Binnerym van bloed deur Antjie Krog: ’n resensie

  • 1

Titel: Binnerym van bloed: ’n outobiografiese roman
Skrywer: Antjie Krog
Uitgewer: Penguin Random House South Africa (2025)
ISBN: 9781776391837

Om die nuutste publikasie uit Antjie Krog se pen, Binnerym van bloed: ’n outobiografiese roman, oop te slaan is ’n bittersoet ervaring. Vir diegene wat sedert ’n Ander tongval (2005), oorspronklik in Engels gepubliseer as A change of tongue (2005), reikhalsend daarna uitsien om weer hulle tande in Krog se weergawe van persoonlike outobiografiese gegewens te slaan (veral dié gegewens wat meer verklap van haar verhouding met haar skrywersma, Dot Serfontein), stel Binnerym van bloed nie teleur nie. Wat egter ’n bitter pil is om te sluk, is die gerugte dat hierdie publikasie Krog se laaste is, iets wat sy ook in die roman se Nota aanroer wanneer sy aan haar jare lange eggenoot, John Samuel, sê: “My skryfdae is verby, so ons kan uiteindelik begin om ’n skryflose (ongeskryfde) lewe te lei” (238).

Dit is egter moeilik om te glo dat ’n bekroonde skrywer soos Krog – wat een van ’n handjievol Afrikaanse skrywers geword het wat waarlik ’n huishoudelike naam is, wat bekend is aan diegene wat lees en diegene wat nooit naby ’n boek kom nie – ooit ’n skryflose of ongeskryfde lewe sal kan lei. Op die agterplat van die boek word gesê: “Hierdie verhaal oor die verhouding tussen ’n ma en ’n dogter is Krog se mees persoonlike, ook haar mees universele.” Só ’n stelling oor ’n skrywer se werk wat deurgaans in haar ryk oeuvre persoonlik én universeel is, stel hoë verwagtinge in die vooruitsig. Wanneer Krog in die Nota verklaar dat die roman tot stand gekom het “omdat soveel wat voortspruit uit my ma my nie wou los nie”, en dat sy “’n manier [moes] vind om ons gesprekke voort te sit om ’n afsluitende helderheid te probeer kry” (237–8), word dit duidelik dat daar wel in hierdie roman in die diep persoonlike gedelf word.

.......
“Die oomblik wat lewe onder taal gebring word, word dit in elk geval fiksie.” – Antjie Krog in Binnerym van bloed (238)
.......

Binnerym van bloed is, soos die subtitel en agterplat vermeld, ’n voorbeeld van outofiksie – wat ook genredeurbrekend werk deur dagboekinskrywing, foto’s, prente, versorgingsverslae, poësie, onderhoude en briewe in te sluit – en daar moet dus nie uit die oog verloor word dat Antjie Krog in hierdie roman selekteer en kombineer om ’n bepaalde beeld van haarself en haar ma (as karakters), asook van die tydsgees, die politiek, die groter familie en die geskiedenis te konstrueer nie. Soos Krog dit self stel (en hiermee ’n bruikbare definisie van outofiksie weergee): “Talle mense, plekke, narratiewe en voorvalle is radikaal verwerk om privaatheid te beskerm, en tog die grondwaarhede in die woorde te behou. Talle voorheen gepubliseerde tekste, gesprekke en gebeure is fiksioneel verander, verdraai en versin om my tot hulp te kom as kontekste in wat gesê wil word. Die oomblik wat lewe onder taal gebring word, word dit in elk geval fiksie” (238).

Daar moet dus in gedagte gehou word dat alhoewel vele van die vertellings uiters persoonlik voorkom, die Dot Serfontein en Antjie Krog in hierdie roman steeds outobiografiese karakters is. Die manier waarop Krog egter vir Serfontein in hierdie boek uitbeeld, maak dit onmoontlik vir ’n leser om nie aan die einde van die lees daarvan te voel dat Dot Serfontein deur die woorde tot in wese geroep is nie. Ná die lees van Binnerym van bloed kyk ’n mens met nuwe waardering en bewondering na ’n skrywer én mens soos Serfontein, iemand wat onbeskaamd die talle nuanses van menswees uitleef, wat terselfdertyd ’n natuurkrag én feilbaar is. Wat egter ’n verdere implikasie hiervan is, is dat soos daar onder die indruk van Serfontein gekom word, daar ook onder die indruk van Krog gekom word. Die boek is in vele opsigte ’n ode aan Serfontein, maar so eerlik en reguit geskryf soos net Krog kan. Krog kry dit reg om die Serfontein-karakter uit te beeld wat ’n verpersoonliking is van talle teenstrydighede wat in een mens gehou kan word – die skoonheid en afgryse, die vreeslose en weerlose, die interverbondenheid en afstandelikheid, om die wêreld oopkop deur middel van woorde te sien en te beskryf én die hardkoppige vashou aan ’n eie wêreldbeskouing.

