
’n Katedraal in Avignon, René Girard se geboortedorp. Foto: Bruce van Zyl op Unsplash
You ask about Girard. Girard was in Comp Lit [Comparative Literature] when I was in Buffalo [New York State], so I never got to meet him. But I was very conscious of his presence on campus, and read pretty much everything that he published. The mark of his thinking is clearly to be seen in several of the essays collected in my book Giving offense. [...] He is a seminal thinker if ever there was one.
– JM Coetzee aangehaal in Chantre se Girard-biografie (eindnota 71, bl 1002)
Net minder as agt jaar nadat die sonderlinge Franse denker René Girard op 4 November 2015 in die ouderdom van 92 in Palo Alto, Kalifornië sterf, verskyn René Girard: Biographie uit die pen van Benoît Chantre, dosent aan die Katolieke Instituut van Parys, medeskrywer van Girard se laaste boek (Achever Clausewitz, 2007; in Engels Battling to the end: conversations with Benoît Chantre), en die vertroueling op wie Girard kort voor sy dood die seën geplaas het met die skryf van hierdie intellektuele biografie. Die Engelse vertaling hiervan word tans gedoen deur nog ’n kenner en vriend van Girard, Trevor Cribben Merrill, en hierdie boek volg op Evolution of desire: a life of René Girard, die 2018-biografie van nog ’n vriendin van Girard, Cynthia Haven. Waar laasgenoemde meer in die trant van ’n lewensverhaal geskryf is, gee Chantre veel meer aandag aan die verhaal van die ontwikkeling en ontvangs van Girard se denke.
Soos wat die Franse surrealisme en eksistensialisme ’n reuse invloed op die Sestigers in Afrikaans uitgeoefen het, so het ’n aantal latere Franse denkers ’n reuse invloed op die volgende geslag Afrikaanse skrywers en akademici uitgeoefen. Hier kan die name genoem word van denkers soos Jacques Derrida (1930–2004), Paul Ricœur (1913–2005), Michel Foucault (1926–1984), Gilles Deleuze (1925–1995) en Jacques Lacan (1901–1981). Met die uitsondering van Deleuze en Ricœur is dit ’n ope (en ironiese) vraag of hierdie invloed uitgeoefen sou gewees het as dit nie was vir die feit dat Girard hierdie denkers se loopbane in die VSA, en bygevolg die vertaling van hulle werk in Engels, help loods het nie. (Deleuze en Ricœur se werk het langs ander weë hulle weg na die Engelstalige wêreld gevind.)

René Girard – Biographie deur Benoît Chantre (Parys: Grasset, 2023)
Afgesien hiervan is daar nog minstens twee redes waarom ’n mens sou dink dat Girard veel bekender en invloedryker in die Afrikaanse wêreld sou wees as wat die geval is, naamlik eerstens dat hy enorm belangrike werk oor die letterkunde en die literêre teorie gedoen het, en tweedens dat hy anders as feitlik al sy Franse tydgenote (behalwe Ricœur) nie net gelowig was nie, maar eksplisiet vanuit ’n Christelike raamwerk ’n absoluut unieke korpus werk gelewer het – wat sy boesemvriend, die wetenskapsfilosoof Michel Serres (1930-2019), daartoe beweeg het om na Girard te verwys as die “Darwin van die geesteswetenskappe”. Hopelik sal die verskyning van Chantre se biografie, en die beplande Engelse vertaling daarvan deur Cribben Merrill, help om hierdie toedrag van sake in die Afrikaanse wêreld te verander.
Dit is met dieselfde hoop dat hierdie opstel geskryf word – nie soseer as ’n resensie van Chantre se biografie nie, as ’n opsomming van Girard se lewe en werk gesien deur Chantre se lens.
