Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die toekoms van die geskrewe en gedrukte woord in Afrikaans

  • 6

Toe ’n aantal Afrikaanse skrywers en intellektuele toenemend vanaf rofweg die jaar 2000 hulle groeiende kommer oor die toekoms van Afrikaans in die onderwys, die regspraak, die wetenskap, die kunste en ander hoër funksies begin uitspreek het, is hulle dikwels afgelag met die argument “solank die taal nog gepraat word, sal alles goed gaan”.

Hierop het een van die leidende (Suid-) Afrikaanse intellektuele van sy generasie, Hermann Giliomee, gewaarsku dat voorstanders van die solank-ons-die-taal-praat-argument nie rekening hou nie met die feit dat die betreklik goeie stand van Afrikaans in daardie stadium veel te make had met die beleggings wat vorige generasies in die taal gemaak het. Aldus Giliomee sou die eintlike uitdaging vir Afrikaans eers in die volgende dekades aanbreek indien soortgelyke beleggings in die taal nie deur volgende generasies gemaak word nie.

In aansluiting hierby was die filosoof, Danie Goosen, een van die eerstes – indien nie die eerste nie – om daarop te wys dat die wel en wee van ’n taal ten nouste saamhang met instellings waarbinne die taal geïnstitusionaliseer en aangegee word aan ’n volgende generasie – kerke, skole, universiteite, howe, en so meer.

Dit is teen hierdie tyd ou nuus dat Afrikaans in ’n hoë mate verdwyn het uit die staatsdiens, die openbare universiteite en die howe, terwyl dit as onderrigtaal in skole onder druk verkeer. Tegelyk is dit eweneens waar dat daar gelukkig in die afgelope sowat twee dekades ’n aantal Afrikaanse privaat skole en universiteite opgerig is, en bly die Afrikaanse televisiekanale en kunstefeeste nog uiters belangrike instellings wat tot stand gekom het, en waar Afrikaans ook floreer en brûe binne, sowel as na buite die taal bly bou.

Daar is egter nog ’n belangrike dimensie aan hierdie gesprek, naamlik die stand van Afrikaans as geskrewe woord, waarvoor hier verwys word na die werk van die Franse denker, Régis Debray, oor wat hy verskillende mediasfere noem, oftewel ekostelsels van kulturele, kennis- en taaloordrag.

Debray onderskei tussen drie mediasfere. In die logosfeer is die invloedrykste kommunikasiemedium die gesproke woord en vind oordrag veral mondeling plaas. Van die groot werke wat in die logosfeer ontstaan, is Homeros se eposse Die Ilias en Die odussee, die Sutras van die Boeddha, Plato se Verdediging van Sokrates en natuurlik die Bybel.

In die grafosfeer word die geskrewe woord in sy gedrukte vorm die invloedrykste kommunikasiemedium en vind oordrag veral by wyse van lees plaas. Van die groot werke wat in die grafosfeer ontstaan, is Shakespeare se dramas, Cervantes se Don Quixote en feitlik al wat klassieke en nasionale letterkunde wêreldwyd is.

In die videosfeer word die oudiovisuele woord die invloedrykste kommunikasiemedium en vind oordrag veral by wyse van kyk en luister plaas. Van die groot werke van die videosfeer is die gewilde en/of invloedryke rolprente en reekse wat nog steeds op enorme skaal voortgebring word.

Alvorens die geskrewe woord in al drie mediasfere na waarde geskat kan word, moet ’n paar ander sake oorweeg word.

Eerstens is dit volgens Debray belangrik om in ag te neem dat:

  • al drie mediasfere in eietydse samelewings teenwoordig is, selfs al is die videosfeer vandag die invloedrykste;
  • dat die een mediasfeer nie “beter” as die ander is nie, maar dat elkeen sy eie sterk- en swakpunte het;
  • dat daar nie iets soos ’n standaard-ontwikkelingsgang van die drie mediasfere is nie, maar dat die geskiedenis van die drie mediasfere in hierdie of daardie samelewing afhang van allerlei kontingente faktore.

