Die oop gesprek, die toe debat en die vernietiging van mense

  • 9

Vroeg in 2024 ontvang ek ’n versoek van Etienne van Heerden om by daardie jaar se Veldsoirée in Cradock (toe reeds al geruime tyd Nxuba – “a place by any name will be as sweet”, sou ’n mens effens anders saam met Shakespeare wil droom) te kom gesels, en te skryf, rondom “Is die dood in die pot?”

Gelukkig word die konteks ook saamgegee: “Is die kulturele oorloë besig om vrye debat te smoor? Is dit die begin of einde van die sogenaamde Oop Gesprek?”

Dit is altyd ’n groot eer vir my wanneer ek, iemand wat buite die hoofsentra beweeg, gevra word om te kom praat by ’n geleentheid waar ek bekendes kan raakloop, optree en na mense van wie ek nog net gehoor en gelees het, kan luister.

Ek hou daarvan om by sulke geleenthede rondom ’n Power Point-aanbieding te praat. Dit gee mense wat kom luister, die kans om anders betrokke te raak deur met die kyk na die aanbieding reeds te begin gesels. Vir die spreker is die voordeel natuurlik dat hy of sy ’n raamwerk het waarmee sy of haar praatjie dan koers kan kry en hopelik ook hou.

Die nadeel van hierdie benadering word duidelik as ek ’n paar maande later daaraan herinner word dat ek die vriendelike organiseerders ’n geskrewe “weergawe” skuld. Waar begin ’n mens dan? Veral ook as daar verwysings en aanhalings is wat jy nie meer kan kry nie, omdat die PP-benadering in die meeste gevalle beteken dat daar nie ’n keurige bronnelys bestaan nie?

Na wik en weeg, besluit ek om by die destydse Power Point-aanbieding te bly. Die skermgrepe of bladsye word dus weer aan die leser voorgehou en ek lig dit weer, dalk anders en wyser, toe.

Eerste skermgreep

Jou praatjie onder die tema “Is die dood in die pot?” vra: Is die kulturele oorloë besig om vrye debat te smoor? Is dit die begin of einde van die sogenaamde Oop Gesprek?

“[...] maar ek is hom dank verskuldig daarvoor dat hy bedank het. Kan jy dink hoe onsmaaklik dit sou gewees het as ons hom nou moes gevrá het?”

Die eerste gedeelte ken u reeds, maar ek wonder wie sal die tweede plaas. Ek het op Cradock die verwysing nie gegee nie, en ek wonder of enige iemand dit daar kon plaas. Miskien is daar ’n paar LitNet-lesers wat dit wel kan doen ...

Maar dit was een van die skrikwekkendste opmerkings rondom die letterkundige gebeure van 2022 en ek sal dit later in konteks plaas.

Tweede skermgreep

Die praatjie sou ’n mens kon plaas teen die agtergrond van drie, vier gebeure die afgelope 15 maande of so:

1 Die rubriek deur Hennie van Coller oor kinder- en jeugboeke > ’n drukgroep wat wil lees wat daar nie staan nie

2 Die Wilgenhof-sage > ’n woke gesagstruktuur en uitwissing van die verlede

3 Twee Orania-besoeke, een soos vertel in Rapport en die ander in Platteland > lesersverontwaardiging oor objektiewe herbesinning

4 Die Bela-wetgewingsproses > onwilligheid om te herbesin

5 Moll, Crito en kie > resensente se voet

Terwyl ek besig is met die artikel oor verlede jaar September se praatjie, val dit my op oor hoe die verlede rondom sekere dinge ’n verre verlede geword het. In daardie opsig sou dit miskien verantwoordeliker gewees het om nuwe voorbeelde te soek, maar hierdie vyf was destyds dinge wat vir uiteenlopende groeperings belangrik was.

Elkeen van hulle is skoolvoorbeelde van onverdraagsaamheid, baasspelerigheid en voorskriftelikheid, presies die dinge wat kenmerkend is van die dood wat in die pot is.

Miskien is dit nodig om so iets oor elkeen van hulle te sê, om lesers te help onthou hoekom hulle belangrik was en in watter opsig dinge hulle loop geneem het.

  1. Rondom die Van Coller-voorbeeld gesels ek later ’n bietjie meer, omdat dit spesifiek aansluit by die idee van “kultuuroorloë” wat in die organiseerder se uitnodiging genoem is.
  2. Terwyl ek besig is om hier te skryf, hoor ’n mens dat die strydbyle rondom die Wilgenhof-sage by die Universiteit Stellenbosch begrawe is. Die rektor se vernuftige polities-gedienstige passies het hom in die steek gelaat (maar hy het, danksy die samespanning van die verskillende gesagstrukture wat ewe gedienstig moet bly en tog nie aanstoot moet gee aan die nuwe orde nie, skotvry daarvan afgekom). Die koshuis bly voortbestaan, saam met sy inwoners, maar sonder sy verlede. “Hool 88” en “Toe Argief” moet verdwyn. Die blote bestaan daarvan is, volgens die alumni-vereniging, “nie aanvaarbaar [...] of in ooreenstemming met die norme van vandag se samelewing nie”. Voorlopig bly die naam bestaan, maar as die “gefasiliteerde herbenoemingsproses geen konsensus oplewer nie”, word ’n “meertalige naam” die koshuis se naam. Dat laasgenoemde gaan gebeur, twyfel niemand eintlik aan nie en daarmee word Wilgenhof dan tog uitgewis, ge-cancel, soos ons in eietydse Afrikaans aanvoer.
  3. In die herfsuitgawe 2024 van Platteland bring die redakteur, Johan van Zyl, ’n besoek aan Orania en skaars drie maande later maak die Konstitusionele Hof-regter, Johann van der Westhuizen, ook so. Sy verslag verskyn in Rapport van 28 Julie 2024. Nie alleen word beide skrywers verkwalik dat hulle hoegenaamd Orania gaan besoek het nie, maar word selfs die regter daarvan beskuldig dat sy goeie oordeel hom in die steek gelaat het. Die bestaan van Orania moet liefs verswyg word; om daaroor enige iets goeds te rapporteer, is onaanvaarbaar. Om die waarheid te sê: “Dit is walglik om ’n artikel te skryf [...]. [Dit] blaas net haat en rassistiese denke aan.”
  4. Die doenighede rondom die Bela-wetgewing duur nog voort. Die nuwe regering van nasionale eenheid het nog nie eers tande gekry ten tyde van die Veldsoirée nie, maar dit was duidelik dat ’n oop en vry gesprek net sinvol gaan wees as die uiteinde die wil van die ANC reflekteer. Die kwansuise herbesinning oor die probleemareas was net oëverblindery en die wet is ewe skelm geteken en toe gepromulgeer. Die feit dat besware veral oor die toekoms van Afrikaansmediumskole gegaan het, was nie belangrik genoeg nie. Maar belangriker is die feit dat die uitgangspunt van vertroue en eerlikheid wat die gesprek van regeringsvennote behoort te kenmerk, kennelik nie as belangrik geag word nie.
  5. Moll, Crito en kie het op ’n ander manier insig gegee oor hoe onverdraagsaamheid aanwesig is in die wêreld van resensente en boekresensies, veral ook omdat dit pas voor die geleentheid in Cradock nuus geword het. Soos die berig in Rapport (saliger) van 18 Augustus 2024 berig het, het “’n onlangse resensie van ’n digbundel [...] [daardie] week in die aanklagkantoor van die polisie in Somerset-Wes gaan draai”. En is daar by LitNet se redakteur “aangedring dat die rubriek verwyder word”. Die resensie is ’n nogal negatiewe een wat Mellett Moll oor ’n digbundel van Riku Lätti geskryf het en die rubriek was een waarin ene Crito weer die resensie getakel het. Ek het dit net betrek omdat ’n mens sou wou glo dat resensies en “resensies van resensies” binne ’n ruimte sou beweeg waar daar inderdaad nie sprake sou wees van optrede wat vrye spraak en oordeel sou wou inperk nie.
  6. Die aanvanklike resensie, Crito se resensie daarvan, Moll se antwoord aan Crito en Lätti en ander se reaksies kan lesers self gaan bekyk op die internet by die skakels wat in die bronnelys onder Moll verskyn.

