
Die Universiteit van Pretoria vereer Antjie Krog met ’n eredoktorsgraad. (Foto: verskaf)
Ter voorbereiding van ’n motivering om ’n eredoktorsgraad aan Antjie Krog toe te ken, lees ek weer deur baie van haar bundels – veral daardie gedigte waarby ek die bladsyhoeke omgevou en iets onderstreep het. Daar is baie sulke bladsye. En die gedagte kom by my op: As ek Afrikaanssprekend grootgeword het net sodat ek Antjie Krog en Breyten Breytenbach kon lees, was dit al die moeite werd.
Eregrade word deur universiteite toegeken aan mense wat uitsonderlike bydraes gelewer het tot ’n spesifieke studieterrein, of tot die breër gemeenskap, sonder dat hulle aan die formele akademiese vereistes vir die graad voldoen. ’n Doktorsgraad verg gewoonlik ’n lang tyd van toegewyde studie op ’n afgebakende terrein en die belangrikste is dat die kandidaat ’n bydrae tot die bepaalde kennisveld moet maak. ’n Eredoktorsgraad impliseer dus dat iemand in hulle gewone optrede of in hulle werk ’n bydrae van so ’n aard gelewer het dat dit ’n doktorsgraad verdien. Al het hulle nie formeel daarvoor ingeskryf en ’n proefskrif geskryf nie, het hulle werk ’n bydrae tot ’n bepaalde studieveld gelewer.
Sulke “bydraes” kan die toevoeging van kennis binne akademiese navorsingsterreine verteenwoordig. Iemand kan byvoorbeeld ’n bydrae tot ’n spesifieke studieterrein lewer deur hulle eie navorsing en vir die ontwikkeling van oplossings vir probleme waarmee hulle in hul werkplek gekonfronteer word. Maar eredoktorsgrade word ook dikwels toegeken vir humanitêre bydraes wat mense se lewensomstandighede verbeter het of vir bydraes tot die sakesektor wat gelei het tot veranderde sakepraktyke. Soms word filantrope se bydraes met eregrade erken wanneer hulle byvoorbeeld baie geld beskikbaar gestel het vir navorsing of om die gemeenskap te verbeter. Heel dikwels word ook bydraes deur kunstenaars, skrywers, digters, musici en filmmakers met eregrade erken wanneer hulle werk ’n diepgaande kulturele impak gemaak het.
Dit is om laasgenoemde rede dat die Universiteit van Pretoria besluit het om vir Antjie Krog ’n eredoktorsgraad te gee. Om te sê dat haar werk ’n diepgaande kulturele impak gemaak het, is vir die wat vertroud is met haar werk, vanselfsprekend.
Die kanse dat ’n digter in ons tyd met ’n eredoktorsgraad vereer word, raak waarskynlik al hoe kleiner, want die impak van digkuns in ons tyd op die breë samelewing word al hoe kleiner. Die breë kultuuraanbod het in ’n tyd van elektroniese media ’n ontploffing beleef. Oor die afgelope halfeeu het eers TV, toe die internet en sosiale media die landskap heeltemal verander. Waar vermaak en “kultuur” tot in die 1970’s in Suid-Afrika nog dikwels deur boeke en die radio oorheers is, met sporadiese nuwe films in teaters en inrye, speel boeke, gedrukte media en teaters ’n krimpende rol. Die ouer mense het nog Gutenberg-koppe, maar die jonger generasie het netwerkkoppe. Ons dink verskillend, skat die geskrewe woord se waarde verskillend in, en digkuns se eens hoog aangeslane rol het verklein. Min digbundels verkoop. Min mense lees poësie – behalwe versies op blogs. Ons leef in ’n tyd van influencers en celebrities.
My voormalige dekaan, Vasu Reddy (nou viserektor by die Universiteit van die Vrystaat) het ons tydens ’n departementshoofdevergadering van die fakulteit aangemoedig (soos elke jaar) om iemand vanuit ons fakulteit te nomineer vir oorweging vir ’n eredoktorsgraad. Die Afrikaans-departement het kort na die eeuwending vir André Brink en Elsa Joubert voorgestel, en hulle het eredoktorsgrade van UP ontvang. En sommer redelik onlangs, in 2019, het die departement Abraham de Vries met sukses genomineer. Oor die afgelope dekade het die universiteit ’n Engelse instelling geword. Afrikaans het sy eens dominante plek aan die universiteit verloor en die Afrikaans-departement self het gekrimp (in ooreenstemming met baie taaldepartemente aan universiteite regoor die wêreld). En toe, terwyl ek uitstap na afloop van die vergadering, sê Vasu vir my in die verbygaan: “Hoekom stel julle nie vir Antjie voor nie?”
