In ’n artikel getitel “Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite” wys Gouws (2019) daarop dat “(d)ie ‘her’-standaardisering van Afrikaans (...) nie net ’n tegniese, taalkundige kwessie met ’n tegniese, taalkundige oplossing (is) nie” (volgens Conrad Steenkamp van die ATR). Daar is met ander woorde meer as net taalkunde hier ter sake. Steenkamp oordeel: “[M]eer aandag moet aan die sosiale, politieke en emosionele aspekte daarvan gegee word; baie sterker deelname van onder en wyer kommunikasie is nodig om mense ’n gevoel van eienaarskap te gee.” En dan voeg hy ook by: “Die Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies sal ingespan moet word om hierdie proses te ondersteun.”
Daar is vier sake wat hieruit na vore tree:
- Herstandaardisering as verskynsel is nie net taalkundig gedrewe nie (soos mense tereg dink).
- By herstandaardisering speel sosiale, politieke en emosionele faktore ook ’n rol.
- Die proses moet eienaarskap (te wete dat herstandaardisering ’n gegewe is) tot gevolg hê – die gebruikersgemeenskap moet aanvaar dat daar ’n geherstandaardiseerde weergawe van hulle taal tot stand gebring is of sal word.
- Daar moet ’n veldtog wees om herstandaardisering aanvaar te kry en “Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies” moet help om dit aanvaar te kry.
Tom McLachlan se (ietwat verergde) reaksie op Gerda Odendaal (verbonde aan die WAT en ook ’n navorsingsgenoot van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch) se lesing op 2 Maart 2023 tydens die Jaarlikse Nasionale Kongres van die Professionele Vereniging vir Afrikaans-taalonderrig in Namibië (PVATN) in Windhoek trek ’n mens se aandag in die lig van die bogenoemde punte.
Die vraag is: Moet daar herstandaardiseer word (Gerda se standpunt) of moet dit verwerp word (soos Tom te kenne gee)?
Daar is die afgelope aantal jare heelwat argumente vir en teen herstandaardisering geopper – sien onder meer die bibliografie hierby. Daaruit blyk dit duidelik dat herstandaardisering ’n komplekse saak is, een waaroor verskillende opponerende standpunte bestaan. Gerhard van Huyssteen, oudvoorsitter van die Taalkommissie, vat in Gouws (2019) die kompleksiteit soos volg saam:
Die standaardisering van enige taal is veel meer ingewikkeld as wat dikwels algemeen geglo word; boonop is daar verskillende, uiteenlopende standpunte oor wat standaardisering (moet) behels. Dié standpunte word soms ingebed in teoretiese, akademiese raamwerke; ander kere is dit persoonlike, emosionele betoë. Die een soort is nie minder geldig as die ander nie, en ons moet daarom wedersyds erkenning gee dat dit nie nét ’n kopsaak is nie, maar ook nie nét ’n hartsaak nie.
Dit is daarom miskien nuttig om ’n oomblik stil te staan en te kyk of daar nie op ’n manier iets van beide Tom en Gerda se standpunte waar kan wees nie. Ek wonder so dikwels hoekom ons so gereeld in Afrikaans standpunte inneem wat ver uitmekaar is, een waar min ruimte vir gesprek is, en een waar die kans op kompromisse skraal is. Dit skep nie die atmosfeer vir rasionele gesprekke nie en so beduiwel ons die verhoudinge nog verder in Afrikaanse geledere. En dit juis in die dae waarin ons saam in ’n span moet trek eerder as om mekaar oor alles te opponeer. Soos iemand lank gelede by ’n vakkongres gevra het: “Het julle Afrikaanssprekendes nie die wil om saam te sit en probleme op te los nie?”
Die variëteit van Afrikaans wat ons as die standaardvariëteit (oftewel Standaardafrikaans) ken, word in Tom se skrywe verhef tot ’n soort oorheersende variëteit, een wat die toon aangee rakende die effektiewe gebruik van Afrikaans in hoëfunksiedomeine, soos “die staatshuishouding, die regspleging, die wetenskap en dergelike”. Volgens hom is “die standaardvariëteit eintlik die enigste variëteit (...) waarmee doeltreffend met die hele sprekersgemeenskap gekommunikeer kan word” (my kursivering).
