Die Johann Rossouw-gespreksreeks: in gesprek met René Girard oor die apokalips van ons tyd

  • 2

Fokusprent: Pixabay

Hierdie lesing is deur Delsol gelewer op Saterdag 17 Junie 2023 tydens die jaarlikse kongres van die Colloquium on Violence and Religion by die Institut Catholique, Parys, Frankryk. Hierdie vereniging is meer as 30 jaar gelede gestig deur oudstudente van Girard om sy werk voort te sit. Delsol het goedgunstig ingestem dat LitNet ’n Afrikaanse vertaling van die lesing mag publiseer. Die vertaling is deur Johann Rossouw gedoen.

Ek het die tema van die apokalips gekies, ’n Girardiaanse tema, omdat dit resoneer met die vernaamste kommerwekkende temas van ons tyd. As iemand wat gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu geleef het, is René Girard (1923–2015) volledig ’n man van sy tyd wanneer hy oor die apokalips praat. Insgelyks kan sommige van die sleutels om die veelvuldige eietydse besinnings oor hierdie tema (in die vorm van waarskuwings, verskrikkinge en soms vorme van waansin) te verstaan, moontlik in sy werk gevind word. 

1

Wanneer ons oor die apokalips praat, ’n tema wat vandag vir ons allermins vreemd is, lyk dit vir my nodig om eerstens te probeer verstaan wat die status van die woord apokalips is soos wat dit deur hierdie of daardie spreker gebruik word. Wat ek met die woord “status” bedoel, is wat die aard of die kategorie van die apokalips is waarvan gepraat word. Is dit ’n storie wat uitgevind is om mense mee bang te maak en uiteindelik te waarsku? Is dit ’n betekenisvolle mite, nie soseer ’n verwagte werklikheid nie as ’n verhaal wat ons in staat stel om die menslike toestand te begryp? Wanneer ons hoor daar word van die apokalips gepraat, insluitend in die tekste van René Girard, vra ons ons die volgende vraag af: Dink hy dit is ’n werklik voorsienbare gebeurtenis wat veronderstel is om oor x-tydperk plaas te vind, selfs al is die graad van waarskynlikheid nie honderd persent nie?

Want, moet mense herinner word, om die apokalips te voorspel is nie soos om die soveelste oorlog tussen Frankryk en Duitsland te voorspel nie, of die soveelste inval van Koerland deur Rusland nie, aangesien dié gaan om gebeure wat voorspelbaar is omdat hulle reeds op ander wyses plaasgevind het. Dit is gewone gebeure. Cassandra het hierdie soort dinge aangekondig: Die val van die Huis van Atrides ná ’n reeks moorde en verdorwenhede verbaas niemand nie. Die apokalips, daarenteen, is buitengewoon, sonder enige presedent van enige aard; dit is inderdaad ’n rariteit wat buite die menslike raamwerk val, en ons sê dit nie genoeg nie, ons maak asof dit ’n gewone moontlikheid is. In Aiskulos se tragedie Agamemnon sê die koor dat die stad nie profete nodig het nie; kla die koor oor die profete se dubbelsinnigheid; en laat hy Cassandra stilbly omdat sy dit nie verstaan het nie. Maar met die apokalips is dit ’n ander saak, omdat dit gaan oor ’n totale uitwissing, oor die einde van die tyd. Of is dit slegs ’n beeld? Die verwagting van gewelddadige gebeure wat as gevolg van hul omvang so genoem kan word, oftewel uitgebeeld of simbolies is?

Hierdie aanvanklike vraag is belangrik omdat, soos ek gaan probeer aantoon, die eietydse denke die mites manipuleer sonder om dit te weet, en omdat dit eweneens hartstogtelik graag dít wil hê wat dit verwag – en dít is geen goeie aanduiding van noukeurigheid nie.

2

Dit moet in gedagte gehou word dat die tema van die apokalips voorkom in sowel kulture met ’n sikliese tydsbeskouing as in kulture met ’n beskouing van tyd as ’n stygende boog, dog sonder dat dit in die twee soorte kulture dieselfde betekenis het. Die tyd waarin ons leef (die postmoderniteit, sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog), behoort terselfdertyd tot albei hierdie soorte kulture, omdat dit afkomstig is van die beskouing van tyd as ’n stygende boog en nuwe denke oor die sikliese tydsbeskouing inlei. Die tema van die apokalips blyk die presiese knooppunt van hierdie oorgang te wees, wat ’n werklike breuk is.