Dit is nie moeilik om ’n goeie motivering op te stel om Antjie Krog vir ’n eredoktorsgraad te benoem nie. Sy het met haar werk ’n enorme impak op die Suid-Afrikaanse kulturele landskap gemaak, wat ook oor ons landsgrense strek – in baie tale vertaal, na verskeie akademiese en ander instellings wêreldwyd uitgenooi. Sy is nie alleen in die Afrikaanssprekende gemeenskap ’n vertroude naam nie. En is ook nie slegs as digter bekend nie. Dit weet ons. En daarom was dit tegelyk maklik en moeilik om aan die voorstel te skryf. Daar is so baie prestasies, so baie ander toekennings en so min ruimte. Wat laat mens uit?
Die voorstel is eenparig deur die fakulteit ondersteun en die voorstel dat ’n eredoktorsgraad aan ’n wit Afrikaanse digter gegee word, is in ons tyd sonder een enkele negatiewe opmerking deur die senaat goedgekeur. Dit sê natuurlik iets oor UP, nieteenstaande baie kritiek oor universiteite se verengelsing en vermeende anti-Afrikaansheid. Maar dit sê natuurlik veral baie oor Antjie Krog.
Van Wyk Louw het eens geskryf: “Niemand tref dit mooi met die heelal nie.” Maar almal reageer nie dieselfde op die ongelukkige wêreld waarin hulle hul bevind nie. Sommige probeer hulself verander om by die wêreld in te pas en so gelukkiger te word (selfs al beteken dit hulle moet hulle eie morele kompas versmoor). Ander probeer weer om die wêreld te verander. Antjie is een van laasgenoemdes. Heel dikwels is diegene uit die tweede groep – hulle wat die wêreld wil verander om dit ’n mooier plek te maak – tragiese figure – hulle gaan onder. Soms is hulle verset komies – windmeulbestormers. Maar ons almal weet dat daar ook die enkeles is wat wel daarin slaag om iets van hulle wêreld te verander – heel dikwels ten koste van hulle eie geluk in die wêreld, heel dikwels teen ’n hoë persoonlike prys, maar nietemin lewer hulle ’n bydrae om die wêreld beter te maak – nie net vir hulself nie, maar ook vir ander.
........
Sy het ’n soort verslingering in die woordkuns, ’n aangryp van die estetiese ter wille van die estetiese, van die begin af oneties gevind. Indien die estetiese nie iets te doen het met die onreg, ongeluk, hardvogtigheid, arrogansie, lyding, swaarkry van mense nie, is dit nie vir Krog aanvaarbaar nie. Dan kan dit die wêreld net bevestig en nie verander nie.
........
Krog is nie een van die mense wat maar haar morele kompas onderdruk het nie. Of wat besluit het om in die skoonheid van die kuns – waarin sy vroeg reeds sukses gesmaak het – te onttrek nie. Die MA-verhandeling wat sy hier aan die UP geskryf het, was vir haar ’n moeisame taak, omdat die akademiese skryfwerk soos dooie gewig op haar lê en elke kreatiewe insig, elke “poëtiese woord”, “klankloos” maak. Maar ook omdat die akademiese studie van literatuur destyds so hard probeer het om die fokus op die formele aspekte van tekste te laat val, eerder as op die konteks van die tekste. Sy het ’n soort verslingering in die woordkuns, ’n aangryp van die estetiese ter wille van die estetiese, van die begin af oneties gevind. Indien die estetiese nie iets te doen het met die onreg, ongeluk, hardvogtigheid, arrogansie, lyding, swaarkry van mense nie, is dit nie vir Krog aanvaarbaar nie. Dan kan dit die wêreld net bevestig en nie verander nie. Sy kon die onreg in die samelewing waarin sy grootgeword het, nooit miskyk nie. Sy het die balk in haar eie volksoog gesien en daaraan gekrap. En sy was voortdurend daarop ingestel om die omgewing te verander.
Ek glo dit is juis omdat sy die wêreld moes verander dat sy besef het dit is nodig om die taal waarin ons dink, waarin ons werk, te verander. En daarom eerder as slegs die feit dat sy ’n woordtowenaar is, is sy as't ware gedryf om in bundel na bundel die taal te vernuwe, om digvorme te vernuwe, om die idee oor poësie self te verskuif: Sy het alles ingespan om die wêreld om haar te verander. Daarvoor moet die digter asemhaal deur haar ore, sodat die klanke gebruik kan word om die klippe te laat uitroep.
