Die meer “beskeie” opsies van ’n “buitestander”: M. Nienaber-Luitingh in die Afrikaanse literêre sisteem

  • 0

 

Abstract

The more “modest” options of an “outsider”: M. Nienaber-Luitingh in the Afrikaans literary system

A previous article (Van Coller and Odendaal, 2006) has shown that the “outsiders” of Dutch descent H.A. Mulder and Jan Greshoff were, for certain reasons, able to attain authoritative positions in the Afrikaans literary system. As poets and critics with a considerable reputation in the Dutch system, and regarded as representatives of what is considered to be an “authoritative” (colonial centre) system, they could also serve as patrons for pioneering authors (the writers of the Thirties; Etienne Leroux as one of the Sixties writers) in a young and new (previously colonial and peripheral) system. Furthermore, their associations with these pioneers, who soon gained canonical status in the Afrikaans system, contributed towards establishing their status in the Afrikaans system. But how does a foreigner, or an “outsider”, join a literary system like the Afrikaans one if he or she does not have the necessary literary authority and status from the start? In this study we want to focus exploratively on a person upon whom such a lot fell, namely M. Nienaber-Luitingh, who did her most important work as a literator at the University of Natal (now the University of KwaZulu-Natal) in Pietermaritzburg.

Opsomming

Die meer “beskeie” opsies van ’n “buitestander”: M. Nienaber-Luitingh in die Afrikaanse literêre sisteem

In ’n vorige artikel (Van Coller en Odendaal 2006) is aangetoon dat die “buitestanders’’ van Nederlandse herkoms H.A. Mulder en Jan Greshoff om bepaalde redes tot gesaghebbende posisies in die Afrikaanse literatuursisteem kon toetree. As digters en kritici met aansienlike reeds verworwe status in die Nederlandse sisteem, en as verteenwoordigend van daardie “gesaghebbend” geagte (koloniale-sentrum-) sisteem, kon hulle in die nuut-betrede (voorheen koloniaal periferale) sisteem as ’n soort patronaat vir baanbrekende skrywers dien (die Dertigers; Etienne Leroux as Sestiger). Voorts het hul assosiasies met hierdie baanbrekers, wat gou kanonieke status in die Afrikaanse sisteem verwerf het, weer meegewerk om Mulder en Greshoff se status in die Afrikaanse sisteem te bestendig. Maar hoe tree ’n mens as buitelander, oftewel “buitestander”, tot ’n literatuursisteem soos die Afrikaanse toe as jy nie van huis uit met sodanige literêre gesag en aansien beklee is nie? In hierdie studie wil ons die fokus verkennend plaas op ’n figuur op wie so ’n lot geval het, naamlik M. Nienaber-Luitingh, wat aan die Universiteit van Natal (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) in Pietermaritzburg haar belangrikste werk as literator gedoen het.  

 

Die meer “beskeie” opsies van ’n “buitestander”: M. Nienaber-Luitingh in die Afrikaanse literêre sisteem

1. Inleidende opmerkings oor impakstrategieë met betrekking tot literêre sisteme en kanons

Dit was Lauter (1991:21) wat, na aanleiding van ’n uitspraak deur Samuel Johnson, beweer het dat ons die ontdekking van nuwe waarhede minder nodig het as die in-herinnering-roep van ou, bekende waarhede.
 
Herondersoeke na literêre kanons kan in hierdie verband belangrik wees, omdat kanons die rol speel van kollektiewe, hoewel selektiewe, geheues of ideale. Naas die feit dat hulle versamelings tekste behels wat deur ’n kultuurgemeenskap as waardevol geag word – en wat derhalwe bewaar en onderrig word en waarna voortdurend op allerlei maniere verwys word, soos onder meer Mooij (1985), Moerbeek (1992) en Fokkema en Ibsch (1992) aangetoon het – verteenwoordig hulle ook bepaalde modelle van die werklikheid, wat neerkom op waardebepalings van die werklikheid. Die geskiedenis van ’n bepaalde literatuur is dus nie net die neerslag van ’n kulturele geheue nie, maar ook van ’n kultuurgemeenskap se waardebepalings in diachroniese verband – dit wil sê, “gewete eerder as geheue” (Van Coller 1992:168).

Bostaande verklaar dalk waarom toegang tot die kanon so nougeset beskerm word deur sogenaamde “hekwagters”. In ’n artikel van ’n paar jaar gelede (Van Coller en Odendaal 2005b) is in meer besonderhede aangetoon hoe ’n literêre sisteem soos die Afrikaanse sy kern deur outoregulering afskerm van ander sisteme (soos van die Nederlandse en Vlaamse, en die Suid-Afrikaanse Engelstalige sisteme) om sy selfstandige identiteit te kan bewaar. Daar is ook gewag gemaak daarvan dat literêre sisteme ooreenkomste vertoon met wetenskaplike paradigmas, wat telkens ’n “harde kern” bevat wat op verskillende wyses bestendig en feitlik verdedig word.
 
Dit is opvallend hoe die strewe om literêre sisteme, paradigmas én kanons binne te dring of te wysig dikwels in krygsterme verwoord word. In ’n artikel deur Van Coller in 2001 is byvoorbeeld aangetoon hoe die Dertigers as opkomende nuwe skrywersgeslag as ’t ware ’n literêre “aanslag” geloods het op hul Afrikaanse voorgangers. Hulle “veldtog” is geen uitsondering nie, soos blyk uit die optredes van ander skrywersgroeperinge: die Afrikaanse Sestigers, die Nederlandse Tagtigers en Vyftigers, byvoorbeeld, wat hul voorgangers – by wyse van dergelike spreke – dikwels met min genadebetoning krities “afgemaai” het.
 
Wanneer ’n individu (of selfs ’n teks) egter toegang soek tot ’n literêre sisteem, of tot die kern of kanon daarvan, is ’n trompop konfrontasie meestal nie die aangewese optrede nie. Slegs die mees begenadigde individue staan ’n kans om op hul eie ’n bres in die literêre vestings te slaan – en loop daarby steeds die gevaar om krities “in boeie geslaan” en selfs “tereggestel” te word! Laasgenoemde het in ’n sekere sin gebeur met die eenling S.J. Pretorius, wat as ’t ware deur die kritiek verdoem gebly het tot (“gebalsem” geraak het as) Veertiger-digter “van die tweede plan”, al het hy sy digterskap in die dekades daarna hóé vernuwe (Van Coller en Odendaal 2005a:17).
 
Nee, dit is dikwels veel effektiewer om deur indirekte optrede ’n impak op die sisteem of kanon te probeer maak. Indien daar ’n statusryke “patroon” of “skutheilige” is onder wie se beskerming sodanige binnetrede kan geskied, word die poging aanmerklik vergemaklik. In hierdie verband kan verwys word na Abraham Phillips, wat byna eiehandig deur André P. Brink (1992) die Afrikaanse literêre kanon “ingehelp” is deur laasgenoemde se aanprysende inleidende stuk tot Phillips se debuutwerk, Die verdwaalde land. Ook N.P. Van Wyk Louw (1965) se inleiding tot die Sestiger-versamelbundel Rooi was so ’n kanoniserende bemiddelingstrategie; soos ook sy inleiding tot D.P. Botha se Die opkoms van ons derde stand (Louw 1960). 

