Die WAT dokumenteer Afrikaans in sy wydste omvang

  • 2

Navorser en mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Gerda Odendaal, het in haar LitNet Akademies-artikel (Geesteswetenskappe): "Die rol van die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie deur sy betrokkenheid by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal" ondersoek.

Sy het vir Menán van Heerden meer vertel van die verskil tussen die WAT en ’n Afrikaanse standaardwoordeboek, en hoe die verskillende variëteite van Afrikaans opgeteken word.

Hoe sou jy die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf, en hoe verskil dit van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal?

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is ’n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek. Die woordeboek is omvattend deurdat dit eerstens ten doel het om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang op te neem (maw alle variëteite van Afrikaans word opgeneem). ’n Woordeboek soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), daarenteen, wat ’n standaardwoordeboek is, beskryf (grootliks) een variëteit van Afrikaans, naamlik die standaardvariëteit (hoewel HAT 6 ook ’n beperkte dog groeiende versameling leksikale items uit ander variëteite insluit wat vollediger in die WAT bewerk word). Tweedens bied die WAT ook ’n groot verskeidenheid tipes inligting aan woordeboekgebruikers in die bewerking van ’n woord (oftewel lemma) (byvoorbeeld woordsoort, lettergreepverdeling, woordklem, morfologie, sinonieme, verwante woorde, gebruiksfeer, voorbeeldsinne, uitdrukkings, ens). Laastens gaan die WAT ook omvattend te werk ten opsigte van die bewerking van lemmas: al die moontlike betekenisse of betekenisonderskeidings wat ’n woord in Afrikaans kan hê, word in die WAT weerspieël, terwyl ’n woordeboek soos HAT slegs die gebruiklikste betekenisse of betekenisonderskeidings weergee. Die woord silinder het byvoorbeeld in HAT twee betekenisonderskeidings teenoor die WAT se agt betekenisonderskeidings.

Wat die sinchroniese aard van die WAT betref, is dié woordeboek, net soos HAT, primêr gerig op huidige of eietydse taalgebruik in Afrikaans. Anders as HAT, beskryf die WAT egter ook die taal van die onlangse verlede. Dit beteken dat daar ook ouer Afrikaanse woorde opgeneem word. Wanneer hierdie woorde egter opgeneem word, word daar duidelik aangedui dat hulle verouderd is, asook wat die gebruikliker woord is wat tans in Afrikaans gebruik word.

Die WAT is laastens, soos HAT, ’n verklarende woordeboek: die betekenis van woorde word dus in die WAT verklaar, gedefinieer of omskryf en daar word nie, soos in vertalende woordeboeke, vertalings van Afrikaanse woorde in byvoorbeeld Engels verskaf nie.

Die WAT sluit leenwoorde van Khoi, Maleis, Arabies, Afrikatale en Engels in. Word die invloed van Engels op Afrikaans misken? Hoe verskil Engelse leenvertalings van anglisismes?

Die WAT het reeds met die eerste deel wat in 1950 verskyn het, Engelse woorde en uitdrukkings opgeneem wat in Afrikaans ingeburger is. Hierdie tipe woorde is egter tot ’n minimum beperk en by sekere woorde is daar “deur middel van ’n opmerking die aandag op foutiewe gebruik gevestig of ’n suiwer Afrikaanse idioom in die plek van ’n gebruiklike anglisisme aanbeveel”, aldus die inleiding van dié deel. ’n Anglisisme is enige woord of uitdrukking in Afrikaans wat, hoewel dit soos ’n Afrikaanse woord of uitdrukking lyk, gevorm is na die Engelse model en in stryd is met die aard of idioom (taaleie) van Afrikaans, en dus ’n woord of uitdrukking wat reeds in Afrikaans bestaan, bedreig of verdring. Voorbeelde hiervan is opbottel, wat na die patroon van die Engelse to bottle up gevorm is, in plaas van opkrop, en die idioom bloed is dikker as water, wat na die patroon van die Engelse idioom blood is thicker than water in Afrikaans gebruik word in plaas van die hemp is nader as die rok. Aangesien die WAT ten doel het om die taalgebruik van Afrikaanssprekendes te beskryf eerder as om voor te skryf, word hierdie woorde en uitdrukkings sedert die agste deel nie meer as anglisismes geëtiketteer nie. Dit word sedert deel tien met die etiket n.d. Eng. (“na die Engels”) gemerk.

