Geheime van blitsverkopers in Afrikaans

  • 0

Ena Jansen gesels met Joanita Erasmus-Alt en Hennie van Coller oor hul boek, Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking, wat onlangs verskyn het. Dié publikasie spruit uit Joanita se doktorale proefskrif wat sy in 2019 voltooi het. Joanita en Hennie is gereelde bydraers met navorsingsartikels tot LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling.

Joanita Erasmus-Alt en Hennie van Coller, skrywers van Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking (Foto’s verskaf)

Baie geluk met die publikasie van Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking, Joanita en Hennie. Ek weet dat die boek gebaseer is op Joanita se proefskrif “Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. ’n Ondersoek na beeldvorming” (2019). My eerste vraag is wat die werkverdeling tussen ’n promovendus en haar promotor is om ’n akademiese proefskrif te omskep tot ’n boek wat nou onder julle albei se name gepubliseer word. Wat was julle werkverdeling?

Hennie: Die boek is grotendeels gebaseer op navorsing vir ’n doktorsgraad. Dit is nie om dowe neute dat dit gewoonlik universiteitsbeleid is dat enige publikasie gebaseer op ’n magistergraad of doktorale tesis geskied as gesamentlike publikasie van én student én studieleier/promotor nie. Die laasgenoemde is betrokke by die onderwerp (dikwels is dit van hom of haar afkomstig), die aanvanklike navorsingsontwerp en die struktuur van die studie, die teoretiese/paradigmatiese uitgangspunte, en veral die voortdurende kontrolering van styl, stelwyse en bibliografie. Die werklike werk is dié van die student wat self sy/haar weg moet vind in die wetenskaplike labirint, nuwe sekondêre publikasies moet gaan vind, en dergelike. Vir ’n proefskrif om deur Hoër Onderwys geakkrediteer te word moet dit ten minste 50% nuut wees. Dit beteken dat die oorspronklike proefskrif grondig herbewerk moet word deur albei outeurs. Alleen volledige simbiose het uiteindelik ’n goeie proefskrif tot gevolg, asook ’n goeie boek – wat ons hoop die geval hier is. Daar was dus geen formele “verdeling” nie.

Hierdie onderwerp spook al by my vir meer as 20 jaar. Reeds in 1979 het ek op ’n dag aan Charles Malan gesê dat as hy my sou sê waar ’n persoon gestudeer het, wie sy vriende (en vyande) is, ens, dan sou ek voorspel wat die beoordeling van sy werk sal wees. Ek het dit destyds ’n “kaart” genoem wat ’n mens sou kon opstel – destyds sonder dat ek enige kennis van die sisteemteorie gedra het. Maar toe reeds het ek intuïtief gevoel dat om werke te evalueer op grond van alleen die teks as ’n “wêreld in woorde”, naïef was. My werk oor evaluering in die letterkunde en veral oor kanonisering het hierdie gevoel slegs versterk: Dis dwaas om te dink ons beoordeel objekte (dus ook boeke) net op grond van die sogenaamde intrinsieke waarde daarvan. Kanonisering is ’n komplekse proses waarin talle rolspelers optree. Ek kon net nooit die tyd (en energie) vind vir so ’n omvangryke studie nie, want ek het besef dat die teorie toegepas sou moes word op meer as een boek ten einde ’n mate van geldigheid te verwerf. Nooit het ek ’n student geïdentifiseer wat intelligent genoeg was én wat oor die nodige werks- en deursettingsvermoë beskik om so ’n studie te voltooi nie. Tot Joanita dan.

Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking word uitgegee deur SunBonani Media

Afrikaanstalige proefskrifte word nie dikwels uitgegee nie. Watter leserspubliek verwag julle en die uitgewer van julle boek? In watter mate moes julle die proefskrif verander om dit geskik te maak vir publikasie? Was dit moeilik om die teoretiese proefskrif om te werk tot ’n boek wat hopelik ’n breër publiek sal bereik as net enkele studente en kollegas? Hoop julle dat dit voorgeskryf sal word aan universiteite? Of is dit eerder ’n handleiding vir uitgewers en voornemende blitsverkoperskrywers?

Hennie: Die verwagte leserspubliek is dosente en nagraadse studente in tale en literêre teorie, uitgewerswetenskappe en ondernemingsbestuur én (dalk) voornemende skrywers. Die oorspronklike proefskrif het swaar gedra aan teorie (mens moet tog eksterne eksaminatore beïndruk!) en dit moes uitgekam word om ’n leesbare boek te skep. Vanselfsprekend is dit ’n moeilike taak – veral om weg te laat. Die bekende literator Elize Botha het altyd gesê die moeilikste opdrag aan enige letterkundige is: “Kill your darlings.” Ons het met leedwese afskeid geneem van baie van ons teoretiese geliefdes.

Natuurlik hoop ons vir voorskryf, hoewel ons realisties is oor die bereidwilligheid van dosente om in ’n tyd van ’n ekonomiese krisis met stygende brandstofpryse, swak kragvoorsiening ens ’n duur boek voor te skryf.

Vertel ’n bietjie hoe julle die sprong gemaak het van die akademiese titel van die oorspronklike proefskrif tot hierdie pakkende allitererende titel? Wie se idee was dit? Julle sʼn of die uitgewer sʼn?

Joanita: Dit was ons idee. Die titel Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking het spontaan uit die werkstitel, Op pad na ’n blitsverkoper, ontwikkel. Ons self verwys sommer kortliks na die boek as BBB.

Die proefskrif was gebaseer op baie navorsing en het ’n deeglike teoretiese basis. Joanita, as ek dit reg het, was jou ondersoek vir die proefskrif hoofsaaklik empiries en resepsieteoreties. Jy het gebruik gemaak van Pierre Bourdieu en die Nederlanders Van Rees en Dorleijn se benaderings. Vertel ’n bietjie aan lekelesers hoekom hulle werk so belangrik is vir dié soort ondersoek?

