Kolam
Fourie Botha
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485316046
In hierdie nuwe “Oop boek”-reeks gesels Karen de Wet met skrywers.
Fourie Botha, uitgewer en digter, en ook gewaardeerde mentor en aanbieder van skryfwerkswinkels, soos by die Paulet Huis vir Jakes Gerwel-skrywersresidensies sedert 2023, is eerste aan die woord.
Karen gesels met hom oor sy derde digbundel Kolam (Protea Boekhuis).
1

Fourie Botha (foto: Karina Conradie)
Fourie, jy is ’n uitgewer met ’n indrukwekkende rekord van publikasielyste vol pryswenners en gelyklopende publikasies in Engels en Afrikaans, veral by Umuzi en Penguin Random House. Melt Myburgh se onderhoud met jou in 2020 vertel ’n stukkie van daardie geskiedenis. In daardie selfde tyd het jy twee digbundels geskryf: Jou digdebuut, Donkerkamer (2011) en Krap uit die see (2017). Nou het jy dit weer gedoen: Aan die einde van 2025 verskyn Bitterkomix se omvattende koffietafelboek by Painted Dog Press, jou splinternuwe en baie opwindende onafhanklike klein uitgewery. Baie geluk! Terselfdertyd, en nog ’n baie geluk daarvoor, verskyn Kolam by Protea Boekhuis – jou derde digbundel.
Hoe sit jy op beide stoele?
Soms wankelrig! Maar die twee wêrelde waarin ek leef, voed mekaar. Dit is vir ’n uitgewer leersaam om te sien hoe moeilik en frustrerend, hoe straightforward antagonisties, die uitgewerswese vir skrywers, veral vir digters, kan wees. Dit moedig jou aan om ’n beter uitgewer te wees. Die uitgewer sit ongemaklik tussen die skrywer en die uitgewery. Op die een enkelmatras is die skrywer; op die ander matras is die uitgewery; en jy lê op die gleuf in die middel. Saam met die skrywer werk jy aan die boek as kultuurobjek; saam met die uitgewery aan dieselfde boek as ekonomiese produk.
........
Die uitgewer sit ongemaklik tussen die skrywer en die uitgewery. Op die een enkelmatras is die skrywer; op die ander matras is die uitgewery; en jy lê op die gleuf in die middel. Saam met die skrywer werk jy aan die boek as kultuurobjek; saam met die uitgewery aan dieselfde boek as ekonomiese produk.
.........
Die meeste digkuns is van negatiewe ekonomiese betekenis, nes die essay. So skryf Imraan Coovadia in “Against the book”, sy inleiding in sy versameling essays, Transformations (2012). ’n Digter wat in ’n uitgewershuis werk, is soos ’n Marxis op die direksie van ’n hedge fund. Dit is ’n ambivalente holte vol ironieë, en ironie spoor my dikwels aan om te dig.
2
Om uit te kom by jou derde digbundel: Daar word redelik, hier ter plaatse en eintlik maar oraloor, aandag bestee aan digters se tweede digbundel, asof dit ’n aanduiding sou moes gee dat die debuut nie ’n vloekskoot was, of ’n eendagsvliegie nie. In die Afrikaanse poësie begin dit mens opval dat digters wat derde bundels publiseer, as’t ware deur nog ’n grens breek. Selfs moontlik ernstiger opgeneem word as digters. Natuurlik nou nie sonder uitsondering nie, maar die voorbeelde is daar.
Hoe dink jy, voel jy, hieroor? Is dit waar dat die doelpale skuif, dat digters hulleself met hul debute moet aankondig en bewys, en weer met die tweede bundel, en weer met die derde bundel? Of is dit maar die verloop van ’n digterskap: van die een na die volgende bundel? In al jou bundels is dit duidelik dat ’n vaardige digter aan die woord is. Is jy nou ’n bewese digter, ’n meer ervare digter? Is dit belangrik?