Verwant hieraan is die wyse waarop (grepe uit) kritici se keuringsverslae vooraf as “aptytwekkers” gepubliseer word: D.J. Opperman s’n oor T.T. Cloete se poësiedebuut, Angelliera, byvoorbeeld (Die Burger, 6 Augustus 1980:1; Beeld, 6 Augustus 1980:1; Die Oosterlig, 6 Augustus 1980:5; Die Volksblad, 6 Augustus 1980:11); of Petra Müller s’n (1993:7) oor Gert Volk Nel se buiging as digter, om te lewe is onnatuurlik. Aanhalings uit studieleier- en eksaminatorsverslae op die skutblaaie van debute wat deesdae met begeleiding op nagraadse vlak voltooi word, val ook in hierdie klas – vergelyk maar net Henning Snyman en Joan Hambidge se aangehaalde opmerkings agterop Carina Stander se die vloedbos sal weer vlieg wat in 2006 verskyn het.

In al die vermelde gevalle kan die strategie van bemiddelde toetrede slegs slaag indien die bemiddelaar, soos gesê, iemand met (literêr-sistemiese) aansien is – iemand met geredelike toegang tot kanoniseringspraktyke.
 
In ’n onlangs voltooide studie van gevalle van “oorgrens-funksionering” tussen die Afrikaanse en Nederlandse sisteme kon die outeurs van die onderhawige artikel (Van Coller en Odendaal 2006) aantoon dat H.A. Mulder en Jan Greshoff om bepaalde redes belangrike rugsteunende en/of wegbereidende rolle kon speel in die opbloei van twee opvallend vernuwende periodes in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, te wete Dertig en Sestig (laasgenoemde in die figuur van Etienne Leroux). Mulder en Greshoff het nie net heelwat bemiddelingswerk tussen die twee sisteme verrig nie, maar ook yker-, mentor- en bevorderaarfunksies in stroomversnellingsfases van die Afrikaanse letterkunde verrig (soos ook die Vlaming Rob Antonissen ’n bietjie later, vanaf die middel-veertiger- en vroeë vyftigerjare, sou doen – vergelyk byvoorbeeld Wiehahn 1965:124–37). Dít was moontlik omdat Mulder en Greshoff reeds erkende digters en kritici in Nederland was (soos Antonissen ’n erkende kritikus en intellektueel in Vlaandere was), met gevestigde reputasies van literêre talentvolheid en uitgebreide literêre verwysingsvelde, vóórdat hulle na Suid-Afrika gekom het. Voorts kon hulle die “gesag” verteenwoordig van die (voorheen) dominante kultuursentra waarvandaan hulle as ’t ware na hierdie literêre “marge” in ’n oudverversingspos en -kolonie uitgewyk het. Trouens, die “gesag” wat Mulder en Greshoff verteenwoordig het, is juis deur byvoorbeeld die Dertigers verwelkom as versterking van hulle eie strewe om deurbrake na die sentrum van die kanon te bewerkstellig.
 
Uit die bestudering van die gevalle Mulder en Greshoff blyk dus dat daar sprake was van ’n gelyktydige indringing tot (die kern van) die Afrikaanse literêre sisteem deur twee groeperinge:

  • Mulder en Greshoff, verteenwoordigend van die “gesaghebbende” Nederlandse literatuursisteem as ’n soort patronaat, het ’n belangrike rol gespeel om die Dertigers (en Etienne Leroux as Sestiger) se deurbraak na die kern van die Afrikaanse letterkundesisteem te bemiddel. 
  • Mulder en Greshoff kon as “buitestanders” tot die Afrikaanse sisteem toetree omdat hulle binne die dampkring verkeer het van die al gou gesentraliseerde Afrikaanse Dertigerbeweging, waar hulle kritiese en skeppende arbeid met agting bejeën is, hulle byvoorbeeld tot die redaksie van Standpunte uitgenooi is, en waar mense soos Van Wyk Louw, W.E.G. Louw, J. du P. Scholtz en Gerrit Dekker soms selfs hulle werk, optrede en denke na dié van die twee Nederlanders gemodelleer het.

Maar hoe tree ’n mens as buitelander, oftewel “buitestander”, tot ’n literatuursisteem soos die Afrikaanse toe as jy nie van huis uit met sodanige literêre gesag en aansien beklee is nie? In hierdie studie wil ons die fokus plaas op ’n figuur wat in so ’n posisie verkeer het, naamlik M. Nienaber-Luitingh, gebore en getoë Nederlander wat aan die Universiteit van Natal (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) in Pietermaritzburg haar belangrikste werk as literator gedoen het.

Miskien is dit nodig om ter oriëntasie eers ’n paar opmerkinge oor die aard van ons ondersoek te maak. Verklarende studies het die doel om oorsaaklikheid aan te dui tussen ’n aantal veranderlikes, wat ook die basis van voorspellende studies vorm (Mouton 1989:45). Beskrywende studies poog om deur wye en noulettende beskrywing tot afleidings te kom. Ons studie maak gebruik van ’n gevallestudie, betrek verskillende inligtingsbronne (selfs "informante"), volg ’n “oop en plooibare navorsingstrategie” (Mouton 1989:43) en vertoon daarom heelwat trekke van verkennende studies, hoewel dit weldeeglik ook verklarende en beskrywende elemente bevat. Op grond van navorsing oor sistemiese verhoudinge het ons gekom tot ’n hipotese wat ons vervolgens aan toetsing onderwerp.

 

2. M. Nienaber-Luitingh: weinig status in die Nederlandse literatuursisteem

Die Nederlands-gebore Wilhelmina (Miep) Luitingh (7 Januarie 1914 – 12 Julie 2002) het haar in 1941 gekwalifiseer as Doctoranda Lingua et Literarum Neerlandicarum aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam (S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns 1969).1

Sy het haar literêr-kritiese tande gesny deur vanaf die tweede helfte van die veertigerjare tot in die vroeë vyftigerjare (eers onder haar eerste huweliksnaam, Van der Bom-Luitingh; vanaf 1951 as M. Nienaber-Luitingh) beskouings oor Afrikaanse letterkundewerke in Critisch Bulletin te publiseer. Onder meer het sy geskryf oor E.C. Pienaar se Digters uit Suid-Afrika en Tj. Buning se Uit ons digkuns; en ook oor verskillende solowerke van ouer digters soos Totius, Dertigers soos Elisabeth Eybers, Van Wyk Louw en Uys Krige, en debutante uit veertigerjare, soos D.J. Opperman en Ina Rousseau.
 
Dié beskouings was primêr bedoel as bekendstellings aan Nederlandse lesers – “sy gee hoofsaaklik inhoudsweergawe, verstrek ‘interessante’ biografiese besonderhede (Uys Krige) en is geneig om die ‘aardsheid’ van die gedigte te oorbeklemtoon” (Wiehahn 1965:90). Dít was dus kwalik genoeg om ’n belangrike stempel as kritikus op die Nederlandse literatuursisteem af te druk.
 
Hoewel sy in die vroeë veertigerjare (dus nog onder haar eerste huweliksnaam) ’n hand vol gedigte in enkele Nederlandse blaaie en bundels,2 en in hierdie en die daaropvolgende jare verskeie verhale in Nederlandse én Afrikaanse tydskrifte gepubliseer het3 (meermale onder ’n skuilnaam), het sy bowendien nie naastenby die aansien van ’n Greshoff of ’n Mulder as fiksieskrywer of digter geniet nie, nie binne Nederlandse óf Afrikaanse literêre kringe  nie.
 
