Vroeg in 1973 het John Cale sy album Paris 1919 uitgereik. Die titelsnit was ’n verrassing. Cale, bekend as een van die avant-garde sterre van die Velvet Underground, die Drone Meister met sy viool, kom vorendag met ’n hoogs georkestreerde liedjie oor nugter alleen weet wat – ’n spook? ’n Mislukte huwelik? Die Verdrag van Versailles?
Robert Christgau, die groot musiekkritikus van sy tyd, het ’n term daarvoor geponeer: schlock-rock. Maar hy had geen vae benul waaroor die liedjie handel nie.
Met die verloop van jare het Cale nou en dan iets daaroor gesê. As jy opgelet het in die groot klas van die lewe, sou jy die dinge bymekaar kon bring. Die liedjie handel inderdaad oor die gedoemde vredesverdrag van Versailles, in 1919 in Parys beding. Die mislukte huwelik is as metafoor ingesleep.
Die sinnetjie “William, William, William Rogers put it in its place” verwys na twee figure: die Amerikaanse joernalis William Rogers, skrywer van The cowboy philosopher on the Peace Conference, en William Rogers, wat Nixon se minister van buitelandse sake was en intens gemoeid was met die Paryse vredesonderhandelinge wat gelei het tot die beëindiging van die Viëtnam-oorlog in 1973. Op dié manier was die liedjie aktueel vir sy tyd van uitreiking.
Maar vir diegene wat hul leeswerk van die relevante kritiek op die plaat aanhou doen het deur die jare, want daar is heelwat geskryf oor Paris 1919, sal weet dat Cale ook direk verwys het na die kunstenaar Marcel Duchamp se terugkeer na Parys in 1919 na afloop van die oorlog.
Duchamp het die oorlogjare in die VSA deurgebring, waar hy twee van sy belangrikste projekte afgehandel het: Nude descending a staircase (no 2) en The bride stripped bare by her bachelors, even. Hiervandaan kom baie van die idees in die liedjie. En Parys is toe skielik vir Duchamp vervelig en vol, nou ja, spoke.
Die afgelope week het my gedagtes hierna teruggegaan toe ek hoor van die wharra-wharra oor Hein Viljoen se praatjie by die Etienne van Heerden Veldsoirée.
Kritiek is al sedert die dae van die Griekse filosowe deel van die Westerse tradisie. Kritiese reaksie op kuns is wat ons insig verbreed en ons die gereedskap gee om ons reaksie op die skeppings van ander binne ons kulturele verband te plaas.
Ek sal verbaas wees as enigiemand foute kan uitwys in Viljoen se argument. Ek is dit heeltemal eens met hom.
Die ophef gaan skynbaar oor sy gebruik van ’n foto van die administrateur van die Lekkerleesboekrak, Marion Erskine, en die feit dat hierdie Facebook-groep privaat is. Ek is al lank lid van hierdie groep, en vind dikwels onontbeerlike inligting aldaar. Eerste indrukke, baie indrukke wat my eie reaksie help vorm.
Maar ek soek inligting, niks anders nie. Ek vorm my eie kritiese menings met die lees van die boeke – en deur dit te kaats teen die uitsprake in uitvoeriger resensies in koerante en webwerwe wat op letterkunde fokus.
Om boeke te lees is vir my deel van ’n veel langer gesprek. Lekkerleesboekrak se inhoud is ’n deel van daardie gesprek. ’n Onontbeerlike deel.
Sou die reaksie op Viljoen se rede anders gewees het as hy net goedkeurend oor alles gepraat het?
En ten slotte oor Marion Erskine se foto: Ek wens ek het so goed soos hy gelyk. Viljoen kon maar ’n hele galery van Marion se foto’s gebruik het.
