
Soos alle boekliefhebbers weet, dra die gedrukte woord – en veral die roman – nie meer die kulturele gesag wat dit selfs nog in die vroeë 2000’s gedra het nie. In die verlenging hiervan is dit al opgemerk dat daardie gesaghebbende rol in die videosfeer (soos Régis Debray die oudiovisuele era noem) nou oorgedra is na die reeks op die stromingsplatform.
Vir ’n betreklik klein taal soos Afrikaans geld dit nog meer, omdat die getal (ernstige) lesers ook afneem weens faktore soos emigrasie – dis immers dieselfde middelklas wat lees wat ook die meeste emigreer.
Dit is daarom des te merkwaardiger dat Crito se resensies van die resensente oor meer as 16 jaar soveel aandag getrek en soveel debatte ontlok het. Om maar te swyg oor die jongste ronde wat tot die ontmaskering van Crito as Kerneels Breytenbach gelei het – ’n ontmaskering wat in sommige opsigte nogal ooreengestem het met die eertydse openbare onthulling van iemand se private seksuele voorkeure, ondanks so ’n persoon se wens vir anonimiteit.
Waaraan kan sowel die prominensie van Crito as sy ongevraagde outing toegeskryf word?
1.
Kenmerkend van die gesprekke oor Crito oor die jare, en des te meer onlangs, is die dikwels buitengewoon persoonlike betrokkenheid van deelnemers aan die gesprekke – wat ook vele van my vriende en kennisse insluit. Hierdie opstel word allermins vanuit ’n koel, persoonlike afstand en onbetrokkenheid geskryf; inteendeel.
In sy opstel van 21 Augustus waarin hy sy identiteit en motivering vir Crito bekendmaak, skryf Kerneels dat hy in November 2008 met Crito begin het omdat hy, breedweg, besorg was oor die billikheid en gehalte van resensies – en watter invloed resensies ook op die resepsie van boeke kan hê.
Ek kan nie daarop aanspraak maak dat een van my onbillike resensies meegespeel het in Crito se aanvanklike oorwegings nie, maar dit is inderdaad so dat ek kort ná die verskyning van Etienne van Heerden se Asbesmiddag (2007), die roman op baie onbillike wyse in ’n rubriek geresenseer het – onbillik omdat ek, sonder om die roman klaar te lees, ook nog so oppervlakkig gelees het dat ek die verteller in die roman sonder meer vir Van Heerden self aangesien het.
’n Vriend vir wie ek baie aansien had, nou saliger en eens die boekeredakteur van Die Burger, Gerrit Brand, het my tereg behoorlik uitgetrap, en as ek reg onthou, het LitNet self in daardie tyd iets soos ’n manifes oor billike resensies gepubliseer. Toe Crito dus begin, het ek vanweë hierdie jeugsonde van my persoonlik aangespreek gevoel, en sy resensies van die resensente oor die jare redelik getrou gevolg – sonder dat ek kan sê ek het elke enkele aflewering gelees, of dat ek dieselfde betrokkenheid daarby had as die resensente wat soms onder sy pen deurgeloop het, aangesien ek self by hoë uitsondering gevra word om resensies te skryf. Aan die ander kant weet ek, as iemand wat al meer as 35 jaar lank standpunte publiseer en ook skeppend skryf, baie goed hoe dit voel om in die openbaar geloop te word – en moes ek soos enige deelnemer aan die openbare gesprek baie vroeg aanvaar dat as jy dit wil uitdeel, moet jy dit ook kan vat as jy aan die ontvangkant is.
Daar is ’n ander persoonlike betrokkenheid by Crito wat hier verklaar moet word: As musiekfanatikus wat in die 1980’s op hoërskool was in die bedrukkende Verwoerdburg van die PW Botha-era, was die destydse popmusiekresensies van Jan Blom in die Huisgenoot vir my soos suurstof. Tot vandag toe onthou ek van Blom se uitsprake. Met die verskyning van Electric Light Orchestra se Balance of power (’n album waarvoor ek tot vandag toe baie lief is, danksy die diepgang van die lirieke en die relevansie daarvan vir my geslag, verskuil agter bedrieglik eenvoudige pop) het Blom byvoorbeeld na ELO verwys as iets soos “die goeie ou vrou van rockmusiek wat maar altyd weer op straat verskyn om haar bekende ou ware te smous” (ek haal aan soos ek dit onthou). Op ’n ander keer het hy kwaai losgetrek teen Europe se deurbraakalbum met die treffer "The final countdown", en volgens my bedenklike geheue Europe daarvan beskuldig dat hulle skietgoed gee aan die mense wat boosheid in rock wil sien. Tot my verstomming.