.....
Die siklusse beweeg vanaf orde na chaos en dan weer na orde en dan weer opnuut na chaos, ens, tot in die oneindigheid. Dit is hier, in hierdie kulture, waar die idee van die apokalips, wat die radikale oomblik van die verval tot chaos vertaal – ’n Ragnarök – vandaan kom.
.....

Alle wêreldkulture voor en langs die Joods-Christelike het ’n sikliese tydsbeskouing. Volgens hierdie beskouing word alles in die natuur oneindig herhaal: die seisoene, die generasies en ook die passies. Die antieke Grieke en Romeine het aan ons merkwaardige besinnings oor die herhalende aspek van die ganse lewe agtergelaat. Dog in alle kulture word die sikliese via spronge herhaal  (hier moet die erosie van die tyd in gedagte gehou word). Die siklusse beweeg vanaf orde na chaos en dan weer na orde en dan weer opnuut na chaos, ens, tot in die oneindigheid. Dit is hier, in hierdie kulture, waar die idee van die apokalips, wat die radikale oomblik van die verval tot chaos vertaal – ’n Ragnarök – vandaan kom. Joseph Needham (1900–1995) skryf byvoorbeeld oor China: “En so is biologiese en maatskaplike evolusie in China verstaan vanuit die perspektief van ’n sikliese wording wat altyd weer moet kom: die siklusse synde geskei deur ’n soort Ragnarök, ’n skemertyd van die gode, die ineenstorting van alles tot ’n wanordelike, chaotiese toestand, waarna alle dinge weer hulle evolusie hervat” (geen verwysing verskaf – JR).

By die ou Nordiese kulture vind ons ’n soortgelyke einde van die wêreld soos beliggaam deur die jare sonder son, asook ’n totale slag waarin feitlik al die gode en al die mense omkom, gevolg deur ’n verswelging van die wêreld deur vuur of water – waarop ’n hergeboorte vanuit die rare oorlewendes volg. Natuurlik sien ons dat in ons oorsprongsboek, die Bybel, die verhaal van die Sondvloed ook herinner aan ’n soort Ragnarök, ’n apokalips wat die sikliese tyd met ’n hergeboorte opvolg.

In die Joods-Christelike kultuur van tyd as ’n stygende boog druk die apokalips nie die oorgang van een fase van die tyd na ’n ander uit nie, maar eerder die einde van die tyd. In die kulture van sikliese tyd is daar apokalipse (meervoud). Dog in die kultuur van tyd as ’n stygende boog is daar slegs een apokalips, wat die tyd op beslissende wyse sal afsluit. Nietemin word dit nie gespesifiseer nie en bly dit sedert die tyd van die Heilige Johannes (skrywer van die boek Openbaring) ’n onderwerp van teologiese debat – eweseer wat betref wanneer dit sal aanbreek as wat die aard daarvan sal wees. Thomas van Aquinas (1225–1274) sê dat God nie die vernietiging van die wêreld wat Hy geskep het, kan wil nie, en terwyl hy hom rig op die chiliaste van die 13de eeu, skryf hy: “’n Mens kan geen tydsverloop, nóg klein nóg groot, aandui waarna die einde van die wêreld verwag moet word nie” (Contra impugnantes Dei cultum et religionem, III, II, 5). Josef Pieper (1906–1997), wat ook ’n mooi boek oor die onderwerp geskryf het (The end of time), herinner ons daaraan dat die mees algemene visioene van die Antichris wat die einde van die wêreld aandui, eerder verwys na tirannie as na ’n fisiese ramp. Die Antichris neem oral die vorm aan wat Thomas van Aquinas aan hom toegedig het: ’n argon met totale mag. Hy sal ’n orde instel wat tegelyk volmaak en leuenagtig is wat ons die nihilisme kan noem: ’n wanorde versteek onder ’n skynorde, ’n “spookorde”, ’n “leuen opgerig as ’n wêreldorde”. Volgens die Russiese filosoof, Wladimir Solofjof (1853–1900) sal die Antichris, vrygewig en filantropies, tot algemene bevrediging gelykheid en universele vrede bring waar slegs die oorlogmakers gestraf sal word. Die Ragnarök van die Christene bly iets geheimsinnig en dubbelsinnig, nader aan ’n verhaal van George Orwell as aan ’n kernkatastrofe. Met verwysing na die Orwelliaanse vorm van die apokalips skryf die Roemeens-Franse filosoof Émil Cioran (1911–1995) in Histoire et Utopie (Geskiedenis en utopie, 1960): “Of sy hulle nou veroorsaak of ondergaan het, was Rusland nooit tevrede met middelmatige ongelukkighede nie … Die apokalips pas haar soos ’n handskoen; sy het die gewoonte en die smaak daarvoor, en beoefen dit vandag meer as ooit tevore” (geen verwysing nie – JR).

