LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

  • 1

Kaaps in fokus
Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs)

Uitgewer: African Sun Media
ISBN: 9781928314165

Op 8 Desember 2016 is die boek Kaaps in fokus in Kuilsrivier bekendgestel. Hierdie akademiese publikasie onder redaksie van Frank Hendricks en Charlyn Dyers is ’n uitvloeisel van die Kaaps in fokus-simposium wat van 19 tot 20 Julie 2012 deur die Universiteit van Wes-Kaapland se Departemente Afrikaans en Nederlands en Linguistiek, met die ondersteuning van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die Vlaamse Interuniversitaire Raad, aangebied is.

Wat hierdie publikasie volgens Hendricks “van historiese belang” maak, is die feit dat dit “die eerste akademiese boek (is) waarin Kaaps deur verskillende outeurs vanuit diverse invalshoeke betrag word”. Alhoewel dit die geval is, is dit tog opmerklik dat die hoofstukke nie onafhanklik van mekaar staan nie. Die verskillende outeurs tree vanuit hulle onderskeie perspektiewe in gesprek met mekaar, sodat ’n aantal sentrale temas uiteindelik in dié publikasie geïdentifiseer kan word. Die gevolg is dat Kaaps in fokus nie, soos wat dikwels met kongrespublikasies die geval is, bloot die samevoeging van ’n aantal onverwante bydraes is nie, maar eerder ’n sterk, samehangende publikasie oor Kaaps verteenwoordig. (Dit in ag genome, kan ’n mens die insluiting van sekere navorsing wat reeds elders verskyn het, verskoon.)

Op die radioprogram Skrywers en boeke wat op Woensdag 22 Februarie oor RSG uitgesaai is, het Hendricks die opmerking gemaak dat Kaaps in fokus “in die teken van die bestryding van negatiewe persepsies oor Kaaps” staan. Hierdie publikasie is dan eerstens veral daarop gemik om ’n aantal mites oor Kaaps te weerlê.

Mite 1: Kaaps is die taal van bruin mense 

Van der Rheede (1985:34) het dit reeds meer as 30 jaar gelede by die Swart Afrikaanse Skrywers-simposium, wat ook by UWK aangebied is, met sy referaat “Kaapse Afrikaans: sosio-politieke perspektief” gestel dat Kaaps nie in terme van etniese indekse beskryf behoort te word nie, maar eerder in terme van sosio-ekonomiese indekse, aangesien dit nie tot bruin sprekers beperk is nie en ook nie deur alle bruin sprekers van Afrikaans gepraat word nie. Hendricks (5) sluit hierby aan wanneer hy in die eerste hoofstuk aandui waarom Kaaps eerder as ’n werkersklaskode getipeer behoort te word. Vir Van der Rheede (1985:34) was dit geen toeval dat die meeste bruin sprekers deel uitmaak van die werkersklas nie. As gevolg van diskriminerende apartheidswette soos die Groepsgebiedewet en ander verbandhoudende wette het baie bruin arbeiders in dieselfde gebiede gewoon, en omdat die omgewing ’n beslissende invloed op ’n mens se taalgebruik uitoefen, het hierdie sosiopolitieke omstandighede veroorsaak dat Kaaps veral deur bruin sprekers gebruik word (Van der Rheede 1985:34). Daarom meen Hendricks (5) dat Kaaps in terme van die dominante sprekerskorps “wel as ’n Afrikaanse kleurvariëteit bestempel kon word”, dit wil sê ’n variëteit van Afrikaans wat tradisioneel met bruin sprekers geassosieer word. Om Kaaps as “’n merker van bruin identiteit” te beskou, is volgens Hendricks (5) egter nie juis nie. Hy wys dan ook op die geolektiese aard van Kaaps, naamlik dat dit deel vorm van die dialekbundel Suidwestelike Afrikaans en grootliks beperk is tot die Kaapse Skiereiland (5).