Sy was wel bekend binne die kleiner kring van Afrikaanse studente in Amsterdam tydens die veertiger- en vroeë vyftigerjare, omdat sy die akademiese assistent was van prof. N.A. Donkersloot (ook bekend as die digter Antonie Donker), hoogleraar in die Nederlandse letterkunde aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam waar sy voorheen gestudeer het. Sy is byvoorbeeld alreeds deur W.E.G. Louw tydens sý Amsterdamse studietyd in die laat dertigerjare (Britz 1998:639) aangemoedig om Afrikaans as byvak te neem by die Suid-Afrikaanse dr. Elisabeth Conradie, wat toe aan Donkersloot se departement gedoseer het (Steyn 1998:603). Asof vanselfsprekend het sy later ook van die vroegste lesings bygewoon wat Van Wyk Louw tydens sy jare aldaar (1950–58) as professor gelewer het (Steyn 1998: 608, 644). Daarby het sy sosiaal verkeer met die groep Suid-Afrikaanse studente wat daar gestudeer het en wat almal later invloedryke Afrikaanse literatore sou wees, onder wie P. du P. Grobler, Merwe Scholtz, T.T. Cloete, F.I.J. van Rensburg en C.J.M. Nienaber (Steyn 1998:567–73).

Sy was egter geen gesaghebbende Nederlandse kritikus of literator toe sy op 2 Mei 1951, as weduwee met een dogter (die toe sewejarige Marianne), met C.J.M.  (Stoffel) Nienaber (1918–88) in die huwelik getree en na Suid-Afrika verhuis het nie.4

 

3. Die Nienaber-“patronaat”

Stoffel Nienaber het aan die begin van 1951 die pos as lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal op die Pietermaritzburg-kampus aanvaar (Steyn 1998:604).

Hy was die jongste van die drie nou bekende Nienaber-broers wat almal ’n belangrike rol sou speel binne die Afrikaanse literatuursisteem. Nie net was al drie van hulle hoogleraars in die Afrikaanse letter- of taalkunde nie (G.S. en C.J.M. aan die Universiteit van Natal, P.J. aan die Universiteit van die Witwatersrand), hulle was prominente lede van Afrikaanse organisasies – eintlik (destyds) Afrikaner-organisasies – soos die Afrikaner Broederbond, die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Voortrekkerbeweging, die F.A.K., ensovoorts. Al drie het lang studietydperke binne die Nederlandse taalgebied deurgebring: G.S. (Gawie), die oudste, aan die Rijksuniversiteit van Gent, en P.J. (Petrus) en Stoffel aan die Universiteit van Amsterdam (Nienaber en Nienaber 1987:81, 100). Voorts het al drie prominente rolle gespeel in organisasies wat hul vir wedersydse betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika beywer het. Stoffel was byvoorbeeld lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, die Genootskap Nederland–Suid-Afrika (hoofbestuurslid), die Komitee vir Suid-Afrika se kultuurverdrag met België, en die Komitee vir Toepassing en Advies ten aansien van die Kultuurverdrag tussen Nederland en Suid-Afrika.

Bowendien was die Nienaber-broers persoonlike vriende van belangrike Afrikaanse literatore, skeppende figure en uitgewers en kon hulle deur hulle verbintenisse en werksaamhede as agente en/of hekwagters kanoniserende funksies binne die Afrikaanse literêre wêreld vervul. (Kyk Nienaber en Nienaber 1987:68–89, veral 87–9; ook Van Coller 1990:311–15.)

Dié Nienaber-“patronaat”5 was waarskynlik aanvanklik die deurslaggewende bemiddelende meganisme waardeur Nienaber-Luitingh ’n rol binne die Afrikaanse literatuursisteem kon verwerf. ’n Ander strategie was skynbaar om as ’t ware eers op die periferie van die Afrikaanse sisteem werksaam te wees voordat sy haar algaande toenemend aktiwiteite veroorloof het wat nader aan die kern daarvan gesitueer was. Oor laasgenoemde later meer.

3.1 G.S. Nienaber

Gawie, die oudste Nienaber-broer, was ’n uitnemende akademikus wat, naas belangrike taalkundige bydraes oor die ontstaan van Afrikaans, seminale werk oor Khoi-Afrikaans gedoen het. Daarby het hy ook letterkundige bydraes geskrywe, onder andere saam met sy broer Petrus en die bekende letterkundige en kritikus A.P. Grové (Sinclair 1983:23). Gawie was nie net een van die mees invloedryke persone in die destydse Natal en aan die Natalse Universiteit vanaf die laat vyftigerjare tot die sewentigerjare nie, digters soos D.J. Opperman (’n oudstudent), Ernst van Heerden (by geleentheid aflos-dosent aan die Universiteit van Natal) en Sheila Cussons, asook literatore soos A.P. Grové, P.D. van der Walt, P. du P. Grobler, Elize Botha, A.J. (Ampie) Coetzee, Jacques van der Elst en andere het by tye in sy werkkring aldaar verkeer en hoë agting vir hom gehad; en met baie was hy goed bevriend.

Die aanstelling van Miep Nienaber-Luiting in 1960 in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal se Pietermaritzburg-kampus (nadat sy kennelik byna ’n dekade lank van tyd tot tyd betrokke was, saam met haar man Stoffel en A.P. Grové, by die aanbieding van ’n kursus aldaar oor stylkritiek)6 het geskied toe Gawie hoof van dié departement was. Toe was, soos reeds gesê, ook Stoffel dosent in dieselfde departement. Nienaber-Luitingh was as Neerlandikus uiteraard ’n belangrike toevoeging tot die departement en het deur die jare ’n beduidende invloed op die kurrikulum én op die studente aldaar uitgeoefen (Van Zuydam 2006). Wat egter waarskynlik lyk, is dat so ’n openbare erkenning van haar akademiese vermoëns, en dit te midde van sulke gesiene persoonlikhede in die Afrikaanse sisteem,7 bygedra het tot die vestiging van haar reputasie in dié verband.

Gawie sê later onomwonde (Nienaber en Nienaber 1987:43) dat hy vir Stoffel, wat vyftien jaar jonger as hy was, “as broer meer gedoen het as vir enigeen van die ander”. Dit is waarskynlik dat die skep van akademiese geleenthede ook vir Miep, as Stoffel se vrou, hieronder tuishoort.

3.2 P.J. Nienaber

Oor Petrus Nienaber se bydraes is reeds baie geskrywe (kyk Van Coller, 1990), en ’n groot deel is waarskynlik steeds onvermeld. Sý werk is al binne bepaalde kringe afgemaak as kompilasiedrif of blote versamelwerk, ook vanweë die drif (en oorhaastigheid) waarmee hy dinge aangepak het. Desondanks staan groot dele van sy nalatenskap vandag as fondamente van belangrike onderdele van die Afrikaanse literêre huis: sy arbeid binne die verband van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns; die oprigting van die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum (Naln); sy werk op die terrein van die histories-bibliografiese en op die gebied van die edisiewetenskap (kyk Van Coller en Teise 2004) – noem eintlik maar op.
 
Wat ’n onomstootlike feit is, is dat Petrus Nienaber, nes sy ouer broer, ’n besonder invloedryke persoon was binne die Afrikaanse kultuurlewe. Vir die doeleindes van hierdie studie is veral die feit relevant dat hy die inisieerder en, tot met die 1982-uitgawe, die redakteur was van die baanbrekend “meerstemmige” Afrikaanse literatuurgeskiedenis Perspektief en profiel – “meerstemmig” in die sin dat dit geskryf is deur ’n veelvoud van vakkundiges. Dat Nienaber-Luitingh in 1960 profiele bygedra het oor sowel M.E.R. as Uys Krige (laasgenoemde aanvanklik in mede-outeurskap met T.T. Cloete, maar in latere uitgawes van die boek slegs onder háár naam), was ’n belangrike kanoniseringsoptrede vir haar as literator – en daarvoor verdien Petrus Nienaber deels die dank. Dié twee profiele is, ná bywerking en die aanbrenging van enkele wysigings deur haar,  oorgeneem in die 1998-uitgawe van Perspektief en profiel, deel 1, dié keer onder die redakteurskap van H.P. van Coller.

