
Luan Staphorst skryf op Facebook:
Om te dink daar kan oor ’n lesing geskryf word sonder dat dit eers beskikbaar is, is uiters vreemd en betreurenswaardig. Het jy die Veldsoirée bygewoon, Sidney Gilroy? “Die toon was spottend, amper neerhalend”, seg jy sonder om te skroom. Miskien was dit, miskien was dit nie. Maar konkrete bewyse, wanneer die lesing self (nog) nie beskikbaar is vir ander om te verifieer nie? Klink ietwat ... oneties ... of hoe?
En die ironie hiervan? Daar is nie ’n besef van die waardigheid waarmee Hein Viljoen (myns insiens) oor die saak beredeneer het nie. Hoe so? Die sentrale metafoor wat hy opgeroep het. Die beeld van ’n cappuccino en ’n flat white het hy ingespan om oor twee uiteenlopende, dog naasverwante, kultuurgroepe te besin. Beide die cappuccino- en flat white-drinkers is gekultiveerd, hou van ’n verfynde koffiebrousel en neem deel aan ’n groepskultuur. Géén Ricoffy-drinkers hiér nie! Die verskil is dat die een (die cappuccino-leser) meer tradisioneel is en aan gevestigde gebruike verknog is. Hierteenoor staan die ander (dié wat flat white geniet) in die teken van die moderne, die byderwetse aanslag tot die boekekultuur. Nie een is inherent beter of meerderwaardig nie. Dis twee verskillende uitgangspunte ten opsigte van dieselfde onderliggende liefde: Die liefde vir lees. Ná hierdie onderskeiding fokus hy dan op die inhoud van die flat white-leeskultuur deur leesverslae van vyf invloedryke “smaakmakers” onder die loep te neem.
Nou hier’s die ongemaklike waarheid. As jy bereid is om ’n prys te aanvaar vir jou smaakmakerskap (soos ál vyf dié inderdaad bereid was om te doen toe hulle vroeër vanjaar deur Netwerk24 vir “Smaakmaker van die Jaar” benoem is), moet mens bereid wees om pa te staan vir dit wat daardie smaakmakerskap voor staan. En siende dat smaakmakerskap in die konteks van boekekultuur nog nie gedefinieer en die kwaliteite daarvan uitgeken is nie, kan Viljoen se bespreking as baanbrekend beskou word. En wat as boeksmaakmakers nié daarvan hou nie? Skryf terug! Verander die diskoers deur óf die etiket “smaakmaker” te verwerp (soos deur nié ’n prys in daardie naam te aanvaar nie) óf deur die tendense wat hy uitgeken het omver te werp deur anders oor boeke te dink en te skryf. Mens kan slegs dít beskryf wat reeds in die wêreld des lettere bestaan om beskryf te word. Maar belangriker nog, wie gee om hóé hy of enige iemand anders mens definieer? Dis tog immers net wat mens sélf dink wat van belang is. Ek is seker daar is báie skrywers wat oor die jare ontsettend teleurgestel was in die ontvangs van hul boeke op hierdie groep. Dis dalk as onoortuigend, of oninteressant, of onbelangwekkend beskryf. Nou wat staan daardie skrywer te doen? Skep ’n meningspeiling om te bepaal hoeveel daarmee saamstem? Hou op skryf omrede daar mense is wat nie met hul eie beeld van hul werk saamstem nie? Óf gaan voort – omdat dit juis die liefde is vir skryf, en nié die aandag van ander nie, wat hul skrywerskap bepaal? Hierdie groep is inherent aan die taksering van mense, dit wil sê skrywers, se handearbeid verbind. Ironies genoeg kan die groep en sy leidende, pryswennende lede kwansuis sélf nie aan enige taksering onderwerp word nie.
Myns insiens was dit ’n uiters uitlokkende lesing – maar nié in die opsig wat daar hier (sonder direkte verwysing na die lesing self) besin word nie. As ’n self-etiketerende cappuccino-leser het ek die uitlokkende deel van die lesing juis sy aandrang op die regmatige plek van die flat white-leser in die literêre gesprek gevind. Hy’t uitgewys dat die flat white-leser hier is om te bly, en nié dat hulle op die een of ander manier ongedaan gemaak kan of moet word soos Sidney verkeerdelik sy woorde voorstel nie. Maar nou ja, wat weet ek tog. Ek bly maar ’n armsalige (meer arm, minder salig) student wat in koue krepeer ... en myself probeer oortuig dat my koppie Ricoffy eintlik ’n cappuccino is ...
“Hokaai, prof! Die ouens op Facebook kan mos ook boeke liefhê”.
