Die Johann Rossouw-gespreksreeks: "Die hede en die toekoms volgens Michel Houellebecq"

  • 2
Vertalersinleiding deur Johann Rossouw

Hierdie opstel het oorspronklik gedurende Desember 2022 verskyn in ’n spesiale uitgawe van die tydskrif Front Populaire gewy aan die werk van die Franse romansier Michel Houellebecq. In die opstel bied die filosoof en romansier Olivier Rey ’n uitstekende oorsig van die werk van Houellebecq, nie slegs wat betref Houellebecq se merkwaardige vermoë om geloofwaardige toekomsscenario’s in sy romans uit te beeld nie, maar ook wat betref hoe Houellebecq ontwikkel vanaf ’n romansier wat sy hoop op die redding van die mensdom deur die genetika, die biologie en die tegnologie vestig tot ’n romansier wat in sy latere werk die geestelike en veral Christelike wortels van die Weste herwaardeer – sonder dat hy enige van sy kenmerkende sardoniese humor of brutale eerlikheid inboet, en soos dit veral blyk in sy jongste roman anéantir, waarvan my Afrikaanse vertaling, vernietig, pas by Naledi verskyn het. Ek bedank ook hiermee vir Olivier Rey en die redakteur van Front Populaire, Maxime Le Nagard, vir hul goedgunstige toestemming vir die publikasie van hierdie vertaling by LitNet Akademies. Let daarop dat ek in die vertaling bladsynommers en verwysings gegee het waar die skrywer dit gedoen het, en geen verwysings gegee het waar hy dit nie gedoen het nie, byvoorbeeld wanneer hy uit romans van Houellebecq aanhaal.

Outeursinleiding

In 2016 het Michel Houellebecq vir die tydskrif Les Inrockuptibles ’n lys saamgestel van 20 boeke wat volgens hom nie in die Franse pers die aandag geniet het wat dit verdien nie. Een van die boeke op sy lys wat ’n gesonde hupstoot gekry het, is Après la chute (“Na die val”, Parys: Éditions Pierre-Guillaume de Roux), die tweede roman van Olivier Rey. Rey, wat opgelei is in die toegepaste tegnowetenskappe en tans as filosofienavorser by die CNRS (die Franse Nasionale Wetenskaplike Navorsingsentrum) werk, kyk in hierdie essay na “Houellebecq as toekomskundige”.

“Hy het gevind dat die geluk wat die voortreflikheid van sy siel verdien, getalm het om te kom.” – Gustave Flaubert, L’Éducation sentimentale (“Sentimentele opvoeding”), 1869

Die toekoms word geantisipeer vanuit die teenswoordige stand van sake en die huidige dinamika. Wat die teenswoordige stand van sake betref, is dit nie juis skitterend nie. Omtrent alles loop skeef, van die klimaat tot die ekonomie, van die politiek tot die demografie, van die biosfeer tot die sedes. Selfs die hoogs progressiewe Franse president, Emmanuel Macron, het dit goed gedink om sy nuwe party Renaissance te noem. Waaruit word ’n mens hergebore as dit nie uit jou as is nie? Oftewel die neerslagtigheid waarin ons ná eeue van intensiewe vooruitgang beland het, en waarvan die individuele stemming getuig.

In 1994 skryf Michel Houellebecq in sy novelle Extension du domaine de la lutte (“Uitbreiding van die gevegsterrein”; in Engels vertaal as Whatever):

Geen ander beskawing, geen ander era was in staat daartoe om soveel bitterheid by sy mense te kweek as ons s’n nie. So gesien, leef ons in ’n ongekende tyd. As die huidige gemoedstoestand met een woord opgesom moet word, is dit ongetwyfeld die een wat ek gekies het: bitterheid.

Wat die huidige dinamika betref, het ek in ’n poging om lig te werp op hoe ons in so ’n onbenydenswaardige toestand beland het, op ’n idee gekom.

Die Katolieke Mis begin met ’n Kyrie eleison, “Here, ontferm U.” Tydens die Christelike Era het mense geen idilliese illusie oor hulle toestand gekoester nie – nie in die kerk nie, en ook nie daarbuite nie. ’n Voorbeeld? Volgens ’n Pitagoriese tradisie word die sterre geregeer deur getalle waarvan die verhoudinge ooreenstem met die verhoudinge wat musikale harmonie voortbring. So ontdek Kepler vroeg in die sewentiende eeu dat die wentelbane van die planete nie sirkels is nie, maar ellipse, en dat die snelheid van hul trajekte nie konstant is nie, maar wissel volgens die wet van gebiede [oftewel Kepler se tweede wet – JR]. Hy bereken die verhouding tussen die hoogste hoeksnelheid by die naby aardpunt en die laagste snelheid by die ver aardpunt en bring hierdie verhouding in verband met ’n musikale interval. Vir die aarde is die interval ’n halftoon soos die een wat die note mi en fa skei. Hieruit lei Kepler af dat die aarde in sy wentelbaan “mi-fa-mi-fa” sing, en hy bring hierdie melodie in verband met die feit dat MIseria (ellende) en FAmes (hongersnood) op aarde heers. Ons kan hieruit aflei dat mense destyds nie hulle koppe gebreek het nie. Hulle het eenvoudig vasgebyt en hulle soveel meer verheug wanneer daar rede voor was.