Hiermee kan sekerlik nie verskil word nie. ’n Taal se standaardvariëteit vervul inderdaad die behoefte van die betrokke taalgemeenskap om ’n instrument te hê om kommunikasie aan ’n breër en algemener gehoor te vergemaklik, een wat verskillende lede van die taalgemeenskap in staat stel om mekaar duidelik en ook gemaklik te verstaan. Hierdie variëteit is neutraal en word nie gekenmerk deur besondere eiesoortighede rakende uitspraak, woordeskat en grammatika nie. Elke taal het so ’n variëteit nodig en daar word nie eens meer daaroor gedebatteer nie. Dit is algemene kennis dat hierdie variëteit die resultaat is van ’n historiese proses van seleksie uit al die ander variëteite en dat hierdie variëteit mettertyd deur die standaardiseringsprosesse van kodifisering, aanvaarding, uitbreiding en kultivering aangepas en verfyn is om die neutrale rol te vervul. Tom sit hierdie argumente baie netjies in sy bydrae uiteen. Die literatuur bevestig dit ook, en dit is nie nodig om dit verder te verdedig of daaroor uit te brei nie.
Aan die ander kant is daar die argument dat ’n taal se variëteite nie staties is nie en dat dit aangepas moet word by die veranderende behoeftes van die gemeenskap of groep wat dit gebruik – dit is ’n standpunt wat Gerda en talle ander taalkundiges steun. Ons almal weet goed Afrikaans het ’n magdom variëteite (presies hoeveel weet ons nie, omdat daar so ’n verskeidenheid kontekste is waarin taal daagliks deur ’n verskeidenheid taalgebruikers ingespan word). Ons weet ook dat hierdie variëteite ’n aanduiding is van die uniekheid van Afrikaans, omdat dit bevestig dat die Afrikaanse taalgemeenskap in staat is om hulle met elke konteks te assosieer waarin taal gebruik kan word én dit in ’n besondere variëteit te verwoord.
Ons weet verder dat hierdie variëteite taalkundig gelykwaardig is, en dat hulle dieselfde waarde en status vir gebruikers het (Frank Hendricks van UWK het in 2012 uitvoerig geskryf oor die “gelykevlakbenadering” tot variëteite, en dit word wyd in die literatuur erken). Van hierdie variëteite word wel gekenmerk deur uitspraakverskille, unieke leksikonitems en selfs beperkte grammatikale verskille van sommige van die ander variëteite, soos van die standaardvariëteit. Verder sal al hierdie variëteite onvermydelik met verloop van tyd verander, omdat die sprekers wat dit gebruik, ook met die verloop van tyd verander. Ook dit is alles in die literatuur bevestig.
In een van die paragrawe hier bo het ek geskryf “dat ’n taal se variëteite nie staties is nie en dat dit aangepas moet word by die gemeenskap of groep wat dit gebruik”. Dit is hier waar die twee argumente wat hier bo opgesom is, effens bots: Die standaardvariëteit is tegelyk neutraal en (soos alle ander variëteite) onderhewig aan verandering (dus nie staties nie) om by die behoeftes van die sprekers aan te pas. Dit is hier waar herstandaardisering ter sprake kom.
Tom sê dat daar “natuurlike herstandaardisering” is: “Die Afrikaans van vandag is nie meer die Afrikaans van die 1917-AWS ... nie. Daardie veranderinge getuig van ware, deurlopende en natuurlike herstandaardisering ...” (my kursivering). Volgens Tom word hierdie aspek nie behoorlik verreken in die herstandaardiseringsdebat nie. Maar die woord “herstandaardiseer” moet hier net versigtig gebruik word, omdat “her-" impliseer dat iets oorgedoen moet word, dat dinge vervang moet word, en dat daar dus iets ingrypends en fundamenteels aan die basis van die bestaande standaardvariëteit gedoen moet word. Ek glo nie dit is wat hy in gedagte gehad het met sy stelling nie. Wat Tom in wese bedoel het, is dat daar eerder voortgaande standaardisering na aanleiding van normale taalverandering sal plaasvind. As gevolg van die natuurlike proses wat hier plaasvind, kan daar mettertyd ’n aangepaste standaardvariëteit tot stand kom, een wat deur ’n langsame aanvaardingsproses deur die taalgemeenskap sal moet gaan. Uiteindelik kan dit tot ’n aangepaste kodifisering (opteken van ortografie, grammatika en woordeboeke) lei.
Hierteenoor is Gerda van oordeel dat daar ’n groter mate van demokratisering (die resultaat van sosiale en politieke druk) in die taal van die dag nodig is en dat dit tot die herstandaardisering van Afrikaans kan en selfs behoort te lei. Vir Tom is dit “polities korrekte herstandaardisering wat verkondig word sonder om aan te dui hoe en deur wie ...” Tom het ’n probleem hiermee, omdat daar soveel vaaghede aan so ’n vertrekpunt gebonde is.