Joanita: Toe Roland Barthes en Michel Foucault gedurende die sestigerjare van die vorige eeu ’n aanval op die idee van die skrywer “as die begin van alle literatuurstudie” geloods het, wou dit voorkom asof die skrywer vir altyd as studie-onderwerp binne die letterkundige dissiplines en die literatuurwetenskap verdwyn het. Dit was egter nie die geval nie. In die lig daarvan dat literatuurstudie in die nuwer paradigmas ’n sosiale dimensie bygekry het, het daar dus nuwe perspektiewe vir ondersoeke na die skrywersbeskouing na vore getree. Hierdie navorsingsterrein, waarin ruimte gelaat word vir literatuuropvattings waarin die skrywer se optrede in verband met ’n bepaalde historiese tyd (en die onderliggende kodes daarvan) beskou word en die skrywer dus nooit buite rekening gelaat kan word nie, staan as veld- of sisteemteorieë bekend. Dit is veral in die werk van Pierre Bourdieu ‒ wat in sy institusionele benadering die verhouding tussen denksisteme, sosiale instellings en verskillende vorme van materiële en simboliese mag ondersoek het, waar die skrywer weer sy/haar regmatige plek ingeneem het.

In die werk van Bourdieu word nie slegs op die rol van die direkte vervaardiger van die teks gefokus nie, maar word die teks beskou as ’n manifestasie van die totale veld waarin dit geskep is. Binne die literêre veld is daar sosiale formasies wat by wyse van ’n rangordelike, georganiseerde spektrum velde (soos die ekonomiese veld, die opvoedkundige veld, die politieke veld en die kulturele veld) gestruktureer word. Elkeen van hierdie sosiale formasies word beskryf as ’n gestruktureerde ruimte met sy eie reëls ten opsigte van die funksionering daarvan en eie magsverhoudings wat onafhanklik is van dié van die politiek en die ekonomie.

Bibi Slippers soos sy verskyn in bemarkingsmateriaal van haar debuutbundel, Fotostaatmasjien. (Foto verskaf deur die digter en NB-Uitgewers)

’n Praktyk wat van groot belang in hierdie rangordening is, is habitus. Hierdie begrip, wat deurlopend gebruik word in die ondersoek na die vier gekose skrywers en tekste, naamlik Dalene Matthee (Kringe in ’n bos; 1984), Marita van der Vyver (Griet skryf ’n sprokie; 1992), Francois Smith (Kamphoer; 2014) en Bibi Slippers (Fotostaatmasjien; 2016) se beeldvorming, word beskryf as ’n langdurige proses van inprenting waardeur die agent (of skrywer) toegerus word met die nodige vaardighede ten einde die kulturele veld te betree. As produkte van die habitus stel Bourdieu die begrippe strategie en trajek bekend. Die reeks posisies wat opeenvolgens deur dieselfde agent beklee kan word, word deur die begrip trajek beskryf. Strategie (wat in Bourdieu se veldteorie in ’n wetenskaplike sin gebruik word) word beskryf as ’n spesifieke oriëntasie en het te make met ’n agent se plan aangaande sy/haar trajek. Hierdie ingesteldhede wat deur die habitus na vore kom, maak deelname aan veelvoudige en diverse aktiwiteite binne die kulturele veld moontlik. Om hierdie begrippe te verduidelik, kan Francois Smith as voorbeeld geneem word. Sy habitus toon aan dat sy kinderjare en opvoeding in ’n kultuurbewuste huis, waarin die aanhang van enigiets kommersieel ontmoedig is, die grondslag gelê het vir ’n latere outonome posisionering binne die artistieke pool van die literêre veld. As student in die letterkunde het Smith, deur die (strategiese) verwerwing van kennis en vaardighede gegrond op die literêre veld se doxa (algemeen aanvaarde feite, gekonstrueerde en vasgelegde persepsies) homself toegerus vir ’n trajek waarin hy opeenvolgens en soms gelyktydig verskillende rolle binne die literêre sisteem beklee het ‒ en dit steeds doen. Dit sluit in literêre verwerking, resepsie, literêre verspreiding, en literêre produksie.

Ook Van Rees en Gilles Dorleijn skenk in hul navorsing oor beeldvorming, in navolging van Viala, nougeset aandag aan die konteks waarbinne skrywers funksioneer. Hulle standpunt is duidelik, naamlik dat die gebruik van literatuuropvattings instrumenteel in ’n rol in beeldvorming het. Van Rees en Dorleijn herinner ons daaraan dat wanneer die leser vir die eerste keer met die boek in aanraking kom, hy/sy nouliks kan ontkom aan kommentaar oor die boek. Voorbeelde van sodanige kommentaar sluit in die advies van kennisse, flaptekste, resensies, uittreksels uit boeke of dele in literatuurgeskiedenisse, literêre rubrieke in tydskrifte, artikels in literêre en vakwetenskaplike tydskrifte en die verslae van keurders vir literêre pryse (asook wie die keurders is). In hierdie verband moet ook nie foto’s van die skrywer vergeet word nie. Sonder dat hy/sy die boek gelees het, beskik die leser dus reeds oor ’n beeld van die gehalte van die boek en die skrywer daarvan. Daarom is die beeld op sigself ’n sosiale realiteit.

Kan julle verder verduidelik hoekom Heinich se teorie in verband met die sogenaamde sosiologie van die uitsonderlike en Meizos se begrip postuur belangrik was om rigting aan hierdie navorsing te gee?

Joanita: Vanselfsprekend speel nie net die skrywer nie, maar ook, en veral, die werk ’n rol in die beeldvorming van ’n skrywer, veral by boeke wat as uitsonderlik bestempel kan word. In hierdie verband is die teorie van Nathalie Heinich van besondere belang. Die kunstenaarsmodel (waarin die uniekheid van die kunstenaar voorop staan) uit die Romantiek vorm die basis van Heinich se teorie van uitsonderlikheid, waarin individualiteit en buitengewoonheid die maatstawwe is waaraan sukses gemeet word. Sy baseer hierdie teorie op die belang van die artistieke gebeurtenis.