Ek het geen twyfel dat hierdie herinneringe feitelik nie heeltemal korrek is nie, maar inhoudelik wel korrek, aangesien wat Blom geskryf het, nie net gespreek het van diepgaande musiekkennis en skrywersvakmanskap nie, maar doodgewoon van dieselfde erns as waarmee ek musiek benader het. Oftewel, liefde vir musiek.
Blom was natuurlik óók Kerneels Breytenbach.
2.
In die lig daarvan dat Blom ook Breytenbach was, en dat dieselfde gevatte styl wat so kenmerkend van Crito is, ook dié van Blom was, spreek dit vanself dat ons hier te make het met ’n resensent wat sy vak ken, vir wie deurdagte (openbare) oordele oor kuns belangrik is, en wie se styl wesenlik tot sy invloed was en bly. Dis immers nie om dowe neute nie dat een van die grootste stiliste van die Franse taal, die einste bovermelde Régis Debray, rondom die ouderdom van 80 in ’n onderhoud verklaar het dat wat ’n skrywer of denker onderskei, nie soseer hul idees is nie (volgens hom is daar maar min nuwe idees onder die son), maar hul styl. Breytenbach se styl, soos dit in die tyd van Jan Blom en selfs vroeër gevorm is in ’n wesenlik verbygegane era, is een van die vernaamste redes waarom sy werk as Crito veral die laaste vyf jaar en meer soveel argwaan ontlok het – meer daaroor hier onder.
........
In die lig daarvan dat Blom ook Breytenbach was, en dat dieselfde gevatte styl wat so kenmerkend van Crito is, ook dié van Blom was, spreek dit vanself dat ons hier te make het met ’n resensent wat sy vak ken, vir wie deurdagte (openbare) oordele oor kuns belangrik is, en wie se styl wesenlik tot sy invloed was en bly.
........
Wat ook wesenlik tot hierdie gesprek is, is dat Breytenbach oor dekades van die beoefening van sy vak meesterskap verwerf het – en die kwessie van meesterskap en oordrag (soos hy soms met resensieslypskole gedoen het) is ook wesenlik in hierdie gesprek.
3.
Tydens ’n onlangse gesprek by ’n boekklub oor my 2023-roman Sluitstuk, waarin meesterskap en oordrag, en die verhouding tussen leermeester en leerling sentraal staan, vra ’n bejaarde oom wat onlangs familie in die VSA besoek het en opnuut onder die indruk gekom het van hoe geredelik kennis en inligting nou beskikbaar is, of ek nie dink dat tradisie en meesterskap en oordrag eintlik op geleende tyd is nie. My antwoord was dat ons dit nodiger as ooit het. Waarom? Wel, Debray, wat met sy mediologie wesenlike werk oor tradisie en oordrag gedoen het, skryf iewers dat hoewel tegnologiese vooruitgang dit vir ons moontlik maak om al hoe vinniger tussen plekke te reis of al hoe vinniger toegang tot inligting te verkry, daar geen kortpaaie is as jy Tolstoi se Oorlog en vrede wil lees nie. Wat nog te sê Marcel Proust se Op soek na die verlore tyd, kan ’n mens byvoeg.
Sluitstuk is geskryf uit persoonlike ervaring van die leerproses, oordrag en tradisie oor dekades heen – en is daarom ook opgedra aan my drie leermeesters, van wie net een by die naam genoem word, naamlik Karel Schoeman (met betrekking tot stilte, skeppendheid, skryf en die mistiek). Die ander twee is Debray (1939–), met betrekking tot die filosofie) en my eertydse Zen-meester, Roland Joenō Rech (1944–).
4.
Tydens die ontsaglik intense, veeleisende eerste ontmoeting tussen my en Schoeman het hy my heel saaklik oor my slordige Afrikaans berispe, en hardop gewonder of dit nie toeskryfbaar was aan die feit dat ek destyds as werknemer van die Franse Instituut van Suid-Afrika in ’n Engelse Johannesburgse milieu “min met Afrikaans te doene” gekry het nie.