Hierbenewens neem die WAT ook ruim leenvertalings uit Engels op – dit is Afrikaanse woorde wat letterlik uit Engels vertaal is, maar ’n eie Afrikaanse struktuur het, byvoorbeeld diefwering (“burglar-proofing”), kougom (“chewing gum”), middeljarig (“middle-aged”), maalvleis (“minced meat”) en rommelverkoping (“junk sale”). Hierdie woorde word ongeëtiketteer in die WAT opgeneem.

Laastens neem die WAT ook Engelse woorde op wat ’n sekere gaping in Afrikaans vul (bv muffin, punk, rocker, savvy, sexy, sheriff, shorthand en singsongs) of wat reeds tot só ’n mate in Afrikaans ingeburger is dat dit amper net soveel as, of selfs meer gereeld as, die Afrikaanse ekwivalent gebruik word (bv poster, propeller, props, radiator, ref en sirloin). Nie alle Engelse woorde wat deur Afrikaanssprekendes gebruik word, word egter opgeneem nie, aangesien die verklaring van die meeste van hierdie woorde in Engelse verklarende woordeboeke nageslaan kan word.

Afgesien van bogenoemde invloede is vroeë volumes van die WAT deur Nederlands beïnvloed. Vertel meer?

Toe daar in 1926 met die samestelling van die WAT begin is, was Afrikaans nog maar in sy kinderskoene wat standaardisering betref. Veral die beperkte en onvaste aard van die Afrikaanse vaktaal te midde van ontwikkeling op tegniese en natuurwetenskaplike gebied het die redaksie genoop om ruimer aan Nederlands te ontleen. Dit het daartoe gelei dat die redakteurs van deel I hulle nie beperk het tot die opneem van “onmisbare en onvervangbare woorde” uit Nederlands nie, maar ook “woorde wat ons in die toekoms nodig mag kry en stamwoorde waarvan die afleidings en/of samestellings in Afrikaans gangbaar is” en selfs Nederlandse argaïsmes opgeneem het, aldus die inleiding van deel 1. Ook die feit dat die redaksie ’n plek toegeken het aan “verouderde woorde wat dikwels nog sluimerende lewenskrag openbaar” of “wat uit kultuurhistoriese oogpunt belangrik is”, asook “vrygewig” was “met die opneem van vreemde woorde”, het daartoe gelei dat daar veral in die eerste drie dele heelwat Nederlandse woorde opgeneem is wat uiteindelik nie deel van die Afrikaanse woordeskat was of geword het nie. ’n Verdere problematiese aspek hiervan is dat heelwat van hierdie woorde dikwels nie as Nederlands geëtiketteer is nie, wat die indruk gewek het dat hulle gebruiklike Afrikaanse woorde is. Hierdie Nederlandse woorde het ook soms in die definisies van woorde ingesluip, en as voorbeeldmateriaal is daar soms vertaalde aanhalings uit Nederlandse bronne aangebied.

Daar is egter ook reeds sedert die eerste uitgawe by sekere woorde aangedui dat dit “meer Nederlands” of “Nederlands” is, en deesdae word eg Nederlandse woorde of betekenisonderskeidings wat nie in Afrikaans bestaan nie, nie opgeneem nie.

Die eerste volume van die WAT het in 1950 verskyn, en die nuutste volume in 2013. Hoe lank neem dit om 'n omvattende woordeboek soos die WAT te voltooi? Daarmee saam: Taal is organies – hoe gaan die WAT te werk om nuwe woorde op te teken? Word nuutskeppings soos argitekbek en Afrikaaps vir opname oorweeg? Indien wel, speel die Elektroniese WAT ’n rol hierin?

Die kort antwoord is: dit neem lank. ’n Soortgelyke woordeboek, soos die Woordenboek der Nederlandsche Taal, het 134 jaar geneem om te “voltooi”. Ek plaas “voltooi” hier tussen aanhalingstekens, want ’n omvattende woordeboek kan natuurlik nooit werklik klaar wees nie, aangesien die taal voortdurend ontwikkel en nuwe woorde gereeld tot die woordeskat toegevoeg word. Wanneer daar egter alfabeties aan ’n omvattende woordeboek gewerk word, soos in die geval van die WAT, gebeur dit dat nuwer woorde wat vroeër in die alfabet verskyn, noodgedwonge agterweë bly. ’n Woord soos emotikon het byvoorbeeld nog nie in 1955 bestaan toe daardie deel gepubliseer is nie. Om hierdie gapings enigermate te vul, het die WAT in 2016 die Aanlyn WAT aangevul met sowat 800 nuwe woorde en nuwe betekenisse van bestaande woorde, byvoorbeeld aanlyn, app (en toep), banting, beurtkrag, blog, blogger, blues, boks, bokswyn, breëband, CD, DVD, emoji, emotikon, e-tol, gay, geelkaart (en rooikaart), haatspraak, hidrobreking en hommeltuig. ’n Hiaatlys (lys met huidige “gapings”) word ook deurgaans deur redakteurs van die WAT bygehou waarin nuwe woorde, betekenisse en uitdrukkings opgeteken word sodat dit met gereelde tussenposes in die Aanlyn WAT opgeneem kan word.