Ek stem hiermee saam. Miskien werk dit ’n bietjie soos ’n vryery: Die eerste ronde is die opwindendste. Die debuutdigter is onbekend, nuut op die toneel, ’n sappige perske, en ook so jonk as wat hy ooit weer sal wees. (Gaan kyk maar na die foto van Breyten Breytenbach op ’n trein of bus, met Yolande teen sy skouer aangeleun, op Klyntji se webwerf. Soos Elodi Troskie haar plasing begin: Jy’s welkom!) In die gange van uitgewerye word boek twee meestal met moedeloosheid benader. Nou is die verkoopsyfers van die debuut bekend en daar is iets tweedehands aan die digter.
’n Klein deurbraak is dalk dat ek met die derde boek nie meer as “’n jong digter” beskryf word nie; nou kry die “jong” aanhalingstekens, so: “’n ‘jong’ digter”.
Die swaard van “digterlike ontwikkeling” sny beide kante toe. As digter wil jy miskien iets nuuts probeer; as leser hou jy aan lees aan jou gunstelinge, júis omdat jy hoop hulle gee jou dit waarvan jy in hul vorige werk gehou het.
Daar is ook niks verkeerd met die one-night stand van ’n eendagsvliegie nie, hoor! ’n Vloekskoot kan ’n gelukskoot wees.
3
Jou bundel het ’n uitsonderlike en baie spesifieke titel. ’n Aandagtrekker, en iets, kan mens jou indink, wat lesers laat woordeboeke nadertrek, Wikipedia, webblaaiers en KI-opsommers laat raadpleeg – selfs dié wat die woord ken, maar die geskiedenis en nuanses en betekenismoontlikhede in meer besonderhede wil nagaan.
Waarom Kolam? Hoe het dit gekom, waarom het jy hierdie titel, die betekenis en assosiasies van hierdie woord, vir jou derde bundel gekies? ’n Ingewing? ’n Belangstelling? ’n Kennismaking tydens jou reise? ’n Metaforiese sleutel? Bygesê: Mens lees die titel, kry ’n beeld, en voel dan effens gefnuik – want die omslagontwerp (deur Hanli Deysel vir Protea) is dan nié ’n rys(meel)patroon nie?
Die titel het gekom toe die drukpers al wou begin rol, en sonder ’n titel kan jy nie ’n omslag laat ontwerp nie. Lesers en redakteurs het nie van my werkstitels gehou nie. Vir lank was die titel Hoekig. Ek wou dit ook in ’n stadium Steierwerk doop, maar redakteur Joan-Mari Barendse het my vader dank herinner Louis Esterhuizen het dit onlangs as ’n ’n afdelinghoof gebruik.
Die keuse van daardie afdelingstitel in Klaarte (Esterhuizen se bundel van 2025) het my ook opgeval – omdat hy dit al vroeër in sy oeuvre, in Die stilte van glas uit 2020, ook as ’n afdelingtitel gebruik het en dit heelwat aandag in die resepsie gekry het. Steierwerk roep ook die titel en metaforiek op van Daniel Hugo (2015) se bundel Takelwerk (https://www.litnet.co.za/resensie-takelwerk-deur-daniel-hugo) waar resensente noodwendig die verband met Opperman (1947:28) se “Digter” opgemerk het.i
Die ars poëtikale metafoor in “Digter” kan struktuur beskryf wat opgebou word in vers en uitbrei na afdeling en bundel:
... deur die smal poort
van die wonder elke woord
[te] laat skik tot klein stellasies vers
wat groei tot boeg en mas
en takelwerk.
Waar Hugo en Esterhuizen se poëtikas in die onderskeie bundels hierop reageer, het Antjie Krog haar in “Die skryfproses, as sonnet” (Otters in bronslaai, 1981:35) bewustelik teen “konstellasies vers” verset. Mens kan die aandag aan verstegniese versorging in jou bundels nie ignoreer nie, maar vroeg in die bundel is die aanduiding al daar dat “stelte/stellasies” “versit” moet word.
Dus: Toe nie Steierwerk nie?