Net daarvoor al verdien sy meer as een doktorsgraad.
Maar goed, ons almal weet dat ’n gedig nie die wêreld regtig verander nie, dat kennis van die mooiste poësie of musiek nie mense noodwendig beter mense maak nie – die wêreldoorloë van die vorige eeu sal ons altyd herinner dat ’n hoogs geletterde groep mense met kennis van die beste poësie en musiek steeds die grootste gruweldade kan pleeg. Maar tog weet die meeste lesers ook hoedat kunswerke ’n mens tóg anders kan laat kyk, tóg bewus maak van dinge wat jy nie só raakgesien het nie. Dat dit ons soms ook kwaad kan maak, seer kan maak, soos wat Kafka redeneer het dat die kunswerk soos ’n yspik moet wees wat die yslaag om ons harte oopkap. En dis wat Antjie se werk gedoen het.
Sekere digters se werk het net die vermoë om ’n wye gehoor te vind en te oorrompel. Antjie se kaalvoetgedig vir haar ma het dit vir generasies van skoolkinders gedoen – ’n gedig wat dadelik ’n wye trefkrag gehad het – byna soos wat Ingrid Jonker se werk ook dadelik ’n wye gehoor kon vind. Maar sy het ook geskryf omdat sy woedend is op ’n “bebloede lessenaar” – en daarmee baie digters ná haar geïnspireer.
Maar dis nie slegs haar een grensverskuiwende Afrikaanse digbundel na die ander (dink maar net weer aan die reuse spronge van Dogter van Jefta na Otters in bronslaai na Lady Anne en Jerusalemgangers in die 1980’s) wat Antjie so invloedryk gemaak het nie. In ’n sekere sin het sy juis die roem (en berugtheid onder sommige wat aanstoot geneem het omdat sy die patriargie en nasionalisme met alles tot haar beskikking bestorm het) as wegspringplek gebruik. Die openbare oog waarin sy danksy haar opspraakwekkende poësie beland het, het haar meer geleentheid gebied om haar oor die onreg om haar uit te spreek. Die onderdrukking van vroue, van swart mense, die uitsluiting, die argelose omgang met mag, die onselfbewuste omgaan met voorregte en die onnadenkende aanvaarding van ander se onbevoorregtheid as hoe-die-wêreld-maar-is, kon sy nooit ignoreer nie en het sy in haar lewenswyse beveg.
Aan die een kant het sy haar in die gedigte verset teen die lot van die huisvrou wat verwaterde ghwelle uit die opwasbakpropsif krap sodat hawermoutwater en swoerd kan uitburp in die drein voor die venster. Aan die ander kant het sy op persoonlike vlak van die daaglikse lewe die kompleksiteit ervaar van betrokke raak by verset – en ook dié ervaring verwoord in onder meer ’n relaas van ’n moord. Hoe weet mens wanneer jy ’n edel stryd voer en wanneer jy by gewone kriminaliteit betrokke is?
Krog het voorbeeld geword, die rolmodel vir so baie, omdat sy so onverskrokke stelling kon inneem op ’n moerse rots by Paternoster wat jaar vir jaar in my klas vroue aanspoor om vry fokken vroue te wees. Maar sy kan ook met die weerloosheid, die magteloosheid voor ’n kind se depressie laat voel daar is iewers iemand in die wêreld wat ook begryp. Of die skrik van oudword en aftakeling wat tóg op ’n manier versag word deur haar harde woorde.
Veral was dit egter haar joernalistiek wat haar op die wyer wêreldverhoog geplaas het. Country of my skull sal sekerlik altyd ’n hoogtepunt van joernalistieke werk bly. In ’n sekere sin is daardie werk alles wat die WVK beoog het en weens die omvangryke aard van die verslae en die lang tydverloop nie kon regkry nie. Country of my skull het die stemme van die ongehoordes laat hoor; dit het die oordadige meerderwaardigheid en arrogansie van magsmisbruikers blootgelê maar dit het boonop filosofies daaroor besin, dit histories geplaas, probeer sin maak, probeer begryp wat alles skeefgeloop het dat mense mekaar so kan verniel. En dit het sy alles gedoen in ’n grinterige, weerbarstige taal wat iets van die weerstand en die kleur en tekstuur van die land en die mense vasvang soos net ’n digter kan.
.........