Geluk: ’n nuwe idee

Saint-Just was reg toe hy aan die einde van die agtiende eeu verklaar het1 dat geluk ’n nuwe idee in Europa is. ’n Paar maande later is sy kop afgekap (met die ander destydse nuwigheid in Europa, die guillotine), maar sy uitspraak bly geldig. Vandag omskryf die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gesondheid soos volg: “Gesondheid is ’n omvattende toestand van liggaamlike, geestelike en sosiale welstand.” Die gevolg? Almal is siek. Insgelyks, wanneer idilliese gesondheid beskou word as die normale toestand van die mensdom, bevind almal hulle des te meer in ’n toestand van ongelukkigheid. Of van bitterheid.

In sy tyd is Tocqueville getref deur die kontras onder Amerikaners tussen die materiële welvaart wat hulle geniet het en die kommer wat hulle geteister het. Dieselfde kontras (wat vandag dwarsdeur die Weste gesien kan word) is nog nooit beter verduidelik as deur die einste Tocqueville in sy De la démocratie en Amérique (“Oor die demokrasie in Amerika”, 1840) nie:

Wanneer al wat voorreg van geboorte en fortuin vernietig is, wanneer alle beroepe vir almal oop is, en jy eiehandig die hoogste sport in hulle almal kan bereik, gaan ’n fantastiese, betalende loopbaan skynbaar voor mense se ambisie oop, en is hulle al te gretig om hulle te verbeel dat hulle tot grootse bestemmings geroepe is. Dog dit is ’n dwaling wat daagliks deur ervaring gekorrigeer word. Hierdie einste gelykheid wat elke burger in staat stel om sulke hoë verwagtinge te koester, verswak elke burger individueel. Dit beperk hulle kragte van alle kante, terwyl dit terselfdertyd die uitbreiding van hul begeertes in die hand werk. [...] Hulle het die hinderlike voorregte van sommige van hulle medemense vernietig; hulle loop hulle vas in die wedywering van almal met mekaar. Die grens het van vorm eerder as van ligging verander. [...] Hierdie konstante onderlinge teenoorstelling van die verskillende instinkte wat deur gelykheid in die hand gewerk word, en die middele wat dit verskaf om die instinkte te bevredig, pynig en vermoei siele.

So ’n toedrag van sake kan net vererger namate die ruimte van wedywering uitbrei deur die verdwyning van fisieke of morele grense wat dit nog in toom kan hou. Op die politieke vlak leef ons minstens sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog onder ’n regime van “geringe regeringsverandering” waar die “regses” en die “linkses” mekaar in regering afwissel – die regses merendeels gefokus op ekonomiese liberalisering, die linkses op die liberalisering van sedes, met andersins baie groot oorvleueling tussen die twee, en nooit enige omkeer van die liberalisering nie. Houellebecq het aangetoon wat op seksuele gebied volg uit die afskaffing van die ou beperkings – allermins genot vir almal, maar eerder verhewigde wedywering en ’n enorme kontingent verslaandes.

Steeds in Extension du domaine de la lutte skryf hy:

Nes onbeperkte ekonomiese liberalisme, en om soortgelyke redes, lei seksuele liberalisme tot verskynsels van absolute verarming. Sommiges maak elke dag liefde, andere vyf of ses keer in hulle lewens, of nooit nie. Sommiges maak liefde met tientalle vroue, andere met geen. Dit staan bekend as die “wet van die mark”. In ’n ekonomiese stelsel waar afdanking verbode is, slaag elkeen min of meer daarin om sy plek te vind. In ’n seksuele stelsel waar owerspel verbode is, slaag elkeen min of meer daarin om sy bedmaat te vind. In ’n volkome liberale ekonomiese stelsel verwerf sommiges aansienlike fortuine, terwyl andere in werkloosheid en ellende krepeer. In ’n volkome liberale seksuele stelsel het sommiges ’n gevarieerde, opwindende sekslewe, terwyl andere gereduseer word tot masturbasie en eensaamheid. Ekonomiese liberalisme is die uitbreiding van die gevegsterrein, sy uitbreiding na al die lewensfases en klasse van die samelewing. Insgelyks is seksuele liberalisme die uitbreiding van die gevegsterrein, sy uitbreiding na al die lewensfases en al die klasse van die samelewing.

Dit is een ding om dit te sê, maar dit is ’n ander ding om ’n karakter dit te laat beleef (en daarvan te sterf), soos Rafael Tisserand, die antiheld van Extension de la domaine de la lutte, wat intens ly omdat vroue hom nie aantreklik vind nie en hy geen sekslewe het nie. Wat meer is, vir verslaandes soos hy word hul ontbering verdubbel deur innerlike selfveroordeling. As die ou superego, die draer van verbiedinge, inderdaad aansienlik verswak is, wil dit nie sê dat die superego in sigself weggekwyn het nie. Dit wil eerder sê dat dit ’n gedaanteverwisseling ondergaan het en grootliks ’n instansie geword het wat voorskryf dat jy jou moet geniet, dat jy die grootste pret moet hê, en jou vervolg indien jy in gebreke bly om dit te doen. Wat Tisserand nog meer as sy seksdroogte folter, is die feit dat hy in gebreke bly om hom te geniet. Hier kom bitterheid saam met wanhoop voor.