Om laasgenoemde punt te illustreer: Die Joodse of die Chinese kulture het al oor duisende jare ’n wesenlike verbintenis tot die geskrewe woord en geletterdheid, waarvan ons dus nie noodwendig kan verwag dat hulle vroeë baanbrekers in die videosfeer sou wees nie. Insgelyks kan ons sê dat Afrika suid van die Sahara al oor duisende jare ’n baie sterk verbintenis tot die gesproke woord het, en dit hoef ons dus nie te verbaas nie dat die kulture daarvan besondere respek het vir die oudstes as draers van dit wat oorgedra word, of dat hierdie kulture besonderlik presteer op die gebiede van die musiek en die orale poësie – wat ook ten grondslag van Homeros se werk is, soos Milman Parry in sy baanbrekende geskiedkundige navorsing oor mondelinge digters van die Balkan in die 1930’s aangetoon het. Bowendien weet ons in elk geval vandag ook dat van die universiteite in Wes-Afrika ontstaan het nog voor hulle Europese eweknieë in die hoë Middeleeue.

Een van die denkers wat ’n belangrike invloed op Debray uitgeoefen het, Walter Ong, werp in sy klassieke Orality and literacy (1982) lig op die sterk- en swakpunte van die gesproke teenoor die geskrewe en/of gedrukte woord.

Volgens Ong kan van die gesproke woord gesê word dat:

  • dit ’n teenswoordige gedeelde konteks van twee of meer sprekers veronderstel wat, sê, oor een of ander saak ’n debat voer;
  • dit ’n onmiddellike medium is waarin die tyd vir nadenke beperk is en die een wat die vinnigste (op sy of haar “voete”) kan dink, die oorhand in die debat kry;
  • vanweë die onmiddellikheid daarvan boet ’n spreker wat sigself korrigeer (“wat ek eintlik wou sê”) oorredingskrag in die debat in;
  • die mondelinge ’n “verhitte” medium is, omdat emosies weens die onmiddellikheid van die medium maklik aangewakker kan word, soos die volksmond dit tereg beskryf wanneer oor ’n uitval tussen mense gesê word: “Ons het woorde met mekaar gehad”.

Van die geskrewe woord, ook in sy gedrukte vorm, merk Ong die volgende op:

  • deelnemers aan ’n debat deel nie ’n onmiddellike konteks waar hulle regstreeks hier en nou met mekaar kommunikeer nie;
  • omdat dié medium dus nie so onmiddellik en regstreeks is nie, laat dit meer tyd toe vir nadenke oor wat gekommunikeer gaan word, en is dit aantrekliker en oortuigender om eerder meer as minder te dink oor wat jy gaan kommunikeer, sodat selfkorreksie en standpunthersiening meer oorredingskrag bied;
  • dié medium is dus ook ’n sogenaamde “koeler” een, waarin emosies eers kan bedaar voor ons verder in die gesprek reageer;
  • bowenal deel skrywer en leser in dié medium nie onmiddellik mekaar se konteks nie, maar moet hulle mekaar se konteks verbeel – met die gevolg dat skryf groter inspanning as praat verg, en met die verdere gevolg dat dié medium van ons meer verbeelding en empatie tussen skrywer en leser onderling vereis.

Ong het dit voorts ook oor hoe die geskrewe woord in vergelyking met die gesproke woord dikwels by mense ’n groter selfbewussyn en besonnenheid in die hand werk, doodeenvoudig omdat dit ’n “stadiger” medium as die gesproke woord is.

........
In die verlenging van Debray en Ong se argumente kan aangevoer word dat die gesproke woord op sy beste emosionele bande tussen mense bou soos wat die geskrewe woord dit nie naastenby kan doen nie.
........

In die verlenging van Debray en Ong se argumente kan aangevoer word dat die gesproke woord op sy beste emosionele bande tussen mense bou soos wat die geskrewe woord dit nie naastenby kan doen nie; op sy slegste kan die gesproke woord emosies wek en manipuleer op so ’n wyse dat dit mense uit mekaar dryf en van mekaar vervreem. Op sy beste kan die geskrewe woord (ook in sy gedrukte vorm) die beste idees in ’n debat laat uitkristalliseer en sy gebruikers tot meer besonnenheid bring; op sy slegste kan die geskrewe en gedrukte woord wanvertolkings in die hand werk en ’n rigiede hiërargie skep waarin die mees geletterdes en belesenes namens almal praat, sonder dat hulle noodwendig met almal in voeling is.