Volgens Heinich bied die teorie van “gebeurtenis” ’n totale navorsingsonderneming of -program, wat nie slegs betrekking het op kunstenaarsidentiteit en die loopbaan van die kunstenaar nie, maar ook op belangrike momente wat ’n rol daarin speel. As voorbeelde van periodieke gebeurtenisse noem Heinich kuns- en literatuurfeeste, boekmarkte en onderhoude. Ander gebeurtenisse is afhanklik van uitsonderlike prestasies. In hierdie boek word die klem veral op die volgende as aanduiders (en gebeurtenisse) van uitsonderlike prestasies gelê: die skrywer se debuut, literêre pryse en herskrywings (bv vertaling, verfilming en/of verwerking) van ’n skrywer se werk. Dan word daar verder ondersoek ingestel na die rolspelers wat, deur die uitruiling van sosiale energie, hierdie gebeurtenisse moontlik gemaak het.

Met betrekking tot ’n skrywer se beeldvorming ‒ wat nie slegs die skrywer se eie konstruksie behels nie, maar wat, soos hier bo genoem, deel is van ’n interaktiewe proses waarby verskeie bemiddelaars betrokke is ‒ word daar in hierdie boek veral op die werk van Jérôme Meizoz gesteun. Meizoz se begrip postuur verwys na een van die komponente waaruit die etos (die karaktereienskappe wat tot ’n geloofwaardige beeld van die skrywer aanleiding gee) of “skrywerwees” in die algemeen saamgestel is. Die begrip postuur het ook betrekking op die wyse waarop (literêre) akteurs hul posisie in die literêre veld bestendig. Daarom kan postuur ook beskryf word as ’n posisioneringsmeganisme in die literêre veld. Postuur (as een van die komponente van ’n skrywer se etos) betrek sowel dit wat buite die teks staan (soos kleredrag, optredes tydens onderhoude of tydens handtekeningsessies, en die manier van praat) as die tekstuele aanbieding van die skrywer.

Boerneef omstreeks 1963 (Wikipedia; fotograaf vir Afrikaans Kultuuralmanak onbekend, afbeelding in die openbare domein ingevolge die Suid-Afrikaanse kopieregwet)

Boonop is daar ’n verdere onderskeid ten opsigte van voorstelling of uitbeelding, naamlik selfvoorstelling (outovoorstelling) en heterovoorstelling. ’n Ondersoek na postuur veronderstel derhalwe ’n meervoudige waarnemingsveld. Die gedrag van die skrywer – as die niediskursiewe (tekseksterne) aspek van postuur – is belangrik vir beeldvorming. As voorbeelde hiervan noem Meizoz mediaverskynings, die diskoers van literêreprystoekennings, reaksies op resensies, kleredrag, haarstyl, spesifieke gebare, ’n bepaalde voorkoms en bykomstighede. Die imago (beeld) van ’n skrywer skep herkenbaarheid naas bemarkbaarheid. In die Afrikaanse literêre wêreld kan gedink word aan Boerneef, en ook Marthinus Versveld én Marita van der Vyver, met hul barette wat ’n teken van boheemsheid en Franse flair is; Antjie Krog in ’n mansbaadjie en das as beeld van geëmansipeerdheid; en Etienne Leroux met sy swart donkerbril wat onder andere van geheimsinnigheid en afstandelikheid getuig.

In die boek spreek julle selde ’n oordeel uit oor die “etiek” van wat ’n mens sekerlik dikwels nogal uitgebreide selfpromosie deur skrywers kan noem. Dink julle alle strategieë is geregverdig in die stryd om lesers se aandag en beursies?

Hennie: Ek dink nie dis heeltemal korrek nie. Ons ondersoek was ’n wetenskaplike studie en ons het dus nie probeer om domeine van die “ondersoekende subjek” en “te ondersoeke objek” te laat versmelt nie. Ena, jy sal onthou hoe dit in Utrecht in ons ingedril is. Daarom weerhou ons ons van hermeneutiese (interpreterende) of evaluatiewe uitsprake oor die boeke én skrywers wat ons ondersoek. Maar die hele uitgebreide ondersoek lewer tog deurgaans implisiete kommentaar op aspekte soos selfpromosie, kliekvorming, manipulering van resensies, die druk op resensente, en dergelike sake. Alle strategieë “in die stryd om lesers se aandag en beursies” is seer seker nie eties of moreel aanvaarbaar nie. Ek kan my indink dat ’n naakte skrywer wat boeke by ’n boekwinkel teken, baie mense die harnas sal injaag. Net so kan jy nie mense met geweld oorhaal om boeke te koop nie. Dalk klink dit na belaglike voorbeelde, maar dis slegs ter illustrasie. Maar aan die ander kant: ’n Mens kyk elke dag na sepiesterre wat hulleself promoveer (soms op verregaande wyse). Televisiepersoonlikhede maak soms ook van belaglike dinge of optrede gebruik om hulleself of hul produkte (soos nuwe sepies of die betaalkanaal) te “verkoop”. Mag skrywers dit dan nie doen nie? Veral in tye waarin die media die belangrikste rolspeler in beeldvorming is?

Die ondersoek fokus op die blitsverkoper-romanskrywers Dalene Matthee, Marita van der Vyver en Francois Smith en die digter Bibi Slippers. Kan julle verduidelik wat die kriterium was om juis hulle te kies?