En op die een of ander manier was hulle almal manifestasies van “kultuuroorloë” in verskillende gedaantes. Maar nou loop ek baie dinge vooruit, want ek het nog niks gesê oor die dood, die pot en waar die kultuuroorlog gestalte kry nie.

Derde skermgreep

Anton van Niekerk
Wat my fassineer van die uitdrukking die dood is in die pot, is dat dit dui op iets wat gebeur en wat die einde van ’n saak is, terwyl die akteurs in die handeling presies die teenoorgestelde bedoel het.

En weer:
Die dood is in die pot wanneer dinge nie alleen anders is as wat hulle lyk nie, maar wanneer die vergissing die begin is van die einde.

Spreekwoordeboeke
Die gesprek, gesels het opgedroog; alle bedrywigheid, lewe het tot stilstand gekom; die pret het bedaar; dit is ’n saaie boel, ’n vervelende spul.

Wanneer ek nou na hierdie skermgreep kyk, val dit my op dat dit miskien netjieser sou gewees het om eers te kyk na wat ’n paar woordeboeke rondom die uitdrukking die dood is in die pot te vertelle het.

Die skuifie moes dus eintlik só gelyk het:

Spreekwoordeboeke 
Die gesprek, gesels het opgedroog; alle bedrywigheid, lewe het tot stilstand gekom; die pret het bedaar; dit is ’n saaie boel, ’n vervelende spul.

Anton Van Niekerk
Wat my fassineer van die uitdrukking die dood is in die pot, is dat dit dui op iets wat gebeur en wat die einde van ’n saak is, terwyl die akteurs in die handeling presies die teenoorgestelde bedoel het.

En weer:
Die dood is in die pot wanneer dinge nie alleen anders is as wat hulle lyk nie, maar wanneer die vergissing die begin is van die einde.

Die verstommende ontdekking, vir my altans, was dat ek nie een van hierdie betekenisse geken het nie. Natuurlik kan ook spreekwoorde transformeer en ’n ander baadjie aantrek, maar ek sukkel om te verstaan hoekom dit in hierdie geval sou gebeur het.

Dood is so ’n finale woord om rondom verhoudings en samesyn te gebruik; buitendien is die uitdrukking so gekoppel aan die Bybel. Is dit ’n aanduiding van die grootskaalse sekularisasie, of minstens veel minder kennis van die Bybel, by die jonger geslag Afrikaanse woordeboekmakers?

’n Terloopse opmerking: Sou dit ook beteken dat die hele Bybelse verwysingswêreld in ons letterkunde verlore raak? Ek onthou dat toe ek 50 jaar gelede in Utrecht studeer het, die Nederlandse dosente opgewonde was oor die studente uit Suid-Afrika wat nog die Christelike onderbou (ook die dekonstruksie daarvan, natuurlik) van die Nederlandse letterkunde kon byhaal.

Die eweneens afwykende gebruik van die uitdrukking deur Anton van Niekerk het my ook opgeval. Hy was onlangs ’n tyd lank nog in die nuus as ’n apologeet van die rektor van die Universiteit Stellenbosch rondom die gebeure oor die afsterwe van Wilgenhof, waar die pot lelik misgesit is.

In ieder geval, 17 jaar gelede gesels hy juis oor die dood in die pot in die Filosofiekafee van daardie jaar se Woordfees en maak die twee opmerkings hierbo rondom die uitdrukking of spreekwoord. Waarskynlik moes ek ook sy definisie gegee het, soos dit vroeg in die praatjie verskyn, omdat daarmee ook ’n derde opsie gegee word:

Soos ek die uitdrukking verstaan, beteken die dood in die pot dat iets gebeur het – beter: iets gedoen is – wat onherroeplik destruktief vir ’n saak is, terwyl die een wat daarvoor verantwoordelik is, eintlik dink dat hy besig is om die saak te bevorder.

Die eerste aanhaling van destyds het iets gemeen met die Engelse “the die is cast”: Wat gedoen is, is gedoen en nou gaan sake hulle gang. Wat die afloop gaan wees, is eintlik reeds seker. Die tweede een voer ’n ander element in, dat iets anders lyk as wat dit is en dat daar een of ander vergissing ter sprake is. Die een onmiddellik hierbo het iets heeltemal anders in die oog. Weer is daar ’n handeling en ’n vergissing, maar nou is die daad onherroeplik destruktief, terwyl die dader glo dat hy besig is om die saak te bevorder.

Ek het vroeër verwys na die Bybelse oorsprong van so baie dinge in ons taalwêreld (én denkwêreld) en dit is seker darem ook nodig dat ons net kyk hoe die dood in die pot gestalte gekry het. Ek gee die weergawe in die drie “standaard” Afrikaanse vertalings, omdat die verskille nogal interessant is. Die vetdruk en die onderstreping is van my.