Ong wys voorts op unieke voordele wat die geskrewe woord (ook in sy gedrukte vorm) aan samelewings bied:

  • omdat skrywer en leser nie ’n onmiddellike konteks met mekaar deel nie, word ’n kultuur van vertolking by opeenvolgende generasies lesers van dieselfde tekste gekweek, wat bygevolg by sulke lesers ’n sin kultiveer vir die feit dat die laaste woord oor die groot vrae nooit gespreek is nie, en hulle in beginsel ontvankliker vir ander standpunte en vertolkings stem;
  • omdat die alfabet so ’n eenvoudige kode is om te bemeester, is dit per definisie ’n demokratiese kode, wat met die eerste betekenisvolle toe-eiening daarvan, naamlik die antieke Atheners se toe-eiening van die Fenisiese alfabet, ’n wesenlike rol in die opkoms van die demokrasie, gelykheid voor die reg en die optekening van wette en hul daaropvolgende vertolking speel;
  • en, les bes, werk dit by geletterdes, veral skrywers en lesers, ’n sin vir ’n langer tydsduur in die hand, wat manifesteer in respek vir en aanleer van durende wetenskaplike, kuns- en literêre tradisies, asook in waardering vir die rol van die geskiedenis.

Laasgenoemde is die rede waarom enige wetenskaplike, denker, skrywer of kunstenaar sigself in die eerste plek moet vergewis van wat voor hulle gedoen is in die tradisie – en dit word veral gedoen deur te lees.

Ek het elders geskryf oor hoe die Suid-Afrikaanse oorgang na die videosfeer vanaf veral die 1990’s bydra tot die fragmentering en verswakking van die openbare ruimte, politieke debatte en politieke identiteite, maar in hierdie opstel word stilgestaan by die rol en toekoms van die Afrikaanse geskrewe woord in ’n era waar die videosfeer nou die oorheersende mediasfeer geword het.

Om hieroor te besin, is dit nodig om eers kortliks stil te staan by die geskiedenis van die drie mediasfere in die Afrikaanse konteks.

Wat die logosfeer betref, kan gesê word dat dit vir alle praktiese doeleindes die mediasfeer is waarin Afrikaans gebore word, en funksioneer tot rofweg die 1830’s tot 1860’s. Tot dan vind alle vorme van oordrag tussen generasies feitlik uitsluitlik mondeling plaas, en te oordeel aan hoe belangrik volksang, musiek en om stories en grappe te vertel vandag nog in Afrikaans is, kan ons sê dat die Afrikaanse logosfeer allermins deur die grafosfeer verdring is – én, baie belangrik, dat dit ’n tweede asem met die opkoms van die videosfeer gekry het. Dink byvoorbeeld aan hoeveel programme op Afrikaanse radio en televisie word aan “gesels” of die vertel van stories gewy, of hoe buitengewoon invloedryk Afrikaanse smaakmakers op platforms soos YouTube en TikTok vandag is.

........
Die oorgang na die Afrikaanse grafosfeer begin op kleinskaal, dog in alle erns, wanneer Afrikaans geskrewe in Arabies vanaf die 1830’s in Moslemskole in Kaapstad begin gebruik word, en wanneer die NG Kerk rondom 1860 besluit om sogenaamde kerkskole te stig om die bedreiging van verengelsing in die destydse Kaapkolonie die hoof te bied.
........

Die oorgang na die Afrikaanse grafosfeer begin op kleinskaal, dog in alle erns, wanneer Afrikaans geskrewe in Arabies vanaf die 1830’s in Moslemskole in Kaapstad begin gebruik word, en wanneer die NG Kerk rondom 1860 besluit om sogenaamde kerkskole te stig om die bedreiging van verengelsing in die destydse Kaapkolonie die hoof te bied. Van hierdie kerkskole was daar teen 1900 sowat 900, en dit word uiteindelik die ruggraat van die veelbesproke Christelik-Nasionale onderwysstelsel van die Nasionale Party ná 1948.

Ander gebeure wat onder vele meer in die opkoms en oorgang tot die Afrikaanse grafosfeer uitgewys kan word, is:

  • die Genootskap van Regte Afrikaners se besluite in 1875 om te begin werk aan spelreëls vir geskrewe Afrikaans, asook ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel, uiteindelik voltooi in 1933;
  • die stigting van verskeie Afrikaanse koerante in die vroeë 20ste eeu, waaronder Die Burger (1915) sekerlik die bekendste is;
  • die aanvaarding in 1925 van Afrikaans as amptelike taal naas Engels.