Die illusie van onafhanklikheid

Indien buiteaardse wesens die mensdom in die loop van die afgelope paar eeue vanuit hulle vlieënde pierings waargeneem het, sou hulle twee groot veranderings opgelet het wat die spesie ondergaan het. Die eerste hou verband met die verandering van die status van die tegniek wat verander het van ’n instrument in diens van die mensdom na ’n instrument van hulle uitholling. “Hulle het my uitgehol soos ’n mens ’n hoender uithol,” dink Annabelle by haarself in Les Particules élémentaires [“Die elementêre partikels”, Houellebecq se deurbraakroman wat in Engels vertaal is as Atomised – JR] nadat haar baarmoeder verwyder is. Op sy beurt beloof die kunsmatige baarmoeder om al wat baarmoeder is uit te skakel. Voortaan, verklaar die Duitse Nobelpryswenner vir fisika en een van die vaders van die kwantumfisika, Werner Heisenberg, reeds in 1955:

... lyk die tegniek feitlik nooit meer soos die produk van bewustelike menslike pogings ten einde materiële krag te vermeerder nie. Dit lyk eerder soos ’n grootskaalse biologiese gebeurtenis waartydens die inwendige strukture van die menslike organisme al hoe meer oorgedra word na die wêreld wat die mens omring. Dit is dus ’n biologiese proses wat van nature buite die beheer van die mens val, want “selfs al kan die mens doen wat hy wil, kan hy nie dit kies wat hy wil nie”.

Die tweede verandering het betrekking op die bande tussen mense. Bewus van die feit dat hierdie bande tot die wese van die mensdom behoort, skryf Auguste Comte in 1864 in sy Système de politique positive [“Stelsel van positiewe politiek”, in Engels vertaal as The system of positive polity – JR]: “Siende dat elke mens deur sy medemense gevorm moet word, word die Mensdom eerstens saamgestel uit Stede, en dan uit Families, maar nooit uit individue nie.” Deur dit te sê bevraagteken hy die teorieë wat vanaf die sewentiende eeu hulle verskyning gemaak het en die samelewing verstaan as ’n versameling individue wat aanvanklik onafhanklik van mekaar is. Hoe reg Comte ook al was, het die individualistiese opvatting nietemin posgevat. Met dié paradoks dat in ’n era waar elkeen nog nooit in sy alledaagse lewe so afhanklik was van die aktiwiteite van ’n ongehoorde aantal ander mense nie, die illusie van individuele onafhanklikheid die wydste verspreid is. Dit is omdat die behoefte wat die jagter-versamelaar aan die samewerking van sy stamlede, of die kleinboer aan die samewerking van sy bure had, ooglopend was, terwyl die hedendaagse mens se afhanklikheid van miljoene ander mense miskend kan bly, verdoesel soos wat dit is deur ’n reusagtige tegnologies-ekonomiese, monetêre en versekeringstelsel. Aan die einde van Houellebecq se roman Sérotonine [“Serotonien”, in Engels vertaal as Serotonin – JR] verlaat Florent-Claude Labrouste nie meer sy blyplek nie; ’n enkelwoonstel in een van die torings wat in Parys tussen die Porte de Choisy en die Porte d’Ivry geplant is. “Deur enersyds die vuilgoedgeut te gebruik, en andersyds Amazon se nuwe voedselafleweringsdiens, kon ek feitlik volkome selfstandigheid bereik.” ’n Bisarre selfstandigheid wat berus op die aanname dat ontelbare legioene in die buitewêreld steeds skarrel om die masjien te laat funksioneer. Dit is nietemin ’n soort selfstandigheid in teenstelling met die eertydse verdwene gemeenskapsaspekte van die lewe.

Gesinne en gemeenskappe

Die gesin self het dit nie weerstaan nie. Labrouste gee sy waarneming hiervan:

Sekere sosioloë met ’n lae intelligensie het daarop aanspraak gemaak dat hulle nuwe stamme in “saamgestelde gesinne” onderskei; dit mag so wees, maar wat my betref, het ek dit nooit gesien nie; gebroke gesinne wel, dis trouens omtrent al wat ek gesien het, vanselfsprekend afgesien nou van die terloopse talle gevalle waar die proses van verbrokkeling reeds tydens die fase van die paartjie, en nog voor die produksie van kinders, ingetree het.

Juis omdat die kerngesin die laaste bron van weerstand was in ’n wêreld wat gemeenskappe vergruis, het baie mense gedink dat die gesin die basiese gemeenskap vorm waarop ander gemeenskappe gebou word. Volslae vergissing: Gemeenskappe is nodig om iets soos paartjies en gesinne in sy midde te erken en te bestendig. Afgesien hiervan was gesinne voorheen in die meeste gevalle dit wat ons in die moderne woordeskat produksie-eenhede noem – ’n kleinboer sou nie sy plasie sonder sy vrou kon bewerk nie, en omgekeerd. Besoldigde werk en die monetêre ekonomie het die gegewe verander en die gemeenskaplike lewe is basies verskraal tot ’n romantiese keuse, wat as sodanig op enige tydstip omgekeer kan word. So het [die Franse president, Emmanuel] Macron in 2018 aan ’n Amerikaanse joernalis van die tydskrif Forbes sy skrapping verduidelik van die exit tax vir belastingbetalers wat hulle domisilie na die buiteland verskuif ten einde belasting op kapitaalwins wat in Frankryk gemaak is te ontduik: “Ek wil geen exit tax hê nie. So ’n soort belasting maak geen sin nie. Mense is vry om hulle geld te belê waar hulle wil. [...] As u wil trou, sê u tog nie aan u lewensgenoot ‘As jy met my trou, staan dit jou nie vry om van my te skei nie.’” Egskeiding is dus nou ingesluit in die opvatting van die huwelik self. Voorheen het die idee om van jou eggenoot te skei omdat julle gemeenskaplike lewe nie genoeg bevrediging verskaf nie, omtrent dieselfde beteken as om te dink jy kan jou been afsny omdat jou knie pyn. Vandag is dit egter soos om ontslae te raak van ’n motor omdat dit ingeduik is of gereeld breek. Wat ook hier meespeel, is die verandering in verwysingsraamwerk waarna vroeër verwys is: Om te dink dat die menslike toestand nie idillies is nie, help ook om huweliksonvervuldheid te hanteer. Om te dink dat die normale toestand volkome liggaamlike, geestelike en sosiale welstand is, lok ’n mens uit om na die verantwoordelike partye te soek, en jou eggenoot is die verantwoordelike party wat die naaste byderhand is.