Daarmee saam: Aan watter vereistes moet 'n woord – byvoorbeeld poenankies − voldoen om in die WAT opgeneem te word? Me ander woorde, hoe word die gesproke taal van Afrikaanssprekende gemeenskappe regoor Suid-Afrika tans opgeteken (en hoe is dit in die verlede opgeteken)?

Die eerste hoofredakteur van die WAT, JJ Smith, het reeds sedert 1911 aandag gegee aan die optekening van Afrikaans vir die opstel van ’n woordeboek. Toe hy in 1920 ook as die eerste dosent in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is, het hy ’n menigte woordelyste met behulp van sy studente versamel. Met die aanvang van sy werk aan die WAT in 1926 het hy ook begin om ’n netwerk van medewerkers van regoor die land te vestig wat hom verder behulpsaam was in die optekening van streek- en vaktaal. Ander dosente aan die Universiteit Stellenbosch wat Smith se voorbeeld nagevolg het deur hulle studente in te span om taalmateriaal in te samel, sluit in BA de Wet, wat self ook veral woorde en uitdrukkings uit die Karoo opgeteken het, FEJ Malherbe, M de Villiers en W Kempen. Laasgenoemde twee persone het vanaf 1947 gesamentlik meer as 32 200 kaartjies met woorde en uitdrukkings tot die WAT se versameling bygedra. Adviseurs op tegniese en vakkundige gebied, staatsdepartemente en lesers van Die Burger, Die Huisgenoot en Die Boerevrou het ook aansienlike bydraes tot die WAT se materiaalversameling gelewer.

Oor die jare het die Buro van die WAT ook besondere moeite gedoen om soveel as moontlik voorbeelde van streektaal vir sy databasis te versamel ten einde ’n omvattender en meer verteenwoordigende dekking daaraan in die WAT te kan gee. Daar is onder andere kontak gemaak met verskillende gemeenskappe ten einde streektaal op te teken, en sedert die 1990’s word daar ook toenemend op die versameling van gesproke materiaal gefokus. Die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis het hierin ’n belangrike rol gespeel, deurdat dosente en studente se dekades lange optekening van die gesproke taal van Afrikaanssprekende gemeenskappe regoor Suid-Afrika aan die Buro van die WAT beskikbaar gestel is.

Alhoewel die Buro van die WAT graag steeds bydraes van die publiek ontvang, stuur mense in werklikheid nie meer so gereeld woorde en uitdrukkings aan die Buro soos wat vroeër die geval was nie. Die redaksie van die WAT hou egter deurgaans hulle ore op die grond vir nuwe woorde en uitdrukkings vir opname in die WAT. Akademiese publikasies soos Kaaps in fokus en navorsingsartikels soos Elvis Saal se artikel “’n Verkenning van taalvariasie in die Afrikaanse poniekoerante Son en Sondag” wat onlangs in LitNet Akademies gepubliseer is, maar ook literêre werke soos Nathan Trantaal se Chokers en survivors, is byvoorbeeld waardevolle bronne vir die opteken van verskillende variëteite van Afrikaans. Die internet is deesdae ook ’n waardevolle bron vir die opteken van tradisioneel gesproke taal. Met verskeie blogs en soortgelyke publikasies wat aanlyn beskikbaar is, is daar ’n magdom bronne tot die redaksie se beskikking waaruit woorde en uitdrukkings uit ’n wye verskeidenheid variëteite van Afrikaans opgeteken kan word. Die minimumvereiste vir opname van enige woord of uitdrukking in die WAT is dat daar vyf verskillende voorbeelde in vyf verskillende bronne van die woord of uitdrukking se gebruik moet wees. Die bron kan geskrewe of gesproke taal verteenwoordig.