Namate massageletterdheid in Afrikaans vanaf die vroeë 20ste eeu momentum begin kry, aanvanklik veral onder Afrikaners, gebeur ook in Afrikaans wat in soveel ander tale met die opkoms van die grafosfeer gebeur:

  • tyd word toenemend ervaar as ’n lyn waarlangs die geskiedenis ontvou, en Afrikaanse geskiedskrywing kry ernstige momentum en invloed;
  • (Afrikaner-) nasionalisme kom op dreef (waarin koerante as daaglikse hoofstukke in die verhaal van ’n kulturele groep ’n wesenlike rol speel, soos Benedict Anderson uitwys in sy klassieke studie oor die opkoms van die nasionalisme wêreldwyd, Imagined communities;
  • ’n ernstige Afrikaanse letterkunde begin vorm aanneem, soos wat daar tegelyk algaande groot momentum opgebou word met die Afrikaanse universiteitswese, privaat sektor en ander kunste.

Hier moet egter ook ’n belangrike kantaantekening in die verhaal van die Afrikaanse grafosfeer gemaak word, naamlik dat dit onherroeplik beslag kry in reaksie op die Britse kolonialisme, wat op sy beurt aan Afrikaner-nasionalisme stukrag verleen – maar ook ’n noodlottige raskonnotasie, onder meer omdat die grafosfeer “swart-op-wit”-standaardisering van alles en nog wat in die hand werk, wat met betrekking tot ras manifesteer as verharde sienings van sogenaamde rasse en rasse-identiteit. In die Afrikaanse taal was die noodlottige gevolg hiervan die verwydering van bruin kiesers van die kieserslys in 1956, met verdere noodlottige gevolge vir die taal en die gemeenskappe wat dit praat, gevolge wat vandag nog met ons is.

Hoewel radio en films vanaf die 1920’s toenemend gewild en invloedryk in Afrikaans word, kry die oorgang na die Afrikaanse videosfeer eers werklik onkeerbare momentum met die koms van televisie na Suid-Afrika in 1975–76. Die Nasionale Party-regering was deeglik bewus van wat die videosfeer aan hulle houvas en invloed kon doen, soos blyk uit die uiters streng regulering van beeldmateriaal oor die Grensoorlog of massaprotes in die townships gedurende die 1980’s – dis immers nie om dowe neute nie dat die Franse wetenskapsfilosoof, Michel Serres, eens opgemerk het dat die berugte foto van die negejarige Viëtnamese meisietjie, Phan Thi Kim Phuc, wat nakend en huilend van die pyn weens die gebruik van napalm afgeneem is, die Amerikaanse openbare mening beslissend teen die oorlog in Viëtnam geswaai het. So was die vertoon van foto’s van Nelson Mandela ook gedurende die 1980’s in Suid-Afrika streng verbode.

........
Die mate waartoe die Afrikaner-jeug se blootstelling aan die videosfeer vanaf die 1980’s bygedra het tot hulle vervreemding van die Nasionale Party en uiteindelike oorweldigende ja-stem in die “laaste wit referendum” van Maart 1992 kan ook kwalik onderskat word – en daarmee is reeds iets gesê van die sterkpunte van die videosfeer in Afrikaans.
........

Die mate waartoe die Afrikaner-jeug se blootstelling aan die videosfeer vanaf die 1980’s bygedra het tot hulle vervreemding van die Nasionale Party en uiteindelike oorweldigende ja-stem in die “laaste wit referendum” van Maart 1992 kan ook kwalik onderskat word – en daarmee is reeds iets gesê van die sterkpunte van die videosfeer in Afrikaans.

Wat die opkoms van die Afrikaanse videosfeer ook dramaties versnel het, was die beëindiging van Suid-Afrika se internasionale isolasie ná oud-president FW de Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 en die aankondigings van die begin van ’n oorgang na ’n grondwetlike demokrasie wat daarin gemaak is. Sekerlik die twee vernaamste instellings wat dan ook met die oorgang na die Afrikaanse videosfeer hul verskyning gemaak het, is die kommersiële Afrikaanse televisiekanale (soos kykNET en VIA) en die Afrikaanse kunstefeeste.

Wat slegs enkelinge soos Hermann Giliomee en Danie Goosen egter in daardie stadium verstaan het, is dat die enorme vroeë suksesse van gemelde televisiekanale en kunstefeeste óók en miskien júis te danke aan die winste van die Afrikaanse grafosfeer was – derduisende mense het in daardie stadium Afrikaanse naskoolse opleiding deurloop, en dit is grootliks dieselfde mense wat hierdie kanale en feeste ondersteun.

