean Balie feesgangers met hartsmusiek meevoer.

Hilton Schilder, een van die Kaap se geniale musikante, is die onderwerp van Lee-Ann van Rooi se kortproduksie, Part One: Pocket Rocket. In dié musiekteaterstuk maak feesgangers nader kennis met die baanbreker-komponis wat met 16 tradisionele musiekinstrumente kan toor en reeds 46 albums op sy kerfstok het.

Klassieke musiek word in twee kortproduksies verteenwoordig. In Viva Italia! An Operatic Songbook spog UCT Opera met hul beste nuwe stemme. Die sangafrigter en musiekregisseur Lisa Engelbrecht stel haar talentvolste operastudente aan gehore bekend met arias en ensembles soos “Casta Diva”, “Una Furtiva Lagrima” en “Con te partirò”. Karabo Rabaloi, Molly Dzangare, Thandolwethu Longo en Themba Mdlalose is in die kollig terwyl Lisa hulle op die klavier begelei.

Die gewilde Charl du Plessis Trio wat al vier SAMA-toekennings verower het, sorg vir ’n virtuose uitvoering in Charl du Plessis Trio: Swinging Classics. Dié driemanskap – Du Plessis, Werner Spies en Peter Auret – vertolk musiek van Bach, Beethoven, Mozart, Vivaldi, Dave Brubeck en Billy Joel in hul kenmerkende vermaaklike styl.

Dans

Die Kaapstadse Stadsballet, wêreldwyd bekend vir die diversiteit in hul repertoire, se kortproduksie Bite-size Ballet spog met ’n pragtige vermenging van klassieke en kontemporêre dansuitvoerings. Hulle span ook kragte saam met die Moederstad se Figure of 8-geselskap en die kitaar-maestro Mauritz Lotz in Wings of Light: Dance of an Angel. Lotz het die musiek vir dié produksie gekomponeer.

Wings of Light: Dance of an Angel

Thalia Alberts is die regisseur en choreograaf van Ode to Earth Worms, ’n aangrypende dansproduksie wat beskryf word as “’n apokaliptiese liefdesbrief”. In dié stuk beeld ’n groep professionele dansers ’n walviskarkas wat na die seebodem sak, uit.

Studente van die Waterfront-teaterskool kombineer dans met musiek en drama in hul kortproduksie Spotlight. Die jongelinge gaan met “hoë-oktaan choreografie en musiek met dramatiese storievertelling” wys waarom die teaterskool die regte tuiste is vir die ontwikkeling van hul talent.

Dans-aanbiedings word deur die Kaapstadse Stadsballet, Figure of 8 en die Waterfront-teaterskool na die fees gebring.

Die volledige Suidoosterfeesprogram is beskikbaar op suidoosterfees.com en kaartjies by Webtickets.

Die hoofborge van die fees is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

  • Foto’s verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top