Francois Smith, skrywer van Kamphoer

Joanita: Beeldvorming geskied reeds (dikwels grotendeels) in die beginfase van ’n skrywer se loopbaan. Skrywers word ingedeel by bestaande “skole” of “rigtings” (soos neoromantiek), kry etikette of epitetons om hul nekke (waarvan hulle soms selfs ná ingrypende verandering moeilik ontslae raak) en word sodoende dikwels deur kritici gefossileer. Om van hierdie tendense te illustreer, is vier skrywers wie se werke feitlik onmiddellik na publikasie ongekende gewildheid geniet het, in hierdie boek geïdentifiseer. Hierdie gewildheid is onder andere bepaal deur te kyk na die rekordverkope van die boeke, die aantal oplae, resensies, literêre pryse, asook algemene mediablootstelling, die durende wyse waarop (van) hierdie boeke binne die Afrikaanse literatuur figureer as verwysingspunte, ykingspunte en bronne vir herskrywing (in die vorm van toneelstukke, rolprente en dies meer), én die onmiskenbare gehalte van hierdie betrokke tekste. Omdat ons uitgangspunt is dat waardetoekenning nie los gesien kan word van sosiale en historiese faktore nie, het ons tekste uit drie verskillende dekades in die Afrikaanse letterkunde gekies. In hierdie dekades het verskillende artistieke (én kritiese) paradigmas en poëtikas (en sosiale diskoerse) die botoon gevoer. Boonop hoort die tekste ook nie almal tot dieselfde (sub)genre nie en word beide manlike en vroulike skrywers betrek.

Hennie: Dit was ook ’n heel praktiese besluit: ’n Proefskrif het ’n lengtebeperking, anders sou ons goedskiks nog heelwat ander boeke by ons ondersoek kon ingesluit het. Maar my aanvanklike keuse van dié skrywers het te make met die feit dat ek al vier werke goed geken het en ook ’n paar van hulle geresenseer het. Hulle verteenwoordig almal “toeganklike”, maar tog ook normdeurbrekende tekste in die sin dat hulle geykte onderwerpe nuut verken: die kwessie van bewaring; seks (veral uit die vroulike perspektief en met ’n goeie skeut humor); die Anglo-Boereoorlog en versweë aspekte soos verkragting, trauma ens; en dan die hele kwessie van representasie as iets oorspronklik (Plato se creatio).

Dis opvallend dat drie van die vier vroueskrywers is. Maak vroue beter/meer gebruik van populêre media en staan hulle in die algemeen ’n groter kans om blitsverkopers te word?

Die omslag van Alexander Strachan se eerste Recce-boek (Foto: NB-Uitgewers)

Hennie: As mens kyk na die blootstelling van manlike skrywers in die media betwyfel ek dit. Wel is die onderskeie strategieë anders. Ek is nie so oortuig daarvan dat vroue se pad na literêre roem tans moeiliker is as dié van mans nie; in ’n hoë mate het die speelveld gelyk begin raak. Daar is aspekte wat vroue bevoordeel: Vroue is veral georganiseer in leeskringe, wat ’n groot impetus is vir mense om boeke aan te koop; hulle is ook die grootste bywoners van bemarkingsgeleenthede soos “boektafelgesprekke” en “middagetes met skrywers”. Boonop is daar steeds meer vrouens as mans wat óf nie voltyds ’n beroep beoefen nie óf werk met fleksietyd. Dit stel hulle in staat om byvoorbeeld kunstefeeste by te woon. En omdat hulle veral boeke deur vroulike skrywers verkies, bevoordeel dit die laasgenoemdes. Vroue staan waarskynlik ’n beter kans as mans om publisiteit te kry deur naakfoto’s of selfs pornografiese webwerwe (en hier verwys ek na die Nederlandstalige skrywers Kristien Hemmerechts en Heleen van Royen). Mans maak weer van ander strategieë gebruik, soos die beeld van ’n aweregse, macho man wat veral in die geval van boeke oor jag, die recces ens, manlike kopers wen.

Julle demonstreer goed dat Dalene Matthee en Marita van der Vyver se hoogs individuele personae by hul romans pas en dat hul uitgewers juis dít funksioneel uitgebuit het om die Suid-Afrikaanse leserspubliek te bereik en selfs te manipuleer. Dit is ’n baie interessante bevinding. Wil julle hierop uitbrei en verduidelik hoe dit gewerk het?

Joanita: Deurdat die flapteks van Kringe in ’n bos Matthee as “verteller van waarheid” bemark, word hierdie selfvoorstelling uit die staanspoor deel van die skrywer se beeldvorming:

Ek woon naby die Bos. Jy ry kilometers ver deur plase, denneplantasies en kreupelhout en jy vra jou af: Wat het van die oerbos geword wat hier gestaan het? In 1886 was daar tussen vier- en vyfhonderd olifante in die bos ‒ die mooistes in die wêreld. In 1972 was daar twaalf oor. Waar is hulle heen? Wie het die uitroeiwerk gedoen, en waarom? Ek het Kringe geskryf om die waarheid daaroor te probeer vertel.

Die waarheidsaspek speel deurgaans ’n belangrike rol in sowel die self- as die heterovoorstelling van Matthee en daarom is die mees prominente beeldvorming dié van “verteller van die waarheid”. As sodanig tree Matthee in Kringe in ’n bos, soos die karakter Saul, dus op as spreekbuis vir die onderdruktes en dra verteller en karakter derhalwe hier by tot die skep van ’n bepaalde postuur.