Girard is op 25 Desember 1923 in Avignon gebore, die tweede van vyf kinders van Joseph en Marie-Thérèse Girard (née Fabre). Joseph was ’n gegradueerde van die École nationale des chartes (Parys), waar onder meer museumkundiges en argivarisse opgelei word, en hy sou uiteindelik (vanaf 1949) kurator word van Avignon se beroemde Palais des Papes, die eertydse pouslike paleis uit die era toe die pouslike setel tussen 1309 en 1377 tydelik in Avignon was. (Lesers wat die beginjare van Afrikaanse televisie meegemaak het, sal moontlik die pragtige reeks onthou waarvan groot dele daar verfilm is, in Afrikaans bekend as Die meisie van Avignon met Marthe Keller in die hoofrol.)
René volg in sy vader se voetspore deur tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Nazi-besette Parys as student by die einste École in te skryf. Sy hart was egter van meet af nie in sy studies nie, en bowendien het hy tydens sy studiejare dikwels met sy gesondheid gesukkel – om maar te swyg oor sy bedruktheid oor Parys onder die Nazi’s en hul marionetteregime van maarskalk Petain, wat hom vir lang tye in Avignon gekluister het, in so ’n mate dat sy pa oplaas sy verhandeling vir hom geskryf het.
Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog organiseer Girard en andere in 1947 ’n merkwaardige uitstalling van eietydse kuns by die Palais de Papes, wat vir alle praktiese doeleindes die begin sou wees van die wêreldberoemde jaarlikse Avignon-kunstefees. Van die kunstenaars wie se werk daar uitgestal is, sluit in Balthus, Georges Braque, Marc Chagall, Max Ernst, Alberto Giacometti, Wassili Kandinski, Paul Klee, Henri Matisse, Joan Miró, Piet Mondrian en Pablo Picasso – die voorste Europese beeldende kunstenaars van daardie era.
Hierna pak Girard ’n volgende fase in sy akademiese loopbaan aan wat na my wete nie deur een enkele naoorlogse Franse denker van naam gedoen is nie, naamlik om na die VSA te verhuis en by die Universiteit van Indiana, Bloomington sy doktorsgraad in geskiedenis te gaan skryf, oor hoe die Amerikaanse media Frankryk tydens die Tweede Wêreldoorlog gesien het.
Sonder dat dit so beplan was, en ondanks die feit dat hy met die steun van Roland Barthes so byna-byna in die vroeë 1960’s ’n pos by die École Pratique des Hautes Études in Parys gekry het, was dit die begin van sy verblyf in die VSA, waar hy die res van sy lewe sou woon, terwyl hy feitlik jaarliks somervakansie- en werksbesoeke aan Frankryk gebring het, asook op een uitsondering na al sy boeke oorspronklik in Frans geskryf en in Frankryk gepubliseer het.
........
Afgesien van die vername Christelike denkers, Søren Kierkegaard (1813–1855) en Simone Weil (1909–1943, was die voorste Franse eksistensialis, Jean-Paul Sartre (1905–1980), by verre die belangrikste vroeë intellektuele invloed op Girard.
........
Afgesien van die vername Christelike denkers, Søren Kierkegaard (1813–1855) en Simone Weil (1909–1943, was die voorste Franse eksistensialis, Jean-Paul Sartre (1905–1980), by verre die belangrikste vroeë intellektuele invloed op Girard. Ofskoon Girard hierdie invloed teen die laat 1950’s sou relativeer, het Sartre se fokus op intersubjektiwiteit, oftewel menslike verhoudings, ’n blywende tema in Girard se denke gebly, en sou hy dit op ’n unieke wyse ontgin.
Girard se eerste Amerikaanse akademiese aanstelling, naamlik as French instructor by Indiana, het ook die toon aangegee vir die institusionele konteks waarin hy sy loopbaan in die VSA sou volg, naamlik as dosent in departemente van tale of vergelykende letterkunde (opeenvolgend by die volgende instellings: Duke-universiteit, Noord-Carolina; Bryn Mawr College, Pennsilvanië; Johns Hopkins-universiteit, Maryland; Buffalo, New York; weer Johns Hopkins; en uiteindelik, van 1981 tot sy aftrede, Stanford-universiteit, San Francisco, Kalifornië).
