
Ek’t Act
Klara du Plessis
Karavan Press
ISBN: 978-1-0370-9370-8
.........
As mens geskeur word tussen twee, dan beland mens op ’n peculiar plek, een wat soos ’n skietstilstand voel, of in hierdie geval ’n pouse tussen bedrywe waar jy nie net jou neus gou in die teater se toilette kan gaan poeier nie, maar ook kan asemskep, diep asemhaal, krag bymekaarmaak voor die vertoning weer begin – want ten spyte van oorlog, kernwapens, genocide, the show must go on!
.........
As mens geskeur word tussen twee, dan beland mens op ’n peculiar plek, een wat soos ’n skietstilstand voel, of in hierdie geval ’n pouse tussen bedrywe waar jy nie net jou neus gou in die teater se toilette kan gaan poeier nie, maar ook kan asemskep, diep asemhaal, krag bymekaarmaak voor die vertoning weer begin – want ten spyte van oorlog, kernwapens, genocide, the show must go on!
Ek’t Act (Karavan Press, 2025) is Klara du Plessis se Suid-Afrikaanse debuutbundel. Sy het al verskeie werke oorsee gepubliseer, nie net digkuns nie, maar ook akademiese werk. Dit blom op in haar skryfwerk, ’n kliniese toon en oog vir analise soos snykuns tot op die been van nie net haar psige nie, maar ook ons s’n.
Hier het ons met twee tale te doen, Engels en Afrikaans, ook innerlik en uiterlik, met ’n fyn feministiese pen so skerp soos ’n scalpel waarmee sy haar verse dissekteer. Du Plessis lê haar gedigte soos lyke op ’n snytafel neer en trek eers met haar subteks ellipse voor sy die digspoor oopsny en vir ons die binnekant wys. Verskoon my forensiese vergelyking, ek wil julle nie van die pad af skryf nie, want Du Plessis het ’n metafoor van haar eie, die teater, maar die manier hoe sy omgaan met woorde is veel anders. Soms meer kil as die emotiewe theatrics van drama, iets wat herinner aan ’n mediese ondersoek – en as leser moet jy ligloop of jy beland ook in die ander tipe teater, die een in die hospitaal.
Die bundel bestaan uit 13 afdelings, naamlik “Eenbedryf”, “Rehearsals”, “Act, Act, Act”, “Acts”, “Alleenspraak”, “Gesigstudie”, “Curtain call”, “Ek’t, Ek’t” en “Verte teater”. Party van die afdelings is in verskeie korter gedigte opgedeel en is verfrissend in styl en aanbieding. Dit lees soms soos voetspore wat die leser sporadies in verskillende rigtings lei en wat jou neem op ’n soms sikliese, soms fragmentêre reistog na binne soos ook die metafoor van die Ouroboros na vore kom.
As leser het dit gevoel asof ek saam met Du Plessis toer tussen lande, lywe en tonge. Sy is ’n bedrewe woordgids wat jou neem na plekke binne wat soms ongemaklik naak is, soos die kamers van die spreker in “Eenbedryf” wat besin oor moederskap en belonging, waar die emosies tasbaar is, die vertwyfeling en eensaamheid. Hierna word die verse al meer lukraak en wispelturig, soms vlymend soos “IIII”, of weer kripties en beeldryk in “Rehearsals” en “Alleenspraak”.
Daar is ’n dun doek tussen twee wat hier na vore kom. Ook dit wat ongesê bly, die ingehoue woede en frustrasie met “Wanorde van woorde gons oor grense” en “Weervoorspelling ruk in asemhaling”, tot weer teerheid en belydenis met:
I tell everyone it’s crazy
to move back to a country
everyone moves away from
(“Curtain call”, bl 76)
En al is die spreker “teensinnig om te ontklee”, is haar woorde ook “honger vir passie” met sensuele spreekdele waar sy erotika in ’n eiesinnige manier verwoord, soms impulsief, maar nog altyd beheersd met verleidelike skakerings wat veral die begeerte van vroue verwoord. Hier word ek herinner aan die hygende poësie van Lynthia Julius in Kinderlê (Queillerie, 2024) en haar “Trilgasmes”-gedigte. Julius aan die ander kant maak geen geheim van haar bedoelings nie – die gedigdiva draai nooit panties om met wat sy begeer nie en blaker vrylik haar spreker se sekskapades uit. Du Plessis terg jou weer, ’n tipe vers-foreplay waar sy die dominatrix van haar gedigte is en jy as leser die masochis.
Hierdie mate van beheer in vorm kan soms die leeservaring stu, dit laat voorkom asof daar min ruimte vir “voel” oorgelos word, vir meer weerloosheid, aangesien die soms belydende aard van displacement, woede en verlange na moederskap hier ter sprake is. Ek wou die monoloogaard in ’n dialoog omskep om saam te vers en te vra wanneer kan ek dan saam voel, in plaas van inkyk deur die soms gebarste vensters van hierdie huis/teater/lyf/psige wat aan my openbaar word?
Dat dit ’n keuse is om die leser op ’n afstand te hou, is redelik sigbaar hier en dit slaag daarin, om oor die waters na ons te roep en soms ook plekke om te ruil waar ons weer in die vreemde land of binnekant opeindig en sy weer in die bekende, die tuiste is. Du Plessis vang mens egter regdeur vas; sy is ’n vernuftige taalkundige wat verras in vorm, vermaak met verse en beelde oproep wat vars is. Haar digkuns verander rolle soos ’n veelsydige toneelspeler: soms misterieuse maestro wat ons lei na die onbekende; soms ’n doemprofeet met hakskoene, ’n calculating poppemeester; en ander kere ’n halfnaak solospeler wat ons deur epiese digvorm vertel oor die dinge in haar hart.
Na die lees van hierdie bundel spook daai voorblad nog by ’n mens. Die kunswerk is getiteld Mother and child deur Gerhard Marx. Dit is ’n pikgitswart ribbekas wat lyk soos die los wortels van ’n dooie plant, met skadu’s wat eggo oor die kil wit omslag. Nes daai skadu herhaal, eggo Du Plessis se woorde ook in mens lank na die lees van die bundel, onopgeloste vrae en verlange, maar ook ’n skynsel sonskyn wat sê: Baby, everything’s golden.
Lees ook:
Bundel wat huiwer tussen drama en poësie: ’n resensie van Klara du Plessis se Ek’t act