Op ’n ander keer het ek in ’n brief aan Schoeman ’n pastorale toneel by die LC de Villiers-sportterrein van die Universiteit van Pretoria beskryf waarin ’n eiland met wilgers op ’n dammetjie laatmiddag sentraal was. Volledigheidshalwe, en in ’n poging om dit so realisties moontlik te doen, het ek ook die blasende ganse op die eilandjie beskryf. Tot Schoeman se groot ontsteltenis en ergernis, omdat dit volgens hom die hele prentjie bederf het – estetiese geslaagdheid is belangriker as realisme, moes ek leer.
Wat Debray betref, wat in Paryse intellektuele kringe bekendstaan as un dur, oftewel iemand wat hard is: Hy het my baie gou laat verstaan dat alle persoonlike hartlikheid en stimulerende gesprekke ten spyt, hy “agnosties bly tot jy vir my akademiese werk op skrif inlewer”. En my vakleerlingskap by hom het begin met ’n gedugte leeslys, insluitend Heidegger se Syn en tyd en Lévi-Strauss se Tristes tropiques, wat ek binne enkele maande moes deurwerk om “beduidende tekortkominge in jou filosofiese begronding aan te vul”. Met die toekenning van die finale punt van die skripsie wat ek vir hom oor globalisering in 2002 geskryf het, het hy my daaraan herinner dat “net omdat die oorgang van 1994 vir julle in Suid-Afrika belangrik is, beteken dit nie dis die jaar nul vir die res van die wêreld nie”.
........
Dog die era waarin ons ons nou bevind, is een waarin tradisie verwerp word; waarin die gesag waarmee die draers van ’n tradisie beklee word, nou onmoontlik is; en waarin ons persoonlike ervarings, gevoelens en journey (dikwels nog onder die bogbegrip “spiritualiteit”) nou die deurslag gee. En dis hoekom ons “nice” met mekaar moet wees.
........
Wat my Zen-meester betref: Tydens my heel eerste sesshin (naweekafsondering van intense meditasie en fisieke arbeid) kry ek ’n geleentheid per motor soontoe. Ons kom weens omstandighede eers die aand daar aan toe die meester reeds die basiese konvensies en reëls vir die naweek afgekondig het.
Die volgende oggend, 5.45, oftewel 15 minute voor die opstaanklok eers sou lui, is ek wakker en gaan stort ek so stil soos ’n muis. Daar was nog ’n kêrel, ongelukkig nie so stil soos ’n muis nie. Toe ons albei dus met ons handdoeke om ons lywe gewikkel die badkamer wil verlaat, staan die meester skielik in slegs sy wit onderkimono voor ons en vra: “Wat maak julle? Julle het my nou vroeg wakkergemaak.”
Ek wou in die grond wegsink en bly my selfs nog ná die eerste meditasie en ontbyt op die gebruiklike oggendwandeling daaroor verknies teenoor ’n vriendin wat al meer as 20 jaar lank ’n non is. Sy roep my tot orde: “Hou nou op om jou te verknies. Hy is die meester, en hy het bloot gedoen wat sy rol van hom vereis.”
Nie in een van bogenoemde gevalle was die meesters se meesterskap onder verdenking nie – dis júis deur hulle teregwysings bewys, en ook en veral deur die saaklikheid daarvan. Soos ’n kollega in die Klassieke tereg eens opgemerk het: “Die heiliges van die Kerk was en is nie per definisie nice nie.”
Dog die era waarin ons ons nou bevind, is een waarin tradisie verwerp word; waarin die gesag waarmee die draers van ’n tradisie beklee word, nou onmoontlik is; en waarin ons persoonlike ervarings, gevoelens en journey (dikwels nog onder die bogbegrip “spiritualiteit”) nou die deurslag gee. En dis hoekom ons “nice” met mekaar moet wees.
........
Maar was die sterk reaksie van resensente op Crito nie meesal te wyte aan die feit dat sy kritiek geldig was nie? Dat hy die rol van meester met welslae vervul het nie?
........