Nietemin is die idee van die apokalips as totale aftakeling van die bestaande vandag sterk teenwoordig, en allereers in die werk van René Girard.

.....
Vir René Girard het ons ’n keuse tussen “die afstanddoening van geweld sonder ’n offer, of om die planeet op te blaas”, oftewel: “Ons sal onsself binnekort moet vernietig of lief hê.”
.....

Vir René Girard het ons ’n keuse tussen “die afstanddoening van geweld sonder ’n offer, of om die planeet op te blaas”, oftewel: “Ons sal onsself binnekort moet vernietig of lief hê” (geen verwysing nie – JR). Ek sal nie hier verder stilstaan by die Girardiaanse tese oor die offer, waarmee almal hier nog meer vertroud as ek is, nie. Wat in elk geval blyk, is ’n gevoel van ’n onomkeerbare styging tot die uiterstes, omdat die Openbaring nie gehoor is nie, of “misluk het”. René Girard (en in hierdie sin is hy volledig in sy tyd ingeskryf) sien die begin van hierdie bedreiging met die einde van die Tweede Wêreldoorlog, met name Hirosjima. Die moontlikheid bestaan, en word al hoe meer bevestig, van ’n algehele vernietiging van die menslike wêreld.

Die apokalips is die uitdrukking en die verwesenliking van geweld in die sin van die vernietiging van alles wat sin maak; dit mag gevoelens, gebruike en wette insluit. Dit is die teenoorgestelde van die waarheid as ons onder die waarheid verstaan dat dit sin maak.

Ek keer terug na my vraag: Wat is die status van die apokalips vir René Girard? Is dit werklik ’n gebeurtenis wat ons verwag, ongeag wat? Of is dit eerder ’n verhaal wat geskep is om ons te waarsku teen die gevare wat op loer lê? Ek glo dat Girard ons wil waarsku, bedag wil maak op die gewelddadige wanorde wat sal volg op ’n vergeet van die religieuse. Hy erken dat die apokaliptiese rede hom verlei en stimuleer (“Ek hou van die drama”). Die aankondiging van die katastrofe is vir hom ongetwyfeld nie soseer ’n bedreiging nie as dat hy ons op ons hoede wil plaas.

By die apokaliptici van die huidige tydsgewrig verkry die begrip ’n heel ander inhoud. En die oordenking van onlangse geskiedkundige geweld speel ’n groot rol in hierdie ontwikkeling.

3

Daar is iets buitensporig in die moderne tydsgewrig, en dit begin met die totalitêre ideologieë: Hulle wil die hele wêreld in pag hê. Dit is die geboorte-oomblik van die “globale”. Die Eerste Wêreldoorlog wys dat alles globaal kan wees – tans kan ’n oorlog of ’n katastrofe globaal, oftewel totaal wees. Die skemertyd van Richard Wagner se gode is ’n teken hiervan: Dit is ’n Ragnarök. Die eietydse idee van die apokalips is veel skatpligtig aan die Eerste Wêreldoorlog.

Dog die apokalips verskyn ook in hierdie gedaante as gevolg van ons verhoogde vatbaarheid daarvoor. As ek terugkyk oor die verlede, sien ek byvoorbeeld nie dat die eerste vernietiging van die Palatinaat-deelstaat van die Heilige Romeinse Ryk in 1674 soveel vrees aangewakker het nie, afgesien nou van Voltaire (1694–1778) se lakoniese kommentaar dat “Europa daaroor met afgryse vervul is” (geen verwysing nie – JR). In ons tyd, dog elders, sien ek nie dat die Kambodjane soveel vrees by die massaslagtings van Pol Pot vertoon as ons ten aanskoue van die slagting van die Eerste Wêreldoorlog of van die Groot Brandoffer (Jodeslagting) nie. Pol Pot was bloot karma, sê my Kambodjaanse doktorale studente lakonies.

Twee waarnemings kan ten aansien van die huidige situasie by ’n mens opkom. 

.....
Tans gaan dit nie meer oor aansienlike katastrofes of veel aansienliker katastrofes as die voriges nie, maar oor ’n absolute katastrofe; een wat hoegenaamd nie meer met enige ander een vergelykbaar is nie.
.....

