Persverklaring: Semifinaliste vir Suidoosterfees se Talentsoektog aangewys

  • 0

Die semifinaliste van die Suidoosterfees se Talentsoektogprojek (Fotograaf: Gary Naidoo)

...
Die publiek kan die semifinaal op 15 Maart in Kaapstad gratis bywoon.
...

Semifinaliste van die Suidoosterfees se Talentsoektogkompetisie, wat meeding in sang, dans, rymklets en skerpskets-komedie, is pas aangewys. Dié talentvolle kandidate van regoor die Wes-Kaap neem op 15 Maart om 10:00 in die V&A Waterfront-amfiteater deel vir ’n plek in die finale ronde wat op 4 Mei tydens die Suidoosterfees plaasvind.

Die publiek kan die semifinaal op 15 Maart in Kaapstad gratis bywoon, en die kandidaat wat die meeste ondersteuning uit die gehoor ontvang, dring outomaties deur na die finaal.

Die semifinaliste het verlede jaar reeds vir die Talentsoektog ingeskryf, en hulle het sedertdien tussen uitdunne twee werkswinkels bygewoon waar hul vaardighede geslyp is. In November verlede jaar en Februarie vanjaar is kandidate deur die teatermaker Rafiek Mammon en Allison Hendricks, artistieke direkteur van die Dance for All-skool in Athlone, tydens slypsessies onder hande geneem.

Die finale ronde word op 4 Mei om 13:00 by die Suidoosterfees in Artscape gehou, waar die wenners aangekondig sal word. Dié geleentheid is ook gratis vir die publiek.

In die dans-afdeling van die Talentsoektog het die volgende deelnemers die semifinaal gehaal: Cara Anne Slabber, Lerato Mapfuno, Mieke Chrissie Carr, Shaela Heystek en Sorien Rossouw.

Belowende sangers wat deurgedring het is Chadwin Bagley, Chandré Matthee, Darryn Peterson, Frederico Fortuin, Kayla Pienaar, Liam Fredericks, Malakai Jooste, Nicole Chanel Hoofd-Simons, P.J. Durr, Saskia Dominique McDilling, Venessa Kraukamp en die sangpaar Izalde en Norihanna Sekoo.

Amateur-rymkletsers wat hul merk in die sang-kategorie gemaak het en as semifinaliste kwalifiseer is Ashton Rass, Bradwin Jonas, David Godfrey Collins, Jason Baartman, Manasse Gorgio Pienaar en Nashiefa Jappie.

Elizabeth Marais is die enigste kandidaat wat in die skerpskets-komedie-afdeling as semifinalis gekwalifiseer het.

Die algehele wenner, wat tydens die Suidoosterfees aangewys word, ontvang prysgeld van R10 000 en sal genooi word vir ’n gasverskyning in kykNET se gewilde sepie Suidooster. Die belowendste danser wat deelneem, kwalifiseer vir ’n beurs om vir ’n jaar te studeer aan Dance for All. Naaswenners kry ook kontantpryse.

Gerrie Lemmer van die ATKV, wat die Talentsoektog-projek ondersteun, sê: “Dit is vir die ATKV kernbelangrik om in jongmense te belê. Ons wil vir hulle ’n platform gee om hul kreatiwiteit uit te leef.

“Ons glo dat wanneer ’n mens in jouself belê, is jy ook beter daartoe in staat om ’n verskil in ander se lewe te maak. Deur ons belegging in jongmense kry ons die geleentheid om ook deel te hê aan ’n suksesvolle Suid-Afrika.”

Die Talentsoektog word ondersteun deur die ATKV, kykNET se Suidooster, Dance for All, die WKOD, en die Kaapse gemeenskapspublikasies City Vision, People’s Post en TygerBurger.

Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top