Dat al hierdie werk nasionaal en internasionaal impak op die kultuur gehad het, regverdig ook al die toekenning van ’n eregraad. Nelson Mandela het op Robbeneiland die vers van ’n skoolmeisie van Kroonstad gelees en onthou. Universiteitsdosente in sielkundedepartemente en in filosofiedepartemente en in politieke wetenskappe het Country of my skull voorgeskryf en daarin iets van ’n navorsingsbydrae gevind wat nie op ander plekke te vind was nie.
.........
Dat al hierdie werk nasionaal en internasionaal impak op die kultuur gehad het, regverdig ook al die toekenning van ’n eregraad. Nelson Mandela het op Robbeneiland die vers van ’n skoolmeisie van Kroonstad gelees en onthou. Universiteitsdosente in sielkundedepartemente en in filosofiedepartemente en in politieke wetenskappe het Country of my skull voorgeskryf en daarin iets van ’n navorsingsbydrae gevind wat nie op ander plekke te vind was nie.
Krog se moeite om inheemse tale te laat hoor, vernaamlik deur vertaalprojekte, is ’n poging om mense in die land na mekaar te laat luister. Op gelyke voet. Nie altyd in ’n vreemde, ontmagtende taal wat jou tweedehands en gelap laat voel nie, maar in jou eie taal. Sodat ons met ons eie woorde soos met kerse kan lig bring vir mekaar.
Om al hierdie redes was die toekenning aan Krog onomstrede.
Daar is natuurlik altyd die kanse dat eregrade omstrede kan wees. Grade wat toegeken word sodat die universiteit finansiële gewin daaruit kan haal. Gee ’n eregraad byvoorbeeld vir ’n baie ryk persoon (ongeag die wyse waarop die geld gemaak is en of die persoon filantropiese werk doen) met die hoop dat hulle dalk geld aan die universiteit sal skenk. Of gee ’n eregraad vir ’n gewilde persoon, ongeag waarvoor die persoon beroemd is, om sodoende die profiel van die instelling te verhoog.
Maar meestal is die voordele dat die universiteit met so ’n toekenning ’n aanduiding gee van die waardes wat in daardie instelling hoog geag word. In hierdie geval, die waardes van onverskrokke verset teen onderdrukking en uitsluiting, die waarde van voortdurende vernuwing en pogings, altyd weer, om kanale vir begrip vir mekaar oop te maak.
Maar wat is die voordeel vir die individu aan wie die graad toegeken word? Natuurlik rol daar maklik ’n klomp woorde af – geyktes dalk, soos “erkenning vir harde werk en lewenslange toewyding”, soos “’n gevoel van ’n bereiking”. Maar ek het daardie deel nie so mooi bedink toe ek aan die motivering geskryf het nie. Tot ek ná die bekendmaking van die toekenning met Antjie moes korrespondeer oor reis- en verblyfreëlings. Ek is uiteraard opgewonde, so bly dat sy na ons kampus gaan kom. Ek wil hê sy moet nie net vir die gradeplegtigheid kom nie, maar sommer vir ’n paar dae. Sy moet asseblief ook ’n lesing of wat vir ons studente gee, saam met kollegas kuier en gesprek voer. Kortom, ek wil die geleentheid gebruik om vir my en my kollegas en vir my studente die kans te gee om in die lig van die groot digter te baai. Miskien so ’n bietjie soos ’n Swiftie, is ek nog ’n Kroggie. (Onthou hoedat sy eens by UJ tydens die Van Wyk Louw-gedenklesing gesê het dat diegene wat in die 1970’s digters wou word, nou eerder rocksterre wil word?)
Krog reageer wel dankbaar vir die toekenning. Maar sy is kopsku oor die langer besoek. Sy moet aan ’n kongres deelneem in dieselfde week. Sy dink nie dat sy nog eintlik iets te sê het vir studente nie. Sy sien nie juis kans vir ’n uitgerekte kuiery nie. En moet sy regtig ’n toespraak maak by die gradeplegtigheid?
Dis toe dat daardie woorde uit Mede-wete my tref:
dismiss my uit die staanspoor
ek’s oud en grys ek bederf jou event van
beautiful people gevly aan jou sy die
lys eendagrose vlymskeel van ambisie
met boarms gespier in networking gyms
’n verleentheid is ek tussen getrainde skryfskool
atlete met spikes en streamline klere
Trippel hulle rond by die wegspringplek
– oë besete op agente se krete
wat jeug slobber en glamour kraai
kleurloos slink ek rond op jou
cutting edge op jou so-called salon
boheem as grysharige gesels-probleem
maar kom ek sê jou, ek wys jou my aard
my verafskude antropologies-opgetekende ouvrou
vlees-van-wees wat mans vir eeue
uit hul benoude magsgeobsedeerde driewiel-
sieletjies vrees:
Sou sy dalk die “event van beautiful people” kan bederf?