........
Voorheen het die idee om van jou eggenoot te skei omdat julle gemeenskaplike lewe nie genoeg bevrediging verskaf nie, omtrent dieselfde beteken as om te dink jy kan jou been afsny omdat jou knie pyn. Vandag is dit egter soos om ontslae te raak van ’n motor omdat dit ingeduik is of gereeld breek.
........

Oplaas dui Houellebecq aan hoe verderflik moderne lewenswyses vir ons vermoë tot verbintenis is. In Extension de la domaine de la lutte skryf hy:

As seldsame, kunsmatige en laat verskynsel kan die liefde slegs onder besondere gemoedsvoorwaardes blom wat selde bymekaarkom en in alle opsigte haaks is op die vrye sedes wat die moderne era kenmerk. Véronique het te veel diskoteke en minnaars beleef; so ’n lewenswyse verarm die menslike wese en berokken hom skade wat soms ernstig en altyd onomkeerbaar is. Die liefde as onskuld en vermoë tot illusie, as aanleg om die ganse teenoorgestelde geslag saam te vat in een enkele geliefde mens, weerstaan selde een jaar van seksuele rondlopery; en nooit twee nie. In werklikheid ondermyn en vernietig die totaal van opeenvolgende seksuele ervarings opgedoen tydens ’n mens se adolessensie vinnig enige moontlikheid op emosionele, romantiese projeksie. Bietjie vir bietjie en inderdaad heel gou word ’n mens ewe veel in staat tot liefde as ’n ou vadoek. En gevolglik lei jy vanselfsprekend die lewe van ’n ou vadoek.

Wat ’n mens ook al doen, ’n menslike lewe word met die ondraaglike gekonfronteer. Die grondliggende bron om dit die hoof te bied is om te erken dat hierdie ondraaglikheid nie ’n persoonlike vloek is nie, maar ’n gedeelde toestand, om te midde van beproewing mekaar lief te hê. Nie om op ’n vae wyse lief te hê soos in die geval van die humanitêre nie, maar konkreet, ’n persoon. Houellebecq haal hierdie passasie uit Dostojewski se Die adolessent (1875) aan: “Wat betref die verpligting om in die loop van jou lewe ten minste een ander skepsel gelukkig te maak, maar dit prakties te doen, oftewel doeltreffend, sal ek dit verhef tot ’n gebod vir elke gekultiveerde mens, presies soos ek dit ’n verpligting vir elke kleinboer sal maak om ten minste een boom in sy lewe te plant gegewe die ontbossing van Rusland.” Nietemin, in die vaardigheidsassessering van die laat Weste figureer die vermoë om ’n ander mens in die loop van jou lewe gelukkig te maak nie – tot die uiteindelike ongeluk van een en almal.

........

Wat ’n mens ook al doen, ’n menslike lewe word met die ondraaglike gekonfronteer. Die grondliggende bron om dit die hoof te bied is om te erken dat hierdie ondraaglikheid nie ’n persoonlike vloek is nie, maar ’n gedeelde toestand, om te midde van beproewing mekaar lief te hê. 

........

Die een en/ is/ haat die ander

By die redes wat reeds gegee is waarom mans en vroue al hoe minder in staat is om ’n lewe te deel, moet nog een gevoeg word, naamlik die ontkenning van die verskil tussen man en vrou. In sy boek Gender (1982) het Ivan Illich hieroor in sy besinnings daartoe gekom om dit te oorweeg dat “die beslissende antropologiese kenmerk wat ons era van ander eras onderskei die uitwissing van die verskil tussen man en vrou is”. Dit is tydens die agtiende eeu dat die oorgang begin van wat Illich ’n “gegenderde” (genré) wêreld noem, bevolk deur mans en vroue, na ’n “vergeslagtelikte” (sexué) wêreld, in die eerste plek bevolk deur blote “mense” wat slegs sekondêr “manlik” of “vroulik” is. Hierdie transformasie is vir ’n tyd lank verdoesel deur ’n heel rigiede verdeling van rolle tussen manlike mense en vroulike mense. Nietemin word die skynbaar vanselfsprekende verskille tussen mans en vroue noodlottig arbitrêr tussen manlike mense en vroulike mense en is dit in hierdie opsig bestem om afgeskaf te word. “’n Wêreld ingerig rondom die verskil tussen die geslagte is ’n wêreld wat ons nie meer wil hê nie,” som [die feministiese Franse filosoof – JR] Elisabeth Badinter dit op tydens ’n lesing wat die dagblad, Le Monde in 2019 gereël het. Die implikasies hiervan is geweldig. Laat ons ons net bepaal by dit wat op die huwelikslewe betrekking het. In die verlede het die erkende, geïnstitusionaliseerde verskille onderlinge verwyte getemper.

In 1979 skryf die Amerikaanse sosioloog Christopher Lasch in The culture of narcissism: “Mans en vroue het hulle wedersydse tekortkominge erken sonder dat dit uitgeloop het op ’n omvattende klagstaat. [...] ’n Alledaagse, goedaardige geringskatting van die swakhede van die teenoorgestelde geslag, wat deel van die volkswysheid gevorm het, soos die emosionele onbeholpenheid van mans of die gebrek aan rasionaliteit van vroue, het grense gestel aan die konflik tussen die teenoorgestelde geslagte en verhoed dat dit in ’n obsessie verander.” Daarteenoor lei die driftige dekonstruksie van al wat stereotipe is nie tot ’n era van harmonie nie, maar tot ’n onbeperkte uitbreiding van die konflikterrein. “Mans en vroue stel buitensporige eise aan mekaar, en woede en haat neem van hulle besit as hierdie eise nie bevredig word nie.” Van L’Un est l’Autre [“Die een is die ander”], die titel van een van Badinter se boeke, gaan ons maklik oor tot die een haat die ander. Al wat dan as band oorbly, is teistering, griewe en regsaksies.