Ja, toe kom Kolam. ’n Ander soort merk wat gelaat word voor die ingange van geboue in Indië. In ’n wêreld waar alles opgeskryf staan, is dit ’n uitdrukkingswyse wat my aangryp. Met die titel uiteindelik vasgemaak, was daar ’n klomp voorbladvoorstelle. En uitgewer Fourie Botha wat veels te veel te sê gehad het oor wat die beeld op die voorblad moet wees. Joan-Mari en ontwerper Hanli Deysel was wonderlik tegemoetkomend. Hanli het ’n beeld gekry wat argitektonies gelees kan word en wat wys die titel metaforiseer. Toe werk die omslag soos ’n gedig werk.
4
In Kolam is argitekte en argitektuur, kuns en kunstenaars, digters en gedigte, reise en reisigers, en veranderende plekke (huise, wonings, slopings) deel van die bundel se draadwerk, bedrading. Sou mens boustof wou sê?
Dig jy oor jou belangstellings? Dig mens noodwendig oor jou belangstellings?
Belangstellings verskaf die boustof, ja, maar die gedig slaan sy eie koers in. Jy kyk of jy ’n beeld met ’n tema kan verbind. As jy belangstel in kuns, gaan jy ’n ekfrastiese gedig wil skryf. Argitektuur werk anders. Dit val my op dat ’n mens veel harder moet soek na skryfwerk oor spesifieke argitektuur as na skryfwerk oor kunswerke. Argitektuur is ’n members-only gentlemen’s club wat jou nie toelaat om by hul kroeg te sit nie. Ivan Vladislavić herinner ons iewers aan die feit dat jy nie letterkunde kan beskryf sonder die woorde van argitektuur nie. Jy praat van ’n werk se ruimte en struktuur; groot werke word as “monumentaal” beskryf; die woord stanza kom van die Latyn vir kamer; epigrawe kry jy op monumente en voorin boeke. Die skryfproses, sê Margaret Atwood in haar boek Negotiating with the dead (2002), is soos om jou weg deur ’n donker kamer te probeer vind.
5
Ek kan dit nie verhelp om aan jou debuutbundel Donkerkamer te dink nie! Ook in Krap uit die see is die krap se huis, en daarom die kamer of boumotief, baie voorop. Beide jou vorige bundels staan ook in die teken van ’n knap en interessante hantering van struktuur. In Kolam is daar twee motto’s: ’n bundelmotto en ’n afdelingmotto, benewens die motto’s by gedigte wat blyke gee van wat mens in die bundel te wagte kan wees. Die argitek Keith Mitnick word aangehaal oor onsekerheid, outentiekheid, of egtheid soos wat dit teenoor nabootsing, of kunsmatigheid (“fake”) gestel kan word.
Interessant dan dat Kolam ook twee programgedigte (kyk https://versindaba.co.za/2023/07/24/joan-hambidge-bundelverband) aanbied: “/Beenwerk/” en “/Windswaels/”. Miskien ’n raam vir die bundel, ’n rigtingwyser by ’n naamlose skildery, ’n ingangsportaal tot die gedigte?
Wil jy uitbrei oor Kolam en bundelstruktuur?
In my kop spiraal ’n trap om die gedig “Study in grey, Michel McMillan, 1963” wat deur die bundel strek. Die bundel se motto’s is ’n sleutel. Die spel wat Keith Mitnick in sy boek Artificial light (2008) speel, wil ek nie nou al verklap nie, maar dit het te make met die verwringing van die ekfrastiese, ook betekenis in die algemeen. Wat maak van gebou gebou en gedig gedig? En hoe bepaal jy die waarde – goed of sleg? Wat maak van ’n gebou ’n mislukking? Wat laat ’n gedig sneuwel? Sean O’Toole het in 2004 ’n fantastiese artikel oor die lewensloop van Roelof Uytenbogaardt se Werdmuller-sentrum in Kaapstad vir Mail&Guardian geskryf. Die indrukwekkende uitgewer David Philip se kantoor was daar en sy werksmense het ook baie te sê oor ’n gebou waaroor argitekte ure lank kan kibbel.