Ek was so bly dat die universiteit waar ek werk, een van die voorste mense in my studieveld vereer. Ek was so opgewonde dat die digkuns nog vereer kan word. En ek was so trots dat iemand vereer kan word vir ’n bydrae in Afrikaans, een van daardie mense wat mens laat voel dit is heeltemal goed om Afrikaans te wees. (Soos Harry Kalmer eens ’n lesing gegee het met die titel: “How to write in Afrikaans and still respect yourself in the morning”, kon ek altyd voel daar is Afrikaanse mense op wie mens trots kan wees, met wie jy geassosieer wil word en wat jy graag vir almal om jou wil wys, miskien met ’n tikkie van: Kyk hier, ons is nie almal so nie.)
Uiteindelik laat sy haar tog oorreed om die studente te ontmoet die dag voor die gradeplegtigheid. Ek verduidelik sy hoef nie ’n lesing voor te berei nie. Ons sal ’n vraag-en-antwoord-sessie hou. Ek gee ’n paar vrae deur waarmee ek beplan om die gesprek aan die gang te sit, waarna die studente die geleentheid sal kry om hulle vrae te vra. Sy is te vinde daarvoor.
Maar by die lewer van ’n toespraak by die gradeplegtigheid skop sy vas.
Dit is gebruiklik dat die ontvanger van ’n eregraad tydens die gradeplegtigheid ’n kort rede lewer. Gewoonlik is dit ’n toespraak om die graduandi te inspireer: ’n boodskap van hoop vir die pas afgestudeerdes. Soms is so ’n toespraak ’n hoogtepunt en soms is dit ’n baie vervelige laagtepunt op die program – afhangende van die eregraadontvanger se openbare spreekvermoëns.
Antjie vra of sy nie maar liewer kan “doen wat ek die beste doen” nie: om gedigte te lees.
Nou enigeen wat al vir Antjie hoor voorlees het uit haar eie werk, sal weet wat dit beteken. Woorde rol net anders uit haar mond; die klanke kry lewe wanneer sy hulle sê. Sy het my al in trane in gelees by ’n Woordfees. Ek was een aand by ’n geleentheid waar sy uit A change of tongue voorgelees het by ’n uitspattige bekendstelling in Johannesburg waar almal in stywe klere uitgevat was in een van die ghrendste hotelle en aan die duurste happies kou. Dit was die toonbeeld van upper-class glamour, en sy het almal laat terugdeins en ongemaklik laat giggel deur kru woorde met die akkuraatheid van ’n skerpskutter deur al die opgeblase stokkerigheid en pretensies te vuur.
Dis reg, stem ek in, sy kan gedigte lees in die 10 minute wat sy gegun word om ’n toespraak te lewer. Ek besluit ek sê maar niks vir die dekaan of die organiseerders van die gradeplegtigheid nie. Netnou besluit iemand hoër op dis onvanpas. Ek kan altyd later maar net sê, jammer, jy weet mos, so is kunstenaars nou maar eenmaal. Maar so maklik spring ek nie vry nie. Sy laat weet dat sy die gedigte in Afrikaans, Engels en Setswana lees. Ek bedank haar daarvoor. Dit sal goed wees by die geleentheid. Dit rym met haar stryd vir inklusiwiteit. Maar dan kom die versoek by dat sy ook ’n aktrise saam met haar wil laat optree, Barileng Malebye. Nou moet daar twee mikrofone wees, van die soort wat hulle nie met die hand hoef vas te hou nie. Sy stuur skakels waar ek na video’s kan kyk hoedat hulle die gedigte so saam opvoer.
Ek is oortuig dat dit uiteindelik byval sal vind. Maar nou kan ek nie meer skelm wees nie. Ek moet dit vir die organiseerders verduidelik. Daar is klankmense nodig. Daar moet gereël word dat Barileng ook op die verhoog kan sit. Hierdie gradeplegtighede word met militêre presisie gereël – ons sal dit nie daar kan improviseer nie. Ek kom uit met die sak patats teenoor die programorganiseerder. Sy is nie baie lus vir die idee nie. Dit gaan maar sukkel-sukkel om te verduidelik wat gaan gebeur.
Die weke voor die tyd praat ek met die studente: “Hier is julle kans om Antjie Krog te ontmoet, in lewende lywe. Dit is nie ’n kans wat julle sommer weer gaan kry nie. Sy raak al meer kopsku vir openbare optredes. Sy woon in die Kaap. Julle sien mos, sy sê sy is oud en grys en bang sy ‘bederf die event’.”
