Cappuccino of flat white: Literêre waardes en die kanon tussen resensente en smaakmaker

  • 4

Redaksionele nota

’n Vroeëre weergawe van hierdie teks is op 25 Julie 2025 by die Etienne van Heerden Veldsoirée gelewer. Hein Viljoen het tydens sy praatjie aanhalings en ’n foto uit Lekkerleesboekrak met die gehoor gedeel en is daaroor gekritiseer. Daardie aanhalings en foto is uit hierdie teks hier onder verwyder. Lees ook asseblief Viljoen se eie opmerking hier onder en sy apologie laer af.

Opmerking

Ter wille van die debat op sosiale media publiseer ek my voordrag hier grotendeels onveranderd, maar effens uitgebreid. Ek reageer aan die  begin ’n bietjie op uitsprake in die sosiale media en omlyn die doel van my voordrag duideliker. Ek het aanvullende inligting verskaf oor die kanon, oor Hennie Aucamp, en heelwat oor my metodologie. Ek het die bevindings met ChatGPT gekontroleer met  ’n tweede ronde van analise. Hier en daar het ek ook my argument versterk en hoofpunte daarvan onderstreep. My gevolgtrekkings is effens uitgebrei en genuanseer.

Inleiding

Onlangs het daar in Londen se East Side ’n eietydse kultuur ontstaan, gekenmerk deur progressiewe jongmense wat veral in die IT-wêreld werk. Die mans dra baarde en almal het ’n voorkeur vir flat white-koffie. Jonk en with it (Hale 2025).

In Suid-Afrika is daar ook tekens van so ’n flat white-kultuur. In Kaapstad verkies baie mense glo flat white met amandelmelk. Of dit ’n subkultuur uitmaak, weet ek nie; dit is moontlik, maar dit is wel ’n interessante kontras om te bedink tussen sê maar eietydse koel letterkunde onder die teken van flat white en ’n ouer, dalk meer gevestigde letterkunde onder die teken van cappuccino, wat skakels het met ’n ouer tradisie, geassosieer met Kapusyner-monnike, dalk met ’n stewige skeut geklopte room bo-op.

’n Sentrale vraag

’n Mens kan jou soms ’n bietjie erger aan die sg smaakmakers en die invloed wat hulle vandag in die boekewêreld uitoefen. Wat weet hulle éintlik? wonder jy soms. En waar kom hulle reputasie vandaan? Word dit opgebou bloot deur gereeld ’n paar boeke in die sosiale media op te hemel, of is daar meer aan die gang? Lees hulle anders as elite-lesers? Of is die verskil maar net meer skuim, soos die verskil tussen cappuccino en flat white?

Watter verskille is daar presies? Oordeel kritici en smaakmakers verskillend? Watter norme of kriteria word gebruik? Hoe word daar geredeneer? Watter rol speel kritici en smaakmakers in die kanoniseringsproses? Die debat oor smaakmakers en kritici stel kortom weer vrae oor die aard van literêre waardes en die aard van die kanon aan die orde.

My voordrag by die Veldsoirée het taamlik heftige reaksie op sosiale media ontketen. Lekkerleesboekrak het my kwalik geneem dat ek ’n foto en data vanaf hulle groep sonder toestemming gebruik het. Ek erken ruiterlik dat ek die aard van ’n privaatgroep op Facebook verkeerd verstaan het en die data daarop as in die openbare domein beskou het. Ek vra om verskoning daarvoor.

Trisa Hugo (2025) het geskryf: “Dis vir my verstommend dat [prof Viljoen] enersyds dink ons het soveel invloed dat ons ’n bedreiging is vir literêre waardes en die kanon, en andersyds dat ons invloed vlietend en van min waarde is. Nogal ’n kontradiksie ...” Dit is ’n skewe weergawe van my argument, soos hier onder sal blyk. Maar dalk vang sy die kontradiktoriese aard van uitsprake in die sosiale media wel vas. Soos enige tegnologie is sosiale media tweeslagtig: Dit hou groot voordele in, soos vinnige kommunikasie, gemeenskapsbou, bemarking en kreatiewe ekspressie, maar ook groot nadele, soos verslawing, die voorhou van onrealistiese ideale (van skoonheid byvoorbeeld), kuberboeliegedrag, versteuring van verhoudings tussen mense en die verspreiding van vals nuus en waninligting (Qatari 2024). Heelwat waninligting oor my aanbieding is versprei.

’n Ander deelnemer het my as ’n “nincompoop” beskryf. Soos sal blyk, val ek niemand aan en kraak niemand af nie. Ek het die bekroonde smaakmakers se uitsprake met respek behandel. Op die Veldsoirée is Van Wyk Louw se idee van die oop gesprek as ideaal voorgehou, en dit onderskryf ek, al weet ek dat nie almal ewe veel toegang tot gespreksruimtes het nie en dat die oop gesprek dalk ’n onbereikbare ideaal is. Van Wyk Louw beskou wedersydse respek as basis vir die oop gesprek. Smaakmakers en skrywers op boekeblaaie neem deel aan die diskoers oor die Afrikaanse letterkunde. Hulle kan dus nie beswaar maak teen (of onverdraagsaam wees oor) die billike ontleding en kritiese diskussie van hulle uitsprake nie. Dit sou neerkom op sensuur.