Mite 2: Afrikaans is ’n “witmanstaal”

Hendricks (4) beskryf Kaaps as “een van die oudste variëteite van Afrikaans” waarvan die wortels teruggevoer kan na die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans in die geheel. Ernst Kotzé en Christo van Rensburg wys in hulle onderskeie hoofstukke daarop dat sekere taalkenmerke wat vandag steeds in Kaaps voorkom, reeds voor 1652 neerslag gevind het. Kotzé (42–4) toon aan dat die Nederlandse seevaarders se taalgebruik wat hulle na die Kaap gebring het, reeds invloed getoon het van die kontak met Maleis in die Ooste – ’n kontaksituasie wat sedert 1658 voortgesit is met die koms van duisende Maleissprekende slawe uit die Ooste. Hierdie seemanstaal het volgens Van Rensburg (50–2) weer neerslag gevind in die Aanleerdersnederlands van die inheemse Khoi-Khoi-bevolking met wie die Nederlandse seevaarders reeds voor 1652 op verskeie geleenthede in aanraking gekom het. Uit die kontaksituasie aan die Kaap is uiteindelik rondom die jaar 1700 ’n kreoolse Nederlands onder die slawebevolking gebore wat, weens die magsverhoudinge aan die Kaap, uit die aangepaste Nederlands (of Kaapse Nederlands) van die Nederlandssprekende amptenary en vryburgers geleksifiseer is en uiteindelik ’n Afrikaanse koine gevorm het wat volgens Kotzé (44) as die grondslag van Kaaps beskou kan word. ’n Mens kan as ’t ware, aldus Kotzé (44–5), sê dat Kaaps as die matrilek (die dominante of basisdialek) van Afrikaans beskou kan word, voordat daar met die oog op standaardisering van Afrikaans van grootskaalse releksifisering uit Nederlands gebruik gemaak is. Hiervolgens behoort Afrikaans volgens Van Rensburg (55) dus nie beskou te word as Nederlands wat mettertyd verafrikaansing ondergaan het nie, maar dat dit eerder Afrikaanse sosiolekte is wat mettertyd vernederlands is.

Die Kaapse Kolonie in 1809

Mite 3: Kaaps is ’n joke-taal

Hein Willemse (73, 75) meen dat Kaaps reeds in die vroegste literêre tekste waarin die taalgebruik van bruin mense uitgebeeld is, in verband gebring is met die sogenaamde “kenmerkende humor van die bruin mens”. In sy bydrae  spreek hy hom veral uit teen die gebruik van die “oogdialek” van Kaaps in die Afrikaanse literatuur (75). Die oogdialek is ’n idiosinkratiese, pseudofonetiese spelling van standaardtaalwoorde wat deur skrywers gebruik word om die fokus op die afwykende taalgebruik van ’n karakter te laat val en sodoende ’n verskil in sosiale stand aan te dui (75). Die verbintenis van hierdie Kaapse oogdialek met die “diskoers van agtergeblewenheid en uitgeslotenheid gekoppel aan die geringskattende, armoedige, hêppie-go-lucky, kannie-worry ‘kleurling’-stereotipe” het volgens Willemse (80) daartoe bygedra om dié stereotipes rondom Kaaps te bevestig. ’n Gevolg hiervan, soos aangedui in Dmitri Jegels se bydrae, is dat baie sprekers van Kaaps hulle variëteit as “Kombuisafrikaans” beskou terwyl hoër status aan Standaardafrikaans geheg word (104–9).

In al die hoofstukke in hierdie publikasie kom dit egter duidelik na vore dat Kaaps nie bloot ’n “grappigheid of snaaksigheid” is nie (vgl Small in Le Cordeur, 88). Die boek maak volgens Hendricks naamlik “sterk gewag [...] van die waardigheid, oftewel soppangheid, van Kaaps en sy sprekers”. So wys Kotzé (44–5), Willemse (73) en Le Cordeur (85–6) op die belangrikheid van Kaaps as godsdienstige taal van die Kaapse Moslemgemeenskap selfs voordat Afrikaans amptelike erkenning geniet het. Ook Jegels (104, 108–9) het in sy gevallestudie in Manenberg gevind dat alhoewel Kaaps ’n laer status in vergelyking met Standaardafrikaans en Engels onder sy sprekers geniet, sprekers steeds trots is op Kaaps en dit op die plaaslike vlak belangrik ag. Dit dien as bevestiging van ’n studie deur Saal en Blignaut (2011; vgl. Le Cordeur, 92 en Van der Rheede, 120) waarin die gebruik van Tienerkaaps in advertensies uiters positief ervaar is deur tienersprekers van dié variëteit. Ook Le Cordeur (91) meen dat Afrikaans vir bruin sprekers ’n belangrike deel van hulle identiteit vorm.

