“As die mense en die elites nie meer saamstem daaroor om sáám te funksioneer nie, het die begrip van verteenwoordigende demokrasie nie meer betekenis nie. Ons stuit voor ’n elite wat nie langer die mense wil verteenwoordig nie, en mense wat nie meer verteenwoordig word nie. Samesweringsteorieë is aan die versprei, en dit is ’n spesifieke patologie van ’n maatskaplike stelsel wat deur die paar elitisme/populisme gestruktureer word, deur maatskaplike wantroue.”
– Emmanuel Todd
Inleiding
Emmanuel Todd (1951–) is ’n merkwaardige figuur in die eietydse Franse intellektuele wêreld. Hy maak naam met die publikasie van sy eerste boek in die ouderdom van 25 in 1976, naamlik La chute finale: Essai sur la décomposition de la sphère Soviétique (Parys: Robert Laffont; in 1979 in Engels vertaal deur John Waggoner as The final fall: An essay on the decomposition of the Soviet sphere, Karz Publishers, plek onbekend). In hierdie boek voorspel Todd die val van die Sowjet-unie, welke voorspelling in 1991 bewaarheid word. Todd is onder andere opgelei deur een van die groot geeste van die Franse Annales-geskiedenisskool, Emmanuel Leroy Ladurie, ’n vriend van sy gesin wat aan hom as 10-jarige seun sy eerste geskiedenisboek gegee het, en hom touwys gemaak het in dit waarvoor dié skool onder meer bekend geword het, naamlik die geskiedenis van die lange duur, wat makrotendense in die geskiedenis oor eeue en meer bestudeer. Voorts is hy ook deeglik onderlê in die sosiologie, die antropologie, die demografie en die geo-politiek.

La défaite de l’Occident deur Emmanuel Todd (Parys: Gallimard, 2024)
Sy jongste boek, La défaite de l’Occident, verskyn in Januarie vanjaar by die bloubloed Franse uitgewershuis, Gallimard, en is waarskynlik een van die opspraakwekkendste publikasies van die laaste jare – beslis in Frankryk, en bes moontlik in die Weste. Die woord défaite in die titel kan onder meer vertaal word as nederlaag, ondergang, totnietgang of ontbinding – myns insiens is laasgenoemde die geskikste vertaling, wat ons dan laat met die Afrikaanse titel Die ontbinding van die Weste.
Die boek is geskryf teen die agtergrond van die oorlog wat tans in Oekraïne woed, en in die boek ontwikkel Todd ’n aantal uitdagende teses oor die stand van die eietydse geo-politiek en die rigting waarin dinge tans ontwikkel. Aangesien Suid-Afrika self met betrekking tot die Oekraïense oorlog en die land se buitelandse beleid in die kalklig was, en aangesien die tektoniese geo-politieke verskuiwings wat Todd in die boek bespreek ook vir Suid-Afrika van groot belang is – om maar te swyg van die Afrikaners as kultuurgemeenskap en die breër Afrikaanse wêreld wie se wel en wee tradisioneel ten nouste met dié van die Weste verknoop is – is dit die moeite werd om van die boek kennis te neem. Die bedoeling met hierdie opstel is om vir die Afrikaanse leser wat nie Frans magtig is nie, so ’n oorsig te verskaf.
10 verrassings
Todd open die boek met ’n inleiding waarin hy “10 verrassings” van die oorlog in Oekraïne bespreek:
- Die uitbreek van ’n volskaalse oorlog tussen twee state in Europa, “’n vasteland wat geglo het dat ewigdurende vrede daar gevestig is” (14) – ’n duidelike, siniese verwysing na die boekie Ewigdurende vrede: ’n filosofiese skets (1795) deur Immanuel Kant, miskien die invloedrykste liberale filosoof van die Westerse moderniteit en van wie die 300-jarige geboortedagherdenking ook vanjaar gevier word. In dié boekie voer Kant aan dat handel tussen volke belangriker as oorlog sal word, en dat dit sal bydra tot die opkoms van “ewigdurende vrede”.
- Die twee teenstanders wat hierdie oorlog teen mekaar te staan bring is nie die Verenigde State van Amerika (VSA) en die staat wat die Amerikaners die afgelope jare as hul vernaamste teenstander ag nie, naamlik China, maar Rusland, met Oekraïne as die terrein van die oorlog.
- Die weerstand wat Oekraïne van meet af teen Rusland bied in die lig van die feit dat Oekraïne se weermag veel swakker en sy bevolking veel kleiner as dié van Rusland is – en in die oë van sowel die Weste as Rusland toenemend as falende staat beskou is weens faktore soos ’n bevolkingsaanname van sowat 11 miljoen sedert 1991 as gevolg van emigrasie en ’n afname van die geboortekoers. In Todd se woorde: “Die land is oorheers deur oligarge; korrupsie het ongekende vlakke bereik; die land en sy mense was skynbaar te koop. Op die vooraand van die oorlog het Oekraïne die beloofde land vir goedkoop surrogaatmoederskappe geword” (15).
- Die ekonomiese weerstandigheid van Rusland ondanks enorme Westerse sanksies en die uitsluiting van die land uit die Amerikaans-geleide internasionale bankbetalingstelsel, genaamd SWIFT. Todd verklaar dit deur instemmend te verwys na David Teurtrie se 2021-boek Russie. Le retour de la puissance (Rusland. Die terugkeer van mag):
Teurtrie toon aan dat die Russe aangepas het by die [Westerse] sanksies van 2014 [ingestel ná Rusland die Krim geannekseer het] en voorberei het om selfstandig te word op die gebiede van die informatika en die bankwese. In Teurtrie se boek ontdek die leser ’n moderne Rusland, ver verwyderd van die rigiede neo-Stalinistiese outokrasie wat die pers dag ná dag aan ons voorhou, en in staat tot groot tegniese, ekonomiese en maatskaplike soepelheid – kortom, ’n teenstander wat ernstig opgeneem moet word. (15–6)
- Die ineenstorting van enige wil van die kant van Europa. Hier verwys Todd na hoe die klassieke Europese tandem van Duitsland en Frankryk eenvoudig stoom verloor het. Voorts verwys hy na die merkwaardige feit dat Duitsland vrywillig afstand geneem het van sy vernaamste energieverskaffer, Rusland, en met gevoude hande bly sit het nadat, soos die Amerikaanse ondersoekende veteraanjoernalis, Seymour Hersh, uitgewys het, die VSA met die samewerking van Noorweë die sabotasie van die Nordstream-gaspypleiding onderneem het. En dit teen die agtergrond van die feit dat Frankryk en Duitsland skaars 20 jaar gelede betekenisvolle verset teen die VSA se bedenklike inval van Irak, onder die valse voorwendsels dat laasgenoemde oor wapens van massavernietiging sou beskik, gelei het.
- Die feit dat die Verenigde Koninkryk (VK) na vore getree het as “anti-Russiese keffertjie en bemoei-al van NAVO” (17) (NAVO = die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, in Engels bekend as NATO – JR). Volgens Todd het die VK onmiddellik in so ’n mate oor die konflik kommentaar begin lewer dat hulle die Amerikaanse neokonserwatiste soos “louwarm militariste” laat lyk het, en was hulle ook die eerste wat langafstandmissiele en tenks na Oekraïne wou stuur.
- Die Britse veglustigheid het ook versprei na die Nordiese lande, “wat vir ’n baie lang tyd ’n vreedsame temperament gehad het en meer geneig tot neutraliteit as tot stryd was” (17).
- Die “verrassendste van al die verrassings” was dat dit teen Junie 2023 geblyk het dat die wêreld se voorste militêre moondheid en beskermheer van Oekraïne, die VSA, se militêre nywerheid tekortskiet en nie in staat is om Oekraïne of enige ander land van voldoende mortierbomme te voorsien nie – en dit terwyl die gekombineerde bruto binnelandse produk van Rusland en sy naaste bondgenoot, Belo-Rusland, slegs 3,3% van die gesamentlike BBP van die VSA, Kanada, Europa, Japan en Suid-Korea uitmaak. Volgens Todd beteken dit dat die waardeloosheid van die BBP-aanduider daarmee aan die kaak gestel is en min met die werklikheid te make het.
- Die “ideologiese eensaamheid van die Weste en hoe onkundig die Weste oor sy eie isolasie is” (18). Pleks om soos voorheen sy visie en waardes aan die res van die wêreld voor te skryf, moes die Weste toekyk hoe die meeste lande óf neutraal in die oorlog staan, óf simpatiek teenoor Rusland is. So is bondgenootskappe tussen, onderskeidelik, Rusland en een van sy oudste vyande, Iran, asook tussen Rusland en Saoedi-Arabië rondom gedeelde belange in die oliebedryf gevorm – ondanks die feit dat Rusland Ortodoks en Saoedi-Arabië Moslem (en oorheers deur die ekstremistiese Wahhabi-sekte) is.
- Die laaste verrassing is die ontbinding en nederlaag van die Weste – nie omdat die Weste deur Rusland aangeval word (of sal word nie), maar omdat dit sigself vernietig:
Laat ons, ons perspektief verbreed en ’n oomblik terugstaan van die geldige emosie wat die geweld van die oorlog gaande maak. Ons is in die era van voltooide globalisering, en wel in twee sinne van die woord: maksimaal en afgehandel. Laat ons probeer om ’n geo-politieke visie te hê: In werklikheid is Rusland nie die probleem nie. Synde te uitgestrek vir ’n krimpende bevolking is dit nóg in staat om die wêreld te beheer, nóg het dit so ’n begeerte. Dit is 'n normale moondheid waarvan daar niks geheimsinnigs omtrent sy ontwikkeling is nie. Geen Russiese krisis destabiliseer die wêreldbalans nie. Dit is wel ’n terminale Westerse en meer spesifiek Amerikaanse krisis wat die wêreldbalans bedreig. (20)
Die realismeparadigma: John Mearsheimer
Hierna tree Todd in die inleiding van sy boek in gesprek met die wêreld se voorste eksponent van die realismeparadigma in die internasionale politiek (waarvolgens state in die eerste plek uit vrees en eiebelang handel), John Mearsheimer van die Universiteit van Chicago. Mearsheimer het op 3 Maart 2022, pas ná Rusland Oekraïne op 24 Februarie 2022 ingeval het, in ’n video wat soos ’n veldbrand wêreldwyd versprei het, ’n ontleding van die konflik gegee. Todd som Mearsheimer se ontleding soos volg op:
Rusland hou al jare lank vol dat hy nie Oekraïne se aansluiting by NAVO sal aanvaar nie. Dog, nadat die leisels van Oekraïne se weermag toenemend oorgeneem is deur Amerikaanse, Britse en Poolse militêre raadgewers van NAVO, was Oekraïne de facto besig om ’n NAVO-lid te word. Die Russe het dus gedoen wat hulle aangekondig het, naamlik om met ’n oorlog te begin. Ten diepste was dit óns verrassing hieroor wat verrassend was. (21)
Mearsheimer het ook bygevoeg dat Rusland uiteindelik die oorlog sal wen omdat Oekraïne vir hulle ’n eksistensiële aangeleentheid is – maar nie vir die VSA nie. Hoewel Todd Mearsheimer vir sy dapperheid en insig salueer, en saamstem dat dit ons insigte in Rusland se optrede bied, verduidelik dit egter nie die “irrasionaliteit” van die Weste nie, nóg hoe die militêre vertoning van Oekraïne die VSA in ’n valstrik lei nie. Gevolglik stel hy hom in sy boek die volgende ten doel:
[E]k gaan [...] beskryf en probeer verstaan wat in Oekraïne afspeel, en hipoteses aan die hand doen oor wat ons die gevaar loop om nie net in Europa nie, maar in die res van die wêreld te sien gebeur. Dit is ook my oogmerk om deur te dring tot die grondliggende geheimenis wat die wedersydse onbegrip van die twee protagoniste behels – enersyds ’n Westerse kamp wat dink Poetin en Rusland is gek; andersyds ’n Rusland of ’n Mearsheimer wat ten diepste dink dat die Weste gek is. (22)
Volgens Todd is een van die sleutels om die saak te verstaan dat terwyl Poetin en Mearsheimer nog die nasiestaat as die hoeksteen van die internasionale politiek beskou, die nasiestaat inderwaarheid nie meer in die Weste bestaan nie, wat op sy beurt die gedrag van die Weste verstaanbaar maak. Om dít te begryp herinner Todd die leser eerstens aan die klassieke kenmerke van ’n nasiestaat:
Die konsep van die nasiestaat vooronderstel dat die uiteenlopende strata van die bevolking van ’n gebied tot ’n gemeenskaplike kultuur behoort, binne dieselfde politieke stelsel – ongeag of dié demokraties, oligargies, outoritêr of totalitêr is. Ten einde toepaslik te wees vereis dit ook dat die betrokke gebied beskik oor ’n minimum graad van ekonomiese selfstandigheid, welke selfstandigheid natuurlik handel insluit, dog die handelsbalans van so ’n nasiestaat moet op die medium tot langtermyn min of meer gebalanseerd wees. ’n Stelselmatige handelstekort maak die begrip van ’n nasiestaat oorbodig omdat die betrokke territoriale entiteit slegs kan oorleef danksy die insameling van ’n tribuut of emolument wat sonder ’n teenprestasie van buite kom. Slegs hierdie kriterium stel ons reeds in staat [...] om vas te stel dat Frankryk, die VK en die VSA, waarvan die buitelandse handel nooit meer in balans is nie maar ’n tekort vertoon, nie meer volwaardige nasiestate is nie. (25–6)
Todd verwys ook na die middelklas as die swaartepunt van enige nasiestaat en hoe die betreklike laat opkoms van ’n Oos-Europese middelklas ’n sentrale faktor in Oos-Europa se geskiedenis tot met die oorlog in Oekraïne is, terwyl die “vernietiging van die [Amerikaanse] middelklas bydra tot die disintegrasie van die Amerikaanse nasiestaat” (26).
Terwyl die Europese Unie (EU) per definisie berus op die oorstyging van die nasiestaat, was dit nie die plan in die VSA nie. Dog, volgens Todd het die gestadigde ineenstorting van die Amerikaanse WASP-kultuur (wit, Anglo-Saxon, Protestant) sedert die 1960’s gelei tot ’n ryk gestroop van ’n sentrum en ’n projek, ’n wesenlik militêre organisme gelei deur ’n groep sonder ’n kultuur (in die antropologiese sin van die woord) waarvan die enigste grondliggende waardes dié van mag en geweld is. Dié groep word normaalweg die “neokons” [neokonserwatiewes] genoem. Dit is redelik eng en beweeg in ’n geatomiseerde, anomiese opperklas met ’n groot vermoë tot geskiedkundige, geo-politiese skade. (28)
Protestantse kultuur
........
Wat die VSA in besonder, maar ook die Weste in die algemeen betref, verwys Todd na syns insiens die belangrikste sleutel om die eietydse wêreldwye onstuimigheid te begryp – die Protestantse kultuur wat volgens Max Weber die groot dryfkrag vir die opkoms van die Weste en sy hegemonie was, is vandag in die Weste ’n krag wat sigself uitgewoed het.
........
Wat die VSA in besonder, maar ook die Weste in die algemeen betref, verwys Todd na syns insiens die belangrikste sleutel om die eietydse wêreldwye onstuimigheid te begryp – die Protestantse kultuur wat volgens Max Weber die groot dryfkrag vir die opkoms van die Weste en sy hegemonie was, is vandag in die Weste ’n krag wat sigself uitgewoed het.
Todd dink daarom dat die beste beskrywing van die eietydse VSA nie is dat dit imperiaal is nie, maar eerder post-imperiaal:
[T]erwyl die VSA nog beskik oor sy imperiale militêre masjinerie, bestaan daar in sy kern nie meer ’n kultuur wat ’n draer van intelligensie is nie, en dít is waarom dit in die praktyk oorgaan tot ondeurdagte, weersprekende optrede soos ’n aanmerklike militêre en diplomatieke uitbreiding te midde van ’n fase van massiewe inkrimping van sy nywerheidsbasis – wel wetende dat “moderne oorlogvoering sonder ’n nywerheid” ’n oksimoron is. (30)
Die afgang van die Protestantse kultuur in die VSA lei volgens Todd tot nihilisme, welke nihilisme wat, soos hy dit verstaan, twee grondliggende dimensies bevat:
Die sigbaarste is die fisiese dimensie: ’n drang tot die vernietiging van dinge en mense; ’n begrip wat soms baie nuttig is wanneer ’n mens oorlog bestudeer. Die tweede dimensie is konseptueel maar nie minder essensieel nie, veral wanneer ’n mens nadink oor die lot van samelewings en oor die omkeerbare of onomkeerbare aard van hulle afgang: In dié opsig neig die nihilisme onweerstaanbaar daartoe om die begrip van die waarheid self te vernietig, om enige redelike beskrywing van die wêreld te verhoed. Hierdie tweede dimensie vind op ’n sekere wyse aansluiting by die algemeen aanvaarde betekenis van die woord, waarvolgens dit ’n amoralisme voortspruitend uit die afwesigheid van waardes is. (31–2)
Teen hierdie agtergrond voer Todd aan dat die sentrale botsing van ons tyd dié is tussen die strategiese realisme van die nasiestate [en] die post-imperiale mentaliteit voortspruitend uit ’n disintegrerende ryk. Nie een van die twee begryp die volle werklikheid nie omdat eersgenoemde nie insien nie dat die Weste nie langer uit nasiestate bestaan nie, maar iets anders geword het, terwyl laasgenoemde nie langer vatbaar vir die idee van nasionale soewereiniteit is nie. Dog, die gebrekkige werklikheidsbegrip van die twee kante is nie gelyk aan mekaar nie en dié asimmetrie tel in die guns van Rusland. (33)
In navolging van een van die denkers van die Skotse Verligting, Adam Ferguson, voer Todd aan dat geen groep met ’n eie moraliteit kan bestaan sonder ’n verhouding met ’n eksterne groep met ’n eie moraliteit nie. Dít, reken hy, is iets wat die eietydse Weste nie meer verstaan nie:
Die eietydse Westerse stelsel streef daarna om die totaliteit van die wêreld te verteenwoordig en erken nie meer die bestaan van ’n ander nie. Dog, Ferguson se les is dat wanneer jy nie meer die geldige bestaan van ’n ander erken nie, jy self ophou om te bestaan. Die krag van Rusland, daarenteen, is dat dit dink aan die hand van die soewereiniteit en gelykwaardigheid van volke – terwyl dit rekening hou met die bestaan van vyandige kragte kan dit sy eie maatskaplike samehorigheid verseker. (35)
Daarom reken Todd “die Westerse krisis is die dryfkrag van die geskiedenis wat ons vandag beleef” (36).
Russiese stabiliteit
In hoofstuk 1 van die boek, “Die Russiese stabiliteit”, neem hy Rusland sedert die laat jare negentig van die vorige eeu onder die loep ten einde lig te werp op dit wat soveel mense syns insiens onnodiglik sedert die uitbreek van die oorlog in Oekraïne verras het, naamlik die “stewigheid van Rusland” (37). In teenstelling met die heersende siening in die Westerse media dat Rusland teen 2022 in ’n gestadigde afgang was, verwys Todd na die volgende statistiek vir die tydperk van 2000 tot 2017, wat hy beskryf as die “sentrale fase van die Poetiniese stabilisering”: In Rusland daal die sterftekoers weens alkoholisme van 25,6 na 8,4 per 100 000 mense, die selfmoordkoers van 39,1 na 13,8 per 100 000 mense en die moordkoers van 28,2 na 6,2 per 100 000 mense. Die moordkoers het teen 2020 afgeneem na 4,7 per 100 000 mense en die selfmoordkoers na 10,7 per 100 000 mense. Voorts, volgens UNICEF [Verenigde Nasies Internasionale Kindernoodfonds – JR], het die koers van doodgebore babas afgeneem vanaf 19 per 1000 “lewendgebore babas” tot 4,4 per 1000 in 2020 – wat beter is as die 2020-syfer vir Amerikaanse babas, naamlik 5,4 per 1000. Dié spesifieke statistiese aanduider beskryf Todd as besonder betekenisvol omdat dit veral iets sê oor diegene wat maatskaplik die meeste uitgelewer in ’n staat is. Hy reken dat dit aanduidend is van ’n nuutgevonde maatskaplike stabiliteit in Rusland ná die “nagmerriedekade” in die 10 jaar ná die ineenstorting van die Sowjet-unie en Amerikaans-geleide ekonomiese “skokterapie”.
Teen hierdie agtergrond spreek Todd sy skepsis uit oor Transparency International wat in hul jaarlike korrupsie-indeks Rusland op posisie 136 en die VSA in die veel beter posisie 27 geplaas het:
’n Land wat ’n laer koers van doodgebore babas as die VSA het, kan nie méér korrup as die VSA wees nie. Aangesien dié koers die onderliggende toestand van ’n samelewing weerspieël, is dit ongetwyfeld ’n beter aanduider van werklike korrupsie as aanduiders wat volgens wie weet watter kriteria gefabriseer is. Bowendien is lande met die laagste koers van doodgebore babas diegene wat ons kan verifieer die minste korrup is, naamlik die Skandinawiese lande en Japan. (39–40)
Vervolgens neem Todd die relevante ekonomiese statistiek in oënskou. Terwyl die Sowjet-unie se landbousektor misluk het, het Russiese landbou-uitvoer teen 2020 ’n rekordvlak van 30 miljard dollar beloop, wat hoër is as die 26 miljard dollar wat die land in dieselfde jaar uit die uitvoer van aardgas verdien het, en was die land een van die min ter wêreld wat genoeg voedsel vir sy behoeftes kon produseer en bowendien nog ’n surplus uitvoer. Terwyl Rusland steeds die wêreld se tweede grootste uitvoerder van wapens is, was die land ook teen 2020 die wêreld se voorste uitvoerder van kernkragsentrales en in 2021 besig met die aanbou van 35 sulke sentrales in veral China, Indië, Hongarye en Turkye. Rusland se internetsektor het ook in so ’n mate ontwikkel dat dit volgens Teurtrie teen 2020 die enigste moondheid was waar daar werklike mededinging bestaan het tussen die Westerse tegnologiereuse (Google, Amazon, Meta en Apple) en hulle Russiese eweknieë.
