My jaar van vrees en vryheid deur Marita van der Vyver: ’n resensie

  • 0

Titel: My jaar van vrees en vryheid
Skrywer: Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg (Augustus, 2025)
ISBN: 9780624095682
Epub ISBN: 9780624095699

Marita van der Vyver se boek is veel meer as ’n reisboek – dis ’n besinning oor die lewe en oor hoe ons leef, skryf Ilse Salzwedel.

........
Die eerste keer dat ek op sosiale media gesien het dat Marita van der Vyver en haar Fransman, Alain Claisse, begin regmaak vir wat sy beskryf het as ’n “geriatriese gap year”, was my belangstelling geprikkel. Het ons nie maar almal so ’n droom nie? Eendag gaan ek dit ook waag, het ek by myself gedink ...
........

Die eerste keer dat ek op sosiale media gesien het dat Marita van der Vyver en haar Fransman, Alain Claisse, begin regmaak vir wat sy beskryf het as ’n “geriatriese gap year”, was my belangstelling geprikkel. Het ons nie maar almal so ’n droom nie? Eendag gaan ek dit ook waag, het ek by myself gedink ...

Ek het nie hulle reis van dag tot dag gevolg nie, maar wanneer ek wel die slag een van haar plasings gesien het, het die foto’s my altyd opgeval. Maar, soos ons almal maar te goed weet, vertel foto’s en sosiale media maar net ’n deel van die storie. Gewoonlik ook die meer glansryke en “volmaakte” deel. Eers met die lees van My jaar van vrees en vryheid besef jy presies hoe lewensveranderend hierdie brugjaar was wat die twee nomade na drie vastelande (en ’n Griekse eiland) geneem het.

Hul reis begin op 1 September 2021 – ’n simboliese dag, maak nie saak waar jy jou in die wêreld bevind nie. Vir Suid-Afrikaners is dit die begin van die lente, en vir die Franse begin ’n nuwe skooljaar – dus, ’n nuwe begin.

Vir die egpaar Claisse is dit ’n broodnodige, maar gedwonge nuwe begin. ’n Kombinasie van die finansiële stres wat die Covid-pandemie veroorsaak het, Alain se vroeër-as-beplande aftrede en onverwagte stryd met depressie en verslawing, en die feit dat hulle jongste kind amptelik die nes verlaat het, laat hulle besluit om hul groot huis op die Franse platteland te verkoop. Daarmee saam is daar spanning in die huwelik, en onsekerheid oor die waar en hoe van ’n nuwe lewensfase laat hulle besef dat dit die ideale tyd is om ’n lang reis aan te pak.

........

Maar hieroor is hulle van meet af aan realisties: “Ons vlug nie van ons probleme nie – ons vat dit saam in die oorlaaide kar.”

........

Maar hieroor is hulle van meet af aan realisties: “Ons vlug nie van ons probleme nie – ons vat dit saam in die oorlaaide kar.”

Dis ’n vreesaanjaende gedagte, maar hulle troos hulself met dié woorde uit die rolprent Nomadland:

Not homeless. Houseless ... Daar is ’n groot verskil. Jou tuiste is immers veronderstel om te wees waar jou hart ook al is, en vir die voorsienbare toekoms lê ons hart op die langpad, uitgestrek oor die wêreldkaart, kloppend van opgewondenheid oor onbekende plekname, bonsend van vrees om uit ons gemaksone gedryf te word. Bowenal aan die brand van nuuskierigheid oor waarheen die wind ons gaan waai.

Eers oefen hulle hul reisspiere deur ’n kort reis na verskillende dele van Europa: eers ’n reis via die Franse platteland na Switserland en verskillende dele van Frankryk om hul kinders en familie te gaan groet. Daarna volg Italië en Griekeland, die Griekse eiland Lesbos, en dan die grote: die VSA. Laaste op die toerplan is ’n uitgebreide kuier in Suid-Afrika sodat Alain sy vrou se geboorteland werklik kan leer ken.

Teen hierdie tyd weet Van der Vyver al iets van ’n reisjaar – dis immers haar derde keer. (Die eerste was direk na universiteit en die tweede as enkelma met ’n klein seuntjie wat Europa wil verken. Dis ook in hierdie jaar dat sy haar hart op Alain en sy Frankryk verloor het.) Maar hierdie keer, sonder die rooskleurige lense wat mens so maklik in jou jeug en selfs op amper 40 kan flous, is daar nie net vryheid ter sprake nie. Want “vryheid se skadukant is vrees”, en dit kom saam met die ouderdom ingesluip. Daar is talle dinge om oor bekommerd te wees – wat as hulle kinders of ander familielede iets oorkom? Sê nou hulle huwelik oorleef nie die dag en nag se saamreis nie? En hoe gemaak as jy ernstig siek word ver van die huis af? Sy beskryf die reis met die wegspring as “angswekkend én vreesaanjaend”, en ’n jaar wat haar “meer bewus as ooit van [haar] eie weerloosheid maak”.