Van der Vyver voer die aansporing vir die skryf van Griet skryf ’n sprokie terug na haar fassinasie met sprokies – ’n fassinasie wat reeds voor die publikasie van haar trefferroman begin het. Voordat sy haar debuut as romanskrywer gemaak het, het sy reeds 210 Grimm-sprokies in Afrikaans vertaal. Van der Vyver se belangstelling in sprokies gee daartoe aanleiding dat sy dit reeds vroeg in haar loopbaan deel van haar beeld maak. Haar lewe in Frankryk, haar huwelik met ’n Fransman, haar reise na eksotiese bestemmings en die kookkursusse en kreatiewe skryfklasse wat sy aanbied (óók dikwels op eksotiese plekke), roep noodwendig sprokiesbeelde op. Alhoewel Van der Vyver se voorkoms moontlik nie dié van die stereotiepe sprokiesprinses is nie, is dit, soos in die geval van sprokiesheldinne, tóg deel van haar beeld. Voorts wend Van der Vyver, deur die gebruik van kreatiewe nabootsing, die sprokie aan in die daarstelling van haar beeld as bevryde vrou. In hierdie verband is daar ’n ooreenkoms tussen Van der Vyver se selfvorming en barones d’Aulnoy, die skepper van die term sprokie, se beskouing waarvolgens die vroulike karakters van sprokies hul eie lotsbestemming bepaal. Deur die gebruik van dekonstruktiewe tegnieke word ideologiese veranderinge met betrekking tot feministiese perspektiewe (ook in sprokies) in ’n nuwe lig beskou.

Dalene Matthee, koningin van blitsverkopers in Afrikaans (Foto: NB-Uitgewers; Colla Swart)

As ek reg onthou, het Dalene Matthee haar onderhoudvoerders dikwels saamgeneem na die Knysnabos waaroor sy geskryf het. Dié wêreld was baie bepalend vir haar openbare beeld. Vertel ’n bietjie hoe dié beeldvorming bygedra het tot die bemarking en van haar ’n blitsverkoper gemaak het.

Joanita: Wanneer ’n boek aan ’n plek gekoppel word, voeg dit waarde toe tot die leser se ervaring van sowel die boek as die ruimtelike plasing ‒ in hierdie geval die Knysnabos. Op grond van die prominensie wat die tema van bewaring in Kringe in ’n bos kry, word Matthee in resepsieprodukte as ’n ekoloog beskryf. Die wisselwerking tussen literatuur en sosiale werklikheid (en tussen Matthee se Kringe in ’n bos en natuurbewaring ‒ spesifiek die bewaring van olifante) blyk duidelik uit die onderstaande gebeure gedurende die eerste helfte van die tagtigerjare (Bronne word in die boek vermeld.):

  • In 1981 word ’n olifantwerkgroep gestig om die afname in olifantgetalle in die Knysnabos te ondersoek.
  • Die amptelike monitering van die Knysna-olifante word tussen 1983 en 1987 geïnisieer ‒ ’n bewusmakingsveldtog wat uiteraard kon bydra tot die sukses van Matthee se teks.
  • Die ondersoek na die oorblywende getal olifante in die bos het in 1983, die jaar voordat Matthee se boek gepubliseer is, nuwe impetus verkry toe varingplukkers die geraamte van ’n olifantkoei wat aan natuurlike oorsake dood is, naby die Diepwalle-houtdepot en die Groot Boom, gevind het.
  • In die winter van 1983 het varingplukkers ook op die bykans volledige geraamte van ’n ou olifantbul afgekom. Die geraamte is deur ’n taksidermis gerestoureer en gemonteer, waarna dit vir ’n hele klompie jare voor die Knysna Toerisme Buro gestaan het.
  • Die bewusmaking van besoekers aan die Knysnawoud is voorts, óók in 1983, verder verskerp deur die publikasie van ’n pamflet, The Knysna elephants and their forest home, deur Margo MacKay, waarin daar veral op die feite, maar ook op die stories en die legendes rondom die Knysnawoud gefokus is.
  • Op 8 Augustus 1984 verskyn daar ’n artikel in The Times met die opskrif “A forest killed for greed”.

In Hampton se artikel “History of Knysna elephants 1980‒1999” (2018) wys hy dan ook spesifiek op die bydrae wat Matthee se teks tot die bewusmaking van die bewaring van die Knysna-olifant gelewer het:

Hope was rekindled when local author Dalene Matthee published a book, “Circles in the Forest” which became a bestseller both locally and internationally and prescribed as a set book for school which created understanding and appreciation of the forest and its elephants. In addition the television programme 50/50 screened a programme on the elephants which re-interested the public. This allowed the local Wildlife Society to mobilise its members and the public into action.

Benewens die onmiddellike sukses en wye erkenning wat Matthee na die verskyning van Kringe in ’n bos geniet het, het sy ook ’n gehoor ver anderkant die onmiddellike mark bereik. Haar posisie in die Afrikaanse literêre sisteem is bestendig en selfs verbeter deur die publikasie van nog drie Bos-boeke. Die langdurige erkenning wat Matthee geniet, word ook gekoppel met die wyses waarop sy (as ekoloog) gehuldig word. Matthee is by een van haar mees geliefde plekke in die Knysnabos, Krisjan-se-Nek, ter ruste gelê. Op ’n voorstel van Kitto Erasmus, voormalige streekdirekteur van Omgewingsake, en in samewerking met die Matthee-kinders, SA Nasionale Parke (Sanparke) en Tafelberg Uitgewers, is daar ’n gedenksteen vir Matthee in die bos opgerig. Die roete wat voorheen as die Woodcutter’s Trail bekend gestaan het, is met die inhuldiging van die gedenksteen na die Kringe in ’n bos-roete herdoop en die groot geelhoutboom by Krisjan-se-Nek, wat meer as 880 jaar oud is, staan nou bekend as die Dalene Matthee Big Tree.

Met betrekking tot Marita van der Vyver praat julle van die “mimesis van die sprokiesverhaalmotief” en begin ’n fassinerende funksionele vervlegting van intrinsieke en eksentrieke beoordelings. Die toevoeging van tematiese aspekte (bv van bevryding) word in hoofsaak aan die hand van resepsie gedoen, wat resensente en kritici oor die inhoudelike aspekte van haar werk genoem het. Was dit moeilik om die resepsienet wyd te span? Het NALN met sy goeie knipseldiens veral gehelp?