Op die finansiële terrein verwys Todd na nog ’n betekenisvolle Russiese stap – terwyl die Minsk-verdrae van 2014 deur die destydse Franse president, François Hollande, onderteken is in navolging van die destydse Duitse kanselier, Angela Merkel “om vir Oekraïne tyd te wen om hulself te bewapen” (42), het die Russe op hulle beurt ook dié verdrae gebruik om tyd te wen. Hulle het reeds in daardie stadium voorsien dat hulle as toekomstige Westerse straf uit die SWIFT-bankstelsel gesluit kon word, en daarom het die Russiese sentrale bank reeds vanaf 2014 begin werk aan ’n Russiese alternatief, genaamd SPFS, en verskeie alternatiewe nasionale betaalstelsels ontwikkel.
Teen hierdie agtergrond wys Todd hoe Westerse sanksies ingestel ná die Russiese anneksasie van die Krim in 2014 misluk het. Een voorbeeld wat hy gee is hoe Russiese graanproduksie vanaf 37 miljoen ton in 2012 gestyg het tot 80 miljoen ton in 2022. Daarenteen, weens die neoliberale ekonomiese koers wat die VSA sedert die verkiesing van president Ronald Reagan in 1980 ingeslaan het, het Amerikaanse graanproduksie gedaal vanaf ’n destydse 65 miljoen ton na 47 miljoen ton in 2022.
In navolging van Teurtrie en die gesiene Amerikaanse ekonoom, James Galbraith, voer Todd aan dat die netto effek van Westerse sanksies teen Rusland vanaf 2014 tot 2022 was om die land te dwing om alternatiewe te ontwikkel vir produkte wat hy nie langer mog invoer nie.
Soos reeds vermeld, vind hierdie maatskaplike en ekonomiese prestasies plaas tydens die bewind van president Wladimir Poetin, en dit bring Todd dan by ’n vertolking van Poetin en die huidige Rusland, waarmee hy hom eksplisiet afgrens teen die heersende Westerse siening van “’n land oorheers deur ’n monsteragtige Poetin en ’n bevolking van imbesiele [...] asof Rusland teruggekeer het na sy sogenaamde Bolsjewistiese wese” (46).
Rusland onder Poetin
Hier verwys Todd na Wladimir Sjlapentokh. Hy was Joods en is tydens die Sowjet-era in 1926 in Kiëf gebore, terwyl hy as een van die grondleggers van die Russiese empiriese sosiologie sou word. Weens toenemende anti-Semitisme in die Sowjet-unie emigreer hy in 1979 na die VSA en publiseer sy laaste groot werk in 2013, Freedom, repression, and private property in Russia (Cambridge University Press), waarin hy dan ook vyandig teenoor Poetin staan. “Wanneer jy dié boek gelees het,” skryf Todd, “word dit maklik om Poetin se regime nie te omskryf as dié van ’n buiteaardse monster wat sy mag gebruik om ’n passiewe, agterlike bevolking te onderwerp nie, maar as ’n verstaanbare verskynsel wat in die verlenging van die algemene geskiedenis van Rusland staan, dog nietemin spesifieke karaktertrekke vertoon” (47).
Eerstens bly die staat ’n sentrale rol speel, wat volgens Todd kwalik anders kan wees gegewe die omvang van Rusland se natuurlike energiebronne. Hy gaan voort:
Natuurlik speel die eertydse KGB, nou die FSB, waaruit Poetin kom steeds ’n wesenlike rol. Natuurlik het Rusland nie ’n liberale demokrasie geword nie. Ek is geneig om dit eerder te omskryf as ’n outoritêre demokrasie en aan sowel die term demokrasie as die term outoritêr dieselfde gewig toe te ken. Demokraties, omdat selfs al vind daar ’n mate van verkiesingsbedrog plaas, toon meningspeilings (wat deur niemand betwis word nie) dat die bevolking se steun vir die regime ewe standvastig in vredes- as in oorlogstyd bly. Outoritêr, omdat die regime duidelik nie voldoen aan een van die wesenlike kriteria van ’n liberale demokrasie nie, te wete die respek vir minderheidsregte. Die eenstemmige dimensie van die regime is ooglopend met alles wat dit impliseer vir die beperkinge op mediavryhede en dié van uiteenlopende groeperinge in die burgerlike samelewing. (47)
Todd is van oordeel dat wat hy beskou as sekere spesifieke kenmerke van die Poetin-regime dui op ’n “radikale breuk met die Sowjet-outoritarisme” (47). Dit behels die volgende:
Eerstens “’n diepgaande verbintenis tot die markekonomie, ondanks die sentrale rol wat die staat speel”, wat volgens Todd heel verstaanbaar is vir iemand (soos Poetin) wat die “monumentale mislukking van ’n geleide ekonomie” (soos in die Sowjet-unie) beleef het. Ondanks die rol wat die elites van St Petersburg en Moskou in die ekonomie speel, is Poetin baie gevoelig vir werkersklasbehoeftes.
Tweedens is Poetin sterk verbind tot vryheid van beweging, waarvolgens Russe die land kan binnekom en verlaat soos hulle wil, selfs in oorlogstyd, wat Todd beskou as “die teken van ’n regime wat op sy manier seker van homself is, of minstens daarop wed om dit te wees” (48).
Derdens, en weer eens in navolging van die Joodse Sjlapentokh, wys Todd op die afwesigheid van anti-Semitisme in Poetin se regime.
........
Todd staan ook stil by ’n ander moderne kenmerk van ’n vooruitstrewende ekonomie, naamlik die opleiding van ingenieurs (waarsonder Rusland nie so gou sedert 2022 suksesvol sou kon oorskakel na ’n oorlogsekonomie nie). Hiermee loods hy ook sy kritiek op een van die konvensionele aanduiders van die welstand van ’n nasionale ekonomie, naamlik die BBP. Vir redes wat hy later uitvoeriger bespreek, voer Todd aan dat die aantal ingenieurs wat ’n land oplei meer oor ekonomiese welstand as die BBP toon.
........
Todd staan ook stil by ’n ander moderne kenmerk van ’n vooruitstrewende ekonomie, naamlik die opleiding van ingenieurs (waarsonder Rusland nie so gou sedert 2022 suksesvol sou kon oorskakel na ’n oorlogsekonomie nie). Hiermee loods hy ook sy kritiek op een van die konvensionele aanduiders van die welstand van ’n nasionale ekonomie, naamlik die BBP. Vir redes wat hy later uitvoeriger bespreek, voer Todd aan dat die aantal ingenieurs wat ’n land oplei meer oor ekonomiese welstand as die BBP toon. Teen 2020 het 7,2% van Amerikaanse studente ingenieurswese gestudeer, teenoor 23,4% van Rusland se studente. Nadat hy die VSA en Rusland met verwysing na bevolkingsgrootte en grondgebied met mekaar vergelyk, kom hy tot die slotsom dat terwyl die VSA meer as dubbeld die bevolking van Rusland het, dit nogtans so is dat onder die bevolking tussen die ouderdomme van 20 en 34 die VSA tans 1,35 miljoen ingenieurs oplei, teenoor Rusland se 2 miljoen in dieselfde kohort. Todd wys uit dat die VSA nietemin ook ingenieurs van elders invoer, maar hy voer aan dat hierdie syfers verduidelik waarom “die [Russiese] Dawid sigself op tegnologiese en nywerheidsgebied – en dus ook op militêre gebied – teenoor die [Amerikaanse] Goliat kan handhaaf” (51).
Klasse
Dan is daar ook die kwessie van maatskaplike stande, oftewel klasse, soos dit deesdae bekend staan. As ’n mens die Westerse politieke en sosiologiese literatuur van 1840 tot 1980 nagaan, blyk dit dat die fokus op die werkersklas was, maar sedert die meeste van take van die Westerse werkers vanaf die 1980’s na Asië se werkers verskuif is, val die kollig op die middelklas. So, byvoorbeeld, soos die Marxisme eens gewag het op ’n arbeidersgeleide rewolusie, so wag die Westerse neoliberale vandag op middelklasopstande in lande soos Rusland, China en Iran. Todd stem heeltemal saam dat ’n Westerse samelewing nie sonder ’n oorheersende middelklas gebalanseerd, demokraties en liberaal kan wees nie, en dat daar oor die afgelope dekades ’n verhouding bestaan tussen die opkoms van ’n middelklas met naskoolse opvoeding en die ontwikkeling van liberale en selfs libertynse neigings. Maar hoe staan sake met die Russiese middelklas?
In die eerste plek herinner hy die leser daaraan dat hy met daardie eerste boek van hom in 1976 die ineenstorting van die Sowjet-unie danksy die groei van die naskoolse opleiding van die middelklas reg voorspel het. As ’n mens die saak egter van nader beskou, wys hy uit dat die Sowjet-kommunisme die eerste fase van die massageletterdheid van die bevolking verteenwoordig het, en wys hy daarop dat wanneer 50% van die bevolking geletterdheid verwerf, dit aanleiding gee tot die verspreiding van ’n demokratiese ingesteldheid (of dit nou van “liberale of outoritêre, egalitêre of nie-egalitêre aard na gelang van die antropologiese struktuur van die land is” [53]):
In die Anglo-Amerikaanse wêreld het dié oorgang gelei tot die suiwer liberalisme van die 17de en 18de eeue; in Frankryk tot ’n egalitêre liberalisme vanaf die 18de eeu; in Duitsland tot die sosiale demokrasie en die Nazisme van, onderskeidelik, die 19de en 20ste eeue; en in Rusland tot die kommunisme. (53)
In die volgende fase lei toegang tot hoëronderwys van 20% tot 25% van ’n generasie tot die “verwering van die primêre ideologieë wat met die eerste fase van massageletterdheid saamhang” (53). Rusland bereik hierdie fase tussen 1985 en 1990, waarna die Sowjet-unie in 1991 tot niet gaan, en waarop die chaotiese dekade van 1990 volg. Terwyl Westerse lande bly hoop dat die middelklas van St Petersburg en Moskou teen die regime in opstand sal kom – en Todd toegee dat die meeste Russiese kritiek op die regime inderdaad uit daardie geledere kom – wys hy daarop dat die antropologiese struktuur van die Russiese bevolking beduidend anders as dié van sommige liberale Westerse lande lyk, en dat dit op sy beurt insig in die Russiese maatskaplike en politieke gesagstrukture bied:
In 1983 het ek die hipotese ontwikkel dat daar ’n band bestaan tussen die kommunisme en die kommunitêre kleinboerfamilie wat nie slegs waarneembaar is in Rusland nie, maar ook in China, in Serwië, in Toskane, in Viëtnam, in Letland, in Estland en in die sentrale streke van Finland. Hierdie patrilineêre, familiale tipe wat die vader en sy getroude seuns in landbouery byeenbring, is die voertuig van die waardes van gesag (van die vader oor sy seuns) en van gelykheid (van die broers onderling) [...]. Die patrilineêre beginsel word vandag simbolies in Rusland gehandhaaf deur die stelsel van drie name, naamlik die voornaam, die naam van die vader en die van – Wladimir Wladimirowitsj (seun van Wladimir) Poetin, of Sergei Viktorowitsj (seun van Viktor) Lavrov [...].
Die kommunisme is nie eerstens gebore uit die vrugbare brein van Lenin alvorens dit op ’n aktiewe minderheid afgedwing is nie; dit het eerder gevolg uit die ontwrigting van die tradisionele [Russiese] kleinboerfamilie. Die afskaffing van lyfeienskap (serfdom) in 1861, verstedeliking en die opkoms van geletterdheid het die individu losgemaak van die verstikkende kommunitêre familie. Dog, die bevryde individu was daarop heeltemal gedisoriënteerd en het in die Party, in die gesentraliseerde ekonomie en in die KGB plaasvervangers vir die vaderlike gesag gesoek. Ons sou kon sê dat die instelling wat die naaste aan die tradisionele familie was, die KGB is omdat dit sigself in fyn besonderhede met die individu bemoei het. (55–6)
Todd is gou om uit te wys dat hierdie ontleding van Rusland en ander moondhede (soos Japan) deur die VSA self in die 1940’s en 1950’s gedoen is. “Daar het dus destyds in die Amerikaanse wêreldstelsel onder konstruksie ’n verdraagsaamheid teenoor diversiteit bestaan wat berus het op ’n Amerikaanse pluralistiese temperament gevorm deur ’n redelike (raisonnable) antropologiese skool” (59). Dit bring Todd tot die gevolgtrekking dat een van die redes waarom die Koue Oorlog nie uitgeloop het op ’n volskaalse oorlog nie, die feit is dat die destydse Amerikaanse leierskap, tesame met hulle siening dat hulle hul vryheidsopvatting teenoor die kommunisme moes handhaaf, tegelyk deeglik bewus was van ’n eiesoortige Russiese identiteit wat verreken moes word. Hier verwys hy spesifiek na die Amerikaanse argitek van die strategie van containment, George Kennan, wat vlot in Russies en ’n kenner en liefhebber van die Russiese kultuur was – dieselfde Kennan wat enkele jare voor sy dood in 2005 in die ouderdom van 101 gewaarsku het teen die gevare om NAVO ooswaarts uit te brei.
Groeiende Amerikaanse onbegrip
Na Todd se oordeel het hierdie redelikheid in Amerikaanse buitelandse beleid vanaf die 1960’s en die Viëtnam-oorlog die knie gebuig voor die opvatting dat dit die VSA se sending is om die liberale demokrasie wêreldwyd te vestig, ongeag die eiesoortige identiteit van hierdie of daardie land. Todd speur hierdie bedenklike siening terug na ’n boek van Walt Rostow (1916–2003), wat nasionale veiligheidsraadgewer van presidente Kennedy en Johnson in die 1960’s was, naamlik The stages of economic growth: A non-Communist manifesto (1960). Volgens Todd kom daar in die boek “een baie ware en een baie valse idee voor”:
Die baie ware idee is dat alle lande tydens hulle ontwikkeling deur ’n gevaarlike fase beweeg waartydens ’n politieke krisis kan ontstaan. Rostow verbind dit met ekonomiese ontwikkeling, ek met geletterdheid, maar hoe ook al. Dan is daar die baie valse idee. Tydens voorgenoemde gevaarlike fase sal dit dan voldoende wees om in te tree om die politieke krisis te verhoed en om die land waarmee gehandel word (deur die Amerikaanse weermag) in staat te stel om regstreeks tot ’n liberale demokrasie oor te gaan. (60)
Aan die hand van hierdie verskuiwing in die VSA (en mettertyd die Weste) se houding jeens die res van die wêreld, voer Todd aan daar ontstaan ’n onvermoë om die eietydse Rusland en die Poetin-regime te verstaan: “Die verdwyning van ons aanleg om die diversiteit van die wêreld te begryp verhoed ons om ’n realistiese blik op Rusland te hê” (61).
En voorts:
Dit was ooglopend dat post-kommunistiese Rusland ondanks die aanvaarding van ’n markekonomie sekere kommunitêre eienskappe sou behou; dat een van hierdie eienskappe die bestaan van ’n sterker staat as elders sou wees; dat nog een die verhouding van hierdie staat met die uiteenlopende klasse van die samelewing sou wees wat anders as dié in die Weste is; dat nog een die aanvaarding in wisselende grade sou wees in al die klasse van die samelewing (in ’n hoër mate onder die lae klas, in ’n mindere mate onder die middelklas) van ’n sekere soort outoritarisme en ’n aspirasie na maatskaplike eenvormigheid.
Ons moet ook verstaan dat dit wat die standvastigheid van Rusland meebring en dit in staat stel om sy soewereiniteit in ’n geglobaliseerde stelsel te handhaaf, sy spontane vermoë is om die ontwikkeling van ’n absolute individualisme te verhoed (geen waardeoordeel in hierdie stelling nie; hier praat ek soos ’n Amerikaanse antropoloog van die 1950’s). Daar bestaan in Rusland voldoende kommunitêre waardes – outoritêr sowel as egalitêr – vir die ideaal van ’n kompakte volk om daar voort te bestaan, en vir ’n sekere vorm van patriotisme om weer na vore te tree. (61)
Dit alles het Rusland egter nie verhoed om soos alle gevorderde samelewings tussen 1960 en 2000 groter maatskaplike ongelykheid te ervaar nie. Op die basis van die statistiek wys Todd uit dat dit selfs hoër as in die VSA is, en dit ontstaan uiteraard uit die onstuimige oorgang van die 1990’s. Dog, juis op grond van die algemene verbetering in lewensgehalte in Rusland waarna reeds hierbo verwys is, aanvaar die hoër middelklas dié toedrag van sake, terwyl die sogenaamde Russiese oligarge ná die arrestasie van Mikhail Khodorkofski in Oktober 2003 dit aanvaar en hulle aan die politiek onttrek het, waar Poetin hulle slegs met hulle geld en nie met enige ander beduidende politieke invloed nie gelaat het – in skerp teenstelling met die enorme politieke invloed wat die Amerikaanse oligarge in die VSA het.
........
Todd kom tot die gevolgtrekking dat die “Poetin-stelsel [...] stabiel is omdat dit ’n produk van die Russiese geskiedenis en nie die werk van een man is nie” (63). Dit is daarom Westerse wensdenkery om te dink ’n Russiese opstand teen Poetin gaan uitbreek, wensdenkery voortspruitend uit die eietydse Westerse onvermoë om ’n ander samelewing met ’n eie identiteit as hul eie voor te stel.
........
Todd kom tot die gevolgtrekking dat die “Poetin-stelsel [...] stabiel is omdat dit ’n produk van die Russiese geskiedenis en nie die werk van een man is nie” (63). Dit is daarom Westerse wensdenkery om te dink ’n Russiese opstand teen Poetin gaan uitbreek, wensdenkery voortspruitend uit die eietydse Westerse onvermoë om ’n ander samelewing met ’n eie identiteit as hul eie voor te stel. Dit wil nie sê Rusland is nie kwesbaar nie, maar die eintlike bron van Russiese kwesbaarheid is volgens Todd die land se demografie.
Demografie
Dit is hierdie kwesbaarheid wat Todd reken Rusland verhoed om neo-imperialisties te word. Hy wys uit dat die afname in die Russiese geboortekoers gewoon dieselfde is as in die res van die “ontwikkelde wêreld” (64). Rusland se geboortekoers het teen 2016 gestabiliseer op 1,5, wat nie genoeg is om ’n bevolkingsaanname te keer nie. Volgens die Verenigde Nasies behoort Rusland se bevolking af te neem van die huidige 146 miljoen na 126 miljoen in 2050. Todd kom tot die slotsom dat Rusland bloot om demografiese gronde hoegenaamd nie oor die vermoë beskik om genoeg mans in die weermag op te roep om ander lande naas Oekraïne in te val nie:
Die kommer wat die Russiese demografiese stand van sake wek, is alomteenwoordig Poetin en ander rolspelers van sy regime se toesprake. Dit verduidelik sy militêre strategie wat óf kwalik deur ons media begryp word, óf te goed begryp maar weggesteek word vir ons lesers en luisteraars. Luidens die heersende Westerse diskoers dat Poetin soos Stalin is. Dog, in die era van Stalin was die Russiese bevolking oorvloediglik aan die groei [...] en kon die Rooi Leër dus mans in die miljoene opoffer, soos dit die geval tydens die Tweede Wêreldoorlog was. Die huidige Russiese militêre doktrine, daarenteen, spruit voort uit die besef dat die bevolking afneem. Dit is een van die redes waarom Rusland Oekraïne met slegs 120 000 soldate binnegegaan het [...]. Anders as wat ons vertel word, het die Russiese weermag gekies vir ’n stadige oorlog ten einde manskappe te spaar. Die belangrike rol wat die Tsjetsjeense regimente en die Wagner-milisie vroeg in die oorlog gespeel het, spruit uit hierdie keuse voort, soos ook die beperkte, gestadigde oproep tot militêre diens wat spaarsamig gedoen word. (65–6)
Volgens Todd vrees Rusland ’n konflik met NAVO (bevolking uitgesluit Turkye 887 miljoen) gelei deur Pole, want dit sal hulle dwing om meer mans tot militêre diens op te roep en die stabiliteit van die Poetin-regime en die samelewing in die gedrang bring. Dit is ook waarom hy oordeel die Poetin-regime hoop om die oorlog teen Oekraïne binne vyf jaar af te handel, want daarna gaan die prys (veral demografies en wat stabiliteit betref) vir Rusland baie hoog word. En hy sluit dié hoofstuk met ’n sarkastiese opmerking af: “Ek erken nietemin dat my model in die oë van Westerlinge ’n swakheid vertoon, naamlik dat dit aanvaar Wladimir Poetin is intelligent” (69).
Oekraïne
In hoofstuk 2, “Die Oekraïense raaisel”, gaan Todd vervolgens daartoe oor om dié land en sy weerstand tot dusver teen Rusland te ontleed ten einde die vraag te beantwoord “hoe ’n samelewing wat almal kon sien besig is om te ontbind, die Russiese militêre offensief so goed kon weerstaan” (70).