3.3 C.J.M. Nienaber

Soos reeds vermeld, is die jongste Nienaber-broer, Stoffel, in 1951 as lektor aangestel te Pietermaritzburg, waar hy in 1965 medeprofessor en in 1969 professor en hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands geword, en dit gebly het tot met sy aftrede in 1983 (Anoniem 1983:3). Naas fiksiewerke, soos ’n aantal kortverhale en die baanbrekende 1946-novelle Keerweer (kyk die waarderings van die vernuwende aard van laasgenoemde deur Kannemeyer 1983:47, Botha 1980:320 en Brink 1975:11), het Stoffel oor die jare gereeld akademiese artikels en ook enkele akademiese boekbydraes en boeke gepubliseer. Hy was, soos sy broers, ’n goeie vriend van belangrike uitgewers soos Danie van Niekerk en J.J. (Koos) Human en het vanaf 1984, die jaar ná sy aftrede as hoogleraar, redakteur geword van die belangrike kanonversterkende instrument, die Blokboek-literatuurstudiereeks by Academica (’n tak van Human & Rousseau-uitgewers – kyk Nienaber en Nienaber 1987:101).
 
Behalwe dat dit onder sy departementshoofskap was dat Nienaber-Luitingh eers bevorder is tot senior lektor (1969) en toe tot medeprofessor voordat sy in 1979 op 65-jarige ouderdom afgetree het, het Stoffel klaarblyklik ook ’n belangrike bemiddelingsrol gespeel in haar publikasiegeskiedenis hier in Suid-Afrika.8 Van haar eerste werke wat hier gepubliseer is, verskyn in die vyftiger- en sestigerjare in Standpunte, ’n tydskrif waartoe Stoffel daardie jare ’n gereelde bydraer was en waarin sy oud-Natalse vriend, D.J. Opperman, as kernredaksielid ’n belangrike rol gespeel het. Van haar belangrikste kritiese werk, in daardie tyd maar ook later, was oor die digteres Elisabeth Eybers, oor wie se gedig “Maria” haar man Stoffel gepromoveer het – hoewel dit verkeerd is om af te lei dat haar Eybers-belangstelling hieruit voortgespruit het: sy het al sedert die 1940's resensies en bekendstellings oor Eybers gepubliseer, op ’n tydstip toe haar toekomstige man nog besig was met sy proefskrif oor Eybers.
 
Vanaf die sestigerjare sou man en vrou meermale saam publiseer:

  • vanaf 1960 as medesamestellers van die bloemlesing Moderne Nederlandse gedigte, veral vir voorgraadse doseer- en studiedoeleindes;
  • as mede-outeurs, vanaf 1962, van die literatuurstudieboek Woordkuns, wat al in 1952 die eerste keer onder Miep se naam verskyn het9(en uitgebrei is vir die 1962-uitgawe), nadat C.J.M. Nienaber se naam tot hare toegevoeg is;
  • in 1972 as outeurs van afsonderlike artikels in ’n supplementum van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe;
  • in 1975 as outeurs van aparte artikels (twee deur Miep, een deur Stoffel), saam met ’n dosyn ander bydraers, oor aspekte van Elisabeth Eybers se digterskap in die opstelbundel ter geleentheid van Eybers se sestigste verjaarsdag, Ter wille van die edel spel, saamgestel deur Nienaber-Luitingh self; 
  • drie jaar later met die medewerking van ’n derde Natalse Afrikaans-dosent, H.J. (Dranus) Vermeulen as medesamestellers van Poort 1978: ’n keur uit die werk van hoërskoolleerlinge, ook ’n publikasie van die S.A. Akademie waarin die Nienabers so ’n belangrike rol gespeel het;
  • in 1987 as samestellers van die tematiese Afrikaanse bloemlesing Die braambos brand – ’n Keur van godsdienstige gedigte.

’n Laaste geval van publikasies deur Nienaber-Luitingh waarin die (waarskynlik gedeeltelike) bemiddeling van Stoffel Nienaber sigbaar word, betref die reeds vermelde literatuurstudiereeks Blokboeke,waarvoor haar man se ou Natalse vriend, D.J. Opperman, aanvanklik die redakteurskap behartig het, terwyl Stoffel dié taak van 1984 tot sy dood in 1988 oorgeneem het. Uit Nienaber-Luitingh se pen het in dié reeks studies verskyn oor Die vroeëre en latere poësie van Elisabeth Eybers, oor die Nederlandse Beweging van Tagtig, oor die vroueverhalebundel Kwartet, oor E. Kotze se Halfkrone vir die nagmaal en oor Elsa Joubert se roman Bonga.

 

4. Nienaber-Luitingh: vanaf die periferie algaande na die sentrum van die Afrikaanse literatuursisteem

Daar is genoem dat Nienaber-Luitingh voorts vanaf die periferie algaande na die sentrum van die Afrikaanse literatuursisteem toe gewerk het. Of dit ’n bewuste strategie was, kon ons nie vasstel nie. Die verloop van sake soos ons dit hierna beskryf, laat egter wel so ’n trajek van wetenskaplike en kritiese werksaamhede blyk.

Soos Mulder en Greshoff het sy veral aanvanklik (toe sy nog in Nederland woonagtig was, en daarna vir enkele jare – tot 1955 – nog vanuit Suid-Afrika) bemiddel oor die grens tussen die Afrikaanse en Nederlandse sisteme heen, byvoorbeeld met die genoemde besprekings van Afrikaanse werk in Critisch Bulletin, of deur as Donkersloot se assistent ’n artikel vir die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam se blad Folia Civitatis te skryf oor N.P. Van Wyk Louw en Raka, om saam te val met Louw se voorlesing van dié werk aldaar op 12 Desember 1950 (Steyn 1998:608, 644).
 
Daarna sou sy uitsluitlik in Suid-Afrika en oorwegend in Afrikaans publiseer, ook oor Nederlandse onderwerpe, soos oor die poësie van M. Vasalis (1956), die kunstenaarsfiguur in die werk van Louis Couperus (1961a) en die Beweging van Tagtig (1977a), asook die inleidende besprekings wat sy in die reeks Literatuur uit die Lae lande geskryf het oor Bordewijk se Karakter (1975b), Van Schendel se De waterman (1977b) en Aafjes se Morgen bloeien de abrikozen (1982). ’n Viertal artikels deur haar oor Nederlandse onderwerpe het wel nog in Suid-Afrika in Nederlands verskyn: een oor ’n gedig van A. Roland Holst (1962a); drie verderes met as titels “Naar aanleiding van Nijhoffs ‘Florentijns Jongensportret’” (1963), “Beknopte inleiding tot het leven en het werk van de schrijfster Neel Doff” (1984a) en “Brandend van den Heiligen Geest” (oor Gerrit Achterberg – 1985a).