Die verskillende departemente waarin hy werksaam was, gee wel blyke van die feit dat hy ten diepste ’n literêre denker was, maar nie van die feit dat sy denke eweneens gevorm is en steeds vorm aan die filosofie, die antropologie en die teologie nie.
’n Verdere sonderlinge aspek van Girard se lewe en denke is dat hy vroeg in 1959 as gereelde pendelaar op ’n treinroete van sowat drie uur ’n ekstatiese, mistiese bekering ondergaan, as gevolg waarvan hy die tipiese sekulêre eksistensialisme tekenend van die vormingsjare van sy geslag Franse denkers agtergelaat het en homself en sy kinders in 1959 in die Katolieke Kerk laat doop het. Wat Girard se bekering nog meer merkwaardig maak, is dat dit onder meer ingegee is deur sy intensiewe studie van die groot moderne romansiers – Marcel Proust vooraan, maar ook Miguel de Cervantes, Stendhal, Gustave Flaubert en Fjodor Dostojewski.
........
Wat Girard se bekering nog meer merkwaardig maak, is dat dit onder meer ingegee is deur sy intensiewe studie van die groot moderne romansiers – Marcel Proust vooraan, maar ook Miguel de Cervantes, Stendhal, Gustave Flaubert en Fjodor Dostojewski.
........
In sy bestudering van hierdie skrywers kom Girard tot die slotsom dat:
– die groot romansiers se werk ten nouste met dié se lewe saamhang
– dat die groot romansiers se werk in twee fases verdeel kan word, naamlik ’n fase van selfgerigtheid, en ’n fase waarin die self agtergelaat word
– dat die oorgang van die eerste na die tweede fase beskryf kan word as een van “bekering en opstanding”.
Deur hierdie gedagtes te ontwikkel sluit Girard ten nouste aan by sekere heersende tendense in die destydse Franse denke, maar staan hy in sekere opsigte volkome haaks daarop. Sy aansluiting by die destydse heersende tendense van die Franse denke waarin die strukturalisme van die groot antropoloog Claude Lévi-Strauss (1908–2009), toonaangewend was, is dat Girard in dié verband aanvoer dat daar in álle groot letterkunde (beginnende by die antieke Griekse dramaturg Sofokles (c 497/496–406/405 voor die Algemene Era) dieselfde struktuur van bekering en opstanding aanwesig is. Waar hy egter haaks op die destydse denke is, is in sy betoog dat die lewe van die skrywer ’n sleutel tot dié se werk is – haaks in die sin dat die literêre strukturaliste verkies het om patrone in die letterkunde onafhanklik van skrywers se lewens te soek, terwyl hierdie tendens voortgesit is in die denke van die sogenaamde poststrukturalistiese denkers. Om maar twee voorbeelde te noem: Michel Foucault, wat in 1966 se Les mots et les choses (in Engels The order of things) verklaar die skrywer is dood, en Jacques Derrida se beroemde “Daar is niks buite die teks nie.”
Soos Chantre oortuigend aantoon, vertoon Girard se lewe en werk dieselfde noue samehang, in so ’n mate dat sy verskillende boeke telkens merkers is van sy eie geestelike en lewensreis, beginnende by sy briljante eerste boek (Mensonge romantique et vérité romanesque, 1961; in Engels Deceit, desire and the novel: self and other in literary structure), waarin sy werk oor die groot moderne skrywers neerslag vind, en waarin die eerste van sy drie groot bydraes tot die eietydse denke gelewer word, naamlik sy teorie van mimetiese begeerte.