Eerstens is dit buitengewoon dat ten einde katastrofes te beskryf, die moderne gees van register verwissel het – nie soseer van omvang of vlak nie, maar wel van register: Tans gaan dit nie meer oor aansienlike katastrofes of veel aansienliker katastrofes as die voriges nie, maar oor ’n absolute katastrofe; een wat hoegenaamd nie meer met enige ander een vergelykbaar is nie. Jean Vioulac (1971–) beskryf byvoorbeeld die Eerste Wêreldoorlog as ’n gebeurtenis wat radikaal van alle vorige gebeure verskil – die groot oorlog as “drumpeleffek wat geweld tot ’n nuwe toestand voer: Dit is sy opkoms as absoluut” (in sy Métaphysique de l’anthropocène [Metafisika van die Antroposeen], Parys: PUF, 2023:90). Skrikwekkende woorde: Wie dink ’n mens is jy om jou die vermoë toe te eien om die absolute aan te dui? Is die absolute dus van hier? En van ons era? Is dít nie ’n heel provinsialistiese idee nie? Ons onthou nog hoe Gunther Anders (1902–1992) ’n kernoorlog beskryf het as die uitwissing van álle lewe op aarde, wat alle wesens, die tyd en die geskiedenis beslissend uitwis – die geskiedenis bestaan nie meer as daar niemand is om dit te vertel nie, en daar is geen tyd meer daar waar niks meer gebeur nie. Dit is nogtans net so onwaarskynlik dat ons volmaakte disintegrasie as volmaakte geluk kan voortbring. Dit is sekerder dat ons dele van die wêreld kan vernietig, kan terugkeer na ’n eenvoudiger, middelmatiger lewe. In die jare sestig van die vorige eeu het ’n spotprent ’n groot aap uitgebeeld wat ’n klein apie met die volgende woorde in die geskiedenis onderrig: “En toe kom die kernbom, en die geskiedenis begin van voor af.” Dis ’n versinsel. Dog dit moet gesê word dat die status van die verwagte apokalips verskil van die apokalips van Johannes of van René Girard, wat ons op ons hoede stel. Hier is die apokalips ’n gebeurtenis wat werklik en binnekort moet aanbreek. Vioulac het dit met verwysing na die Antroposeen oor “die sesde uitwissing”. Die huidige diskoers oor klimaatsverandering is betekenisvol oor hierdie onderwerp. Onlangs merk Jacques Attali tydens ’n radioprogram op: “In die 22ste eeu … wel, as daar ’n 22ste eeu sal wees.”

.....
Wat ons behoort te interesseer, is miskien nie soseer die profesie nie as die profeet.
.....

Die tweede opmerking het te make met die opeenvolging van verwagte apokalipse. Ons merk op dat ons sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog eerstens die angs van die komende kernoorlog ervaar het (“Star Wars” – kosmiese katastrofe). Dit is indertyd vervang deur die angs oor klimaatsverandering. Die vrese vir die groot gevare word in hul teenstrydighede blootgelê oor periodes van tyd wat selfs baie kort is. Pierre Chaunu (1923–2009) het al 30 jaar gelede geskryf oor die gevaar van die afname in die geboortekoers en ’n wêreld sonder mense. Vandag is dit die angs oor ’n wêreld met te veel mense. Dertig jaar gelede was ons bekommerd oor ’n dodelike afkoeling, vandag is dit oor ’n dodelike verwarming. (Daar is mense wat ons vandag waarsku oor ’n nuwe Ystydperk die volgende 15 jaar, oftewel onmiddellik – en dit op ’n ewe apokaliptiese trant as voorheen.) Die vooruitskatting van ’n enkele katastrofe lyk na ’n moontlike vooruitsig. Daarteenoor dui die verwagting van vele katastrofes, wat soms teenstrydig met mekaar is en mekaar vinnig opvolg, eerder op ’n sekere opvatting van geskiedkundige tyd. (As iemand gedurig “Wolf, wolf!” skree, moet so iemand se kop eerder gelees word as wat ons na die wolf soek.) Die verwagting van die katastrofe word stelselmatig en wys nou eerder op iets anders as die vermeende bedreiging. Wat ons behoort te interesseer, is miskien nie soseer die profesie nie as die profeet.

Om al hierdie redes het ons gronde om die wetenskaplike aard van al hierdie uiteenlopende katastrofes wat aan ons belowe word, in twyfel te trek. Die diskoers wat hulle aankondig, is so rasend en fanaties, so soortgelyk aan die prediker van die eindtye, dat ons geneig mag wees om dit met ironie aan te hoor – selfs wanneer dit werklik wetenskaplik is (wat dan ook die geval is vir ’n gedeelte van die diskoers oor klimaatsverandering). Dat die ekologie ’n religie geword het, is erg kommerwekkend, want die geledere van sy skeptici groei ook aan. 