Om nice te wees is beslis ook nie te rym met nog ’n wesenlike vormende ervaring wat ek tydens my jare as Zen-Boeddhis beleef het nie, naamlik die rinsakkoe en die kiosakkoe. Tydens een van die groot somerkampe van nege dae by die Franse Zen-tempel waar ek sewe maande lank gewoon het, had ek die seldsame voorreg om die rinsakkoe mee te maak: Omdat ek deel van die kombuisspan was, het ons in die voorste deel van die dojo gesit. Skielik klap twee sekwensies van drie klipharde houe vlak by my – twee lede van die kombuisspan wat laat vir diens was (en dus druk op die ganse kampprogram geplaas het), kry toe elk op elke sening tussen nek en sleutelbeen drie van die bestes. Rinsakkoe is die strafweergawe van die kiosakkoe: ‘n Halfuur in die zazen (meditasie) in kan mense wat met lomerigheid of besige gedagtes sukkel, een hou op elke sening links en regs vrywillig vra. Die klappe sentreer jou uitstekend met ’n gepaardgaande stuwing van energie deur jou liggaam. En ek had self die voorreg om metterjare die kiosakkoe te mog gee – iets wat jy werklik net kan doen as jy jou vrees om iemand te beseer oorkom en dit in psigosomatiese harmonie per gesinchroniseerde asemteug uitvoer saam met die persoon wat daarvoor gevra het.
Het Crito ooit iets anders in sy dissiplinering van resensente gedoen? Wat nie wil sê dat Crito (nes alle meesters, insluitend myne) nie soms self ook gefouteer het nie, soos hy ook in bogenoemde opstel erken. Ek het self byvoorbeeld met hom verskil oor hoe hy Mellet Moll vir dié se deeglike resensie van Riku Lätti se Taboek afgekam het – nes ek verskil het met Moll oor hoe hy op dié afkamming reageer het. Maar was die sterk reaksie van resensente op Crito nie meesal te wyte aan die feit dat sy kritiek geldig was nie? Dat hy die rol van meester met welslae vervul het nie?
5.
Hier bo is verwys na ’n vergane era waarin Kerneels Breytenbach gevorm is. In die verlenging hiervan: Rondom 2011 gesels ek eendag in Melbourne met my doktorale studieleier oor die eietydse afgang van een van die kernaspekte van Crito (en Blom) se werk, naamlik satire. My studieleier was ’n linkse, sekulêre Jood met ’n enorme verwysingsraamwerk – ouwêrelds – en sy verklaring vir die afgang van satire in die Weste is dat namate ’n gedeelde openbare verwysingsraamwerk in die Weste verbrokkel, dit vervang word met subkulture met hul eie sosiolekte. In so ’n konteks word satire onmoontlik, tensy dit in die kleiner subkultuur beoefen word, maar dan is dit ook grootliks daartoe beperk, aangesien satire ’n groter gedeelde verwysingsraamwerk vooronderstel. Bowendien, soos ook reeds hier bo uitgewys, maak die gesag van tradisie en meesters nou plek vir die “gesag” van die persoonlike ervaring en emosies, en is die beste wat ons kan doen om die al hoe groter gapings tussen die subkulture te probeer oorbrug, om inklusief en nice te wees. (En durf jy hierdie meesterkodes uitdaag, byvoorbeeld deur kritiek op die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Parys te lewer, begaan jy die doodsondes van onverdraagsaamheid – wat nié nice is nie.)
........
Trouens, die sukses van sy openbare persona was ’n funksie van die styl en gesag van sy kritiek.
........
Die argwaan wat Crito hom veral die laaste jare op die hals gehaal het, is vermoedelik te wyte aan die feit dat die styl, meesterskap en tradisie waarbinne hy gevorm is, nou tot ’n onherroeplik vergange era behoort. Crito se satire is daarom ervaar as persoonlik kwetsend of beledigend; sy kwinkslae (“snotjantieties”) as seksisties.
Crito is natuurlik ook dikwels verwyt dat hy onder ’n skuilnaam skryf. Wie gee hom die reg om ons anoniem te kritiseer? is gevra. Dog júis omdat Crito nie gesag aan sy openbare beeld kon ontleen nie, kon hy dit slegs aan sy styl en die gesag van sy kritiek ontleen – en die beste bewys daarvan is die verwyt dat hy agter ’n skuilnaam skuil. Trouens, die sukses van sy openbare persona was ’n funksie van die styl en gesag van sy kritiek.
Miskien was dít Crito se grootse sonde: In ’n era waarin die boek agter die skrywer al hoe meer vergeet word, waarin al wat leef en beef ’n “profiel” van ’n aard moet kultiveer, het Crito nie gekonformeer nie.
En daarom is Crito tot sondebok gemaak: nie inklusief nie; nie nice nie.
Daarvoor het hy gans te veel vir die letterkunde omgegee.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: video-opname van gesprek met Dana Snyman oor Seun
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die toekoms van die geskrewe en gedrukte woord in Afrikaans
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die toekoms van die geskrewe en gedrukte woord in Afrikaans