In hierdie opsig het sy dus ietwat anders te werk gegaan as H.A. Mulder (aanvanklik) en Jan Greshoff, wat hier in Suid-Afrika voortgegaan het om baie of oorwegend in Nederlands te skryf. Waar Mulder en Greshoff die status van die groter en tradisieryker Nederlandstalige sisteemkompleks bly verteenwoordig het, het Nienaber-Luitingh haar Nederlandse identiteit in ’n ruimer mate prysgegee. Haar vereenselwiging met dié van haar man (en sy invloedryke familie hier in Suid-Afrika) mag op die oog af lyk na opportunisme, maar daar is heelwat getuienis10 dat sy ’n onafhanklike vrou met integriteit was. Vir haar as getroude vrou met ’n nuwe gesin was sodanige vereenselwiging met die Afrikaanse wêreld van haar man, gegewe die konteks van destyds, redelik vanselfsprekend. Uit die voorafgaande blyk egter ook dat daar strategies waarskynlik min ander keuses vir haar in haar literatorsloopbaan hier in Suid-Afrika bestaan het: sistemiese kragte bepaal in ’n groot mate die wyse waarop toegetree kan word tot ’n literêre veld of waarop ’n kanon binnegedring kan word. (Kyk ook Van Coller 2002a en 2002b.)

’n Ander uitdrukking van haar aanvanklik “periferale”, buitekanonieke bemoeiing in die Afrikaanse literêre veld is dat Nienaber-Luitingh haar ná haar vestiging in Suid-Afrika in die vyftigerjare toegespits het op meer “neutrale”, literêr-teoretiese en literêr-didaktiese sake, soos vergestalt in die boeke Woordkuns (eerste uitgawe 1952, soos genoem aanvanklik onder haar naam alleen; later, vanaf 1962, in mede-outeurskap met haar man) en Vorm en inhoud (eerste uitgawe 1954; vanaf 1971 hersien en, steeds slegs onder die naam van die uitgewer, naamlik Afrikaanse Pers-Boekhandel, uitgegee met as titel Digters en digsoorte). Voorts publiseer sy in hierdie dekade ’n kinderboek (Elisabeth, die mensfeetjie, 1957c), en in Standpunte, asof versigtigerwys, eers oor Nederlandse outeurs (M. Vasalis, wat ’n tydperk in Suid-Afrika deurgebring het en na aanleiding daarvan enkele gedigte geskryf het – April/Mei 1956) en oor enkele werke van in die kanon stewig gevestigde Afrikaanse skrywers (“Die vertellings van M.E.R.”, Mei en Desember 1957; “Kanttekeninge by Eugène Marais se Boesmangedigte”, Mei/Junie 1958; “Die Lied en die Dans van die Reën”, Oktober 1959).
 
Vanaf die jare sestig, nadat sy by die Universiteit van Natal aangestel is, het sy met groter selfvertroue in die Afrikaanse literêre veld begin optree. In dié dekade verskyn uit haar pen die genoemde profiele oor Krige en M.E.R. (albei 1960; in 1969 skryf sy ook ’n artikel oor Krige vir die tydskrif Lantern); ’n beknopte biografie vir die jeug oor Eugène Marais (1962b); ’n reisboek oor Griekeland (1966b); die genoemde Nederlandse poësiebloemlesing (saam met C.J.M. Nienaber, 1960), die blokboek oor Eybers (1966a); en artikels oor enkelgedigte deur Marais (1961b), A. Roland Holst (1962a), Nijhoff (1963) en Eybers (1967 en 1968a) in, onderskeidelik, die tydskrifte Standpunte, Theoria, en The Bluestocking.

Die sewentigerjare verteenwoordig die hoogtepunt in haar loopbaan as kritikus: sy

  • tree op as redaktrise van die bundel opstelle Ter wille van die edel spel (1975a) oor Eybers (waarin sy self twee nuwe artikels publiseer);
  • stel ’n bloemlesing uit Eybers se poësie saam (1978b);
  • skryf drie artikels oor onderskeidelik Eybers se digterskap (Lantern, Maart 1970), ’n Eugène Marais-gedig (Tydskrif vir geesteswetenskappe, Desember 1972) en ’n vers van Opperman (Standpunte, Augustus 1979);
  • skryf die Literatuur uit die Lae Lande-inleidings wat reeds genoem is (hoewel die inleiding tot Aafjes se Morgen bloeien de abrikozen eers in 1982 publiseer is), asook die reeds vermelde Blokboek oor die Nederlandse Tagtigers (1977a);
  • help die genoemde Poort­-uitgawe saamstel (1978);
  • publiseer ’n werkboekie vir leerlinge (Wat sê die digters [g.d.]) oor gedigte in die bloemlesing Digters en digsoorte wat sy sedert die vyftigerjare help saamstel het; en
  • bloemlees, met die oog op haar aftrede in 1979, haar artikels (waarin een nuwe artikel, oor Couperus, wat reeds in 1961 as referaat gelewer is) in Uit twee letterkundes (Nienaber-Luitingh 1978a).

As ’n soort naspel lewer die tagtigerjare nog die genoemde Blokboeke oor Kwartet, Halfkrone vir die nagmaal en Bonga, die reeds vermelde religieuse gedigtekeur Die braambos brand saam met haar man, asook vier artikels in Standpunte op (oorsigte oor Achterberg en Doff se werk, en twee poësiekronieke). In 1990 hoor ons nog van haar as sy ’n opstel getiteld “Elisabeth Eybers: tussen Suid-Afrika en Nederland” bydra tot die huldigingsbundel Uit liefde en ironie (Ester en Lindenberg 1990) by die 65ste herdenking van Eybers se geboortedag. In 1998 verskyn haar laaste publikasie: ’n essay, “Een ontmoeting”, in Oorbrugging, ’n huldigingsbundel vir W.F. Jonckheere (Van der Berg 1998).

Uit hierdie oorsig spring nog die volgende ongenoemde kenmerke van Nienaber-Luitingh se literatorskap in die oog:

  • Sy het haar veral as ’n gesaghebbende waardeerder van Eybers se digterskap gevestig, hoewel sy ook as ’n kenner van veral Eugène Marais, M.E.R. en Uys Krige se werk beskou kan word.
  • Baie van haar navorsingswerk was oor vroueskrywers en hul werke.
  • Heelparty van haar studies het analises van enkelwerke behels.

 

5. Waardepeilings van Nienaber-Luitingh se literêr-kritiese bydrae11

Hoewel bondige waardepeilings van Nienaber-Luitingh se kritiese werk reeds in 1965 deur Wiehahn en in 1978 deur Kannemeyer gedoen is – hulle bestempel dit as oorwegend “deeglik en  indringend”, en haar oordele as “dikwels suiwer” 12 – is dit die bundeling van haar kritiese opstelle in Uit twee letterkundes in 1979 wat ’n gepaste geleentheid gebied het vir haar eweknieë in die Afrikaanse sisteem om haar bydrae te evalueer.
 
Hulle oordele is oorwegend positief: die wyse waarop sy die leser die verbande van die “stamlande” se letterkunde met die Afrikaanse voor oë hou, word aangeprys (Gerrit Olivier 1979:32, Grobler 1979:16, Brink 1979:5, Raidt 1979:1); die deeglikheid en onderlegdheid, die “vakmanskap” wat uit haar studies spreek, word deurgaans beklemtoon, asook die vermoë tot toeganklike, heldere formulering. Daar was ook heelwat waardering vir die feit dat Nienaber-Luitingh geen vertonerige kritikus was nie; eerder “nederig” (Fanie Olivier 1979:11) en “beskeie” (Brink 1979:5; Raidt 1979:1), “stil” (Brink 1979:5), en “besadig” (Fanie Olivier, 1979:11). Johl (1979:7), wat enkele jare hierna ’n boek sou publiseer oor die literatuurteorie in die Afrikaanse sisteem (Johl 1986), noem ter begronding van laasgenoemde dat Nienaber-Luitingh haar byvoorbeeld nie skuldig maak aan “teoretiserings” nie, maar tog duidelik laat blyk dat sy bewus is van teoretiese probleme; ook “reageer [sy] nooit dogmaties of kategories nie, maar voer […] ’n tweegesprek met opponerende beskouings, verskil gemotiveerd of gee soms ’n teenargument gelyk”.

