Kreatiewe reaksies op literêre kritiek

  • 1

Resensente en ander kritici speel ’n belangrike rol in die literêre bedryf. Hulle kan skrywers se lewe en werk diepgaande beïnvloed – ten goede én ten kwade. Ek weet van ’n uitstekende jong digter wat moontlik ophou skryf het, omdat André P Brink ’n besonder venynige oordeel in die Sondagkoerant Rapport oor sy tweede digbundel uitgespreek het. Van sy liefdesverse het Brink gesê die digter is soos ’n haantjie wat kraai elke keer as hy ’n hennetjie gedek het. Daar het wel ’n skralerige derde digbundel verskyn – wat vreemd genoeg toe deur Brink aangeprys is. Maar daarna het die digter in alle tale geswyg.

Dit is die een moontlike en myns insiens oordrewe reaksie, naamlik om so geïntimideer te voel dat jy afskeid neem van die muse. Skrywers kan egter ook op ’n kreatiewe wyse op kritiek reageer. Daarmee getuig hulle dan van vertroue in hul skryftalent. Sonder ’n mate van arrogansie, sal geen skrywer lank oorleef in die “letterdoelas” nie, soos DJ Opperman dit noem.

Brink het my ook ’n keer bygekom. In sy Rapport-resensie van Breekware vir die revolusie (1984) het hy – tereg – gekla oor die feit dat my gedigte te min om die lyf het. In plaas van kamermusiek maak met ’n klein klompie instrumente, raai hy my aan om volgende keer die hele orkes saam te bring. Ek kon nie anders nie as om hom – nogal moedswillig – só te antwoord:

As ek my wou steur aan die kritiek
op my yl kwartet en limerick
      sou ek dit ewe grênd
      ruil vir ’n oempa-bênd
met heelnag hyg-en-pomp-musiek.

Die dramaturg Bartho Smit debuteer in 1949 met die digbundel Mure. Rob Antonissen resenseer dit besonder negatief in die literêre tydskrif Standpunte. Hy noem die gedigte onder meer “epigonisties” ten opsigte van sy tydgenote. Smit publiseer daarna nie weer ’n bundel verse nie, maar ontwikkel tot een van die belangrikste toneelskrywers in Afrikaans.

Smit het Antonissen se kritiek op sy poësie egter nie vergeet of vergewe nie. Sy eerste drama Moeder Hanna (1955) speel tydens die Anglo-Boereoorlog af. Reeds vroeg in die stuk word verwys na ’n gesin wat na die Engelse oorgeloop het. En hulle is sowaar die Antonissens! Van hulle word gesê: “Ja, en wat dink ons van die Antonissens? Niks. Wat dink iemand van hulle? Niks. ’n Spul papbroeke – dis wat hulle is.”

In die guns van Rob Antonissen kan gesê word dat hy, ondanks dié dwarsklap, later met veel waardering oor Smit se dramas geskryf het.

’n Baie interessante geval is dié van NP van Wyk Louw se eerste ervaring met kritiek en sy broer se weergawe daarvan jare later in ’n gedig.

Van Wyk Louw is in 1930 as lektor in die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit van Kaapstad aangestel. Hy was toe 24 jaar oud. Hy gee ’n manuskrip gedigte aan FCL Bosman, ’n kollega van hom in die Departement Nederlands en Afrikaans, om te lees.

In Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (1998) vertel JC Steyn dat Bosman vir Louw aanbeveel het om eers, voor hy enigsins verder skryf, in Nederland te gaan studeer. Bosman het self tot kort tevore daar studeer en ’n doktorsgraad oor die toneelgeskiedenis in Suid-Afrika verwerf. Hy het veral beswaar gehad teen Louw se gebrekkige aanvoeling vir versritme en hom aanbeveel om danslesse te neem!

In 1932 word Bosman se eie digpogings gepubliseer onder die titel Pluksels. JC Kannemeyer tipeer dié digbundel in sy literatuurgeskiedenis as “’n hoogtepunt van wansmaak”.

Die gevolg van Bosman se negatiewe reaksie was dat Louw sy selfvertroue as digter verloor en hom in die filosofie verdiep het. In 1931 begin WEG (Gladstone) Louw – wat sewe jaar jonger as sy ouer broer is – aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Daar verskyn van sy gedigte in ’n universiteitspublikasie, en Van Wyk Louw merk teenoor hom op: “Ek sien jy skryf ook verse.” Dit is die eerste woord wat Gladstone van sy broer se skrywery hoor. Hy hoor ook waarom Van Wyk Louw nie meer skryf nie.

40 jaar later, in 1972, doen WEG Louw verslag van hierdie gebeurtenis in die outobiografiese gedig “Naggesprek”. Dit is ’n lang monoloog gerig aan sy broer wat in 1970 oorlede is. Hy beskryf Bosman soos volg: “’n uil / wat agter die skuiling van sy bril die skyn / van doktorale erudisie moes bewaar”. Gladstone reageer hier dus namens sy broer kreatief op negatiewe kritiek.