Terwyl hierdie belangrike gegewe misgekyk is, het die Afrikaanse videosfeer in so ’n mate van krag tot krag gegaan dat die kombinasie van afname van belegging in dinge soos koerante en uitgewers en die geleidelike verdwyning van Afrikaans uit die howe, universiteite en die staatsdiens, die Afrikaanse grafosfeer geweldig ontwrig het. Bowendien het derduisende Afrikaanstaliges wat juis danksy hul vorming in die Afrikaanse grafosfeer oor die nodige opleiding en ander middele beskik het, in hulle honderde duisende die land verlaat. Wat was die gevolge hiervan? Minstens die volgende kan vermeld word:

  • die korrekte gebruik van die standaardvorm van Afrikaans onder die Afrikaanstalige publiek het dramaties verswak, en die blote bestaan van die standaardvorm word vandag bevraagteken en selfs verdag gemaak;
  • die Afrikaanse uitgewerswese het dramaties gekrimp en die voortbestaan van Afrikaanse koerante in selfs digitale vorm is nou in die gedrang;
  • wetenskaps- en kunsbeoefening in Afrikaans het dramaties afgeneem in vergelyking met die tweede helfte van die 20ste eeu;
  • Afrikaanse literêre fiksie en poësie is as suiwer kommersiële onderneming op geleende tyd – om dit te skryf, sowel as om dit te lees verg immers besonder hoë vlakke van geletterdheid en opleiding in die betrokke tradisies waarin dit beoefen word.

Waarskynlik het min ander gebeure die afgelope vyf tot 10 jaar hierdie werklikhede tuisgebring by die Afrikaanse publiek soos die onlangse aankondigings oor die toekoms van Afrikaanse koerante soos Rapport en Beeld.

Soos reeds hierbo aangevoer is, is die geskrewe woord – en dan veral sy gedrukte vorm in die grafosfeer – wesenlik vir die demokrasie, vir ’n ingeligte en denkende burgery, en, les bes, vir die videosfeer. Dit is uiters belangrik om te verstaan dat indien die Afrikaanse geskrewe woord en sy gedrukte vorm nie steeds onderhou en gekultiveer word nie, ons daarvan kan vergeet om steeds hoë vlakke van prestasie in die kunste, die ekonomie en die wetenskap in Afrikaans te behaal. En ook die Afrikaanse videosfeer sal beslis nie vergelykbare prestasies as die Afrikaanse grafosfeer op sy hoogbloei bly lewer nie – terwyl ons danksy hulle wortels in die grafosfeer nou nog kan spog met ’n Marthinus Basson of ’n Katinka Heyns of ’n Nicola Hanekom of ’n Theltom Masimela, gaan ons dit nie noodwendig oor twee of drie dekades kan doen as die stutpaal van dit alles, naamlik die Afrikaanse grafosfeer, nie nóú gestut word nie. Hoe kan dit gedoen word?

Om dié vraag te beantwoord, sal ’n omvattende openbare gesprek en saamdink verg. Hier word dus ter afsluiting slegs enkele gedagtes aan die hand gedoen.

........
As Afrikaanse kinders nie van vroeg af die waarde van die geskrewe en die gedrukte woord leer nie – ook as voorwaarde vir die intelligente toe-eiening van skerms en die digitale nie – wag daar moeilikheid.
........

Eerstens behoort daar in die Afrikaanse skole ernstig nagedink te word oor die verbanning van die gebruik van selfone op die skoolterrein, asook die verantwoorde gebruik van elektroniese toestelle in kinders se onderrig. Ons weet teen hierdie tyd dat om te lees en te skryf die brein op ’n ander manier laat werk as om na ’n skerm te kyk, en dat as laasgenoemde by eersgenoemde oorneem, kry ons verkorte aandagspanne en beperkte konsentrasievermoë – om maar te swyg oor hoe al die swakpunte van die mondelinge, soos opgejaagde emosies en vlak debatte, dan gedy. As Afrikaanse kinders nie van vroeg af die waarde van die geskrewe en die gedrukte woord leer nie – ook as voorwaarde vir die intelligente toe-eiening van skerms en die digitale nie – wag daar moeilikheid.