Vierde skermgreep

Storie in 2 Konings 4:40–1

Toe gaan een uit in die veld om groente te versamel; en hy het gepluk en gekom en dit in die kookpot stukkend gesny; want hulle het dit nie geken nie.

Daarna het hulle vir die manne opgeskep om te eet; maar net toe hulle van die kooksel eet, skreeu hulle en roep: Man van God, die dood is in die pot! En hulle kon dit nie eet nie.

Maar hy sê: Gaan haal dan meel. En hy gooi dit in die pot en sê: Skep uit vir die mense, dat hulle eet. En daar was niks verkeerds in die pot nie. [1953]

Hy het dit in die pot met bredie gaan insny sonder om te weet wat dit regtig was.

Hulle het met ete vir die manne van die bredie opgeskep, maar net toe hulle dit proe, roep hulle uit: “Man van God, daar is gif in die kos!” Hulle kon dit nie eet nie.

Elisa het gesê: “Bring ’n bietjie meel.”

Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Skep op vir die mense dat hulle kan eet.”

Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie. [1983]

Vyfde skermgreep

Hy kom toe en sny dit op in die pot met die gereg, alhoewel hulle dit nie geken het nie. Hulle het dit vir die manne uitgedeel om te eet, maar toe hulle van die gereg begin eet, roep hulle uit en sê: “Die dood is in die pot, man van God!” Hulle kon dit nie eet nie. Hy sê toe: “Gaan haal meel!” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Deel uit vir die mense sodat hulle kan eet!” Daar was toe nie meer iets skadeliks in die pot nie. [2000]

Vier elemente wat onderliggend is rondom hierdie maaltyd:
- Onbekende: want hulle het dit nie geken nie; sonder om te weet wat dit regtig was; alhoewel hulle dit nie geken het nie
- Die gevolg: Daar is gif in die kos; die dood is in die pot
- Die remedie: meel
- Die uitkoms: En daar was niks verkeerds in die pot nie; die kos in die pot was toe nie meer giftig nie; daar was toe nie meer iets skadeliks in die pot nie

Eintlik moes ek hierdie vier elemente hier weggeneem het en saam met die “toepassing” op die volgende skermgreep geplaas het. Maar dit daar gelaat.

Die interessante is die effense verskille wat daar opduik in die vertalings, wat ook nuttig is as ons die idioom wil transkribeer soos Etienne gevra het. Kyk hoe die bestanddeel in twee gevalle iets is wat hulle nie “ken” nie, maar tog iets anders is in die derde: “Sonder om te weet wat dit regtig was.”

En die subtiele verskille rondom die uitkoms: “En daar was niks verkeerds in die pot nie”; “Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie”; “Daar was toe nie meer iets skadeliks in die pot nie.”

Ek vind dit nogal boeiend: “niks verkeerds nie” teenoor “toe nie meer giftig nie” teenoor “nie meer iets skadeliks nie”.

Ek het gedink dat ek moet kyk hoe ’n mens hierdie storie van Elisa, waardeur die uitdrukking van die dood is in die pot by ons kom vassteek het, gebruik kan word om by die dilemma rondom kultuuroorloë uit te kom. Soos ’n wafferse, outydse predikant het ek toe die teksgedeelte in stukke verdeel vir hierdie preek.

Die eerste ding is die onbekende, daardie ding wat in die pot gegooi is; die tweede die gevolg wat dit gehad het, naamlik ontsteltenis en die feit dat daar niks was om te eet nie. Die remedie of oplossing kom deur die gebruik van die eenvoudige ding, meel, wat op die regte wyse in die pot gegooi word, waardeur daar uitkoms kom en die gevaar, die skadelike, die gif geneutraliseer word.

Ek hoor in my agterkop nog iewers uit Periandros van Korinthe hoe iemand waarsku: “Laat los die beeld, dit lei mens van die waarheid weg.” Maar van omdraai is daar nie nou meer sprake nie.

Sesde skermgreep

Vier elemente wat onderliggend is:
- Onbekende: Kultuuroorloë
- Die gevolg: Onverdraagsaamheid, konflik, aanvalle ad hominem en vernedering, groepsvorming, onstabiele gemeenskap
- Die remedie: Die oop gesprek binne die beskermende raamwerke
- Die uitkoms: Beter begrip, verandering en aanpassing, gemoedsrus, stabiliteit

Die vier onderliggende elemente wat hieruit na vore tree, soos ek dit sien, vat ek dan saam in die uiteensetting in bostaande skermgreep. Die onbekende faktor waarmee ons as gemeenskap gekonfronteer word, is die wyse waarop almal deur die sogenaamde kultuuroorloë oorval word.

Sewende skermgreep

Kultuuroorloë
- Konflik binne ’n gemeenskap.
- Waardesisteme word bevraagteken.
- In geykte terminologie sou die status quo daarna verwys as ’n rebellie.
- Die “strydveld” se gedaantes.
- Trefwoord van ons tyd is woke > beide positief en negatief.

Daardie “wilde ranke” en die “kleed vol karkoere” is in my verbeelding die ongebreidelde toegang tot sosiale media waardeur elkeen van ons ’n haan op sy eie mishoop word, afsonderlik en in kollektiewe verband. Maar hierdie sosiale media het eintlik onbeheerbare mag, soos ons toenemend besef rondom die baie gedaantes wat “wokeness” in ons wêreld aanneem.

Die konflik binne ’n gemeenskap kry toenemend die gedaante van ons/hulle. Vanuit die heersende hegemonie is dit die sogenaamde behoudenes, diegene wat (nog) die mag het, wat glo dat hulle die maatskappy moet beskerm teen die krygers, die opstandelinge.

Met die skryf van hierdie artikel word ’n paar van die uitgangspunte en formulerings van September verlede jaar met nuwe werklikhede gekonfronteer. Dat hierdie rolle soos handomkeer kan verander, word duidelik uit die onlangse wêreldpolitiek, die duidelikste sigbaar rondom die toetrede van Trump met sy voorlopig onbeteuelde magspolitiek.

Miskien is die nuttigste opmerking om nou te maak dat die aard van die gif miskien verander, maar dat die dood in die pot sal bly.

Onderliggend aan die konflik is die feit dat lang-gekoesterde waardesisteme bevraagteken word. Hierdie waardesisteme omvat, onder andere, geslagtelikheid, ekologie en opvoeding, maar ook abstrakter dinge, soos die rol van die regering binne die staat en die tradisionele hiërargiese rolle binne gesinsverband.