Die Russiese filosoof Nikolai Berdjaev (1874–1948) het ’n saaklike samevatting gegee van wat nou met ons gebeur: “’n Doelwit is te alle tye noodsaaklik; so nie, gestroop van interne betekenis, verword dit altyd en word dit sirkulêr” (bl 36 van die Franse vertaling van “Die betekenis van die geskiedenis”, Le sens de l’histoire, Aubier, 1948). Anders gestel: Wanneer Verlossing en vooruitgang verdwyn, keer ons terug na ’n sikliese geskiedenis. Die idee van vooruitgang is kontranatuurlik, nes die Joods-Christelike opwaarts geboë tydsopvatting wat dit aan ons beloof. Wanneer hierdie religie vervaag, herrys die sirkulêre tydsopvatting op doodnatuurlike wyse. Dit is ’n soort natuurlike kultuur van die mensdom, oftewel dit wat ek ’n primordiale sop noem (wat grondig ooreenstem met die woord natuur), en waarna ons altyd terugkeer asof ons die afgang daarvan volg ná die verbygang van die groot konstruksies. Die tyd wat niemand meer dink opwaarts styg nie, is altyd alreeds sirkulêr, geskoei op die model van seisoenale en biologiese siklusse.

.....
Die eietydse aankondiging van toekomstige klimaatskatastrofes openbaar die einde van die vooruitgangsgeloof, oftewel die idee dat die onbepaalde vooruitgang na die beste sy afsnypunt en sy versadigingspunt bereik het. Ons beweeg nie meer na ’n onbepaalde verbetering toe nie. Ons beweeg deur die afwisseling van orde en chaos, en dít in ’n sirkulêre beweging.
.....

Die eietydse aankondiging van toekomstige klimaatskatastrofes openbaar die einde van die vooruitgangsgeloof, oftewel die idee dat die onbepaalde vooruitgang na die beste sy afsnypunt en sy versadigingspunt bereik het. Ons beweeg nie meer na ’n onbepaalde verbetering toe nie. Ons beweeg deur die afwisseling van orde en chaos, en dít in ’n sirkulêre beweging. (Hier moet wel beklemtoon word dat die geloof in die opwaarts geboë tyd en in vooruitgang steeds voorkom, byvoorbeeld in die posthumanisme – ons bevind ons in ’n era waarin die oue en die nuwe naas mekaar bestaan.)

Hierdie ommekeer in die beweging van die tyd, hierdie oorgang vanaf die opwaarts geboë tydsopvatting na die sirkulêre tydsopvatting, kan verklaar word aan die hand van ’n onvergenoegdheid met die utopieë van vooruitgang. Odo Marquard skryf (“Des difficultés avec le concept d’histoire” [Oor probleme met die konsep van die geskiedenis], Parys: Maison des sciences de l’homme, 2002; geen bladsyverwysing nie –  JR): “Wanneer die mens nie langer omskryf word uit die oogpunt van die filosofie van die geskiedenis deur hierdie ‘finale doelwit’ waarop hy hom wil rig nie … is dit wat hom dan bepaal, noodwendig dit wat hy ten alle koste wil vermy, naamlik die natuurlike risiko van sy fisieke vernietiging.”

Die geskiedenis is tans uitgelewer aan die moontlikheid (die groot moontlikheid) van die terugkeer van chaos. In ’n kultuur wat nou ontneem is van ’n sin vir betekenis buite die wêreld, word die geskiedenis verskraal tot ’n gevegsmite, tot die herhaling van argetipes – ons verwag die volgende kernoorlog, of die volgende klimaatskataklisme. Aan die hand van hierdie kenmerke neem die verwagting van die apokalips al die motiewe van die ou gevegsmites oor.

.....
In ’n kultuur wat nou ontneem is van ’n sin vir betekenis buite die wêreld, word die geskiedenis verskraal tot ’n gevegsmite, tot die herhaling van argetipes – ons verwag die volgende kernoorlog, of die volgende klimaatskataklisme.
.....