Die bestempeling “beskeie” het soms egter ook ’n negatiewe oordeel bevat: dié van “middelmatigheid” (’n woord wat Gerrit Olivier (1979:32) gebruik, darem met ’n effens relativerende “nogal”). Of soos Brink (1979:5) dit in sy bondige resensie stel: “Nie ’n bundel wat bakens in die Afrikaanse literatuurkritiek verlê nie.”

Johl (1979:7) en Gerrit Olivier (1979:32) wys op neigings in haar kritiek wat hinder: die “gemak” waarmee sy verbande lê tussen werk en “realiteit” of “lewenservaring” (onderskeidelik verteenwoordigend van ’n mimetiese en ’n psigologistiese literatuurbeskouing), en die neiging om kunsteoretiese lae uit gedigte te wil diep – laasgenoemde kenmerkend van die werk van die outonomistiese sogenaamde “linguistiese stilistici” (waartoe Wiehahn, 1965:164–5, byvoorbeeld Stoffel Nienaber se proefskrif oor “Maria” van Elisabeth Eybers gereken het).
 
Dit is glad nie in hierdie sin dat die woord beskeie in die titel van hierdie artikel gebruik word nie. Dit gaan hier oor hoe hierdie literator, as aanvanklike “buitestander”, en in ’n tydperk van toenemende vervreemding tussen die Afrikaanse en Nederlandse sisteme weens politieke omstandighede (kyk Van Coller en Odendaal 2005c:31–4), die strategiese moontlikhede tot haar beskikking in die Afrikaanse literêre veld kon benut (bewustelik of onbewustelik) om uiteindelik ’n beduidende en grootliks gewaardeerde plek daarin in te neem – hierdie strategiese moontlikhede synde: 

  • agentskappe soos die patronaat van veral die Nienabers, asook hulle invloedryke vriendekring;
  • bepaalde instrumente, waaronder die intersistemies bemiddelende en onomstrede aard van die onderwerpe waaroor sy (veral aanvanklik) geskryf en bloemlesings saamgestel het, totdat sy haar as gesaghebbende oor bepaalde Afrikaanse skrywers se werk kon profileer;
  • bepaalde institusies, soos die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Natal, waar sy ’n aanstelling kon vind en selfsaamgestelde boeke kon voorskryf; die tydskrif Standpunte (waarskynlik ook via haar man se goeie verhouding met die redaksie); die uitgewery Human & Rousseau; en die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns (waarskynlik ook via haar man en swaers se akademiese en kulturele netwerke).

Sy kon klaarblyklik nie, soos Greshoff, Mulder en ook Antonissen voor haar, as literêre skutheilige of patroon van buite optree vir ander in die Afrikaanse sisteem nie; dit lyk of sý die meer afhanklike een was hierdie verband.

 

Bibliografie

Anoniem. 1983. The Natal Witness, 10 November.

Botha, Elize. 1980. Prosa. In Cloete (red.) 1980.

Brink, André P. 1975 [1967]. Aspekte van die nuwe prosa. Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1979. [Resensie oor Uit twee letterkundes.] Rapport, 7 Oktober.

—. 1992. Inleiding. In Phillips, Abraham 1992. Die verdwaalde land. Somerset-Wes: Queillerie.

Britz, E.C. 1998. (Profiel van) W.E.G. Louw (1913–1980). In Van Coller (red.). 1998.

Cloete, T.T. (red.). 1980. Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Goodwood: Nasou Beperk.

Ester, Hans en Ernst Lindenberg (reds.). 1990. Uit liefde en ironie. Liber amicorum Elisabeth Eybers. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg-uitgewers.

Fokkema, Douwe en Elrud Ibsch. 1992. Literatuurwetenschap en cultuuroverdracht. Muiderberg: Dick Coutinho.

Grieshaber, Nicky (red.). 1983. Same-sein vir Stoffel Nienaber. Pietermaritzburg: Departement Afrikaans en Nederlands.

Grobler, Hilda. 1979. Letterkunde in die kollig. Hoofstad, 15 Maart.

Johl, Ronèl. 1979. Uit twee letterkundes gee insig. Die Transvaler, 12 Mei.

—. 1986. Kritiek in krisis: Vryheid vir die teks. Durban: Butterworth.

Kannemeyer, J.C. 1978. Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 1.  Kaapstad en Pretoria: Academica.

—. 1983. Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 2.  Kaapstad en Pretoria: Academica.

—. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Lauter, Paul. 1991. Canons and Contexts. New York en Oxford: Oxford University Press.

Louw, N.P. Van Wyk. 1960. Voorwoord. In Botha, D.P. 1960. Die opkoms van ons derde stand. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1965. Inleiding. In Brink, André P. Rooi. Sketse en essays. Kaapstad: Malherbe.

Moerbeek, J. 1992. Hoe elastisch is de canon? Spieghel der Letteren, 34(3/4):333–57.

Mooij, J.J.A. 1985. Noodzaak en mogelijkheden van canonvorming. Spektator,15:23–31.

Mouton, J. en H.C. Marais. 1989. Metodologie van die geesteswetenskappe: Basiese begrippe. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Müller, Petra. 1993. Pit van die liefde in debuut: ontploffing van poësie wat die gewone mens verstaan. Die Burger, 3 Augustus.

Nienaber, P.J. (red.). 1960. Perspektief en profiel. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Nienaber, G.S. en E.M. Nienaber (samestellers). 1987. Die Nienabers van Erfdraai. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Nienaber, C.J.M. en M. Nienaber-Luitingh. 1960. Moderne Nederlandse gedigte. Tweede, omgewerkte uitgawe 1967. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.

Nienaber, C.J.M. en M. Nienaber-Luitingh (samests.). 1987. Die braambos brand. ’n Keur van godsdienstige gedigte. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

Nienaber, C.J.M., M. Nienaber-Luitingh en H.J. Vermeulen (samests.). 1978. Poort 1978: ’n keur uit die werk van hoërskoolleerlinge. Goodwood: Nasou.

Nienaber-Luitingh, M. [197-?]. Wat sê die digters? (Weergawes van gedigte, kontekstuele en toeligtende vrae van gedigte uit Gedigte en gedigsoorte – kyk Nienaber-Luitingh, M. 1954/1971.). Johannesburg: Afrikaanse Pers. 

—. 1952a. D.J. Opperman: Groot verseboek. Critisch Bulletin, Maart:176-179.

—. 1952b. De verlossing van de engel (oor D.J. Opperman se Engel uit die klip). Critisch Bulletin, Oktober, 407–15.

—. 1952c. Woordkuns. Pretoria: J.L. van Schaik. (Vanaf 1962, in uitgebreide formaat, in mede-outeurskap met C.J.M. Nienaber uitgegee.)

—. 1954. Vorm en inhoud. Johannesburg: Afrikaanse Pers. (Hersien as Digters en digsoorte vanaf 1971.)