Mite 4: Standaardafrikaans is verteenwoordigend van al sy sprekers

Kotzé (44) wys daarop dat daar reeds voordat die Afrikaanse ortografie in 1915 aanvaar is, ’n geskrewe standaardvorm van Afrikaans in Arabiese skrif in die Afrikaanssprekende Moslemgemeenskap ontwikkel is wat as Arabies-Afrikaans bekend gestaan het. Hierdie stelsel, wat breedvoerig uiteengesit is in Achmat Davids se The Afrikaans of the Cape Muslims (2011), het die Arabiese alfabet aangepas om die taalgebruik aan die Kaap weer te gee en bied volgens Kotzé (44) sodoende ’n fonetiese rekord van Kaaps. Standaardafrikaans is volgens Van Rensburg (1989, 1991, 1992 en 1999) egter grootliks gebaseer op Oosgrensafrikaans, die variëteit wat deur die Voortrekkers en eerste burgers van die noordelike republieke (waaronder die Transvaal en die Oranje-Vrystaat), wat hoofsaaklik wit was, gepraat is. Die keuse van hierdie variëteit as basis vir Standaardafrikaans het volgens Hendricks (29) “neergekom op ’n versuim om voort te bou op die Arabies-Afrikaanse skryftradisie van die 18de en 19de eeue as een van die eerste Afrikaanse kodifiseringstelsels”, ’n skryftradisie wat na Kotzé (44) se mening selfs vandag nog nie na waarde geag word nie. In teenstelling hiermee het daar tydens die standaardiseringsproses eerder ’n doelbewuste vernederlandsing van Afrikaans plaasgevind deur onder andere grootskaalse leksifisering uit Nederlands (Kotzé, 45, Van Rensburg, 55 en Willemse, 72). Dit het daartoe gelei dat veral niewit sprekers van Afrikaans by die standaardisering van Afrikaans uitgesluit is (Willemse, 72 en Le Cordeur, 87).

Wanneer ’n mens mites wil weerlê, vereis dit gewoonlik ’n terugblik op die verlede, aangesien die mites dikwels gebaseer is op vals oortuigings wat oor dekades opgebou is. Dit is dan ook deeglik in hierdie publikasie gedoen. Wanneer ’n mens jou blik egter slegs op die verlede rig, kan dit oorkom as bloot ’n vingerwysery. Dit is ’n slaggat waarin Kaaps in fokus egter nie trap nie. Die outeurs bied telkens ’n aantal praktiese, toekomsgerigte maniere waarop hierdie mites oorbrug kan word.

Praktiese oorweging 1: Herstandaardisering van Afrikaans

’n Oproep wat regdeur Kaaps in fokus gemaak word, is vir die herstandaardisering van Afrikaans (Hendricks, 29–31, Dyers, 63, Willemse, 75 en Le Cordeur, 88). Hiermee word volgens Hendricks bedoel die regstelling van “die historiese uitdefiniëring van Afrikaanse kleurvariëteite en van Kaaps in die besonder, in die standaardisering van Afrikaans” (29). Hierdie oproep is egter nie iets nuuts nie. Reeds sedert die tagtigerjare van die vorige eeu is daar ’n dringende oproep vanuit verskeie oorde in die Afrikaanse spraakgemeenskap dat al die variëteite van Afrikaans by die standaard ingesluit moet word. Veral Van Rensburg, een van die outeurs in Kaaps in fokus, het reeds in 1983 ’n dringende pleidooi ten gunste van die ander variëteite van Afrikaans gelewer:

Hier lê ’n rykdom aan taalvorme wat wag om ontsluit te word vir gebruik in ons Afrikaans, en in die Afrikaans van môre. Die meeste van dié vorme is Afrikaans in murg en been – anders as die meeste Afrikaanse “slang”-vorme. Daarby kom nog ’n wins: hierdie vorme is lewende, egte, spreektaalvorme. Deur meer sulke vorme en konstruksies in Afrikaans te gebruik, sal die groot kloof verklein – die kloof wat bestaan tussen die stywe en onuitstaanbare formaliteit van AB- [Algemeen-Beskaafde] Afrikaans aan die een kant, en die spontaneïteit en egtheid van die taalgebruik van die Afrikaans van baie nie-standaardtaalgroepe. (Eie invoeging – GO) (Van Rensburg 1983:24–5)