Die eerstejaars het in die eerste kwartaal ’n wye verskeidenheid gedigte gelees. Ek het ’n soort historiese voëlvlug oor Afrikaanse letterkunde in sewe weke probeer doen. In die eksamen kon hulle uit ’n hele verskeidenheid gedigte kies om ’n vraag te beantwoord. Maar verreweg die meeste het gekies om oor Krog te skryf. Die opstelle oor haar werk was besonder goed. ’n Hele klompie was aanvanklik geskok deur die taalgebruik (dit is asof ons studente jaar vir jaar konserwatiewer word, en daar is mos onder sommige mense steeds ’n soort onvolwassenheid wat wil giggel by elke seksuele verwysing of kru woord). Maar sy het kennelik harte en verstande verower.
Sommer baie eerstejaars daag op. Een selfs met haar ma. ’n Hele klomp klou skaam-skaam aan ’n paar bundels wat hulle wil laat teken. Heelwat tweede- en derdejaars is ook daar en die hele honneursklas. Ook ’n klompie nagraadse studente en kollegas uit ander departemente daag op. Ons begin gesels.
En Antjie kry lewe.
Sy het dadelik die gehoor in haar hand, boei hulle. Met woorde, met gebare, met pouses, met intonasie.
Arinda Ackerman sê na die tyd: “Die uitdrukking ‘starstruck’ verstaan mens nie, tot jy dit ervaar. Haar passie vir poësie weerklink in haar woorde, veral toe sy uit Plunder en Verweerskrif lees. Wat ʼn ervaring!”
Carina Steenekamp skryf ’n hele opstel oor haar ervaring:
Dis ’n snaakse ding om iemand te ontmoet met wie se woorde jy grootgeword het. Gedigte gememoriseer, byna gegraveer in my brein. Haar digkuns het oopgegaan en ek kon myself daarin voel leef. Sy hou haar hand na my toe uit. Moet ek vir haar sê dat sy al van my bundels van haar onderteken het? My gekomplimenteer het op my rok? My Krog-rok, het ek dit toe gedoop. “Dis ’n groot voorreg,” sê ek en voel hoe my hand in hare effe bewe. Ons kry wegneemkoffie, sy verkyk haar aan ’n standbeeld uit klip op die kampus en gaan sit dan op ’n bankie in die son. Toe ek na die clivias oorkant ons verwys, vertel sy hoe sy altyd na mense wat tuinmaak gekyk het: mense wat iets vir die land kan dóén, kan betéken, en dan kies om fokken tuin te maak! Maar nou, sê sy half laggend, nou begin dit vir haar sin maak. Hier van naby lyk sy so bekend. Haar handgebare, die plooie om haar mond. So … mens.
By die opening van die gesprek sê prof Burger aan die studente: “Vandag het julle die geleentheid om vir Antjie Krog te vra wat jy nog altyd wou … julle gaan waarskynlik nie weer die geleentheid kry nie.” Flip, dink ek. Hy is reg en haar eie woorde flikker voor my: “binne ’n dekade gaan my soort Afrikaans / my soort styl, tema en verwysingsveld / deur niemand meer aangrypbaar wees nie” – woorde wat sy later self hardop voorlees. Die paniek zits koorsend by my nek op. Nee, daar is te veel vrae. In my kop klim hulle hurk-hurk op mekaar en vorm ’n groot bondel … stilte. Vir ’n oomblik oorweeg ek om nooit weer my regterhand te was nie. “Kan jy nie sien ons het jou nodig nie?” pleit ek met my oë aan haar. “Jy moet nog kwaad wees. Ons bly vertel wat ons nie wil hoor nie. Jy kan ons nooit los nie,” wil ek sê. “Onse Antjie” het ’n vrou by die opening van ’n vorige boekbekendstelling van haar gesê. Die appropriasie het my laat gril. Hoe durf ons haar aan ons toe-eien? ’n Leiband aan ’n trekvoël gooi? Nee. Dit kan nie. Nie met ’n vry fokken vrou nie.
Sy lag oor digters wat hulself as celebrities gedra. Die gehoor lag saam. Hang aan haar elke woord. Om net in haar nabyheid te wees. Sy spot met haarself. Sy is haar eie grootste kritikus. “Mense sê kritiek is nie persoonlik nie. Dis stront!” Sy praat met energie. “My ma het van kleins af vir my gesê dat ek nie moet dink wat ek doen spesiaal is nie,” vertel sy. “Skryf, stories vertel, jok, is deel van ons familie, ons bloed. Moenie dat dié skrywery na jou kop toe gaan nie.” So … mens, dink ek weer. Maar dan begin sy voorlees. Haar mondhoeke trek soos sy koninklik vloek, haar hand hou die ritme op die tafel. En ons almal sit betowerd.