In die Serfontein-karakter word ’n soort gids tot die lewe gevind. Daar is soveel aspekte van die menslike bestaan waaroor sy met besondere wysheid en insig uitlatings maak – die liefde, die huwelik, die politiek, die Afrikaner, skrywerskap, afskeid, verlies en eensaamheid, die aftakeling van ouderdom, slagofferskap se effek op die samelewing, moederskap, familie en die gesin, boerdery en grondbesit. Om maar enkeles hiervan uit te sonder, kan genoem word hoe sy verwys na afskeid en verlies met die woorde “Feit is net, deur op ’n bewegende voertuig te klim, deur omstandighede gedwonge, het nog nooit ’n mens van my weggeneem nie. Net die mens wat uit eie beweging my gees van syne onteien, dié is van my weg, vir altyd, al blaas hy sy asem in my nek” (59), of na oudword met die stelling: “Dis die verskriklikste van oudword: Alles is so dood. Dóód. Êrens in jou roer net nou en dan die vae herinnering dat jy eens op ’n tyd waaragtig gevóél het!” (56). Haar siening van die liefde wat verwoord word as “[d]it sou liefde wees, dat mense met mekaar daarin kan praat, dat liefde allereers ’n stemtoon is, sagte, gewone gebare is, wat die ontbloting bring en daarna die dankbaarheid daarvoor teenoor mekaar” (65), en haar man na wie sy verwys as “jou mooie pa my hartsvennoot in die soet semel van ons wêreld” (12), is uiters roerend. Oor skrywerskap sê sy: “Ek dink nou nog dit is wat jy nodig het om tot skryf te kom: Jy moet eensaamheid kan hanteer en leer hoe om dit te bevolk. Dan moet jy ’n medium kry om dit te beliggaam. Derdens moet jy met deursettingsvermoë tyd maak om dit te skryf. Jy moet bereid wees om te gaan sit. En vierdens moet jy vir iets wil kompenseer” (68). Hiermee word gewys, soos in talle ander gevalle, hoe sy ’n saak kan raakvat en opsom en in helderheid kan weergee. Krog sluit hierby aan wanneer sy oor Serfontein sê: “Ek ken niemand wat so akkuraat met Afrikaans kan omgaan nie” (67).

.......
In vele opsigte is die boek ’n optekening van ’n soort vervloë Afrikaans en ’n huldeblyk aan taal. Serfontein (en Krog) blaas nuwe lewe in ou uitdrukkings, maar skryf ook soms so poëties dat die grens tussen prosa en poësie heeltemal vervaag.
.......

In vele opsigte is die boek ’n optekening van ’n soort vervloë Afrikaans en ’n huldeblyk aan taal. Serfontein (en Krog) blaas nuwe lewe in ou uitdrukkings, maar skryf ook soms so poëties dat die grens tussen prosa en poësie heeltemal vervaag. Daar is humor, deernis en kreatiwiteit in oorvloed, soos wanneer Serfontein aan die begin van die roman Krog groet met die woorde “Jirder, maar jou hare lyk verwerp!” (4) – Serfontein word immers later in die roman die “Barones van Belediging” (176) genoem – of wanneer sy uitsprake maak soos “Die dae saai voor my uit in oneindige nimmers” (26), en in ’n brief aan Krog: “Wanneer laas wat jy hier, Oudste? Jy gedy my, jong. Dit onteer ’n mens om so alleen te wees” (63).

Wat soos ’n goue draad deur die roman loop, is die uitsonderlike en komplekse verbintenis tussen Krog en Serfontein – die vergestalting van die “binnerym van bloed”. Beide karakters is altyd besig met skryfwerk in wording, altyd skawend aan mekaar, besig om mekaar in woorde en soms in ’n groot dooiepuntgeskil te vorm en te verryk. Telkens word daar verwys na die verbondenheid tussen die twee karakters, en dikwels word dit deur besonder mooi beskrywings aangebied, soos wanneer hulle saam na Duitse musiek (’n deurlopende motief) luister en Krog sê: “Toe Anders met pragtige aspirasie die ‘h’-klank van ‘Hunde heulen’ en ‘Herren Haus’ sing, kyk ek reg in haar oë in – herkennend skielik in mekaar ons hopelose bewussyne, ons desperate eensaamhede, ons magtelose smagting na ’n soort skoonheid om in te vergaan” (8).

