’n Reaksie op Gerda Odendaal se lesing tov die herstandaardisering van Afrikaans

  • 6

Foto’s van Tom McLachlan en Gerda Odendaal: LitNet

Gerda Odendaal, ’n navorsingsgenoot van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, het op Donderdag 2 Maart die 22ste Jaarlikse Nasionale Kongres van die Professionele Vereniging vir Afrikaans-taalonderrig in Namibië (PVATN) geopen met ’n lesing getitel "Die herstandaardisering van Afrikaans".

Ek het pas na die opname van dr Gerda Odendaal se lesing voor ’n Namibiese gehoor van Afrikaansleerkragte op LitNet geluister. Die feit dat dit nie op skrif is nie, maak dit moeilik om na behore te reageer, veral as ’n mens nie van meet af volledige aantekeninge gemaak het nie. En om weer daarna te luister is te veel gevra van vlees en bloed.

Met inagneming daarvan dat dit ’n praatjie voor ’n gehoor was wat nie noodwendig spesialiste op die gebied van Afrikaanse taalkunde en veral normering is nie – dit was die openingslesing van ’n kongres en nie die verdediging van ’n doktorsverhandeling nie – is ek nietemin geskok dat iets wat voorgee om darem ’n akademies-wetenskaplike grondslag te hê, so vol populistiese halwe waarhede en growwe veralgemenings aan leerkragte opgedis word.

Odendaal se beheptheid met herstandaardisering is bekend, maar selfs in hierdie praatjie gee sy geen werklike aanduiding van wat sy met herstandaardisering bedoel nie. Dit bly by vae stellings en veralgemenings dat ander variëteite van Afrikaans by die standaardvariëteit ingesluit moet word. Iewers sê sy dat dit nie net die lukrake insluiting van woorde hier en daar moet wees nie. (Word hier in die rigting van die Taalkommissies gemik wat die laaste twee of drie uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls [AWS] die lig laat sien het? Ek wonder maar net.) En hoe illustreer sy die insluiting van ander variëteite? Met voorbeelde soos barakat, brötchen/bretsjen en spietkop. Kan jy nou meer.

Leerders moet toegelaat word om opstelle of gedigte in hulle eie variëteite te skryf, sê sy. Daarteen is nie beswaar te maak nie, maar hoe meen sy sal dit tot herstandaardisering bydra? Dit bly maar net mooi polities korrekte woorde. En nóg sy nóg ander wat die gebruik van niestandaardvariëteite (van enige taal in die wêreld) in die onderwysomgewing bepleit, dui aan wat die omvang daarvan in daardie omgewing moet wees. Volledig? Net nou en dan? ’n Periode of twee per week? Is daar geskiedenis- of natuurwetenskap- of wiskunde- of geografie- of watter ander handboeke ook al in die betrokke variëteit? Indien nie, hoe versoen die stomme leerder sy moedertaalvariëteit met die standaardvariëteit van die handboeke? Is dit hoegenaamd (finansieel of taalkundig) haalbaar om ’n handboek in ’n niestandaardvariëteit te skryf en te publiseer, of dieselfde handboek in die standaardvariëteit plus een vir elke ander variëteit? En indien ’n leerder sy/haar skoolloopbaan grotendeels in ’n niestandaardvariëteit sou deurloop, hoe raak dit sy/haar naskoolse lewe in byvoorbeeld tersiêre studie of die wêreld van werk en loopbane? Daaroor word soos die graf geswyg.

Wat bedoel Odendaal en haar denkgenote dan met “herstandaardisering”? Gaan die ortografie van Standaardafrikaans hersien word? Die skimp is immers altyd dat dit ’n klomp ou, Nederlandsgesinde wit mans was wat die ortografie van Afrikaans in die AWS vasgelê het. Dit was só “ondemokraties”. Indien wel, hoe? In water opsigte of mate?

Moet die grammatikareëls van Standaardafrikaans gewysig word, byvoorbeeld hoe afleidings of die verlede tyd gevorm word? Moet die sintaksis verander, byvoorbeeld werkwoordplasing of afhanklike woordordes? Moet Standaardafrikaans geskryf word “soos ons praat” (indien wel, soos wie praat?) en gefonetiseer word à la die GRA? Moet die idioom van Afrikaans verander word? (Die idioom van Afrikaans het in elk geval in die laaste dekade of twee reeds so verander dat ’n Afrikaanssprekende soms Engels moet ken om ’n bepaalde stuk Afrikaans te verstaan!) Om in hierdie tyd en dag darem nog steeds te verwys na ’n jag op “alles wat na Engels lyk”, is erg uit de oude doos.