Lees ook:
Cappuccino of flat white: Literêre waardes en die kanon tussen resensente en smaakmaker
Elders gesien: Beide die cappuccino- en flat white-drinkers is gekultiveerd
Elders gesien: Ek self vind die hele storie nou al ’n bietjie opgeblaas
Elders gesien: Dat almal nodig is om die Afrikaanse digitale kanon tot stand te bring


Kommentaar
Hallo Crito!
Wat ’n lekker verrassing om van jou te hoor. En sommer baie dankie vir die kompliment oor my foto — veral op ’n bad hair day nogals. Min mense het my al ooit “hênsom” genoem, so ek waardeer dit opreg. Jy is goed vir my selfbeeld vandag. Annetjie uit my matriekklas sal haar woorde moet vreet — sy wat in standerd nege gesê het ek is te lelik om saam met haar na die matriekafskeid toe te gaan. Vat so, Annetjie!
En net vir die balans in die heelal: Kerneels is ook nie sleg vir die oog nie. Ek het nog nie die res van die gesamentlike pseudoniem ontmoet nie, maar as almal ewe distinguished is, stel ek ’n 2026-kalender voor — ’n Crito vir elke maand van die jaar, met slim aanhalings en net genoeg skadu op die wangbene. 'n Wenk wat getoets is: Simetriese wenkbroue is ALLES! My idee, hoor? So ek soek my cut of the innings.
’n Paar vinnige waarnemings:
Ek vind dit opreg interessant dat akademici — wat 'n ding of twee van etiek weet — so maklik die steel van skermskote uit ’n privaat groep afmaak as “niks”. Dinge het duidelik verander sedert ek laas op die PUK was. Is die POPI-wet nou opsioneel as jy ’n PhD het? Ek vra bloot, want ek bly mos al lankal nie meer in die land nie.
En glo my, liewe Crito, dit voel nogal vreemd wanneer verdoemende statistiek op jou gesig geplaas word sonder jou medewete. Ek oorweeg dit sterk om in die toekoms die gesigte van Afrikaans se Grotes te gebruik vir my eie navorsing. Julle’s mos public domain, of hoe? Dalk 'n lekker een oor hoe kinders na skool nie meer Afrikaans wil lees nie. Hmmm ... wie se gesig kan ek eerste gebruik? Dalk moet ek my smaakmaker-volgelinge vra om te stem! Kyk nou hoe kry ek heerlike idees, terwyl ek hier tik.
Dis snaaks hoe frekwensies tussen die gewone mense op die grond en die ivoortoring-inwoners verskil. Van hier onder af hoor ons ook gereeld 'n gewharra-wharra daar van doer bo. Dalk is dit ’n MTN-kwessie? Ek verbeel my net hoe veel lekkerder dit sou wees as ons om ’n tafel kon sit en gesels, sonder om radioseine deur die atmosfeer te moet instuur.
Ek’s so bly jy’s op Lekkerleesboekrak. Jy sal sien hoe hartseer almal vandag is oor Madelein Rust. Ons gemeenskap ween — sy was een van ons. Sy’t met die “gewone plebs” gesels, vir baie van hulle hoop gegee. Sy’t gewys dat 'meeste' Afrikaanse skrywers nie dink hulle poep ruik soos lafentel nie. Sy’t eg gebly tot op haar laaste. Vrekkit, ons gaan haar mis.
Ek sal moet afsluit. En nou sit ek hier en dink: hier is ou Marion, ’n gewone kind uit ’n myndorpie wat 'n C-simbool vir Afrikaans gehad het, en sien my naam op 'n Crito se skrywe. Mother, I wish you were alive, cause I've made it! Wat 'n ongelooflike eer. Dankie. Dit beteken meer vir my as wat jy dink.
Ek sien uit na die volgende literêre-praatjie. Maar doen my net een guns, liewe Crito: vra asseblief vir wie ook al weer my volgende foto steel, om darem een te kies waar my wenkbroue simmetries is. Dis regtig mos nie te veel gevra nie?
Ek stuur liefde en lig uit Frankryk. Laat dit met julle goed gaan.