In geykte terminologie sou die status quo daarna verwys as ’n rebellie, met die “strydveld” in baie gedaantes. Soms is dit konkreet, dinge soos goed-georganiseerde straatproteste, sitstakings, inbrake, besettings en boikotte, maar die baie platforms en vorms van sosiale media het die strydperk radikaal verander. Die “opstand” het maklik geword as gevolg van die wye verspreiding van inligting, waar en vals, deur die druk van ’n “Forward”-ikoon. Dit word hoofsaaklik gekenmerk deur ondeurdagte debat of onwilligheid om selfs daarby betrokke te raak, deur ongemaklike vrae te vermy deur eenvoudig diegene wat daardie vrae vra uit jou privaatruimte te verwyder. Wie die meeste “likes” kry, het die stryd gewen en wie die meeste “likes” of verwante emoji’s kry, is natuurlik ook die een wie se woord die waarheid is.

En binne hierdie konflik het woke kom staan as die dominerende begrip. Vanuit die rebellie-geledere, die “nuwe” woke-gemeenskap, die gewaande heersers van môre, is die woord positief en omarmend. Dis lekker om woke te wees.

Vanuit die heersende orde, die status quo, dra die woord ’n minagtende en negatiewe betekenis, word dit met sarkasme en sinisme gebruik.

Toevallig is dit interessant om daarop te let dat woke taalkundig haar/sy/dit se funksies uitbrei met ’n klompie nuutskeppings soos wokeness, woking, wockery.

In die boeiende artikel “Group narcissistic manifestations in critical social justice (aka woke) movements” ondersoek J van Zyl die groepdinamika binne die woke-bewegings. Ek plaas die twee Cradock-skuifies, sonder enige verdere kommentaar.

Agtste skermgreep

Group narcissistic manifestations in critical social justice (aka woke) movements” (J van Zyl)

“From the all-bad perspective of this split, a person disidentifies from, devalues and dehumanises the Oppressor. This demonised Other is relegated to a state of culpability, deserving of contempt and destruction. Simultaneously from the all-good perspective, identification with and idealisation of the Victim takes place, where the Victim is endowed with a state of moral purity, innocence and vulnerability. The Oppressor is viewed as a cruel, merciless monster, against whom the Victim should be defended. Since moral essentialisation has taken place, obliteration of the Oppressor is not only morally justified (as the Victim is morally infallible) it is actively encouraged, as the slightest measure of leniency is seen as capitulation to an utterly evil Oppressor, which will only lead to further unnecessary suffering of the Victim.”

Negende skermgreep

“Ironically, the behaviour of Woke Victims and their allies toward the Oppressor is no different from that of which they accuse the Oppressor. Silencing and suppression of speech, public attacks and humiliation, death threats, destructive looting and the like are behaviours one would associate with tyrants; the irony is that the Woke Victim class and their allies have a commitment to precisely such behaviour. It is worth noting that, no matter where the Woke worldview is endorsed, it evokes the same kind of collective characteristics among its adherents. It is not uniquely American or British. And both young and old start behaving like insolent adolescents.”

Kom ons keer terug na die storie van Elisa en die dood in die pot. Ek het vroeër gesê dat die gevolge van die kultuuroorloë, die gif wat in die gemeenskap beland het, duidelik sigbaar is.

Tiende skermgreep

Die gevolge
- Die ons/hulle-scenario en groepsvorming;
- onverdraagsaamheid;
- verdagmaking ad hominem en vernedering;
- onstabiele gemeenskap en taal word toegeëien.

Die uitwerking daarvan is die vergiftiging van die maatskappy wat gekenmerk word deur konflik in baie gedaantes en groepsvorming wat hieruit spruit. Daar is toenemende onverdraagsaamheid, ’n onwilligheid om te luister, aanvalle op individue, persoonlik, ad hominem en selfs fisiek, en aggressiewe groepsvorming. Uittarting, afkraking en vernedering is aan die orde van die dag.

’n Besonder interessante gevolg van die stryd waarbinne ons verkeer, is die wyse waarop taal toegeëien is. Nie alleen is daar byvoorbeeld rondom geslagtelikheid beheer geneem oor naamgewing nie (dink maar aan LGBT wat sedert die 1990’s aangegroei het tot LGBTIQA+, wat as oorkoepelende term gebruik word vir lesbies, gay, biseksueel, transgender, interseks, queer/“questioning” en aseksueel; die + dui op ’n reeks ander onderskeidings), maar is daar ook ’n eis dat die taalkunde hersien moet word sodat persoonlike voornaamwoorde nie rondom gender en geslag mag onderskei nie.

Die dilemma van hierdie onverdraagsame houding teenoor die oorsprong en inherente wese van taal word op ’n heerlike wyse die draak mee gesteek in die volgende video. Die waarde van ’n maatskappy waarin die vrye omgang met idees en voorskriftelikheid seëvier, blyk duidelik uit die feit dat dit deur die BBC gemaak is.

Elfde skermgreep

Hierdie video: https://youtu.be/NBGOryiqZZI?si=Hva9WSqfUJTYzOzp

En onthou om sommer ook die voortsetting van die absurditeite in die kommentaar te bekyk ...

Om terug te keer: Die onstabiliteit van die gemeenskap word ’n steeds groter bedreiging en diegene wat die hardste kan skree, doodskree, letterlik en figuurlik, sorg daarvoor dat daar geen noodsaak is om ruimte te skep vir die opweeg van wigte en teëwigte in hoe gemeenskappe bestaan en bedryf word nie. En hierdie proses word nie alleen aangevoer deur aktivistiese groepe wat vassteek in onverdraagsame voorskriftelikheid nie, maar word ook kenmerkend van die nuwe oligargiese bestuurstyle van mense soos president Trump.

Uit Tristia hoor ons Van Wyk Louw se waarskuwing:

Alleen die baie-fyn dink is helder:
so fyn dat byna niemand dit wil vat nie.
Al die ander dink is saam-hurk, of paring,
in ’n donkerte waarin ons soet-goed fluister.

Hoe sal ons hierdie vergiftiging van ons maatskappy kan besweer, sorg dat daar ’n remedie van een of ander aard kom vir hierdie saam-hurk en paring, die fluistering van onthutsende dinge in die dreigende donkertes? En waarmee die dood van ’n beskawing inderdaad moontlik is?

Die Bybelverhaal waar die dood uit die pot gehaal is, vertel wat gebeur het en hoe Elisa met ’n eenvoudige remedie die ellende besweer het. Watter “meel”, by wyse van spreke, is daar om te verseker dat die samelewing genoeg sal hê om te oorleef en nie van hierdie vergiftiging van ons maatskappy sal sterf nie?