Waarom dit [volgens Florent-Claude] in Sérotonine kon “gewerk” het tussen hom en Camille:

Ek het vanselfsprekend verwag dat Camille van die Clécy-huis sou hou, ek is toegerus met ’n rudimentêre estetiese sin, einde ten laaste was ek in staat om te besef dat dit ’n mooi huis is; daarteenoor het ek nie voorsien dat sy so gou daarvan haar huis sou maak nie, dat sy vanaf die eerste dae idees oor die interieur en uitleg van die huis sou hê nie, dat sy ’n paar lappe wou koop en ’n paar meubelstukke wou skuif nie, dat sy haar basies gedra het soos ’n vrou in die prefeministiese sin van die woord terwyl sy skaars negentien was.

Waarom dit in anéantir “werk” tussen Cécile en Hervé:

Om die waarheid te sê, vermoed sy nou al vir ’n paar jaar dat Hervé weer begin uithang het met bedenklike mense wat op die grens van wettig is, maar sy het die stilte bewaar en verkies om nie die saak aan te roer nie omdat sy weet dat ’n tradisionele man, wat Hervé by uitstek is, soms nodig het om na hierdie soort dinge terug te gaan, dat dit nie moontlik en miskien ook nie wenslik is nie om hulle geheel en al mak te maak.

Variasies op ’n doodloopstraat

Die groeiende onvermoë van ’n man en ’n vrou om op die lange duur by mekaar te bly is in Houellebecq se romans die duidelikste teken van ’n dekadente, gedoemde beskawing. In Les Particules élémentaires skryf hy: “Die menslike geskiedenis van die vyftiende tot die twintigste eeu van ons era kan in wese onderskei word as dié van voortgaande ontbinding en disintegrasie” – “’n sielkundige, ontologiese en maatskaplike ontwrigting”. Geluk is nou in Europa ’n uitgediende idee.

Dan, in Sérotonine:

Claire het haar deel van melodrama gehad, sy het onrustige jare beleef, sonder dat sy werklik nader aan geluk gekom het – dog wie kan laasgenoemde? dink sy. Niemand in die Weste sal meer gelukkig wees nie, dink sy verder, nooit weer nie. Ons moet geluk vandag beskou as ’n vervloë dagdroom; die geskiedkundige voorwaardes daarvoor kom eenvoudig nie meer bymekaar nie ... [D]ie derde millennium het begin, en dit is miskien vir die voorheen omskrewe Joods-Christelike Weste ’n millennium te veel in dieselfde sin as wat ’n mens praat van een geveg te veel vir ’n bokser; die idee is in elk geval vandag wydverspreid in die voorheen Joods-Christelik omskrewe Weste.

Houellebecq se karakters eindig gevolglik in ’n jammerlike toestand. Hölderlin, wat ongelukkig was in sy verhouding met Susette Gontard, het hom juis ’n ander weg van verlossing as die liefde voorgestel, naamlik om een met alles te wees:

Om een te wees met alles wat leef, in ’n suiwer vergeet van die self, om terug te keer na die geheel van die natuur – dít is die hoogste idee en die hoogste vreugde, dít is die suiwerste siele; die plek van ewige rus waar die hitte van die middag jou nie meer oorweldig nie en waar die storm sy stem verloor, waar die gedruis van die see klink soos die gesuis van die wind deur die koringvelde.2

Ongelukkig is die moderne wetenskap verwesenlik deur die vernietiging van die saamneiging van die mens en die natuur. “Helaas, ek het geleer hoe om my te onderskei van alles wat my omring, ek is is geïsoleer te midde van so ’n mooi wêreld, ek is uitgesluit van die tuin van die natuur waar ek groei, blom en in die middagson droog word.”3 Insgelyks moet die “held” wat heel aan die einde van Extension ná sy liefdesbankrotskap in die Ardèche-woud nog hoop op versmelting met die natuur, sy mislukking erken. “Ek is in die middel van die afgrond. Ek voel asof my vel ’n grens is, en die buitewêreld my vergruis. My indruk van skeiding is totaal; ek is nou die gevangene van myself. Dit gaan nie gebeur nie – die sublieme versmelting; die doel van die lewe is misgeloop. Dis tweeuur die middag.”

Vreemd – dié uiteindelike vermelding van hoe laat dit is. Dit herinner aan die gedig van Rimbaud wat begin met “Ek het die dagbreek van die somer omhels” en eindig met “Toe ek wakker word, was dit twaalfuur.” In die gedig “Aube” [“Dagbreek”] het hierdie laaste “twaalfuur” verskeie konnotasies, onder meer: Analoog aan die vertikale posisie van die horlosiewysers in die middel van die dag roep “twaalfuur” die woeste ereksie op van hom wat wakker word nadat hy in sy droom “die sluiers een vir een” opgelig het en “haar reuse liggaam net ’n bietjie gevoel het”. Party mense beskuldig Houellebecq daarvan dat hy buitensporig negatief is, maar twee-uur die middag is nog nie sesuur nie! ’n Mens wil sê al wat kort, is ’n klein hupstootjie van taal, en jy kan weer voortgaan. Bowendien, in die laaste toneel van die filmverwerking van die roman begin die karakter baldans leer.