Die programgedigte sê iets oor die begeerte om jou uit strukture los te wikkel. Hoe gebruik jy struktuur om daarvan te ontsnap, “om die rame af te takel”, soos “/Beenwerk/” sê? Die ironie dat die bundel so gestruktureerd is, ontgaan my nie. Dit is die dubbelspel van die ding genaamd poësie wat ons bedryf.
Jy haal nou aan uit die eerste opdraggedig, maar in “/Windswaels/” (bl 8) word die idee van hoe struktuur gebruik word om daarvan te ontsnap, soos jy sê, in die besonder geïllustreer:
II /Windswaels/
hoeveel rame/afdakke/kosyne/
wering vir diewe/broekielace
hoeveel kragdrade/koekerasies/
telefoonderms/stelte/stellasies
moet jy versit om te sien:
dié strikdassies geknoop aan lugstrome
wind singend oor die donse om ore
die kimstreep geval hulle nie.
Op gevaar af dat die vraag skryfgeheime wil ontrafel: Waarom die solidus rondom die titels van twee opdraggedigte, “/Beenwerk/” en “/Windswaels/”? Dit is ook interessant dat as gevolg van die tipografie, die nommers van die eerste vier afdelings ook daaraan herinner: /, //, ///, /V.
Aan die skuinsstreep het ek vroeër nie veel aandag gegee nie, maar hierdie tipe stutpaal is nou vir my geweldig interessant. Dit herinner jou aan uitdrukkingskeuses: óf dié, óf daai. Ook: dié én daai. Langs elke woord in ’n gedig staan daar miskien so ’n wegspringstreep. Wat volg, is nog ’n probeerslag om by die wit uit te kom. Ek het probeer dat dit nie lyk soos iets wat ek by Johann de Lange se latere bundels afgekyk het nie. By hom is dit die ampersand wat die oog trek.
Ek is bly dat jy De Lange noem. Die impak van die Tagtiger-digters (wat nie so genoem wou wees nie), ook op die 21ste-eeuse poësie, kan veel meer, en met goeie gevolg, ondersoek word. Verwysings na die voorgangerswerk van homoërotiese digters soos De Lange, Hambidge en Aucamp, en gesprekke met hul werk, soos ook die geval met ekokritiese vers en Johann Lodewyk Marais, en verwysings na Johann de Lange se natuur- en dierverse, kom dalk meer voor as aandag vir die verstegniese bydraes – Daniel Hugo se navorsing oor kwatryne en vernufspoësie ’n uitsondering.
6
Jy het vroeër verwys na de gedig “Study in grey, Michel McMillan, 1963” (19) – ook een van die gedigte in Kolam wat besonder opval:
Study in grey, Michel McMillan, 1963
Voor my: die doek, deurgrootte
portaal na monochroom kwasars,
sydistelkoppe of dalk die vag
van ’n dier – in witte, gryse, swarte –
geraam soos hy dié vers inloop.
Hoe weet jy dís hoe die ratte
in my kop draai as ek droom
ná te veel drank? Grof dié werk
se oppervlak, soos die verso
van ’n blad met balpunt bekrap.
Geen woord, geen naam is daar
vir dit wat as plantsaad moet deug,
óf as ster, óf wolhaar.
’n “Gunsteling”-gedig is nie noodwendig ’n goeie of die beste gedig nie. Lesers het nie noodwendig dieselfde reaksie op ’n gedig nie – of dit nou verbasing of verwondering is, of aangegryp deur, geroer, geraak, of onaangeraak is. Ek kan wel aan kunstenaars dink wat geredelik verwys na werk wat verkoop is waarvoor hulle dankbaar is dat dit ’n “tuiste” gekry het, maar waaraan hulle tog wel steeds verknog is; en dan is daar ook altyd werk wat eenvoudig nié te koop is nie. En digters? Het jy ’n gunstelinggedig, of gedigte – dit is nou onder jou eie gedigte? In hierdie bundel? Dalk gedigte waarna jy keer op keer terugkeer, of wat vir jou baie beteken omdat jy iets daarmee wou bereik, of iets daarmee assosieer? En indien wel, wil jy iets daaroor sê?