Volgens hierdie teorie – en hiermee breek Girard beslissend weg van sowel die Romantiek as die psigoanalise se opvattings van begeerte – het alle menslike begeertes ’n driehoeksmatige inslag. Die driehoek bestaan uit die begerende (die subjek wat begeer), die begeerde (dit wat begeer word, oftewel die objek van begeerte), en die model (die een wat die begerende naboots omdat hy/sy soos daardie een wil wees, en bygevolg dit wat sy/haar model begeerlik vind, self ook begeerlik vind). Hiermee impliseer Girard dat die Romantiek en die psigoanalise se siening van begeerte, naamlik dat dit iets uniek aan die begerende is wat van binne die begerende kom, en dat dit wat begeer word, objektief begeerlik is of gesublimeer word tot iets begeerliks, gewoon verkeerd is. Dit wat ons begeer, kom altyd van buite ons, is nooit uniek aan ons nie (al glo ons dit graag in ’n vorm van méconnaissance, onkunde), en is altyd die funksie van ons mimetiese verhouding met ons model.
Hierby voeg Girard nog twee geniale insigte. Die eerstens: Weens die vernietiging van tradisionele maatskaplike hiërargieë wat die moderniteit kenmerk, vermenigvuldig ons modelle in die moderniteit, bevind ons ons op dieselfde maatskaplike vlak as ons modelle, en beland ons gevolglik in verhoudings van mimetiese wedywering met ons modelle – dieselfde een wat ek naboots, staan ook in die pad van my verwesenliking van my begeertes, omdat dié my dalk kan voorspring en eerste dit wat ons albei begeer, inpalm.
Girard se tweede groot insig is dat slegs ’n soort bekering waartydens ons die aard van mimetiese begeerte snap en gevolglik daaraan ontsnap, ons van mimetiese wedywering kan bevry – wat deur hom beskryf word as ’n “bekering” en ’n “wederopstanding” uit die dood.
So briljant soos hierdie eerste boek van Girard was, en so gunstig as wat dit mettertyd ontvang is – met die invloedryke Barthes die vernaamste gunstige leser daarvan – het Girard hom terselfdertyd in ’n baie moeilike posisie bevind, naamlik dat as hy die Christelike onderbou van sy argument sou openbaar, dit sy loopbaan in die sekulêre, selfs ateïstiese destydse Franse denke kon kelder nog skaars voordat dit begin het.
Hierdie vrees vir ostrasering deur sy sekulêre tydgenote is inderdaad vanaf 1982 bewaarheid – ons keer hier onder terug hierheen – maar dit is reeds vroeg bevestig deur die wyse waarop die groot denker van verskil/differensie, Jacques Derrida, hom hanteer het.
Girard het naamlik vanaf 1965 saam met twee Amerikaanse kollegas, Eugenio Donato en Richard Macksey, begin werk aan wat later sou blyk een van die invloedrykste intellektuele byeenkomste van die 20ste eeu te gewees het, naamlik ’n seminaar getiteld The languages of criticism and the sciences of man van 18 tot 21 Oktober 1966 by Johns Hopkins. Sprekers by hierdie kongres sou insluit Lacan, Barthes en Derrida (op aanbeveling van die bekende Franse kenner van die werk van Hegel, Jean Hyppolite), wat destyds op die punt was om sy deurbraakwerk te publiseer en voor Girard dit uiteraard kon gelees het. Derrida had dus sy teenwoordigheid by die seminaar te danke aan Girard se goeie trou en welwillendheid, en het Girard aanvanklik nie teleurgestel nie, omdat hy volgens algemene instemming die kollig gesteel het met die briljante seminaar wat hy gelewer het – én deur die wyse waarop hy alleen onder die deelnemers bereid was om op te staan teen Lacan, wat met sy swak, teatrale aanbieding sy gashere vir die gek gehou en van homself ’n gek gemaak het.