In die eerste plek skryf Todd sowel die VSA as Rusland se verbasing oor Oekraïne se weerstand toe aan die feit dat albei moondhede Oekraïne aan die begin van die oorlog beskou het as ’n gefaalde staat, of minstens ’n gefaalde staat in wording – wat dit inderdaad ook was:
Nog meer as Rusland het Oekraïne se uittrede uit die Sowjet-stelsel op mislukking uitgeloop. Tussen 1991 en 2021 het sy bevolking afgeneem vanaf 52 miljoen na 41 miljoen, oftewel ’n afname van meer as 20%. Dit was in die eerste plek weens ’n daling in die geboortekoers wat nog laer as dié van Rusland is – terwyl die Russiese geboortekoers tussen 2015 en 2020 1,8 was, was dit in Oekraïne 1,4; en terwyl dit teen 2020 in Rusland 1,5 was, was dit in Oekraïne 1,2, bowenal weens emigrasie. Die vlug van ’n gedeelte van die bevolking na Rusland of na Europa dui daarop dat die stelsel nie daarin kon slaag om op die lange duur te stabiliseer nie. (71)
Om die Oekraïense staatsfaling in konteks te plaas, verwys Todd na ’n minder bekende aanduider as die welbekendes van Oekraïense korrupsie en oligarge, naamlik surrogaatmoederskap met winsbejag. Ofskoon dit so is dat dié praktyk teen 2016 gewettig was in die meeste Amerikaanse deelstate, Australië, die VK, Rusland en Oekraïne, is dit verbode in die meeste lidlande van die EU:
Die feit bly egter dat Oekraïne op die vooraand van die oorlog ’n goudmyn van surrogaatmoederskap geword het. Dit had ’n wêreldmarkaandeel van 25% danksy uiters mededingende tariewe. Dié ekonomiese spesialisasie getuig van die land se integrasie in globalisering en die Weste omdat dit daaroor gegaan het (en steeds so is, soos ons sal sien) om Oekraïense liggame te verhuur om Westerse kinders voort te bring. Terwyl die behoefte aan surrogaatmoederskap uit die Weste kom, skyn die Oekraïense beskikbaarheid hiervoor [...] ’n nalatenskap van ’n bepaalde Sowjet-onverskilligheid jeens die fisieke persoon te wees. Hier kan ons dink aan hoe aborsie dwarsdeur die Sowjet-unie gebruik is as ’n standaardtegniek van geboortebeperking [...]. Wanneer dit kom by surrogaatmoederskap gekoppel aan ’n finansiële transaksie, moet ek erken dat ek op grond van die algemene moraliteit daarteen gekant is en beskou ek hierdie ekonomiese spesialisasie as ’n teken van maatskaplike ontbinding. In Oekraïne is dit ’n sintese van die neoliberalisme en die Sowjetisme. (72)
Russiese en Russiessprekende Oekraïners
Ten einde teen die agtergrond van sodanige maatskaplike verval die raaisel van Oekraïne se weerstand te ontsyfer, moet ’n tweede raaisel eers ontsyfer word, naamlik “die verdwyning van die Russiessprekende Oekraïne as selfstandige politieke krag in die Oekraïense stelsel ná die Maidan-rewolusie van 2014 (volgens die Russe die Maidan-staatsgreep)” (73).
Om dit te doen wys Todd uit dat Oekraïne nie slegs ’n falende staat was nie, maar ook ’n pluralistiese staat met ’n ingewikkelde, problematiese etno-linguistiese samestelling. ’n Deel van die rede vir die Oekraïense weerstand is inderdaad die verdwyning van die Russiessprekende komponent ná 2014, wat op sy beurt óók verrassend is omdat Russies tot met die uitbreek van die oorlog landswyd die taal van hoë kultuur was, op peil met byvoorbeeld Duits, Frans of Engels, terwyl “Oekraïens miskien meer vergelykbaar is met ’n taal soos Vlaams danksy die betreklike literêre en wetenskaplike erfenis waarvan dit die voertuig is” (74).
Wat die antropologiese struktuur van Oekraïne en die verskille daarvan met dié van Rusland betref, volg Todd antropologiese navorsing wat uitwys dat die Oekraïense gesin meer individualisties is en die status van vroue hoër as dié van die Russiese gesin, “wat dui op ’n Oekraïense kultuur wat gunstiger is vir die liberale demokrasie en meer geskik vir debat as die Russiese kultuur” (75).
Oekraïense nasiestaat?
Dit bring Todd by die vraag in watter mate Oekraïne, wat met die val van die Sowjet-unie in 1991 per referendum vir onafhanklikheid gestem het, nie slegs ’n staat nie, maar wel ook ’n nasiestaat was.
Om mee te begin wys hy uit dat een van die sentrale boublokke van ’n nasiestaat, naamlik ’n groot genoeg middelklas, teen 1991 ontbreek het.
Voorts, gegewe die Oekraïense antropologiese bevatlikheid daarvoor, vra hy waarom Oekraïne nie vanaf 1991 tot ’n liberale demokrasie ontwikkel het nie. Hierdie vraag beantwoord hy met ’n retoriese vraag:
Hoe kon Oekraïne met ’n swak, onvolwasse middelklas, en waarvan die mees gevorderde deel Russiessprekend was, redelikerwys sigself in die afwesigheid van ’n staatstradisie tussen 1991 en 2014 in ’n “Oekraïense” liberale demokrasie verander? In so ’n konteks kon die individualistiese temperament wat met die kerngesin saamhang, skaars anders as om anargie voort te bring. En dit is dan ook wat gebeur het. (86)
Terwyl die chaos waarin sowel Rusland as Oekraïne met die val van die Sowjet-unie gedompel is danksy die Russiese antropologiese struktuur met die herstel van ’n outoritêre staat geneutraliseer kon word, was dit nie die geval in Oekraïne nie – hier verwys Todd na die skrywer, Anders Åslund, wat hom vir die uitbreiding van die Westerse invloed na Oekraïne beywer, maar wat nietemin tot die slotsom kom dat in geen ander voormalige land van die Sowjet-unie die oligarge soveel maatskaplike en politieke invloed as in Oekraïne verwerf het nie.
Tegelykertyd het Oekraïne ’n pluralistiese samelewing gebly, wat Todd toeskryf aan, enersyds, die individualisme van die Oekraïense kerngesin en, andersyds, die onbeheerde aktiwiteite van die Oekraïense oligarge. Voorts het dit ook voortgespruit uit die etno-linguistiese dualiteit van die land – “’n Oekraïenssprekende Oekraïne en ’n meer Russiessprekende Oekraïne wat daartoe verbind was om op een of ander manier tot Rusland verbind te bly” (87).
Die bestaan van dié “twee” Oekraïenes blyk byvoorbeeld duidelik uit ’n kaart van die verkiesingsuitslag van 2010 – Wes- en Sentraal-Oekraïne het oorweldigend vir die nasionalistiese, Westersgesinde presidentskandidaat, Petro Porosjenko, gestem, terwyl Suid- en Oos-Oekraïne oorweldigend vir die Russiesgesinde kandidaat, Viktor Janoekowitsj, gestem het.
Aan die hand hiervan kom Todd tot sy slotsom oor die grondige verdelings wat op die vooraand van die Russiese inval van Februarie 2022 in Oekraïne geheers het:
Die middelklas was yl gesaai in die weste van die land, wat meer landelik gebly het. Die weste is die mees nasionalistiese streek van die land, waarvan die bevolking eers vanaf 1945 by die Sowjet-unie ingelyf is, en wat dikwels tot die Uniate behoort [oftewel daardie Ortodokse Christene wat aan die einde van die 16de eeu weer by die Katolieke kerk aangesluit het, maar steeds volgens die Bisantynse liturgiese gebruike aanbid – JR]. Dié deel van die land was in beginsel die vatbaarste daarvoor om die projek van ’n Oekraïense nasiestaat te lei, maar sy middelklas was daarvoor te beperk.
In die meer verstedelikte, oostelike deel van die land was die middelklas groter, maar dit is voor die hand liggend dat hulle te Russofilies was om met oorgawe te dink en te handel ten gunste van ’n Oekraïense nasiestaat. In die ooste van die land was die uiteindelike waarheid nietemin meer onverwags en eenvoudiger, naamlik dat die oostelike middelklas na Rusland geëmigreer het. (90)
Dit bring Todd by die vraag waarom die Russiestalige of Russofiliese deel van Oekraïne as politieke krag in die land verdwyn het na Maidan, 2014.
Volgens Todd het die Russiese regering self nie hierdie ooswaartse migrasie uit Oos-Oekraïne sien kom nie, veral omdat die leidende Oekraïense nywerheidsektore teen 1991 in die ooste van Oekraïne geleë en interafhanklik met Rusland was. Die Russiese raaiskoot was dat Oos-Oekraïners in hierdie bedrywe sou bly werk en net daar woon, wat dan ook aan Rusland ’n vastrapplek in Oekraïne sou gee – soos dit tradisioneel die geval was. Feit is egter dat die opkomende post-Sowjet-Oekraïense nasionalisme in die weste en noorde van die land met sy vyandigheid jeens die Russiese taal daartoe bygedra het dat jong Russiessprekende Oekraïners na Rusland is om in die meer prestigeryke Russiese taal pleks van Oekraïens te studeer, en die Russiese middelklas uit Oos-Oekraïne ooswaarts na Rusland laat padgee het. Laastens het hierdie migrasie saamgeval met ’n ander belangrike een wat die ontluikende Oekraïense middelklas ’n verdere gevoelige knou toegedien het, naamlik die emigrasie van Oekraïne se Jode – vanaf 777 000 in 1970 het dié getal afgeneem na slegs 71 000 in 2010.
Maidan, 2014
Dit bring Todd by Maidan, 2014. Terwyl die Westersgesinde Porosjenko tot president verkies word met die steun van Wes- en Sentraal-Oekraïne, was die ander faktor wat tot Porosjenko se oorwinning gelei het, die oorweldigende wegblystem van die Russiessprekende streke van die land, wat so omvangryk was dat Todd tot die slotsom kom dat die 2014-verkiesing die einde van ’n volwaardige demokratiese stelsel in Oekraïne aandui. Dit bring ons by die Oekraïne wat in 2022 bestaan het:
Dit bestaan uit twee pole. Eerstens is daar die nasionalistiese pool wat uiters aktief is rondom die groot Westerse stad, Lviv, in die streek Galicië, wat geen besondere kulturele band met Rusland het nie, en waarvan die ganse geskiedenis vanaf die dae van die Oostenrykse ryk op die Germaanse sfeer gerig is [...]. Tweedens is daar die pool oorheers deur Kiëf, die hoofstad met sy 2,9 miljoen inwoners [...] wat ’n leidende rol in die kwalik verstedelikte Sentraal-Oekraïne speel. (100)
En dit bring Todd op sy beurt tot die volgende gevolgtrekking oor Oekraïne sedert Maidan:
Dit is ooglopend dat Wes- en Sentraal-Oekraïne sedert 2014 saamspan teen die Russofiliese deel van die land. Dit is duidelik op ’n kaart wat wys uit watter dele van die land die huidige Oekraïense elite kom [...] insluitend lede van die regering, die leierskap van die weermag en die polisie, die 10 rykste oligarge en ’n paar mediapersoonlikhede. (100)
So beskryf Todd dan die huidige Oekraïense elite en die land:
Wes-Oekraïne, oftewel die ultranasionalistiese Oekraïne, is oorverteenwoordig onder die politieke elite; Sentraal-Oekraïne, oftewel die anargistiese Oekraïne, is oorverteenwoordig in die veiligheidsmagte. Wat Oos- en Suid-Oekraïne betref, word hulle grootliks verteenwoordig deur oligarge, wat grotendeels sedert die aanvang van die oorlog gemarginaliseer of onderwerp is.
Die gang van sake was gunstig vir die opkoms van ’n gesentraliseerde struktuur wat nie ’n staat in die streng sin van die woord is nie, maar ’n polisie- en militêre organisasie deur Washington gefinansier [...]. (104)
Dit is spesifiek hierdie nuwe nasionalistiese, staatlike formasie wat sedert 2014 tot stand kom, en wat die verwoede Oekraïense weerstand teen Rusland in die huidige oorlog verklaar.
Todd wys ook uit dat omdat Poetin en sy regime nie rekening gehou het met die migrasie van die oos-Oekraïense Russofiele na Rusland nie, hy die Oekraïense weerstand totaal onderskat het.
Wat van die veelbesproke “neo-Nazi’s” waarvan die Poetin-regime aanvoer hulle Oekraïne wil bevry? Todd wys uit dat dié ideologie beslis in die ultranasionalistiese weste van Oekraïne ’n sekere aanhang geniet, maar die eintlike kwessie is ’n wydverspreide Oekraïense Russofobie wat voor die inval van Februarie 2022 bestaan het.
Oekraïense Russofobie
Todd begin sy toeligting van dié verskynsel met verwysing na die drie Russiese eise wat in Desember 2021 ten opsigte van Oekraïne gestel is, naamlik die behoud van die Krim, ’n aanvaarbare situasie vir die Russiese bevolking van die Donbass en dat Oekraïne ’n neutrale staat sou word. Volgens Todd sou ’n Oekraïne wat seker van sy plek in Wes-Europa was, hieraan toegegee het. Die feit dat Oekraïne egter aangehou het om die Russe van die Donbass te onderdruk en so die uiteindelike oorlog met Rusland aan te blaas, moet volgens Todd verstaan word as ’n soort onbewuste Oekraïense drang om tog nog verweef te bly met die oeroue Russiese wêreld, waarvan die ontstaan in die oë van die Poetin-regime teruggespeur moet word na die Ortodokse bekering van Kiëf in 998.
Dit is al hoe Todd dit wat hy beskryf as die kollektiewe selfmoordneiging van opeenvolgende Oekraïense regerings sedert 2014, kan verklaar. Die eerste hiervan was die keuse vir ekonomiese bande met die EU pleks van met die tradisionele ekonomiese vennoot, Rusland, wat die Oekraïense nywerheidsektor laat krimp en die land na sy voormalige 19de-eeuse spesialiteit, naamlik landbou, laat terugkeer. Nog ’n teken van die selfmoordneiging is om te draai teen die Russiese taal ten gunste van die minder ontwikkelde Oekraïens.
........
[Todd] wys daarop dat die weste en sentrum van Oekraïne totaal oorverteenwoordig is in die elite, terwyl sy bronne nie meer uit belasting kom nie, maar van buite die land; dit wil sê, vanuit die Weste. Daarom besluit Todd dat dit gewoon absurd is om aan te voer dat ’n opkomende Oekraïense liberale demokrasie tans deur die liberaal-demokratiese Weste in beskerming geneem word.
........
Dit bring Todd in sy bespreking van Oekraïne laastens by die vraag watter Oekraïne dan tans teen Rusland veg. Met ten minste 12 verbode politieke partye kan dit nie ’n liberale demokrasie wees nie. Hy wys ook daarop dat die weste en sentrum van Oekraïne totaal oorverteenwoordig is in die elite, terwyl sy bronne nie meer uit belasting kom nie, maar van buite die land; dit wil sê, vanuit die Weste. Daarom besluit Todd dat dit gewoon absurd is om aan te voer dat ’n opkomende Oekraïense liberale demokrasie tans deur die liberaal-demokratiese Weste in beskerming geneem word.
Oos-Europese Russofobie
Vervolgens, in hoofstuk 3, fokus hy op wat hy beskryf as ’n Oos-Europese postmoderne Russofobie.
Om mee te begin wys Todd uit dat met die uitsondering van die voormalige Tsjeggo-Slowakye al die Oos-Europese lande op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog gestaan het onder die regering van “indien nie diktature nie, minstens dan van outoritêre regerings in ’n streek wat vrot van die anti-Semitisme was” (117).
Dat juis hierdie lande ná die val van die Sowjet-unie liberaal en pro-NAVO begin neig het, was dus verrassend, en moet verduidelik word. Wat eweneens verduidelik moet word, is waarom die voormalige Oos-Duitsland en die huidige Hongarye, wat albei op hulle dag op groot skaal teen die Sowjet-unie in opstand gekom het, vandag die minste Russofobie in Oos-Europa vertoon.
Pole se Russofobie is verklaarbaar aan die hand van historiese Russiese vyandigheid. Dié van die Baltiese republieke kan toegeskryf word aan die vrees vir hul Russiese minderhede en dié se bande met Rusland – hoewel al drie dié republieke proporsioneel oorverteenwoordig was in die Sowjet-unie.
Uiteenlopende ontwikkelingsgang
Om hierdie raaisels te ontsyfer begin Todd deur uit te wys dat Wes- en Oos-Europa se ontwikkelingsgang en aard sedert die laat Middeleeue nog altyd baie uiteenlopend was:
Die ekonomiese (en algemene historiese) voorsprong van Wes-Europa begin opbou vanaf die 12de en 13de eeue [...]. Dit oefen ’n grondige invloed uit op die ontwikkeling van Oos-Europa, naamlik om daarvan ’n afhanklike, oorheersde sone te maak. Laasgenoemde was minder ontwikkeld en het eenvoudige produkte uitgevoer, te wete graan en hout, wat dit geruil het vir die vervaardigde goedere van Wes-Europa. Dit haal ’n deel van sy agterstand mettertyd in [...] [m]aar die Swart Dood van 1348 en sy nagevolge [...] beklemtoon die gaping tussen die twee Europas. In die weste plaas die bevolkingsuitwissing die kleinboerklas in ’n magsposisie en verdwyn lyfeienskap uiteindelik. In die onderverstedelikte ooste, wat weens dié feit minder geraak word deur die pandemie, word die houvas van die grondbesittersklas versterk en verskyn dit wat Friedrich Engels die “tweede lyfeienskap” genoem het. (121–2)
Dus, terwyl lyfeienskap uit Wes-Europa verdwyn en ’n vrye arbeidersklas na vore begin tree, kry ons in Oos-Europa ’n grondgebonde werksmag in herediens – dít is die voorgeskiedenis van die opkoms van liberale demokrasieë in Wes-Europa en diktature in Oos-Europa.
Ofskoon daar vanaf die einde van die 14de eeu, beginnende by die vroeë Poolse ryk, wel state in Oos-Europa gevorm het, het hierdie state al die eeue lank tot met die twee wêreldoorloë betreklik broos gebly weens die gebrekkige ontwikkeling van ’n middelklas in vergelyking met Wes-Europa. Nogmaals beklemtoon Todd dat die kans dat die demokrasie spontaan deur hierdie lande aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog omarm sou word, gewoon baie klein was, en dat hulle met of sonder die Sowjet-unie eerder ’n outoritêre rigting sou inslaan.
Wat ook seker is, is dat die Sowjet-invloed op Oos-Europa ’n massiewe opvoedkundige rewolusie veroorsaak het, omdat die kommunisme volgens Todd ewe veel klem as die Protestantse kultuur op onderwys lê. En dit het op sy beurt vir die eerste keer tot die vestiging van ’n stewige middelklas in Oos-Europa gelei. Todd vind ’n ironie in die feit dat die einste Oos-Europese middelklas wat sy vorming aan die Sowjet-era te danke het, vandag in feitlik al die Oos-Europese lande Russofobies is, wat hy toegee hy nie kan verklaar nie. Nog ’n ironie is dat namate die Oos-Europese state deel van die Westerse invloedsfeer begin vorm het, hulle opnuut in dieselfde soort ekonomies ondergeskikte verhouding tot Wes-Europa as aan die einde van die Middeleeue beland het – waar dit destyds in landbouproduksie was, is dit nou nywerheidsproduksie in diens van veral die Duitse ekonomie. “Op dieselfde tydstip as wat die werkersklas van Wes-Europa deur vrye handel uitgewis is, ontwikkel in die voormalige [Oos-Europese] populêre demokrasieë ’n proletariaat waarvan die Stalinisme maar net kon droom” (130).
Hy kom dus tot die slotsom dat die integrasie van Oos- met Wes-Europa allermins is op grond van dieselfde soort liberaal-demokratiese kultuur in die ooste as in die weste van Europa.
Betreffende die vreemde Russofobie verwys hy na hoe onverklaarbaar dit is in die lig van die feit dat Rusland aan die einde van die Sowjet-unie vreedsaam uit hierdie lande onttrek het, en verwys hy na ’n gesprek wat hy met die eertydse Franse premier en later minister van buitelandse sake, Dominique de Villepin, gevoer het, en waarin dié hom vertel hoe dankbaar Poetin rondom 2003 of 2004 in ’n gesprek met die Duitse kanselier, Gerhard Schröder, en die Franse president, Jacques Chirac, was dat die bestuur van Pole voortaan eerder laasgenoemde se probleem as dié van Rusland sou wees. En dit laat Todd bespiegel oor die moontlike rede vir Oos-Europa se huidige Russofobie, naamlik dat dit dalk voortspruit uit die feit dat hierdie voormalige populêre demokrasieë “’n onderdrukte, onbewuste, onaanvaarbare, onuitstaanbare skuld jeens die voormalige [Russiese] besetter het” (132).
Hongarye
Die een ooglopende uitsondering op Oos-Europa se huidige Russofobie is Hongarye. Todd skryf dit toe aan die rol wat die Calvinistiese minderheid (20% van die bevolking) sedert die 17de eeu in die land se geskiedenis speel. Weens die Calvinisme se historiese identifikasie met Israel, is Hongarye die Oos-Europese land wat tradisioneel die mins anti-Semities is. Todd voer ook aan dat die lewenskragtigheid van die Hongaarse Calviniste, waarvan president Viktor Orban een is, aan Hongarye die hoogste nasionale selfvertroue van al die Oos-Europese state gee, wat op sy beurt verklaar waarom die land nie Russofobies is nie. En dit ondanks die brutale Sowjet-onderdrukking van die Hongaarse opstand van 1956.
........
Weens die Calvinisme se historiese identifikasie met Israel, is Hongarye die Oos-Europese land wat tradisioneel die mins anti-Semities is. Todd voer ook aan dat die lewenskragtigheid van die Hongaarse Calviniste, waarvan president Viktor Orban een is, aan Hongarye die hoogste nasionale selfvertroue van al die Oos-Europese state gee, wat op sy beurt verklaar waarom die land nie Russofobies is nie.
........
Hongarye se houding jeens Oekraïne word ook beïnvloed deur die feit dat Oekraïne se nasionale taalbeleid nie juis verdraagsaam is teenoor die Hongaarse minderheid in Wes-Oekraïne nie, welke minderheid ook nie besonder geesdriftig is om diens te gaan doen aan die huidige Oekraïense oosfront waar die oogmerk is om die Russiese streke in die ooste weer onder Oekraïense beheer te plaas nie. Voorts skryf Todd Hongarye se nasionale selfvertroue jeens Rusland ook toe aan die feit dat slegs hulle onder al die voormalige Oos-Europese Sowjet-satellietstate kan sê dat hulle (in 1956) die wapen teen die Sowjet-unie opgeneem het, waarna hulle betreklike selfbeskikking deur die Sowjet-unie toegelaat is, en waarna die land self in 1989 besluit het om sy grens met Rusland oop te maak.
Hierdie besinning oor Oos-Europa sluit Todd met die volgende gevolgtrekking af:
Wat Oos-Europa betref, is dit deurspek van ’n flagrante onegtheid. Dit word as van nature liberaal en demokraties voorgehou, terwyl Pole en Hongarye soms verwyt word dat hulle aan konserwatiewe reflekse toegee. Die werklikheid is egter dat hierdie lande ondanks hulle diversiteit oorheers word deur middelklasse wat deur die kommunisme geskep is en wat, sodra hulle van laasgenoemde bevry is, hul proletariate in diens van die Westerse kapitalisme gestel het. (136–7)
Wie is die Weste?