Dis veel makliker om die gedigte te noem waaraan ek nie veel erg het nie ...! Al is hulle opgeneem omdat hulle in bundelverband funksioneel is. Faulkner se uitspraak wat die windgat digters so gereeld aanhaal, lui mos: ’n Roman is ’n mislukte kortverhaal en ’n kortverhaal ’n mislukte gedig. Hierby kan mens voeg: ’n Gedig is mislukte stilte. In sy grein bly die gedig maar ’n folly (“an often extravagant picturesque building erected to suit a fanciful taste”, lui die Merriam-Webster se definisie), want jy hou jou besig met die onsêbare. Maar ons bly talige wesens wat bly konstrueer.
Dit is nou net ’n digter wat ’n vraag so sal omseil ... en steeds ars poëtika verklap! Vergun mý dan: Een van jou gedigte in Kolam, uit die uiteenlopende veles, waarna ons kan kyk, is “Baas” (68). Nie net vir die portret van spesiepasmaat nie, maar ook vir die tegniek om die gedig te laat ontstaan en staande te hou met volgehoue saamgestelde, aanmekaargelaste beskrywings, voordat die aanspreek en groet in ’n parentese van gelykheid en vertroue, pootskud, opdaag en die gedig uitmond in ’n enkele slotreël wat die intense intimiteit van die verhouding meedeel.
Baas
viervoetsiener van die suburbs
beplooide hoofman Bul-Wat-Sit
waslap gehang aan ’n spyker
bal-fetisjis roesou boeddhis
pruttende bruin ferweeltrekker
appelkoosjêm-swiss roll behaard
poeper met die fleur-de-lis-frons
kwylbeklamlendige – gee poot! –
oor jou huil ek my more dood.
Jy is ook ’n selferkende leser van poësie. Is daar digters, of gedigte, na wie of waarna jy, op die oomblik of telkens, bly terugkeer, of by voorkeur (weer) lees? Wil jy dit met ons deel?
Tans lees ek weer Johann de Lange. Nie die De Lange van die nagswete nie, maar die een van die natuurgedigte. Ook langs my bed is Soho (2018) van Richard Scott. (Ek wonder hoe Scott se bundel sou gewees het as hy maar geweet het van Nagsweet wat sy boek met 27 jaar vooruitgeloop het.) Ek het Johan Myburg se Uittogboek (2017) ’n hele paar keer oopgeslaan. Ek bly steeds lees aan Eybers, soms Opperman. Tydens die skryf van Kolam was dit Elizabeth Bishop en nou en dan Sheila Cussons.
7
Jy debuteer in 2011. Jou drie bundels verskyn met goeie reëlmaat, onderskeidelik ses en agt jaar uitmekaar. As digter kan jy op grond van die publikasiedatums van jou bundels (2011–2025) tydgenootlik beskou word saam met digters wat, op min of meer vergelykbare ouderdom, en in die ooreenstemmende tydperk, vanaf die tweede dekade van die eeu tot nou, in Afrikaans skryf. En natuurlik is daar aansienlik meer debute van digters wat nie min of meer in ’n “jonger” ouderdomsgroep val nie.
Daar is ook meer as wat mens onmiddellik besef! So kortkop voor jou, uit 2008, was die poësiedebutante digters soos Ronelda Kamfer, Loftus Marais, Danie Marais, Martina Klopper en Melt Myburgh. In dieselfde debuutjaar as Donkerkamer (2011) was daar: Nini Bennett, Andries Samuel en Jasper van Zyl; en in die res van die tweede dekade ná 2000 meer as ’n dosyn. In die derde dekade (ná 2020) debuteer nogmaals meer as ’n dosyn digters in ’n min of meer vergelykbare ouderdomsgroep as joune. Jy is ook een van ’n aantal digters wat as nagraadse studente in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad manuskripte ontwikkel en debuutbundels gepubliseer het onder leiding van Joan Hambidge.