My doel met hierdie bydrae is beslis nie om smaakmakers af te kraak of te verkleineer nie. Ek wil wel die kriteria wat bekroonde smaakmakers aanlê, en die waardes wat hulle voorop plaas, probeer bepaal. Uiteindelik wil ek probeer bepaal wat hulle invloed op die kanon van die Afrikaanse letterkunde is of kan wees. My bydrae is voorlopig en verkennend en glad nie bedoel om die laaste woord oor hierdie kwessies te wees nie.

Kanon, o kanon

Die idee van die kanon kom uit Latyn en beteken “reël” of “maatstaf”. Dit kom veral uit die kerklike konteks, waarbinne sekere geskrif te as kanoniek beskou is en dus in die Bybel opgeneem kan word. Dit hang ook saam met die idee van kanonisering: die praktyk in die Katolieke Kerk dat sekere mense, na ’n langdurige proses, heilig verklaar kan word.

Besinnings oor kanonisering

Kanonisering in die letterkunde is ’n kulturele proses waardeur sekere boeke geselekteer word vir bewaring en oorlewering. Die talle lyste van die beste boeke in Afrikaans wat vanjaar gemaak is ter herdenking van die eeu van Afrikaans as amptelike taal, is kortom pogings om die kanon enigsins te omlyn. 

Die bevordering van lees en van boeke is belangrik en noodsaaklik, maar dit beteken natuurlik nie dat alle boeke wat aangeprys of ontleed word, noodwendig die sogenaamde toets van die tyd gaan deurstaan en deel gaan uitmaak van die kanon nie. Nie alle boeke gaan oorleef nie. Bowendien is daar selde eenstemmigheid oor die waarde van ’n boek, selfs, of dalk veral, onder kenners. ’n Boek wat vandag opgehemel word, kan môre uit die oog verdwyn en glad nie as van blywende belang beskou word nie. Andersyds kan ’n boek wat vandag glad nie aandag getrek het nie, later as ’n meesterwerk erken word. Dink maar aan Bart Nel. Die oordeel van eietydse lesers, smaakmakers én kritici, en daarby sluit ek myself nadruklik in, is maar baie betreklik. Hoe divers en verteenwoordigend die paneel ook al is wat Rapport se lys van 100 beste boeke saamstel, die geskiedenis sal meedoënloos toon of hulle gelyk gehad het of nie. Mits die Afrikaanse letterkunde oor, sê, vyftig jaar wel nog bestaan.

Die kanon onder vuur

Omdat seleksie altyd uitsluiting inhou, het die  kanon vandag eintlik ’n slagveld in die kultuuroorlog geword. Nogtans gaan die klag dat dit die werk van ou, dooie wit mans verteenwoordig, nie eintlik meer op nie noudat soveel vroue, queer, LBTQI+- en Kaapse stemme ook meeding om die aandag van uitgewers en lesers. En ook talle krimi’s, romanses en semi-outobiografiese konfessies op die rakke beskikbaar is. Dit is waarskynlik nie baie polities korrek om nog aan die kanon te dink as die lys van die beste werk wat al ooit in Afrikaans geskryf is nie, maar daar heers tog nog ’n idee, ’n fantasie, of ’n verlange na die een of ander reël of maatstaf waarmee mens as leser sin kan maak van wat alles verskyn en enigsins ’n idee kan vorm van wat as goed beskou kan word. Hoe sal ’n mens anders weet wat jy behoort te lees of waaroor jy met ander in diskussie kan tree? Die kanon kan vandag nie as ’n absolute reël of maatstaf beskou word nie, maar dit is wel ’n konstruk wat ons nodig het om die diskussieruimte of diskoersruimte in en om die Afrikaanse letterkunde enigsins bevatlik te maak. Dit is ’n belangrike punt.

Binne so ’n diskoersruimte skep kanons (byvoorbeeld van die werk van die Twintigers, of die Sestigers, of van die Noorse sagas) ryk en komplekse alternatiewe kontekste waarbinne ’n mens jouself en jou wêreld kan verstaan; ander maniere om jou ervaring te verwoord; ander maniere van dink; ander leefwêrelde – wat soms radikaal met ons eie leefwêreld en lewenservaring kan bots. Dit is die verruimende funksie van kanons. Kanons is dus nie dogmas nie, maar “dialectical resources, at once articulating the differences we need for a rich contrastive language and constituting models of what we can make of ourselves as we employ that language” (Altieri 1984:51).

Die kanon vs die prakties beskikbare kanon

Die Akademie se reeks huldigingsbundels vir Hertzogpryswenners is ’n lofwaardige poging om voorheen gekanoniseerde Afrikaanse skrywers in die bewussyn te hou. Die ironie daarvan is egter dat die gekanoniseerde skrywers se werk op nuwe maniere bekyk word, maar dat die werke self moeilik, of selfs glad nie meer, bekombaar is nie, selfs nie eers die werke van ’n meesterlike stilis soos Hennie Aucamp nie.