—. 1955a. Ina Rousseau: Die verlate tuin. Critisch Bulletin, Maart, 110–13. 

—. 1955b. Enkele aantekeningen bij ‘Klipwerk’. Critisch Bulletin, Augustus, 350–55. 

—. 1955c. D.J. Opperman: Periandros van Korinthe. Critisch Bulletin, Augustus, 355–61. 

—. 1956. Oor die poësie van M. Vasalis. Standpunte, X(5), April/Mei, 62–70. (In omgewerkte vorm en met titel “Aspekte van die poësie van M. Vasalis” opgeneem in Nienaber-Luitingh, M. 1978a.)

—. 1957a en b. Die vertellings van M.E.R. Standpunte, XI(5 en 6), Mei en Desember, 78–86. (Omgewerk en as eenheid herpubliseer in Nienaber-Luitingh 1978a.)

—. 1957c. Elisabeth, die mensfeetjie. Grahamstad en Stellenbosch: Universiteitsuitgewers Beperk.

—. 1958. Kanttekeninge by Marais se Boesmangedigte. Standpunte, XII(3), Mei/Junie, 46–50. (Omgewerk tot “Die titels en subtitels van Marais se Boesmangedigte” en herpubliseer in Nienaber-Luitingh 1978a.)

—. 1959. Die Lied en die Dans van die Reën. Standpunte, XIII (1), Oktober, 11–20.  (Omgewerk en herpubliseer in Nienaber-Luitingh, M. 1978a.)

—. 1960a. (Profiel oor) Uys Krige. In Nienaber (red.) 1960.

—. 1960b. (Profiel oor) M.E.R. In Nienaber (red.). 1960.

—. 1961a. Die kunstenaarsfiguur in die werk van Louis Couperus.  Lesing aangebied vir die Afrikaanse Studiekring op Stellenbosch in April. (Later gepubliseer in Nienaber-Luitingh 1978a.)

—. 1961b. Die Sanger van die Boesmanliedjie “Die spore van die Hart-van-die-dagbreek”. Standpunte, VIV (5), Junie, 62–4.

—. 1962a. Tweërlei oordeel over Helena van Troje. Theoria, 15, Junie, 38–41. (Later, in uitgebreide vorm en in Afrikaans onder die titel “By ’n klein gedig van A. Roland Holst”, opgeneem in Nienaber-Luitingh 1978a.)

—. 1962b. Eugène Marais (Profielreeks nr. 1). Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1963. Naar aanleiding van Nijhoffs ‘Florentijns Jongensportret’. Standpunte, XVI(3), Februarie, 38–40.

—. 1966a. (Blokboekbespreking van) Die vroeëre en later poësie van Elisabeth Eybers (Blokboek 4). (Later, in 1979, verwerk met as titel Die poësie van Elisabeth Eybers.) Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1966b. In die skaduwee van die Akropolis. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1967. ’n Gedig oor kunstenaarskap? (Oor Elisabeth Eybers se “Op die kruin”). Standpunte, XX (5), Junie, 418. (Later herpubliseer in Nienaber-Luitingh 1978a.)

—. 1968a. By ’n klein gedig van Elisabeth Eybers. The Bluestocking, Journal of the South African Association of University Women, XXX(6), April. (Later omgewerk en herpubliseer in Nienaber-Luitingh 1978a.)

—. 1968b. Eugène N. Marais. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel 1. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

—. 1969. Uys Krige. Lantern, 18(3), Maart, 24–39.

—. 1970. Die digteres Elisabeth Eybers. Lantern, 19(3), Maart, 21–33.

—. 1972. Kanttekeninge en vraagtekens by “Waar Tebes in die stil woestyn”. Tydskrif vir geesteswetenskappe, 12(4), Desember, 285–92.

—. (samest.). 1975a. Ter wille van die edel spel. ’n Bundel saamgestel ter geleentheid van Elisabeth Eybers se sestigste verjaardag. Pretoria en Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1975b. Inleiding tot Karakter, roman van zoon en vader (F. Bordewijk). Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1977a. (Blokboekbespreking van) Beweging van Tagtig. Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1977b. Inleiding tot De waterman (Arthur van Schendel).  Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1978a. Uit twee letterkundes. Artikels oor aspekte van die Afrikaanse en die Nederlandse letterkunde. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

—. (samest. – hoewel slegs uitgegee onder die naam van Tafelberg-uitgewers). 1978b. Elisabeth Eybers. Gedigte 1936–1958. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

—. 1979. ’n Moderne Nebukadneser (oor Opperman se “Stem uit die spelonk”). Standpunte, 14 (32:4), Augustus, 27–33.

—. 1981. (Blokboekbespreking van) Kwartet. Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1982. Inleiding tot Morgen bloeien de abrikozen (Bertus Aafjes). Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1984a. Beknopte inleiding tot het leven en het werk van de schrijfster Neel Doff. Standpunte, 173 (37:5), Oktober, 16–27.

—. 1984b. Poësiekroniek. Standpunte, 169 (37:1), Februarie, 34–43.

—. 1985a. Brandend van den Heiligen Geest. Standpunte, 177 (38:3), Junie, 46–57.

—. 1985b. Poësiekroniek. Standpunte, 176 (38:2), April, 29–34.

—. 1986. (Blokboekbespreking van) Halfkrone vir die nagmaal (E. Kotzé). Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1988. (Blokboekbespreking van) Bonga (Elsa Joubert). Pretoria en Kaapstad: Academica.

—. 1990. Elisabeth Eybers: tussen Suid-Afrika en Nederland. In Ester en Lindenberg 1990.

—. 1998. Een ontmoeting. In Van der Berg (red.) 1998.

Olivier, Fanie. 1979. Waardevolle werk deur nederige kritikus. Die Burger, 10 Mei.

Olivier, Gerrit. 1979. Luitingh-werk deeglik. Die Vaderland, 29 November.

Raidt, E.H. 1979. Selfstandig en oorwoë. Die Oosterlig, 12 Junie.

Sinclair, A.J.L. (red.). 1983. G.S. Nienaber ’n huldeblyk. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.

S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1969.  Voorstelvorm vir Fakulteitslede van die Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe: Wilhelmina Nienaber-Luitingh.

Stander, Carina. 2006. Die vloedbos sal weer vlieg. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw. ’n Lewensverhaal (2 dele). Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

Van Colller, H.P. 1990. P.J. Nienaber: Tagtiger. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 30(4), Desember, 311–15.

Van Coller, H.P. 1992. Die Afrikaanse letterkunde en taalvaardigheid binne die konteks van kommunikasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 32(3), September,165–77.

Van Coller, H.P. (red.) 1998. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

Van Coller, H.P. 2001. N.P. Van Wyk Louw as kanoniseerder. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 41(1), Maart, 63–72.

—. 2002a. Die saamstel van bloemlesings as kanoniserende handeling. Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(1), Maart, 66–77.

—. 2002b. Die saamstel van bloemlesings as kanoniserende handeling. Deel 2. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(2), Junie, 117–27.

Van Coller, H.P. en B.J. Odendaal. 2005a. S.J. Pretorius: ’n miskende digterskap? Stilet, 17(1), Maart 2005, 1–36.

—. 2005b. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 1: Oorwegings vir ’n beskrywende model. Stilet, 17(3), September, 1–17.

—. 2005c. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 2: ’n Chronologiese oorsig. Stilet, 17(3), September, 18–46.

—. 2006. Drie gevalle van "oorgrens-funksionering" tussen die Afrikaanse en Nederlandse literatuursisteme gedurende die twintigste eeu: H.A. Mulder, Jan Greshoff en Elisabeth Eybers. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 13(2), 81–103.