Sy beweer die standaardvariëteit word “gemaak”, en sy laat dit klink asof daar iewers ’n klompie “outoriteite” vergader het wat, tot uitsluiting van “die mense, die sprekers”, taalreëls sit en uitdink het en toe gesê het: “Siedaar! Aanskou julle standaardtaal!” Watter onsin. As ’n navorsingsgenoot behoort sy darem minstens aan haar gehoor te gesê het dat die grammatici en “outoriteite” van wie sy praat, nie die taalreëls en ‑norme uit hulle duime suig nie maar dit abstraheer uit die taal soos dit gebruik word.

Nog ’n halwe waarheid is dat die Taalkommissie in die eerste AWS “teruggeval” het op Nederlands ten koste van die destyds gebesigde Afrikaans. Sy laat na om daarop te wys dat daar in die dekade of drie, vier wat die eerste AWS voorafgegaan het, geen vastigheid in skriftelike Afrikaans was nie. Die GRA en sy volgelinge het skriftelike Afrikaans sterk gefonetiseer; sommige mense het weer streng Nederlands geskryf of probeer skryf; talle het iets tussen die twee geskryf, en nog ander het die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling gevolg. Die enigste mate waarin die 1917-AWS “op Nederlands teruggeval” het, was om “so weinig moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling af te wijk” (AWS, 1917:ix). Daar is ’n baie eenvoudige rede vir hierdie besluit, wat niks te doen het met elitisme of uitsluiting of ’n ander sinistere rede waarop Odendaal so gereeld sinspeel nie. Dit is dat artikel 137 van die Zuid-Afrika Wet, 1909 (die wet waarkragtens die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het) soos volg bepaal het:

De Engelse alsmede de Hollandse talen zijn officiële talen van de Unie, en worden op een voet van gelykheid behandeld en bezitten en genieten dezelfde vrijheid, rechten en voorrechten; Alle akten, verslagen en verrichtingen van 't Parlement worden in beide talen gehouden en alle wetsontwerpen, wetten en kennisgeving en van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, worden gesteld in beide talen.

In 1925 is hierdie bepaling gewysig deur Afrikaans by die woord “Hollandse” in te sluit.

Binne minder as twee dekades ná Uniewording moes Afrikaans hom dus as amptelike taal op volkome gelyke voet met die wêreldtaal Engels handhaaf.

Hierdie grondwetlike bepaling sou nie nagekom kon word indien skriftelike Afrikaans bly rondval het tussen allerlei spelvorme en variëteite nie. Die standaardvariëteit word bowendien vir baie meer gebruik as onderwys en handboeke en dergelike. Odendaal gee hoegenaamd geen erkenning aan al die ander terreine waarop ’n gestandaardiseerde taal noodsaaklik is nie. Een daarvan is die regspleging, en een van die pilare van die Suid-Afrikaanse reg is juis die Romeins-Hollandse reg. Sonder om te steun op Nederlands? Ook in hierdie opsig hou sy ’n skeefgetrekte beeld van die standaardvariëteit voor.

Sy daag in ’n stadium, skynbaar met behulp van beeldmateriaal, die gehoor enigsins vermakerig uit om die Afrikaans op (neem ek aan) die skerm te lees. Sy voer dan aan dat die eerste Afrikaans in Arabiese skrif geskryf is en in die Kaap geleer is. Dit is natuurlik so dat Afrikaans in Arabiese skrif geskryf is en in die Kaapse madrassas gebruik is, maar nie ter wille van Afrikaans as sodanig nie. Dit is gebruik om die leringe van Islam aan Afrikaanssprekende Moslemkinders te onderrig. Sy wek die indruk dat Afrikaans onderrig is, en nie dat die kinders in Afrikaans onderrig is nie.