Ander wat hulle oor die jare by hom aangesluit het, sluit in Senekal (1984), Alexander (1990), Ponelis (1992, 1994 en 1998), Pieterse (1994, 1995a, 1995b en 1998/1999), en De Wet (1997). Met die aanbreek van die nuwe millennium blyk hierdie oproepe egter in die vergetelheid te geraak het. Maar in September 2009 vra Neville Alexander opnuut by die Roots-kongres wat by die Universiteit van Wes-Kaapland aangebied is:

Can we re-standardise Afrikaans? Should we do so? Is it enough simply to “democratize” the language, as Christo Van Rensburg suggested a few years ago? Are we not provided with a historic opportunity to recast the standard in a more flexible mould, one in which, among other things, a larger, more representative, space is provided for the contribution of Kaaps and Oranjerivier Afrikaans not only in respect of its lexicon but also of its syntax, its morphology and its phonology? (Alexander 2009:5)

Neville Alexander

So begin hernude oproepe om die herstandaardisering van Afrikaans, waarvan Kaaps in fokus deel vorm.

Soos Hendricks (29) tereg in sy bydrae aandui, is daar oor die jare verskillende moontlikhede ten opsigte van die herstandaardisering van Afrikaans voorgestel. Aan die een kant is voorgestel dat ’n nuwe standaard vir Afrikaans geskep word met Suidwestelike Afrikaans (waarvan die variëteit Kaaps deel vorm) as basisdialek (teenoor die huidige standaard, waar Oosgrensafrikaans die basisdialek vorm – vgl mite 4). Die voorstel wat deesdae egter voorkeur geniet en wat ook in Kaaps in fokus aangehang word, is die evolusionêre hervorming van die standaard deur dit te voed “vanuit die volle spektrum van omgangsvariëteite, in die besonder ook Kaaps en ander kleurvariëteite” (Hendricks, 29–31). Dit is dus ’n voortdurende proses waar dít wat as belangrik beskou word, behou word en dan aangevul word uit variëteite uit die dialekbundels Suidwestelike Afrikaans en Oranjerivierafrikaans (Hendricks, 30). Hierdie benadering is geskoei op die uitgangspunt dat gereelde herstandaardisering nodig is vir die gesonde groei en voortbestaan van tale (Dyers, 63).

Wat belangrik is om hier te noem, aangesien dit iets is wat dikwels misverstaan word wanneer daar oor herstandaardisering gepraat word, is dat herstandaardisering nie ten doel het om die huidige standaard af te skaf nie (Hendricks, 30, Willemse, 72 en Le Cordeur, 88). Soos bo aangetoon is, gaan dit eerder om die verruiming van die bestaande standaard. Hendricks (31) dui aan dat daar reeds ’n mate van herstandaardisering aan die plaasvind is deur die insluiting van leksikale items uit Kaaps en Oranjerivierafrikaans in die nuutste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls wat in Augustus van dié jaar vrygestel gaan word, asook die insluiting van leksikale items uit Kaaps in die nuutste uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal wat in 2015 die lig gesien het. Nog iets wat belangrik is om op te wys, is dat herstandaardisering of die oproepe om herstandaardisering nie uniek is aan die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse konteks nie. Soos Dyers (61–3) in haar bydrae noem, word daar internasionaal toenemend anders gedink oor die verhouding tussen standaardtale en variëteite, wat daartoe aanleiding gee dat standaardtale wêreldwyd bevraagteken word vanweë die gepolitiseerdheid daarvan (Odendaal 2012:184–7).

Ek is van mening dat herstandaardisering nie net ten doel moet hê om die vorm van die standaardtaal te hersien nie, maar ook die funksie van die standaardtaal moet hersien en die taalgedrag van die spraakgemeenskap behoort te beïnvloed ten einde ’n demokratiese standaard daar te stel (Odendaal 2012:197; 2014:667; sien Odendaal 2014 en 2014:667–70 vir ’n meer gedetailleerde bespreking van herstandaardisering). Dit behoort dus ook die uitbreiding van die ander variëteite van Afrikaans se gebruiksdomeine in te sluit deurdat dit byvoorbeeld in die media, letterkunde en onderwys gebruik word, asook ’n hernude benadering tot die wyse waarop daar oor die variëteite van Afrikaans gedink word. Hierdie aspekte word egter ook deeglik in Kaaps in fokus onder die loep geneem.