Lees ook:
Elders gesien: Ek self vind die hele storie nou al ’n bietjie opgeblaas
Elders gesien: Dat almal nodig is om die Afrikaanse digitale kanon tot stand te bring
Cappuccino of flat white: Literêre waardes en die kanon tussen resensente en smaakmaker


Kommentaar
Dankie, Luan, dat jy die uitnodiging vir deelname aanvaar het en hierdie oorspronklik op Lekkerleesboekrak geplaas het. En dankie dat akademici soos jy bereid is om ons te ontmoet daar waar ons ís — nie net in ’n PPT-aanbieding by ’n fees, tydens ’n gesprek waarvan ons nie vooraf ingelig is nie, maar wat tog breedvoerig ons bespreek het. Hoe anders sou die diskoers nie verloop het as die loep waaronder smaakmakers se werk geplaas is, ook hul eie (en dalk lesers van hul menings) se insae ingesluit het nie?
Soos ek in al my bydraes — op sosiale media én in die artikel in Rapport — tot gevolgtrekking kom: ons soek dieselfde ding. Insluiting, nie uitsluiting nie. My kritiek op Viljoen se smaakmaker-raamwerk beteken nie ek ontken die waarde van sy metafoor nie. Ja, dit is ideaal dat ’n bron direk beskikbaar is voordat dit geïnterpreteer word. Tog is dit nie ongegrond om afleidings te maak uit ’n ooglopende raamwerk soos in die PPT vervat nie — veral as Marion se gesig sonder sy medewete op elke skyfie verskyn het, daardie (private) groep as navorsing gebruik is en as die aanhalings van smaakmakers se opinies sonder konteks aangebied is. (Hoekom is dit gesê? Wanneer? Hoe is dit ontvang? Wie het gereageer, en hoe?)
My opmerking oor ’n “spottende, amper neerhalende toon” kan nie eenvoudig ongeldig verklaar word omdat jy dit nie só ervaar het nie. Ander het. Ander wat dáár was. Ander wat dieselfde PPT gesien het. Ander wat daarin genoem is. Sekerlik het jy die kommentaar onderaan jou plasing op Lekkerleesboekrak gesien. Maak hulle stem dan nie saak nie?
My punt bly dat die manier waarop Viljoen smaakmakers bespreek het — veral as ’n groep wat hoofsaaklik ontspanningsfiksie bevorder en as vlietende propaganda afgemaak word — maklik die indruk kan skep van ’n verdelingslyn tussen “goeie” (literêr) en “minderwaardige” (gewild) boeke. Dis ’n onderskeid wat, soos in lesings aangebied en bygewoon deur Botha, De Vries, Le Roux, Brink en De Kock, lankal akademies bevraagteken is en ten beste ’n verbeelde konsep bly. Waarom in 2025 probeer om daardie onderskeid weer uit die graf op te wek vir ’n Lazarus-oomblik?
Moet ek jou herinner dat daar in die akademie geen vaste definisie vir wat letterkunde is en wat nie is nie. Daar is goedgeskrewe boeke en swakgeskrewe boeke — in alle genres. In die tagtigerjare is daar tydens ’n debat juis besluit dat daar geen versus tussen letterkunde en goeie gewilde prosa behoort te wees nie. Die term “literêre boek” en “nie-literêre boek” is kunsmatig. As die Afrikaanse akademie self al besluit het om nie die versus-logika te handhaaf nie, is die “literêr bo gewild” en “gewild = verdag”-benadering eerder ’n persoonlike of teoretiese voorkeur as ’n gevestigde akademiese standaard. Dit is nie belangrik of ’n boek as “literêr” of “gewild” geklassifiseer word nie, maar of dit goed geskryf is en ’n impak maak. Ek en ander is nie die rebelle in hierdie debat nie; ons is in lyn met ’n dekades-oue akademiese besluit.
Jy het dalk Viljoen se aanbieding as inklusief en gelykmakend ervaar; ek lees dieselfde lesing as gemerk deur ’n subtiele neerhalende ondertoon en die oproep tot verdere onderskeid, nie insluiting nie. Ek kan verstaan hoekom jy so voel. Jy vra letterlik in jou post op Lekkerleesboekrak van smaakmakers om “…anders oor boeke te dink en te skryf.”
Hoe moet hulle dan daaroor dink en skryf, Luan? Wat is die “tendens” wat omver gewerp moet word? Dalk as ons daar begin, waar die lesers in hul duisende is, en nie op ‘n verhoog nie, sal ons mekaar vind.
Ek laat jou met hierdie aanhaling: “As daar vele mense van onbetwisbare leserstalent is, laat ons die hele kwessie van lesersbegaafdheid ook nie uit ons gesprek laat nie; vele mense van leserstalent wat een en dieselfde boek lees en min of meer tot ’n konsensus daaroor kom, dan mag jy daarvan ’n sommetjie maak en sê dit is gelyk aan literêre waarde. En dit is kanonisering.” – professor Elize Botha
(Botha, E., Hambidge, J., Malan, C. & Roodt, P.H. 2020. Rondom die literatuur en kritiek van die tagtigerjare: Elize Botha, Joan Hambidge en Charles Malan in gesprek met P.H. Roodt. Stilet, 32(1&2):153-172.)
Groete