Individuele vryheid en sy illusies

Aan die einde van Sérotonine is die horison dié keer skynbaar heeltemal verberg. Labrouste het bereken dat as hy by die venster van sy enkelwoonstel uitspring, hy die 100 meter wat hom en die sypaadjie van mekaar skei, binne minder as vyf sekondes sal aflê. Dit wat sy breuk met Camille veroorsaak het, en waarvan hy nog nie herstel het nie, was sy skelm verhouding met Tam, ’n “klein swartetjie” van die Britse afvaardiging wat hy op ’n sakebesoek aan Brussel vir gesprekke oor die Europese Unie-landboubegroting ontmoet het. Waarom is dit so ’n totale mislukking as hy en Camille dan vir mekaar gemaak is? Houellebecq skryf: “Het ons toegegee aan illusies oor individuele vryheid, ’n oop lewe en oneindige moontlikhede? Dit mag so wees, hierdie idees is deel van die tydsgees; ons het hulle nog nie geformaliseer nie, ons het nie lus daarvoor nie; ons is tevrede daarmee om daaraan te konformeer, ons daardeur te laat vernietig; en dan baie lank as gevolg daarvan te ly.” Ofskoon “die tydsgees” wel ’n deel van die verantwoordelikheid dra, is dit nie die enigste wat in die beskuldigdebank moet staan nie. Praktiese lewensomstandighede moet ook in ag geneem word – ’n lewe waar daar “sakebesoeke aan Brussel” is (as hoofstad van die Europese Unie is Brussel op ’n manier die simbool van die delokalisering van ons lewens), en insgelyks ’n lewe waar Tam dikwels deur Parys beweeg. Kortom, ’n wêreld waarin die veraf dit is wat tot oorskrydings uitlok, maar ’n veraf wat nie verafgeleë is nie en oorspoel in die nabye. Anders gestel, daar is nie slegs “illusies oor individuele vryheid, ’n oop lewe en oneindige moontlikhede” nie; daar is ook die Eurostar- en die Thalys-treine.

Waar die tydsgees wel ’n beslissende rol speel, is nie soseer in Labrouste se optrede nie as in die reaksie wat dit by Camille ontlok. In plaas daarvan om die ontrouheid van haar metgesel aan manlike swakheid toe te skryf, sien sy eerder daarin die aanhang van ’n ideaal van “individuele vryheid, ’n oop lewe en oneindige moontlikhede” wat geheel en al teenstrydig is met dit wat sy nastreef. Ook vir haar is die gaping nie ’n gaping nie, maar die openbaring van ’n onoorbrugbare afgrond.

Om die wêreld te vernietig

In sy Ensiklopedie van die filosofiese wetenskappe verwys Hegel na drie gevalle waar die sonderlinge regstreeks van sy sonderlingheid weggeskeur word: seksualiteit, siekte en dood. En dit is presies die drie sentrale temas van vernietig. ’n Bewys, indien ’n bewys nodig is, dat Houellebecq nie speletjies speel nie – sowel in die letterlike sin van die woord as in Hegel se sin. In vernietig word trouens juis na drie aanvalle verwys – die eerste op ’n Chinese vragskip, die tweede op ’n Deense spermbank, en die derde op ’n boot vol migrante naby die Baleariese Eilande. “[I]ndien die terroriste se doel is om die wêreld soos hy dit ken te vernietig, om die moderne wêreld te vernietig, [kan] hy hulle nie heeltemal verkeerd ... bewys nie,” skryf Houellebecq met betrekking tot sy hoofkarakter, Paul.

Is suiwer vernietiging aan die uiteinde van die Westerse doodloopstraat dus al perspektief wat oorbly? In van sy ander romans word verskillende ander uitweë voorsien.

In Plateforme [in Engels vertaal as Platform – JR] is grootskaalse georganiseerde seksuele toerisme skynbaar van so ’n aard dat dit tegelyk die Globale Noorde uit sy depressie en die Globale Suide uit sy armoede kan lig. ’n Wen-wen-situasie vir soverre so iets bestaan. Dié onderneming word helaas deur Islamistiese terrorisme geruïneer.

........
Is suiwer vernietiging aan die uiteinde van die Westerse doodloopstraat dus al perspektief wat oorbly? In van sy ander romans word verskillende ander uitweë voorsien.
........

In Soumission [in Engels vertaal as Submission – JR] verander Islam van ’n hindernis na ’n reddingsboei vir ’n bloedlose Weste.

In Les Particules élémentaires is die voorgestelde oplossing meer radikaal: “Die mensdom moet verdwyn; die mensdom moet geboorte skenk aan ’n nuwe geslaglose, onsterflike spesie wat individualiteit, skeiding en veranderlikheid te bowe gekom het” (bl 385) Dit sal in Plateforme herhaal word: “Die mens is duidelik nie vir geluk gemaak nie. Om werklik toegang tot die praktiese moontlikheid van geluk toegang te verkry, moet die mense sonder twyfel getransformeer word – fisiek getransformeer word” (bl 169).

In La Possibilité d’une île blyk dit dat om die menslike spesie te verander ingewikkelder as verwag is, en daarom besluit die neomense om hulself, terwyl hulle op onsterflikheid wag, deur middel van kloning te reproduseer.