Praktiese oorweging 2: Aanwending van Kaaps in ’n verskeidenheid gebruiksdomeine

Outeurs fokus veral in die tweede afdeling van die publikasie op die aanwending van Kaaps in ’n verskeidenheid gebruiksdomeine. Willemse meen dat daar krities gedink moet word oor die manier waarop die aanwending van Kaaps in die letterkunde bydra tot die skep of afbreek van mites oor Kaaps en sy sprekers. Christo van der Rheede (116) meen dat die “lae selfbeeld en die gepaardgaande negatiewe houdings jeens Kaaps onder diegene wat dit as spreektaal gebruik, omgekeer kan word [...] deur ekonomiese ontwikkeling waarin Kaaps in die sentrum geplaas word en gevolglik in status kan verhoog”. Hy bepleit vervolgens die ontginning van die ekonomiese potensiaal van Kaaps deur onder andere “boustene vir ’n strategiese en operasionele plan ter bevordering van Kaaps as ekonomiese bemagtigingstaal” daar te stel.

Anastasia de Vries ondersoek die aanwending van Kaaps as joernalistieke medium en kom tot die gevolgtrekking dat die belang van veral rubriekskrywers wat in Kaaps skryf se werk daarin lê “dat hulle bewys dat Kaaps, naas Standaardafrikaans, oortuigend ingespan kan word as voertuig vir diep filosofiese denke en sosio-politieke kommentaar – dat Kaaps dus in Afrikaanse koerante – hetsy poniekoerante, hetsy hoofstroomkoerante – as ’n lewenskragtige, ‘geldige kommunikasiekode’ [...] kan figureer” (De Vries, 133).

Een van die belangrikste domeine wat in Kaaps in fokus aan bod kom, is die insluiting van Kaaps by die skoolkurrikulum.

Willemse (74) meen dat “die eerste gevalle van taalontmagtiging [dikwels] in die klaskamer plaas[vind]”. Die oorheersing van Standaardafrikaans in die onderwyskonteks, soos reeds in 1986 deur Esterhuyse in sy publikasie Taalapartheid en Skoolafrikaans aangedui, het daartoe gelei dat Kaapssprekende leerders agterkom dat hulle ’n ander “taal” moet aanleer, waaraan onder andere hulle taalvaardigheid gemeet word, wanneer hulle na ’n Afrikaanse skool gaan (Van Rensburg 1992:187). Webb (1996:182) waarsku dat ’n mens nie die sosiopsigologiese gevolge daaraan verbonde om op skool ’n variëteit te gebruik wat struktureel en affektief van jou moedertaalvariëteit verskil, moet onderskat nie. Een gevolg, soos deur Willemse (74) genoem word, is die gebrek aan selfvertroue by sprekers om hulle moedertaal te gebruik. Dit word, soos reeds aangedui (mite 3), deur Jegels se studie bevestig waarin bevind is dat baie Kaapssprekende ouers hulle variëteit as minderwaardig of ondergeskik ten opsigte van Standaardafrikaans beskou.

Dyers (65) waarsku teen die gevolge hiervan: “Hoe langer daar versuim word om die kind se eie taalgebruik in die klaskamer te betrek, hoe groter die kans dat leerders wat omgangsvariëteite gebruik, van Standaardafrikaans vervreem sal raak.”

Die uiteinde is, volgens Willemse (74) en Jegels (103) dat baie Kaapssprekende ouers kies om hulle kinders eerder na Engelse skole te stuur, aangesien Engels die Suid-Afrikaanse taallandskap oorheers en dit deur baie ouers as belangrik geag word vir opwaartse sosiale mobiliteit.