Ek dink dat die onmiskenbare mislukking om “die wêreld te verander” (Marx), die hele verskriklike 20ste eeu lank, ons geneig gemaak het om die wêreld wat ons ten diepste nie bemeester nie, te verag. In plaas daarvan om ons onvermoë te aanvaar, verkies ons om voort te borduur op die naderende einde van dit wat ons weerstaan. Clément Rosset (1939–2018) beskryf die katastrofebegrip as die “aantrekking van leegte” (in L’école du réel, “Die skool van die werklike”, Parys: Minuit, bl 249). En dit is juis wat ons soms voel in die ewe waansinnige as opbeurende beskrywings van die einde van die wêreld – Cioran skryf: “Die mens gaan verdwyn – dit was tot nou toe my ferm oortuiging. Intussen het ek van standpunt verander: hy MOET verdwyn” (Aveux et anathèmes, Belydenisse en banvloeke, Parys: Gallimard, 1987; geen bladsyverwysing nie – JR). Wanneer die organiseerder mismoedig is, kan die chaos ’n soort fassinasie uitoefen. Die helder gees put genot uit die besielde waarneming van die “oorblywende tyd” of die “eindtyd” (byvoorbeeld Gunther Anders in The final hours and the end of all time, 1972; en ná hom Giorgio Agamben, The time that remains, 2000; of Bruno Latour, Facing Gaia, 2017).

Op dieselfde tydstip as wat gepraat word oor die “tragedie van die horison” (soos die goewerneur van die Engelse Reserwebank, Mark Carney, dit in ’n toespraak in 2015 gestel het), stort die demografie in duie in dieselfde lande wat hulle hieroor bekommer – maar hoekom sal jy jou oor die planeet bekommer as jy nie meer kinders het nie? Omdat dié twee die gevolge van dieselfde depressiewe gemoedstoestand is. 

Die herhalende diskoers van die apokalips is die teken van ’n gemoedstoestand, naamlik een wat anargie legitimeer. Hierdie haat van die orde ontlok ’n negatiewe geveg: Anargie is nie ’n ideaal nie, maar eerder ’n weersinnigheid en selfs ’n naarheid jeens die wêreld wat beleef word as sleg en nie in staat tot verbetering nie. Die aangetrokkenheid tot chaos en die versugting tot vernietiging spruit voort uit ’n verskriklike teleurstelling. Die huidige tydsgewrig is ’n huldeblyk aan die ramp.

.....

Die huidige tydsgewrig is ’n huldeblyk aan die ramp.

.....

Begelei deur die geskiedenis en die einde van die “groot verhale”, vra die postmoderne denke vir wanorde en regverdig dit. Dit is verbasend op te merk dat die sosiologie die teorie vergesel en dit skynbaar verwesenlik – die era van die netwerk verskyn saam met die voorspraak vir risome. Dit bemoontlik die ontwikkeling van spontane betogings sonder leiers, programme, ideologieë of identiteite wat opgeëis word, en wat sonder enige vermoë of wil om te regeer slegs die omverwerping van die owerhede eis. Martin Gurri het ’n hele aantal van hierdie soort bewegings dwarsoor die wêreld sedert 2010 geboekstaaf (The revolt of the public, Stripe Press 2018). Ons het hier te make met groeperinge wat bloot “teen iets” is: ’n soort ontkenning in beginsel wat heel naby aan die nihilisme is. Sommige verkose leiers, soos Donald Trump, is dit danksy ’n koalisie van insurgente.

Daar bestaan inderdaad ’n begeerte vir anargie in daardie samelewings wat almal sonder uitsondering teleurgesteld is weens gebroke oortuigings en verwoeste utopieë. Dit hou steek om tot die slotsom te kom dat indien daar nie meer ’n doelwit of ’n einddoel is nie, en indien daar nie meer vorme van oorheersing moet wees nie, dan moet daar ook nie meer ’n “-argie” wees nie – nóg uit die oogpunt van die politiek, nóg uit die oogpunt van ’n werklikheidsbeskouing. Vir Jean Vioulac dui die verdwyning van grondslae en betekenis op ’n tyd van katastrofe en nihilisme. Die interessantste aspek hiervan is dat die verklaring van die einde van oortuigings, gelowe en ideologieë oor die algemeen onmiddellik gevolg word deur ’n nuwe pseudoreligieuse verklaring van ’n  katastrofistiese aard. Hier gaan dit inderdaad om ’n oortuiging of ’n geloof (en nie oor ’n wetenskaplike stelling nie), omdat die finale katastrofe verskillende moontlike oorsake kan hê (klimaatsverandering, demografie, ens), wat dit laat blyk dat die geloof in die katastrofe die goue draad van die diskoers is. “Dit is asof die mensdom soos een mens nou palliatiewe sorg ontvang,” skryf Vioulac (in sy Anarchéologie, fragments hérétiques sur la catastrophe historique, Anargeologie, ketterse fragmente oor die geskiedkundige katastrofe, Parys: PUF, 2022:169). Dit alles is Nietzscheaans: Die mens is ’n siekte; die geskiedenis is nihilisties en die katastrofe is sy volvoering.

