"Oor monnemente gepraat": ’n resensie van Klein konings deur Theo Kemp

  • 0

Klein konings
Theo Kemp
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485316008 

In ’n tydvak waarin amper elke tweede Afrikaanse roman wat gepubliseer word, ’n krimi is (en daar is niks verkeerd met hierdie genre nie) is dit verfrissend om ’n roman te lees wat so aktueel en besinnend van aard is soos Theo Kemp se Klein konings. Op 24 September vier Suid-Afrikaners jaarliks Erfenisdag – ’n openbare vakansiedag wat merendeels as onsinnig afgemaak word en waar die meeste Suid-Afrikaners net te dankbaar is vir ’n dag van rus (en dalk braai).

Tydens die mees onlangse viering van Erfenisdag kondig die adjunkpresident, Paul Mashatile, in ’n openbare rede aan dat dit noodsaaklik is om erfenisinstellings te herevalueer. Terselfdertyd toer ’n replika van die eertydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), Paul Kruger, se standbeeld wat op Kerkplein omhein staan, deur die noorde van die land. Die eindbestemming is Orania. In Mpumalanga maak die EFF-LPW, Rhulani Qhibi, voorbrand vir ’n naamsverandering van die Kruger Nasionale Park na Skukuza Nasionale Park. Die kersie op die spreekwoordelike koek is die onlangse dood van wyle Nathi Mthethwa, voormalige minister van sport, kuns en kultuur in onderskeidelik die Zuma- en Ramaphosa-kabinette vanaf 2014–2023, boonop onder verdagte omstandighede. So lei al hierdie toevallighede my terug na Theo Kemp se nuutste roman, Klein konings.

Monumente, erfenis en kultuur is ’n teer onderwerp wat gereeld onmin tussen ras- en kulturele groeperinge in Suid-Afrika saai. Ongemaklike (dóg broodnodige) gesprekke oor wat om met ’n komplekse geskiedenis van ’n land soos Suid-Afrika te maak, word gereeld langs einste braaivleisvure, in koerante se briewekolomme en op sosiale media-platforms gevoer. Politici gebruik hierdie kulturele simbole en komplekse geskiedenis as politieke speelbal om kiesers te werf en verskillende politieke ideologieë en agendas te bevorder. Dit alles geskied terwyl kuratore van museums regoor die lengte en breedte van Suid-Afrika moet toekyk hoe museums se dakke lek, monumente met onkruid en graffiti “herverbeel” word en standbeelde stuk-stuk vir skrootmetaal weggedra word om vir ’n snytjie brood of babadoeke te betaal. Ongeag of ’n monument opgerig is vir perde wat in die Anglo Boereoorlog gesterf het of ’n post-1994-monument ter ere van Saartjie Baartman – niks word ontsien nie. Dit is die realiteit van Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis. Die verlede en hede word beide deur boewe met minagting bejeën.

Klein konings vertel die verhaal van Pixley en Joubert. Beide werk vir die Departement van Sport, Kuns en Kultuur en word deur die Minister aangestel om ’n inventaris op te stel van monumente en beelde wat voor 1994 opgerig is. Die Minister is van plan om al die apartheid- en koloniale standbeelde en monumente na ’n “nasieboupark” te verskuif. Hierdie opdrag vanaf die fiktiewe Minister stel ten doel om nasiebou deur middel van transformasie te bespoedig. Comrade Pixley (vernoem na die eerste leier van die ANC, Pixley ka Seme) en sy boekhouer–kollega, Joubert (vernoem na generaal Piet Joubert), moet die land deurkruis om die Minister se lys so spoedig moontlik saam te stel. Die Minister benodig die verslag met aanbevelings op dringende basis, aangesien die staatspresident ’n aankondiging tydens sy staatsrede wil maak. Die politieke druk is enorm. Pixley wil nie die Minister teleurstel nie en verbeel sy blink toekoms in die staatsdiens, terwyl Joubert kopkrap waarom hy in sy kapasiteit as ’n departementele boekhouer monumente moet gaan soek.