Hier moet op verskeie sake gelet word. Die eerste is dat die voorsiene toekomsmoontlikhede, selfs in hul veelvuldigheid, voorgehou word as denkeksperimente en nie as voorspellings nie. Houellebecq sê dit self: “Ek konstateer eers en dan maak ek projeksies, wat nie profesieë is nie.”4

Die tweede opmerking het betrekking op die dubbelsinnigheid van Houellebecq se posisie ten opsigte van hierdie projeksies. “Wanneer Orwell 1984 in 1948 in Engeland skryf, sê hy glad nie dis wat gaan gebeur nie. Hy wil ’n vrees wat in die onderbewuste van die Britte van sy tyd bestaan, uitdruk ... Die skrywer – ek, Orwell of ’n ander – voel ’n angstigheid by sy tydgenote aan en druk dit in ’n boek uit.”5 So beskou, funksioneer die oorweegde toekomsmoontlikhede as afskrikmiddels. Nietemin voorsien Houellebecq self ’n tegnologiese wysiging van die spesie – en sien hy dié moontlikheid ook in ’n gunstige lig. In die nawoord van die Franse vertaling van die SCUM-manifes, wat in die 1960’s deur Valerie Solanas geskryf is, loof Houellebecq dié Amerikaanse feminis vir “haar moed om ’n progressiewe, redelike houding te handhaaf in ooreenstemming met die edelste strewes van die Westerse projek, naamlik om die mens se absolute tegnologiese beheer oor die natuur te vestig met inbegrip van die mens se biologiese natuur en dié se evolusie. En dit alles met die langtermynoogmerk om ’n nuwe natuur te bou op ’n basis wat met die morele wet ooreenstem, oftewel om die universele heerskappy van die liefde as eindpunt te vestig.”6 In die post-Dolly-jare, toe menslike kloning na ’n hangende moontlikheid gelyk het, het Houellebecq ook sy voorneme verklaar om hom te laat kloon sodra dit moontlik word, selfs al moes hy nou daarvoor na die Bahamas gaan of na ’n land met wetgewing wat daarvoor voorsiening maak.

Aan die ander kant lyk hy egter nie meer oortuig dat redding in kloning te vinde is nie. Aan die einde van La Possibilité d’une île verkies Daniël 25 na die voorbeeld van Marie 23 om sy gemaklike, afgesonderde blyplek waar die klone van Daniël 1 mekaar opvolg, te verlaat om in ’n verlate wêreld rond te swerf. Bowendien, vir die wêrelde wat onderskeidelik deur Michel Dzjersinski in Les Particules élémentaires en deur Slotan Miskiewicz in La Possibilité d’une île verbeel word om ’n kans te hê om verwerklik te word, sal dit noodsaaklik wees dat die toekoms steeds uitstaande wetenskaplikes bevat. Dog niks is mínder seker nie. Terwyl ons in ’n al hoe meer tegnologiese omgewing woon, gaan die wiskundige deskundigheid wat dit moontlik gemaak het om hierdie wêreld te vestig en dit te laat voortgaan, al hoe meer agteruit. Hiervan is Houellebecq deeglik bewus. In vernietig roep die DGSI tydens sy ondersoek na die aanvalle die hulp in van ’n sekere Delano Durand, ’n eertydse kuberkraker wat veronderstel is om met sy “jeugdige” visie die ou skoolfunksionarisse wat ietwat agterhaal is, te verlig. Die eerste ding wat Durand raaksien, is dat die drie plekke op die kaart waar die aanvalle voorgekom het, met ’n sirkel aan mekaar verbind kan word. Kommissaris Martin-Renaud, wat in sy vyftigs is, verbaas hom: “Is dit nie altyd die geval nie?” Durand kyk stom verbaas na hom, uit die veld geslaan deur sulke onkunde. “Nee, natuurlik nie,” sê hy uiteindelik. “Deur enige twee punte kan ’n mens altyd ’n sirkel trek, maar dis nie gewoonlik so met versamelings van drie punte nie. Slegs ’n klein minderheid kan figureer op die omtrek van dieselfde sirkel met ’n spesifieke middelpunt.”

Hierdie tegnokratiese poepholle”

Die omgekeerde is ooglopend waar: ’n Sirkel loop altyd deur drie onderskeie punte, behalwe in die baie spesifieke geval waar die drie punte op ’n lyn lê – en ’n lyn loop altyd deur drie onderskeie punte van die aardoppervlak voorgestel deur ’n aardbol, wat die kruising is van die vlak wat deur die drie punte en die bol gedefinieer word. Hierdie eienskap, wat reeds sedert die Verre Oudheid bekend is en al eeue lank in skole onderrig word, word min of meer deur Martin-Renaud onthou. Dog hy val skaapagtig in sy vyftigs terug in die aangesig van die selfversekerdheid van die jong Durand, ondanks hoe onkundig dié in werklikheid is. Met klotte soos Delano Durand, wat ewe beperk is as wat sy naam absurd en sy sweetpak afskuwelik is om dit in stand te hou, kan ’n tegnologiese beskawing nie anders as om in duie te stort nie. ’n Kuberkraker is nog een ding, maar om te teoretiseer en te bedink is iets anders.