Marita van der Vyver (Foto: LitNet-argief)

Joanita: In die ondersoek na die beeldvorming van Van der Vyver (en die ander skrywers) is gebruik gemaak van diskursiewe interne en eksterne tekste (metatekste soos resensies, artikels in vaktydskrifte, koerantberigte, tydskrifartikels en gepubliseerde onderhoude) en niediskursiewe voorstellings (beskikbare digitale beeldmateriaal). In ’n poging om die tersaaklike data so volledig moontlik in te samel, is inderdaad gebruik gemaak van die versamelings in NALN, verwysings op internetprofiele van die betrokke skrywers en soektogte deur die biblioteekpersoneel van die Universiteit van die Vrystaat. Aanvullende resepsieprodukte is deur die ATKV, ARCA (Archive for Contemporary Affairs) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verskaf.

Hennie: Die besluit om met resepsiedokumente te werk, is om wetenskaplike redes geneem – ons het besluit om weg te bly van eie interpretasie (wat subjektief en dus onwetenskaplik is). Die grootste gevare wat enige resepsiestudie bedreig, is die ontbreking van genoeg resepsiedokumente én veral die neiging om van resepsie oor te stap na interpretasie.

Veral Van der Vyver se gebruik van ’n eie webwerf, Facebook en ander sosiale netwerke is deesdae baie uitgebreid. Byna daagliks verskyn nuwe materiaal. Ook Bibi Slippers se netwerke was ’n tyd lank baie uitgebreid. Alhoewel julle probeer om so volledig moontlik te wees, is dit waarskynlik baie moeilik om alles wat op sosiale media verskyn in kaart te bring. Lewer asseblief kommentaar op hoe julle dink sosiale media tot potensiële blitsverkoperstatus bydra.

Joanita: In ’n digitale era speel sosiale media – waarby diskoers as ’n diskursiewe aspek van ’n skrywer se beeldvorming betrek word – ’n toenemend belangrike rol in die bemarking van die skrywer as handelsmerk. Die skrywer kan deur die gebruik van platforms soos Facebook, Twitter en Instagram (soms met die medewerking van ander agente) sy/haar reikwydte uitbrei en sosiale kapitaal verhoog. Hoewel ’n herkenbare naam kan help om aanhangers te werf, is betrokkenheid van die kant van die skrywer van groot belang in die totstandkoming van sowel ’n leser- as ’n bewonderaarskorps.

In ’n artikel getiteld “Sosiale media … dáár lê die heil van poësie” (Netwerk24, 12 November 2017) noem Slippers self dat ten einde sukses te behaal, dit nodig is om vernuwend te werk te gaan:

Ek stel nie vir ’n oomblik voor plaaslike digters moet hul werk vervlak of vereenvoudig om die mark tegemoet te kom nie, maar eerder dat daar innoverend gedink moet word oor hoe om die werk binne die digitale sfeer aan te bied sodat dit aanloklik is vir ’n lesersmark wat primêr op hul fone lees en inligting filtreer. Die Suid-Afrikaanse publiek stel steeds belang in digters as meningsvormers en openbare figure. Die uitdaging is om hierdie belangstelling te kanaliseer in bundelverkope. Vir hierdie doeleinde is Instagram potensieel ’n land van melk en heuning vir digters – mits ons kan aanvaar dat daar in 2017 bykomende vaardighede van digters en uitgewers vereis word. Ons sal almal moet leer om, soos Rupi Kaur, die spreekwoordelike heuningstrik op sosiale media te stel.

Ek het gewonder of die groot rol wat Facebook en ander sosiale media in sowel Marita van der Vyver as Bibi Slippers se lewens speel, nie méér vrugbaar bespreek kon word in julle boek nie. Was dit omdat dit te moeilik is om te versamel en te “meet”?

Joanita: Dit sou inderdaad interessant gewees het en sou waarde tot hierdie boek kon toegevoeg het, maar die omvang van die boek (en proefskrif) het nie ruimte daarvoor gelaat nie. Daarom het ek besluit om hoofsaaklik ondersoek in te stel na die wisselwerking tussen rolspelers wat in die eerste jaar ná publikasie betrokke was by die beeldvorming van die gekose tekste en skrywers. Om ’n idee te gee van die omvang van die bekombare mediaprodukte wat in hierdie tydperk oor Griet skryf ’n sprokie verskyn het, die volgende: Binne 171 dae (omtrent vyf en ’n halwe maand) het daar 43 resensies of artikels verskyn – en dit was lank voor die koms van digitale media. Aangesien Smith en Slippers se debuutwerke ná die koms van digitale media gepubliseer is, is daar in die ondersoek na hierdie skrywers se beeldvorming nie net gekyk na resensies, artikels en onderhoude in koerante en tydskrifte nie, maar ook na ander digitale platforms, soos joernale op die internet, podsendings en webjoernale.

Volgens julle word Marita en Bibi se voorkoms dikwels in bemarking ingespan. Dit gebeur ook in die buiteland met skrywers; ek dink byvoorbeeld aan Donna Tartt. Hoe “regverdig” is dit om uiterlike skoonheid in te span om ’n boek te bemark?

Hennie: Dis absoluut geregverdig na my gevoel. Waarom nie benut dit wat jy pasella deur goeie gene (of met harde werk of deur ’n goeie sjirurg) gekry het nie? Niemand moet my vertel die besonder voordelige kontrakte en borgskappe van (gewese) tennisspelers soos Caroline Wozniacki, Maria Sharapova en Eugenie Bouchard het niks te make met hulle voorkoms nie. Wat maak skrywers ánders? Die feit dat skrywers veroordeel word, spruit uit geykte opvattings van wat ’n “ernstige” skrywer behoort te wees: wars van publisiteit indien nie ’n kluisenaar nie; geklee in eenvoudige klere; armoedig wat kos, drank en vervoermiddels betref.