Tweedens moet alles moontlik gedoen word om Afrikaans as taal van die howe, skole en universiteite te behou en uit te bou, veral privaat gefinansier (wat natuurlik nie met die howe gedoen kan word nie). ’n Ander aspek hiervan wat selde aandag kry, is die skouspelagtige verengelsing van Afrikaanse gelowiges se aanbiddingspraktyke en -plekke. As ons nie meer in Afrikaans bid nie, sal ons ook nie meer in Afrikaans bly skryf en lees en dink nie.

’n Derde stutpaal wat uiters dringend ingeslaan sal moet word, is vorme van trusteeskap vir die geskrewe en gedrukte Afrikaanse woord. LitNet het met wat sy redakteur en stigter, Etienne van Heerden, ’n bedelmodel noem, reeds een vorm van hierdie trusteeskap aangedui deur van meet af die letterlike inkoop van donateurs te kry om dié nuwe instelling van die videosfeer in die openbare belang te finansier en gratis toegang vir die publiek te verseker.

Maar daar kan baie ander vorme van trusteeskap wees. Dit is byvoorbeeld vandag moeilik om te dink aan enige ryk Afrikaanstalige individu of familie of firma bo die ouderdom van 40 wat nie sy of haar rykdom te danke het aan voordele wat uit die Afrikaanse grafosfeer getrek is nie. Dit is húlle wat nóú kollektief sal moet besin oor die oprigting van iets soos ’n Afrikaanse Trustfonds vir die geskrewe en gedrukte woord wat kan seker maak dat koerante en ernstige letterkunde steeds in Afrikaans uitgegee sal word. Die trustees van so ’n fonds behoort verteenwoordigend van al die gemeenskappe in Afrikaans te wees, en moet toesig hou daaroor dat Afrikaanse koerante, tydskrifte en letterkunde van gehalte steeds verskyn.

Die een ding wat die toekoms van die Afrikaanse geskrewe en gedrukte woord egter nié gaan help nie, is om die welstand daarvan te koppel aan een enkele kapitaalkragtige individu – en so ’n individu dan die sondebok te maak vir enorme kulturele en ekonomiese kragte deur die videosfeer ontketen, en wat deur geen enkele individu alleen beheer kan word nie. Ons hoef nie in Afrikaans agter die eietydse rottevangers van Hamelin – Elon Musk, Mark Zuckerberg, Larry Page, Sergey Brin en Jeff Bezos – en hulle hubris en stommiteite aan te ploeter nie.

Ons hét immers nog ’n veelheid van unieke identiteite en ’n skeppende vermoë tot andersheid in die Afrikaanse taal. Laat ons dit liewer kultiveer in die logosfeer, die grafosfeer én die videosfeer.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks | Die ontbinding van die Weste: ’n oorsig oor Emmanuel Todd se La défaite de l’Occident

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die Afrikaner Verklaring

René Girard, Michel Houellebecq, mimetiese wedywering in die liberale verbruikersamelewing, en die metafisiese toekoms van die Afrikaners

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: "Die hede en die toekoms volgens Michel Houellebecq"

  • 6

Kommentaar

  • 'n Interessante en maklik verteerbare opstel met 'n duidelike boodskap. Dankie.

    "Tweedens moet alles moontlik gedoen word om Afrikaans as taal van die howe, skole en universiteite te behou en uit te bou, veral privaat gefinansier (wat natuurlik nie met die howe gedoen kan word nie). ’n Ander aspek hiervan wat selde aandag kry, is die skouspelagtige verengelsing van Afrikaanse gelowiges se aanbiddingspraktyke en -plekke. As ons nie meer in Afrikaans bid nie, sal ons ook nie meer in Afrikaans bly skryf en lees en dink nie."

    Strafhowe kan seker nie vermy word nie, maar vir siviele gedingvoering kan op privaat arbitrasie in Afrikaans ooreengekom word.

    Ek bid byna 30 jaar lank nie, maar hier skryf, lees en dink ek steeds in Afrikaans. God praat ieder geval Grieks. Ja, video is miskien nie beter nie, maar sekerlik gewilder. Jy lê net daar. En kyk so met die een oog. Te lekker.