Wanneer Serfontein sê dat sy skryf “sodat ek kan vrede maak met die feit dat ek nie die voorskoot-ma of die gedoende-hare-ma is nie” (113), kan hierdie woorde net sowel uit Krog se mond gekom het as ’n mens dink aan Krog se vroeë gedigte oor moederskap. Die skrywersverbintenis tussen Krog en Serfontein is deurlopend opmerklik. Krog noem teenoor haar ma dat haar skrywerspersona “die antjie krog wat ek (of is dit jy?) op die been gebring het” (40) is, en gee ook erkenning aan haar ma as skrywer met onder meer die volgende: “Ek sit, soos waaragtig van vroeg af in my lewe, weer eens in die wurggreep van volslae bewondering vir haar as skrywer” (203).

Een van die mooiste beskrywings van die Serfontein-karakter as skrywer lui: “My ma sit die plaat met Fauré Lieder op en staar by die venster uit terwyl trane oor haar wange loop. Dan gaan staan sy by die koolstoof en verbrand pakke getikte velle papier” (111). Hierdie waarneming van haar ma deur ’n jong Krog getuig van hulle albei se aanvoeling vir skoonheid en die kompleksiteit van die skep van kuns in verskillende vorme. Dit is tekenend van ’n gedeelde skrywersbewussyn, maar ook ’n intieme familiale band tussen die ma en “die kind wat haar dalk nog altyd die volste verstaan” (226).

Met betrekking tot hierdie band moet ek twee tonele uit die boek uitsonder. Dit is van die min tonele waarin daar fisieke aanraking tussen Krog en Serfontein uitgebeeld word, want soos Krog sê: “My ma is nie een vir fisieke kontak nie” (4). Wanneer Krog en haar gesin in 1992 Kaapstad toe verhuis, gaan groet sy haar ouers, maar dit blyk vir beide haar en haar ma moeilik te wees om die woorde te vind om afskeid te neem. Krog sê: “[E]n soos altyd, ek en sy, as ons nie verder kan nie, is daar die poësie”; en dan die teer vertelling van die oomblik toe haar ma haar “vasgryp soos een wat besig is om te verdrink” (142). Later in die roman, met Serfontein wat heelwat verswak is, word ’n hartverskeurende toneel uitgebeeld wanneer Krog haar ma op ’n rit neem om haar geliefde Vrystaatse landskap te sien. In hierdie toneel word daar weer van ’n omhelsing vertel, en dit getuig ook weer eens van die (soms woordelose) begrip tussen die twee karakters. Krog vertel: “Toe ek my kom kry, gryp ek haar vas met soveel drif dat ons albei na ons asems snak. ‘Ek kan jou nie so sien nie! Ek kan jou nie so sien nie!’ skreeu ek oor en oor terwyl my arms haar teen my bors vergruis. [...] Verbeel ek my dat, met die losmaak van my arms, haar oë vol magtelose begrip is?” (226).

Nog ’n keer wat daar melding gemaak word van ’n omhelsing, is dit wel op die vlak van die metaforiese, waar die moederlike teenwoordigheid en die gevoel van teruggaan na die dogter se kinderjare in terme van fisieke aanraking beskryf word. Wanneer Krog as volwassene by haar ma gaan kuier, merk sy op dat “die reuk van haar huis, ’n mengsel van tambotie, meubelolie, wol en skaapvleis, [haar] omvou [...] in ’n omhelsing wat die hart laat oopspui” (4). Hierdie aanhaling wys ook die belangrike rol wat die sintuiglike in die roman speel. Daar is talle sintuiglike belewings van die natuur, die plaas en dit wat met persoonlike verhoudings geassosieer word. So byvoorbeeld open die roman met ’n beskrywing van Krog se terugkeer na die Vrystaat van haar grootwordjare: “Dis my eerste besoek aan die Vrystaat ná byna ’n jaar oorsee. Toe ek die gehuurde kar van die Bram Fischer-lughawe op die N1 noordwaarts draai, gooi my oë hulleself soos geobsedeerde minnaars oor die landskap van my jeug. Die horison is die ene winterlug, gras en geoeste mielielande. My sintuiglike wese snuffel, streel, traseer die verblindende vlasblond vlaktes, hulle sag-gesade graspluime gebleik deur ryp. ’n Mens se liggaam kan slegs een landskap waaragtig liefhê, word gesê” (3). Deurgaans is dit duidelik dat Krog haar gewortel voel in díe landskap en dat dit ook vir haar verband hou met haar ma en met haar eie skrywerskap – “Dit is nog altyd die landskap wat my taal gee, wat my voed uit sy diepste droesem tot verwoording” (150) – asook met haar gevoel van behoort: “My nek vloei, my bloed val stil, die some van my selfbeheer rafel los, my skarniere ineens lig soos distels ... ek is waar ek moet wees” (3).