Wat staan ’n mens nou te doen? Dit kom voor asof die doel van die voorgestelde herstandaardisering is om die huidige standaardvariëteit aan te pas om in ’n baie groter mate as tans die volle sprekersgemeenskap van Afrikaans te weerspieël. Is dit haalbaar? Is dit wenslik? Is dit nie dalk ’n onderwerp waaroor ons indringend (met ’n oop gemoed) in die lig van ons insigte oor die inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap moet praat nie? Moet die huidige weergawe van die variëteit wat ons Standaardafrikaans noem (en waaroor ek self ook ’n boek geskryf het – Norme vir Afrikaans) nie dalk ’n meer inklusiewe “gesig” vertoon nie, soos dat ons die woordeskat uitbrei om meer woorde uit die ander variëteite in te sluit nie? Is dit nie wat Gerda suggereer waar ons moet begin nie? Sien haar PhD van 2012 in hierdie verband. Is dit ’n doodsonde om hierdie roete te loop? Natuurlik is daar van die woorde wat gewone gebruikers van selfs informeler Standaardafrikaans teen die bors sal stuit. Vir my ook. Dit kan egter tog nie ’n taboe onderwerp wees nie? Maar hierdie soort vrae illustreer juis dat ons nog nie behoorlik weet wat ons wil doen nie.
Ek besef goed dit is ’n besonder emosionele kwessie, in die besonder vir diegene wat oor die jare hard gewerk het via talle publikasies, liggame (soos die Taalkommissie) en ander veldtogte om Standaardafrikaans gevestig en bestendig te kry. Dit is ook vir my ’n tameletjie om hieroor te skryf, omdat ek ’n hele loopbaan agter die rug het waar ek my bes gedoen het om in Standaardafrikaans te publiseer, juis om te help om die algemener weergawe van Afrikaans daar te stel.
Maar juis omdat ek ’n hele loopbaan van betrokkenheid in Afrikaanse taalkwessies het, sien ek al hoe meer die sin daarin om die daaglikse algemeen-kommunikerende weergawe van Afrikaans (waarskynlik ’n informeler standaardvariëteit as tans – sien wyle Danny Titus se skrywe van 2017 hieroor) al hoe meer te verbreed sodat dit meer weerspieël van die taalgebruik van die totale gemeenskap van Afrikaans. Ek sê nie dat ons móét herstandaardiseer nie, maar wel dat ons moet praat oor wat dit presies (moet) inhou, of nie (moet) inhou nie. Kom laat ons hieroor praat sonder om persoonlike brûe agter ons te verbrand. So bou ons saam aan ’n meer verteenwoordigende Standaardafrikaans as die huidige een (wat om historiese redes as oorwegend ’n wit variëteit beskou word).
Ek dink ons sal moet aanvaar dat herstandaardisering uit beide ’n taalkundige én ’n sosiale hoek benader behoort te word. Daar behoort ’n samehang tussen hierdie aspekte te wees. Maar wat dit alles presies behels, moet ons uitpluis en beskryf sodat diegene wat hieraan wil meewerk, deeglik verstaan wat alles ter sprake is. Dan praat ons nie langer by mekaar verby nie. En dan werk ons daarvandaan verder saam om die Afrikaans te vorm wat ons almal graag sal wil hê.
Ek besef goed ek trek nou aan die leeu se spreekwoordelike snorbaard met my opmerkings. Ek was egter nog altyd ’n voorstander van ’n oop debat, en ek glo hierdie een verdien ook ’n debat met ’n oop gemoed. Nog te meer as ons te doen het met ’n begrip waarvan die betekenis en volle impak onduidelik is.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het reeds in 2022 ’n omvattende projek oor die dokumentering van Afrikaans se variëteite geïnisieer. Talle instansies (soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATR self, die Afrikaanse Taalmuseum, die Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en ook ervare navorsers verbonde aan Suid-Afrikaanse universiteite gaan hieraan meewerk. Ons gaan nie net oor die variëteite as sodanig praat nie, maar ook oor die taai toffies (soos hierdie een) wat ons nog nie regtig weet hoe om te kou of waaroor ons saamstem nie. Ons weet wel dat iets van hierdie inklusiewer siening weerspieël moet word in kurrikula van die volgende geslagte. Kom ons werk saam uit hoe om hiermee te werk te gaan.
Wannie Carstens, senior navorsingsgenoot van die ATR, buitengewone professor in Afrikaanse taalkunde aan die NWU
Opmerking: Ek erken graag die insette van Ernst Kotzé (voormalig NMU) in die formulering van die gedagtes in hierdie bydrae.
Bibliografie
Carstens. WAM. 2018. Norme vir Afrikaans. Moderne Standaardafrikaans. 6de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.