  • Connie Kerkmuis

    Tja ... ja die manne daar by die En Gjee Tjirts die sal moet beginne praise en worship. Die stywe eredienste met die orrel werk net nie. En die gedurige gekrap aan die ewige onveranderbare waarhede van Skrif, die sal ook moet end kry. So nie gaan die hele Drommedaris sink. En die wat dit oorleef, gaan op die Engelse se skippe moet klim.

  • Is Afrikaans aan die uitsterf?

    Die nuutste sensusopname wys dat die proporsie Afrikaanssprekendes oor 'n periode van ongeveer 26 jaar afgeneem het van 14,5% (8,7milj) in 1996 tot 10,6% (6,57milj) in 2022.

    Teen die huidige tempo sal Afrikaans (soos dit tans gepraat word) dus binne ongeveer 70 jaar uitsterf.
    Dit is binne die leeftyd van die volgende generasie.

    Persoonlik glo ek nie dat Afrikaans, of 'n dialek daarvan heeltemal in onbruik sal verval nie, mits die taal natuurlik kan aanpas by veranderende omstandighede.
    Gegewe dat meer nie-wit Suid-Afrikaners Afrikaans magtig is, sal die taal waarskynlik voortbestaan in 'n aangepaste vorm.

    'n Parallelle voorbeeld is die gebruik van Vlaams in veral die Laelande (Nederland, België, Luxembourg) en dele van Frankryk met bykans 6,45 miljoen Vlaamssprekendes.

  • Connie Kerkmuis

    Ah! Charl Adams! Fie faai vou fam...Hoe vorder u met u anglisering van die Stellenbosch Wordfest, Adams?

  • Andre ZAAIMAN

    Afrikaans is 'n Ajami-taal en het ;n kreoliseringsgeskiedenis – alles ou nuus wat mense soos Breytenbach, Willemse, Davids en andere al vir jare oor skryf – en die taal se kaping deur Afrikaner-nasionaliste is ook welbekend. Apartheid begin met die historiese “whitewashing” deur “Afrikaans-Nederlands” te vestig en die taal in 'n wit, Europese blik te druk. Soos 'n mens kan sien, gaan hierdie poging nog lustig voort.

    Die inslag van die Rossouw-artikel oor die “beskerming” van Afrikaans – 'n konserwatiewe een – kan vervang word met 'n beter een: “Afrikaans moet bevry word en moet weer 'n bevrydende en bevrydingstaal” word ... die afgooi van die Europese en Eurosentriese wêreld- en geskiedenisbeskouing – en die bervordering van 'n dinamiese en groeiende taal. Dit beteken meer verwisseling met ander Ajami-tale in Afrika (soos Wolof en Hausa) of ander kreole (soos Vernon February vir jare gedoen het vanuit ballingskap) ... in Suid-Amerika en Asië. Emmanuel Todd wat die Puritanisme se lig besing mag dalk die Weste se dekomposisie betreur, maar die res van ons wat onder die swaard van rassisme van die doktrine moes deurloop – die Khoi, San, die oorspronklike inwoners en boorlinge van “Amerika”, “Kanada”, “New Zealand” of “Australia” - dink beslis nie dis iets wonderliks nie. Vra ook vir die Palestyne wat onder dieselfde Puriteinse rassistiese Christene – in sameswering met Joodse Sioniste – hulle land moes “afstaan” en nog steeds onder 'n Joodse en Christen-Sionistiese alliansie tussen Amerika, Brittanje, Frankryk, Duitsland en Pole daarvoor moet baklei teen apartheid-Israel (dit is beide immoreel en onwettig om 'n apartheidstaat te verdedig).

    Jare terug het Slabbert die argument vir bevryding gemaak in sy boek Afrikaner-Afrikaan, nadat swart Suid-Afrikaners in 1976 geweier het dat die geblikte, gesuiwerde en apartheids-Afrikaans in hulle se kele af forseer word. Daar is g'n so 'n ding soos “Afrikaans-Nederlands” nie: dis 'n konsepsuele oorblyfsel van apartheid en Todd se ontbindende weste – hoera, hoera, hoera – die beste manier om Afrikaans te “beskerm” is om dit te herverbind met sy eie Kontinent, met sy Kreoolse en Asiatiese herkoms, met ander Ajami-tale en om in Afrikaans wetenskap te bedryf, kuns te maak, skeppend te werk en sy gebruikers van die apartheidskonstruksies in hulle koppe te bevry ... en die wêreld te help bevry van Westerse imperialisme wat almal gedurig in oorloë wil indruk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top