Hoofstuk 4 dra die titel van die vraag wat Todd in dié hoofstuk wil beantwoord, naamlik “Wie is die Weste?”.
Todd begin die hoofstuk deur sy leser te herinner daaraan dat in die lig van Rusland se krimpende bevolkingsaanwas, die agteruitgaande betreklik klein Oekraïne en die historiese uitgelewerdheid van Oos-Europa en die Baltiese lande aan die Weste se nukke en grille, moet die oorsake van die huidige wêreldonstabiliteit elders gesoek word – in die Weste, waarvolgens sy demografiese, ekonomiese, tegnologiese en ideologiese gewig danksy sy opmars tussen 1700 en 2000 Todd lei na die hipotese dat die “krisis van die Weste die krisis van die wêreld is” (139).
Om dit te verduidelik, skryf Todd, plaas hy die religie sentraal in sy ontleding, en wel in navolging van Max Weber se beroemde tese oor die opkoms van die Weste, die kapitalisme en die Protestantse werksetiek.
Wat die omskrywing van die Weste betref, verkies Todd om te werk met die wyer opvatting van die Weste wat deur sy ekonomiese en onderwysopkoms bepaal word, wat insluit Engeland, die VSA, Frankryk, Italië, Duitsland en Japan. “Dis die huidige Weste van politici en joernaliste, dié van ’n NAVO uitgebrei na die Japannese protektoraat” (140). Todd voeg by:
Ek werk hier [...] met die wye omskrywing van die Weste, gewoon omdat dit saamval met die stelsel van Amerikaanse mag, dog gedagtig aan die gelyktydige bestaan van ’n liberale Weste en ’n outoritêre Weste. Laasgenoemde sou Rusland kon insluit as die vordering wat dit tussen 1990 en 2006 gemaak het aanvaar was. (142)
Wanneer dit gaan om die opkoms van die Weste gesien vanuit ’n Weberiaanse perspektief lê Todd klem op geletterdheid:
[D]ie Protestantisme maak die bevolkings onder sy beheer in beginsel geletterd omdat al die gelowiges regstreeks toegang tot die Heilige Skrif moet verkry. Dog, ’n geletterde bevolking is in staat tot tegnologiese en ekonomiese ontwikkeling. Die Protestantse religie het per ongeluk ’n buitengewoon doeltreffende arbeidsmag gevorm. So beskou, staan Duitsland in die kern van die Westerse ontwikkeling, selfs al het die Nywerheidsomwenteling in Groot-Brittanje plaasgevind, en selfs al was die skouspelagtigste uiteindelike opkoms dié van die VSA. As ons Skandinawië byvoeg, wat vroeg Protestants en geletterd was, laat dit ons met die kaart van die mees gevorderde wêrelddele op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog [...]. Frankryk is op sy beurt die Katolieke land wat danksy sy nabygeleënheid daaraan daarin geslaag het om sigself in die mees ontwikkelde en wesenlik Protestantse sfeer van die Weste te handhaaf.
........
Op die vlak van maatskaplike opvattings het die ganse Protestantse sfeer in een of ander mate die idee, oorgeërf uit die uitverkiesingsleer, gedeel dat daar uitverkorenes en gedoemdes is, en dat alle mense dus nie gelyk is nie.
........
Op die vlak van maatskaplike opvattings het die ganse Protestantse sfeer in een of ander mate die idee, oorgeërf uit die uitverkiesingsleer, gedeel dat daar uitverkorenes en gedoemdes is, en dat alle mense dus nie gelyk is nie. Dit gaan hier om ’n onverbloemde nie-egalitarisme in Duitsland, versag in Nederland, Engeland en die VSA, maar wat nietemin in al hierdie gevalle staan in teenstelling tot die Katolieke (en Ortodokse) opvatting van ’n grondliggende gelykheid tussen mense wat deur die doop van hulle erfsonde gereinig word. Gevolglik is daar niks vreemds omtrent die feit dat die twee kragtigste of stabielste vorme van rassisme in Protestantse lande verskyn het nie. Die Nazisme het wortelgeskiet in die Lutherse streke van Duitsland – die kaart van die Nazi-stem in 1932 is dié van die Protestantisme. Wat betref die fiksasie van die Amerikaners op swart mense, het dit ook heelwat met die Protestantisme te doen. Laat ons ten slotte ook verwys na die eugenetiek en gedwonge sterilisasies, met name in Nazi-Duitsland, in Swede tussen 1935 en 1976 en in die VSA tussen 1907 en 1981 – die logiese gevolg van ’n Protestantse basis wat nie al die fundamentele regte van alle mense erken nie. (142–3)
Die Protestantisme is dus ewe belangrik vir die opkoms van die Weste as vir sy donkerder kant. Todd lig ook ’n belangrike antropologiese kant van die Westerse Protestantisme uit:
Die oorspronklike Protestantisme had ’n outoritêre temperament. Luther was ’n voorstander van die absolute onderwerping van die individu aan die staat, maar die feit dat ’n outoritêre vorm van die Protestantisme in Duitsland getriomfeer het, moet veral verduidelik word aan die hand van ’n antropologiese vatbaarheid (prédisposition). In hierdie opsig steek die inheemse Duitse gesin geensins by die kommunitêre Russiese gesin af nie. Slegs een van die seuns was geroepe om by die pa te bly (en nie al die seuns soos in Rusland nie), ’n meganisme wat ’n stabieler maatskaplike orde geskep het. Geen gelykheid van die broers het dit ondermyn nie, geen onderlinge samespanning van die broers teen die vader het dit bedreig nie, geen radikale rewolusionêre aspirasie (teen die tsaar of teen God) kon dit verslaan nie. (144)
Die feit dat die liberale demokrasie aanvanklik in Engeland posgevat het, is uit ’n antropologiese hoek gesien ook geen verrassing nie:
Engeland se absolute kerngesin het nooit meer as ’n egpaar en hul kinders onder een dak laat saamwoon nie, welke kinders die ouerhuis vanaf hul tienerjare verlaat het en gestuur is as huishulpe na ander gesinne (ongeag die vlak van rykdom). So ’n stelsel berei individue voor op vryheid en fluister selfs ’n liberale onderbewuste by hulle in. Die Engelse koloniste het dit na die VSA uitgevoer. In Frankryk, minstens in die Paryse kom, was die kerngesin egalitêr omdat broers en susters gelyke erfgename was, terwyl hierdie gelykheidsreël nie in die Angel-Saksiese wêreld bestaan het nie. Die antropologie van gesinstrukture stel ons in staat om te verstaan waarom en hoe Engeland, die VSA en Frankryk meegeding het in die geboortegewing van die liberale demokrasie. Die basis van die kerngesin kon in hierdie lande ’n instinktiewe liberalisme voed. (144–5)
Teen hierdie agtergrond sluit Todd dié hoofstuk af met ’n stelling wat hy vervolgens verder sal uitwerk:
Die Weste maak tans daarop aanspraak dat dit die liberale demokrasie teenoor die Russiese outokrasie verteenwoordig. Dog, in sy Anglo-Amerikaans-Franse kern, wat inderdaad die liberale demokrasie uitgevind het, is dié vandag besig om in duie te stort. (145)
Westerse demokratiese afgang
Trouens, die aanname dat die VSA, Groot-Brittanje en Frankryk liberale demokrasieë is, staan volgens Todd volkome haaks op die diskoers wat hierdie drie lande die afgelope 20 tot 30 jaar oor hulself intern voer. Hier verwys Todd na ’n hele reeks boeke wat sedert 1995 in hierdie lande verskyn en waarin die afgang en krisis van die demokrasie in hierdie lande ontleed word. Om hierdie vandag wyd aanvaarde demokratiese krisis in oënskou te neem, begin Todd deur sy leser te herinner aan die basiese kenmerke van ’n liberale demokrasie:
As raamwerk het dit ’n nasiestaat waarin die burgers mekaar min of meer verstaan, heel dikwels maar nie altyd nie danksy ’n gemeenskaplike taal. Gereelde verkiesings, waarin alle volwasse burgers stemreg het, word gehou. Pluralisme, vryheid van uitdrukking en die pers word gewaarborg. Laastens en as fundamentele kenmerk geld die meerderheid se voorkeur, terwyl die beskerming van minderhede verseker word.
Eksplisiete wetgewing is nietemin nie voldoende om van ’n land ’n liberale demokrasie te maak nie. Hierdie wette moet geaktiveer, beliggaam en uitgeleef word danksy demokratiese sedes. Die verteenwoordigers verkies op die basis van algemene stemreg moet hulself absoluut beskou as die verteenwoordigers van die mense wat hulle verkies het. Wat die sameloop tussen wette en sedes betref, is dit in die 20ste eeu bemoontlik deur massageletterdheid.
As ek die vermoë om te lees en te skryf as die basis van demokrasie beskou, is dit nie bloot omdat geletterdheid ’n mens in staat stel om die koerante te lees en jou stembrief te kies nie, maar omdat dit as’t ware ’n metafisiese gevoel van gelykheid onder die burgers voed. Om te lees en te skryf, wat eens die uitsluitlike voorreg van die priester was, is nou almal beskore. Dog, hierdie gevoel van basiese demokratiese gelykheid is skynbaar aan die begin van die derde millennium uitgeput. Die ontwikkeling van naskoolse onderwys het daarop uitgeloop om aan 30% tot 40% van ’n generasie die gevoel te gee dat hulle werklik meerderwaardig is [...]. (148)
Voor die oorlog in Oekraïne was Westerse waarnemers dit eens dat die Westerse demokrasieë ewe bedreig deur elitisme as deur populisme is, waarvolgens die elites die mense se afwyking na ’n xenofobiese regtervleuel afwys en die mense die elites daarvan verdink dat hulle versink in ’n “waansinnige” globalisme. As die mense en die elites nie meer saamstem daaroor om sáám te funksioneer nie, het die begrip van verteenwoordigende demokrasie nie meer betekenis nie. Ons stuit voor ’n elite wat nie langer die mense wil verteenwoordig nie, en mense wat nie meer verteenwoordig word nie [...] Samesweringsteorieë is aan die versprei, en dit is ’n spesifieke patologie van ’n maatskaplike stelsel wat deur die paar elitisme/populisme gestruktureer word, deur maatskaplike wantroue. (149)
Wat ook die afgelope dekades in die Westerse demokrasieë gebeur, is dat die middelklas onder al hoe groter druk kom en maatskaplike ongelykheid al hoe groter word.
Teen hierdie agtergrond kom Todd tot die slotsom dat die Oekraïense oorlog nie Westerse liberale demokrasieë in botsing met die Russiese outoritêre demokrasie bring nie, maar eerder laasgenoemde met Westerse liberale oligargieë:
In die geval van die Weste verhoed die wanfunksionering van meerderheidsverteenwoordiging dat ons nog die term demokrasie behou. Daarenteen verhoed niks ons om die term liberaal te behou nie, aangesien die beskerming van minderhede die obsessie van die Weste geword het. Hier dink ’n mens meesal aan die onderdruktes soos swart mense of homoseksuele, maar die bes beskermde minderheid van die Weste is gewis die rykes, of hulle nou 1%, 0,1% of 0,01% van die bevolking verteenwoordig. In Rusland word nóg die homoseksuele nóg die oligarge beskerm. Ons liberale demokrasieë word dus liberale oligargieë.
Dít verleen ’n ander ideologiese betekenis aan die oorlog. Voorgehou deur die heersende denke as die stryd van die liberale Westerse demokrasieë teen die Russiese outokrasie, word dit die botsing tussen die liberale oligarge van die Weste en die Russiese outoritêre demokrasie. (151)
Vir Todd gaan dit nie soseer om die afwysing van die liberale oligargieë nie as om insig in hul “oorlogsoogmerke, hul kragte en hul swakpunte” (151).
Liberale oligargieë
Eerstens het ons te make met ’n andersoortige ideologiese botsing as wat die hoofstroom Westerse media voorhou en daarom is dit “sosiologies normaal” dat die partye wat die werkersklas of die gedomineerde kleinburgery verteenwoordig (in Frankryk die Nasionale Samekoms [die verregse Rassemblement National, gelei deur Marine Le Pen – JR] of Ongeboë Frankryk [die verlinkse La France Insoumise, gelei deur Jean-Luc Melenchon – JR], in Duitsland die AfD [die verregse Alternative für Deutschland, gelei deur Tino Chrupalla en Alice Weidel – JR] in die VSA Donald Trump) van simpatie met Poetin verdink word. Die heersende elites vrees dat die ondergeskikte lae van die samelewing oorhel na Rusland, waarvan die outoritêre demokratiese waardes herinner aan ’n kenmerk van die Westerse populisme. (152)
Tweedens begryp ons waarom dit liberale oligargieë is wat gekies het vir sanksies teen Rusland as oorlogsmiddel, terwyl dit die ondergeskikte lae van die Westerse samelewings is wat die ergste deurloop onder inflasie en stygende lewenskoste.
Derdens lei die “chaotiese funksionering” van die liberale oligargieë tot die skepping van onbevoegde elites in die diplomasie, en dus groot foute in die bestuur van die konflik met Rusland en China. Wat Todd hiervan opval, is dat terwyl die wette en instellings van die Westerse oligargieë nie verander het nie, hul demokratiese sedes daarenteen verdwyn het, soos gesien kan word in die meerderwaardige houding van die elites jeens die mense. Dit bring Todd tot die volgende treffende gevolgtrekking:
Die mense bly geletterd en stemreg bly algemeen, terwyl die nuwe onderwysstratifikasie nou daarop gesuperponeer word. Die oligargiese wanfunksionering van die liberale demokrasieë moet dus georden en beheer word. Wat beteken dit? Doodeenvoudig dat terwyl verkiesings steeds gehou word, die mense uit die bestuur van die ekonomie en die verdeling van welvaart gehou moet word; kortom, bedrieg moet word. Dit is ’n taak vir die politieke klas, dis trouens dié taak waaraan hulle nou allereers gewy is. Hieruit volg die histerisering van rasse- of etniese probleme en die effeklose praatjies oor nietemin ernstige sake – die ekologie, die status van vroue of aardverwarming. (152–3)
Omdat die Westerse politieke klasse se tyd nou in beslag geneem word deur hierdie binnelandse bedrieëry het hulle gewoon nie meer die tyd om die bestuur van internasionale verhoudinge onder die knie te kry nie en daag hulle as groentjies op die internasionale toneel op:
Nog erger, gewoond daaraan om diegene met die minste onderwys en opleiding tuis onder te sit, moeisaam dog dikwels suksesvol (dis immers hulle werk), en bygevolg glo dat dit hulle intrinsieke meerderwaardigheid bevestig, bevind hulle hul in die teenwoordigheid van ware teenstanders vir wie hulle kwalik beïndruk en wat op hulle beurt die tyd het om oor die wêreld na te dink en, moet dit gesê word, nie soveel tyd hoef te bestee aan die voorbereiding van die Russiese verkiesing of aan die interne kragte van die Chinese Kommunisteparty nie. Ons begin nou ’n blik te kry op die werklike tegniese ondergeskiktheid van ’n Joe Biden of ’n Emmanuel Macron aan ’n Wladimir Poetin of ’n Xi Jinping, en die redes daarvoor te begryp. (153)
Uit hierdie afstand tussen die elites en die mense volg wat Todd beskryf as “maatskaplike atomisering” (wat uiteraard herinner aan een van die groot temas in die werk van die groot Franse romansier, Michel Houellebecq – JR), ’n maatskaplike vakuum en ’n staat wat bygevolg al hoe belangriker word – as maatskaplike bande immers nie meer stabiliteit verseker nie, moet die staat dit al hoe meer doen.
Todd bring hierdie toedrag van sake in verband met, eerstens, die sekularisasie van die Christendom sedert die 18de eeu in die vorm van al die groot moderne ideologieë (nasie of klas, sosialisme, kommunisme, Gaullisme, sosiale demokrasie, die Christelike demokrasie, die Nazisme, ensovoorts).
Protestantisme: van zombie tot zero
Dit bring Todd by een van sy belangrikste heuristiese sleutels, naamlik drie eindfases wat hy in die afgang van die Westerse Christendom in die algemeen en die Protestantisme in die besonder onderskei, ’n derde laaste fase waarin mense dit nog glo en beoefen, gevolg deur wat hy ’n zombievorm daarvan noem “waarin die wese van die sedes en waardes van die verdwene religie nog voortbestaan (met name die aanleg vir kollektiewe handeling)” (155). In hierdie toestand neem ideologieë die voormalige plek van religie in. Maar hierna volg nog ’n fase:
Die zombietoestand is nie die einde van die reis nie. Die sedes en waardes geërf uit die religieuse verwelk of ontplof en verdwyn uiteindelik. En dan, maar slegs dan, verskyn dit wat ons nou beleef, ’n absolute religieuse leegte met individue gestroop van enige plaasvervangende kollektiewe geloof. ’n Zerotoestand van religie. Dis op hierdie tydstip dat die nasiestaat disintegreer en globalisering triomfeer in geatomiseerde samelewings waar ’n mens jou nie eens meer kan voorstel dat die staat doeltreffend kan handel nie. Ek sê “die individu gestroop van alle kollektiewe geloof” pleks van “bevry daarvan” omdat, soos ons sal sien, die individu sigself eerder gekrimp as vergroot deur die leegte bevind. (156)
Volgens Todd gaan dit hier om die onomkeerbare verlies aan dinge in die Weste wat oor eeue der eeue tot stand gebring is:
As dit die koms van die religieuse zerotoestand is wat gelei het tot die verdwyning van ’n nasionale gevoel, ’n werksetiek, die opvatting van ’n beperkende maatskaplike moraliteit, die vermoë tot opoffering vir die kollektief, al hierdie dinge waarvan die afwesigheid vandag lei tot die broosheid van die Weste in die oorlog, word dit duidelik dat hulle nie gaan terugkeer binne die volgende vyf jaar nie, oftewel die tyd wat ek die Russe gee om hulle oorlog te voltooi. (156–7)
Volgens Todd is dit redelik maklik om te bepaal in watter een van die drie religieuse fases ’n Westerse samelewing sigself bevind. In die derde laaste fase word kerkdienste nog goed bygewoon; in die zombiestaat het kerkdiensbywoning verdwyn, maar drie Christelike oorgangsrites word nog gehandhaaf, naamlik die doop vir die nuutgeborene, die kerktroue en die teraardebestelling van die gestorwene (tesame met die afwysing van verassing). In die zerotoestand verdwyn die doop en skiet verassing die hoogte in. En dit beleef die Weste alles vandag.
Wat die huwelik betref, behou die burgerlike huwelik (voor die magistraat – JR) nog vir ’n tyd lank die kenmerke van die Christelike huwelik maar “vir die antropoloog” is daar ’n duidelike datum vir die verdwyning van die Christelike huwelik, naamlik wanneer die huwelik tussen twee persone van dieselfde geslag erken word.
Todd stel nie belang om in ’n debat oor die wenslikheid of moraliteit al dan nie hiervan betrokke te raak nie, maar hy sonder dit uit as merker by uitstek van die religieuse zerotoestand wat onderskeidelik in die volgende lande in die volgende jare bereik is: Nederland (2001), België (2003), Spanje en Kanada (2005), Swede en Noorweë (2009), Denemarke (2012), Frankryk (2013), die VK (2014), Duitsland en Finland (2017), die VSA 2015.
Westerse nihilisme
........
“Ons word ’n massa van mimetiese dwerge wat nie meer durf waag om vir onsself te dink nie – dog nietemin steeds ewe in staat tot onverdraagsaamheid blyk te wees as wat die geval met eertydse gelowiges was.” – Emmanuel Todd
........
Vervolgens behandel Todd die opkoms van die nihilisme in die Weste, beginnende by ’n kritiese afwysing van ’n illusie waaraan hy self tydens die studente- en werkersopstande van 1968 gelei het, te wete dat die individu gestroop van die kollektief beter daaraan toe sal wees:
Die individu kan slegs in en deur ’n gemeenskap groot wees. Nou dat ons [in die Weste] en masse bevry is van al wat metafisiese geloof is, stigtend sowel as afgeleid in die vorm van die kommunisme, die sosialisme en die nasionalisme, ervaar ons wat die leegte beteken, en krimp ons. Ons word ’n massa van mimetiese dwerge wat nie meer durf waag om vir onsself te dink nie – dog nietemin steeds ewe in staat tot onverdraagsaamheid blyk te wees as wat die geval met eertydse gelowiges was. (159)
Dit waardeur mense as kollektief bestaan is nie slegs idees wat mense deel en wat hulle in staat staan om kollektief te handel nie, maar dit struktureer hulle ook – dit wat die psigoanalise die superego noem. Ondanks die negatiewe persepsies wat dit vandag ontlok, is dít juis wat mense in staat stel om bo hulle onmiddellike begeertes uit te styg ten einde meer en beter as hulself te word. Maar daarsonder, in die zerotoestand van religie, beland die eietydse Westerling pens en pootjies in die nihilisme.
Die bystanddood van Europa
Hiermee kom Todd by die tema van hoofstuk 5, getiteld “Die bystanddood (suicide assisté) van Europa”, wat hy soos volg inlei:
Europa bevind sigself vandag ingetrek in ’n selfvernietigende oorlog wat grondig haaks op sy belange is, terwyl sedert minstens 30 jaar gelede die promotors van Europa aan ons ’n altyd meer verdiepte unie verkoop wat danksy die euro ’n selfstandige moondheid en teenwig vir die reuse-moondhede China en die VSA sal word. Die EU het agter NAVO verdwyn en is nou meer ondergeskik aan die VSA as ooit tevore. Ek het dit reeds gesê: die Berlyn-Parys-spil vervang die Londen-Warskou-Kiëf-spil, gestuur deur Washington en versterk deur die Skandinawiese en Baltiese lande wat regstreekse satelliete van die Withuis of die Pentagon geword het. (161)
Die uitbreek van die oorlog in Oekraïne het in die eerste plek ’n totale skokreaksie ontlok onder Wes-Europeërs wat gedink het hulle woon nou in die Kantiaanse ewigdurende vredestydperk. Die Westerse sanksies wat gevolglik teen Rusland ingestel is, het meer skade aan Europese as aan die Russiese ekonomie aangerig, waarop die inflasiekoers in die EU die hoogte ingeskiet het – in teenstelling met Rusland en die VSA, waar dit nie gebeur het nie. Dit is die gewone mense wat in Wes-Europa die spit afbyt, en wat oor is van ’n Europese nywerheidsektor is onder groot druk – die handelsbalans van die eurosone het verander van ’n oorskot van 116 miljard euro in 2021 na ’n tekort van 400 miljard in 2022. Vervolgens het die Wes-Europese voorbehoude om by die oorlog betrokke te raak verdwyn, maar wat Todd waarlik verbysterend vind, is die gebrek aan ’n Duitse reaksie op die waarskynlik Noorweegse, Amerikaans-geleide vernietiging van die Nordstream-gaspypleiding.