Twaalfde skermgreep

Die remedie

Die Bybelverhaal vertel van Elisa se oplossing, iets heel eenvoudig en bekend: ’n bietjie meel.

Binne die konteks van die kultuuroorlog is die enigste meel wat ons nodig het om die dood uit die pot te hou, om te sorg dat die maatskappy met al sy verskillende wigte en teëwigte nie ten gronde gaan nie, iets om te verseker dat die vrye debat en meningswisseling binne en rondom die konflik staande bly.

Dertiende skermgreep

In 1951 beskryf NP van Wyk Louw in sy opstel “Geestelike bloedsomloop” (uit Liberale Nasionalisme) hierdie meel soos volg:

So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan. (Louw 1986a:415; my vetdruk)

Onder luister moet ons in die era van ons sosiale media natuurlik veral ook lees verstaan. Want elkeen wat ’n selfoon besit, het deur middel van dinge soos WhatsApp, Facebook, X en TikTok en kommentaarblaaie en -webwerwe (iets soos LitNet hier by ons) sosiale kommentators en sosiale aktiviste geword, en kan hulleself tot meningmakers of kopsmokkelaars, die sogenaamde “influencers”, omtower.

Ek het vroeër geskryf dat dit, byvoorbeeld, belangrik sou wees om die hele Hennie van Coller-debakel sistematies en chronologies uiteen te sit, om te kyk in watter opsig ’n mens kan praat van hierdie aandagtige luister.

’n Hele paar mense, interessant genoeg juis buite die Afrikaanse literêre dampkring, het in tydskrifartikels gewys op die foutiewe, gebrekkige of selektiewe lees van Hennie van Coller se rubriek, waardeur die kritiek ontaard het in ad hominem aanvalle. Van ’n gesprek of debat was daar geen sprake nie.

In 1951 skryf NP van Wyk Louw vanuit Europa met hartstogtelike verlange oor wat die oop gesprek sou kon behels. Hy noem die kort opstel dan ook juis “Die oop gesprek”. Hy vind dat dit in daardie stadium in Europa verdwyn het en spreek, ten slotte, die wens uit dat dit in Suid-Afrika sal voorbestaan en weer van daar na Europa sal terugkom.

Een van Suid-Afrika se goeie dinge waarna ’n mens nooit sal ophou verlang nie, is die heerlike “oop” gesprekke wat jy so dikwels daar kon kry. “Oop” gesprekke waarin jy oor alles kon praat; waarin geen standpunt te “gewaagd” was nie; [...] En gesprekke met mense wat vér van jou afstaan in elke opsig [...]. Ek sou ook kon beweer: agter hierdie gesprekke het die oortuiging gelê dat daar iets soos “waarheid” bestaan, en dat ons dit miskien kan vat ... sóms ... nie veel nie, en nooit alles nie; en dat ons dit alleen kan kry deur ons oop te stel vir ander wat miskien elkeen ook ’n stukkie daarvan besit. (Louw 1986b:3)             

En dan, die verstommende, vir my ongeloofbare, slot:

’n Mens vra jou soms af: het die ou Europa hierdie ligte oopheid, hierdie ware liberalisme, voorlopig verloor? Het dit gewyk voor oorlog en ellende? En het dit na Suid-Afrika verhuis?

Mag dit dáár bewaar bly: die oop gesprek. En mag dit weer na Europa terugkom. (Louw 1986b:5)1

Almal wat egter in die volgende 10, 20, 30 jaar na sy opmerking in Suid-Afrika gewoon het (of as jonger geslagte navorsers daardie era verken) weet dat die oop gesprek in Suid-Afrika verdwyn het, maar wel weer in Europa bestaansreg gekry het. Maar ook net totdat dit eers deur fascistiese politiek en daarna deur die onverdraagsame selfvoldaanheid van die alternatiewe magsgroeperinge ’n volgende dood gesterf het.

Veertiende skermgreep

Vir die oop gesprek is ’n veilige, beskermde en beskermende omgewing nodig. Daarsonder sal die kultuuroorloë immers altyd die dood in die pot kan inhou. – “Etiek van leeshandelinge: ’n Suid-Afrikaanse geval” (JS Wessels)

Die Suid-Afrikaanse geval waarvan JS Wessels in hierdie artikel melding maak, wat in Desember 2023 in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het, is die aangeleentheid wat uitloop op die vooraanstaande akademikus, Hennie van Coller, se bedanking as voorsitter van die Letterkunde-kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die rubriek deur Hennie van Coller oor kinder- en jeugboeke (sien hier onder) en die reaksie daarop het gevolge gehad wat ernstige skade aan die klein Afrikaanse literêre wêreld veroorsaak het. Saamgevat noem ek dit ’n redelik meedoënlose jagekspedisie deur ’n drukgroep wat wil lees wat daar nie staan nie. En wat die hele aard van ’n koerantrubriek soos die een van Van Coller gewoon ignoreer en dan boonop die skrywer so aanval en aanvat dat hy gedwing word om uit ’n pos, wat hy voortreflik beklee het, te bedank. Uiteindelik word ook ’n lang beplande buitelandse studiereis vir hom onmoontlik. Die eietydse likwidasie-fenomeen, die “cancel culture” en wat op alle terreine sigbaar is, is hier duidelik sigbaar.

Hierdie stel gebeure behoort weer ’n keer ordentlik bekyk te word, iets wat LitNet by uitstek sou kon reël: die chronologiese verloop van die storie, met elke bydrae wat daar gelewer is, die persone wat op verskillende terreine aan die werk was en die werklike hartseer afloop daarvan.

Miskien sou dit nuttig wees om die bal aan die rol te sit met die herlees van die oorspronklike stuk wat Hennie van Coller geskryf het en wat die eerste keer onder die opskrif “Jy kry hulle nie meer in boeke en op TV nie” in Volksblad verskyn het:

Onlangs buk ’n klompie letterkundiges hulle oor ’n hele gerf kinder- en jeugverhale. “Gerf”, want dis inderdaad die uitsoekboeke wat beoordeel word vir belangrike pryse.

Opvallend is dat die boeke ’n wye verskeidenheid temas bevat, vernuftige, verbeeldingryke stories het en meestal boeiend is. Die ou treurmare dat daar min boeke vir jeugdige Afrikaanstalige kinders sou wees, is lank reeds agterhaal. Sulke verwyte getuig inderwaarheid van onkunde.

Verhale vir jong lesers is lankal nie meer soet, didaktiese vertellings van kinders met geringe probleme wat ’n geselsie met die dominee moet hê, hulle net moet regruk en dan gaan alles weer klopdisselboom nie.

