Resensent of smaakmaker – edelmetaal of klatergoud?

  • 13

Agtergrond

Erasmus-Alt (2019) ondersoek in haar proefskrif die groter sisteem waarbinne kuns en kunsskepping bestaan en hoe skrywers en literêre tekste verskillende soorte kapitaal opbou wat ’n sekere status binne die literêre sisteem veronderstel. Sy dui twee opponerende pole aan wat ’n rol speel, naamlik die artistieke pool waarin kunstenaars streef na simboliese kapitaal in die vorm van legitimasie en die ekonomiese pool waar die media ’n belangrike rol speel (sien ook Bourdieu 1985:723–44). Hoewel hierdie twee pole in praktyk nie afsonderlik van mekaar bestaan nie en beide ’n rol speel in die resepsie van ’n literêre werk, word die twee pole in die media dikwels as direkte opposisies teenoor mekaar opgestel en lei dit daartoe dat opponerende partye mekaar in die hare vlieg, beledig en boelie.

Die kriteria wat ’n rol speel ten opsigte van faktore wat die persepsie van skrywers se prestige, roem en begaafdheid bepaal, verskil selfs binne dieselfde sosiale opset dikwels hemelsbreed. Is dit geld, “likes” op sosiale media, openbare optrede, die aandag van akademici of bekroning wat ’n skrywer se status bepaal? Wie se literêre mening dra uiteindelik die meeste gewig en wie behoort “geglo” te word?

Die doel van hierdie opstel is om te bepaal watter tipe bydrae uiteindelik die deurslag gee ten opsigte van kanonisering en bekroning wat algemeen as die hoogste prestasie van ’n skrywer beskou word.

Smaakmakers en ekonomiese kapitaal

Ekonomiese kapitaal is ’n konsep uit die Sosiologie wat gebruik word in die studie van kuns om te verstaan hoe ekonomiese faktore die resepsie van ’n kunswerk beïnvloed. Ekonomiese kapitaal speel nie ’n geringe rol in die kunswêreld nie. Throsby (1994:20) toon byvoorbeeld aan dat die “kulturele industrie” in 1988 2,5% van die Amerikaanse BBP uitgemaak het.

In 2025 sou dit roekeloos wees om die invloed van (sosiale) media op die beeld van skrywers en die resepsie van literêre tekste te misken. Erasmus-Alt (2019) stel dat “[a]s gevolg van toenemende medialisering, is die ikoniese waarde van inligting ‒ waarin dit gaan om sensasie en beeldvorming ‒ net so belangrik as die boodskap”. Sy voer aan die hand van betroubare argumente aan dat kuns onlosmaaklik verbonde is aan ekonomiese beginsels en ’n belangrike rol speel in die resepsie en kanonisering van ’n literêre werk. Jayadi (2018) toon aan hoe ekonomiese kapitaal die kunsbedryf ekonomies volhoubaar maak. Dit behels praktyke soos smaakbeïnvloeding, selfbemarking, asook wyd gepubliseerde en uitgebreide bekendstellingstoere met boekgesprekke en onderhoude met skrywers. Dikwels is skrywers met “groot” name egter die uitsondering – dink aan skrywers soos Marlene van Niekerk, Antjie Krog, Johan Myburg, SJ Naudé, Ingrid Winterbach en ander veelbekroonde skrywers wat min of geen teenwoordigheid op sosiale media het nie en wie se werk selde of ooit deur sogenaamde “influencers” of smaakmakers bespreek word.

Om die vraag te probeer beantwoord oor wie en wat uiteindelik daartoe bydra dat ’n skrywer en sy werk die hoogste sport bereik, naamlik kanonisering en bekroning met een of meer prestigeryke prys(e), fokus ek eerstens op smaakmakers. Volgens NB-Uitgewers en Rapport is smaakmakers “‘Influencer[s]’, [...] daardie mense wat ons smaak help vorm oor al die lekkertes” (sic!). Meta AI definieer “influencer” soos volg:

In literature, an “influencer” refers to a person, often with a significant online presence, who actively shares their opinions and insights about books, impacting the reading choices of others through reviews, recommendations, and discussions, essentially shaping literary trends and encouraging others to read specific titles or authors [...].

Smaakmakers is mense (ongeag watter literêre kwalifikasies hulle het, indien enige) aan wie uitgewers gratis boeke verskaf en verwag dat hulle gunstige reaksies op sosiale media of vir die koerante daaroor skryf (Crito 2022). Die smaakmakingsbedryf het dus ’n duidelike bemarkingsdoelstelling en word onder andere deur uitgewershuise gesteun en befonds. Uitsette van smaakmakers verskil nie veel van advertensies nie, aangesien dit gegrond is op die basiese beginsels van die advertensiewese, naamlik om bewustheid en belangstelling in ’n produk te skep met die doel om potensiële kliënte te oorreed om dit te koop deur positiewe inligting aan te bied en ’n beroep te doen op hul emosies en behoeftes, dikwels deur geteikende boodskappe oor verskillende mediaplatforms heen om die regte gehoor te bereik (Wikipedia). Die styl van smaakmakers kom sterk ooreen met die styl van advertensies. Veralgemenings, oordrywings, verkleiningsvorme, uitroepe, modewoorde en herhalings rig meestal die diskoers: “meesleurende”, “hoendervleiswekkende”, “roerende, lieflike leeservaring”, “Ek vind X se boeke altyd wetenswaardig, leersaam en absoluut onneersitbaar”, “Ek het baie lekker gelees aan ...”, “Hier is ’n lusmakersin uit die storie ...” het ek onlangs in Maroela Media-resensies gelees.