Hieruit is ’n aanvanklik hartlike vriendskap tussen Girard en Derrida gebore. Chantre bespiegel tereg dat hierdie twee briljantste literêre denkers onder hulle briljante portuurgroep mekaar met gesonde mededinging tot groot hoogtes sou kon aangespoor het, maar hierdie moontlikheid is helaas in die kiem gesmoor deur Girard se naïewe vertroue in Derrida se gewaande openheid. Rondom die veelbewoë jaar van 1968 en dié se opstande deur werkers en studente (wat deur sowel die lewenslange Gaullis Girard as Derrida met skepsis bejeën is) was Girard besig om die profete van die Ou Testament te bestudeer, en hy het herhaaldelik probeer om die sekulêre, ateïstiese Jood, Derrida, so ver te kry om dit saam met hom te doen. Met tragiese gevolge, want algaande het Derrida stiller geword en hom aan Girard onttrek, wat Chantre met reg laat bespiegel dat Derrida Girard weens dié se geloof geostraseer het, ’n tendens wat ook voortgeduur het onder van Derrida se jonger dissipels en medewerkers, soos Jean-Luc Nancy (beroemd/berug vir sy “dekonstruksie” van die Christendom) en Philippe Lacoue-Labarthe, wat in 1981 ’n uitnodiging van jonger dissipels en medewerkers van Girard, Jean-Pierre Dupuy en Paul Dumouchel, ná ’n seminaar in die VSA geïgnoreer het.
In hierdie stadium van sy loopbaan was Girard se studie egter nie beperk tot die Ou Testamentiese profete nie, maar veral gerig op die groot antropoloë van die voorafgaande dekades, soos Franz Boas, Margaret Mead, E.E. Evans-Pritchards, J.G. Frazier en andere. Girard het hom met hulle werk besig gehou omdat hy op soek was na stawende getuienis vir sy tweede groot bydrae tot die eietydse denke (en trouens die tweede stap in wat uiteindelik sou blyk die geniaalste korpus Christelike apologetiek van die 20ste eeu te wees), naamlik die gewelddadige, religieuse oorsprong van menslike kultuur, oftewel die kollektiewe moord op ’n onskuldige slagoffer waarmee ’n onstabiele groep sigself stabiliseer.
Hierdie navorsing van Girard sou uiteindelik lei tot die publikasie van sy tweede groot boek, 1972 se La violence et le sacré (in Engels Violence and the sacred). Waarskynlik omdat hy gehoop het dat dit die weg sou berei vir die aanvaarding van sy Christelike apologetiek, het Girard spesiaal moeite gedoen om in hierdie boek metodologies noukeurig agnosties, logies en wetenskaplik te werk gegaan ten einde ’n boek te lewer wat beskryf is as ’n “ateïstiese teorie van die religie”, waarmee bedoel is dat Girard in aansluiting by die tipiese godsdienstige neutraliteit van die eietydse geesteswetenskappe ’n oortuigende teorie van die oorspronge van menslike kultuur en pre-Christelike argaïese religieë wou aanbied.
Girard se basiese tese in die boek is dat daar ’n universele patroon in vroeë menslike kulture die wêreld oor voorkom, en waarvan hierdie kulture se mites getuig – wanneer ’n kultuurgroep weens groeiende onderlinge mimetiese wedywering en ’n gepaardgaande verlies aan onderlinge differensiasie van individue in ’n onvolhoubaar onstabiele toestand beland (oftewel ’n “offerkrisis”, soos Girard dit noem), gaan die groep soos een mens oor tot ’n kollektiewe moord van ’n onskuldige slagoffer wat een of ander verskil met die groep toon (anders lyk, anders klink, een of ander liggaamsgebrek het, ens). Onmiddellik ná hierdie kollektiewe moord slaan die kollektiewe ontlading van die groepspanning om in ’n vergoddeliking van die slagoffer (waarvan die onskuld altyd kollektief misken word en tegelyk kollektief erken word deur die slagoffer te vergoddelik). So maak ons, in Girard se formulering, van ons slagoffers in pre-Christelike kulture gode, en is hierdie kollektiewe moorde dan terselfgertyd die bronne van die ou mites van hierdie groepe. Vervolgens word skatpligtigheid aan die onskuldige slagoffer en “god” betoon deur jaarliks (aanvanklik) ’n onskuldige mens aan die “god” te offer, of later diere pleks van mense (soos byvoorbeeld in Levitikus se beskrywing van die sondebok wat vir die volk se sondes geoffer word).