Daar is geen maatskaplike óf persoonlike probleem wat nie deur die boeke onder oë geneem word nie: molestering, verkragting, owerspel, siekte, dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate of sintuie, homoseksualisme, rasseprobleme en dergelike.

Wel word dikwels teruggeskram van plaasaanvalle, korrupsie, die verval van dienslewering, beurtkrag, staatskorrupsie, gewelddadige (en misdadige) openbare optrede van bepaalde groepe, regstellende aksie en die kwotastelsel. Gevolglik voel die meerderheid boeke bietjie na wêreldvreemde tekste wat onder die hande van ’n sensor deurgeloop het: soos weermagbriewe tydens die grensoorloë.

Die rede hiervoor is afleibaar: uitgewers gee implisiet (of eksplisiet) opdragte wat “hoort” in tekste en wat liefs vermy moet word. Die gevolg is ongelukkig ’n hoop politiekkorrekte boeke wat óf handel oor ’n realiteit wat erg verteken is óf een wat geïdealiseer word.

Geen regdenkende mens kan beswaar maak teen die representasie van die reeds genoemde maatskaplike óf persoonlike probleme nie; wel teen die feit dat dit só oorheersend raak dat die vraag met reg geopper kan word of daar êrens dalk nog funksionele gesinne bestaan, met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot soos honderdduisend ander gewone mense hulle bes doen om eties en sinvol te lewe.

Selfs feëverhale ontsnap nie aan die eise van politieke korrektheid nie. Wee die skrywer wie se feetjies nie heuning uit blommetjies van álle kleure versamel nie; reënboë is immers dié metafoor vir ’n maatskaplike idille.

Een boek oor grootword se hoofpersoon is ’n meisie met voorbeeldige ouers wat die droom is van elke feministiese sosioloog of teoloog. Boonop was haar oupa ’n pro-struggle joernalis, haar beste vriendinne een swart en een bruin én leer sy om ’n egpaar, bestaande uit twee mans, “te omhels”. ’n Mens verwag die hele tyd dat ’n gestremde Sjinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling hul opwagting moet maak; dan is alle “boksies getik”.

Die versugting van een kollega is na Tarzan of Rooi Jan. Net vir ’n verandering ’n man wat nie versukkeld, gekweld, of paranoïes is nie; die droom – steeds – van baie seuns (én meisies). ’n Droom wat egter deesdae nie geopenbaar mag word nie.

Want jy lees nooit van hulle nie en sien ook nooit een televisieprogram van dié soort nie; immers randfigure raak die norm.

Wessels bespreek in sy artikel sekere van die reaksies en kommentare wat op die artikel gevolg het en besluit dan:

Die sensitiewe aard van die kwessies wat deur die Van Coller-diskoers na vore gebring is, het sekerlik tot die soms aggressiewe toonaard van die debat bygedra. Dit het my opnuut bewus gemaak van die noodsaaklikheid van ’n oop en omvattende gesprek oor sake van belang vir ons land, ons taal Afrikaans, en die toekoms van kinder- en jeugliteratuur. ’n Oop gesprek is moontlik wanneer al die gespreksgenote as deel van die tuiste aanvaar word en daarin tuis voel, ongeag die verskillende perspektiewe en rasionaliteite waarmee hul lees en skryf. Voorts is dit nodig om konfrontasie te vervang met, in die woorde van Henri Atlan (1994:flapteks), “’n permanente gesprek, ’n soort oneindige gesprek, wat die ernstige humor van meervoudige kennisspele insluit” (vertaling deur Fanie de Beer). Só ’n gesprek is slegs moontlik binne ’n milieu van etosverwesenliking waarin ons almal veilig en tuis kan wees terwyl ons mekaar se tekste en argumente, hoe uiteenlopend ook van aard en perspektief, kan lees en beoordeel. Binne só ’n milieu mag ons ons nie soos plunderende soldate gedra deur slegs enkele aspekte wat nuttig is vir ons eie argumente te buit, die res te bevuil en ruïneer, en die teks in sy geheel te onteer nie (met erkenning aan Nietzsche, 1879).

Vyftiende skermgreep

“Die vraag moet egter dringend gevra word of ’n kragtige aandrang op bedanking, veral gegewe die eietydse tendens in die intellektuele, vermaak- en korporatiewe wêreld van die globale Weste om mense ná openbare druk af te dank, ’n verantwoordelike en volhoubare reaksie is. Veral vanuit die akademiese en intellektuele geledere, wie se tradisionele rol dit is om die onderhouers van die openbare gesprek te wees.”

Vir Wessels kan of mag ’n gespreksgenoot op geen wyse uit die gesprek gehaal word, behalwe wanneer hy of sy nie meer deur artikel 16 van die Grondwet beskerm word nie.

Sestiende skermgreep

Artikel 16 Vryheid van uitdrukking.

16 (1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is
(a) die vryheid van die pers en ander media;
(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;
(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en
 (d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.

(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie
(a) propaganda vir oorlog nie;
(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of
(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Wessels beklemtoon die reg, plig en verantwoordelikheid om as “deelnemers aan ’n demokratiese en verantwoordelike Afrikaanse intellektuele omgewing” te kritiseer, enige iemand op enige plek, dus in rubrieke, briewe en sosiale media EN dat dit deur die Grondwet beskerm word. Om iemand dan te staan en verklaar dat hy/sy die ander persoon met hofaksie gaan dreig, is gewoon onsinnig, want dit geskied binne daardie beskermde omgewing.

Sewentiende skermgreep

Dit gebeur egter steeds binne die perke van beskermde spraak, en wat is die punt van beskermde spraak as daar wesenlike negatiewe gevolge vir die spreker kan wees weens ongewilde dog beskermde stellings? Die standpunt dat druk om ’n pos weens beskermde dog ongewilde stellings te ontruim, geskei kan word van ’n persoon se reg om beskermde stellings te mag uiter, maak nie sin nie, want openbare bedankingsdruk kalwe juis weg aan daardie beskerming.

Wanneer ’n leser deur die klomp reaksies en kommentaar wat op Van Coller se rubriek gevolg het lees, word dit duidelik dat daar inderdaad kwaai druk op Van Coller geplaas is, soveel so dat hy uiteindelik bedank het. Verder het ’n reeds goedgekeurde navorsingsgeleentheid in België in die slag gebly en het sy persoonlike aansien natuurlik ook skade gely.