Smaakmakersdiskoers is gerig op positiewe beeldvorming, wat Erasmus-Alt (2019) as belangrik beskou in die evalueringsproses van letterkundige werke deurdat dit ’n versterkende invloed op resepsie uitoefen. Hóé belangrik die beeldpoetsingsbedryf tans geag word, blyk byvoorbeeld uit die groot pryse wat in die media vir beste smaakmakers uitgeloof word. In 2025 het Media24 duisende inskrywings vir dié pryse ontvang. Die prysgeld beloop tans R324 000. Kategoriewenners ontvang R25 000 elk en die algehele wenner R50 000. Om in te skryf vir ’n Smaakmaker-toekenning, moet die smaakmaker ’n sosiale media-blad soos Facebook, Instagram, YouTube of TikTok hê met (afhangend van die kategorie) etlike honderde of duisende aanhangers (Rapport).

Daarteenoor het die kykNET-Rapport-resensieprys in 2024 R45 000 beloop vir fiksie en niefiksie onderskeidelik (LitNet). Hertzogpryswenners ontvang R75 000 en wenners van die Eugène Maraisprys R17 500. Die pryse word ook gedeeltelik deur Media24/Rapport geborg (Netwerk24).

Kyk ’n mens na die 2025-finaliste van die Smaakmaker-toekennings, blyk dit dat die oorgrote meerderheid smaakmakers onder ’n skuilnaam skryf (Netwerk24) en dus eintlik, soos reklame-agente, naamloos is en nie, soos akademici, persoonlik verantwoordbaar gehou kan word vir hulle menings nie.

Stefaans Coetzee was in 2024 die wenner van die Smaakmaker-toekenning in die kategorie “Boeke met NB-uitgewers”. Uit ’n onderhoud met Izak de Vries op LitNet (2024) blyk dit dat hy sy opdrag as smaakmaker sien as iemand wat die publiek inlig oor boeke wat hyself geniet het en wat hy dink die publiek ook sal geniet. Die publiek het dus iemand nodig om leiding te gee in dié verband. Oor die algemeen konsentreer smaakmakerbydraes, wat smaakmakers en hul aanhangers meestal resensies noem en wat oral op sosiale media en in koerante te vinde is, hoofsaaklik op boeke wat in die skrywer se persoonlike smaak geval het, op voorkoms (onder andere illustrasies), ’n breedvoerige opsomming van die inhoud en in enkele gevalle word ligweg geraak aan tema (byvoorbeeld vroueregte) en toonaard. Die styl is informeel en gerig op ’n “lekkerlees-ervaring”. Min blyke van logiese argumentvoering (retorika) kom voor en tekste is dikwels onsamehangend en gaan mank aan kohesie en koherensie.

Bennet (2021) maak die stelling dat resensies in die smaakmakergemeenskap verwar word met lofpsalms of ’n heildronk op die skrywer. Uitsette van smaakmakers word inderdaad, selfs op Media24 en Maroela Media, dikwels verwar met resensies – ons sien dit in kommentare waarin smaakmakers gelukgewens word met hulle “resensies” of bedank word omdat die “resensie” so lekker lees.

In die lig daarvan dat sommige smaakmakers meer as 5 000 aktiewe vriende op sosiale media het en dat hulle mekaar se plasings rojaal deel, is dit nie moeilik om die afleiding te maak nie dat dié mense veral vir uitgewershuise van onskatbare waarde geword het en dat skrywers se tantième (hulle ekonomiese kapitaal) dienooreenkomstig toeneem. ’n Mens sou selfs kon aanneem dat dié bedryf soms ernstige resensente beïnvloed – veral jonger, minder ervare resensente.

Daarteenoor en in noue samehang daarmee, staan die verwerwing van simboliese kapitaal wat steeds tot ’n groot mate afhanklik is van vakwetenskaplike evaluasie (resensies) van ’n relatief klein groep literatuurwetenskaplikes.

Resensies en simboliese kapitaal

Volgens Bourdieu (1984:291) kan simboliese kapitaal beskryf word as ’n persoon se “reputation for competence and an image of respectability and honorability”. Hy toon aan dat simboliese kapitaal verbind kan word met instansies van mag en prestige binne die intellektuele gemeenskap. Veral binne die professionele literêre bedryf word positiewe resensies van deurwinterde resensente algemeen aanvaar as ’n belangrike bydraende faktor tot die verkryging van skrywers se simboliese kapitaal.

Ek toon vervolgens kortliks aan wat binne die “ernstige” letterkunde onder die term resensie verstaan word, wie tipies resensies skryf en wie se resensies invloedryk is ten opsigte van beoordeling van ’n teks, bekroning en opname in die kanon van gerespekteerde literêre tekste.