Het jy ’n bepaalde indruk van eietydse Afrikaanse poësie? Hoe dink jy oor jou tydgenote? Daardie digters en bundels wat deel is van die tydsgewrig waarin jy poësie bedryf – gewoon op grond van debuutpublikasiedatums en min of meer ooreenstemmende ouderdomme.
Dis moeilik om iets te sê oor ’n groep as jy tussen hulle staan. Sonder afstand kan jy nie perspektief registreer nie. Wat ek wel kan sê, is: Ek is ’n formalistiese leser. Ek sukkel met die gedig vir die verhoog, dalk omdat ek nie hou van hoe my stem oor ’n mikrofoon klink nie.
Ek het natuurlik weer gekyk na argitek-digter Andries Samuel se wanpraktyk (2011), omdat ek my in Kolam soms met sy veld bemoei het.
Ja, en terwyl ons nou so geneig is om digters te benoem met verwysing na hulle beroepe – dokter-digters, teoloë, wynmakers, uitgewers (!) en so, het die Afrikaanse poësie hoeka nou met Martin Kruger se Gekaapte stad (2023) twee argitek-digters. Dit gaan interessant wees om na Kolam se bydrae hier te kyk.
Dalk iets oor die kleiner groep digters wat, soos jy, deelgeneem het aan Joan Hambidge se kreatiewe skryfklasse? As mens opnoem, tien: Carina Stander, Martina Klopper, Aniel Botha, Fourie Botha, Hennie Nortjé, Karen Kuhn, Jaco Barnard-Naudé, Hendrik Botha, Juanita Louw, Dominique Botha.
Die digter hier bo aan wie ek die naaste is, is Martina Klopper. Van die begin af was sy langs my in Joan Hambidge se klasse. Ek sê altyd Joan het my taal aan my teruggegee. My universiteitsagtergrond was in Engels en my eerste gedigte ook. Dit was sy wat gesê het gooi uit die Engels, bou in Afrikaans.
Dankie, Fourie – vir die gesprek oor jou derde bundel en jou digterskap, ook oor die poësie, en vir die insigte. Die gedigte in Kolam beloof veel leesplesier en ook interessante uitdagings vir poësielesers. En baie geluk met die blootstelling wat die bundel reeds gekry het – in Neil Cochrane se resensie, “Kolam: ’n voortsetting van afgeronde digterskap” en AJ Opperman se bekendstellingsberig. Mag die gedigte en die bundel aanhou om lesers te bereik!
Verwysings:
De Wet, K. 1994. Eiendoms onbeperk: die onvoltooide groot gesprek met DJ Opperman. Doktorale studie, Noordwes-Universiteit (Mafekeng-kampus). https://repository.nwu.ac.za/items/0f1f14e0-b1db-407e-9a6f-d631574e26ca.
Krog, A. 1981. Die skryfproses as sonnet. In Otters in bronslaai. Human & Rousseau.
Opperman, DJ. 1947. Digter. In Negester oor Nineve. Nasionale Pers.
Lees ook:
Nini Bennet-Moll se resensie: Donkerkamer ingestel op die visuele. https://www.litnet.co.za/donkerkamer-ingestel-op-die-visuele.
Ronel Foster se resensie oor Krap uit die see. https://www.litnet.co.za/krap-uit-die-see-deur-fourie-botha-n-resensie.
Danie Botha se resensie oor Daniel Hugo se Takelwerk. https://www.litnet.co.za/resensie-takelwerk-deur-daniel-hugo.
Melt Myburg se onderhoud met uitgewer Fourie Botha. https://www.litnet.co.za/fourie-botha-penguin-se-geheime-wapen-uit-die-marico.
Eindnota:
i Teen 1994 was daar al minstens 15 gedigte geïdentifiseer wat direk op Opperman (1947:35) se “Digter” inspeel of in gesprek daarmee tree (kyk De Wet 1994:255–6).