Gouws, A. 2019. Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite. 21 Augustus 2019 geplaas. https://www.litnet.co.za/herstandaardisering-van-afrikaans-die-tameletjie-en-uitdaging-van-opsies-en-besluite.
Hendricks, FS. 2012. Die potensiële nut van ’n gelykvlak-perspektief op die variëteite van Afrikaans. In Prah (red) 2012.
Kotzé, EF. 2010. Destandaardisasie en herstandaardisasie – gelyklopende prosesse in die nuwe Suid-Afrika. In Van der Wal en Francken (reds) 2010.
—. 2011. Demokratisering en standaardisering – teenstrydige doelwitte vir inheemse tale. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):746–57.
McLachlan, T. 2023. ’n reaksie op Gerda Odendaal se lesing ten opsigte van die herstandaardisering van Afrikaans. 3 April 2023 geplaas. https://www.litnet.co.za/n-reaksie-op-gerda-odendaal-se-lesing-tov-die-herstandaardisering-van-afrikaans.
Odendaal, G. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans: ’n praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. Ongepubliseerde proefskrif. Universiteit Stellenbosch.
—. 2023. Die herstandaardisering van Afrikaans. (Lesing.) 15 Maart 2023 geplaas. https://www.litnet.co.za/lesing-die-herstandaardisering-van-afrikaans.
Prah, KK (red). 2012. Veelkantiger Afrikaans. Streeksvariëteite in die standaardvorming / Mainstreaming Afrikaans regional varieties. Kaapstad: Casas.
Titus, D. 2017. “Gun Afrikaans ’n lewe sonder polisiemag.” By, Beeld, 9 September 2017, bl 17.
Van der Wal, M en E Francken (reds). 2010. Standaardtalen in beweging. Amsterdam en Münster: Stichting Neerlandistiek VU & Nodus Publikationen.
Van Heerden, M en EF Kotzé 2018. Kaaps en (her)standaardisering. 14 Maart 2018 geplaas. https://www.litnet.co.za/kaaps-en-herstandaardisering.
Webb, VN. 2010. Standaardafrikaans: ’n vurk in die pad? ’n Taalpolitieke perspektief. In Van der Wal en Francken (reds) 2010.
Luister en lees ook:
’n Reaksie op Gerda Odendaal se lesing tov die herstandaardisering van Afrikaans
ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans
Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite
Kettinggesprek: Wannie Carstens gesels met Frank Hendricks oor Kaaps in fokus
Van daar na waar? ’n Oorsigtelike blik op die herstandaardiseringsdebat van Afrikaans
Wij spreken zo niet onder ons - taalstandaardisasie en die konstruksie van identiteit
Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs)
"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"
Kommentaar
‘n Manifes vir Afrikaans - deur Johannes Comestor
Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat
ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.
https://www.litnet.co.za/n-manifes-vir-afrikaans/
Ek het in 2016 hieroor 'n eiertjie gelê:
https://www.litnet.co.za/reaksie-op-eusebius-mckaiser-spreektaal-versus-skryftaal/
Die mens is nou maar 'n politieke dier, en sal aanhou om taal as politieke speelbal te gebruik. Dit sal nooit verander nie. Net soos in sport, die kunste, en elke ander aspek van die menslike bestaan, dit word verpolitiseer, en taal veral. Wanneer dit mense pas en die behoefte daar is om die kats in te lê, dan is Afrikaans die taal van die onderdrukker. Van die wit man. En wanneer dit mense pas, dan is Afrikaans 'n taal van Afrika, van slawe en onderdruktes (veral in uitstallings in museums en monumente). Ek antisipeer egter die einde van Afrikaans aan publieke universiteite iewers in die toekoms. Veral gegewe die feit dat ons regeer word deur mense wat almal in Engels studeer het in die buiteland. En geen aptyt het vir enige ander taal as Engels in skole nie. Akademia sal waarskynlik die enigste Afrikaanse universiteit wees wat oorbly. Die Christelike karakter van Akademia skrik my bietjie af, maar ek dink dit is wonderlik wat daar gedoen word.
Afrikaans hoort by Nederlands. Moet ons taal asb nie verder kreoliseer nie. Indien daar veranderinge moet kom, laat dit nader na Nederlands beweeg.
Dit is nie iets waaroor mense 'n vergadering hou en besluit ABC nie. Die mense wat tale standariseer kyk na tendense en versamel data. Daarvolgens word besluite geneem. Afrikaans en Nederlands is baie naby aan mekaar, maar dryf wel uitmekaar. Dit is hoe dit natuurlik ontwikkel.