Mens kan nie vir ewig vasklou aan jou opvattings nie. Sonder kritiese heroorweging sal jou ontnugtering in die lange duur groot wees.
Die afgelope twee maande hou ek rekord van resensies van Afrikaanse boeke, sodat Crito kan kyk na die stylopenbarings van resensente. Ook die gebrek daaraan. Middelmatigheid. Met die sluiting van Beeld en Rapport se gedrukte uitgawes en die oorheweling van hul inhoud na Netwerk24 het al die gras op die gholfbaan gevrek. Ons moet weer, soos in Bethulie, op olie-setperke leer speel.
Wat help dit Crito nog om die peil van resensies te probeer verbeter?
Nugter beskou, is daardie vraag absurd. Ek was té lank met koerante en die publikasiewese deurmekaar om saam te sing in die koor van mense wat Media24 veroordeel vir hul besluit oor die koerante. Kyk eerder na die groter prentjie. Van die lang siekbed en sterfte van Perskor se koerante, een na die ander, en uiteindelik Perskor self, tot by die gebeure van die afgelope ses maande by Media24.
In 1989, toe ek Die Burger verlaat het om by Human & Rousseau te gaan werk, het die besturende direkteur, Koos Human, vir my ’n klompie boeke gegee om te lees. Een daarvan was Willem Elsschot se roman Kaas.
Vir diegene wat dit nie ken nie: Kaas handel oor ene Frans Laarmans, ’n klerk by ’n skeepsbouer, wat deur ene Van Schoonbeke “verlei” word om groot te droom oor sy toekoms. Laarmans wil ’n kaashandelaar word en begin op die verkeerde manier deur fênsie kantore, duur klere en so meer aan te skaf. Van kaas en kaasverkope weet hy niks. Hy vrees enige risiko’s. Gou sien hy die vele aangesigte van die verkoopswêreld.
Jy moet die regte produk hê. Jy moet dit beskikbaar hê op die regte plekke. En jy moet veral geesdriftige, lojale kopers hê.
Een van die redes vir die sluiting van Afrikaanse koerante is dat hul sirkulasies dermate gedaal het dat dit geen finansiële sin maak om hulle aan die gang te hou nie. Die kaas was beskikbaar, maar al hoe minder mense wou dit koop. QED.
Ek sal nooit vergeet hoe Jan Prins, een van die groot geeste in die ou Nasionale Pers, laat in die jare sewentig by Die Burger se Kunsredaksie ingeloer het om met Victor Holloway, Kunsredakteur, en my te gesels en tyd om te kry voor ’n vergadering van die moederdireksie nie. Sy gemoed was swaar met die wete dat daardie dag ’n besluit geneem moes word oor die toekoms van Huisgenoot. Dié se sirkulasie was 40 000 eksemplare per week, en op pad ondertoe. Uiters onwinsgewend. Laat daardie middag het hy rapporteer dat Huisgenoot ’n laaste kans sou kry. Lang Dawid de Villiers het die direksie omgepraat om na Niel Hammann se regrukplanne te luister.
Dis nou geskiedenis dat Hammann se idees Huisgenoot se sirkulasie verby 500 000 per week laat styg het en die skepping van You tot gevolg gehad het. Die regte produk op die regte tyd.
Media24 het ná Perskor se heengaan die Afrikaanse koerantmark oorheers. Daar is baie internet-mediahuise, maar die bedrukte media was gesentreer by Media24. Sommige kommentaar wat die afgelope klompie maande tot Media24 gerig was, het die koerantbesluit gelykgestel aan verraad.
Dis belaglik om die minste te sê. Dit herinner my aan die wysheid van Larry the Liquidator in die fliek Other people’s money. Tydens ’n aandeelhouersvergadering van ’n koperdraadfirma praat hy met mense wat verseg om koperdraad prys te gee en oor te slaan na optiese kabels. ’n Groeiende aandeel in ’n kwynende mark is gelykstaande aan finansiële ondergang, sê Larry.
Sy woorde: “We’re dead alright. We’re just not broke. And you know the surest way to go broke? Keep getting an increasing share of a shrinking market. Down the tubes. Slow but sure.”
Media24 het die lesse van Larry the Liquidator en Frans Laarmans geleer omdat die internet-era die handelswêreld van die sestigs tot tagtigs onherroeplik verander het. As mense nie jou kaas koop nie, dooi jy, al is jy die enigste kaasmaker in die land. Hulle het ander spyse gevind.
Hierdie argument kan natuurlik in talle rigtings slinger. Ons kan praat oor Beeld en die verskuiwende demografie van Gauteng. Ons kan praat oor die koste van verkope en die onverbiddelik groot verspreidingsgebiede. Petrolpryse. Adverteerders wat in ’n ander sleutel dink. Sulke dinge.
Uiteindelik gaan ons terugkom by twee goor feite. Daar is nie genoeg mense wat Afrikaanse koerante wil koop nie, en die groeiende getal Afrikaners wat hul kinders aanmoedig om hul heil in ander lande te soek, het gehoorsame kinders. Mense wat in die sewentigs en tagtigs gepraat het oor hul nageslag en die toekoms van Afrikaans, het nooit kon dink dat daardie twee se paaie moontlik sou skei nie.
Niemand kan op die ou manier dinge bly doen nie. Afrikaanse mediamaatskappye is aan dieselfde noodlot uitgelewer as wat musiekmaatskappye, tradisionele televisiekanale, radiostasies en die vermaaklikheidswêreld was. Marshall McLuhan se opvatting dat die medium belangriker is as die inhoud wat dit aan die gebruiker oordra, het wreed waar geword vir Afrikaanse media.