Hennie Aucamp is onlangs, in 2014, oorlede, en tog was dit ’n hele optog om sy kortverhaalbundels in die hande te kry vir my bydrae tot die huldigingsbundel. Ek besit een of twee. Die ander moes ek uit die kelder van ons biblioteek laat haal. Sommige dele van die kelder is egter ontoeganklik en onveilig. Ons openbare biblioteek het wel ’n paar, maar Die hartseerwals moes ek tweedehands van Kakkerlak Boeke bestel – ’n eksemplaar afkomstig uit die biblioteek van ’n tegniese kollege. Die kanse dat ’n gewone leser ’n boek van Aucamp sal raakloop by Bargain Books, is maar baie skraal. Binne 10 jaar na sy dood het Aucamp dus uit die prakties beskikbare kanon verdwyn. Dit lyk my ook hoogs onwaarskynlik dat sy versamelde werke ooit uitgegee sal word. Nie in ’n land waar mense maklik R2 000 vir ’n rugbykaartjie sal betaal, maar R360 as te duur vir  ’n goeie boek beskou – die prys van drie pizzas, so ongeveer. Of van sewe flat whites met amandelmelk by Mugg & Bean. Die Akademie en ander belanghebbers sal dringend ’n projek moet loods om ook die werke van Hertzogpryswenners weer beskikbaar te stel. Die uitgewers gaan dit waarskynlik nie doen nie, want dit sal nie winsgewend wees nie.

Die kriteria van die bekroonde smaakmakers

Maar terug na die smaakmakers. Smaakmakers, so word gemeen, staan vir alles wat vinnig en met goeie impak op die sosiale media gesê kan word, tot nadeel van werklik diep engagement met boeke en tekste. Uit die reaksies op Marlies Taljard (2025) se onlangse artikel oor kritici en smaakmakers blyk dit dat daar ’n groot kloof bestaan tussen lesers wat die smaakmakers se leiding wil volg en die kritici, wat oor die algemeen as te akademies en elitisties beskou word. Die akademiese kritiek en diskoers oor die letterkunde, so word dikwels gekla, is te ver verwyderd van die gewone lesers en daarby te moeilik en te wetenskaplik, vol tegniese en vreemde jargon. Dit is kritiek wat natuurlik gedeeltelik waar is. Maar daar is ook wel baie voorbeelde van goeie toeganklike resensies van boeke deur akademici. Die beskouings oor smaakmakers sowel as  kritici neig om reduktief en stereotiep te wees. Die kwessies moet deegliker bekyk word.

Sosiale media bevat ontsaglik baie data, maar dit is ’n moeilike studieveld, veral omdat plasings baie vinnig weer kan verdwyn. Jy is boonop nie seker presies wat jy te siene kry  nie, en of jy môre weer dieselfde plasings te siene gaan kry  nie, want Facebook se algoritmes bepaal wat in die stroom verskyn. Hoe hulle werk, is ondeursigtig (“unfathomable” – Harrari 2024:328): Ons verstaan nie hoe hulle werk, waar hulle vandaan kom of wat hulle swak punte en vooroordele is nie. Facebook deel nie hulle data geredelik nie – dit is duur om aan te koop. Boonop is Facebook moeilik soekbaar. Soek jy “Decima”, is dit onwaarskynlik dat jy die spesifieke resensie sal kry waarna jy soek. Sosiale media is ’n kameleontiese ondersoeksveld.

Om te bepaal watter kriteria die bekroonde smaakmakers gebruik vir die beoordeling van boeke, het ek uitsprake van Marion Erskine op Facebook (Lekkerleesboekrak), van Anschen Conradie en Sanna african_book_nerd op Instagram, en van Stefaans Coetzee op Facebook handmatig in ’n Excel-lêer versamel en deur ChatGPT laat ontleed. Dit is kennelik ’n beperkte steekproef waaruit geen algemene afleidings gemaak kan word nie. Dit kan wel sekere tendense aandui. Uiteraard moet ChatGPT ook versigtig en met oorleg gebruik word, soos Trisa Hugo (2025) aangedui het. ChatGPT is vandag baie in die nuus, maar vir my doel het dit veral twee voordele. Eerstens is dit onafhanklik van my persoonlike voorkeure, en tweedens kan KI patrone in data beter herken as mense (Harari 2024:318).

Ek het ChatGPT gevra om hooftemas in die Excel-lêer te identifiseer. Hy het ’n opsomming gelewer van ses hooftemas wat hy gevind het. Sy opsomming van die tema “Sielkundige diepte en trauma” lui byvoorbeeld soos volg:

  • Tema: Verskeie werke word bespreek in terme van hul verkenning van trauma, skuldgevoelens en emosionele kompleksiteit.
  • Ondersteuning: Verwysings na Ons skulde en Dis ek, Anna dui op herhalende temas van sielkundige introspeksie, slagofferervaring en persoonlike verlossing.
  • Hierdie temas word dikwels gekoppel aan Afrikaneridentiteit, historiese geheue of familielaste (“familial burdens” – ek het later met hom Afrikaans begin praat).