Maar hoe verder mens lees, hoe duideliker word die terapeutiese waarde van losmaak, agterlaat, ligter leef en vorentoe kyk van hierdie sloertoer. Die “road less travelled” word op ’n emosionele sowel as ’n fisieke vlak ’n mantra. Agterpaadjies met ’n uitsig – of, nog beter – ’n piekniekplek kry voorkeur bo ’n snelweg, al neem dit ook twee of drie maal so lank om by ’n bestemming uit te kom. Soms word die roete vooraf beplan, en ’n keer of drie kan dit toegeskryf word aan hul self-erkende rigtingloosheid. Maar elke dag op die langpad in die vreemde bring nuwe gewaarwordinge, en die afstand doen van nog ’n stukkie emosionele bagasie.

Want die reis, skryf sy, “torring herinneringe los wat so diep in jou vasgestik is dat jy heeltemal vergeet het, ’n onbekende omgewing jou vang, en eensklaps voel jy skoon rafelrig van onthou”.

In die skrywer se eie woorde:

Hierdie swerftog, ontdekkingstog, soektog, wat jy dit ook al wil noem, word al hoe meer ’n reis na aanvaarding van alles wat ek nie kan beheer nie. Ek wil nie langer wroeg oor wat ek verloor het nie, ek wil eerder waardeer wat ek nog het. Ek wil my laat meesleur deur toeval, soos deur ’n seestroom wanneer jy bang is jy gaan verdrink. Ek wil ophou spartel en vertrou dat die stroom my een of ander tyd weer op ’n veilige strand gaan uitspoel.

Dat die stroom hulle uitspoeg op ’n veilige strand, gebeur wel – maar eers is daar ’n klomp bestemmings om te beleef. Maar moenie ’n Lonely planet-gids met tien-dinge-om-te-doen-per-bestemming verwag nie.

........
Verwag eerder ’n besinning, ’n meditasie oor die fisieke sowel as die binnereis wat die twee sestigplussers beleef het.
........

Verwag eerder ’n besinning, ’n meditasie oor die fisieke sowel as die binnereis wat die twee sestigplussers beleef het. Jy sien die wêreld en sy dikwels vreemde mense deur hulle oë, herbesoek die geskiedenis en die letterkunde, verken die kos, proe die wyn. Daarom was dit nie vir my die soort boek wat mens binne ’n paar uur kan verslind nie – dis eerder ’n boek om met ’n notaboek langs jou te lees, en met Google oop, gereed om te gaan kyk hoe lyk die plek en die kos/kuns/monumente van die streek. Daar is baie om oor na te dink: aanhalings van ander skrywers (nie net reisskrywers nie), en hul belewenis van die besienswaardighede, monumente, kunsgalerye en selfs slagvelde oral op die roete. Selfs die vervoermiddels word ingeweef in die storie – aanvanklik is dit ’n Renault Kangoo wat al beter dae gesien het, en in die VSA is dit ’n kampeerwa genaamd Aloha (“die grootste, hoogste, langste voertuig wat ons nog ooit moes bestuur”). Daar is ook ’n oornagvaart per veerboot oor ’n yskoue Adriatiese See tussen Italië en Griekeland (en later tussen Athene en die eiland Lesbos), en ’n reis met die beroemde (of is dit berugte?) Greyhound-busse wat figureer in soveel Amerikaanse rolprente. Terloops, die busse is maar een van die talle rolprentverwysings in die boek – die VSA is immers ’n land wat die meeste van ons net deur rolprente en televisiereekse ken.

Foto: Marita van der Vyver se persoonlike Facebook-blad

En wat is ’n reis nou sonder kos en musiek? Van der Vyver skryf oor albei, en as bonus kan jy ook danksy ’n Spotify-speellys luister na die musiek waarna hulle tydens die reis geluister het. ’n Klankbaan vir die teks, as’t ware.

My jaar van vrees en vryheid het my laat nadink oor die dolle gejaag van ons daaglikse bestaan. Want is die rotteresies, waarin ons ewige soeke na méér en beter ons almal vasvang, werklik die enigste manier om te leef? En hoewel die kans om oor te begin “’n angswekkende vorm van vryheid is”, is oor begin moontlik, selfs as jy aan die verkeerde kant van 60 is. Ons bewandel hierdie ondermaanse immers net eenmaal.

En hoekom raak ons so verknog aan die vier mure wat ons huis noem? Of is die Amerikaanse skrywer James Baldwin reg wanneer hy skryf: “Perhaps home is not a place, but simply an irrevocable condition.”

Dis ’n boek vir die swerwers onder ons, maar ook lekker leesstof vir leunstoelreisigers en liefhebbers van letterkunde, rolprente, musiek en kuns.

  • Marita van der Vyver het aanvanklik rubrieke op LitNet oor hierdie reisjaar geskryf en dit het ’n paar jaar gelede verskyn. Haar "’n Swerfjaar vir seniors"-rubrieke op LitNet was die wegspringpunt vir die boek My jaar van vrees en vryheid

Lees ook:

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering twee: Wees gereed om verras te word

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

Swerfjaar vir seniors, aflewering vier: Watter fliek was dit nou weer?

Swerfjaar vir seniors, aflewering vyf: ’n Road trip is nie dieselfde as ’n motortoer nie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top