Dít is die situasie waarmee ons moet rekening hou. Netwerk24 en Maroela Media en almal wat ’n Afrikaanse teikengehoor het, sit met ’n nuwe paradigma. Crito, die minsaamheid vanself, sal anders moet dink oor boekresensies. Nes uitgewers oor die medium van hul boeke sal moet dink.
Op ’n manier beny ek die reklamespanne van die uitgewers – hoe om nuwe metodes te vind om mense se aandag te trek na boeke. Die tendens onder resensente is die afgelope klompie jare om positief te skryf oor boeke. Resensente gee ’n reaksie op inhoud, maar selde kritiek soos dit in die sestigs en sewentigs in resensies aangewend is. Poësie is die uitsondering op dié reël, meestal. Crito moet vrede maak daarmee.
As ek dan wil praat oor uniekheid van styl, word ek deur ’n betrekhou getref van ’n ander, groter problematiek. Wie onthou die rampsalige jaar van onse liewe Heer 1998? Dit was die jaar toe die Departement van Nasionale Onderwys besluit het om nie nuwe skoolboeke aan te koop nie. Dit was fataal vir baie opvoedkundige uitgewers. Die besluit is later aangepas, maar die uitwerking was langdurend. Dit het die onderwys en die plaaslike uitgewerswese onherroeplik verander.
Ek het destyds in ’n artikel geskryf dat die onderwysowerheid verraad pleeg teenoor die geslagte van die toekoms. Sonder handboeke ploeter baie onderwysers. Vermoënde ouers het toegang tot hoëgehalte-onderwys kon koop, maar ’n mens hoef maar net te gaan kyk wat in die woesterny genaamd Facebook aan die gang is om te weet wat die gevolge van genoemde verraad in die openbare skole was.
Ignoreer maar elementêre dinge soos spelling en sinskonstruksie. Kyk net hoe onkundig gebruikers van Afrikaans is vir semantiek, toon, styl en retoriese middele. Dit is lewensgevaarlik om ’n satiris te wees, want jy kan nie meer aanneem dat die deursnee Afrikaanse leser ’n opvoeding ontvang het wat dinge soos humor, ironie, dubbelsinnigheid, homonieme, poliseme en dies meer ontsluit het nie.
Die omgekeerde is natuurlik ook waar. Die ouer generasie, wat sleg aangepas het by die kortpaaie en nomenklatuur van die internet, sukkel om die taal en humor van die TikTok-generasie te verstaan. As ons (die ouer geslag) hulle hoor praat, klink dit soos Afrikaans. Maar wanneer hulle dit skryf is dit ’n ramp. Nes ons sit met ’n jong generasie wat nie in staat is om “Suiwer wiskunde” of “Iets om aan te peusel in my igloo” te analiseer en verstaan nie (laat staan nog weet dat die digters Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach was), net so is daar ’n ouer generasie wat nie die argitektuur en strategieë van die internet met sy vele aangesigte verstaan en bestuur nie.
Wat de hel staan Afrikaanse boeklesers te doen?
Ons kan niks doen aan die verdwynende media nie. Ons kan wel help bou aan die nuwe taalargitektuur van die digitale media. Vir my is dit betekenisvol dat die New York Times sy sukkelende digitale uitgawe reggeruk het met twee van die dinge waarmee Niel Hammann destyds gesorg het dat Huisgenoot uit die dode opstaan: blokraaisels en kosresepte. Niks is té nederig nie.
En resensies van Afrikaanse boeke? Dit gaan ’n interessante proses wees …


Kommentaar
Cool!
Ek glo beslis dat boekresensies ook kritiek behoort te lewer. Skrywers groei só en lesers kry 'n eerlike bespreking wat die goed én die minder goed insluit. Kritiek beteken nie (noodwendig) dat die boek in sy geheel swak is nie. Jy kan self besluit of jy die een met die gebalanseerde resensie wil aanskaf. As alles net goed klink, hoe weet jy watter boek om te koop? En as jy wel die aanbevole boek koop, maar teleurgesteld is, verloor jy respek vir die resensent.
Briljante analise, Crito, van die Afrikaanse klipmuur. Klippe kap, klipwerk sal dit kos. As daar vrywillige klipwerkers oor is...En wie wil vandag dié outydse tronktoestande van Robbeneiland herleef?
Wanneer 'n "resensie" tot 'n groot mate bloot die inhoud van 'n boek opsom, lees ek tussen die lyne dat die resensent meen die boek is nie goed nie. Moet die resensent nie dan maar voorstel dat so 'n boek nie geresenseer word nie?
Die uitwys van taalfoute en swak sinskonstruksies vind ek vervelig. Noem gerus dat die redigering en proefleeswerk swak is. Maar net 'n aangehaalde voorbeeld of twee. Die doel van 'n boekresensent is tog nie om 'n les in subwerk te lewer nie?
Mens wil nie 'n skrywer se werk "in die gesig vat" nie. Ek ervaar nogtans dat boekresensente in die algemeen te lig omgaan met sterk, maar opbouende en respekvolle, kritiek indien nodig.
Dit val ook op dat resensente wat die betrokke skrywer persoonlik ken, soms te ontwykend met "regverdige" objektiewe kritiek omgaan.
Inderdaad 'n belangrike perspektief. Met die sluiting van Vrye Weekblad (wat 'n belangrike ruimte was vir boekresensies en rubrieke) wil dit voorkom asof ons nie die nuwe paradigma verstaan nie.
Mense lees al hoe minder. En skrywers kry dikwels die gevoel dat daar met die self en 'n paar ander gepraat word.
Iets is inderdaad aan die skuif.
En die punt is dat dit alles 'n impak het op die boekbedryf. Die sluiting van 'n publikasie tref ook 'n ander een.