Die opsomming hier onder wat ek in my voordrag ingesluit het, berus op daardie langer opsomming:

Tabel 1. Opsomming van ChatGPT se analise van temas in die data (195 uitsprake)

  Tema

Persentasie van uitsprake

  Skryfstyl en vertelkuns

            9,2%

  Raaisel en spanning

            4,6%

  Sosiale kommentaar en relevansie

            2,1%

  Literêre aansien en erkenning

            1,0%

  Sielkundige diepte en trauma

            1,0%

Geen tema gevind

          83,6%

 

Ek het hom gevra presies hoe hy getel het en waaruit die 83,6% bestaan. Sy antwoord was dat die 83,6% bestaan uit:

Feitelike opmerkings (bv “Hy het reeds vier boeke geskryf”)

Oppervlakkige of beskrywende opmerkings sonder tematiese lading

Verwysings na vorige werke, plekke, mense sonder eksplisiete evaluasie

Slegs sinnetjies tussen aanhalingstekens (wat verwyder is voor analise [want dit is aanhalings uit die boeke of van ander se menings]).

Hy het ook gesê hy het vooraf gedefinieerde temas gebruik, en hy het verduidelik dat hy:

as deel van die tematiese kodeerproses vooraf vyf temas gedefinieer het, elk met ’n stel sleutelwoorde wat waarskynlik daardie tema aandui. Dit beteken:

Die temas en sleutelwoorde is nie direk uit die data afgelei nie, maar deur my saamgestel op grond van jou vroeëre vrae, en algemene literêre kategorieë wat relevant sou wees vir ’n evaluasie van uitsprake oor boeke.

Die vooraf gedefinieerde temas verdraai die data ’n bietjie, en Chat het gesê hy kan ’n bottom-up analise doen op grond van sleutelwoorde wat die skrywers self gebruik.

Sy verslag van hierdie analise haal ek hier onder volledig aan:

📄 Tematiese opsomming (“Bottom-up”-benadering)

Agtergrond
Hierdie verslag gee ’n ontleding van die temas soos dit spontaan uit die 195 uitsprake ontstaan het. Temas is afgelei van die mees algemene inhoudelike woorde wat in die uitsprake voorkom, sonder voorafbepaalde klassifikasie. Elke tema word ondersteun deur sleutelwoorde wat herhaaldelik in respondente se taalgebruik verskyn het. Die persentasie dui aan hoeveel van die totale uitsprake aan elke tema gekoppel is.

📚 Tema 1: Boekervaring en leesgenot

Sleutelwoorde: boek, boeke, lees, lekker, gelees, beslis, weer
Persentasie van uitsprake: 17,4%

Hierdie uitsprake beklemtoon die plesier van lees, toeganklikheid van die boeke, en positiewe ervaring. Woorde soos "lekker gelees", "sal dit weer lees", en "baie geniet" kom gereeld voor.

✍️ Tema 2: Verhaal en styl

Sleutelwoorde: verhaal, roman, storie, eerste, meer, werk
Persentasie van uitsprake: 15,9%

Respondente fokus hier op die aard van die vertelling: die struktuur, ontwikkeling en die styl waarin dit geskryf is. Daar is ook kommentaar oor hoe die verhaal verskil van ander, of hoe dit hulle verras het.

🧍 Tema 3: Karakter en identiteit

Sleutelwoorde: karakters, mens, tussen, ander, Rachel
Persentasie van uitsprake: 7,2%

Uitsprake onder hierdie tema verwys na karakteruitbeelding, menslike verhoudings, identifikasie met karakters, en spesifieke verwysings na figure soos Rachel. Sommige kommentare beklemtoon emosionele resonansie of realisme van karakters.

🖊️ Tema 4: Skrywer en outeurskap

Sleutelwoorde: skrywer, skrywers, werk, eerste, weer
Persentasie van uitsprake: 11,3%

Hier beklemtoon respondente hul waardering vir die skrywer self – hulle vra na ander werke, verwys na die styl van die outeur of wys op hierdie werk as ’n debuut of ’n volgende boek. Die outeur se vaardigheid of invloed kom hier sterk na vore.

💭 Tema 5: Invloed en indruk

Sleutelwoorde: indruk, laat, baie, daarvan
Persentasie van uitsprake: 6,2%

Hier word die impak van die boek op die leser bespreek – hoe dit hulle laat dink het, of watter indruk dit gelaat het. Party opmerkings verwys na langtermynimpak of emosionele betrokkenheid.

Geen tema gevind

Sleutelwoorde:
Persentasie van uitsprake: 42,1%

’n Groot deel van die uitsprake bevat óf te algemene kommentaar óf slegs aanhalings of beskrywings sonder sleutelinhoud. Hierdie uitsprake is nie met enige van die vyf temas geassosieer nie.