Dit help waarskynlik om blond, jeugdig en vlot van tong te wees om ’n publiek by woordfeeste na jou optredes te lok. Is dit julle bevinding? Wat is die rol van openbare optredes, boekbekendstellings en TV- en radio-onderhoude om ’n boek tot blitsverkoperstatus te bring?

Hennie: Openbare optredes, boekbekendstellings en TV- en radio-onderhoude – mits dit suksesvol is ‒ kan alles bydra tot beter verkope, maar kan nooit langdurige sukses verseker nie – daarvoor is die “aktuele kanon” te wispelturig en die roete na die “klassieke kanon” te moeilik weens hekkies en hekwagters. Maar daar is nie een skrywersjabloon nie – dalk hou party lesers van jong, sexy blondines, maar daar is net soveel wat eerder ’n beleë en oorwoë vrou (soos Elsa Joubert saliger) verkies óf ’n intellektuele man wat nie noodwendig aantreklik is nie – dink maar aan Marilyn Monroe en Arthur Miller.

Indien ’n ernstige boek onder die publiek se aandag gebring moet word, kan ’n aantreklike voorkoms soms ’n aweregse uitwerking hê? Soveel dat literatuurgeskiedskrywers dalk eendag sal dink populêre skrywers was te frivool om tot die kanon gereken te word?

Hennie: Ek dink jy het gelyk met jou implikasie, en dit skakel beslis met lesersverwagtinge. Ek kan my kwalik voorstel dat die skrywer van ’n boek oor die recces in ’n rok geklee by ’n boekbekendstelling sou kon opdaag; by ’n boek oor cross-dressing waarskynlik wel. Ons behandel die begrip postuur uitvoerig. Dit gaan nie net om voorkoms nie, maar ook oor baie ander dinge: jou etos, jou logo’s, om maar hiermee te volstaan. Lesers verwag verskillende dinge van uiteenlopende skrywers: van iemand wat skryf oor seks darem ’n niekoekerige beeld; by die skrywer van ’n ernstige biografie weer gravitas. Wat jy impliseer oor die digotomie tussen “populêre” en “ernstige” literatuur is dat baie kritici steeds skepties is oor boeke wat goed verkoop en skrywers wie se werk toeganklik – en boonop humoristies – is. Vir baie rym dit nie met “ernstige” letterkunde (intellektueel, betrokke, swaarmoedig, ens) nie.

In julle boek word die vroulike skrywers se voorkomste pertinent genoem. Is daar ook enige verwysings na hierdie aspek van die enigste manlike skrywer, Francois Smith, se beeldvorming en na sy simpatieke persoonlike uitstraling?

Joanita: Soos in die geval van die vroulike skrywers wat as gevallestudies in hierdie boek ondersoek word, gaan Francois Smith se (aantreklike) voorkoms ook nie ongesiens verby nie. ’n Voorbeeld hiervan is die byskrif “Francois Smith, die skrywer van Kamphoer, is soos ’n rockster ontvang” by ’n foto wat Izak de Vries tydens ’n Woordfees-optrede van die skrywer geneem het.

In antwoord op die laaste deel van die vraag: Veral die karakter as spreekbuis van die skrywer kan die postuur help vestig of uitbou. In hierdie verband kan opgemerk word dat die karakter nie noodwendig die direkte spreekbuis van die skrywer hoef te wees nie. ’n Voorbeeld hiervan is die vroulike hoofkarakter in Francois Smith se Kamphoer wat bepaald ’n bydrae gelewer het om hom op indirekte wyse uit te beeld as ’n simpatieke skrywer wat hom in “vroulike trauma” kan inleef, en om ’n bepaalde postuur te (help) skep. Ook die beskrywing van die swart karakter wat haar te hulp snel is in semiotiese terme indeksikaal van Smith se visie op rasseverhoudings.

Julle noem dat “vriendskappe of selfs familieverbintenisse tussen skrywers en bemiddelaars” ’n groot rol speel. Dit is interessant dat Smith se huwelik met Lisbé Smuts (wat later tragies in Wellington vermoor is) as ’n bydraende faktor tot sy sosiale kapitaal genoem word. Verduidelik ’n bietjie hoe sosiale kapitaal werk.

Joanita: Nie alle vriendskappe en ander verbintenisse kan verbind word met subjektiewe (en selfs bevooroordeelde) waardeoordele nie. Dit kan egter ook nie ontken word dat sosiale kapitaal tóg ’n rol in beeldvorming speel nie. Soos in die bespreking van beeldvorming by die ander gevallestudies, wou ons geensins daarop sinspeel dat die verband tussen ’n skrywer en ander (literêre) akteurs die objektiwiteit van die resensie of toekenning van ’n prys aantas nie. Desondanks is die vermelding van bepaalde verbintenisse, as ’n vorm van sosiale kapitaal, tog belangrik in ’n ondersoek na beeldvorming. In hierdie verband is Siegfried J Schmidt se stelling dat die sosiale handelinge van akteurs altyd deur sosiale verhoudings “gekleur” word, dus ook ter sake. Aangesien die verwysing na sosiale handelinge en verhoudings moontlik die idee kan skep dat hier net na vriendskaplike verbintenisse verwys word, is dit belangrik om te onthou dat sosiale kapitaal binne die literêre veld betrekking het op die sosiale netwerke waarvan die persoon deel is (dus ook kollegas en gespreksgenote by literêre aangeleenthede) en na die status wat mens op grond van daardie netwerke verkry.

Dis interessant dat ’n oorkoepelende aspek van die drie romanskrywers is dat almal uitstekende storievertellers was/is wat op baie toeganklike stories konsentreer. Berus die finale beslissing in verband met die blitsverkoperstatus van ’n boek tog uiteindelik op intrinsieke “kwaliteit”, daardie immerontwykende eienskap van “goeie” letterkunde wat so moeilik gemeet kan word?