Wat is dit van dié vrou wat soveel mag oor ons kan uitoefen? So gewoon – kyk, sy’s vlees en bloed, een van “ons”, maar tog kan sy so toor. Is dit wat kuns so verslawend maak? Dat gewone mense met gewone dinge (’n eenvoudige lyn, klank of banale woord) ons dinge kan laat voel wat byna boaards is? Kyk hoe vat sy ’n taal waaraan ons gewoond is, breek dit af en vervreem dit soos Celan. Sy plunder, bou en vorm palimpseste. En die gevolg is iets magies. ’n Mistieke ervaring. In verwondering laat sy ons.
Maar ek word diep geraak deur een derdejaar se opmerking. Tristin skryf vir my:
Ek skud blad met Antjie Krog en my naam val uit haar mond. Kan dit wees dat ek my hand in hare bevind? ’n Student teenoor ’n skrywersheld. Tog in haar oë erken sy my as ’n medemens op dieselfde vlak.
Antjie sit voor die gehoor, hande in die skoot, lyk ietwat verleë met vrae van alle kante af. Maar sy roep toe haar verlede terug, so eenders aan sommige van ons eie, van haar ma se woorde wat haar altyd bygebly het: “Ek het ’n vreeslike strawwe ma gehad. En elke keer as ek my wou verlekker in iets wat ek reggekry het, sê sy: ‘Moenie dink jy’s iets nie. Moenie dink jy’s iets besonders nie, jy’s ’n gewone kind.’ [...] Ek moet alles relativeer in my eie kop om nie te begin dink ek is iets nie.”
Uit hierdie klein venster wat sy op haarself oopmaak, blyk dit dat sy bewus is van wie sy is, maar sy beheer haarself om haar nie bo ander te verhewe nie. Sy gaan voort met hoe dit vir haar moontlik as vrou is – volgens haar, “Omdat ’n vrou off-centre is, hanteer jy en bestuur jy jou ego beter.”
Hierdie woorde sal my altyd herinner om nederig te bly, maar haar dade bevestig dit: My hand in haar greep was ’n erkenning van my bestaan en respek vir my as ’n mens, soos sy.
Weer en weer klink dit soos ’n refrein in hulle kommentaar: Antjie het hulle raakgesien, hulle erken; hulle kan nie glo sy is so ’n gewone mens nie.
Louwrens Strydom sê:
Ek was verstom om Antjie sommer so voor die lokaal, nog voor die geleentheid begin het, te ontmoet. Sy het haar hand na my uitgereik, nee, nie sodat ek dit knegtig moes soen nie, maar om my hand te druk en om my naam uit te vind. Só was sy met almal van die staanspoor af. Dit was asof jy ʼn tannie by ʼn vriend se braai ontmoet.
Ek het oomblikke voordat die vrae begin het, gewik en weeg oor of ek ʼn vraag aan haar moet stel. Dit is vir my maar ʼn ongemaklike oefening om vrae te vra, maar in die oomblik het ek besef dat hierdie geleentheid nie weer gaan opduik nie, en dat ek dit aan my verskuldig is om dit aan te gryp. Ek was bekommerd dat my vraag ietwat omstrede sou wees, maar jy besef gou dat jy met iemand praat wat omstredenheid omhels. Antjie het my vraag oorweeg en deeglik en eerlik beantwoord. Ek was verras deur haar aandag aan haar antwoord en dat sy kennelik moeite gedoen het om my vraag uit haar perspektief te beantwoord. Dit is tog waaroor dit gegaan het: om haar perspektief te hoor. Met die daaropvolgende vrae deur die ander gaste was
haar deeglikheid in haar antwoorde sigbaar. Sy het aan elke vraag dieselfde aandag gegee. Sy het dit gedoen sonder om haar nederigheid en kenmerkende eerlikheid prys te gee.
“Haar skryfwerk en liefde vir die woord inspireer nie net vir my nie, maar ook my ouma was so opgewonde dat ek die geleentheid kon kry om haar te ontmoet, want sy lees en geniet Krog se werk al vir dekades,” se Wihan Viljoen.
“Ons het aan elke woord gehang en sy het ons vasgegryp met haar opinies,” skryf Divan Koekemoer na die tyd.