Juis hier wil ek nou teruggryp na die tweede motto aan die begin van die stuk:

“[...] maar ek is hom dank verskuldig daarvoor dat hy bedank het. Kan jy dink hoe onsmaaklik dit sou gewees het as ons hom nou moes gevrá het?”

Dit is ’n opmerking deur Ilse Feinauer, die huidige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap, wanneer sy gevra word vir kommentaar oor Van Coller en sy bedanking uit sy posisie wat hy vir baie jare met groot waardigheid by daardie instansie beklee het.

Feinauer se woorde is ’n absolute bevestiging dat daar by hierdie instansie geen beskerming bestaan vir iets wat Van Coller in ’n rubriek geskryf het en wat sekere persone ontstel het nie. Selfs al het hy nooit die Akademie in die rubriek genoem nie.

Uit haar opmerking is dit duidelik dat, gegewe haar rol as voorsitter, die SAAWK geen ruimte laat vir die oop gesprek nie; inteendeel die eis dat hy moet bedank, sou vanselfsprekend wees: Hulle sou hom immers móés gevra het om dit te doen.

Wat presies het hy gedoen sodat hy moes bedank? Wat sou die aanklag wees?

En hoe sou sy kon weet dat so ’n besluit deur die lede van die instansie geneem sou word of ondersteun sou word? Dalk sou die onsmaaklikheid juis kon ontstaan wanneer die lede van die SAAWK nie sou saamstem met die verdagmakery van en die veldtog teen Van Coller nie.

Nog meer ontstellend is die feit dat Feinauer reeds in ’n ander hoedanigheid vir Van Coller veroordeel het en verbonde was aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch. Hierdie departement het in ’n ope brief (hoekom sou só ’n brief nodig wees?) aan die SAAWK Van Coller se bedanking geëis.

Maar nog interessanter is dat Feinauer in daardie stadium ook die ondervoorsitter van die Akademie se bestuursraad was. Onder hierdie omstandighede sou ’n mens kon verwag dat sy haar nie, ten minste in die openbaar, met oproepe van hierdie aard sou assosieer nie. Of sterker gestel: dat sy standpunt sou inneem teen die veldtog wat aan die gang was om Van Coller se vryheid van opinie en spraak aan te tas.

Nou is sy beide die een wat Van Coller aankla en hom skuldig bevind!

Die gebruik deur die sogenaamde alternatiewe groeperings, die woke mense soos hulle hulleself noem, om binne kultuuroorloë persone of instansies met sterk opponerende menings te neutraliseer deur middel van iets wat bekend geword het as “cancel culture”, is goed bekend. In al die ander voorbeeldgevalle wat ek vroeg in hierdie artikel genoem het, het dit op een of ander manier na vore getree.

Teen die einde van sy baie belangrike artikel verduidelik Wessels watter gevare die aftakeling van die beskerming deur die Grondwet en die beginsel van die oop gesprek inhou.

Agtiende skermgreep

As dit wel de facto die praktyk raak dat akademici hul poste summier kan verloor, van aansien en platforms gestroop word en onder openbare druk via die sosiale loopplank die see in gedwing word vir ongewilde dog beskermde stellings, is daar eintlik nie meer veel verskil tussen onbeskermde en beskermde uitdrukking nie. Kanselleringskultusse wat parallel met die beskermd-onbeskermd-dinamika van artikel 16 ontspruit, is teenstrydig en gevaarlik, want dit skep ’n arbitrêre omgewing wat spraakvryhede betref. In so ’n kille omgewing sal mense eerder minder wil sê en waag weens die vrees dat daar geen wesenlike sosiale verskil tussen die gevolge van “onbeskermde” en “beskermde” uitdrukkings meer is nie, en waar jy as spreker glad nie gister kon geweet het wat môre die perke sal oorskry nie.

Die gevalle waarna ek vlugtig verwys het bevestig dat daar inderdaad orals om ons dinge gebeur wat die heilsaamheid aantas van daardie pot wat ons die gemeenskap noem. Dit mag ’n klein pot wees, soos die huisgesin, maar ook groot en omvangryk. Die dood is inderdaad in die pot, maar as ons as bekommerde medeburgers dit ons erns wil maak om die vernietiging wat die kultuuroorloë om ons kan inhou te bekamp, moet ons ons verbind tot die absolute beskerming en behoud van die oop gesprek.

Ek gee graag aan Kobus Wessels die laaste woord:

Negentiende skermgreep

“Laastens sal komplekse en diverse menslike belewenisse altyd tot skerp verskille lei, soos hierdie debat bewys het. Die beskermde gespreksomgewing gee die geleentheid dat hierdie kwessies bespreek eerder as uitgedoof word. ’n Dwangbuis van uniforme denke en die uitverkiesing van diegene wat nie waag om ongewilde dog beskermde stellings te opper nie, skep weersin en verdeeldheid. Ons sal moet aanvaar dat almal nie dieselfde sienings oor maatskaplike geregtigheidskwessies sal huldig nie, en daaroor kan en moet ons vurig binne die grondwetlike raamwerk verskil.”
Nota

1 Hierdie hele opstel kon ek darem op die internet raakloop. Dié feit maak dit dus sonder veel moeite toeganklik en behoort leesstof vir elke Suid-Afrikaner, woke of nie, te wees: https://afrikanergeskiedenis.co.za/die-oop-gesprek/

Bronnelys

Louw, NP van Wyk. 1986a. Versamelde prosa 1. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers

Louw, NP van Wyk. 1986b. Versamelde prosa 2. Kaapstad/Pretoria: Human & Rousseau.

Moll, M. 2024. Boekresensie: ‘Taboek’ herinner aan ’n boomhuis in Kaapse storm. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/boekresensie-taboek-herinner-aan-n-boomhuis-in-kaapse-storm-20240728.

Moll, M. 2024. Mellett Moll: Crito, drink die figuurlike gif en verlaat die toneel. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/mellett-moll-crito-drink-die-figuurlike-gif-en-verlaat-die-toneel-20240818.

Van Niekerk, A. 2007. Die dood in die pot. https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=34810.

Van Zyl, J. 2022a. Group narcissistic manifestations in critical social justice (aka woke) movements – Part 1. Critical Therapy Antidote. https://criticaltherapyantidote.org/2022/09/25/group-narcissistic-manifestations-in-critical-social-justice-aka-woke-movements-part-1/.

 Van Zyl, J. 2022b. Group narcissistic manifestations in critical social justice (aka woke) movements – Part 2. Critical Therapy Antidote. https://criticaltherapyantidote.org/2022/09/25/group-narcissistic-manifestations-in-critical-social-justice-aka-woke-movements-part-2/.