Hiermee impliseer Girard twee dinge. Eerstens is die oorsprong van hierdie kulture se offerrites nie ’n misplaaste poging om die gode “tevrede te stel” nie, maar eerder ’n poging om die groep stabiel te hou deur die oorspronklike onskuldige, vergoddelikte slagoffer te gedenk. Tweedens, en miskien belangriker in die destydse Franse denkklimaat, impliseer Girard dat eerder as dat sosiale konflik ontspring uit die verskille tussen mense, dit in situasies ontspring waar mense hulself as te veel dieselfde begin beleef, en dan uit ’n skynbaar aangebore behoefte om hulself van mekaar te onderskei tot kollektiewe geweldpleging oorgaan. Dink in hierdie verband byvoorbeeld aan hoe ons met die oorlog tussen Rusland en Oekraïne moes verneem dat die Russe en die Oekraïners “soos familie” en “baie dieselfde” is, presies soos wat die ooreenkomste tussen die Israeli’s en die Palestyne (soos ek hier uitgewys het) veel meer as die verskille is.
.........
Dink in hierdie verband byvoorbeeld aan hoe ons met die oorlog tussen Rusland en Oekraïne moes verneem dat die Russe en die Oekraïners “soos familie” en “baie dieselfde” is, presies soos wat die ooreenkomste tussen die Israeli’s en die Palestyne veel meer as die verskille is.
........
La violence et le sacré is baie goed deur die Franse kritici ontvang – hoewel erkenning deur die antropoloë, wat uiteraard vir Girard belangrik was, stadiger sou kom. (Dis ook belangrik om daarop te let dat die deurslaggewende keurverslag wat tot die publikasie van sy boek sou lei, geskryf is deur een van die leidende destydse antropoloë van Afrikaïese kulture, Georges Balandier.)
Hiermee kon Girard voortgaan na die derde beweging van sy loopbaan, naamlik die uiteensetting van sy Christelike apologetiek teen die agtergrond van die aanvoorwerk wat hy daarvoor in sy eerste twee groot boeke gedoen het.
Dit sou uiteindelik in 1978 gebeur met Des choses cachées depuis la fondation du monde (in Engels Things hidden since the foundation of the world). In hierdie boek, waarin hy veral saamgewerk het met die psigiater Jean-Michel Oughourlian (wat ’n hele nuwe postpsigoanalitiese Girardiaanse raamwerk vir die psigiatrie sou ontwikkel), het Girard die Christelike hoek- en sluitstene van sy werk openbaar gemaak.
Die kern van sy argument is dat die gewelddadige stabilisering van groepe in pre-Christelike argaïese religieë deur die kollektiewe moord op ’n onskuldige slagoffer – oftewel deur dit wat Girard die sondebokmeganisme noem – aanvanklik geleidelik geopenbaar word deur die verhale en profete van die Ou Testament, waarin reg van die begin af (naamlik in die verhaal van Kain en Abel) nie net kant gekies word vir die onskuldige slagoffer nie, maar die slagoffer se onskuld ook openlik erken word. En dit wat geleidelik deur die Ou Testamentiese verhale en profete geopenbaar is, word oplaas eensklaps openbaar in die koms van Christus, deurdat Hy as onskuldige God openlik kies om Homself vir andere op te offer aan die kruis, en daarna met Sy opstanding ’n niegewelddadige basis vir ’n nuwe gemeenskap (die Kerk) skep, waarin onderlinge mimetiese wedywering beëindig word wanneer Christus se volgelinge Hom naboots soos wat Hy sy Vader nageboots het, wat self in ’n volkome niemededingende liefdesverhouding met sy skepping staan. Volgens Girard kan daar geen ander verklaring vir die onthulling (en ontkragtiging) van die sondebokmeganisme wees nie as dat dit deur goddelike openbaring geskied in die persoon van die God wat mens geword het.