Eerstens is dit belangrik om dit vooraf duidelik te stel dat ’n resensie nie ’n Festschrift of ’n prysgeskrif is nie en dat skrywers en lesers nie die verwagting behoort te koester dat ’n resensie bedoel is om ’n skrywer se werk op te hemel of selfs te prys nie. Dit is ook nie die verantwoordelikheid van ’n resensent om ’n boek te bemark nie.

Resensies is vakwetenskaplike opstelle wat meestal deur praktiserende literêre kritici (letterkundiges) geskryf word. Volgens Britannica is ’n resensie (literary criticism) “the reasoned consideration of literary works and issues. It applies, as a term, to any argumentation about literature [...]” (my kursivering). Hieruit vloei voort dat ’n behoorlik gestruktureerde en logies beredeneerde argument ’n resensie moet onderlê. Dit impliseer ten minste ’n analise, ’n interpretasie en ’n evaluasie van ’n betrokke werk. Kleyn (2013:84) beweer dat indien ’n waardeoordeel (voortvloeiend uit die voorafgaande argument) in ’n resensie ontbreek, dit nie voldoen aan die eise wat aan literêre kritiek gestel word nie. Voorts blyk ook uit die definisie dat die woord resensie ’n vakterm is en as sodanig binne ’n wetenskaplike dissipline hoort en funksioneer.

Resensies is ’n genre van kunsbeoordeling wat, vir die doeleindes van my argument, ten doel het om literêre tekste te beoordeel binne ’n bestaande korpus tekste (byvoorbeeld die ganse Afrikaanse poësie) en in vergelyking met die belangrikste tersaaklike tekste binne die korpus met die doel om die leser tot beter begrip van die werk te lei; ’n bydrae te lewer tot die formele korpus literatuur oor die letterkunde; die betrokke temas, simboliek en invloede wat in ’n werk teenwoordig is, uit te lig; en om die leser te help om die sosiale, politieke en kulturele konteks waarbinne ’n literêre werk ontstaan het, beter te verstaan (Dickenson Scholar 2024). Die woord kritiek verwys na die vermoë om te analiseer, ’n geldige, eie opinie te vorm én dit te substansieer aan die hand van literêre teorieë.

Resensente word dikwels deur die algemene publiek verwyt omdat hulle “onverstaanbaar” of “hoogdrawend” skryf. Resensente moet natuurlik skryf vir die gehoor waarop die resensie gemik is. Skryf mens byvoorbeeld vir Rapport, moet onthou word dat die meerderheid lesers nie vertroud is met die vakterminologie van die letterkunde nie en daarom sal jy jou styl en register dienooreenkomstig aanpas. Aan die ander kant behoort die definisie van die term resensie dit duidelik te stel dat ’n resensie in eerste instansie ’n akademiese teks is. Selfs al skryf jy vir ’n nie-akademiese gehoor, geld die vereistes van behoorlike analise, interpretasie en evaluasie. Gesaghebbende Afrikaanse resensies verskyn hoofsaaklik in dagblaaie, oor die radio, in literêre tydskrifte soos Literator en Stilet, asook op die webwerwe LitNet en Versindaba. Dié webwerwe, asook literêre tydskrifte, verwag wetenskaplike analises gegrond op literêre teorieë, geskryf in die akademiese register waarin gebruik van vakterminologie ’n vereiste is.

Akademiese artikels en nagraadse studies wat dikwels na resensies verwys, asook resensies self, speel ’n belangrike rol in die toekenning van literêre pryse, die oorweging vir vertaling, herdruk en voorskrywing. Dit alles dra by tot ’n skrywer se simboliese kapitaal wat op sy beurt ’n belangrike rol speel in die kanonisering van skrywers en tekste.

Senekal (2013) se ondersoek toon dat die Hertzogprys ’n sterk kanoniserende waarde het en volgens Smuts (2005:3) is “Hertzogpryswenners grotendeels die mees gekanoniseerde skrywers in Afrikaans”. ’n Mens sou dus kon aanneem dat die uitsette van letterkundiges wat deur keurpanele van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns as gesaghebbend beskou word in die toekenning van die Hertzogprys, ’n aanduiding behoort te wees van welke menings as gesaghebbend beskou word wanneer die hoogste, mees prestigeryke toekenning aan skrywers gemaak word. (Dikwels wen Hertzogpryswenners ook ander prestigeryke pryse vir dieselfde boek wat die Hertzogprys verower het.)

Die tabel hier onder verskaf ’n opsomming van Hertzogpryswenners vir die afgelope ses jaar. Uit die tabel blyk dat die belangrikste resensies oor werke van Hertzogpryswenners in die meeste gevalle deur akademici geskryf is. Huldigingswoorde is deur die bank deur professore in letterkunde gelewer. Die feit dat nie ’n enkele tersaaklike resensie deur ’n bekende smaakmaker opgespoor kon word nie, spreek boekdele. Dit blyk dat die organiseerders van die mees gesaghebbende literêre prys in Suid-Afrika baie sterk staatmaak op die insigte van akademici, onder andere resensente wat praktiserende literatore is.