Hierna het dit al hoe meer die geval geword dat Europa die leeue-aandeel van die ekonomiese koste van die oorlog in vergelyking met die VSA sou dra. Dit bring Todd te staan voor die raaisel waarom die ses stigterslede van die EU se voorloper (die Europese Ekonomiese Gemeenskap – JR) “in die afwesigheid van ’n militêre bedreiging hulself sou inlaat by ’n oorlog wat so haaks op hulle belange is en waarvan die amptelike oogmerk moreel bedenklik is?” (165–6).
Todd herhaal dat Rusland sedert die vroeë 19de eeu as konserwatiewe moondheid ’n ekonomiese vennootskap met Europa in die algemeen en Duitsland in die besonder nastreef, nie oor die demografie of militêre slaankrag beskik om Europa aan te val nie en in wese sy oorlogspoging fokus op die Donbass, oftewel op sy eie grens. Waarom verleen Europa dan steun aan ’n oorlog waarvan die oogmerk is om gebiede bewoon deur Russe, naamlik die Donbass en die Krim, weer onder Oekraïense beheer te plaas?
Volgens Todd kan die skuld hiervoor nie eensydig op die VSA gepak word nie, maar moet eerder stilgestaan word by die ineenstorting van die Europese projek.
Dis eweneens vir Todd verrassend watter rol die VSA vandag, verarm ná vier dekades van neoliberalisme, steeds speel om die Europeërs in te span in ’n “militêr geassisteerde selfmoord” (167). Bowendien sak die VSA al hoe verder terug gemeet aan aanduiders soos die koers van doodgebore babas en gemiddelde lewensverwagting. Todd voer aan dat twee faktore van nader beskou moet word, naamlik Duitsland se abdikasie as Europese leier en die Europese elites se opsegging van vryheid.
Duitse abdikasie
Die vorm wat die zerotoestand van religie in Duitsland aanneem, is ’n obsessie met ekonomiese doeltreffendheid, wat voor die voet immigrante inneem solank die ekonomie aan die gang bly, soos met die inname van nagenoeg 1 miljoen Siriese vlugtelinge in 2015 onder leiding van die destydse kanselier, Angela Merkel. Ofskoon die Duitse bevolkingsaanwas vandag staan op 1,5 per vrou, bly Duitsland se bevolking groei danksy die inname van immigrante en staan dit tans op rofweg 74 miljoen.
Volgens Todd handel Duitsland toenemend die afgelope 15 jaar aan die hand van die ideaal van ’n “masjiensamelewing” wat aan die gang gehou moet word, pleks van aan die hand van ’n nasionale ideaal. Te midde van dit alles het toenadering tussen Rusland en Duitsland gegroei, wat reeds deur die legendariese Amerikaanse veiligheidsraadgewer, Zbigniew Brzezinski, in die laat 1990’s uitgelig is as die grootste bedreiging vir Amerikaanse hegemonie in Europa. “So gesien, was die gedrag van Duitsland as nuwe ekonomiese grootmoondheid van die [Europese] vasteland, wat terselfdertyd sy militêre afhanklikheid van die VSA beklemtoon en sy energie-afhanklikheid van Rusland verdiep het, tipies van ’n masjiensamelewing” (174).
Ofskoon Todd aanvoer dat die nasie ook nie meer in die Duitse staat bestaan nie, wys hy uit dat dit nie beteken die Duitse mense nie meer bestaan nie. Daarom besluit Todd om die Duitse situasie, in teenstelling met dié van ’n aktiewe nasie, te beskryf as een van ’n onaktiewe (inerte) nasie “wat buite enige selfbewussyn asof deur inersie in die fisiese sin van die woord op ’n trajek voortgaan” (175).
Dit is waarom Duitsland vanaf die vroeë 2000’s terselfdertyd al hoe magtiger en al hoe meer ’n onaktiewe nasie geword het. In die geval van die Duitse antropologiese struktuur, waar die vader absolute gesag oor die seuns het, maak dit dat Duitsland steeds as’t ware op soek bly na ’n oorheersende vaderfiguur in die internasionale politiek – so nie probeer die land die vader van almal word (ek parafraseer Todd), soos gesien in sy pogings om tot met die Tweede Wêreldoorlog op grond van sy nywerheidsmag Frankryk, Rusland en Engeland te oorheers – en so ’n anti-Duitse bondgenootskap te ontlok wat een te veel vir Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog was.
Dit het Duitsland se nasionale selfvertroue natuurlik sodanig geknou dat hulle in die huidige wêreld daardie leiersrol nie weer wil opneem nie. En dit word versterk deur die feit dat daar vandag gewoon nie meer ’n nasionale bewussyn in Duitsland bestaan nie, en dus ook nie ’n riglyn waarvolgens die land kan handel nie. In ’n konserwatiewe samelewing soos dié van Duitsland lei hierdie toedrag van sake tot ’n soort passiewe angstigheid – terwyl dieselfde toedrag van sake in die post-nasionale individualistiese Anglo-Amerikaanse samelewing weer lei tot ’n koorsagtige aktivisme gemanipuleer deur bendes pleks van deur die leiers van partye gestruktureer deur beleide. Maatskaplike atomisering is oral en bepaal by die oorheersdes passiwiteit, en by die oorheersendes aktivisme. Dieselfde beginsel van inersie dryf vandag al die Westerse nasies, wat almal “inert” en van ’n siel gestroop is. (179)
Onderdanige Europese oligargieë
Dit bring Todd by die kwessie van die onderdanigheid van die Europese oligargieë. Volgens Todd het die gebrek aan eie rigting van Europa rakende die oorlog in Oekraïne die volgende uitgewys:
Europa, wat sowel oligargies as anomies is, is ingehaal en ingeval deur die ondergrondse meganismes van finansiële globalisering – wat op sy beurt nie ’n blinde, onpersoonlike krag is nie, maar ’n verskynsel wat deur die VSA gestuur en beheer word. ’n Ondersoek van die monetêre veld en van die sirkulasie van kapitaal bied aan ons ’n onverwagse sleutel om dit verstaan. (181)
In ’n oligargiese stelsel beweeg kapitaal na die bopunt van die stelsel en dan het die eienaars van kapitaal te make met die vraag wat hulle moet doen om hulle kapitaal te beskerm en vir hulle te laat werk. Hierdie probleem ontstaan teen die agtergrond van die opkoms van die dollar as die wêreld se reserwegeldeenheid en van die sogenaamde belastingparadyse die afgelope dekades. Die instelling van die euro het die dollar se status kortstondig bedreig, dog tussen Junie 2008 en Februarie 2022 het die euro 25% van sy waarde teenoor die dollar verloor, met die gevolg dat Europa se rykes hulle geld eerder in dollar wil hou, wat op sy beurt die posisie van die dollar versterk.
Todd verwys ook met instemming na Gabriel Zucman se skatting dat teen 2017 minstens 11% van die bates van ryk Europeërs in belastingparadyse gehou is, terwyl Switserland sy status as belastingparadys begin verloor – en daarmee ook die onafhanklikheid van die Europese oligargieë ten opsigte van die VSA. Dit is die eerste aspek van die verlies aan geestelike en strategiese outonomie van die Europese oligargieë.
Die tweede aspek het te make met die opkoms van digitale monitering, wat Todd bring by die rol van die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsagentskap (NVA; in Engels bekend as die NSA – JR). Hier verwys Todd na die onthullings van Edward Snowden waarvolgens die NVA vernaamlik die VSA se bondgenote teken, soos die Europeërs, die Japannese, die Suid-Koreane en Latyns-Amerika. Volgens Todd weet die VSA danksy die NVA baie goed waar die geld van die Europese rykes lê. Ongeag hoe doeltreffend hierdie monitering werk, is dit voldoende vir die Europese elites om te glo dat hulle dopgehou word, ten einde versigtig te wees hoe hulle die VSA hanteer. Hoewel die VSA in afgang is, soos Todd in ’n volgende hoofstuk sal aanvoer, en dus nie meer in staat is om die wêreld te oorheers nie, is hulle wel nog in staat om Europa en die Verre Ooste (Taiwan, Suid-Korea, Japan) te oorheers. Bygevolg bestaan NAVO nie meer om Europa te beskerm nie, maar om dit te beheer.
Groot-Brittanje
Vervolgens staan Todd in hoofstuk 6 stil by Groot-Brittanje.
Om mee te begin verwys hy na die strydlustigheid waarmee Groot-Brittanje die oorlog in Oekraïne van meet af benader het, sonder dat eersgenoemde noemenswaardige militêre slaankrag het om tot die oorlog by te dra.
Volgens Todd is daar sommige kommentators wat Brittanje se houding oor die oorlog verstaan as ’n poging om weer Europese bande te bou ná Brexit, maar Todd is skepties hieroor, en wel omdat hy, anders as voorheen, Brexit nie vertolk as die hernuwing van ’n Engelse nasionale identiteit nie, maar as die finale ineenstorting daarvan.
Hier verwys Todd eerstens na die “verkleuring” van die Britse regering ná Brexit, oftewel die feit dat al hoe meer van die belangrikste Britse kabinetsministers van immigranteafkoms is. Op die koop toe is dié ministers van die Konserwatiewe Party meer “tory” as die tradisionele “tories”, wat blyk uit hulle radikale verbintenis tot die neoliberale ekonomie.
Todd beskou die groter deelname van persone van immigranteafkoms aan die Britse regering en politiek in morele opsig as lofwaardig. Dog, daar is meer aan hierdie verskynsel – terwyl etniese minderhede van immigranteafkoms in Brittanje slegs 7,5% van die bevolking uitmaak, wys hy op baie interessante statistiek:
In 2019 was die waarskynlikheid vir ’n jong wit Engelse persoon om toegang tot hoëronderwys te kry 33%, dié vir swart Britte 49% en dié vir Britte van Asiese afkoms 55%. En onder laasgenoemde kategorie, wat veral saamgestel is uit mense van Indiese of Pakistani-afkoms, was die waarskynlikheid vir mense van Chinese afkoms 72%. (201)
Wat persone van Indiese of Chinese afkoms betref, skryf Todd dit toe aan hierdie gemeenskappe se tradisionele respek vir onderwys. Daarenteen, namate die Protestantse invloed onder tradisionele wit Engelse persone afneem, neem ook die dryfkrag tot onderwys af.
Vir Todd is twee verdere tekens van die agteruitgang van Brittanje die toename in armoede en die besluit om onwettige immigrante te deporteer na ’n land waar ’n enorme volksmoord plaasgevind het, naamlik Rwanda. Ook die wyse waarop Brittanje die VSA aan hulle laat voorskryf oor die uitlewering van Julian Assange is volgens Todd ’n teken van hoe die trotse Britse tradisie van vryheid van uitdrukking vandag verrinneweerd is. Die eens trotse Britse National Health Service is nie meer wat dit was nie, terwyl Todd ook syfers van The Guardian uit Junie 2023 aanhaal waarvolgens die algemene Britse lewensgehalte aan die afneem is.
Nog ’n faktor in die agteruitgang van Brittanje is die land se deïndustrialisering en die skuif van ekonomiese aktiwiteit na die finansiële sektor, wat as sodanig nie self iets skep of vervaardig nie. Bowendien het Brittanje vandag ’n negatiewe handelsbalans met die VSA. Ook die grootskaalse privatisering van openbare dienste het Brittanje verswak.
Britse Protestantisme en neoliberalisme
Hoewel dit volgens Todd so is dat die eerste liberale die mark geskep en die neoliberale die ekonomie vernietig het, is dit nodig om te verstaan wat agter hierdie ekonomiese toedrag van sake aan die werk is.
Om mee te begin, moet ons let op hoe dit wat doodgewone geldgierigheid voorheen beperk het, nou daarmee heen is:
Die neoliberalisme wou ’n nie-Weberiaanse kapitalisme vestig waarvan die “gees” van die Protestantse werksetiek bevry sou wees. Afgesien van sy intellektuele oorvereenvoudigdheid verraai die neoliberale rewolusie ook ’n morele tekortkoming. (211)
Niks versinnebeeld hierdie morele tekortkoming vir Todd beter nie as die berugte uitspraak van die Britse argitek van die neoliberalisme, Margaret Thatcher: “There is no such thing as society.”
Vir Todd is die religieuse leegte wat in Brittanje met die verdwyning van die Protestantisme ontstaan, die voorwaarde vir die koms van die neoliberalisme.
........
Vir Todd is die religieuse leegte wat in Brittanje met die verdwyning van die Protestantisme ontstaan, die voorwaarde vir die koms van die neoliberalisme.
........
Todd herinner ons in die eerste plek aan belangrike elemente van die Protestantisme, bo en behalwe die klem op geletterdheid, naamlik die egalitêr-demokratiese impuls voortspruitend uit die siening dat elke gelowige self ook priester is – wat weer in kontras staan met die uitverkiesingsleer, waarvolgens die uitverkorenes gelyk is, maar nie die verdoemdes nie. Voorts moet ons almal hard werk en seksuele selfbeheersing aan die dag lê. Todd wys uit dat ná die Britse Protestantse herlewing van die middel 19de eeu, daar twee onderskeibare Protestantismes in Brittanje na vore tree:
[I]n die suid-ooste van Engeland, rondom Londen, is dit oorheersend Anglikaans; in die noorde van Engeland, Wallis en Cornwall oorheers die non-konformistiese Protestantse sektes, veral die Metodiste. Ons merk ook ’n ooreenstemming tussen die geïndustrialiseerde werkersklasareas en hierdie non-konformistiese Protestantisme, wat aan ons verduidelik waarom in die Engelse geskiedenis religieuse bewussyn en klassebewussyn so nou met mekaar verweef is. (216)
Volgens Todd is dit hierdie “tweekoppige” Protestantisme wat tussen 1870 en 1930 in duie stort. Dan word die zombiefase van religie betree – ofskoon kerkdope, kerkhuwelike en kerklike teraardebestellings nog die norm is, word die Bybelse opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder toenemend verontagsaam, beginnende onder die middelklas, en tuimel die aanwaskoers.
Vervolgens, gestroop van sy Protestantse raamwerk, ontdek Groot-Brittanje die nasionalisme en neem dit op grootskaal sonder te veel wroeging deel aan die massaslagting van die Eerste Wêreldoorlog. Dit stel Brittanje ook nog in staat om tydens die Tweede Wêreldoorlog te funksioneer as “’n eensgesinde, doeltreffende, morele kollektief, in dié stadium minder nasionalisties as in 1914, maar wat nogtans ’n noodsaaklike oorlog met waardigheid en gelatenheid aanvaar” (217).
Volgens Todd begin Brittanje vanaf 1960 oorgaan vanaf die religieuse zombietoestand na die zerotoestand:
Soos ons gesien het, is hierdie verwikkeling te danke aan die ontwikkeling van hoëronderwys, aan die opvoedkundige stratifikasie wat daaruit voortspruit en uiteindelik maatskaplike atomisering. Die getal dope tuimel, dié van saamwoonverhoudings ontplof, soos ook dié van egskeidings, tweede huwelike en eenouergesinne. Verassing neem hand oor hand toe. In 1888, reg aan die begin van die zombiefase, is slegs 0,01% van oorledenes veras, in 1939 3,5%, in 1947 10,5%. In 1960, op die vooraand van die finale rewolusie, staan dit op 34,7%. In 2021 staan dit op 78,4%. (218)
Dit is teen hierdie agtergrond wat die neoliberalisme vanaf die 1980’s posvat:
Neoliberalisme het die finansiële sektor bevry en oorgegaan tot die vernietiging van die produktiewe stelsel. In sy suiwer, volmaakte mark handel mense sonder moraliteit wat doodeenvoudig gierig is [...]. [D]ie ideale mens van die Thatcheriaanse neoliberalisme is ’n zero-Protestant. (219)
In die eerste van drie Protestantse fases funksioneer die elite Engelse skole so dat hulle die aristokrasie en die middelklas tot een saamsnoer en die verskynsel van die “stiff upper lip” skep. So is die klas geskep wat die Britse ryk moes regeer. Hierdie skoolstelsel begin sy invloed vanaf 1960 in die zombiefase verloor, maar vanaf die zerofase muteer hierdie skole tot onafhanklike privaatskole wat die 6% mees bevoorregte Engelse se kinders skool – en weer eens die mentaliteit van gierigheid begunstig.
Die tweedeling van die Tories (middelklas en Anglikaans) teenoor die Arbeiders (laer middelklas, Protestantse non-konformiste) kom ook ter sprake. Soos wat die zerotoestand betree is, het die verdelings tussen die twee partye op ideologiese vlak ook vervaag – buiten vir die twee partye se geringe verskil oor woke, waarvolgens die Tories anti-woke en die Arbeiders pro-woke is, terwyl hulle almal studeer het aan universiteite waar die woke-kultuur nou regeer. Oplaas val Brexit saam met die bestendiging van die religieuse zerotoestand. Die oorwinning wat die Tories in 2019 se verkiesing in die tradisionele Arbeiderswêreld van Noord-Engeland behaal het, val saam met die heengaan van die tradisionele arbeidersidentiteit namate die religieuse basis daarvan ook verdwyn.
Pleks daarvan dat Brexit in ’n nuwe opwelling van nasionale sentiment diegene met naskoolse opleiding verenig het met diegene met slegs skoolopleiding, het die argwaan van laasgenoemde jeens eersgenoemde bloot bly toeneem.
Bowendien word Brittanje volgens Todd nie beheer deur diegene met naskoolse opleiding, maar deur die superrykes met Amerikaanse bande – dit skryf Todd toe aan die bande wat danksy die geglobaliseerde finansiële sektor tussen New York en Londen gesmee is.
Dis teen hierdie agtergrond wat Todd reken Rusland word met die toetrede van sy oligarge tot die Britse eiendomsmark en elite skole die sondebok van die Britse middelklas.
Skandinawië
Soos Todd uitwys in hoofstuk 7, “Skandinawië: van die feminisme tot strydlustigheid”, spring ook hierdie deel van die wêreld nie die invloed van die afgang van die Protestantisme vry nie.
Afgesien van die feit dat Noorweë en Denemarke lankal geswore bondgenote van die VSA is, vestig Todd die leser se aandag op die oënskynlik verrassende feit van hoe die tradisioneel neutrale Swede en Finland geskarrel het om by NAVO aan te sluit. Todd het nie veel ooghare vir die idee dat die twee lande deur Rusland bedreig word nie – maar dit wil nie sê dat die vrees vir Rusland in hierdie twee lande nie ’n werklikheid is nie. Die vraag vir Todd is wat die oorsprong van hierdie vrees is.
Ofskoon die lewenstandaard in Swede en Finland nog van die hoogste ter wêreld is met ’n BBP van, onderskeidelik, 55 873 dollar vir Swede en 50 536 dollar vir Finland in 2022, wys Todd uit dat die gemiddelde IK in die Skandinawiese lande sedert ongeveer 1995 begin daal, wat hy toeskryf aan die dalende invloed van die Protestantisme en bygevolg van die klem op geletterdheid en onderwys. Voorts manifesteer die tipiese groeiende Westerse gaping tussen die elites en die mense ook in Swede en Finland, wat dan ook hulle kwota verregse, xenofobiese populistiese partye oplewer.
........
Voorts manifesteer die tipiese groeiende Westerse gaping tussen die elites en die mense ook in Swede en Finland, wat dan ook hulle kwota verregse, xenofobiese populistiese partye oplewer. Dié toedrag van sake kan nie toegeskryf word aan die neoliberalisme nie, want die Skandinawiese lande het nie hulle welvaartstate prysgegee nie.
........
Dié toedrag van sake kan nie toegeskryf word aan die neoliberalisme nie, want die Skandinawiese lande het nie hulle welvaartstate prysgegee nie.
Todd gaan soek die verklaring eerder in iets wat al in 2018 waargeneem is in die World Values Survey – terwyl die meeste Westerse lande se inwoners aandui dat hulle nie bereid sou wees om die wapen vir hul land op te neem nie (wat Todd dink in pas is met die keuse van hierdie lande om dan eerder wapens na Oekraïne te stuur), vertoon die Skandinawiese lande die teenoorgestelde neiging, naamlik ’n toename in die aantal burgers wat die wapen vir hul land sal opneem – so het Swede byvoorbeeld reeds in 2017 militêre diensplig weer ingestel. Todd stem gedeeltelik saam met die stigter van hierdie opname, Ronald Inglehart, dat die afname in ’n gedeelde lotsverbondenheid (en dus bereidheid om die wapen vir jou land op te neem) saamhang met die feminisme en die emansipasie van vroue in hierdie lande. Dog, dit staan haaks op die feit dat die einste meer strydlustige Skandinawiese lande tegelyk ook die wêreld se mees feministiese lande is. Hoe moet dié oënskynlike teenstrydigheid verklaar word? Kan dit wees dat die feminisme in hierdie lande juis strydlustigheid pleks van feminisme aanvuur?
Op die oog af skyn dit die geval te wees, geoordeel aan die anti-Russiese aktivisme van vroulike politici in Swede en Finland – dis immers onder leiding van twee vroulike premiers (Magdalena Andersson in Swede en Sanna Marin in Finland) dat hierdie twee lande besluit het op lidmaatskap van NAVO. Kan dit iets te doen hê met die verskynsel van vroue wat tradisioneel manlike gesagsposisies verower en dan “meer manlik” as mans optree? Todd skryf:
Die aanname wat ek hier waag, is dat hierdie vroue onbewustelik ’n dosis van toksiese manlikheid geabsorbeer het. ’n Statistiese ontleding van manlike en vroulike politieke houdings teenoor die oorlog in Oekraïne sal ’n baie interessante doktorale proefskrifonderwerp wees: Victoria Nuland (Amerikaanse onderminister van buitelandse sake belas met Oekraïne), Ursula von der Leyen (president van die Europese Kommissie) en Annalena Baerbock (Duitse minister van buitelandse sake), almal hartstogtelik oor oorlog – verteenwoordig hulle meer as hulself, of nie? (237–8)
Aan die anderkant wys Todd uit dat die verregse partye in Finland en Swede oorwegend deur mans ondersteun word, en bespiegel hy dat dit alles te make mag hê met die moontlikheid dat in dié twee lande die verhouding tussen die twee geslagte nie gesond is nie.