Uit die oogpunt van Michel Serres het René Girard met sy drie boeke / drie stappe in sy Christelike apologetiese projek die verstommende ding gedoen om aan die hand van sowel geloof as wetenskap ’n wetenskaplik verantwoorde teorie van menslike kultuur daar te stel, en dit is waarom Serres na Girard verwys het as die “Darwin van die geesteswetenskappe”. ’n Verdere ironiese bewys hiervan is dat Girard se vrees vir ostrasering en om in ’n mate tot sondebok gemaak te word deur sy tydgenootlike denkers ná die verskyning van Des choses cachées begin het, en grootliks voltrek is met 1982 se Le bouc émissaire (in Engels The scapegoat), waarin Girard met sy kenmerkende literêre briljantheid die Nuwe Testament en ander tekste van vervolging (byvoorbeeld met betrekking tot die Jode in die Middeleeue) sy Christelike apologetiek verder gevoer het. Agterna beskou is dit moontlik om te sê dat die ostrasering waaraan Girard grootliks deur sy Franse tydgenote en die Franse media onderwerp is, tot die verskyning van sy laaste groot boek, 2007 se Achever Clausewitz, tekenend is van die ongemak, onsekerheid en argwaan wat hy as ’n soort eietydse profeet onder die selftevrede volk van die eietydse sekulêr-ateïstiese geesteswetenskappe gesaai het.
........
Agterna beskou is dit moontlik om te sê dat die ostrasering waaraan Girard grootliks deur sy Franse tydgenote en die Franse media onderwerp is, tot die verskyning van sy laaste groot boek, 2007 se Achever Clausewitz, tekenend is van die ongemak, onsekerheid en argwaan wat hy as ’n soort eietydse profeet onder die selftevrede volk van die eietydse sekulêr-ateïstiese geesteswetenskappe gesaai het.
........
Niks het dít so duidelik uitgewys as Girard se herverskyning op die openbare radar ná die Islamitiese terreuraanvalle van 11 September 2001 nie. Eensklaps het Girard se sekulêr-ateïstiese tydgenote (insluitend Derrida), wat dit as gegewe waarheid beskou het dat religie uiteindelik agtergelaat is, oor hulle voete geval om die “terugkeer van die religie” aan te kondig – terwyl dit inderwaarheid buite hulle sekulêr-ateïstiese hoekie van Wes-Europa nog nooit weggegaan het nie (en selfs in hulle hoekie eerder in ander vorme verpak is, soos die geloof in die redding wat die wetenskap en die tegnologie vir ons moet bring, of die “onstuitbare” vestiging van die vrye mark en menseregte wêreldwyd).
En eensklaps was die verstote profetiese leser van die Ou Testamentiese profete weer op almal se lippe, en het hy in Achever Clausewitz (nogmaals ’n topverkoper) ’n briljante uiteensetting gegee van hoe ’n veralgemeende slagofferskap (“ons is die éintlike slagoffers, en dis húlle wat eerste geslaan het”), en mimetiese wedywering tussen die Weste en die Islamitiese ekstremisme ’n nuwe fase van konflik (en miskien die einde van die Weste) ingelui het.
’n Laaste opmerking: Terwyl dit vandag soos ’n slagkreet in dele van die Afrikaanse wêreld opklink dat Christus en die Bybel “eintlik net ’n klomp mites” is (en per implikasie net dwase hierdie mites vir die waarheid kan aansien en hulself Christene noem), het Girard as weergalose literator van die Bybel en ander mitologiese skatte iets veel radikaler gedoen deur hierdie mites ernstig op te neem as waarhede omtrent die gode en die mense – en die mites as stotterende getuienisse van die diepste waarhede oor die goddelike en die menslike ontleed.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Chantal Delsol oor die apokalips


Kommentaar
Ek het destyds filosofie studeer by Degenaar, Rossouw en Kirsten. Maar tragies weet ek eintlik niks van Girard se filosofie nie. Kan u my dalk help met 'n aanbeveling van 'n boek of publikasie, want wat ek hierbo gelees het, wek my begeerte na beter wete en wyer kennis.