Pixley en Joubert se reis neem hulle na verskeie uithoeke van die land. Kemp maak van hierdie reis gebruik om twee belangrike temas in te lui, naamlik manlikheid en verganklikheid. Alhoewel die soeke na die monumente (of “Boerebeelde” soos die Minister daarna verwys) en die gesprekke wat daaroor gevoer word as impetus vir die intrige dien, word die hoofkarakters se onderskeie kulture en persoonlikhede onder die verbeelde vergrootglas geplaas. Beide Pixley en Joubert het traumatiese kinderjare beleef. In dié opsig is die verlies van onderskeidelik ’n geliefde broer en moeder ’n sentrale gebeurtenis wat elke karakter se lewenspad beïnvloed. Kemp se verkenning van die karakters se kinderjare geskied op eerlike, pretensielose wyse. Geen spreekwoordelike heilige koeie word in die opsig ontsien nie. Kemp durf om vrae te vra en menings deur die verskeidenheid karakters te lug wat die meeste Suid-Afrikaners slegs met nabye kennisse, vriende of familie agter geslote deure sal bespreek.

As speurende, kritiese leser is daar altyd die drang om te wil bepaal of ’n aktuele roman soos Klein konings poog om ’n skrywer se ideologiese uitkyk deur middel van die karakters te verkondig. Dit is juis dié aspek wat hierdie roman laat slaag. Kemp gaan deurgaans vernuftig te werk om ’n gebalanseerde perspektief vanuit verskeie gesigspunte aan die leser te bied. In ’n era van sogenaamde kanselleerkultuur kan ’n skrywer moontlik sy of haar skrywersloopbaan op die spel plaas om menings oor gewaagde en kontroversiële onderwerpe soos pre-1994-monumente, die koloniale en apartheidsgeskiedenis in die Suid-Afrikaanse konteks, ras, geslag, seksuele oriëntasie, of politieke ideologie uit te spreek. Klein konings bied in dié opsig ’n tuiste vir vele stemme deur middel van die uiteenlopende karakters.

Kemp se humor is vlymskerp. Ten spyte van gewigtige temas, kan die leser nie anders as om die humor in sekere situasies en dialoog in die konteks van die roman te waardeer nie. Met verwysing na Krugerplein, merk Joubert op:

Oom Paul se granietbeeld is van oorsee ingeskeep en het vir jare in Lourenço Marques gelê voor dit hier opgerig is. [...] Nou staan hulle hier vir die dol duiwe om te bekak (20).

In ’n latere gesprek met Pixley merk Joubert op:

Dit is hoog tyd dat Vryheidspark op datum gebring word met artefakte van ná 1994. Koeëldoppies van Marikana, die argiteksplanne van Nkandla se vuurpoel, videomateriaal van die brandende parlement, uitsendings van die Zondo-kommissie, ’n oorblywende spoorlyn, ’n SAL-vliegtuigvlerk, die plundertog in KwaZulu-Natal se winkelsentrums – veral die man wat ’n dildo gebuit het (55).

Ten spyte van laasgenoemde (in sekere gevalle tragiese gebeure), dien dit as voorbeeld van die eerlikheid waarmee daar vanuit verskillende karakters se perspektief oor aspekte soos monumente gewroeg word. Geen preutsheid is hier te bespied nie en die verwysings na die seksuele laat soms min aan die verbeelding oor.

Aan die einde van hierdie literêre reis kom die leser tot die gevolgtrekking dat Suid-Afrikaners van teenoorgestelde pole meer gemeen het as die verskille wat groeperinge op sosio-politieke vlak verdeel. In dié opsig is Pixley se katarsis openbarend. Pixley en Joubert se omswerwinge het hul daadwerklik laat herbesin oor die toekoms van Suid-Afrika en die ware betekenis van wat dit verg om ’n “nasie te bou”.