Op ernstiger noot pas Todd weer sy hipotese oor die uitwerking van die afgang van die Protestantisme in hierdie lande toe:
Ook in Skandinawië is die nasie die dogter van die Protestantisme, en ook daar bedreig sy verdamping die nasie. Die zerotoestand wat dit daar bereik het, genereer ’n nasionale angstigheid, en dit ondanks ’n ekonomie wat glad nie sleg vaar nie. Miskien skep dit ’n behoefte aan veiligheid wat vervul word deur aansluiting by NAVO, ten einde ’n eksterne bedreiging wat nie bestaan nie op te roep [...]. Wat Swede en Finland uitgedruk het in hulle versoek om by NAVO aan te sluit [...] is nie die behoefte om teen Rusland beskerm te word nie, maar ten diepste ’n behoefte om te behoort. (238–9)
Die VSA
Uiteindelik kan Todd nou in hoofstuk 8 dit aan die orde stel waarna hy in sy hele bespreking van die Weste opbou, naamlik “Die ware aard van die VSA: oligargie en nihilisme”.
Todd begin die hoofstuk deur die moed te salueer van John Mearsheimer en sy kollega, Stephen Walt, wat hulle nie laat meesleur deur die Amerikaanse poging om ’n wêreldwye liberale hegemonie te vestig nie, maar hy spreek sy voorbehoud uit dat hulle nogtans die fout begaan om nasiestate as kompakte, stabiele eenhede te beskou. Feit is, volgens Todd, dat as jy ’n land se buitelandse beleid wil bestudeer, jy sy binnelandse ontwikkeling in diepte moet ontleed. Todd stem byvoorbeeld glad nie met Mearsheimer en Walt saam dat die VSA steeds ’n nasiestaat is nie – twee sake wat Todd in dié verband sal ontleed, is hoe diep die VSA se ekonomiese afhanklikheid van die res van die wêreld nou is, en hoe die Amerikaanse samelewing in ontbinding is, welke twee verskynsels met mekaar in wisselwerking staan:
Om beheer oor hulle eksterne bronne te verloor sal lei tot ’n tuimeling in die lewenstandaard van hul bevolking, wat reeds nie so waffers is nie. Maar dis eie aan ’n ryk om in sy ontwikkeling nie meer dit wat intern is, te kan skei van dit wat ekstern is nie. Gevolglik moet ons begin by die interne dinamika van die samelewing, of eerder by sy agteruitgang, ten einde die Amerikaanse buitelandse beleid te begryp. (241)
Volgens Todd is die eintlike probleem waarmee die wêreld vandag te kampe het nie “die baie beperkte Russiese wil tot mag nie, maar die grenslose dekadensie van sy Amerikaanse sentrum” (242).
Om mee te begin wys Todd uit dat hy lank gehuiwer het om die begrip nihilisme ook op die VSA van toepassing te maak, aangesien dié land in ’n klimaat van optimisme ontstaan het:
Dit het vir my nodig gelyk om te beskik oor ’n sentrale begrip wat die ommeswaai van die VSA vanaf die goeie na die bose te simboliseer. Ons intellektuele probleem is ten diepste dat ons hou van die VSA. Die VSA was een van die oorwinnaars oor die Nazisme; hulle het ons die weg na voorspoed en ontspannenheid gewys. Om vandag gewoon die idee te aanvaar dat hulle self die weg na armoede en maatskaplike atomisering ingeslaan het, is die begrip van die nihilisme onontbeerlik. (244)
Volgens Todd het die VSA ook nou die zerotoestand betree:
Dit stel ons in staat om sowel die Trump-verskynsel as Biden se buitelandse beleid te verstaan, sowel die interne verrotting as die eksterne grootheidswaan, die geweld wat die Amerikaanse stelsel pleeg teen sowel sy eie burgers as teen dié van ander lande. (244–5)
Todd huiwer ook nie om ’n gekwalifiseerde vergelyking te tref tussen die nihilistiese Duitsland van die 1930’s en die eietydse nihilistiese VSA nie:
Die Duitse dinamika van die 1930’s en huidige Amerikaanse dinamika het dít gemeen dat die leegte hulle dryfkrag is. In albei gevalle funksioneer die politieke lewe sonder waardes en is dit niks anders nie as ’n beweging wat neig in die rigting van geweld [...]. In die huidige VSA sien ek op die vlak van denke en idees ’n gevaarlike leegtetoestand, waarvan mag en geld die blywende obsessies is [...]. Hierdie leegte ontketen ’n neiging tot selfvernietiging, militarisme, ’n endemiese negatiwiteit; kortom, tot die nihilisme. (245)
Die laaste rede waarom Todd die begrip nihilisme met betrekking tot die VSA inspan is wat hy beskou as hulle ontkenning van die werklikheid, wat hy hieronder verder toelig.
Hy begin sy toeligting met ’n voorbeeld wat hy “toegepaste nihilisme” noem, naamlik die verandering in die Amerikaanse sterftekoers. Eerstens is die VSA die enigste van die ontwikkelde lande waar die gemiddelde lewensverwagting die afgelope jare daal – vanaf 78,8 jaar in 2014 na 77,3 jaar in 2020. Ook die Amerikaanse koers van geboortesterftes was volgens UNICEF teen 2020 op 5,4 per 1000 geboortes die hoogste van die ontwikkelde lande.
Volgens Todd is die verstommende dat hierdie verwikkelinge plaasvind terwyl Amerikaanse gesondheidsbesteding teen 2020 die hoogste van die ontwikkelde lande was, naamlik 18,8% van die BBP. Dog, van nader beskou is ’n groot deel van hierdie geld bestee op “die vernietiging van die bevolking” (248), naamlik die vervaardiging en voorskrywing van afhanklikheidsvormende pynstillers wat die regstreekse oorsaak van meer sterftes onder wit Amerikaners tussen die ouderdomme van 45 en 54 jaar is.
“Goeie” VSA en die afgang van die Protestantisme
Om die verval van die VSA in perspektief te plaas keer Todd terug na die “goeie” VSA van die Eisenhower-presidensie (1953–61). In hierdie jare, toe twee-derdes van die Amerikaanse bevolking tot die Protestantisme behoort het, was die Amerikaanse nywerheidsektor die helfte van die wêreld s’n en het die VSA die hoogste vlakke van skoling en naskoolse opleiding bereik. Die regerende elite was deurgaans van WASP-afkoms, wat nie soseer op akademiese prestasie gefokus was nie as op die bou van karakter.
Todd gee toe dat die Amerikaanse religieuse trajek op die oog af langer geneem het om die zombietoestand te bereik, byvoorbeeld danksy die opwelling van die evangelicals in die 1970’s, hoewel hy baie gou is om uit te wys hoe dit verskil van die ouer Protestantisme:
Die Calvinisme en die Lutheranisme was baie streng. Dit het van die mens verwag om ’n sekere moraliteit te respekteer, byvoorbeeld met ’n ekonomiese en maatskaplike inslag, en dit het vooruitgang voortgebring. Die religieuse herlewing van die 1970’s het nie slegs sommige van sy leiersfigure in staat gestel om baie geld te maak nie, maar veral sekere regressiewe elemente ingesluit, soos ’n letterlike lees van die Bybel, ’n algemene anti-wetenskaplike mentaliteit en bowenal ’n patologiese narsisme. God is nie meer daar om iets van die gelowige te vereis nie maar om hom te vertroetel deur aan hom sielkundige of materiële bonusse uit te deel. (254)
Nietemin hoef dit ons nie te verblind vir die afgang van die Protestantisme in die VSA nie. Dit word onder meer gedemonstreer deur die afname van die geboortekoers in pas met die res van die Weste, naamlik tot 1,8 in 1980. Nog ’n aanduider van die Protestantse afgang is die aanvaarding van homoseksualiteit (vanaf 50% van gereelde kerkgangers in 1970 na 70% in 2010, en 83% in 2010 van nie-gereelde kerkgangers), asook die wettiging van selfdegeslaghuwelike teen 2015.
Dan keer Todd weer terug na die tema van die herlewing van maatskaplike ongelykheid in ’n samelewing wanneer rofweg 25% van die bevolking naskoolse opleiding geniet. In die VSA is hierdie drumpel teen 1965 oorgesteek, maar het dit “[v]reemd genoeg feitlik onmiddellik gepaardgegaan met ’n intellektuele agteruitgang op alle vlakke” (258).
Todd bespeur hierdie agteruitgang byvoorbeeld in die geleidelike afname in tellings vir die sogenaamde Scholastic Aptitude Tests (SAT’s), soos ook ’n geleidelike afname van geletterdheid en syfervaardigheid onder die breë bevolking. En in 1961 het Amerikaanse studente gemiddeld 40 uur per week aan hulle studies bestee, terwyl dié syfer in 2003 gedaal het na 27 uur. Hy verwys ook na Amerikaanse navorsing wat aantoon dat die gemiddelde Amerikaanse IK tussen 2006 en 2018 afgeneem het.
Voorgenoemde is nogmaals vir Todd tekenend van die afgang van die Amerikaanse Protestantisme: “Dit is die groot paradoks van hierdie geskiedkundige en sosiologiese verwikkeling: In die VSA het vooruitgang in die onderwys op die lange duur gelei tot agteruitgang in die onderwys omdat dit gelei het tot die verdwyning van die waardes wat onderwys in die eerste plek begunstig het” (260).
Todd ontleed ook in die lig van die afgang van die Protestantisme ’n ander veelbesproke Amerikaanse kwessie, naamlik die voortslepende maatskaplike ongelykheid tussen wit en swart Amerikaners. Dit is inderdaad so dat wanneer die zombietoestand bereik word, die Amerikaanse burgerregtebeweging suksesvol is en statutêre diskriminasie teen swart mense beëindig word. Dog, swart Amerikaners se emansipasie vind plaas net wanneer die vordering met naskoolse opleiding maatskaplike ongelykheid in die VSA laat opvlam, en volgens Todd verklaar dit waarom swart Amerikaners vandag steeds slegter daaraan toe is as hul wit eweknieë, want teen die tyd van hulle emansipasie was hulle struktureel eenvoudig baie ver agter hulle wit eweknieë en is die gaping steeds nie oorbrug nie.
Ander tekens van die afgang van die VSA wat Todd uitlig, is die hoë tronkbevolking (in 2019 531 per miljoen mense teenoor Rusland se 300 per miljoen), die berugte massaskieterye en obesiteit (teen 2020 41,9% van die bevolking):
[Obesiteit] sê vir ons treffende dinge oor individue se gemoedstruktuur. In ’n samelewing waar ondanks die ongelykhede daar geen rede is om nie te kan eet nie, onthul obesiteit ’n gebrek aan selfdissipline, wat nog duideliker is wanneer dit rykes affekteer wat die middele het om gesonde kos te koop. Ons kan dus die obesiteitskoers [...] gebruik as aanduider (onder meer) van individue se selfbeheersing. Die Amerikaanse koers verraai ’n gebrek aan die superego op die vlak van die ganse samelewing. (265)
Terwyl die VSA ná die Tweede Wêreldoorlog onder leiding van die WASP’s van krag tot krag gegaan het, is ’n meritokrasie gevestig en is etno-religieuse beperkings op universiteitstoegang opgehef, met name vir Amerikaanse Jode; gedeeltelik in die naam van mededinging met die Sowjet-unie.
Dog, hierdie meritokratiese stelsel het die laaste jare verdwyn – terwyl die rykes steeds soos vanmelewe by spoguniversiteite soos Harvard, Princeton en Yale plekke vir hul kinders kan koop, is die SAT-stelsel afgeskaf. Todd vertolk dit as “die prysgawe van die meritokratiese beginsel wat die demokratiese fase van die Amerikaanse geskiedenis afsluit” (267):
Die bopunt van die maatskaplike piramide is gestratifiseerd en ongelyk, en dit is nie langer moontlik om, enersyds, die prokureurs, dokters en akademici wat tussen 400 000 en 500 000 dollar per jaar verdien (welke inkomste groot happe van geneem word deur die onderwyskoste van hul kinders, asook hul mediese koste) en, andersyds, die 400 rykste Amerikaners volgens Forbes op dieselfde vlak te plaas nie. Hierdie klein wêreldjie maak nietemin die kruin van die oligargiese samelewing uit waarin die oligarge omring van hulle afhanklikes leef, wat self ook bevoorreg is. Saam lag hulle die moeilikhede af waarmee 90% van hulle medeburgers vandag te kampe het.
Dit is hierdie liberale oligargie, deurtrek van die nihilisme en nié ’n liberale demokrasie nie wat die stryd van die Weste teen die Russiese outoritêre demokrasie lei. (267–8)
Amerikaanse ekonomiese agteruitgang
Vervolgens, in hoofstuk 9, staan Todd stil by wat hy beskou as die afgang van die Amerikaanse ekonomie waaroor voorgenoemde elite vandag heers.
Voor hy stilstaan by die tema van die hoofstuk, wys Todd eers enkele onbetwisbare sterkpunte van die Amerikaanse ekonomie uit. Dit sluit in die tegnologiese leierskap van Silikonvallei en die sterk lopie van Amerikaanse olie- en gasprodusente die laaste jare. Waar die probleme van die Amerikaanse ekonomie egter ooglopend is, soos uitgewys deur die onvermoë van die Amerikaanse militêre nywerheid om in die behoeftes van die Oekraïense weermag te voorsien, is in sy tradisionele nywerheidsektor. Hoe het die VSA op dié punt beland?
Om mee te begin het Amerikaans-georkestreerde globalisering die VSA se nywerheidshegemonie ondermyn – terwyl dit in 1928 op 44,6% van die wêreldnywerheid gestaan het, het dit in 2019 gedaal na 16,8% – met China s’n in 2020 op 28,7%.
........
Die VSA verbruik veel meer as wat dit vervaardig.
........
Om egter ’n duideliker beeld op die Amerikaanse ekonomiese afgang te kry, doen Todd aan die hand dat ’n beter aanduider as die BBP van ’n land, die land se WBP, oftewel Werklike Binnelandse Produk is. Hy stel dit voor omdat die oorgrote meerderheid van die Amerikaanse BBP dienste insluit wat niks met werklike produksie te make het nie. As hy die Amerikaanse BBP van 76 000 dollar van 2022 neem, wys Todd uit dat slegs 20% hiervan te make het met die fisiese dele van die ekonomie – nywerheid, konstruksie, vervoer, myne en landbou:
Hierdie 20% van 76 000 dollar gee ons 15 200 dollar wat ek beveilig deur dit opsy te sit in die kategorie “werklik”. Dit laat 60 800 dollar per kop, die “produksie” van dienste (insluitend gesondheid), waarvan ek geen rede het om te dink dat dit “werkliker” as gesondheid self is nie. Hierop pas ek dus ’n verminderingskoëffisiënt van 0,4 toe. So word my 60 800 dollar 24 320 dollar. Ek tel dan die beveiligde 15 200 dollar van fisiese produksie by hierdie 24 320 dollar van dienste. Dit laat my met ’n WBP van 39 520 dollar per kop. Dié resultaat is fassinerend, want in 2020 was die WBP per kop effens minder as die BBP per kop van die Wes-Europese lande [...]. Hoe vreemd is dit nou nie – die orde van welvaart per kop klop tans met dié van die koers van doodgebore babas, met Duitsland wat dié groep lande lei en die VSA heel laaste. (274–5)
Vervolgens fokus Todd op die VSA se enorme handelstekort met die res van die wêreld. Die VSA verbruik veel meer as wat dit vervaardig. Die VSA finansier sy handelstekort deur Amerikaanse staatseffekte uit te reik, maar dit kan slegs werk omdat die dollar tans nog die wêreld se reserwegeldeenheid is. Vanaf 2000 tot 2022 het dié tekort met 173% toegeneem – en dit ondanks die proteksionistiese maatreëls wat Obama, Trump en Biden agtereenvolgens ingestel het.
Ekonomiese parasiete
Om hierdie toedrag van sake nog beter te verstaan, verduidelik Todd dat ons moet fokus op hoe die mense lyk wat by die Amerikaanse nywerheidsektor betrokke is. Hy herinner ons daaraan dat reeds vroeër uitgewys is dat Rusland proporsioneel vandag meer ingenieurs as die VSA oplei. Daarenteen kan ons “vandag praat van ’n interne maatskaplike breinvlug – na die regte, die finansiële sektor en handelskole, wat almal sektore is waar ’n mens meer geld kan verdien as in ingenieurswese of wetenskaplike navorsing” (278).
Pleks daarvan dat hierdie neiging ’n toename in sogenaamde menslike kapitaal verteenwoordig, voer Todd aan dat dit aanduidend is van ’n meerdere vermoë om te teer op die welvaart wat deur die stelsel geskep word. Om saam te vat: Die hoër inkomstes van die hoogs geskooldes vertaal die feit dat die prokureurs, bankiers en soveel ander pennelekkers van die tersiêre sektor as ’n horde voortreflike roofdiere optree. En dit bring ons by die uiteindelike perversie waartoe die ontwikkeling van die onderwys gelei het, naamlik dat die vermenigvuldiging van gegradueerdes ’n massa parasiete skep. (279)
Om die Amerikaanse tekort aan wetenskaplikes en tegnici op alle vlakke die hoof te bied, voer die VSA hulle op massiewe skaal in. Dog, waar die VSA nog altyd dié soort mense ingevoer het terwyl die WASP-klas in beheer was, stel hierdie kategorie werkers die WASP-klas in die besonder en wit Amerikaners in die algemeen vandag in die skadu – in 2019 het 67% van Amerikaans-gebore werkers in die tegniek en die wetenskap ’n B-graad gehad, teenoor 86,5% van immigrante in hierdie kategorieë.
Washington-bende
In hoofstuk 10 staan hy stil by die politieke elite van die VSA, wat hy beskryf met die titel van die hoofstuk, “Die Washington-bende”:
Ons gaan nou met die oog van ’n antropoloog die groep individue onder die loep neem wat die buitelandse beleid bepaal van die siek moondheid wat die VSA geword het. Wat is hierdie stam met sy sonderlinge sedes wat deur sy smake en besluite die Weste tot by die poorte van Rusland gevoer het? ’n Primitiewe gemeenskap word normaalweg in sy natuurlike milieu bestudeer – in dié geval, die dorp Washington. Ons sal veral stilstaan by die Amerikaanse geo-politieke establishment wat ter plaatse beter bekend is as die “Blob”, oftewel die naam van ’n kommerwekkende mikro-organisme. (287)
Om te sien dat die WASP-elite van die Eisenhower-era verdwyn het, hoef ons net die huidige Amerikaanse regering van nader te beskou. Onder sy belangrikste figure, wat die oorlog teen Oekraïne stuur, is daar nie meer een WASP nie – Joe Biden is van Ierse Katolieke afkoms, soos ook sy veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan; die minister van buitelandse sake, Anthony Blinken, is van Joodse afkoms, terwyl die onderminister van buitelandse sake belas met Europa en Eurasië (insluitend Oekraïne), Victoria Nuland, die dogter is van ’n Joodse vader en ’n moeder van Britse afkoms. Laastens is die minister van verdediging, Lloyd Austin, ’n swart Katoliek. Terwyl Afro-Amerikaners 13% van die Amerikaanse bevolking uitmaak, maak hulle 26% van Biden se kabinet uit.
Dieselfde verskuiwing weg van die WASP-klas is ook waarneembaar in die Amerikaanse elite-universiteite. In Harvard, Yale en Princeton, waar die toekomstige Amerikaanse oligargie gevorm word, is slegs 46% van die studente wit Amerikaners, terwyl 61% van die totale Amerikaanse bevolking uit dié groep bestaan.
Todd skryf hierdie vervaging van tradisionele etniese en rassegrense onder die Amerikaanse elite toe aan die zerotoestand van religie wat die land betree het. Wat die opkoms van studente van Asiese afkoms aan universiteite teenoor die afname van wit Amerikaanse studente betref, skryf Todd dit ook toe aan die feit dat terwyl studente uit eersgenoemde groepe se kulture geletterdheid en onderwys ernstig opneem, dit nie meer die geval is met wit Amerikaners wat hulle tradisionele Protestantse kultuur agtergelaat het nie.
Todd erken die morele waarde van hierdie groter gelykheid in die VSA, maar vra na die sosiologiese betekenis van die afgang van die WASP-klas:
Die WASP-elite het ’n rigting aangedui, asook morele oogmerke, goed of sleg. Die huidige leiersgroep (ek waag dit nie om dit ’n elite te noem nie) bied niks van dié aard nie. Al wat in sy midde voortbestaan, is ’n magsdinamika wat geprojekteer op die buitewêreld gemuteer het tot ’n voorkeur vir militêre mag en oorlog. (291)
Amerikaanse Jode
Voor hy verder hierop uitbrei, skryf Todd, moet hy eers aandag gee aan ander sosiologiese aspekte ten einde die rol wat Amerikaanse Jode in die land se buitelandse beleid speel beter te kan omskryf.
Terwyl Joodse Amerikaners slegs 1,7% van die bevolking uitmaak, is hulle buitengewoon sterk verteenwoordig in Amerikaanse buitelandse beleidmaking. Een voorbeeld is dat ’n derde van die 34 raadslede van die invloedryke Amerikaanse Council on Foreign Relations van Joodse afkoms is. In 2010 was 30% van die 100 rykste families volgens Forbes van Joodse afkoms.
As iemand wat self deels Joods is, skryf Todd hierdie toedrag van sake beslis nie aan een of ander anti-Semitiese samesweringsteorie toe nie, maar weer eens aan die premie wat die Joodse kultuur op geletterdheid en onderwys plaas, terwyl hulle Protestantse Amerikaanse eweknieë dit al hoe minder doen.