Van Coller, H.P. en V. Teise. 2004. Edisietegniese praktyk in die Afrikaanse letterkunde: ’n oorsig en evaluering. Stilet, 16(2), September, 49–86.

Van der Berg, D.Z. (red.). 1998. Oorbrugging: ’n Huldigingsbundel vir W.F. Jonckheere. Howick: Brevitas.

Van der Bom-Luitingh, M. 1947a. De Afrikaanse dichteres Elisabeth Eybers. Critisch Bulletin, Mei, 198–203.

—. 1947b. (Bespreking van) N.P. Van Wyk Louw’s Raka. Critisch Bulletin, November, 387–92.

—. 1948a. (Bespreking van) Eybers’ Die ander dors. Critisch Bulletin, Maart, 109–11.

—. 1948b. (Bespreking van) N.P. Van Wyk Louw’s Gestaltes en diere. Critisch Bulletin, Augustus, 340–47.

—. 1948c. Twee bloemlezingen uit Zuid-Afrika. Critisch Bulletin, September, 393–99.

—. 1950a. Uys Krige: Die einde van die pad en ander oorlogsgedigte en Hart sonder hawe. Critisch Bulletin, Februarie, 57–62.

—. 1950b. F.E.J. Malherbe: Wending en inkeer. Critisch Bulletin, Oktober, 528–34.

—. 1950c. Totius: Skemering. Critisch Bulletin, November, 582–84.

Vermeulen, H.J. 1973. Sewentiger G.S. Nienaber. Pietermaritzburg: Universiteit van Natal.

Wiehahn, Rialette. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek. ’n Histories-teoretiese beskouing. Kaapstad en Pretoria: Academica.

 

Eindnotas

1 Luidens ’n persoonlike mededeling (in Oktober 2007) aan die outeurs van hierdie artikel deur S.W. (Adolf) van Zuydam, emeritus medeprofessor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, en voorheen jare lange oudstudent en later oudkollega van M. Nienaber-Luitingh op die Pietermaritzburg-kampus van die Universiteit van Natal, was Nienaber op ’n tydstip wel geregistreer vir ’n proefskrif (titel onbekend aan hom) aan die Universiteit van Amsterdam, maar dit is nooit voltooi nie.

2 In die addendum tot die vorm waarop Nienaber-Luitingh in 1969 tot lid van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns voorgestel word, word die tydskrifte Groot Nederland (1942), Kriterium (Maart 1943) en De Stoep (Maart 1943) genoem, asook die bundels Stille opmars (onder redaksie van F.W. Heerikshuizen, Amsterdam, 1942), Nieuwe Nederlandse dichtkunst I (onder redaksie van Jan Greshoff, Pretoria, 1942) en Gedichten uit bezet Nederland (onder redaksie van R. Marsman, Londen, 1944).

3 In dieselfde voorstelvorm van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns (1969) word vermeld dat sy kortverhale “in verskeie Nederlandse en Afrikaanse blaaie” die lig laat sien het. Nienaber-Luitingh se kleinseun, die Afrikaanse prosaskrywer Izak de Vries, vermeld in twee verskillende e-pos-briewe (7 Augustus en 5 Desember 2007) aan die outeurs van hierdie artikel dat sy ouma byvoorbeeld in die Afrikaanse tydskrifte Huisgenoot en Sarie gereeld verhale onder skrywersname soos Lizette le Roux gepubliseer het. “In haar eie woorde: ‘As ek ’n rok nodig gehad het, het ek ’n verhaal vir Sarie geskryf.’”

4 Drie jaar later is ’n dogter, Christina, uit hul huwelik gebore. (Luidens ’n e-pos-brief deur Izak de Vries, 8 Augustus 2007.)

5 Izak de Vries, kleinseun van Stoffel Nienaber en Miep Nienaber-Luitingh, relativeer die benaming “Nienaber-‘patronaat’” onder meer soos volg: “[Julle] is reg dat Stoffel ’n Broeder was en al die ander goed, maar Miep, met haar geweldige anti-Nazi-standpunte, het hom uiteindelik ’n lewe gelei en hom uit die verskillende instansies gewerk (nie-amptelik en amptelik). Sy het later self erken dat Stoffel veel meer sou kon bereik as hy met ’n ‘goeie Afrikaanse meisie’ getrou het. […] In sy later jare was Stoffel ’n sterk PFP-gesinde man, en ’n uitgesproke ateïs – iets wat duidelik onder Miep se invloed gekom het. […] Stoffel en Gawie het goed oor die weg gekom, maar Stoffel het altyd gevoel Gawie is te vol van homself. Stoffel het homself ook minderwaardig gevoel teenoor Gawie. […] Stoffel en Petrus was in so ’n mate vyande dat Stoffel uitdruklik gesê het hy sou verkies dat Petrus nie sy verassingsdiens bywoon nie. Hoewel ek dus saamstem dat daar ’n patronaat was, dink ek dat dit in later jare afgeneem het.”

6 Luidens persoonlike mededelings deur haar oudstudent en -kollega S.W. van Zuydam (Oktober 2007) is die betrokke kursus in styl- of tekskritiek eintlik deur Nienaber-Luitingh gelei. Hy verduidelik: “Sy het op ’n weeklikse basis modelklasse aan die ander dosente en assistente gegee, waarna laasgenoemde dit in groepklasverband aan studente moes aanbied.”

7 Izak de Vries (e-pos-brief, 8 Augustus 2007) noem ook die volgende bekendes in die Afrikaanse literêre sisteem met wie Stoffel en Miep hegte tot redelik hegte bande gehad het: Rob Antonissen, W.E.G. Louw, Hennie Aucamp, André P. Brink, Etienne Leroux, Marlene van Niekerk en Ena Jansen.

8 Ons wil nie impliseer dat haar aanstelling en bevorderings onverdiend was nie; slegs dat bykomende nepotistiese oorwegings kwalik heeltemal uitgesluit kan word.

9 ’n Feit wat bevestig word in persoonlike mededelings deur S.W. van Zuydam (Mei 2007).

10 Luidens persoonlike mededelings deur haar oudkollega S.W. van Zuydam (Oktober 2007) en haar kleinseun Izak de Vries (soos uit voorheen aangehaalde korrespondensie blyk).

11 Omdat hierdie artikel na ’n objektiewe, verkennende beskrywing van ’n sistemiese proses strewe, word doelbewus weggeskram van ’n eie (subjektiewe) evaluering van Nienaber-Luitingh se kritiese werk.

12 In sy herinneringe oor sy kontakte met Nienaber-Luitingh (aan die outeurs van hierdie artikel meegedeel in Oktober 2007) deel S.W. van Zuydam ook nog die volgende mee oor die wetenskaplike deeglikheid van haar omgang met die literatuur: “Sy het ’n sterk strukturalistiese benadering gevolg, was teksgerig, en het veral die Nederlandse teoretici se werk (bv. Blok se Verhaal en leser) goed geken. Dit was die eerste keer dat ek by iemand literatuurklasse gehad het wat streng wetenskaplik te werk gegaan het; dit het my baie beïndruk. Sy het onder meer Couperus, Van Schendel en Vestdijk se werke behandel. Ek het uit my eie, na aanleiding van ’n gaslesing deur Rob Antonissen, begin belangstel in Louis Paul Boon. Miep het toe aangebied om oor Boon se werk te doseer en haarself ter wille van haar student hieroor in te grawe.”

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top