In teorie behoort mense wat vantevore onderdrukking ervaar het, meer empatie te hê met mense wat tans onderdrukking ervaar, omdat hulle weet hoe die skoen op jou nek voel. Maar alte dikwels word die voorheen onderdrukte die huidige onderdrukker, en met net soveel entoesiasme en haat as hulle voormalige onderdrukkers.
Ons hoef maar net te kyk na wat in Israel aan die gang is. Dis nou nie net Gaza wat aangeval en gebombardeer word nie, dis ook die Wesbank. Dis nie meer net die weermag wat Palestyne lukraak aanval nie, dis nou ook Joodse besetters. Dis nie meer beperk tot Israel nie, Gigi en Bella Hadid in Hollywood kry ook nou doodsdreigemente omdat hulle van Palestynse afkoms is. Haataanvalle teen Moslems en enigeen van Palestynse afkoms neem toe. ’n Week gelede is ’n sesjarige Palestyns-Amerikaanse seuntjie, Wadea Al Fayoume, in Illinois vermoor deurdat hy 26 keer met ’n mes gesteek is. Sy moordenaar het verduidelik dat hy die kind doodgemaak het omdat hy Palestyns is. Is dit nodig om te sê dat die seuntjie in Amerika gebore is en sy hele (kort) lewe daar gewoon het?
........
Is wat in Israel gebeur nuut?
........
Is wat in Israel gebeur nuut? Die verskoning wat gebruik word, is dat die Hamas-aanval van Oktober gewreek moet word. Maar die geskiedenis dui op iets meer sinisters. Vroeër vanjaar het die Israeli-regering die Hooggeregshof se magte probeer inperk, met wydverspreide protes as gevolg. Nou is daar ’n oorlogsregering en die hof se magte is aansienlik ingeperk. Presies wat die regering wou hê.
In 2013 het dit aan die lig gekom dat die Israeli-regering Etiopiese Jode sonder hul medewete op voorbehoed geplaas het. Eers toe navorsers die opmerklike verlaging in geboortesyfers begin bevraagteken, en dit wêreldwyd opslae maak, is die departement van gesondheid opdrag gegee om die gebruik te staak.
Palestynse waterbronne word nou met sement gevul. Hospitale word gebombardeer. Die afgelope naweek is alle kommunikasie tussen Gaza en die buitewêreld geblokkeer. Joernaliste kon nie met hul nuuskantore kontak maak nie; siekes kon nie ambulanse kontak nie. Vragmotors met noodvoorraad word steeds geforseer om lank in die hitte te wag om toegelaat te word om Gaza binne te gaan. Teen die tyd dat hulle deurgelaat word, het van die produkte alreeds verrot.
........
Die Israeli-regering verteenwoordig nie alle Joodse mense nie. Op dieselfde wyse is Hamas nie verteenwoordigend van gewone Palestyne in Gaza nie. En tog is dit die gewone mense wat die prys moet betaal vir leiers se hebsug en heerssugtigheid.
........
In hul haas om die Palestyne uit te wis, kom dit nie voor asof die Israeli-weermag veel omgee of hulle nie dalk die gyselaars wat deur Hamas aangehou word, vermoor nie. Hulle bombardeer enige plek waar burgerlikes bymekaar is. Of dalk het hulle die vrymoedigheid om so op te tree juis omdat hulle weet die gewone man op straat is nie deel van die Hamas-komplot nie en dus nie help om die gyselaars te versteek nie.
Wat maak dat mense wat self uitwissing in die gesig gestaar het, nou hul bes probeer om ’n ander nasie uit te wis? Is hul geheue so kort dat hulle Nazi-Duitsland vergeet het? Maar dis tog nie moontlik nie, met Jad Wasjem in Jerusalem om hulle daaraan te herinner.
Boonop is ek seker dat nie een van die min oorlewendes van daardie volksmoord die Israeli-regering se optrede goedkeur nie.
Kan dit wees dat hulle as volk getraumatiseer is en daarom so optree? Tog ook nie. Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die Israeli-regering verteenwoordig nie alle Joodse mense nie. Op dieselfde wyse is Hamas nie verteenwoordigend van gewone Palestyne in Gaza nie. En tog is dit die gewone mense wat die prys moet betaal vir leiers se hebsug en heerssugtigheid.
Israel is besig om baie vinnig elke bietjie simpatie en goeie trou wat hulle opgebou het in die wêreld, in die grond te vertrap. As Joe Biden nie fyn trap nie, gaan sy veldtog om herkies te word as president, in die hek duik omdat hy die Israeli-regering help volksmoord pleeg en hulle help om oorlogsmisdade te pleeg.
........
Oorlog word verstaan as ’n geveg tussen twee nasies. Wat nou gebeur, is dat een nasie se weermag teen die burgerlike bevolking binne die grense van hul eie land veg.
........
Oorlog word verstaan as ’n geveg tussen twee nasies. Wat nou gebeur, is dat een nasie se weermag teen die burgerlike bevolking binne die grense van hul eie land veg. Juis hier lê ’n moontlike antwoord.
Dit gaan oor grond en oor grense en oor kolonisering.
Dit gaan oor bloedbevlekte grond, oor grense wat betwis word en oor besetters wat koloniseer en verwag dat die bestaande bevolking net gedwee moet afstand doen van hul eiendom.
........
Onthou Distrik Ses? Presies dieselfde gebeur nou al jare in Israel.
........
Onthou Distrik Ses? Presies dieselfde gebeur nou al jare in Israel.
Al wat hierdie volksmoord met sukses doen, is om die volgende generasie Palestyne spesifiek, en Moslems in die algemeen, te radikaliseer. En daar is geen gematigdes wat in die bres kan tree en die geskil kan probeer oplos nie.
Lees ook:
Is daar hoop vir ’n vreedsame oplossing in die Israel-Hamas-konflik?
Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina