Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Notas oor die tragedie van Israel en die Palestyne

  • 2

Prent:  G.C. op Pixabay

1.

In Julie 2018 val die geluk my te beurt om binne die bestek van een kort reis twee jare lange drome te verwesenlik, naamlik om sowel Istanboel as die duisendjaarlankbewoonde Ortodokse kloosterberg, Athos, te besoek. Om die kroon te span het die besoek gepaardgegaan met ’n unieke klein kongres oor die Ortodokse kampioen van stilgebed, die 14de-eeuse Heilige Gregorius Palamas – uniek omdat die kongres gehou is in ’n pragtige klein klooster hoog bo ’n skeurvallei wat uitkyk op ’n grot aan die oorkant, waar Palamas eenmaal drie jaar lank vir sy vervolgers weggekruip het.

In Istanboel, by die klooster op Athos, was die woorde van ’n Faulkner-karakter tasbaarder as ooit: “The past is never dead. It’s not even past.”

Gebeure soos die Ottomaanse verowering van Konstantinopel (Istanboel) op 29 Mei 1453, of die reuse Grieks-Turkse bevolkingsruiling van 1923, voel in hierdie streek asof dit net gister gebeur het, juis en veral omdat die driftige wyse waarop telkens nog oor hierdie dinge gepraat word – of hoe blatant dit verswyg word – spreek van die gebrekkige mate waartoe hierdie kollektiewe trauma’s verwerk is; en telkens herleef word in die lig van eietydse gebeure wat aan die ouer traumas herinner.

Een voorbeeld van laasgenoemde was juis tydens Julie 2018 sigbaar, naamlik die spanning wat destyds in die noorde van Griekeland, die streek wat die Grieke Macedonië noem, geheers het oor wat die amptelike naam van die republiek noord van Griekeland moet wees – destyds was dit nog Macedonië, maar intussen het dit die Republiek van Noord-Macedonië geword. Die feit dat die twis geheers het tussen twee oorheersend Ortodokse lande, het dit nie minder fel gemaak nie – soos ek tot my afgryse moes konstateer toe die ab van die pragtige klooster tydens sy verwelkomingswoord die kongresgangers (wat Katolieke en Protestante ingesluit het) “getrakteer” het op ’n vurige politieke toespraak oor die naamskwessie. Later dieselfde aand het een van die hoofsprekers, self ’n Ortodokse filosoof-teoloog, in dieselfde gees van slagofferskap die grootste Latynse Kerkvader, en tegelyk die een wat by verre die meeste beïnvloed is deur die Ortodokse Kerk se geliefde Griekstalige Kerkvaders, die Heilige Thomas Aquinas, sonder veel grond onder sy voete van die vreeslikste filosofies-teologiese vergrype beskuldig. Geskokte stilte was min of meer die hoofreaksie van die gehoor.

........
Suid-Afrikaners weet beslis iets van wat onverwerkte kollektiewe trauma vir skeefgetrekte politieke beleide kan beteken.
........

Suid-Afrikaners weet beslis iets van wat onverwerkte kollektiewe trauma vir skeefgetrekte politieke beleide kan beteken – die trauma van die Anglo-Boereoorlog wat die oorlewingsobsessie ten grondslag van die apartheidsprojek onderlê het, nes die trauma van ellelange rasgebaseerde onteiening die huidige regerende party se lomp beleide vir die regstelling van geskiedkundige onregte onderlê, en op sy beurt nog veel groter verliese na alle kante toe skep. Dog daardie 2018-besoek was genoeg om my bewus te maak van die totaal ander skaal waarop onverwerkte kollektiewe traumas in daardie streek lê – bes moontlik omdat dit, anders as in die Suid-Afrikaanse geval, ook vermeng is met die verlies van ryke (eers die Bisantynse, later die Ottomaanse), die ontwrigting veroorsaak deur oorhaastige modernisering, en die toksiese vermenging van sekerlik twee van die diepste merkers van menslike identiteit, naamlik godsdiens en etnisiteit. Teen hierdie tyd is dit ou nuus dat godsdiens en/ of etnisiteit onder sekere omstandighede die beste van menswees na vore kan bring, maar onder ánder omstandighede die donkerste van menswees.

Dit is aan hierdie dinge dat ek herinner is sedert Hamas se afgryslike, bloeddorstige terreuraanval op Israel op Saterdag 7 Oktober 2023.

2.

In aansluiting by bogenoemde gee ek die sober ontleding van Eva Illouz in die dagblad Le Monde van 17 Oktober. Illouz is ’n Franko-Israeliese sosioloog wat onder meer al in Jerusalem en Parys klas gegee het. Sy staan krities teenoor die huidige Israelse regering onder leiding van Benjamin Netanjahu en het so onlangs as in Augustus vanjaar ’n petisie onderteken wat ’n “apartheidsbedeling” vir die Palestyne kritiseer. Opsommenderwys stel Illouz die volgende punte in die Le Monde-onderhoud:

i) Met Hamas se terreurinval op 7 Oktober word, ineens, die swakke die sterke en die sterke die swakke, en gaan die inval gepaard met ’n vermenigvuldiging van “tegnieke van afgryse” op ’n ongekende skaal. Régis Debray, my eertydse Franse studieleier en voormalige raadgewer van Frankryk se eerste sosialistiese president, François Mitterrand, het reeds destyds ná die 9/11-terreuraanvalle op die VSA verwys na die feit dat die woord terreur ná die Franse Revolusie deur die revolusionêre gemunt is om te dui op tegnieke van geweldpleging wat ontwerp is om, wel, terreur onder die burgerlike bevolking te saai en te verseker dat die gesag van die revolusionêre regime gerespekteer word. Die vernaamste hiervan was natuurlik die openbare teregstellings van lede van die Franse adelstand met die guillotine, ’n tegniek waarvan juis die grusaamheid dit vir die revolusionêre onderskei het.

Debray het in die verlengde hiervan aangevoer dat namate moderne inligtings- en kommunikasietegnologie verbeter, dit voorspel kan word dat politieke spelers wat terreur wil saai, ook hierdie tegnologieë al hoe doeltreffender sal inspan en die terreurdade al hoe afgrysliker sal word (soos Margaret Atwood ook in van haar fiksie voorspel). Dit is presies die effek wat nagestreef is met die regstreekse TV-uitsending van die “tweede vliegtuig” wat die World Trade Center in New York getref het. En dit is presies die tegniek wat Hamas in die oortreffende trap ingespan het met sy terreurinval van 7 Oktober, waartydens lede van Hamas die allergrusaamste grafiese moorde verfilm en wêreldwyd op (sogenaamde) sosiale media asook aan verskeie nuusorganisasies wêreldwyd versprei het. Sekere beelde kan nie ontkyk word nie, en dit is die soort beelde wat enorme angs, vrees, woede, wraaksug en dergelike emosies aanwakker. Jy hoef geen heldersiende te wees om te weet nóg sulke voorvalle sal in die huidige konflik voorkom nie, waarvan die jongste die bomontploffing by ’n hospitaal in die Gazastrook is, en wat onmiddellik tot woedende betogings dwarsoor die Arabiese wêreld gelei het.

ii) Volgens Illouz het die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog hul gruweldade teen die Jode probeer verdoesel, terwyl Hamas hulle s’n aktief openbaar maak. Soos sy dit stel: “Die dood self is nou ’n propagandamotief. Dit kom neer op ’n verandering van die regime van afgryse.”

iii) Dit is welbekend dat sedert Israel in 2005 aan die Gazastrook onttrek het, Israel Gaza vir alle praktiese doeleindes onder ’n reuse blokkade geplaas het, terwyl opeenvolgende Israeli-regerings (waarvan die meeste gelei deur Netanjahu) nie veel gedoen het om ’n onderhandelde skikking met die Palestyne te probeer vind nie. Teen hierdie agtergrond is dit die moeite werd om ’n paragraaf van Illouz aan te haal:

Benjamin Netanjahu en sy bondgenote wou Hamas gebruik teen die Palestynse Owerheid om die skepping van twee state [een vir die Israeli’s, een vir die Palestyne] onmoontlik te maak. Hulle wou nie insien dat die blokkade van Gaza ’n plofbare situasie gaan skep nie, en het voorgegee dat Hamas ’n patetiese spulletjie is wat maklik met Katar se geld beheer word. Maar hul grootste fout was om nie in te sien dat Hamas ’n ideologiese, chiliastiese (millénariste), volksmoordlustige (génocidaire) beweging is, en dat jy nie die kalmte kan koop van ’n beweging wat daarop uit is om jou te elimineer nie.

iv) Op ’n vraag of Israel nie “buitensporige mag” in sy weerwraakoperasie kan gebruik nie, reageer Illouz soos volg: Eerstens kritiseer sy tereg die aankondiging van die Israelse weermag dat inwoners van Noord-Gaza na Suid-Gaza moet ontruim (waar is die plek vir die arme mense?), maar wys daarop dat Hamas hierdie aankondiging afgemaak het as fopnuus en dus vir praktiese doeleindes die bevolking van Gaza probeer inspan as ’n menslike skild teen die verwagte Israeliese grondinval van Noord-Gaza. Tweedens wys sy op een van die gevolge van Hamas se afgryslike moorde op Israeliese burgerlikes en die beplande sirkulering daarvan in die media, naamlik dat die opwinding van verfilmde inwoners van Gaza by aanskoue van die moorde daartoe lei dat die Israeliese bevolking al hoe minder onderskeid tref tussen Hamas en die einste inwoners van die Gazastrook wat Hamas bereid is om as menslike skild in te span.

v) Laastens wys Illouz op ’n belangrike simboliese verskuiwing wat weens Hamas se terreurinval plaasgevind het:

Dit wat eens beskou is as ’n militêre konflik of ’n eeu lange koloniale besetting word nou [deur Israeli’s] vertolk deur die bril van anti-Semitisme. Hier is ’n kanteling vanaf die politieke na die rassige en die godsdienstige ... Tot nou toe was die Palestyne in die oë van die Israeli’s nie Nazi’s nie. Ek dink dat dit ná die onlangse terreurinval verander het: Hamas het nou die Nazi geword. Daar bestaan die risiko dat deur ’n aansteeklikheidseffek die Israeli’s al die Palestyne van Gaza ook so sal sien.

.......
Dit wat eens beskou is as ’n militêre konflik of ’n eeu lange koloniale besetting word nou [deur Israeli’s] vertolk deur die bril van anti-Semitisme. Hier is ’n kanteling vanaf die politieke na die rassige en die godsdienstige ...
.....

3.

Een manier om na die politiek te kyk, is as ’n oorkoepelende stel reëls waarvolgens uiteenlopende aansprake op grond van ras, etnisiteit, godsdiens, kultuur en geskiedenis vreedsaam bemiddel word. Die Pruisiese generaal Carl Von Clausewitz (1780–1831) se losweg geparafraseerde uitspraak oor oorlog as die voortsetting van die politiek deur ander middele is welbekend. Dog as die politiek by uitstek gaan om die vreedsame bemiddeling van verskille, dan beteken dit dat wanneer die politiek nie meer die medium is waardeur die verskille bemiddel word nie, dan is die oomblik wanneer die verskille die politiek as medium van bemiddeling oorskadu, nie net die voorlopige einde van die politiek nie, maar ook die begin van oorlog, van die eskalering tot uiterstes, soos René Girard dit beskryf in sy boek oor Clausewitz, in Engels vertaal as Battling to the end (2011).

lgende onderskrif: "Hierdie skildery is onlangs deur die oud-Suid-Afrikaanse Kanadese kunstenaar, Ninette Murphy, gemaak. Dit is geïnspireer deur wat gebeur met slagoffers in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, asook in die konflik tussen Hamas en Israel.

In daardie boek verduidelik Girard dat die mimetiese wedywering tussen Frankryk en Pruise, voortgesit met die vereniging van Duitsland, uiteindelik gekulmineer het in die verskrikking van die twee Wêreldoorloë van 1914–1918 en 1939–1945.

n Behoorlike Girardiaanse ontleding van die konflik tussen Israel en die Palestyne – en tussen Israel en die breër Arabiese en (veral Midde-Oosterse) Moslemwêreld – sou veel meer behels as wat hier gesê kan word, maar daar kan wel op die volgende punte gewys word:

Die feit dat die Judaïsme en die Islam, maar ook die Jode en die Arabiere, hul wortels terugspoor na dieselfde stamvader (Abraham), albei monoteïstiese gelowe is, albei ’n diep verbondenheid met die grond as geskiedkundige plek het, en albei geskrewe kulture het (met ander woorde die verskille tussen hulle is op die oog af kleiner as die ooreenkomste tussen hulle), bevestig Girard se siening dat konflik nie uitbreek wanneer daar verskille voorkom nie, maar wanneer die verskille so klein is dat die twee protagoniste se grense neig om te vervaag.

Volgens Girard word so ’n “offerkrisis” telkens opgelos deur ’n onskuldige party tot die sondebok te maak en te offer, terwyl in hierdie konflik elke party (myns insiens) sy sondebok het – sommiges blameer die Israeli’s vir die lot van die Palestyne, sommiges blameer die Palestynse leierskap vir die lot van die Palestyne, sommiges blameer die Arabiese wêreld vir die lot van sowel die Palestyne as die Israeli’s, sommiges blameer die Weste in die algemeen en die Amerikaners in die besonder. Die lys is skynbaar eindeloos, soos die potensiaal vir ’n reuse konflik van offermoorde in ’n verskriklike siklus van verdere offermoorde – van onskuldige burgerlikes aan alle kante.

Die aansteeklikheidseffek waarvan Illouz hier bo praat, is dit waarna Girard as “mimetiese aansteeklikheid” of “mimetiese koors” verwys: Wanneer ’n kollektief voldoende ontwrig is, soos wat die geval tans met beslis die inwoners van Gaza, die Palestyne in die algemeen en die Israeliese burgery is, versprei demoniserende sieninge van die ander party soos ’n onstuitbare koors deur gemoedere, en verander groepe in moorddadige massas, soos Gustave Le Bon dit al met die oorgang van die 19de na die 20ste eeu uiteengesit het in sy baanbrekerswerk oor skares en massas.

........
Wanneer ’n kollektief voldoende ontwrig is, soos wat die geval tans met beslis die inwoners van Gaza, die Palestyne in die algemeen en die Israeliese burgery is, versprei demoniserende sieninge van die ander party soos ’n onstuitbare koors deur gemoedere.
........

Daar is dus goeie redes waarom die Amerikaners, ongeag wat ’n mens se siening van hulle aandeel in die konflik is, koorsagtige pogings aanwend om die eskalering tot die uiterstes te probeer voorkom.

4.

Van ’n afstand geoordeel, met die luukse van koel, redelik afstand gesien, is die oplossing vir die eeu lange konflik tussen Israeli’s en Palestyne “maklik”: Israel en die Palestyne moet ’n ooreenkoms sluit om in vrede met mekaar saam te leef, en wat een of ander vorm van staatkundige onafhanklikheid of selfregering vir die Palestyne sal insluit. Dog vir amper elke enkele subklousule in my vorige sin kan heelwat kwalifikasies en besware en hindernisse geopper word, en wel omdat die offerkrisis nou in so ’n mate geëskaleer het dat uiterste, eskalerende geweld vir eers na die onvermydelike lyk. Selfs om in aansluiting by Régis Debray sigself as ’n “pro-Palestynse Sionis” te verklaar, sal op dowe ore val.

5.

In haar boek oor godsdienstige fundamentalisme, The battle for God (2000), voer Karen Armstrong op grond van deeglike navorsing van kenners op wie se werk sy voortbou aan dat a) godsdienstige fundamentalisme in die Judaïsme, die Islam en die Christendom niks ouer as die middel van die 19de eeu is nie, en b) dat sodanige fundamentalisme nié verstaan moet word as eie aan godsdiens nie, maar as ’n reaksie in godsdienstige samelewings op die ontwrigtende kragte van modernisering, wat daartoe lei dat mense in hul identiteite ontwrig voel en bygevolg hul tradisionele geloofsekerhede omwerk tot verharde sienings oor die werklikheid en ander (gelowe, mense, lande, ens).

In ’n Christelike konteks is een kenmerk van fundamentalisme ’n letterlike lees van die Bybel, wat eintlik maar eers vanaf die laat 18de eeu werklik invloedryk in die Christendom word, en hoegenaamd nie wydverspreid in, sê, die Ortodokse en Katolieke dele van die Christendom is nie (wat getalsgewys honderde miljoene meer mense insluit as die Protestantse Christendom, en waarmee ook nie gesuggereer word alle Protestante lees die Bybel letterlik nie).

Suid-Afrika is ’n land wat ongetwyfeld ’n voorbeeld is van ’n land wat deur modernisering diep ontwrig is, waarin die tradisionele raamwerke waarmee mense geleef het, verrinneweerd is, en waarin dit wat van daardie raamwerke oorbly, dikwels fundamentalisties hanteer word: “100% Zulu Boy”, “Praat Afrikaans of hou jou bek”, en dies meer.

........
Om Tolstoi te parafraseer: "Elke ongelukkige gesin is op sy eie manier ongelukkig."
........

Om Tolstoi te parafraseer (“Elke ongelukkige gesin is op sy eie manier ongelukkig”): Elke groep in Suid-Afrika is sedert die groot impuls vir modernisering, naamlik die ontdekking van goud en diamante in die 1860’s en 1870’s, op sy eie manier ontwrig. Die bisarre is oënskynlik dat die einde van die apartheidsbedeling, wat op perverse manier “sekerheid” gegee het deur aan elkeen “sy plek” toe te moker, en die gebrek aan ’n stabiele nuwe bedeling (wat ons bly ontglip), elke groep in die land se ontwrigting ’n verdere stuwing gegee het. En so kan elke groep sy fundamentalisme kies. Een so ’n fundamentalisme is die chialistiese weergawe wat toenemend onder sommige Afrikaners manifesteer, en waarvolgens ons beslis nou in die Eindtyd is, dat die Israeli’s die uitverkore volk is aan wie al wat gelowige Afrikaner is, blind lojaal moet wees, en die Palestyne in die besonder, en die Islam in die algemeen, agterlik, met niks tevrede nie en kort duskant diabolies.

Het sulke gelowiges dan vergeet dat Christus oor sy wederkoms gewaarsku het: “Waak dan en bid, want julle weet nie wanneer die uur aanbreek nie”? Oënskynlik, ja.

Hoe absoluut tragies. Ook en veral vir die mense van Israel en die mense van Gaza.

Die hemel help ons.   

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: in gesprek met René Girard oor die apokalips van ons tyd

Reguit met Robinson: Palestina, Hamas en Israel in 2023

Wanneer die onderdruktes die onderdrukker word

 

  • 2

Kommentaar

  • Johann
    Jou analise van die Israel-Palestina-kwessie is indringend en lesenswaardig. Maar stel nie 'n oplossing voor nie. Laat die raamwerk van mimetiese begeerte wel 'n oplossing toe, of moet 'n mens daarbuite dink? Is al wat die bloedlus en angs sal bevredig, 'n alternatiewe sondebok? 'n Bok om in die woestyn in te jaag? En wie of wat sal dit wees? Besef Netanyahu nie dat die bloed van elke Palestyn wat sy magte doodmaak, roep om wraak nie?
    Vir Israel is dit nie 'n oog om 'n oog nie, maar ses oë om 'n oog. En almal is naderhand blind.

  • Johann Rossouw

    Hein, ja, wat sal ek nou sê? Wat die mimetiese teorie betref, het Girard natuurlik uitgewys dat die god wat sigself vrywillig as sondebok offer, naamlik Christus, die sondebokmeganisme ontbloot, sodat ons minstens nie sedertdien weer van ons slagoffers gode kan maak nie. Maar soos kritici ook al uitgewys het, is hierdie rasionele openbaring nie genoeg nie; dit moet ook neerslag vind in liturgiese en aanbiddingspraktyke wat ons daarin inoefen om nie weer blaam te lê en sondebokke te skep nie. Voorts is ek nie ingelig genoeg om sonder meer ’n oplossing vir die konflik voor te stel nie, buiten die beginsel van twee state waarna ek kortliks verwys. Jonathan Freedland, self ’n Jood, het op Vrydag 3 November wel konkrete voorstelle gemaak waarmee ek kon saamgaan, weliswaar met my beperkte kennis. Groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top