Verskeie studente was beïndruk deur haar opmerkings oor die swak gehalte van voorgeskrewe boeke op skool: “Haar mening is dat dit so belangrik is om die regte boeke daar te bestudeer, sodat daar ʼn liefde vir jou taal regtig aangekweek kan word. Haar woorde: ‘Jy moet soms sukkel met iets, om dit te waardeer’ het vir my so baie beteken,” sê Deoné Prinsloo.
Daardie aand begin die media uitreik. Hulle wil met Krog praat. TV. Koerante. Die universiteit se kommunikasieafdeling raak bedrywig en die volgende oggend is alles in rep en roer. Ons toets die mikrofone, kry ons posisies in die optog, trek ons togas aan. (Bibi Slippers merk later op dat ek en Antjie soos ’n eksentrieke stel sout- en peperpotjies in ons togas lyk op die foto.)
Toe neem Antjie en Barileng stelling in. Antjie verduidelik dat hulle gedigte deur Leetile Disang Raditladi gaan lees, ’n digter van Botswana. So doen sy haar idee gestand dat almal gehoor moet word, ook in mekaar se tale. Eerste doen hulle “Pula / Reën”. Die Setswana en die Afrikaans staan langs mekaar, teenoor mekaar, volg mekaar, skuif soms oor mekaar in ’n dans van die reën.
........
Toe Barileng wegval met die Setswana, raak die gehoor aan die ululeer. Handeklap klink op, en toe die reënwoorde wegsterf, dreun die ouditorium. En toe begin hulle met “Dingaan en die Boere”. In Setswana en Engels. En weer praat die gehoor dadelik saam. Anders as in stemmige kunswedstrydvoordragte word die voorlesing ’n gesprek, saamgesels, oor die verlede, die konflik, en oor die grense van die tale heen.
........
Toe Barileng wegval met die Setswana, raak die gehoor aan die ululeer. Handeklap klink op, en toe die reënwoorde wegsterf, dreun die ouditorium. En toe begin hulle met “Dingaan en die Boere”. In Setswana en Engels. En weer praat die gehoor dadelik saam. Anders as in stemmige kunswedstrydvoordragte word die voorlesing ’n gesprek, saamgesels, oor die verlede, die konflik, en oor die grense van die tale heen.
Almal is ’n bietjie verstom, ’n bietjie verbaas, baie beïndruk. Een kollega uit die Skool vir Kunste sê sy is bly sy is nie die volgende ontvanger van ’n eredoktorsgraad by UP nie, want hoe oortref jy hierdie geleentheid! ’n Ander reken daar behoort altyd so iets by ’n gradeplegtigheid te wees, eerder as ’n vervelige toespraak. Bonga Tsebe, ons hoof van studente-administrasie wat oorhoofs vir die organisering van die gradeplegtigheid verantwoordelik was, whatsapp my: “Antjie’s presentation was so unique and special. I enjoyed every moment.”
Na die tyd stroom studente na Antjie wat graag selfies met haar wil neem.
Nou soek al die mediamense na ’n soundbite. Krog verduidelik dat die werk van ’n skrywer alleenwerk is en dat sy daarom sowel geëer as ongemaklik voel, dat dit ’n voorreg is.
Die eerste eredoktorsgraad, so word algemeen aanvaar, is deur Oxford toegeken in 1470. En mens mag miskien oor die meriete van eredoktorsgrade oor die jare heen bespiegel. Maar een ding bly waar: Dit bly ’n belangrike simboliese gebaar waarmee universiteite mense se bydraes tot die gemeenskap erken. In hierdie geval ook ’n gebaar dat verskeie mense se bydraes oor so baie van die onnodige en onwenslike grense in hierdie land erken word.
Antjie Krog se werk verdien op akademiese meriete ’n doktorsgraad – verskeie doktorsgrade. Bloot ’n boek soos Country of my skull is meer insiggewend as baie PhD’s wat ek al gelees het. Enige van haar digbundels bied genoeg stof vir verskeie doktorale verhandelings. Maar met haar optrede by die gradeplegtigheid bevestig sy alles waaroor haar loopbaan gaan: die voortreflikheid en krag van die woord, die belang van almal se tale en unieke seggingswyse, die noodsaak van die vervlegting van die estetiese met betrokkenheid. Sy skryf steeds omdat sy woedend is, maar kyk ook met groter erbarming na die mense wat tuinmaak.
Lees ook:
Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande
Antjie Krog, gemeenskaplikheid en die behoefte aan interverbondenheid in Mede-wete (2014)
Video: Antjie Krog se toespraak by die ontvangs van die Hertzogprys 2017