Hierby moet nog iets gevoeg word waaroor Houellebecq nie praat nie, maar wat elke dag al hoe meer ’n werklikheid word, naamlik die ruïnering van die aarde. Presies ’n halfeeu gelede het Pierre Fournier gesien wat kom: “Terwyl ons onsself vermaak met oorloë en revolusies wat mekaar voortbring deur altyd dieselfde dinge te herhaal, is die mens deur middel van onbeheerste tegnologiese uitbuiting besig om die aarde onbewoonbaar te maak, nie slegs vir sigself nie maar ook vir alle meerdere lewensvorme wat tot dusver sy teenwoordigheid geakkommodeer het. Die konsentrasiekampparadys wat geskets en deur hierdie tegnokratiese poepholle aan ons voorgehou word, sal nooit die lig aanskou nie, omdat hul onkunde oor en minagting vir biologiese gebeurlikhede dit in die kiem sal smoor. Die enigste vraagstuk is nie om te weet of dit draaglik sal wees wanneer dit eers die lig gesien het nie, maar of die abortering daarvan tot ons dood aanleiding sal gee of nie.”7

Insgelyks sal die onsterflikheid wat hierdie transhumanistiese poepholle aan ons beloof, nooit verwesenlik word nie, al is dit nou net omdat namate hulle vorder met die uitvoering van hul program, dit blyk dat die materiële en intellektuele voorwaardes van die verwesenliking daarvan vernietig is. In La Possibilité d’une île is die mensdom verdeeld tussen, enersyds, die familielyne van klone onder tegnologiese bystand en, andersyds, ’n inframensdom waarvan die vernaamste kenmerk in vergelyking met ander primaatgroepe dié van uiterste gewelddadigheid is. Wat betref dit wat op ons wag, kan ons ’n kombinasie van chaos en outoritarisme in die vooruitsig stel: “Deur daarin te slaag om al die materiële (en nie slegs die materiële nie) fondasies waarop dit rus, uit te hol, skep die industriële samelewing toestande van onveiligheid en broosheid van alles soos wat slegs ’n oormaat van organisering, oftewel van onderdanigmaking aan die maatskaplike masjien, nog hierdie versameling skrikwekkende onsekerhede vir ’n leefbare wêreld teweeg kan bring.”8

Maar laat ons nie antisipeer nie. Laat ons eerder ter afsluiting wys op ’n ander manier om aan die reeds gemelde vernietiging te ontsnap. In Sérotonine gee die verteller sy lewe weer, meer bepaald die mislukking daarvan. Soos elke mens kan hy niks meer oor die lewens van andere weet as wat dit vir hom gegee is om in die loop van sy eie lewe vas te stel nie. Tog is daar een uitsondering op hierdie reël, naamlik die beskrywing wat hy gee van hoe Camille tydens die Ou Ploegfees deur ’n student van die handelskool swanger gemaak is met haar seun. Wanneer hierdie vertelling voorkom, kan ’n mens nog dink dat Labrouste in die toekoms kontak met Camille sal hervat, wat aan hom inligting oor die betrokke episode sal verskaf. Maar nee. Labrouste en Camille is nie bestem om mekaar weer te ontmoet, of weer te praat nie. Wat dan? Hoe weet hy? Hier is my idee. Aan die einde van Dostojewski se Die Karamazov-broers is ’n negejarige seun, Iljoesja, dood. Die jong Kolja vra vir Aljosja Karamazov: “Is dit regtig waar wat die godsdiens sê, dat ons almal onder die dooies sal opstaan, dat ons weer uit die dood sal opstaan en mekaar weer sal sien, ons almal en ook Iljoetsjka?” Aljosja beaam dit: “Ons sal opstaan, absoluut; ons sal absoluut mekaar weer sien, en ons sal vreugdevol en gelukkig alles wat gebeur het, vir mekaar vertel.” Sekerlik word niks hiervan bevestig in Sérotonine nie. Maar die feit bly dat die kortstondige toegang wat die verteller tydens sy vertelling het tot kennis wat meer is as wat hy in hierdie wêreld van Camille kan weet, ’n skrefie – ’n baie klein skrefie, maar nogtans ’n skrefie – in die hopeloosheid open. Hierdie klein skrefie wat, dit so gestel, miskien niks anders as die vermoë van die letterkunde is nie.

Eindnotas

1  In sy “Verslag voorgehou aan die Konvensie namens die Komitee vir Openbare Veiligheid oor die wyse van uitvoering van die Dekreet teen die Vyande van die Rewolusie (13 Ventôse [“Windmaand”], Jaar Twee [van die Franse Rewolusionêre Kalender], oftewel 3 Maart 1794)

2  In Deel I, hoofstuk 1, die tweede brief van Hyperion aan Bellarmin, Hyperion (1797)

3  Loc cit.

4 Onderhoud met Marin de Viry en Valérie Toranian in die Julie 2015-uitgawe van Revue   des deux mondes.

5  In “L’humanité, second stade” (1998), opgeneem in die opstelbundel Interventions 2020, Parys: Flammarion, bl 172.

6  Interventions, bl 172; SCUM is die akroniem vir Society for Cutting Up Men.

7 Pierre Fournier, “Premier et dernier éditorial”, La Gueule ouverte,  nr 1, November 1972.

8 René Riesel en Jaime Semprun, Catastrophisme, administration du désastre et soumission durable [“Katastrofisme, administrasie van die ramp en duursame onderdanigheid”], L’Encyclopédie des nuisances-uitgewers, 2008, bl 22.

 

  • 2

Kommentaar

  • Marinus Schoeman

    Baie dankie vir hierdie leersame artikel wat jy vir ons toeganklik maak. Dit help om die werk van Houellebecq beter te vestaan. Dankie ook vir jou skitterende vertaling van Houellebecq se jongste roman wat onder die titel "vernietig" onlangs verskyn het by Naledi. Jou gesprekreeks op LitNet Akademies is altyd iets om na uit te sien.

  • Joan Hambidge

    Die dank is groot vir hierdie reeks. Jy skryf sober en inderdaad leesbaar oor komplekse kwessies. Jy wys ook daarop dat alte dikwels word dit 'n of/of in plaas van 'n en/en. Jy bekyk telkens albei kante van die munt.
    Un coup de chapeau!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top