Die politieke anargisme en die filosofiese nihilisme vind in hierdie tydsgewrig aansluiting by mekaar om ’n samestelling van vernietigende wille te vorm. Die dekolonialiseringstroming voeg twee aanvullende, dog verskillende vertakkings van die nihilisme daartoe by. Eerstens is daar die nihilisme van die Weste, ’n haat van die self en die begeerte om nie meer te bestaan nie weens historiese skuld. Dan is daar die nihilisme van nie-Westerlinge wat aangetrek word deur die Weste sonder om dit werklik te kan betree, en terselfdertyd ook nie meer kan behoort tot hulle kulture van oorsprong, wat die Weste in hulle oë vernietig het, nie. (Hoe leef ’n mens byvoorbeeld vandag in outokrasieë waar jong vroue se maagdelikheid tot ’n metafisiese ideaal verhef word?) Anders gestel, hier gaan dit om die vernietiging van die Weste wat deur vergelyking hul eie kulture onlewensvatbaar gemaak het.

Die geloof dat die wêreld besig is om sigself te vernietig (die katastrofisme) in bondgenootskap met die versugting om kultuur deur die samespel van uiteenlopende vorme van haat af te takel, sien die lig in ’n tydsgewrig waar die utopieë van oneindige gemak en ewigdurende vrede besig is om uitmekaar te spat, terwyl ons nog nie antwoorde op hierdie tydlose uitdagings het nie. Dit is soos ’n mens wat op een of ander manier gejag word, en vir wie die enigste uitweg sy einde is. Die huidige tydsgewrig glo dat dit op hierdie wyse gejag word. Dit “dink” so, want die nihilisme/katastrofisme is ’n soort religie. Hier is die kern van die saak: Ons kon nie ’n oplossing vir die ongeluk van die wêreld vind nie (die drama begin in die eerste plek daarby om te dink dat daar ’n “oplossing” kan wees), maar terselfdertyd het ons al die geestelike hulpbronne wat ons in staat kan stel om die ongeluk van die wêreld te aanvaar, verloor (of verwerp). Dit is waarom soveel van ons ons bevind in die situasie van die selfdoodgeneigde, wat die katastrofe oproep deur dit aan te kondig.

.....
Die bom, wat soos die swaard van Damokles oor ons hang, het letterlik alle tydsvisie vernietig. Ek glo eerder dat ons die getuies is van ’n soort omgekeerde oorsaaklikheid: Dit is nie soseer die vrees vir die katastrofe wat tot die nihilisme lei nie, maar die nihilisme wat tot die katastrofisme lei. Dit is die einde van die hoop op vooruitgang wat lei tot die denke van die katastrofe as die uiteindelike laaste fase van die geveg.
.....

Die hoop word stelselmatig verguis: “[I]n die huidige omstandighede is hoop ’n vorm van lafhartigheid,” sê Anders, die vader van die eietydse katastrofisme. Die vrees, wat heilsaam is, moet die hoop vervang. Hans Jonas (1903–1993) het gepraat van ’n heuristiek van vrees; vandag is dit eerder ’n pastorale van vrees. Peter Sloterdjik (1947–) skryf dat ons lewens in die skadu van die kernbedreiging ’n gevoel van absurditeit en ’n duursame nihilisme voortgebring het: “’n Mens kan nie ’n hele geslag laat groei onder die permanente bedreiging van gewaarborgde, totale, wedersydse vernietiging nie (…) Elke tydgenoot van daardie jare sal tot aan die einde van hul lewens van die kernnihilisme deurdrenk wees” (Si l’Europe s’éveille, As Europa ontwaak, Parys: Fayard 2003, bl 30). Die bom, wat soos die swaard van Damokles oor ons hang, het letterlik alle tydsvisie vernietig. Ek glo eerder dat ons die getuies is van ’n soort omgekeerde oorsaaklikheid: Dit is nie soseer die vrees vir die katastrofe wat tot die nihilisme lei nie, maar die nihilisme wat tot die katastrofisme lei. Dit is die einde van die hoop op vooruitgang wat lei tot die denke van die katastrofe as die uiteindelike laaste fase van die geveg.