Hoewel Odendaal sê dat niemand eintlik die standaardvariëteit praat nie, sinspeel sy tog daarop dat gebruikers van die standaardvariëteit neersien op gebruikers van ander variëteite. Dat dit kan gebeur, is seker so, maar sy laat na om te sê dat die standaardvariëteit aan geen sprekersgroep “behoort” nie, dat dit nie aan ’n bepaalde sprekersgroep gekoppel word soos wat ’n bepaalde variëteit dikwels tipies van ’n sekere sprekersgroep is nie, en dat dit taalkundig gelykwaardig aan enige ander variëteit is; die enigste verskil is dat die standaardvariëteit beter geskik is vir die “domeine” wat sy noem en dié wat uit artikel 137 hier bo blyk en daardeur gesuggereer word. Ook laat sy na om te sê dat die standaardvariëteit eintlik die enigste variëteit is waarmee doeltreffend met die hele sprekersgemeenskap gekommunikeer kan word.

Haar misplaaste toeskrywing van die standaardvariëteit aan “die elite” en haar bewering dat “die elite” teenstand teen herstandaardisering sal bied omdat iets van hulle weggeneem sou word, is onsin, en sy behoort dit te erken eerder as om sulke populistiese uitsprake kwyt te raak. As “die elite” kapsie sou maak, sal dit waarskynlik nie wees weens persoonlike verlies soos sy aanvoer nie, maar eerder omdat die vermoë van Afrikaans om op hoë vlak (die staatshuishouding, die regspleging, die wetenskap en dergelike) as amptelike taal te funksioneer, in die gedrang kan kom.

Ek is reeds meer as 50 jaar beroepsgewys met Afrikaans doenig – in ’n onderrigomgewing en in die praktyk, laasgenoemde in die openbare en private sektor en in ’n akademiese omgewing. Die Afrikaans van vandag is nie meer die Afrikaans van die 1917-AWS of van die tyd toe ek my loopbaan begin het nie. Daardie veranderinge getuig van ware, deurlopende en natuurlike herstandaardisering, nie die polities korrekte herstandaardisering wat verkondig word sonder om aan te dui hoe en deur wie nie.

Hierdie lesing was na my mening groot lawaai maar weinig wol.

Lees ook:

Lesing: Die herstandaardisering van Afrikaans

SteedsDink met LitNet Akademies: Earl Basson

Van daar na waar? ’n Oorsigtelike blik op die herstandaardiseringsdebat van Afrikaans

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

Video: "Die toekoms van Kaaps"-webinaar

Kaaps: deel van die standaard?

Oor Kaaps en herstandaardisering: ’n mening

Kaaps en (her)standaardisering

Wij spreken zo niet onder ons - taalstandaardisasie en die konstruksie van identiteit

Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite

Die WAT dokumenteer Afrikaans in sy wydste omvang

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

  • 6

Kommentaar

  • Marni Bonthuys

    Hierdie repliek laat dit klink asof Gerda Odendaal se lesing spruit uit ‘n persoonlike "beheptheid" met herstandaardisering, terwyl dit tans werklik ‘n algemene gesprek binne Afrikaanse akademiese kringe is. Haar lesing skakel met die onderwerp van talle werkwinkels, referate op kongresse, konferensies ens wat plaasgevind het die afgelope paar jaar - gelewer en bygewoon deur akademici van verskillende rasse, geslagte en ouderdomme. Herstandaardisering is ongetwyfeld ‘n gekompliseerde onderwerp, maar die stekies na Odendaal hierbo lees nogal persoonlik en is ook nie juis gepas binne akademiese diskoers nie.

  • Marinus Schoeman

    Baie dankie, Tom. Ek is bly jy het dié dame en haar geesgenote so deeglik op hulle plek gesit. Hopelik is dit die laaste wat ons moes aanhoor van hierdie nonsens!

  • Dis jammer dat iemand wat ongetwyfeld in 'n posisie is om met omsigtigheid en met jare se opgeboude kundigheid werklik sinvolle repliek te lewer op dr Odendaal se belangrike bydrae tot Afrikaans as taal en as vakgebied, kies om sy oënskynlike onbewustheid van die internasionale belang van die herstandaardiseringsdiskoers as (a) navorsingspesialisasie en (b) wesenlike deel van die kontemporêre sosiolinguistiek die botoon te laat voer in hierdie kwalik verhulde persoonlike aanval. Die sogenaamde tekortkominge in die werk waarmee dr Odendaal na bewering "behep" is, is dinge wat meer as 'n dekade gelede reeds uitvoerig in haar proefskrif en intussen ook in etlike akademiese artikels uitgelê is. Dr Odendaal is kennelik nie die een wat uit voeling is nie.