Hennie: Ek is bly jy plaas “kwaliteit” (gelykstaande met “goeie” letterkunde) tussen aanhalingstekens, want wat ís eintlik “kwaliteit” of ’n “goeie” teks? Volgens wat en volgens wie? Wat is ’n “goeie” motor? Een wat vinnig is? Betroubaar is? ’n Goeie herverkoopswaarde het? Veilig is? Waarde-vir-geld is? Trouens, kan só ’n antwoord sonder konteks gegee word? Is ’n “goeie” motor vir iemand in Afrika (opgeskeep met vrot paaie, min plekke waar gesofistikeerde elektronika herstel kan word, byna geen herlaaiplekke vir elektriese motors nie, ens) dieselfde as vir iemand wat elke dag op ’n autobahn ry? ’n Chevrolet 1949 is wyd beskou as ’n baie goeie motor. Sou ons dit vandag nog as sodanig beskou sonder historiese kontekstualisering? ’n “Goeie” boek sal vir onderskeidelik ’n harde Marxis, ’n formalis, ’n dekonstruktivis, ens telkens radikaal anders wees. Daaruit kan ons aflei dat evaluering gebaseer is op klassifisering: Met ander woorde, jou visie van wat letterkunde is of moet wees, sal bepaal wat jy as goed beskou. Boonop is dit asof daar telkens van sosiale “afsprake” of “stabilisering” sprake is; bepaalde sosiale groepe beskou bepaalde dinge as goed of mooi, terwyl ander hiervoor sal ril. Dink aan dwergies in jou tuin, reuselapas met strooidakke, pizza-oonde, Sweedse meubels, bal-en-klou-meubels, ens. En wat in een tydsgewrig as kitsch bestempel word, is in ’n ander een kuns: Tretchikoff, Claerhout Van Gogh is sprekende voorbeelde. Die smaaksosioloog Pierre Bourdieu gee hiervan genoegsame blyke.

Waardetoekenning hou verband met materiële, historiese en kontekstuele en dergelike faktore. Maar jy kom nie daarvan weg dat binne dieselfde historiese verband sekere objekte (dus ook literêre tekste) “beter” is as ander nie. Neem byvoorbeeld net Shakespeare en sy tydgenote. Jy kan probeer om gemarginaliseerdes “terug te skryf” in die kanon, maar jy sal sukkel om ’n vroueskilder (of swart skilder) te kry wat beter is as Rembrandt of ’n vrouekomponis (of swart komponis) wat beter is as Beethoven. Nie omdat hulle nie die potensiaal het nie, maar weens bepaalde sosiale en historiese faktore.

Julle praat pertinent daaroor dat iemand soos Bibi Slippers as joernalis en TV-persoonlikheid kontakte met onderhoudvoerders en resensente het wat daartoe kan lei dat sulke mense nogal “verpligtings” teenoor haar sou hê. Is dit eintlik moontlik om sonder dergelike netwerke tot die media deur te dring?

Hennie: Ek dink dit is baie moeilik. Daar beland tientalle boeke op ’n boekeredakteur se tafel en slegs enkeles kan geresenseer word. Dit spreek vanself dat die keuse sal val op skrywers wat reeds bekendheid verwerf het (selfs op ander terreine) of weens vriendskap met die skrywer (of iemand na aan hom/haar) of weens vooraf publisiteit of omstredenheid of dalk weens ’n besonder treffende omslag of agterblad.

En dink julle dat dit voordele het om byvoorbeeld by Naspers uit te gee wat ook koerante besit?

Hennie en Joanita: In hierdie verband, en veral ten opsigte van die huidige situasie waarin Naspers bykans alle media-aanbiedings in Suid-Afrika beheer, is die waarskuwing in Hennie se Tussenstand (Van Schaik 2009, bl. 128) ter sake. Daarvolgens is kanonisering ’n proses van insluiting en uitsluiting wat in ′n magspel gegrondves is en betrek hierdie magspel alle verhoudings ‒ hetsy intellektueel, institusioneel, sosiaal of polities.

Aangesien Naspers as mediamaatskappy ook by televisie, radio en die internet betrokke is, moes die gedrukte deel daarvan (tydskrifte, boeke, koerante) saamgegroepeer word. Sedert 2000 staan hierdie afdeling as Media24 bekend. Toe die pos van ’n nasionale boekeredakteur (oorkoepelend vir Die Burger, Beeld en Volksblad) in 2011 deur Media24 geadverteer is, was daar hewige besware. Alhoewel die rede vir die sentralisering en afskaling moontlik ekonomies was, was dit volgens Breyten Breytenbach nie in belang van “die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme” nie (“Nee vir ’n nasionale boekeredakteur”, Versindaba 2011). As redes vir die ontsteltenis is gewys op die feit dat “die boekeredakteur van ’n bepaalde publikasie volle seggenskap [het] oor watter boeke geresenseer gaan word; watter resensente betrek word en hoeveel woorde aan sodanige resensie toegestaan word”. Sedert die publikasie van Kringe in ’n bos (1984) en Griet skryf ’n sprokie (1992) kan die afname in resensies duidelik waargeneem word en dien dit weer eens as ’n bevestiging van die (ekonomiese) magspel binne die literêre veld en die sentrale rol wat Naspers (én sy uitgewerye, koerante en tydskrifte) binne die literêre veld speel. Dat dit bepaalde gevolge het, spreek vanself en kom ter sprake in die slotbevindinge van hierdie boek.

 

Artikels deur Joanita Erasmus-Alt en Hennie van Coller in LitNet Akademies:

’n Verkenning van plaaslike musici se reaksies op die nasionale inperking as strategiese handelinge binne veldteoretiese denke

“Kyk na my”: die beeldvorming van Nataniël

Wording: die rol van die numineuse en mistiek in Sondag op ’n voëlplaas (2013) deur Johann Nell

Literatuur in die marge: Die plek van die middelmoot-literatuur

Die meer “beskeie” opsies van ’n “buitestander”: M. Nienaber-Luitingh in die Afrikaanse literêre sisteem

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top