Nietemin is daar ook vandag sterk aanduidings van die verswakkende invloed van Amerikaanse Jode. Hier haal Todd aan uit ’n 2023-artikel van Jacob Savage gepubliseer in die Joodse aanlyn tydskrif, Tablet. Terwyl 21% van Amerikaanse studente aan die beste Amerikaanse universiteite in die era van die boomers Joods was, is slegs 4% van Amerikaanse studente onder 30 vandag Joods. Savage beskryf ook die beduidende afname van Jode in invloedryke politieke en universiteitsposisies in een van hul bastions, die stad New York. Dieselfde afname is ook merkbaar op die regbank en in Hollywood. Vir Todd is hierdie toedrag van sake die gevolg van die suksesvolle assimilasie van die Amerikaanse Jode in die Amerikaanse hoofstroomkultuur, wat op sy beurt in die zerotoestand verkeer:
Amerikaanse Joodse assimilasie is meetbaar aan die koers van gemengde huwelike. Voor 1980 was slegs 18% van Amerikaanse Jode met ’n nie-Jood getroud. Tussen 2010 en 2020 het 61% van hulle wat hertrou het, met ’n nie-Jood getrou. Ek twyfel of die Amerikaanse agteruitgang die 39% oorblywende endogame Joods-Amerikaanse egpare sou spaar. Ek het reeds verwys na ’n zero-Protestantisme en ’n zero-Katolisisme, waarom nie ook in die geval van die VSA (en elders) ’n zero-Judaïsme nie? Die begrip sal nuttig wees om sin te maak van ’n uiteindelike opvoedkundige afgang onder die Jode ook. (294)
Hiermee kan Todd nou die Washington-stam van nader beskou – “die individue wat die leiersgroep van die sterkste wêreldmoondheid vorm, gee nie meer gehoor aan ’n stel idees wat hulle transendeer nie, maar reageer op impulse afkomstig uit die plaaslike netwerk waaraan hulle behoort” (297).
Die Blob – en historiese weerwraak?
Hier maak hy gebruik van Stephen Walt se begrip, die Blob, ’n bynaam wat uitgedink is deur ’n voormalige Obama-raadgewer, Ben Rhodes, met verwysing na die mikrokosmos wat Amerikaanse buitelandse beleid ontwikkel. ’n Blob is “’n eensellige, viskose organisme wat in die woud voorkom, waar dit sigself vermenigvuldig deur die omringende bakterieë en sampioene te absorbeer. Dit het nie ’n brein nie” (297–8).
Walt wys uit dat waar persone gemoeid met Amerikaanse buitelandse beleid voorheen dikwels loopbane eers in ander velde gevolg het, dit nie meer tans die geval is nie – die Blob is ’n volkome insulêre wêreldjie. Walt wys ook uit dat hoe meer insulêr hierdie groep is, hoe meer aktivisties tree hulle op en hoe meer bronne slurp hulle op.
Om hierdie hoofstuk af te sluit, staan Todd stil by die familie- en loopbaangeskiedenisse van die Amerikaanse akteurs van die oorlog in Oekraïne en erken hy hoe verras hy was om onder hulle voorouers te ontdek wat uit die Russiese Tsaarryk en sy marges afkomstig is. Die twee leidende figure hier is Anthony Blinken en Victoria Nuland: “[...] Blinken is aan moederskant van Hongaarse Joodse afkoms en sy oupa aan vaderskant is in Kiëf gebore. Wat Victoria Nuland betref, vind ons aan vaderskant ’n kombinasie van Moldawiese en Oekraïense Jode” (301).
Hieroor lewer Todd die volgende kommentaar:
Ek weet uit ervaring dat ’n buitelandse familie-afkoms, hoe ver af ook al, by ’n mens ’n verstandelike band met daardie wêreldstreek kan vorm. Oblatt Lajos, my Joodse oupagrootjie van Boedapest, het in die geskiedenis van my familie bloot op die abstrakte vlak gefunksioneer, en vir my was hy bloot ’n naam. Nietemin bly die feit staan dat my eerste boek, wat die val van die Sowjet-stelsel voorspel het, ontstaan het uit ’n besoek aan Hongarye, waartoe ek deur hierdie baie beperkte familieherinnering aangetrokke gevoel het.
Ek kan my dus heeltemal indink dat vir Blinken en Nuland kan bande wat baie meer regstreeks en werklik is, Oekraïne en Rusland veel werkliker kan maak. (301–2)
Todd bespiegel dat Blinken en Nuland se obsessie met die oorlog met twee ander sake te doen kan hê. Eerstens dat die zerotoestand van religie ook ’n zerotoestand van geheue is, wat hulle gewoon doof maak vir die anti-Semitiese verlede van Oekraïne. Dan is daar ’n ander, kommerwekkender vertolking:
Indien hierdie oorlog in die drome van die Amerikaanse neokonserwatiewes die voordeel van die demografiese uitputting van Rusland inhou, sal dit ongeag die uitkoms daarvan nie bydra tot die konsolidasie van die Oekraïense volk nie, maar tot sy vernietiging. Aan die einde van September 2023 het die Oekraïense militêre polisie die land met doringdraad afgekamp om te verhoed dat weerbare mans gewalg deur die nuttelose, dodelike teenoffensief van die somer soos vereis deur Washington, na Roemenië of Pole kon vlug om aan nasionale diensplig te ontkom. Die belang hiervan? Hoekom sou Amerikaners van Joods-Oekraïense afkoms wat hierdie slagting saam met die Kiëf-regering bestuur, dit nie beskou as ’n regverdige straf vir hierdie land wat hulle voorsate so laat ly het nie? Ons sal hulle memoires met belangstelling lees as hulle dit dalk eendag skryf. (302–3)
Die res van die wêreld
.......
Terwyl Rusland leef van sy minerale bronne en sy arbeid en geensins daarin belangstel om sy waardes op die res van die wêreld af te dwing nie, leef die VSA van die arbeid van “die res” en hou aan hulle ’n nihilistiese kultuur voort. Terwyl die Sowjet-unie ’n groot bydrae tot die eerste golf van Westerse dekolonisasie gelewer het, hoop vele lande dat Rusland eweneens ’n bydrae tot die tweede golf van Westerse dekolonisasie sal lewer.
.......
Vervolgens, in hoofstuk 11, kom Todd nou by die vraag waarom die res van die wêreld hoop op ’n Russiese oorwinning in die oorlog. Todd open die hoofstuk deur aan te voer dat die Weste vandag deur narsisme gekenmerk word, sowel binne sy samelewings as in hoe dit sigself steeds as die morele sentrum van die res van die wêreld sien. Dog, ’n kaart wat op 7 Maart 2022 deur die Groep vir Geo-politieke Studies saamgestel is, wys dat slegs beperkte wêrelddele en lande Rusland se inval van Oekraïne veroordeel het en Rusland met sanksies wou straf: Noord-Amerika, Europa, Australië, Japan, Suid-Korea, Costa Rica, Colombië, Ecuador en Paraguay. “As ons die vier lande van Latyns-Amerika buite rekening laat, wat almal minuskuul is, buiten die anargistiese, dinamiese Colombië, bestaan die Westerse sfeer nou slegs uit die bondgenote of militêre protektorate van die Verenigde State” (305).
Wat Todd opval oor die lande wat Rusland eenvoudig nie veroordeel het nie, is hoe ’n groot deel van die wêreld dit beslaan, insluitend die BRICS-lande (tot onlangs Brasilië, Indië, China, Suid-Afrika). Wat Todd die meeste van alles verbaas, was die Westerse verwagting in die maande ná die inval dat China druk op Rusland moet plaas om terug te trek – en dit terwyl China in daardie stadium al vir ’n goeie 10 jaar lank deur die VSA as hulle vernaamste teenstander beskou is. Volgens Todd berus hierdie delirium op twee voorwaardes:
Eerstens die vreesaanjaende afwesigheid van ’n minimale geo-politieke intelligensie by ons leiers en ons joernaliste; vervolgens ’n aanmatiging wat so kolossaal is dat ons dit daarvan verdink dat dit met rassisme bevlek is. Om te verwag dat China hom met die Weste teen Rusland allieer postuleer dat Xi Jinping en sy binnekring onnosel is, met opnuut die implisiete aanname dat die wit man ooglopend ’n meerdere wese is. (309–10)
Om te verstaan waarom “die res” nie die Weste ondersteun nie, begin Todd by wat hy ’n “dubbele antagonisme” noem:
- Die ekonomiese antagonisme spruit voort uit die eenvoudige feit dat globalisering geblyk het niks anders te wees nie as ’n herkolonisasie van die wêreld deur die Weste, dog dié keer eerder onder Amerikaanse as onder Britse leiding. Die uitbuiting van die mins ontwikkelde mense [...] was meer diskreet maar baie doeltreffender as tydens die jare 1880 tot 1914.
- Die antropologiese antagonisme spruit op sy beurt voort uit die bestaan in die meerderheid van die lande van “die res” van familiale en verwantskapstelsels wat anders as dié van die Weste is. (310)
Terwyl Rusland leef van sy minerale bronne en sy arbeid en geensins daarin belangstel om sy waardes op die res van die wêreld af te dwing nie, leef die VSA van die arbeid van “die res” en hou aan hulle ’n nihilistiese kultuur voort. Terwyl die Sowjet-unie ’n groot bydrae tot die eerste golf van Westerse dekolonisasie gelewer het, hoop vele lande dat Rusland eweneens ’n bydrae tot die tweede golf van Westerse dekolonisasie sal lewer.
Westerse ekonomiese uitbuiting
Todd staan eerstens stil by die ekonomiese uitbuiting van die res van die wêreld deur die Weste. Om te verduidelik wat die ooreenkomste tussen Westerse kolonialisme voor 1914 en die meer onlangse globalisering is, verwys Todd na ’n klassieke anti-imperialistiese boek uit 1902, naamlik Imperialisme van die liberale politieke denker, deur John Hobson. Hobson skryf:
Ons het verwys na die moontlikheid van ’n nog groter alliansie van Westerse state, ’n Europese federasie van groot moondhede wat in plaas daarvan om die saak van ’n wêreldbeskawing te bevorder, die reuse-bedreiging van ’n Westerse parasitisme kan meebring, waarvan hoër klasse enorme tribute sal hef van Asië en van Afrika, waarmee hulle massas versorgde ondergeskiktes sal onderhou wat nie meer by die landbou of by basiese vervaardiging betrokke is nie, maar onderhou word in die uitvoering van persoonlike of mindere nywerheidstake. Diegene wat dink dat so ’n teorie nie oorweeg hoef te word nie, hoef bloot die maatskaplike en ekonomiese situasie van die suidelike distrikte van Engeland te ondersoek, wat reeds tot hierdie toestand verskraal is, en na te dink oor die reuse-uitbreiding wat so ’n stelsel sal ondergaan as China onderwerp word aan die ekonomiese beheer van ’n soortgelyke groep finansiers, beleggers en politieke en handelsleiers. Dit sal neerkom daarop om die grootste potensiële reserwe van wins wat die wêreld nog geken het, te onttrek ten einde dit in Europa te verbruik. (311–2)
Volgens Todd is Hobson se voorspelling bewaarheid met die toetrede van China tot die Wêreldhandelsorganisasie in 2001, want dit is vanaf hierdie datum dat “die Westerse proletariaat totaal getransformeer is tot plebejers wat grootliks leef van die arbeid van die Chinese en ander volkere van die wêreld” (313–4).
Wat Todd hiermee bedoel, is dat die verskuiwing van Westerse fabrieke uit die weste na die ooste gelei het tot die einde van die naoorlogse era toe Westerse werkers dit wat hulle verbruik het, self vervaardig het, en die begin van die era waar hierdie selfde klas dit verbruik wat elders vervaardig word, nes plebejers in die ou Romeinse ryk:
Wat ek hier skryf is, om presies te wees, in streng ooreenstemming met die teorie wat die mees ortodokse handboeke van die internasionale ekonomie uiteensit. Die teorie van vrye handel stel slegs belang in die verbruiker, wat die goedere wat hy benodig teen die laagste moontlike prys moet kan koop, en die apostels van hierdie teorie dreig Westerlinge onophoudelik dat hulle meer sal moet betaal vir hulle voedsel, klere, selfone, motors, medisyne, kinderspeelgoed en tuindwerge as hulle volhard daarmee om dié dinge self te wil vervaardig. Die apostels het gewen, maar hul oorwinning het sosio-politieke gevolge wat hulle nie voorsien het nie. (314)
Todd lig hierdie gevolge uit deur die leser te herinner aan hoe maatskaplike en geestesgesondheidsprobleme toegeneem het onder Amerikaanse werkers wat hulle eertydse status as vervaardigers ontneem is:
Wat nou nog verduidelik moet word, is waarom die meeste eertydse Amerikaanse werkers kies om vir Trump te stem eerder as om ’n einde aan hulle lewens te maak, en waarom die laer klasse van Wes-Europa ook gekantel het in die rigting van ’n “populistiese, xenofobiese, verregse” stem, selfs daar waar massiewe, onbeheerde immigrasie hulle nie bedreig nie. Hoekom is daardie bevolkings wat die aftakeling van hulle nywerheidsektore oorleef het, vandag regsgesind? Dis baie eenvoudig. Die linkse partye, of hulle sosiaal-demokraties of kommunisties was, het op die uitgebuite werkersklas gesteun. Die populistiese partye steun op hul beurt op die plebejers wie se lewenskoste grootliks afhang van die onderbesoldigde arbeid van die proletariaat in China, Bangladesj, Noord-Afrika of elders. Ek is self verras deur te dink aan wat volg: Die kiesers van die Franse Nasionale Samekoms-party is in die lig van die elementêrste Marxistiese teorie die onttrekkers (extracteurs) van kapitaalwins op wêreldskaal. Hulle is dus heel normaal regsgesind. Soos Friedrich Engels en Lenin voorsien het, korrumpeer vrye handel, maar ons kan byvoeg dat absolute vrye handel absoluut korrumpeer. (314–5)
Volgens Todd help dié ontleding ons ook om te verstaan waarom dit so moeilik is om ’n samelewing te herindustrialiseer – as jy eers verbruik begunstig bo vervaardiging, die produktiewe burger verander in ’n plebejiese parasiet, het dié mense nie meer aptyt vir die dissipline van ’n fabriek nie.
Dis egter nie slegs die Wes-Europese laer middelklasse wat vandag leef van die arbeid van die Ooste nie, maar eintlik almal in hierdie Wes-Europese lande. En volgens Todd is die ressentiment wat dit onder “die res” van die wêreld jeens die Weste veroorsaak, ’n belangrike rede vir hul simpatie met Rusland, “wat nie die spel van wêrelduitbuiting speel nie, maar daarenteen aandring daarop om ’n soewereine nasie buite die stelsel te bly” (316).
Weste haag “die res” die harnas in
Dit was volgens Todd die stand van sake op die vooraand van die oorlog in Oekraïne. Sedertdien het die Weste “die res” op twee maniere die harnas ingejaag – eerstens deur druk op hulle te plaas om teen Rusland te kies, tweedens deur by die hoër klasse van “die res” vrees jeens die VSA aan te wakker.
Wat die ekonomiese aspek betref, impliseer die gebruik van sanksies teen ’n staat in ’n oorlogsituasie dat die antagonisme teenoor die staat baie wyer as die fisiese oorlogsituasie uitgebrei word, gewoon omdat die sukses van die sanksies afhang van die mate waartoe die meeste lande die sanksies ondersteun pleks van ondermyn – en om dít met betrekking tot “die res” te verwesenlik, het die VSA groot druk op hulle toegepas. Desondanks het dit misluk om die gewenste uitwerking te behaal, en bygevolg het Westerse sanksies teen Rusland ook grootliks misluk.
Todd wys ook uit dat besluite van die leierelites van lande soos Indië, Turkye, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Brasilië en ander om nie eensgesind te handel nie met die Weste, waar hulle hul dollars belê, waarskynlik onder meer gevolg het as reaksie op die Amerikaans-geleide Weste om op die bates van Russiese oligarge beslag te lê – as dit met hulle kan gebeur, kan dit ook met ons gebeur, was skynbaar die gedagtegang. Wat verder gevolg het, is ’n groeiende besef onder “die res” dat hulle op een of ander manier uit die ryk van die dollar moet wegkom, dat hulle moet saamstaan.
Volgens Todd is daar ook ’n verdere antropologiese faset omtrent hierdie verwikkelinge. Om mee te begin, wys hy uit dat die Amerikaanse droom om sedert die einde van die Koue Oorlog die vrye mark en die liberale demokrasie oraloor te vestig, uit die oog verloor dat hierdie dinge in die eerste plek kon wortelskiet in Frankryk, Engeland en die VSA op grond van die feit dat hierdie lande se samelewings saamgestel was uit individualistiese kerngesinne, wat beslis nie die geval met “die res” is nie. Todd verduidelik die antropologiese verskille tussen die Weste en “die res” soos volg:
In ’n stelsel van bilaterale verwantskap weeg die voorsate en familie van die vader en van die moeder ewe veel in die bepaling van die maatskaplike status van die kind. Die gesin, wat rondom die egpaar sentreer, is ’n kerngesin. Soos ek reeds gesê het, is dit die antropologiese stelsel wat in die fase van massageletterdheid gelei het tot die liberale demokrasie omdat die kerngesin ’n liberale temperament in die bevolking meegebring het. In die onlangse fase waarin die hoëronderwys toegeneem het, het hierdie stelsel die opkoms van die radikale feminisme ontketen. Die laaste fases van hierdie kulturele rewolusie was die emansipasie van homoseksualiteit, die ontwikkeling van ’n noemenswaardige vroulike biseksualiteit en laastens van die transgender-ideologie [...]. (324–5)
Dog:
“Die res” van die wêreld is grootliks anders en patrilineêr. Sy verwantskapstelsels funksioneer aan die hand van ’n teenoorgestelde norm. Die maatskaplike status van die kind word slegs deur die verwantskappe van die vader bepaal. Die patrilineêre beginsel kom dikwels voor saam met ’n kommunitêre familiale stelsel, wat nie juis of glad nie individualisties is nie [...]. [D]ie patrilineêre antropologiese stelsels omvat ’n enorme deel van die wêreld wat strek van Wes-Afrika tot Noord-China, met inbegrip van die Arabies-Persiese wêreld en die geheel van Rusland. In vergelyking hiermee blyk die Westerse, bilaterale, kerngesinmatige, liberale, periferale wêreld baie klein te wees. (325–6)
En al is dit so dat huishoudings van kerngesinne vandag oral aangetref word, wys Todd daarop dat dit nie beteken dat die ou patrilineêre, kommunitêre waardes, wat nie gunstig jeens radikale feminisme is nie, sonder meer verdwyn het nie. Hoewel hierdie ontleding nie alle aspekte van die huidige geo-politieke dinamika verklaar nie, wys dit wel grootliks waarom “die res” vandag eensgesind, grootliks anti-Westers en pro-Russies is. Interessant genoeg wys Todd uit dat hy Duitsland en Japan as “semi-patrilineêr” sal omskryf, wat volgens hom die rede is dat die feminisme in daardie twee lande nie so sterk as in ander Westerse lande is nie.
Russiese sagte mag
Voorts bied hierdie antropologiese stand van sake volgens Todd ook insig in huidige Russiese sagte mag (soft power). Om dit te verduidelik wys hy eerstens daarop dat die wêreldwye verspreiding van homofobie vandag saamval met die wêreldwye voorkoms van patrilineariteit. In vandag se wêreld het sedelike vraagstukke vreemd belangrik in die internasionale politiek geword. Westerlinge veroordeel enige land wat vyandig teenoor die LGBT-ideologie staan as agterlik. Seker daarvan dat hulle ’n universele moderniteit beliggaam, verstaan hulle nie dat hulle besig is om agterdog te wek in die patrilineêre, homofobiese wêrelddele nie, wat in feite teen die Westerse sedelike rewolusie gekant is. (329–30)
Terwyl die Weste dink dat die onlangse aanvaarding van onderdrukkende Russiese wetgewing jeens homoseksualiteit en transgenderregte dié land boos maak, besef hulle nie dat sulke wetgewing vir die meeste ander lande met dieselfde antropologiese struktuur aantreklik is en sodoende Rusland se sagte mag vermeerder nie. Terwyl die Russiese kommunisme eens op ’n tyd vir die werkersklas wêreldwyd aantreklik was, het sy ateïsme tegelyk ’n klomp volke afgeskrik, veral in die Moslemwêreld:
Die huidige Rusland, wat op sedelike vlak konserwatief is, het nie meer te kampe met hierdie blok aan die been nie. Poetin oorspeel bowendien die rol van die Ortodokse geloof wat al geruime tyd nie meer ’n noemenswaardige faktor in die Russiese samelewing is nie. Dit is aan hierdie nuwe soort post-religieuse morele konserwatisme wat die alte maklike toenadering tussen die regime van die Iranse mollah’s en Rusland toegeskryf moet word, terwyl laasgenoemde nietemin saam met Engeland die tradisionele vyande van Iran is. Die Russiese konserwatisme maak ook die weliswaar ingewikkelde, dog al hoe hartliker verhouding met die Turkye van Erdogan moontlik [...] asook met die fundamentalistiese monargie van Saoedi-Arabië. (331–2)
Volgens Todd skep die Weste se transgender-ideologie skynbaar nog ’n groter probleem vir die patrilineêre wêreld as eersgenoemde se gay-ideologie. Hoe kan samelewings vir wie die verskil tussen vaderlike en moederlike verwantskappe strukturerend en die onderskeid tussen mans en vroue konseptueel onontbeerlik is, ’n ideologie aanvaar wat vir ons sê dat ’n man ’n vrou en ’n vrou ’n man kan word [...]. Dit is heeltemal geloofwaardig dat hierdie samelewings dink die Weste het “mal geword”. (332)
Gevolgtrekking: Die VSA trap in die Oekraïense strik
........
"Die VSA van vandag is nie meer ’n nasiestaat nie; dit het sy leiersklas en sy vermoë om ’n rigting vas te stel verloor.
Die verkiesing van Trump, die kampioen van vulgariteit, en toe van Biden, die kampioen van seniliteit, was die apoteose van hierdie zerotoestand. Washington se besluit het opgehou om moreel of rasioneel te wees." – Emmanuel Todd
........
Dit bring Todd by die gevolgtrekking van die boek, getiteld “Hoe die Verenigde State in die Oekraïense strik getrap het, 1990–2022”.