  • Marni Bonthuys

    Goeiste, Marinus Schoeman. Is dit die vlak van gesprekvoering waartoe ons Afrikaanssprekendes gedaal het as dit by akademiese besprekingspunte kom? "Nonsens" en "op hulle plek sit"? Dit gaan hier nie om stout kinders nie, maar om kollegas. Basiese respek is kennelik te veel gevra, maar kom ons probeer om ten minste ordentlik met mekaar te wees.

  • Tom McLachlan

    Ek neem kennis van Marni Bonthuys en Marius Swart se kritiek en bedank hulle dat hulle hulle die moeite getroos het om te reageer. Hulle opper geldige punte van kritiek, soos dat ek nie belese is in hedendaagse sosiolinguistiek nie. Dit is nie my terrein of belangstellingsgebied nie. Normering, en onvermydelik standaardisering, is egter wel.

    Ek wil net twee sake stel:

    1. Ek ken Gerda Odendaal nie, al het ek haar jare gelede, toe sy, as ek reg onthou, pas met haar meestersgraadstudie begin het, vlugtig ontmoet en een keer ’n lesing deur haar voor ’n werkgemeenskap van die SAAWK op Stellenbosch bygewoon. Ek het geen rede of begeerte om haar by wyse van "persoonlike stekies" op haar te mik of enige "verhulde aanval" op haar persoon te doen of haar te probeer bykom nie. Ek het bloot gereageer op haar Namibiese lesing en op wat ek vantevore van haar te lese gekry het.

    2. Wanneer ’n lesing soos die onderhawige voor ’n gehoor soos dié in Namibië gelewer word (dit was, soos ek verstaan, Afrikaansonderwysers, nie spesialislinguiste nie; ek weet ook nie of dit leerkragte op primêre, sekondêre en tersiêre vlak ingesluit het nie) en daardie lesing dan in ’n oop forum soos LitNet verskyn, is dit te lese vir enigiemand wat Afrikaans verstaan. Dit is dan nie ’n ewekniegeëvalueerde artikel in ’n toegewyde vaktydskrif nie, of ’n hoofstuk in ’n doktorstesis nie, of ’n lesing voor ’n uitgelese nasionale of internasionale gehoor van spesialistaalkundiges op ’n bepaalde terrein van die linguistiek, of ’n akademiese diskoers tussen vakkundiges nie.

    In hierdie geval kan dit gelees word deur enigiemand wat omgee vir Afrikaans maar nie noodwendig ’n taalkundige is nie. In ’n tyd en dag dat Afrikaans, en by name Standaardafrikaans, op soveel maniere en op soveel terreine aangeveg word, is dit begryplik dat mense sal wonder wat met byvoorbeeld "die herstandaardisering van Afrikaans" bedoel word. "Is dit net nog ’n bedreiging vir Afrikaans?", kan hulle met reg wonder.

    Só gepubliseer, is daar nie geleentheid vir mense om vrae te stel en vir die outeur om duidelikheid te gee nie. ’n Outeur moet myns insiens dus sy/haar waarskynlike lesersgehoor in ag neem en sy/haar boodskap só stel dat verkeerde vertolkings so ver moontlik voorsien en vermy word.

    Die reaksie van Bonthuys en Swart suggereer dat my verstaan van byvoorbeeld "herstandaardisering" foutief is. As die outeur dit nie in die betrokke stuk definieer nie, kan ek mos ’n gewone, logiese betekenis daaraan heg, of logiese vrae daaroor vra. En "herstandaardisering" is glad nie die enigste saak waaroor vrae gevra kan word nie.

    Dit is uit so ’n vertrekpunt dat ek kritiek gelewer het en my reaksie geskryf het, want ek weet dat dié soort gesprek nie net in die akademiese ivoortoring van belang is, of slegs daar gevoer word nie.

  • Hanno Visagie

    ‘n Manifes vir Afrikaans ‒ deur Johannes Comestor

    Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat

    - ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
    - ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
    - ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
    - ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
    - ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
    - ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
    - ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
    - ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
    - ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
    - ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
    - ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.

    https://www.litnet.co.za/n-manifes-vir-afrikaans/

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top