 

Genre

Wenner en werk

Enkele belangrike resensies

Huldigingswoord

2019

Prosa

SJ Naudé vir Die derde spoel

Helize van Vuuren (LitNet)

Jaco Barnard-Naudé (LitNet Akademies)

Joan Hambidge (Woorde wat Weeg)

 

Hennie van Coller

2020

Poësie

Johan Myburg vir Uittogboek

Helize van Vuuren (LitNet)

Tom Gouws (Versindaba)

Hein Viljoen (Literator)

Alwyn Roux (Tydskrif vir Letterkunde)

Andries Visagie

2021

Drama

Nicola Hanekom vir In glas

Temple Hauptfleisch (LitNet)

Lida Kruger (Literator)

Frederick Botha (Rapport)

Thys Human

2022

Prosa

SJ Naudé vir Dol heuning

Malene Breytenbach (LitNet)

Thys Human (LitNet Akademies)

Joan Hambidge (Woorde wat Weeg)

Johan Myburg (Maroela Media)

Louise Viljoen (Media24)

Bibi Burger (Tydskrif vir Letterkunde)

Willie Burger

2023

Poësie

Antjie Krog vir Plunder

Joan Hambidge (Woorde wat Weeg)

Marius Crous (Versindaba)

Stefan van Zyl (LitNet Akademies)

Nadine Petrick (LitNet)

Marianne de Jong (Stilet)

Alwyn Roux (Media24)

Louise Viljoen (Rapport)

Hein Viljoen

2024

Drama

Nicola Hanekom vir Mirre en aalwyn

Frederick Botha (Rapport)

Christa Steyn-Bezuidenhout (Maroela Media)

Izak de Vries en Lara Aucamp (LitNet)

Elzanne Coetzee (Klyntji)

AJ Opperman (Media24)

Thys Human

(Inligting verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns – uitgesluit inligting oor resensies)

Resensent of smaakmaker – edelmetaal of klatergoud?

Volgens die metaresensent Crito (2022), is dit problematies dat wanneer ’n swaargewigresensent soos Jean Meiring “die tyd en energie opsysit om ’n boek behoorlik te resenseer”, dié resensie by koerantlesers dieselfde gesag dra as dié van ’n totale liggewig. Dit is eweneens problematies dat beïnvloeders die rol van literêre kritici uitdaag en marginaliseer deur hulleself resensente te noem en sodoende voor te gee dat hulle uitsette professioneel van aard is. Stothard (2020), ’n voormalige voorsitter van die beoordelingspaneel van die Booker Prize, waarsku dat die stortvloed boekbeïnvloeders op sosiale platforms die literêre kritiek as vakgebied mag beïnvloed en selfs benadeel. Dit kan op sy beurt daartoe lei dat die literêre kwaliteit van bekroonde boeke onder verdenking kom, veral as beïnvloeders deel begin vorm van beoordelingspanele.

Tans is dit gelukkig steeds so dat die uitsette van vakspesialiste en skrywers se simboliese kapitaal die meeste gesag dra in terme van prestige en die uiteindelike kanonisering van ’n werk as “ernstige Afrikaanse letterkunde”. Of dit so sal bly, sal die toekoms leer.

Bronne

Bennet, N. 2021. Facebook-resensies en ander vreemde verskynsels. Versindaba. https://versindaba.co.za/2021/11/24/nini-bennett-facebook-resensies-en-ander-vreemde-verskynsels/ (16 Februarie 2025 geraadpleeg).

Bourdieu, P. 1984. Distinction: A social critique of the judgement of taste. Vertaal deur R. Nice. Londen: Routledge.

Bourdieu, P. 1985. The social space and the genesis of groups. Theory and Society, 14(6):723–44.

Britannica. Literary criticism. https://www.britannica.com/art/literary-criticism (25 Januarie 2025 geraadpleeg).

Crito (Kerneels Breytenbach). 2022. Crito antwoord kritici. LitNet. https://www.litnet.co.za/crito-antwoord-kritici/ (30 Januarie 2025 geraadpleeg).

De Vries, I. en S. Coetzee. 2024. Smaakmakers? In gesprek met Stefaans Coetzee oor sy toekenning. LitNet. https://www.litnet.co.za/smaakmakers-in-gesprek-met-stefaans-coetzee-oor-sy-toekenning/ (26 Januarie 2025 geraadpleeg).

Dickenson Scholar. 2024. Literature criticism. https://libguides.dickinson.edu/criticism (26 Februarie 2025 geraadpleeg).

Erasmus-Alt, J. 2019. Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. ’n Ondersoek na beeldvorming. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Jayadi, K. 2018. Arts as entrepreneurship and economic capital in Tana Toraja, Indonesia. Journal of entrepreneurship education, 21:3.

Kleyn, A.J.T. 2013. ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000–2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

LitNet. 2024. Persverklaring: Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024 bekend. https://www.litnet.co.za/persverklaring-kortlyste-vir-kyknet-rapport-boekpryse-vir-2024-bekend/ (17 Januarie 2025 geraadpleeg).

Netwerk24. 2019. Voorste literêre pryse verhoog. https://www.netwerk24.com/netwerk24/voorste-literere-pryse-verhoog-20190706 (14 Februarie 2025 geraadpleeg).

Rapport. 2025. Smaakmakers. Stem nou – Kategorie 5: Boeke en Afrikaanse literatuur met NB-Uitgewers en Rapport. https://www.netwerk24.com/netwerk24/leefstyl/smaakmakers/smaakmakers-stem-nou-kategorie-5-boeke-en-afrikaanse-literatuur-met-nb-uitgewers-en-rapport-20250124-2 (14 Februarie 2025 geraadpleeg).

Senekal, R.A. 2013. ’n Ontleding van Hertzogpryswenners se uitgeweryprofiele in terme van die Afrikaanse literêre netwerk en met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA). LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/n-ontleding-van-hertzogpryswenners-se-uitgeweryprofiele-in-terme-van-die-afrikaanse-literr/ (20 Februarie 2025 geraadpleeg).

Smuts, J.P. 2005. Die Akademie se letterkundepryse. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(1):1–14.

Stothard, P. 2020. Critical reviews – what’s the difference between a reviewer and a critic. There will be games. https://therewillbe.games/articles-essays/8018-critical-reviews-what-s-the-difference-between-a-reviewer-and-a-critic#:~:text=The%20main%20difference%20is%2C%20that,isn't%20meant%20in%20a (21 Februarie 2025 geraadpleeg).

Throsby, D. 1994. The production and consumption of the arts: a view of cultural economics. Journal of Economic Literature, 32(1):1–29. https://www.jstor.org/stable/2728421 (30 Januarie 2025 geraadpleeg).

Wikipedia. 2025. Marketing. https://en.wikipedia.org/wiki/Marketing (14 Februarie 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Smaakmakers? In gesprek met Stefaans Coetzee oor sy toekenning

Crito (Kerneels Breytenbach): Crito antwoord kritici

Crito (Kerneels Breytenbach): Die nuwe taalargitektuur

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 13

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Dit is problematies, maar wat gaan die owerstes prakties daaraan kan doen? As die smaakmakers vir hulle 'n las is, wat van webtuistes soos Goodreads waar hordes 'reviews' elke dag geplaas word? Sommige van die 'reviews' op Goodreads bestaan uit slegs 'n enkele woord. 'Briljant!' of '10/10'. En Goodreads is nie die enigste webtuiste wat hierdie soort funksie het nie. Aanlynwinkels soos TakeALot laat mense ook toe om 'reviews' van produkte, onder andere boeke te skryf. Volgens Wikipedia is 'n resensie:

    "...die evaluering van 'n publikasie, diens of maatskappy, soos 'n rolprent ('n fliekresensie), videospeletjie (videospeletjie-resensie), musikale samestelling (musiekresensie) van 'n komposisie of opname, boek (boekresensie); hardeware soos 'n motor, huistoestel of rekenaar; of 'n gebeurtenis of opvoering, soos 'n lewendige musiek konsert, toneelstuk, musiekteater vertoning, dansskou of kunsuitstalling."*

    Daar bestaan nie enige beperking op die konsep 'resensie' nie. Die gemiddelde mens is waarskynlik nie eens daarvan bewus dat sommige Afrikaanse akademici die konsep 'resensie' eksklussief vir die akademici wil opeis nie.

    Soos die artikel aandui, is die gevalle waar die ernstige literatore en die smaakmakers in mekaar se slaai krap, eintlik maar minimaal. Dit word goed bewys met die tabelle en die res van die uiteensetting. Soos wat die smaakmakers nie enige impak het op die beoordeling van ernstige letterkunde nie, so bemoei die akademici hulleself tipies geensins met krimi's, romanses en al daardie soorte van ligte(r) leesstof nie.

    Die smaakmakers is wel in baie gevalle niks anders as bemarkers nie, maar hulle doen waarskynlik meer om gewone mense aan die lees te kry as wat akademici ooit sal doen. Trouens, akademiese werke is legendaries vir die ontoeganklikheid daarvan, nie net in die veld van letterkunde nie, maar sommer in die algemeen is dit bekend dat akademiese uitsette grootliks onleesbaar is vir gewone mense. Bitter min van die akademiese skryfwerk word wyd gelees. En die leser van sulke skryfwerk, benodig gewoonlik self 'n graad of drie om dit te kan verstaan.

    *https://af.wikipedia.org/wiki/Resensie

  • Barend van der Merwe

    Stefaans Coetzee hou homself merendeels besig met misdaadfiksie. Maar ook met motiveringspraatjies. Dit is so dat hy nie 'n professor in letterkunde is nie. Ek beskou hom egter as uiters bekwaam in wat hy doen. Het een van sy praatjies ook bygewoon eenkeer oor sy boek "Onbeskryflike Genade" en vinnig met hom gesels die dag. Hy skryf ook resensies oor die misdaadfiksie wat hy lees. Ek dink nie hy het ingewikkelde letterkundige teorie nodig om sy opinie oor 'n misdaadfiksie te gee nie. Inteendeel, met sy jarelange verbintenis met die korrektiewe dienste se stelsel, weet hy waarskynlik meer van misdaad as die hele fakulteit van lettere en wysbegeerte saam. Hy het ook onlangs 'n bundel kortverhale oor die tronklewe gepubliseer, getiteld "Sel 6", wat ek gelees het. Coetzee het nog nooit probeer voorgee om iets te wees wat hy nie is nie. Daar is nie 'n greintjie pretensie in hom nie (iets wat mens nou nie juis van alle letterkundiges kan sê nie). Ek eet nie alles wat hy sê vir soetkoek op nie. Maar ek waardeer wat hy doen en beskou geensins sy bydraes as klatergoud nie, inteendeel.

    Dominee preek ook elke Sondag. Maar die gemeente slaan nie ag nie, en leef nes hulle wil.

  • Sidney Gilroy

    Al wat hierdie uitlig is hoe sterk die invloed van "onkundige" resensente/ smaakmakers op die diskoers van Afrikaans is. Dit onstig die akademici met hul selfgeproklameerde blogs van belang so dat hulle voel hulle moet, byna 'n jaar later, steeds daaroor hana-hana en paniekerig poog om hul eie legitimiteit af te dwing. Bedreig, is die gepaste woord hier. My advies aan skrywers en wie ook al oor boeke 'n opinie wil gee is dat jy maar net aanhou doen wat jy doen. Daar is en sal altyd plek wees vir almal in Afrikaans, Hertzogprys in die hand of nie.

  • Dis nou maar seker weer 'n geval van nie ander ook 'n plekkie in die son gun nie. Of dalk suurdruiwe?

    Die boeke waaroor akademici resensies skryf en dit waaroor die smaakmakers skryf, hetsy dit deurgaan as 'n resensie, lesersindruk of wat ook al, verskil hemelsbreed.

    Ek stem saam met Barend: smaakmakers kry gewone mense weer aan die lees. En as dit nou so 'n groot sonde is in die akademici se oë om te doen wat ek doen, pleeg ek rustig voort.

  • Francois Verster

    Soos Barend en ander aandui, is daar plek vir almal, eintlik 'n behoefte aan beide smaakmakers en resensente (soos dit hierbo verstaan word), want die spektrum van skryfwerk en lesers lê tog nie op een vlak nie. Ekself het oor jare in akademiese joernale, vakkundige tydskrfte en “populêre” publikasies menings oor boeke aangebied en moes my benadering ooreenkomstig aanpas. So hier is my gevoel hieroor, vir wat dit werd mag wees: Dit beteken jy skryf in die “register”, soos die akademici dit noem, wat verlang word – vakkundige terme en taal is immers wat jy in sodanige publikasies verwag, en ’n sekere verlangde standaard word gewoonlik gehandhaaf (hoewel dit oor die jare al merkbaar verslap het). Ek dink nie jy behoort tekste te skryf wat moeilik lees om ’n hoë standaard te bereik nie, en dit geld vir beide die hoogste en minder hoë bane van literatuur, ens. Intendeel, ek het nog altyd gepoog om toeganklik te skryf, want wat is die nut daarin om enigiets te skryf wat min mense wil lees? Jy skryf boonop vir ’n “gehoor,” nes jy ’n lesing of praatjie beplan na aanleiding van wie jy toespreek. In die geval van ’n vaktydskrif soos Argiefnuus skryf jy vir mense wat daardie soort terminologie verstaan, en ditto akademiese joernale. Maar ai, jy doen niemand ’n guns om lesers te beïndruk met jou verstommende intelligensie nie, maak eerder seker hulle volg jou argumente. Selfs akademiese artikels soos in Historia, word glo deur gemiddeld drie lesers gelees. Wat bereik jy daardeur? So dis tog logies dat wanneer jy vir Die Burger se boekeblad skryf, jy nie die klein spasie aan jou toegeken met aanhalings uit filosowe gaan bevolk en taal gebruik wat ’n tolk nie met ’n woordeboek kan verklaar nie. Neem bv die debat oor die behoud van Afrikaans se akademiese statuur in ag: dis essensieel vir die taal om so ’n standaard te kan stel, maar dis onhaalbaar om te verwag dat elke skrywer en leser daarby moet hou – die sterk en duidelike akademiese raamwerk beskerm as’t ware die taal om te kan oorleef en nie heeltemal tot ’n kreoolse dorpiemark-en-kombuistaal geruduseer te word nie, dog is geen taal veronderstel om staties te wees nie; dan sal dit stol en atrofeer. Nee, dit behoort robuust te kan ontwikkel en op verskeie platforms lig en lug kry. Soos joernaliste dikwels as tussenganger-tolke tussen bron en leser optree, so kan sg smaakmakers ook sorg dat lesers wat nie erg het aan akademiaanse pronkspuitery, én puriste wat deur potensiële studentikose mooiskywery geïrriteer word, almal hulle daaglikse woordbrood behaaglik en behoorlik inneem en uitsien na die volgende aanbod. Die meeste van ons voel in elk geval iewers tussen hierdie uiterstes op ons gemaklikste, en voel soms lus vir kaviaar en ander kere vir kaalgatperske.