Totale uitsprake ontleed: 195
Temas gekoppel: 113
Uitsprake sonder temas: 82

Saamgevat in ’n tabel, lyk dit so:

Tabel 2. Temas in uitsprake (“Bottom-up”-benadering)

  Tema

Persentasie van uitsprake

  📚 Boekervaring en leesgenot

          17,4%

  ✍️ Verhaal en styl

          15,9%

  🧍 Karakter en identiteit

            7,2%

  🖊️ Skrywer en outeurskap

          11,3%

  💭 Invloed en indruk

             6,2%

 ⚪ Geen tema gevind

           42,1%

 

 Totaal uitsprake: 195

 Hierdie analise verskil heelwat van die eerste en kan as geldiger beskou word, omdat dit werk met sleutelwoorde in die tekste self. Die analise moet natuurlik nog gekontroleer word, maar dit is opvallend dat Boekervaring en leesgenot en Verhaal en styl sterk figureer. Dat soveel waarde aan boekervaring en leesgenot geheg word, bots met my eerste indruk dat die bekroonde smaakmakers tradisionele literêre kriteria gebruik, want ek vermoed dat kritici minder aandag aan boekervaring en leesgenot sal gee, maar dít sal net deur ’n groter vergelykende studie bepaal kan word. Die analise wys wel dat die verskil tussen smaakmakers en kritici nie so groot is as wat die stereotiepe sienings inhou nie.

Wat my in hierdie steekproef opval, is dat die smaakmakers hoofsaaklik oor populêre literatuur skryf – rillers, krimi’s en romanses – en selde ’n oordeel waag oor die werk van erkende literêre skrywers of digters. Anschen Conradie is wel ’n uitsondering hier, want sy het onder andere ook haar indrukke van Decima, Gebeente en Onrus op Steynshoop neergeskrywe.

Die diskoers oor waardes

Vorm die smaakmakers se propaganda (en ek bedoel dit in ’n goeie sin) vir boeke dus ’n teenvoeter vir die idee van vandag dat boeke irrelevant, van min waarde vir die samelewing is; nie betekenisvol is in die wêreld van geld, mag en wetenskap nie? Wat die nut van letterkunde bevraagteken? Is die hele praktyk van die skryf van resensies en indrukke oor boeke nie maar ’n mors van tyd nie? Maar dalk is die teenstelling tussen estetiese waardes en die mark nie so klinkklaar nie – veral nie as ’n mens literêre waardes en die diskoers daaroor in ’n breër historiese perspektief plaas (soos John Guillory 1993 doen) nie. Hy ontleed onder andere die werk van Pierre Bourdieu.

Die veld van beperkte produksie in die gedrang

Ooreenkomstig Bourdieu (1985) se idees oor die outonomisering van die simboliese kultuurprodukte kan ’n mens die teenstelling tussen smaakmakers en kritici beskryf as mededinging om kulturele prestige en legitimiteit. Wie gaan die grootste sê hê in die bepaling van die waarde van simboliese goedere (in ons geval, boeke)?

Wat in gedrang kom, is Bourdieu se teenstelling tussen ’n veld van beperkte produksie (of hoë kuns) en ’n veld van grootskaalse kultuurproduksie. Die sisteem van beperkte produksie, meen hy,  is ’n sisteem wat kultuurgoedere produseer vir ’n publiek van produseerders van kultuurgoedere (skrywers, uitgewers en kritici). Die veld van grootskaalse kultuurproduksie produseer kultuurgoedere vir nieproduseerders van kultuurgoedere, dws vir die breë publiek. Bourdieu beskryf die teenstelling tussen lae en hoë kuns kortom in ander taal.

Die sisteem van beperkte produksie neig om sy eie kriteria vir die beoordeling van sy produkte te ontwikkel (Bourdieu 1985:17) en hom daardeur af te sonder van die algemene publiek. Die deelnemers aan hierdie sisteem is voortdurend in ’n stryd gewikkel om hulle van mekaar te onderskei in prestige, soos byvoorbeeld aangedui word deur goeie resensies van erkende resensente in toonaangewende publikasies, vertaling in ander tale en die verowering van pryse en toekennings. Dit is vir Bourdieu een van die reëls van kuns.

Die veld van beperkte produksie het, volgens Bourdieu, ’n lang ontwikkeling ondergaan om hom te bevry van die voorskrifte van kerk en staat. Hierdie outonomie, lyk dit my, is vandag onder druk, omdat die videosfeer (wat die internet, film en TV insluit) neig om sy eie eise aan kultuurprodukte te stel – eise soos onmiddellike impak, onmiddellike onderskeiding, onmiddellike populariteit. Genoeg volgelinge, delings en hou-vans, met ander woorde. Dit impliseer eintlik ’n ander stel kriteria as die kriteria wat vir die letterkunde as sodanig ontwikkel is: die waardes van outonomie, selfregulering, relatiewe verwyderdheid van die aktualiteit (of juis die teenoorgestelde daarvan); die eise van ordentlikheid en dekorum; die eise van stilistiese en vertelkundige voortreflikheid, ens. Kortom, die outonomie van die letterkunde as veld van beperkte produksie kom onder druk van markkragte soos wins en bekostigbaarheid én onder druk van kragte uit die internet, soos onmiddellikheid en opvallendheid.

Gewildheid in die sosiale media is amper per definisie kortstondig en vervlietend. Vandag se boek gaan meer hou-vans kry as gister s’n, en weer ewe vinnig uit die aandag verdwyn. Word daar ’n tradisie of ’n kanon gevorm? Gaan boeke binne hierdie stelsel oorleef en oorgedra word na ’n volgende geslag lesers, of gaan boeke net as verbruikersprodukte met ’n korterige raklewe beskou word en vinnig verdwyn?

Dit lyk nie vir my of daar binne lesersgroepe op die internet meganismes bestaan wat sal sorg dat waardevolle boeke oorgedra word na ’n volgende geslag nie. Dalk slaan ek die bal mis, maar vir die oorlewing van waardevolle boeke in Afrikaans sal groepe lesers meer moet doen as net om boeke te bespreek. Dit lyk vir my of hulle ook verenigings, byvoorbeeld ’n Hennie Aucamp-vereniging, sal moet oprig wat hulle sal beywer vir die heruitgee van ’n skrywer se werk. En wat geld sal moet belê in sulke heruitgawes. Hulle sal moet saamwerk met die akademiese kritiek om te sorg dat belangrik geagte boeke wel op die lang duur nog gepubliseer, gelees en bestudeer word.

Bourdieu reduseer estetiese waarde tot ’n sosiale waarde: Estetiese kriteria is net ontwerp om literêre werke van werke vir massaverbruik te onderskei. Die estetiese is binne so ’n siening eintlik leeg. Dit is net ’n onderskeidingsteken; ’n soort blasoen onder skrywers en intellektuele. Hoe geldig hierdie siening vir die situasie in Afrikaans is, is ’n ope vraag. Maar omvat die estetiese waarde van ’n goeie boek nie veel meer as dit nie? Hou ’n goeie boek nie veel meer vir die mensdom in as dit nie? Die smaakmakers se klem op leesgenot dui reeds ’n ander siening van literêre waardes aan.

Positiewe waardes – Rita Felski

Rita Felski het in haar boek Uses of literature (2008) die estetiese funksies van boeke probeer omskryf en gepleit vir die erkenning van sg positiewe waardes. Sy fokus op vier sulke positiewe waardes of estetiese funksies: herkenning, kennis en insig, verwondering  en skok. Wat sy daarmee bedoel, kan ek illustreer met ’n boek soos Decima. Decima oorbrug deels die kloof tussen hoë en lae letterkunde, want dit lees plek-plek soos ’n krimi en soos ’n traktaat teen renosterstropery. Tog herken ons onsself en ons wêreld maar te goed daarin (herkenning). Ons maak kennis met die vreemde wêreld van renosterstropers uit ’n ander oogpunt as in ’n krimi. Ons leer renosters uit ’n binneperspektief ken. Die boek is “’n soort ode aan die swartrenoster as gevoelvolle (sentient) wese” (Van Zyl 2024:137). Ons leef ons in in die dood van Decima, die ou renostermatriarg, en beleef dalk weer die verlies van ons eie moeders (kennis en insig). Ons verwonder ons aan Venter se fyn waarnemings en “die kleurryke en ouwêreldse Afrikaans” wat hy gebruik, en aan sy vertel- en struktureringsvermoë; aan die rykdom van die wêreld wat aan ons geopenbaar word (verwondering). En ons word geskok en geprikkel deur die wrede en ontstellende dinge wat die skrywer aan ons openbaar. Stefan van Zyl noem dit “’n boekstawing, ’n soort inventaris van die ongeregtighede wat die mensdom teen die diereryk gepleeg het” (skok).

Gevolgtrekking

Op die ou end is daar dalk nie so ’n groot verskil tussen kritici en smaakmakers nie. Albei is as’t ware koffie met melk. Daar is heelwat ooreenkomste tussen die kriteria wat hulle gebruik. Hulle maak eerder ’n spektrum uit as ’n teenstelling. Die verskil lê moontlik eerder in die medium wat gebruik word. Smaakmakers het ’n belangrike funksie om propaganda te maak vir boeke en om mense aan te spoor om te lees. Hulle invloed is onmiddellik maar kortstondig, omdat plasings en reaksies vinnig verskyn maar ook weer vinnig verdwyn. Hulle kan moontlik op lang termyn baie bydra tot die skep van ’n leeskultuur, maar ek dink hulle reaksies op boeke sal eventueel ook konkrete gestalte moet kry, byvoorbeeld in die herpublikasie van die werk van geliefde skrywers. Resensies in koerante deur akademiese kritici kan egter ewe kortstondig wees, tensy instansies soos Sabinet dit bewaar. Dit lyk nie of die koerante self veel erg aan hulle argiewe het nie. Kritici, akademici, lesers en boekliefhebbers sal almal moet saamwerk, lyk dit my, om die voortbestaan van die Afrikaanse letterkunde (die kanon in die breë) op lang termyn te verseker ondanks sterk markkragte, die invloed van die videosfeer en die sterk fokus wat deesdae op gebruikswaarde (of nut) val.

Bibliografie

Altieri, C. 1984. An idea and ideal of a literary canon. In Von Hallberg (red) 1984.

Bourdieu, Pierre. 1985. The market of symbolic goods. Poetics, 14:13–44.

Felski, Rita. 2008. Uses of literature. Blackwell Manifestos. Londen: Blackwell.

Guillory, John. 1993. Cultural capital: The problem of literary canon formation. Chicago: University of Chicago Press.

Hale, Vanessa. 2025. Rise of Digital Economy East London. Strutt & Parker. https://www.struttandparker.com/knowledge-and-research/what-flat-white-economy (27 Mei 2025 geraadpleeg).

Harari, Yuval Noah. 2024. Nexus. Edgware, VK: Fern Press / Penguin Random House.

Hugo, Trisa. 2025. Trisa Hugo oor my Veldsoirée-praatjie. Facebook, 3 Augustus. https://www.facebook.com/MaanKind (4 Augustus 2025 geraadpleeg).

Qatari, Sadiq Al. 2024. The dual nature of social media: an in-depth analysis of its pros and cons. Kindle-uitgawe. Plek en uitgewer nie vermeld nie.

Van Zyl, Stefan. 2024. Decima. Tydskrif vir Letterkunde, 61(1):136–8. https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.17955.

Von Hallberg, R (red). 1984. Canons. Chicago & Londen: University of Chicago Press.

Lees meer oor die debat op sosiale media en LitNet:

Elders gesien: Beide die cappuccino- en flat white-drinkers is gekultiveerd

Elders gesien: Ek self vind die hele storie nou al ’n bietjie opgeblaas

Elders gesien: Dat almal nodig is om die Afrikaanse digitale kanon tot stand te bring

Ek wens ek het so goed gelyk

Lees en kyk ook:

Marlies Taljard: Resensent of smaakmaker – edelmetaal of klatergoud?

Crito: Crito antwoord kritici

Stefaans Coetzee: Debat is goed vir boekverkope

Crito: Die rigtingverandering

Daniel Hugo: Kreatiewe reaksies op literêre kritiek

Emily Smith: Die belang van lesersindrukke

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Crito

Bernard Wessels: Laster en belediging: ’n oorsig oor tersaaklike regsbeginsels

Fanie Olivier: Die oop gesprek, die toe debat en die vernietiging van mense

Vasti Roodt: Kuns en/of moraliteit

Igno van Niekerk: Waarom ek boekfeeste bywoon

Hein Viljoen: UNISA's Breyten Seminar: "in the calyx of your thoughts" – topological deformation in a few texts and paintings by Breyten Breytenbach

Menán van Heerden en Hein Viljoen: Kreolisering, die Afrikaanse letterkunde en kultuur: ’n onderhoud

Alwyn Roux en Hein Viljoen: ’n Heideggeriaanse benadering van landskap as woon in Breyten Breytenbach se Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993)

Lees die ander Skrywersberaad-bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 4

Kommentaar

  • Marion Erskine

    Baie dankie vir hierdie insiggewende bydrae, Prof Hein. Die afgelope paar weke was daar baie gesprekke oor ons geliefde Afrikaanse boekwêreld, en ek het self dikwels daaroor nagedink. Ek wonder soms hoe waardevol dit sou wees as ons almal van die begin af doelbewus saam kon werk en ons kennis en ervaring kon deel. Maar soms los koffie 'n bitter nasmaak as dit nie van die begin reg gemaak word nie.

    Ek het nooit doelbewus probeer om ’n “smaakmaker” of “boekbeïnvloeder” te wees nie. Ons groepie van tien, die “Rakkers,” het heel onskuldig in 2007 begin, sonder dat ons kon voorsien hoe groot die behoefte aan lekkerleesboeke sou wees. Ons het ook nie besef dat die troetelnaam "Rakkers" jare later gekoggel sou word in sekere gehore nie.

    Ek is ’n mens wat glo in ’n beter wêreld en hoop dat ons, in die literêre gemeenskap, eendag almal saam kan staan. Op Lekkerleesboekrak nooi ek dikwels skrywers uit om direk met lesers te gesels. Dit skep ’n menslike band. Dit wys dat skrywers net soos hul lesers is: ons het vrese, ons voel kritiek, en ons almal het 'n need for belonging. ’n Eenvoudige kuier kan soveel verbindings bou. Dit sou so lekker wees as die akademici nie net loer op die groep nie, maar ook saam praat sonder dat hulle veroordeel word. Wys hulle julle is doodgewone mense nes die res van hulle. Almal het hulle eie veld van kundigheid, but knowing your audience is key. Mense voel dis 'n 'julle' teen 'hulle' en die enigste manier om dit te verbeter, is om te kom gesels. Almal op aarde kan 'n influencer word. Die geheim is dat mense moet kan identifiseer en jou vertrou. Et voilà!

    Ek dink dikwels aan hoe verhoudings tussen gemeenskappe en instansies in verskillende lande verskil — byvoorbeeld hoe vertroue in Swede se polisie dikwels sterker is as in ander dele van die wêreld. Miskien kan ons in die literêre wêreld iets soortgelyks nastreef: ’n atmosfeer van wedersydse respek, openheid en KONNEKSIE. (RSG Radiodrama-wenner 2024. Nou beskikbaar op Spotify). Jammer, dis die smaakmaker in my. 😉

    Ons taal en styl maak ’n groot verskil. Deur ons woorde toeganklik te hou en gesprekke inklusief te maak, bou ons brûe. Nie omdat lesers minder ingelig is nie, maar omdat ons almal smag na doodgewone verhoudings sonder om te voel ons loop in 'n mynveld.

    Mag dit met jou voorspoedig gaan, Prof Hein, en mag ons almal eendag saam werk aan ’n literêre landskap. Dalk kan ons 'n Swede word.

  • Frederik de Jager

    Soos dit my indruk by dié lesing tydens die Veldsoirée was: 'n besadigde, ewewigtige en tydige ontleding. Dit is goed dat die teks nou beskikbaar is. Helaas te laat vir dié wat hulle versondig het aan oningeligte en halfbekookte uitsprake gegrond op 'n stel Powerpoint-skyfies of, nog erger, hoorsê. In die gees van die apologie van professor Viljoen hier, sou mens hoop daar kom ook apologieë van diegene wat hom so basisloos, en soms kru, van allerlei beskuldig het. Ek hou egter nie my asem op nie. Ons het ‘'n beskamende golf veroordelings gesien van boeklesers wat die moeite ontsien om hulleself in te lig. Die ontstellendste van hierdie eensydige “debat” is die anti-akademiese, anti-intellektuele toon van baie daarvan. Is dit dan Amerika dié? Lekkerlees is lekker, en dit is nodig dat die koop en lees van boeke gestimuleer word. Ek praat as oud-uitgewer wat vaderweet vir elke boek op 'n gunstige ontvangs en skaflike verkope gehoop het. Die feit is egter dat diepergaande letterkundige kritiek, met die klem op kundig, noodsaaklik is vir die gehalte van die woordkuns en die voortbestaan van ons letterkunde op die lange duur. Afrikaans het die sonderlinge juweel van 'n wêreldklasletterkunde in 'n klein en jong taaltjie. Aan 'n onderskeid tussen hogere en lagere letterkunde sal ons seker nooit ontsnap nie, maar ons moet weet: die een kan nie sonder die ander nie. Professor Viljoen maak 'n soortgelyke saak uit vir die kritiek.

  • Joan Hambidge

    'n Insigryke reaksie van 'n kundige teoretikus. Sowel gesiene digter as kritikus is Hein Viljoen.
    En kundige kritiek behoort, soos Frederik de Jager uitwys, aangeprys te word.
    In die Rapport 100 beste boeke-projek sien 'n mens die verskille tussen die kritiek van 40 jaar gelede en nou.

  • Baie dankie prof Hein vir die beskikbaarstelling van die gewysigde en uitgebreide lesing. Ook vir die verwydering van woorde soos propaganda en vlietend wat as neerhalend geïnterpreteer is.

    Vir myself (ek kan nie vir die ander praat nie) sou die navorsing baie meer waardevol kon wees as ons bv kon help om plasings op verskeie platforms kon uitwys wat gemaak is. Facebook se algoritmes is deesdae baie meer ingestel om advertensies te wys van dinge wat jy reeds gekoop het en selfs oor praat. Smaakmakers vir boeke word as sulks erken omdat hulle weet hoe sosiale media werk, ons/hulle sou dus waardevolle bydraes kon lewer om die steekproef veel groter en bietjie meer verteenwoordigend te maak.

    Ek waardeer veral hierdie sin: "Uiteindelik wil ek probeer bepaal wat hulle invloed op die kanon van die Afrikaanse letterkunde is of kan wees. My bydrae is voorlopig en verkennend en glad nie bedoel om die laaste woord oor hierdie kwessies te wees nie."

    Soos waarskynlik meeste mense wat die skrywes hieroor volg, sien ek persoonlik baie uit na meer oop gesprekke hieroor. Ek het oneindige repek vir akademici, ek weet wat dit moes kos om daar te kom. Juis daarom dink ek ons het almal een gesamentlike doel. Vir myself is dit die behoud van Afrikaanse literatuur en natuurlik die uitgewersbedryf, om tot aan die einde van my dae goeie boeke in Afrikaans te mag lees. En solank my vingers kan tik, ek 'n mond het om mee te praat en oë om te sien, sal ek gesels oor boeke. Van alle genres. Of dit nou op my eie blad is, of op groepe soos Marion Erskine se Lekkerleesboekrak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top