Wessels, JS. 2023. Etiek van leeshandelinge: ’n Suid-Afrikaanse geval. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):971-95

Lees ook:

Jacomien van Niekerk: Miniseminaar: Moenie kanselleer nie, publiseer net meer

Melt Myburgh: 2022: Die (on)verkwiklike jaar van Trompie en kie

David Willers: Wilgenhof: quo vadis, Willows?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Crito

Riku Lätti: Woke me up before you go-go

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 9

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ai, Fanie, hoe lekker is dit nie om jou hier te sien en so 'n lekker artikel te lees nie. Dit lees soos 'n advokaat se argument voor die hoogste hof in die land.

  • Baie dankie vir hierdie deurdagte en noodsaaklike skryfstuk. Dit is inderdaad ’n tema wat dringend aandag verdien en ’n saak wat die moeite werd is om voor te veg. Soos u duidelik uitwys, is die skade wat deur hierdie kultuuroorloë en onverdraagsaamheid aangerig word, dikwels veel groter as wat aanvanklik besef word. Die geval van Mellet Moll en ander wat u noem, is kragtige herinneringe aan die menslike tol wat deur sulke aanvalle geëis kan word.

    U beklemtoning van "groepnarsisme" as 'n besonder sterk en gevaarlike krag is treffend. Met sosiale media is dit makliker as ooit tevore om jou eie "stam" te vind en om opponente te vernietig deur middel van openlike vernedering en isolasie. Hierdie verskynsel het ernstige implikasies vir die vryheid van spraak en vir die voortbestaan van die oop gesprek. Dit kan inderdaad die einde van ware debat en refleksie beteken.

    U beskrywing van die woke-beweging as ’n dun vermomde poging om enige standpunt wat buite hul eie ideologiese borrel val, as boos en onderdrukkend voor te stel, is skerp en akkuraat. Die ironie, soos u tereg uitwys, is dat hierdie beweging dikwels presies dieselfde onderdrukkende gedrag openbaar waarteen hulle beweer hulle veg.

    Die behoud van vryheid van spraak en die beskerming van oop, eerlike debat is ’n kernwaarde wat ons nie mag verloor nie. Mag hierdie artikel 'n wekroep wees vir almal wat die waarde van verskil, debat en vryheid koester.

    Lank lewe vryheid van spraak en oop gesprek!

  • Jeanette de Klerk-Luttig

    Dankie Fanie dat jy met die artikel probeer om die "vergiftiging van ons maatskappy" teen te werk, dat jy bydra tot ’n remedie van een of ander aard "vir hierdie saam-hurk en paring", en dat jy op skerp wyse "die fluistering van onthutsende dinge in die dreigende donkertes" ontleed.

  • Andries Visagie

    Die soort "woke" jeugtekste waarteen prof. Van Coller destyds te velde getrek het in sy rubriek, word nou in die VSA van die biblioteekrakke verwyder in die naam van anti-woke. Dis natuurlik 'n growwe vorm van sensuur. In Hongarye word "woke" boeke in sellofaan toegewikkel en agter die toonbank geplaas sodat lesers nie sommer daarmee in aanraking sal kom nie. Die nuwe onverdraagsaamheid teenoor enige iets wat 'n "woke"-geurtjie het, bring mee dat kwesbare vryhede waarvoor daar oor baie dekades heen geveg is, op 'n stomp manier weggevee word. Die skerp en soms onoordeelkundige optrede van US teenoor studente en koshuise gee aan "woke" 'n slegte naam, maar dit sal werklik jammer wees indien die vryhede wat met "woke"-gesprekke bevorder word (waaronder anti-rassisme en die erkenning van die regte van gay- en transmense) sodoende gediskrediteer word. Dis immers brose vryhede wat hier ter sprake is.

  • Hennie van Deventer

    As koerantman verwonder ek my dikwels aan die omvangryke vlakke van raseie akademiese dissertasies, soos ook bogenoemde. Maar, “even the ranks of Tuscany could scarce forbear to cheer.” Die slotsom klop immers 101 persent met die DNS van die drukkersink wat in koerantare pols. Nie om dowe neute nie het Schalk Pienaar se destydse Sondagkoerant Die Beeld by Van Wyk Louw gaan leen om sy tweede hoofartikel die opskrif “Oop gesprek” te gee. Met die stigting van Rapport vyf jaar later is die eerste hoofartikel onder die opskrif “Die gesprek” ingelui met Louw se klinkende woorde: “En een ding bly vir ons ’n lewensvoorwaarde: die gesprek moenie afgesluit word nie. Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie – die vrye meningswisseling tussen mens en mens, tussen volk en volk.” Die waarheid bly ononderhandelbaar al verander omstandighede hoe. Dankie, Fanie Olivier, vir 'n gewigtige (én ewewigtige) bydrae oor 'n kritiek belangrike beginsel.

  • Ds. Nerina Varkenvisser

    So van die Bybel gepraat. Die hoofprotagonis van deel twee van die Bybel is ene Jesus van Nasaret. Hy was 'n wetsonderhoudende Joodse man, maar hy is vandag 'n Christelike god wat die wetboek verruil het vir 5 solas, waaronder sola fide en sola gratia. Diegene wat hom anders wou uitbeeld, was ook maar stilgemaak so oor die jare. Dis hoe die dinge maar loop.

    As Van Coller tog nou net 'n minister was wie se verhaal opgeteken was in regter Zondo se verslag, dan was hy steeds in die kabinet! Feit is, skole is konserwatiewe, behoudende omgewings. Hulle dien altyd die heersende orde. Dit sluit 'universiteite' in. Die universiteite leer ook die arme tokelokke alles teenoorgesteld as wat die kerk se belydenisgeskrifte leer. Dis maar die patroon.

    Die Akademie se lede teiken deesdae ook vir Afriforum en waarsku teen hulle onheilsame besoeke aan die VSA. Dit strook met die owerstes se beleide. Wiens brood men eet, diens woord men spreekt...E k hou toevallig self ook nie veel van Afriforum nie. Tog was dit vir my opmerklik dat mense so divers soos, van Niel de Beer tot Moletsi Mbeki, Afriforum se reg om rond te vlieg waar hulle wil, verdedig. Daar is darem nog vrydenkers, mens moet net krap en soek.

    Met die demokrasie stel elke ideologie hulle eie sisteme op en so groei die polarisasie. Want weinig gesprek vind plaas. Die ouens wat Boermedia volg, lees nie Netwerk24 se professore, doktore en lektore nie. En andersom ook nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top