  • Elna van der Merwe

    Dankie vir hierdie deurdagte stuk oor 'n belangrike kwessie, Marlies.
    Daar is plek vir 'n ander soort resensie (deurdag, ingelig, bowenal toeganklik) benewens dié deur vakspesialiste.
    Dit is nié dit wat smaakmakers op sosiale media - en al meer in koerante - pleeg nie.

  • Jean Oosthuizen

    In die artikel word daar byna geen verwysing gemaak na die rol van smaakmakers in die literêre wêreld nie, asof slegs akademici die reg het om oor boeke te praat of dit te beoordeel. Hierdie benadering wek vrae oor die eksklusiwiteit van literêre kritiek en die wyse waarop dit die breër leserskap uitsluit.

    Smaakmakers, wat 'n wye spektrum van resensente, bloggers, boekwinkeleienaars en algemene lesers insluit, speel 'n deurslaggewende rol in hoe boeke ontvang en beskou word. Hul invloed strek verder as formele akademiese kringe en help om letterkunde toegankliker te maak vir 'n breër publiek. Dit is dus problematies om literêre diskoers te beperk tot slegs akademici en formele kritiek, aangesien dit 'n beperkende en elitistiese siening skep.

    Boonop het die opkoms van digitale platforms en sosiale media die manier waarop boeke bespreek en beoordeel word, ingrypend verander. Gemeenskappe op platforms soos Goodreads, BoekTok, Facebook en persoonlike blogs het 'n nuwe dimensie aan die verspreiding en waardering van letterkunde gegee. In hierdie konteks is dit belangrik om te erken dat akademiese literêre kritiek nie die enigste geldige vorm van beoordeling is nie.

    Die gebrek aan erkenning vir hierdie verskuiwing in die artikel weerspieël ʼn verouderde siening waarin slegs ʼn beperkte groep mense as bevoeg beskou word om gesaghebbende menings oor letterkunde te gee. Dit wek verdere vrae oor wie regtig 'n sê het in die bepaling van ʼn boek se waarde en of die stemme van ‘gewone’ lesers nie dalk ʼn net so belangrike rol speel as dié van akademici nie.

    Dis amper soos oudominee wat nog preek teen dans of Sondagsport terwyl negentig persent van sy gemeente dans dat die biesies bewe en Sondae lankal in die Malls rondloop of gaan swem en sport beoefen terwyl hy nog aan die belydenisskrifte vasklou wat lankal uitgedien is.

    Ek het met ʼn paar kundiges in die letterkundige wêreld gesels en die meeste van hulle stel eenvoudig nie meer belang in hierdie opgewarmde geweeklaag wie oor boeke mag skryf en wie nie of wat is ʼn resensie en wat tel nie as ʼn resensie nie. Daar is plek vir beide.

    Van my terugvoering wat ek van ander kundiges kry is dat “hierdie stuk misluk om ’n nuansryke analise te lewer. Dit leun op verouderde data, vooroordele, en onbeantwoorde vrae, wat haar poging om kanonisering te ontleed ondermyn. ’n Kritiese herbeskouing met primêre navorsing en ’n gebalanseerde benadering is hier noodsaaklik”.

    Deur smaakmakers uit die diskoers te laat, verloor die artikel ʼn belangrike geleentheid om ʼn meer omvattende en realistiese prentjie van die hedendaagse literêre wêreld te skets. Die erkenning van hierdie stemme sou ʼn meer gebalanseerde en insiggewende beskouing van literêre kritiek moontlik gemaak het.

  • Joan Hambidge

    Marlies Taljard se uitstekende artikel het betrekking.
    'n Paar kanttekeninge. Op alle gebiede bestaan daar reëls en kenners.
    Kyk maar na enige sportwedstryd hoe mense voor die TV die skeidsregter of afrigter uit 'n beterweet-posisie kritiseer. En ek is 'n ywerige sokker- en rugbykyker, maar ek ken my plek. Ek is 'n toeskouer.
    Ek erken ook maklik aan 'n medekyker dat ek iets nie begryp nie. Waarom die rooi of geel kaart? Waarom bloei die speler se neus alweer?
    In die letterkunde is daar vele rolspelers: skrywers, uitgewers, boekeredakteurs, leeskringe, bemarkers en verkopers, boekfeeste, resensente, smaakmakers …
    Uiteraard het almal 'n reg op 'n mening. Ek hou van hierdie soort boek of minder van daardie een. Smaak speel uiteraard 'n geweldige rol in hierdie bedryf. En dikwels in kreatiewe skryfwerkklasse moes ek beken: wat werk in hierdie gedig, gaan in daardie een nie deug nie.
    Hoe ouer 'n skrywer (of resensent) word, hoe meer kom jy onder die indruk van hoe min jy weet. Ek herlees vir die soveelste keer Kort voor lank van Hennie Aucamp wat in 1978 verskyn het.
    Die meester van die kortverhaal en 'n goeie digter gee raad aan sy lesers. In die vroeë 90er jare het hy my in 'n brief betig oor die gebruik van woorde soos “meesterlik” of “uitstaande” in resensies. Die tyd is 'n meedoënlose bloemleser, was sy wyse raad.
    In my studeerkamer staan daar boeke van skrywers wat opgehemel én afgeduiwel is. Tyd bring altyd regstellende aksie.
    Daar is plek vir almal. Maar verkieslik moet resensente darem opgelei wees en 'n leeservaring agter die blad hê. Natuurlik wanneer 'n mens vir die dagbladpers skryf, moet dit toeganklik wees. Maar dit is myns insiens ook jou plig om nie lesers te onderskat nie en kyk maar net hoe die woord dekonstruksie (om een voorbeeld te noem) allemansgoed geword.

  • Marlies Taljard

    Dankie Joan vir sinvolle kommentaar.
    Die hele eerste deel van my opstel handel oor smaakmakers. Nou is my artikel sg ongebalanseerd. Die vraag was wie se uitsette uiteindelik die meeste bydra tot kanonisering, wat die hoogste sport is wat 'n skrywer kan bereik. Ek het op wetenskaplike wyse aangetoon dat vakkundige uitsette, waarvan resensies deel uitmaak, tans deur keurpanele van prestige pryse verkies word in die toekenning van pryse. Dit is tog 'n agterhaalbare feit.
    Nou is daar sommiges wat beweer dat sekere uitsette van smaakmakers ook resensies is. In die formele literêre bedryf wêreldwyd bestaan daar geen onsekerheid oor wat 'n resensie is nie. As jy wat leek is, die definisie wil verander om jou te pas... wat van 'n deeglik nagevorsde ewekniebeoordeelde-artikel op LitNet Akademies waarin jy jou argumente logies en deeglik nagevors uiteensit? Dan sal mense dalk begin luister na jou opinies.

  • Gelukkig is ons mos nou besig met projek dekolonialisasie by die universiteite en elders, en die streng hierargiese strukture verkrummel stadig maar seker. Soos wat die Afrikaanse departemente krimp en verdwyn, sal daar in die toekoms waarskynlik weinig mense oorbly wat formeel opgelei is in Afrikaans. Wie weet, kort voor lank is die Smaakmakers dalk al kategorie wat oorbly. Die 2025 Smaakmaker is Marion Erskine, wat 'n bekroonde skrywer is. Wat die vorige wenner betref, meneer Coetzee, ek verneem hy is self ook 'n welbelese man. Miskien moet die doktore en professore self ook eendag begin mik om die Smaakmaker-titel in te palm. Dit word dalk nog meer gesog as die Hertzogprys.

    Wie was generaal Hertzog ennieway? Net nog 'n white supremacist.

  • Ds. Nerina Varkenvisser

    Ek het 'n tante daar in die Klein-Karoo wat, elke keer wanneer sy my sien, dan vra sy: wanneer doen jy 'n doktorsgraad? Gaan jy ooit doktorsgraad doen? Dit is vir haar 'n totale obsessie. Dit versinnebeeld ook 'n geslag Afrikaners wie se gedagtes nog vasgevang is in die 20ste eeu, waar enige titel hulle vreeslik beïndruk. Dieselfde is maar hier aan die gang. Maar nie almal sit meer vas in 1970 nie. Baie het al aanbeweeg.

    Wat myself dus betref: Indien iemand soos Jonathan Amid of Stefaans Coetzee of selfs Trisa Hugo 'n resensie skryf oor een van Deon Meyer se boeke, dan bly dit 'n resensie. Die feit dat geen misdaadfiksieboek al ooit die Hertzogprys gewen het nie, verander nie die feit dat dit 'n resensie is nie. Dieselfde beginsel geld by die miskenning van swart skrywers. Die feit dat daar in 100 jaar slegs een enkele swart wenner van die Hertzogprys was, beteken nie dat swartmense weinig bygedra het tot die Afrikaanse letterkunde nie. Dit beteken gewoon dat die organisasie wat die prys toegeken het, die apartheidsregering nagepraat het en gedienstig was.

    Verder: die feit dat iets in 'n akademiese joernaal gepubliseer was, beteken nie dit is evangelie nie. Almal weet die akademie is vandag 'n worsmasjien met die leuse publish or perish. Eeue gelede het elke respektabele akademikus verkondig dat die son om die aarde draai. Dit staan tog so in die Bybel geskryf dat die son gaan stilstaan het een goeie middag ... Vandag lag ons vir die flat earthers.

    In die Engelse taal word daar ook geen onderskeid getref tussen reviews en Smaakmakers nie. Food reviews, book reviews, ens. Die internet krioel daarvan. Veral TikTok, soos Oosthuizen tereg uitwys.

    Dis net ons ou klompie hier wat, soos Afriforum, dink ons is spesiaal, en anders, en so bietjie verhewe bo die res.

  • "Dis net ons ou klompie hier wat, soos Afriforum, dink ons is spesiaal, en anders, en so bietjie verhewe bo die res."
    Nou hoekom is dit nie maar net pleinweg Nerina Varkenvisser nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top