Kemp is nie prekerig nie en dwing geen standpunt op sy leser af nie. Elke leser is in staat om sy of haar eie geleefde ervaring deur middel van een van die vele karakters te beleef: Daar is Malaika, oftewel “Memory”, ’n jong vrou wat die Rwandese volksmoord van 1994 oorleef het. Freddy is ’n gay rent boy van Zanzibar en is op soek na ’n beter lewe in Suid-Afrika. Hy droom daarvan om sy eie dansskool te open. Joubert se pa, Piet Pompies, ’n eertydse bywoner wat water op plase aangewys het, moet sy stryd teen kanker, asook die spoke van die verlede trotseer. Terwyl Rina (oftewel Nomvula) haar verfynde seun, Danny, teen die aanslae van die wêreld probeer beskerm, moet Alet haar pa se verwerping verwerk om haar passie as medium uit te leef. Kemp gee myns insiens aan elke karakter ’n eie “stem” wat op geslaagde wyse deur die verloop van die roman “gehoor” word.

Die intriges is dig verweef en die karakters word outentiek uitgebeeld. Weens die komplekse aard van die tematiek en die verskeidenheid karakters, is dit moontlik dat die skrywer van kulturele appropriasie beskuldig kan word. In die konteks van die roman sal kritici twee keer oor hierdie tameletjie moet besin. Indien skrywers nie aan hul kreatiwiteit ten opsigte van karakterisering in literêre tekste kan uiting gee nie, is die letterkunde as genre helaas verdoem. Wat gebeur met kinder- en jeugliteratuur? Mag ’n dertigjarige man vanuit ’n sestienjarige skoolmeisie se perspektief skryf? Soos ’n fiktiewe uitgewer in die slothoofstuk teenoor Pixley opmerk: “Maar dis jou storie, nie myne nie. Wat is dit wat jy wil sê?” (240). In Klein konings word Suid-Afrika, asook Suid-Afrikaners se stories krities verken – verskille en al. Almal kry ’n spreekbeurt.

Kemp se gebruik van dagboekinskrywings wat in die derdepersoon geskryf is, bied ’n veel ernstiger blik op Suid-Afrikaners se gedeelde verlede. Onregte van die verlede word tot op die been oopgekloof. Weer eens is die inskrywings van allerlei aard. Vele perspektiewe kom aan bod. Geen enkele party se geskiedenis word óf bevoordeel óf benadeel nie. Die verteller spreek geen oordeel uit nie. Die inskrywings dwing die leser as sulks om te besin oor ons gedeelde (en verdeelde) verlede. Nie soseer om te oordeel of veroordeel nie, maar om te verstaan wat ons mede-Suid-Afrikaners beleef het. Om te verstaan en gesprekke te voer oor die verlede bring mense nader aan mekaar. In dié opsig is Pixley en Joubert se karakters ’n stawende voorbeeld.

Ten slotte was Pixley en Joubert se reis nie soseer om hul verslag vir die Minister-met-agendas te skryf nie, maar om gestalte te gee aan diepgewortelde sosio-politieke vraagstukke waarmee Suid-Afrikaners steeds na 30 jaar van ’n demokratiese bestel worstel. Klein konings is ’n roman wat elke leser tot nadenke sal stem. Die leser word gedwing om met ’n breër perspektief na sy of haar medemens te kyk. Is daar dus ’n antwoord of “oplossing” vir die uitdagende vrae rondom ons diep verdeelde verlede? In dié opsig moet die leser self besluit. Die verrassende slot, boeiende intriges en onverwagse wendinge dra by tot ’n roman wat nie ongesiens mag verbygaan nie. Klein konings is vernuftig geskryf en lewer ’n welkome bydrae tot die aktuele roman in Afrikaans. Om Kemp se Klein konings in een woord op te som: majestueus.

Nota:

Die aanhaling in die titel van die resensie is uit Peter Blum se gedig “Van monnemente gepraat” in sy bundel Van steenbok tot poolsee. (Blum, P. 1955. Van steenbok tot poolsee. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.)

Lees ook:

Klein konings: ’n onderhoud met Theo Kemp

Boekbekendstelling van Theo Kemp se Klein konings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top