Nog ’n struikelblok wat volgens Le Cordeur (95) Kaapssprekende leerders in die gesig staar, is potensiële mislukking op skool. Southwood en Van Dulm (2009:3, 9) wys byvoorbeeld in ’n studie daarop dat al die taaltoetse wat ontwikkel is vir gebruik met Afrikaanssprekende kinders, nie vir sprekers van Kaaps ontwikkel is nie, wat meebring dat tipies ontwikkelende kindersprekers van Kaapse Afrikaans verkeerdelik as taalgestremd gediagnoseer word wanneer hierdie toetse met hulle uitgevoer word. Le Cordeur (95) sluit hierby aan wanneer hy daarop wys dat baie Kaapssprekende kinders onderpresteer in die nasionale assesseringstoetse, veral wanneer leesvaardighede getoets word, aangesien hierdie vaardighede in Standaardafrikaans getoets word. Willemse (74) sluit hom aan by Bamgbose (2000:16) wat na leerders wat nie onderrig in hulle moedertaalvariëteit ontvang nie, as die “magteloses” verwys, wanneer hy meen dat Kaapssprekende leerders ontmagtig word om hulle volle potensiaal te bereik wanneer leerplanne en onderrigpraktyke nie die leerders se taalidentiteit aanvaar en legitimeer nie.

In die praktyk sou dit eerstens behels dat onderwysers “toegerus [behoort] te word met vaardighede om ’n bewustheid van die plek en waardigheid van niegestandaardiseerde Afrikaanse variëteite te waardeer en te bevorder”, aldus Willemse (74). Dyers gee in haar hoofstuk as ’t ware ’n uiteensetting van hierdie vaardighede deur ’n oorsig te gee van belangrike veranderinge in die verstaan van sekere konsepte in die taalwetenskap en hoe dit ’n mens kan help om met nuwe oë na Kaaps te kyk. Op hierdie noot kan ’n mens net hoop dat taal-, taalwetenskap- en onderwysdosente nie net kennis sal neem van hierdie omwenteling in kernkonsepte in die taalwetenskap nie, maar dit ook aktief aan hulle studente sal oordra, aangesien hulle die toekomstige onderwysers is in wie se klaskamers leerders met Kaaps as moedertaal, maar ook ander variëteite van Afrikaans, gaan sit. Hendricks het dan ook by die bekendstelling van Kaaps in fokus en op Skrywers en boeke laat blyk dat die publikasie veral gemik is op dosente en studente in sowel die Afrikaanse taal- as letterkunde, die taalwetenskap, in die besonder die sosiolinguistiek, en die opvoedkunde. En ek is dit eens met Hendricks (2016) dat die publikasie beslis voorskryfmateriaal is en dat dit tot stimulerende debatte kan lei.

Nog implikasies van die insluiting van Kaaps in die skoolkurrikulum is dat Kaaps op só ’n wyse in die taalkurrikulum geïntegreer behoort te word dat “kinders die verskille tussen hul eie vorme van taalgebruik en Standaard- of Skoolafrikaans kan leer sonder dat Kaaps enigsins as ’n bespotlike fenomeen behandel word” (Dyers, 65). Die insluiting van Kaaps in die skoolkurrikulum beteken dus nie, soos wat baie teenstanders daarvan dikwels dink, dat Standaardafrikaans afgeskaf moet word nie, aldus Willemse (74). Dit sou volgens Le Cordeur (97) “’n fout wees om Standaardafrikaans heeltemal te ignoreer en die baba met die badwater weg te gooi”. Wat dus eerder in hierdie publikasie bepleit word, is ’n verruiming van die Afrikaanse taalaanbod op skool; die gelyke naasmekaarplasing van verskillende variëteite van Afrikaans. Om egter slegs te bly aandring op die behoud of beskerming van Standaardafrikaans, waarsku Jegels (110), veroorsaak eerder die verdere marginalisering van sprekers van Kaaps.

Wat ook volgens Willemse (74–5) by die erkenning van Kaaps in die klaskamer ingesluit moet word, is die integrasie daarvan met die sosiale en kulturele ervarings wat met dié variëteit gepaard gaan. Dit sou myns insiens behels dat daar aktief met sprekers en kenners van Kaaps self saamgewerk word om kurrikulumontwikkeling te doen, sodat daar nie verdere mites oor Kaaps en sprekers van Kaaps bestendig word, soos wat onlangs weer aan die lig gekom het ten opsigte van ’n boek getiteld Rainbow nation navigation nie (vgl die artikel “Talle woedend oor ‘rassisme’ in 7 jaar oue boek” in Die Burger van 14 Februarie 2017). “Die tyd is ryp,” meen Van der Rheede (121), “vir alle praktisyns, akademici en alle ander rolspelers wat ’n belang by Kaaps het, om die teorie in praktyk om te skakel”. Ook, meen Willemse (75) laastens, “is onderrig van ’n omvattende geskiedenis van Afrikaans en al sy sprekers onontbeerlik”.