.......
Hoewel die Vrystaatse landskap ’n baie persoonlike karakterbelewing vooropstel, raak dit ook die groter kwessies van grondbesit, Afrikanerskap en familiale bande aan. Dit lei die saambestaan tussen die persoonlike en die universele in en getuig ook van ’n politieke bewussyn wat strek van die ABO tot die huidige Suid-Afrikaanse omstandighede.
.......

Hoewel die Vrystaatse landskap ’n baie persoonlike karakterbelewing vooropstel, raak dit ook die groter kwessies van grondbesit, Afrikanerskap en familiale bande aan. Dit lei die saambestaan tussen die persoonlike en die universele in en getuig ook van ’n politieke bewussyn wat strek van die ABO tot die huidige Suid-Afrikaanse omstandighede. Die kollektiewe effek van onuitgesproke trauma (soos uitgebeeld word deur onder meer die ondersoek na die verhale van verkragting tydens die ABO), asook die politieke spanning in die laaste jare van apartheid, en die huidige situasie rondom grondonteiening, kom alles in die roman aan bod.

Alhoewel Binnerym van bloed as Krog se outobiografiese roman bemark word, en dit heelwat weergee oor haar eie wêreldbeskouing, sê dit ook soveel oor haar beskouing van ander, onder meer, en veral, haar familie. Haar belewing van haar ma en haar pa, asook haar sibbe (veral haar broers) word veelkleurig uiteengesit. Dit is ook interessant hoe die uitbeelding van hierdie karakters iets weergee van die patriargie in die geïnsinueerde teenpole van haar pa en broers, maar ook tekenend is van die rol wat ’n groot matriarg in gesinsverband en in ’n groter konteks kan speel. So byvoorbeeld sê die karakter van een van Krog se broers die volgende oor hulle ma: “Ek het as jong mens vir jare gewens ek kan iets in my lewe dink of doen wat nie vír of téén Ma is nie, iets wat net níks met haar te doen het nie. Maar neutraliteit was nooit ’n moontlikheid nie. So, nou gaan soek jy ’n vrou wat nié soos sy is nie, want jy wil nie hê iemand moet op jou kop sit nie, of jy gaan soek een wat sóós sy is, want so ’n soort vrou wil jy aan jou kant hê in die lewe” (180).

Binnerym van bloed is ’n roman met soveel nuanse, wysheid, humor, tederheid, taalskatte, interessante verhale, en stof tot besinning dat dit onmoontlik is om alle aspekte daarvan hier te kan benoem. Dit is ’n roman wat gelees en weer gelees moet word, om telkens nuwe gewaarwordinge te beleef. Dit bly egter onteenseglik dat indien dit so sou wees dat hierdie publikasie die laaste is uit Krog se pen, dit ’n hoë noot is om ’n formidabele oeuvre mee af te sluit.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Binnerym van bloed

Antjie Krog se eredoktorsgraad by UP: Willie Burger se commendatio

Antjie Krog (1952–)

LitNet Akademies-resensie-essay: Plunder deur Antjie Krog

Pasverskyn: Antjie Krog: ’n Ondersoekte lewe deur Louise Viljoen

  • 1

Kommentaar

  • Ek besit en koester al Antjie Krog se digbundels en sal haar altyd vir haar wonderlike raakvatwoorde en -beelde as my gunsteling digter beskou.
    Ek kan nie help om te voel dat 'Binnerym van bloed' 'n uitbreiding - in romanvorm - van daardie ikoniese gedig "Ma" is wat Antjie Krog as jong meisie geskryf het nie. Baie tieners kom in opstand teen hulle ma’s en Antjie se rebellering teen, en ook bewondering vir, haar ma is tasbaar. Daar is respek, maar daar is nie deernis nie. Toe ek die woorde “goue draad” in bg resensie lees het ek gedink dat dit eerder 'n nersderm van ontlasting moes wees wat deur die boek loop.
    As kleindogter van 'n 15-jarige meisie wat in 1900 in die Irene-kamp verkrag is, het ek met ontsteltenis weer daarvan kennis geneem. Dit het 'n lang skaduwee oor ons almal gegooi.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top