In die mate waartoe die katastrofe baie waarskynlik is, kan  inspanning dit nie soseer verhoed as vertraag nie. Dit is waarom sommige denkers sedert Gunther Anders na ons tyd verwys as “die tyd van uitstel” of “die tyd van opskorting”. In die aanloop tot die 2010-Kopenhagen-klimaatskongres wou die mediagedruis dit hê dat indien die kongres nie konkrete resultate oplewer nie, die mensdom gedoem sou wees; ’n verdoemenis wat goed omskryf word in die alte dikwels gebruikte uitdrukking “om die planeet te red”.

Hier is ’n betekenisvolle verskuiwing: Ná die teleurstelling in die dodelike ideologieë het die verwagting van die Groot Dag verander in die verwagting van die Laaste Nag.

Hierop moet besonderlik gelet word: Die verwagting van die laaste nag is nie soseer ’n antwoord op die konkrete aankondiging van die laaste nag nie as op die gevoel van sinloosheid om die tyd te verwelkom. Dit is dus nie ’n objektiewe opvatting nie, maar ’n subjektiewe opvatting. Die groot aand loop oor van betekenis. Die laaste aand is betekenisloos. Die apokalips is nie soseer die onvergelykbaarheid van ’n katastrofe nie as die verskynsel van katastrofes waarvan ons nie meer weet hoe om aan hulle betekenis toe te ken nie.

Ek sluit af met Yves Bonnefoy se teks oor die nihilisme (Livres et documents, Boeke en dokumente, Parys: Mercure de France 1992, bl 72): 

Ek het ’n verhaal geskryf, Die verslag van ’n geheime agent, sowat ’n honderd bladsye wat later vernietig is, waarin ek die koms na Parys (waar ek self so lankal nie meer woon nie) beskryf van wesens van ’n onsekere aard, wat die opdrag ontvang het om nie plekke te vernietig nie, maar om dele van die aangesig van die wêreld totaal te verander, te vernietig, of ten minste hoe dit waargeneem word, sodat gewoontes gestaak word en selfs ’n ortodokse leefwyse ineenstort, wat hulle as die Bose aanvoel, wat hulle as die bestaanswyse van die vyand veroordeel. Hierdie agente, drie of vier of vyf (hul getalle het gegroei, nie soseer deur nuwe aankomelinge nie as deur interne onderskeiding, of elkeen van hulle se basiese onvermoë tot individualiteit, tot karakterisering, miskien selfs tot ’n vorm), se taak was om die sisteem van voorstellings te laat kraak, om die menslike blik te verplaas, om duisternis te versprei, ’n helder duisternis, in hierdie middelmatige lig – en dit deur dade wat ek bloot kon oproep, met moeite, deur middel van teenstrydige uitdrukkings, obskure of gekodeerde verwysings, abrupte en vlietende beelde wat die verslae gevul het wat een van my karakters soms gerig het, ek sê nie of weet nie waar nie, aan ’n onbekende meester, die “meester van die nag”, wat hierdie reeks take aan hulle opgedra het. En hulle het doeltreffend gehandel, heelwat letters het uit die antieke sin van die wêreld geval, daar was nou gate in haar [Moeder Aarde] se daar-wees, reusewoestenye in die oorblyfsels van die skyn, onder ’n hemel waarin ’n swart son geklim het – dit was ook die indruk wat sommige skilderye waarvan ek destyds gehou het of eerder, wat ek my verbeel het, op my gemaak het, iewers tussen Chirico en die geheimsinnighede van die nagtelike droom – nietemin, ondanks hul inbrake en hul deurbrake, is hierdie draers van die absolute teruggedryf, oorwin, of baie na daaraan, toe die eerste tekens van my boek se einde duidelik geword het, iets wat gemanifesteer het deur die distorsie wat hul reeds so onsekere essensie al hoe sterker ondergaan het. Een van hulle, kondig die laaste verslae aan, is nou slegs ’n ou foto van die lug – vergeel, beduimeld, verbrand; en ’n ander is nou net ’n klipperige veld, of dalk die insekte wat daar tussen die enkele bossies rondgedwaal het.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Louise Cilliers oor vertalings uit Grieks

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie Johann vir hierdie mooi vertaling van 'n ingewikkelde en tot-nadenke-stemmende teks.

  • Jacobus Swart

    Giulia Bartrum van die Britse Museum wys daarop dat die man in Edvard Munch se "The Scream" ("Skrik" in Noorweegs) self nie skree nie; hy hoor die skreeu.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top