Dit bring my by ’n volgende praktiese oorweging wat sterk in Kaaps in fokus na vore kom.

Praktiese oorweging 3: Navorsing oor Kaaps

Hendricks (29) spreek reeds in die eerste hoofstuk die hoop uit dat “die talige en sosiale aard én die gebruiksomvang van Kaaps vorentoe opnuut en voortdurend nagevors word en dat die bevindinge van sodanige navorsing toenemend neerslag sal vind in tesisse, akademiese publikasies en woordeboeke”. Hy maak dan ook ’n aantal voorstelle vir moontlike navorsingsonderwerpe (Hendricks, 27, voetnoot 21, en bl 29). Wat egter ook deur verskeie outeurs belig word, is die behoefte aan navorsing waarin gevestigde maniere van dink oor Kaaps bevraagteken word. Een aspek wat hier sterk na vore kom, is die bevraagtekening van die taalfamilie-metafoor waarvolgens Afrikaans as ’n “dogter” van Nederlands beskou word (Van Rensburg, 55 en Willemse, 72). Kotzé en Van Rensburg se bydraes daag hierdie siening uit deurdat daar klem gelê word op die Maleise en Khoi-wortels van Afrikaans. Vergelyk in hierdie verband ook weer Dyers se hoofstuk oor die implikasies van konsepomwenteling in die taalwetenskap vir die studie van Kaaps.

Hendricks (2016) bestempel Kaaps in fokus as ’n werk “uit die hart van die Universiteit van Wes-Kaapland”, aangesien sewe van die nege outeurs op een of ander wyse aan die UWK verbind was of is. Gegewe die belangrikheid van die onderwerp wat deur hierdie publikasie belig word, sou dit egter nuttig gewees het om ook die werk van ander navorsers aan ander tersiêre instellings by die publikasie te betrek (veral ook gegewe die feit dat die publikasie eers vier jaar na afloop van die kongres waaruit dit voortgevloei het, verskyn het). Sodoende sou die publikasie nie net “die soort denke oor taal, oor Afrikaans, [adem] wat oor die jare heen sinoniem met die UWK geword het” nie (Hendricks 2016), maar sou daar ’n tipe akademiese debat in die publikasie gevoer kon word. Nietemin dien hierdie publikasie wel as gunstige voedingsbodem vir sodanige toekomstige akademiese wisselwerking.

Alhoewel Kaaps in fokus ’n sterk akademiese publikasie is, verwoord dit uiteindelik, aldus Hendricks (2016), ook “die verwonding waaraan Kaaps oor die jare heen uitgelewer is”. Dit gaan uiteindelik in hierdie publikasie nie net “oor taalvorm qua taalvorm nie” (Willemse, 73), maar “om die herstel van die waardigheid van ’n variëteit en die sprekers daarvan” (Dyers, 65). Kaaps in fokus gaan ten slotte oor mense, want “[d]ie soppangheid van Kaaps is in die laaste instansie nie net ’n linguistiese kwessie nie, maar wesenlik een van die waardigheid van alle sprekers van Afrikaans” (Willemse, 81). En dit is juis hierdie kenmerk van Kaaps in fokus wat dit so ’n tydige en relevante publikasie maak.

Bibliografie

Alexander, N. 1990. Afrikaans en taal-onderrig in ’n vry Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaan, 29:38–9.

—. 2009. Afrikaans as a language of reconciliation, restitution and nation building. Referaat gelewer tydens die Roots-kongres, 22–23 September 2009, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

Bamgbose, A. 2000. Language and exclusion: The consequences of language policies in Africa. Londen: Transaction Publishers.

Botha, R. Talle woedend oor “rassisme” in 7 jaar oue boek. Die Burger, 14 Februarie 2017, bl 6.

Botha, TJR ea (reds). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Tweede, hersiene uitgawe. Pretoria, Kaapstad: Academica.

Claassen, GN en MCJ van Rensburg (reds). 1983. Taalverskeidenheid. ’n Blik op die spektrum van taalvariasie in Afrikaans. Pretoria, Kaapstad, Johannesburg: H&R-Academica (Edms) Bpk.