Daar is natuurlik ook gesproke taal wat nie altyd aanlyn of op papier neerslag vind nie. Dit geld veral geselstaal, streektaal en sekere variëteite van Afrikaans. Ook hiervoor hou redaksielede hulle ore op die grond. In sulke gevalle word die “vyf voorbeelde”-riglyn nie so streng nagevolg nie. Indien ’n redaksielid ’n woord of uitdrukking hoor en daar nie geskrewe bewyse is dat die woord in Afrikaans gebruik word nie, sal die redaksie adviseurs wat byvoorbeeld kennis dra van die betrokke variëteit of wat self sprekers is van die variëteit nader en vra of hulle die woord of uitdrukking ken. In hierdie opsig is sosiale media ook nuttig. Indien die gebruik van die betrokke woord of uitdrukking deur minstens twee ander persone bevestig word, sal daardie woord of uitdrukking opgeneem word.

Die WAT het reeds sedert die eerste deel die breër Afrikaanse leksikon opgeteken: gesproke en geskrewe materiaal word uit al die variëteite van Afrikaans opgeteken. Kan die WAT ’n variëteit soos Kaaps definieer?

Aangesien die WAT ’n omvattende woordeboek is en nie ’n standaardwoordeboek nie, word alle woorde en uitdrukkings in die woordeboek bloot as “Afrikaans” aangebied (behalwe waar dit om ’n leenwoord gaan, waar die oorsprong van die woord aangedui word). Woorde of uitdrukkings word dus nie as byvoorbeeld “Kaaps” of “Namakwalands” in die WAT geëtiketteer nie. Aangesien daar ook dikwels oorvleueling tussen die onderskeie variëteite van Afrikaans is, word hierdie tipe indeling nie in die WAT gemaak nie. Waar die WAT wel ’n aanduiding het dat ’n sekere woord, betekenisonderskeiding of uitdrukking tipies in ’n sekere streek of dorp gebruik word, word dit wel aangedui, byvoorbeeld “veral opgeteken in Namakwaland”. Waar ’n woord, betekenisonderskeiding of uitdrukking veral in gesproke taal voorkom, word dit aangedui met die etiket “geselstaal”, en waar dit beperk is tot ’n spesifieke gebruiksfeer, byvoorbeeld farmakologie of sport, word dit ook deur middel van etikette aangedui. Aangesien die WAT nie ’n dialekwoordeboek is nie, word daar egter nie verder uitsprake gemaak oor watter woorde of uitdrukkings tot watter variëteite van Afrikaans behoort nie.

Vertel vir ons meer oor “Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal”: hoe dra vorige gaste soos HemelBesem en Jitsvinger as rymkletsers tot hierdie geleentheid by?

Die doel van Woordpret is om blootstelling aan Afrikaanse kunstenaars te gee en om iets terug te gee aan die ondersteuners van die WAT. Die Buro van die WAT probeer ook om aan ondersteuners van die WAT ’n beeld te gee van die wye verskeidenheid van Afrikaans soos wat dit in die woordeboek neerslag vind. Daarom word daar skrywers, akteurs, nuusmakers, sangers, rymkletsers en hip-hop-kunstenaars genooi.

Willem Botha en Hemelbesem (Foto: Liné Enslin)

Lees ook

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

Gerda Odendaal
Resensies

"Kaaps in fokus gaan ten slotte oor mense, want '[d]ie soppangheid van Kaaps is in die laaste instansie nie net ’n linguistiese kwessie nie, maar wesenlik een van die waardigheid van alle sprekers van Afrikaans' (Willemse, 81). En dit is juis hierdie kenmerk van Kaaps in fokus wat dit so ’n tydige en relevante publikasie maak."


“Jol”, “antie”, “pelle”: omgangstaal in poniekoerante

Menán van Heerden, Elvis Saal
Onderhoude

"Kodevermenging in poniekoerante dien nie net as ’n aanduider van die veranderinge in die sosiopolitieke dinamika van die Afrikaanse spraakgemeenskap nie, maar het ook die potensiaal om onder lede van die spraakgemeenskap ’n bewustheid van hierdie veranderinge te skep."


  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die vernietiging van die Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch bly 'n onvergeefbare skande. "Regoor" beteken "direk oorkant, presies teenoor" (HAT). Ek sou eerder van dwarsoor Suid-Afrika, ens, praat. Ek hou ook van die volgende onderskeid: "Onder andere word eerder vir mense gebruik en onder meer vir dinge" (Dalene Muller, Skryf Afrikaans van A tot Z, 2007, p 158). In Odendaal se resensie van Kaaps in fokus sien ek "in die laaste instansie" - die lidwoord moet weggelaat word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top