Om mee te begin herinner Todd sy leser daaraan dat sedert die val van die Sowjet-unie al die rolspelers van die oorlog in Oekraïne almal deur die beweging na die religieuse zerotoestand geaffekteer is, soos bowenal aangedui deur die afname in die bevolkings van hierdie lande. “In die liberale Westerse wêreld in die streng sin van die woord – die Verenigde State, die VK, Frankryk, Skandinawië – nader die vrugbaarheidskoers 1,6 kind per vrou en 1,5 in Duitsland en Rusland” (336).
Voorts is al hierdie lande, Rusland inkluis, vandag onaktiewe eerder as aktiewe nasies, soos hy dié twee begrippe in hoofstuk 5 omskryf het. Oor Rusland maak hy in dié verband die volgende opmerkings:
[R]usland (met sy kommunitêre gesin) is ondanks die soewereinistiese ideaal wat sy leiersklas aandryf, en ondanks sy vermoë om ekonomies en tegnologies terug te bons [...] nie nasionalisties in die klassieke sin nie. Dit is ook ’n “onaktiewe nasie” en dit is waarom Poetin dit bowenal wil weerhou van ’n totale betrokkenheid by die oorlog. Hy het die Russe stadig tot militêre diens opgeroep, want al is die Russe (byvoorbeeld) meer geheg aan hulle nasie as die Franse, is hulle postmoderne individue wat in die eerste plek aan hulle plesiere en pyne dink. Hulle is nietemin beskut teen die uiterste vorm wat die postmodernisme aanneem, naamlik die nihilisme, daardie siekte eie aan samelewings wat deur hul antropologie as individualiste bepaal word, met die Anglo-Amerikaanse wêreld aan die voorpunt. (336–7)
Wat die VSA betref, kom Todd tot ’n besonder sombere gevolgtrekking:
Die VSA van vandag is nie meer ’n nasiestaat nie; dit het sy leiersklas en sy vermoë om ’n rigting vas te stel verloor. Rondom 2015 het dit wat ek die zerotoestand noem, bereik. Hierdie term beteken nie dat die land nie meer bestaan of nie meer produseer nie, maar dat dit nie meer deur sy oorspronklike Protestantse waardes gestruktureer word nie – en dat die moraliteit, die werksetiek en die verantwoordelikheidsin wat sy bevolking begeester het, verdamp het. Die verkiesing van Trump, die kampioen van vulgariteit, en toe van Biden, die kampioen van seniliteit, was die apoteose van hierdie zerotoestand. Washington se besluit het opgehou om moreel of rasioneel te wees. (337–8)
Om oplaas te probeer verstaan waarom die VSA op hierdie punt beland en in die strik van die oorlog in Oekraïne getrap het, onderskei Todd vier fases wat elkeen op sy beurt onderskei word deur Amerikaanse militêre besteding as persentasie van die Amerikaanse WBP.
In fase 1, wat volg op die ineenstorting van die Sowjet-unie en die Amerikaanse aanname dat vrede nou oral uitgebreek het, dit wil sê tussen 1990 en 1999, daal bogenoemde syfer van 5,9% na 3,1%. In hierdie fase ontwapen die VSA sigself en reken Todd dat hulle nie ’n projek van wêreldoorheersing beplan nie.
Fase 2, 1999 tot 2010, beskryf Todd as “10 jare van hubris”. Militêre besteding styg na 4,9% van die WBP, die VSA begin droom van wêreldoorheersing en hul berugte mislukkings volg, soos in Irak en Afganistan.
Fase 3 strek rofweg vanaf die ekonomiese krisis van 2008 tot 2017. Die besteding daal na 3,3% van die WBP en dit val saam met die Obama-jare.
Fase 4 breek sedertdien aan en word deur Todd beskryf as een van ’n agterlating van die werklikheid. Militêre besteding styg nie beduidend nie – 3,7% van die WBP in 2020, 3,4% in 2021:
Hierdie beskeie syfers nooi ons uit om meer genuanseerd te kyk na Wladimir Poetin se diskoers en, terloops, Mearsheimer se ontledings: Verre daarvan om strydlustig te wees, het die VSA sy ekspansionisme laat vaar en wou dit nie ’n konfrontasie met Rusland hê nie, maar die nihilistiese droom van die Oekraïense nasionaliste, ’n nadraai van die ontbinding van die Sowjet-unie, het hulle verlei. Poetin, daarenteen, had geen rede om Kiëf te onderskei van Washington nie. Hy het besluit om oor te gaan tot oorlog op wat vir hom na die geskikste oomblik gelyk het. Alles dui daarop dat sy tydsberekening uitstekend was. (340–1)
Todd stem saam met die eietydse geo-politieke ontleders wat die VSA, sy vernaamste opponent, China, en sy tweede belangrikste opponent, Rusland, as die belangrikste politieke rolspelers van ons tyd beskou. Hierby voeg hy Duitsland, wie se Europese gewig tussen 1990 en 2020 net al hoe belangriker geword het.
Ondanks die Amerikaanse vrees vir toenadering tussen Duitsland en Rusland, dink Todd dat dit vroeër of later gaan gebeur:
[Die twee lande] se gemeenskaplike geboortekoers van 1,5 per vrou kalmeer hulle en bring hulle nader aan mekaar. Hulle kan nie meer met mekaar oorlog maak nie; hulle ekonomiese spesialiteite maak hulle aanvullend tot mekaar. Vroeër of later sal hulle saamwerk. Die Amerikaans-Oekraïense nederlaag sal die weg vir hulle toenadering open. (341)
Die eintlike geskiedenis
Vervolgens bespreek Todd wat hy beskou as die eintlike geskiedenis van 1990 tot 2022, en wat saamhang met die vier fases pas hierbo met betrekking tot die VSA onderskei.
In die vreedsame fase tussen 1990 en 1999 aanvaar George Bush sr teen die raad van François Mitterrand en Margaret Thatcher die hereniging van Duitsland – terwyl die meeste mense die fout begaan om die ineenstorting van die Sowjet-unie toe te skryf aan ’n Amerikaanse oorwinning pleks van aan interne veranderinge in die unie.
Gegewe dat die Duitse bevolking daarmee op 79,1 miljoen te staan kom (teenoor Frankryk se 58,1 miljoen en Brittanje se 57,3 miljoen), kom senuweeagtige amptenare in laasgenoemde twee lande op die idee van ’n Europese Sentrale Bank en die oplossing van die magtige Duitse mark in die nuwe euro. Maar omdat die ESB se hoofkantoor nou in Frankfort, Duitsland setel, hou Duitsland voortaan die Europese huis se monetêre sleutel. Vir eers vertraag die kostes van Duitse hereniging egter die Duitse opmars.
Die VSA bly in hierdie jare vreedsaam en niemand sien dit kom dat Rusland so gaan sukkel nie, waarop die VSA uiteindelik neerhalend neerkyk.
In fase 2 van 1999 tot 2008 betree die VSA die fase van hubris. Vir die eerste maal in hulle geskiedenis het hulle nie ’n opponent nie en in hierdie leegte verloor hulle kop – wat bowendien saamval met hulle oorgang vanaf die zombietoestand na die zerotoestand. Dit is in hierdie jare wat die onverwagse ooswaartse uitbreiding van NAVO begin en wat NAVO van Maart tot Junie 1999 Serwië bombardeer, insluitend die Chinese ambassade in Belgrado. Dis ook dieselfde jaar waarin Poetin aan bewind kom.
Amerikaanse militêre besteding styg en ná 11 September 2001 is Amerikaanse aandag gevestig op die Nabye Ooste, met die daaropvolgende katastrofale invalle van Irak en Afghanistan. Bowendien neem hulle in hul hubris die noodlottige besluit om China tot die Wêreldhandelsorganisasie toe te laat.
Terwyl die VSA droom van liberale demokrasie en die vrye mark oraloor, kom Rusland weer op die been en word China die wêreld se nywerheidsreus. Terselfdertyd begin Duitsland ekonomies groei en begin dit Oos-Europa integreer in sy vervaardigingsektor.
Vanaf 2004 breek nog ’n ooswaartse uitbreiding van NAVO-lidmaatskap aan (Bulgarye, Estland, Letland, Slowakye, Slowenië, Roemenië), waarop ook ooswaartse uitbreiding van die EU volg (volgens Todd nou ’n funksie van NAVO se ooswaartse uitbreiding). As part en deel hiervan vind die sogenaamde “oranje rewolusie” tussen 22 November 2004 en 23 Januarie 2005 in Oekraïne plaas, waarin die VSA ’n sentrale rol speel.
Vanaf 2005 begin Russofobie ook weer in die VSA posvat. Terwyl Poetin die Russiese oligarge polities ontman, begin die Amerikaanse oligarge die Amerikaanse politiek bepaal. Toenadering tussen Duitsland, Frankryk en Rusland tussen 2003 en 2005 ontstig die Amerikaners, en onder leiding van Duitsland word sterk standpunt teen die Amerikaanse oorlog in Irak ingeneem. Volgens Todd is die eintlike rede vir hernude Amerikaanse Russofobie die vrees vir ’n sterk onafhanklike Duitsland. Die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, Condoleezza Rice, verklaar ná die oorwinning oor Saddam Hoessein: “Frankryk moet gestraf word, Duitsland geïgnoreer en Rusland vergewe word” (347).
Die VSA se vrese word toenemend bewaarheid namate samewerking oor Russiese gasvoorsiening aan Duitsland vorder. Dan, op 10 Februarie 2007, tydens die jaarlikse München-veiligheidskonferensie, verklaar Poetin dat Rusland nie ’n unipolêre Amerikaans-oorheersde wêreld sal aanvaar nie. Volgens Todd is die VSA se weerwraak hiervoor die uitnodiging aan Georgië en Oekraïne in April 2008 om by NAVO aan te sluit.
In fase 3, van 2008 tot 2017, sien ons Amerikaanse onttrekking uit die wêreld en ’n soort vreedsame hubris van Duitsland. Amerikaanse militêre besteding daal en ondanks Obama se persoonlike hoedanighede, kan hy nie die kragte van die geskiedenis weerstaan nie. Hy laat Rusland in 2012 tot die WHO toe en weier om Oekraïne te bewapen, terwyl hy in Julie 2015 ’n kernverdrag met Iran sluit om die VSA uit die probleme van die Midde-Ooste te lig.
Wanneer die Duitse kanselier, Angela Merkel, eensydig ná die Foekoesjima-kernramp van Maart 2011 aankondig dat Duitsland van kernenergie afstand gaan doen, sien Todd dit as ’n vorm van vreedsame hubris te midde van Duitsland se gunstige handelsbalans met sy Europese vennote. Nordstream 1 kom in 2012 in bedryf en in 2015 slaan Duitsland die kitaar te midde van Griekeland se ekonomiese treurmares. Vir Todd is die hoogtepunt van Duitsland se vreedsame hubris die inname van 1 miljoen Siriese vlugtelinge in 2015.
Duitse hubris speel ook ’n sentrale rol in die Oekraïense Maidan-rewolusie wat op 21 November 2013 uitbreek. Die enigste langtermyneffek hiervan is egter die stukrag wat dit aan Oekraïense nasionalisme gee, terwyl die EU ’n krisis ontketen deur aan te dring dat Kiëf kies tussen die EU en Rusland. Todd dink dit het ’n verdere hupstoot aan die Wes-Oekraïens-geleide Oekraïense nasionalisme gegee, terwyl Duitsland heimlik op meer Oekraïense immigrante vir sy ekonomie gehoop het. “Die finale ineenstorting van die Oekraïense ekonomie, wat Oekraïne se breuk met Rusland onafwendbaar gemaak het, moes werktuiglik lei tot Oekraïense emigrasie waaraan Duitsland en Rusland sou deel. En dit is presies wat uiteindelik gebeur het” (359).
........
Tussen Brexit en Trump se verkiesing betree die Anglo-Amerikaanse wêreld ’n “staat van gewigloosheid.”
........
In die volgende fase van 2016 tot 2022 sien ons wat Todd die “strik van die Oekraïense nihilisme” noem. Tussen Brexit en Trump se verkiesing betree die Anglo-Amerikaanse wêreld ’n “staat van gewigloosheid” (361).
Volgens Todd word hierdie fase gekenmerk deur Anglo-Amerikaanse geo-politieke verwardheid. Terwyl Trump byvoorbeeld beskuldig word van Russiese steun, bewapen hy Oekraïne terselfdertyd, welke wapens die Amerikaners uiteindelik in die strik sou laat trap.
Die proteksionisme wat die VSA nastreef kan nie slaag nie, weens die Amerikaanse ekonomiese afhanklikheid van Chinese vervaardiging. Pogings tot Amerikaanse herindustrialisering misluk. Todd kan eweneens nie insien wat die logika van Trump se erkenning van Jerusalem as die hoofstad van Israel, of sy onttrekking aan die kernverdrag met Iran is nie. Terwyl Trump bly dreig om NAVO te verlaat, bly NAVO uitbrei – Montenegro in 2017 en die Republiek van Noord-Macedonië in 2020.
Met Biden se verkiesing lyk dinge aanvanklik meer rasioneel. Die VSA onttrek uit Afghanistan en begin weer met Iran onderhandel en met die Europeërs saam te werk. Nietemin gaan die bewapening van Oekraïne voort – asof die veiligheidsdeel van die Amerikaanse staat onder leiding van die Blob nou op sy eie handel.
Nordstream 2 is klaar gebou einde 2021. Oekraïense nasionalisme raak al hoe aggressiewer:
Die Kiëf-regering jaag sy onmoontlike en dus nihilistiese droom na om die Donbass en die Krim terug te neem en die Russiese bevolkings aldaar opnuut te onderwerp (of te verdryf) deur die gebruik van hulle taal te verbied. Hulle gedra hulself nie slegs asof Oekraïne ’n de facto NAVO-lid is nie (soos Mearsheimer opgemerk het), maar ook asof NAVO de facto ’n offensiewe alliansie in diens van sy lidlande is. (364)
Poetin se geduld raak teen Desember 2021 op en hy vereis geskrewe veiligheidswaarborge van NAVO rakende Oekraïne, wat geweier word. Op grond van hul beoordeling van die situasie besluit die Russe om in te val en hoop hulle om voor of teen 2027 die oorlog af te handel (waarna, soos reeds opgemerk, onder meer die demografiese koste vir hulle te hoog sal wees).
Op sy beurt trek die verrassende, suksesvolle vroeë weerstand van Oekraïne die VSA al hoe dieper die konflik in. Die VSA is nou so diep ingetrek dat die militêre, ekonomiese en ideologiese koste van onttrekking vir hulle enorm sal wees, ’n nederlaag in die vorm van “Russies-Duitse toenadering, die ontdollarisering van die wêreld” (366) – met onberekenbare skade aan die Amerikaanse ekonomie en die lewenspeil van hul bevolking.
En so sluit Todd sy boek op ’n somber noot af:
Die sosiologiese zerotoestand van die VSA verhinder ons nietemin om enige redelike voorspelling te waag oor die uiteindelike besluite wat sy leiers gaan neem. Laat ons nie vergeet nie dat die nihilisme enigiets, ábsoluut énigiets, moontlik maak. (366)
Lees ook:
Kommentaar
Baie interessant, met hier en daar ‘n mistasting ivm Rusland. Die Russe is nie bang op grond van hulle kleiner wordende getalle dat die Oekraïniese oorlog na vyf jaar nog sal aanhou nie. Rusland en China het samesprekings gevoer voor die Russiese inval in Oekraïene, en daar is meer onlangs ooreengekom op ‘n teenvoeter vir NAVO. Chinese getalle maak Russiese getalle irrelevant. Dis ook betekenisvol dat Rusland Noord-Korea hierdie week besoek het en spesifiek ‘n militêre ooreenkoms gesluit het, net voordat Viëtnam deur Putin besoek is ivm handelsooreenkomste.
Wat “Russuphiliese” Oos-Oekraïniërs betref: hulle is in werklikheid etniese Russe en hulle geskiedenis in OekraÏene gaan verder terug as die deel van die Russe wat later uit Oekraíene Rusland toe is.
Rusland is nie net besig om ekonomies te oorleef ten spyte van sanksies nie. Hulle is in werklikheid besig om die Weste in ‘n “Mongolian trap” in te lei waaraan hulle reeds sedert 2014 werk. Wat lyk na ‘n oorlog tussen Rusland en Oekraïene, is in werklikheid ‘n ekonomiese oorlog tussen Rusland en onder andere China aan die een kant en Amerika en die Weste aan die ander kant.
Johann, jy is die deeglikste leser wat ek ken.
Hierdie ontleding is twee doktorsgrade werd!!
Gegewe Todd, wat is die rol van Afrika-aristokrate in die herwinning van die algemene goedheid van die mensdom en die natuur hier ter plaatse?
Ek het lanklaas 'n verhandeling so met aandag gelees en geniet. Baie dankie vir die weke, maande en energie wat dit geskep het.
Magistraat! Baie dankie, prof. Rossouw. Die kompleksiteit waaraan hier aandag gegee word, laat mens besef hoe dapper Todd nie moet wees nie om sy greep so wyd en so diep te waag. Kan dit waar wees, soos hy dit stel, dat die krisis van die Weste die krisis van die wêreld is?
Hierdie is 'n baie interessante artikel. Ek dink dit belig suksesvol sommige van "die Weste" se swakpunte. Ek wil, en kan nie weens beperkte tyd, in detail of op die punte af reageer nie. Ek reageer omdat twee persone op Johann se Facebook-profiel, waarvan een die gerespekteerde uitgewer Theresa Papenfus is, my gevra het om te reageer.
Ek wil dit benadruk dat Johann Rossouw se uiteensetting myns insiens baie goed is.
My vernaamste kritiek is dat Todd skynbaar die Weste se swakpunte as sy kernbetekenis sien, en verder dat die krisis waarin die Weste tans verkeer noodwendig sy ondergang gaan wees.
Die negatiefste uitvloeisel van Todd se beskouing is dat hy dieselfde met "Rusland" doen as met "die Weste", slegs omgekeerd: Net so min as wat Rusland se oenskynlike sterkpunte noodwendig 'n saak van kultuurontwikkeling of bestendiging is, net so min is die swakpunte van die Weste noodwendig die einde van sy bestaan. Die Weste is wel in 'n groot krisis, maar as hy dit kan oorkom, gaan die ontwikkeling aansienlik wees.
My vernaamste punt teen Todd is dat waardes in die eerste plek figuratief, abstrakte en metaforologiese inhoude is (dit wil se voortdurend evolusionere inhoude), waarvan die tasbare nie die rigtingwyser is van die abstrakte nie, maar andersom - al is die tasbare die "ontdekkingsteen" van die abstrakte. Dit is waar vir die Weste sowel as vir Rusland se waardes. En daarom kan waardes "vertaal" word, ten goede of ten slegte. Sover ek kan sien is die Weste soepelder met hierdie proses as Rusland.
* Westerse Protestantisme se grootste meulsteen was sy historiese fundamentalisme (die onvermoe om krisis te oorkom deur middel van die rekbaarheid wat inherent is aan alle waardes, syne geestesinhoude, in plooibaarheid om te sit). Maar Protestantisme is veel meer as dit. Dit is inderdaad 'n baie rekbare sisteem wat homself in vele deeglik sinmakende vertaalde vorme al geskink het. Ek sien wel die krisispunte raak.
*Westerse Protestantisme se grootste bate was en is sy raakpunte met die groot Moderne ontdekking van die konstitusionele demokrasie, 'n ontdekking wat Rusland nog nooit op grondvlak gemaak het nie. Sy probleme is eintlik laat-voormodern, nie modern nie.
*Die moderne demokrasie word egter bedreig, maar nie deur sy konstitusionalisme nie, wel deur 'n teruggryp na outoritarisme wat ek sal noem die latter-day "monargie" van die geld-elite. Die outoritere is altyd die naaste handvatsel as jy in 'n krisis verkeer. Dit is nie 'n erger elite as die een wat Rusland bestuur nie. Ek sou aanvoier dat dit selfs verkieslik is.
'n Kultuur soos Rusland (of eerder 'n wydverspreide archipelago van kultuurgrepe soos wat Rusland inderwaarheid is), is nie noodwendig besig om te ontwikkel en die Weste noodwendig besig is om te kwyn nie. Kwyning is dikwels deel van oorlewing, net soos groei, en dit kan van beide die Weste en Rusland gese word. Hoewel beide van hulle kan ondergaan.
*Die nasiestaat was nog altyd net 'n konstruk, maar 'n nuttige een. Hoewel sommige moderne lande daardie konstruk baie goed verwesenlik het, veel, veel beter as Rusland. Die definisie en funksie daarvan het onder meer met bepaalde stadia in ekonomiese ontplooiing te doen. Na my wete het meer as een kommentator al die punt gemaak dat Rusland glad nie 'n nasiestaat versinnebeeld is nie, maar wel die retoriek van een gebruik. (Vra maar die Asiatiese groepe wat die gros van die vleismasjien tee Oekraiene uitmaak, of hulle Russe is). Die Weste, weens Rusland se transgressies, is nou gedwing om daardie "tennisballetjie" (die nasiestaat) te speel, maar inderdaad is hy al verby daardie punt.
Die ding omtrent Todd se denke wat vir my die moeilikste verteerbaar is, is dat hy in effek dit goedpraat dat 'n bepaalde kultuurdemografie (die "Russiese") opsetlik weerhou word daarvan om sy eie moderniteit na wense te bou. Instede sit Rusland met 'n totalitere regime wat die kragte van 'n atavistiese absolutisme wil inspan om die onstabiliteit wat inherent is aan enige ontwikkelde gees, soos die Weste is, uit te buit. Vir wat? Geensins gemeenskaplike Russiese ontwikkeling nie, dit is alles net oeverblindery. Eerder vir die sektariese belange van 'n gewetenlose geld-elite soos wat daar selde in die onlangse tye bestaan het. 'n Geld-elite wat sigself nie op gedeelde waardes gegenereer het nie, soos die Weste ten minste ten dele gedoen het, maar op ongeluk, opportunisme en uitbuiting,
Daar is baie verkeerd met die Weste, maar dit verkeer ten minste in intense kulturele beweging. Dieselfde kan nie van Rusland gese word nie, waarmee ook baie verkeerd is.
Ek praat onder korreksie, en beskou bogenoemde as 'n baie informeel saamgestelde reaksie.