Davids, A. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims. Pretoria: Protea Boekhuis.

De Klerk, V (red). 1996. Focus on South Africa. Amsterdam: John Benjamins Publishing Company.

De Wet, JP. 1997. Afrikaans: ’n ideologiese besinning in ’n multilinguistiese Suid-Afrikaanse bestel. Ongepubliseerde DLitt et Phil-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Esterhuyse, J. 1986. Taalapartheid en Skoolafrikaans. Emmarentia: Taurus.

February, V (red). 1994. Taal en identiteit: Afrikaans en Nederlands. Kaapstad: Tafelberg.

Hendricks, F. 2016. Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs). LitNet. http://www.litnet.co.za/bekendstellingstoespraak-kaaps-fokus-deur-frank-hendricks-en-charlyn-dyers-redakteurs (18 Februarie 2017 geraadpleeg).

—. 2017. Skrywers en Boeke. RSG. http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20170222_SKRYWERS_EN_BOEKE.mp3 (22 Februarie 2017 uitgesaai).

Odendaal, G. 2012. Restandardisation defined as democratising language planning. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 42:183–203.

—. 2014. Moet Afrikaans geherstandaardiseer word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):656–74.

Pieterse, HJ. 1994. Taalpolitiek en “Alternatiewe Afrikaans”. Ongepubliseerde DLitt et Phil-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 1995a. Alternative Afrikaans. Language Matters, 26:59–84.

—. 1995b. “Alternatiewe Afrikaans”: ’n Historiese oorsig en tipologie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, Supplement, 26:133–62.

—. 1998/1999. Hegemonie, Standaardafrikaans, “Alternatiewe Afrikaans” en “Aktuele Afrikaans”. Tydskrif vir Letterkunde, 36(4)/37(1):59–73.

Ponelis, FA. 1992. Standaardafrikaans in oorgang. In Webb (red) 1992.

—. 1994. Standaardafrikaans in oorgang. In February (red) 1994.

—. 1998. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch, Annale, 1998(1):1–80.

Prinsloo, KP en MCJ van Rensburg (reds). 1984. Afrikaans: Stand, taak, toekoms. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.

Saal, E en J Blignaut. 2011. “Moetie rai gammattaal gebrykie”: Die gebruik en waarde van ’n Tienerkaaps in gedrukte advertensies. LitNet Akademies, 8(3):345–71. http://www.litnet.co.za/assets/pdf/13_Saal%20en%20Blignaut.pdf

Senekal, JH. 1984. Afrikaans: ’n Toekomsblik. In Prinsloo en Van Rensburg (reds) 1984.

Smith, JF, A van Gensen en H Willemse (reds). 1985. Swart Afrikaanse skrywers. Kaapstad: UWK Drukkery.

Southwood, F en O van Dulm. 2009. Die poeliesman het ’n gun: Die prestasie van Kaapssprekende plattelandse leerders op ’n Afrikaansmedium taaltoets wat dialek-neutraal sou wees. LitNet Akademies, 6(3):1–15.http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/pdf/la/LA_6_3_southwood_vandulm.pdf

Van der Rheede, I. 1985. Kaapse Afrikaans: Sosio-politieke perspektief. In Smith, Van Gensen en Willemse (reds) 1985.

Van Rensburg, C. 1983. Inleiding: Die bestudering van taalvariante. In Claassen en Van Rensburg (reds) 1983.

—. 1989. Soorte Afrikaans. In Botha ea (reds) 1989.

—. 1991. Wat van ’n Nuwe Afrikaans? Acta Academica, 23(3):13–33.

—. 1992. Die demokratisering van Afrikaans. In Webb (red) 1992.

—. 1999. Afrikaans and apartheid. International Journal of the Sociology of Language, 136:77–96.

Webb, V. 1996. English and language planning in South Africa: The flip-side. In De Klerk (red) 1996.

Webb, VN (red). 1992. Afrikaans ná apartheid. Pretoria: JL van Schaik (Edms) Bpk.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Suzette Myburgh

    Puik artikel, dankie! Wanneer is die term Afrikaans vir Kaaps Hollands (die term wat Dan Sleigh in 1795 gebruik) die eerste keer gebruik?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top