Met die jonger broer se aanmoediging begin Van Wyk Louw weer skryf en sy debuut, Alleenspraak, verskyn in 1935. Dit en wat daarop volg, bewerkstellig ’n totale vernuwing in die Afrikaanse digkuns.

Een van die bekendste voorbeelde van digterlike repliek op ’n resensie is Elisabeth Eybers se vers “Kritiek” waarin sy vernietigend antwoord op die Nederlandse digter en kritikus Hans Warren se bespreking van die gedig “Einde van die seisoen” in haar bundel Kruis of munt van 1973. “Kritiek” uit Einder (1977) open soos volg:

Die resensent uit Seeland vind
my vers, om dit héél lelijk uit te druk
– sy selfbewuste term – Zuidafrikaans.

Daarop volg dan ’n skrobbering wat hy nooit sal vergeet nie. Sy beskuldig hom onder meer van verstarde denke en ’n gebrek aan ironie:

Dat elkeen só sy herkoms moet verraai ...
In sy lokettewêreldjie behoort
kantkies by kyk, elke gegewe dra
’n onverwisselbare etiket
wat nuanseringe onvoegsaam maak.

Ensoverder. Dit is ’n skelvers sonder weerga in Afrikaans.

Nog ’n digter wat hom nie deur kritiek laat afskrik het nie, was SJ Pretorius (1917–1995). In sy lang loopbaan as skrywer moes hy heelwat kritiek verduur – in so ’n mate dat Bernard Odendaal en Hennie van Coller in 2005, 10 jaar ná sy dood, hom in ’n literêre artikel ’n miskende digter noem.

Hier is Pretorius se puntige reaksie op dié wat hom misken het. Hy noem dit “Skatologie vir die kritici”:

Moet ons almal neerbuig voor die skurke,
party verkies hul knieë – ek my hurke.

Uys Krige kom ook die kritici met skatologiese beeldspraak by. In “Kolskoot” – ’n kort dialoog tussen ’n simpatieke leser en ’n skrywer – skep hy die neologisme “skuttery” na analogie van “skittery” (diarree):

“Hulle’s skerpskutters wat wil spog.
Moet hul jou nie van stryk laat kry ...”
“Oor die paar kopskote en treffers
kan ek my slegs verbly.
Maar wat my hinder, vriend, is al
die skutterý.”

Hierdie gedig staan in die afdeling “Gifpyltjies” van Krige se laaste digbundel Vooraand van 1964. Hy sluit dit af op ’n versoenende noot in “Parting shot”:

Langsamerhand, na twintig jaar,
word ek, gebroeders, bietjie moeg
van al die kritiese geskyfskiet.
Dit raak vervelig, hoor, genoeg, genoeg!
Ek is geen heilige, geen Sebastiaan.
Wat maak ek met dié sware pylevrag?
Nou skiet ek van die skerpstes fluit-fluit terug
met ’n, hoop ek, begrypende glimlag ...

Hiermee erken Krige by implikasie die wisselwerking tussen skrywer en resensent. Aangesien daar ’n ongeskrewe reël van literêre etiket bestaan dat bekritiseerde skrywers nie regstreeks behoort te reageer op ’n resensie nie, het hulle wel die opsie om op ’n kreatiewe vlak beswaar te maak. En dit het die aangehaalde skrywers wel deeglik gedoen. Boonop sal die kreatiewe reaksie in die meeste gevalle veel langer gelees en geniet word as die oorspronklike stuk kritiek.

Een rede vir die langer lewensduur van die digterlike teks is dat dit stilisties meestal pittiger is as die kritikus se prosa. Daarom gee ek Uys Krige die laaste woord. Hy troos die benadeelde digters soos volg in “Die les-honderd”, ook uit “Gifpyltjies”:

O jul kan skitter in jul swaar bedryf
deur van hul prosa één groot les te leer
– en dit, in kort, is: hoe om nie te skryf.

Kyk en lees ook:

Joan Hambidge: Credo van ’n kritikus          

Marlies Taljard: Resensent of smaakmaker – edelmetaal of klatergoud?

Joan Hambidge: Hekwagters en oop hekke

Jaco Jacobs: Jy’s seker nie ernstig nie

Crito (Kerneels Breytenbach): Resensies en redenasies

Crito (Kerneels Breytenbach): Crito antwoord kritici

Ena Jansen, Joanita Erasmus-Alt en  Hennie van Coller: Geheime van blitsverkopers in Afrikaans

Nèlleke de Jager: Die wetenskap van liefde, en ander maniere om te dobbel

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • vir die kritici

    vandag beproef die duif sy toonlere
    môre lê die kat tussen bebloede vere

    die digter sal onvolmaak bly skryf
    tot daardie dag van die leeu en die lam
    die kat en die duif

    Daniel Hugo (geb. 1955)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top